Geagte professor De Villiers

  • 87

Geagte Professor de Villiers,

Die verklaring van 12 November 2015 deur u bestuurspan oor die “Taalbeleid en implementering van taal” by die Universiteit Stellenbosch (US) verwys.

Te oordeel aan verskeie onderhoude wat u sedert u aanstelling as rektor aan die US aan die media toegestaan het, is u ’n intelligente, gekultiveerde man met ’n sterk verbintenis tot geregtigheid. Aangesien ek u nie persoonlik ken nie, gaan ek my in hierdie skrywe verlaat op dié beeld van u.

Professor, u is sekerlik bewus van waarskuwings sedert minstens die middel van die vorige dekade deur figure soos Breyten Breytenbach en Hermann Giliomee dat die US op pad na verengelsing is. Ongeag die feit dat Breytenbach en Giliomee twee van die min werklik internasionaal erkende denkers is wat Suid-Afrika al opgelewer het, is hulle vir hierdie waarskuwings verketter en afgelag. En nou word in bogenoemde verklaring aangekondig dat “[a]angesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in Engels gefasiliteer word”, dat in “koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies gebruik” te word, en dat die “primêre taal van kommunikasie en administrasie van die Universiteit Stellenbosch Engels [sal] wees”.

Ja, die dokument waaruit ek aanhaal moet nog vir goedkeuring aan die Raad van die US voorgelê word. Ja, die dokument kwalifiseer die uitsprake hierbo aangehaal deur te sê dat “beduidende akademiese ondersteuning sal in ander Suid-Afrikaanse tale voorsien word volgens studente se behoeftes” en “ruimtes ... skep waarbinne Engels, Afrikaans en isiXhosa, asook ander tale, kan floreer”.

Maar Professor, ongelukkig wek die dokument ongemaklike agterdog oor wat u en u bestuurspan se eintlike oogmerke is. Byvoorbeeld, die dokument gee erkenning “aan die beduidende bydrae wat die Open Stellenbosch-kollektief in die onlangse gesprekke gemaak het om te verseker dat taalimplementering aan die US nie ʼn struikelblok vir toegang tot onderriggeleenthede of die suksesvolle voltooiing van akademiese programme word nie.” Die dokument sonder SASCO ook by name as die geraadpleegde studenteorganisasie uit. Opvallend is dat ’n studenteorganisasie soos Adam Tas nie vermeld word nie – in weerwil daarvan dat Adam Tas vanuit populêre sentiment aan die US gebore is en nie van buite die US gestuur word nie.

Luidens gerugte wat landwyd die rondte doen, word Open Stellenbosch (OS) vir praktiese doeleindes gedryf deur skaars dertig individue waarvan nie eens almal studente of personeel van die US is nie. Hoe waar die gerugte is, sal seker nog mettertyd blyk, maar van ’n afstand gesien lyk OS taamlik baie na ’n georkestreerde poging om die US met kru, populistiese taktiek te destabiliseer. Is dit toevallig dat OS se doen en late soveel ooreenkomste toon met ReformPUK se optrede by die Noordwes-universiteit, welke groep volgens gerugte ook uit skaars vyftig of honderd mense bestaan? En waarom sonder u SASCO uit, wat min aansien onder studente landwyd geniet, en deur die ANC misbruik word as vyeblaar om hul eie wanbestuur van die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor te verdoesel? U het in die verband seker kennis geneem van die vergadering wat die president van die ANC en die land gehou het met SASCO op 22 Oktober, oftewel die dag voor die studentebetoging by die Uniegebou, wat uiteindelik ontsier is deur ’n klein groepie belhamels wat na alle waarskynlikheid doelbewus ontplooi is om ’n vreedsame protes wat die ANC doodsbenoud het, te delegitimeer.

Professor, dan moet ek u ook vra of u en u bestuurspan werklik wil hê dat die mooi versekerings wat die dokument oor Afrikaans en isiXhosa gee, ernstig opgeneem moet word? Ongeag die statistieke oor die toenemende verengelsing van die US wat gereeld die afgelope tien jaar deur Giliomee en andere gegee is, is dit tog ooglopend dat wanneer Engels die verstektaal in lesinglokale, die studentelewe en administrasie word, die US kort voor lank gewoon Engels sal wees, met Afrikaans en isiXhosa tale van die speelgrond, soos dit die geval met inheemse tale in die meeste openbare skole in die land is.

Dan, Professor, is daar nog die kwessie van die logika wat in die dokument ingespan word om hierdie taalbesluite te regverdig. Daar word verwys na die “voorneme om taal op so ʼn manier te gebruik dat dit daarop gerig is om met kennis om te gaan in ʼn diverse samelewing en om gelyke toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker”. Professor, hoe op aarde kan in hierdie sinsnede ’n beroep gedoen word op ’n diverse samelewing, maar die taaldiversiteit van ons land word vir praktiese doeleindes deur hierdie dokument geïgnoreer?

Is u bewys van navorsing van die doyenne van Suid-Afrikaanse taalsosioloë, Professor Kathleen Heugh, en ander kollegas in die veld dat studente wat in Engels as tweede taal studeer se bemeestering van Engels ’n funksie van hul klasposisie is? Die implikasie hiervan is dat die verengelsing van ’n universiteit waar Engels die meeste dosente en studente se tweede taal is, geen jota sal verander aan die ongelykheid aan die US nie. Professor, as u my die aanmatiging sal verskoon, voorspel ek hiermee dat indien hierdie taalbesluite aan die US deurgevoer sal word, maatskaplike spanning aan die US net erger gaan word namate die werklikhede van Professor Heugh se navorsing insink by die populiste wat so mooi in u en u bestuurspan se dokument bedank word.

Die leierskap van die US het oor die afgelope dekade en meer die lastige houding vertoon om met die grootste arrogansie waarskuwings soos hierdie af te lag. Hierdie houding is onderlê deur ’n oënskynlike verleentheidswekkende onkunde oor wat noord van die Hexrivierberge gebeur, en wat al die clichés oor Stellenbosch se selftevrede isolasie bevestig. Professor, as u u blik noord van die Hexrivierberge rig, sal u dalk sien dat die ANC-regering en sy susterorganisasies etlike jare gelede reeds alle legitimiteit in die oë van hul ondersteuners verloor het. Gevolglik word daar tans deur hulle ’n strategie gevolg om met die ontplooiing van militante stormtroepe die kritiese blik van die burgery op hulle te probeer verskuif deur die privaat sektor, buitelandse magte, “wittes” in die algemeen en Afrikaners in die besonder, en wie weet wat nog vir hulle eie mislukkings en verraad teen die mense van hierdie land te blameer.

Dieselfde ANC sal u en u bestuurspan ongetwyfeld lof toeswaai vir hierdie taalbesluite, maar daardeur, Professor, moet u u nie laat vlei nie. Dink liewer mooi oor of u en u bestuurspan u nie met hierdie besluite onderskei as bruikbare idiote vir ’n kortsigtige politieke agenda wat nóg diversiteit, nóg kennis in ons land bevorder. Dink asseblief ook daaroor of u en u bestuurspan met hierdie besluite nie eerder mob justice as geregtigheid dien nie. En dink asseblief laastens daaroor of u met hierdie besluite in plaas van ’n stem van kritiese rede nie eerder ’n stem van kritieklose, polities naïewe onnoselheid is nie.

Hoogagtend die uwe,

Johann Rossouw


US-rektor praat sy hart uit oor #FeesMustFall


Wim de Villiers, Jean Oosthuizen

2015-11-11

Jean Oosthuizen het met die Universiteit Stellenbosch se rektor, prof Wim de Villiers, gesels om uit te vind hoe hy oor die onlangse #FeesMustFall-veldtog voel en hoe dit hom en die universiteit geraak het.


  • 87

Kommentaar

  • Heilna du Plooy

    Dankie, Johann. Jou argumente is helder en suiwer en onomstootlik en nogtans weet ons besluitnemers sien en hoor net selektief. Dit is egter noodsaaklik dat die gesprek aan die gang bly en daarom is 'n bydrae soos hierdie baie belangrik.

  • Breyten Breytenbach

    Johann: jy slaan die spyker op sy kop. Hierdie besadigde brief is 'n verdoemende aan-die-kaak stel van die feit dat dit Afrikaners in besluitnemende posisies is wat die vuilwerk vir die rassistiese populiste doen, en daarmee kulturele moord pleeg. Die slagoffers sal die weerloses wees, die nasate van hulle wat ons mooi en soepel taal gemaak het … mense vir wie die bewindhebbers en hulle gatgabbas nog nooit omgegee het nie. En hoe ver dink hulle gaan hulle kom met die potje lensiesop?

    • Dat Afrikaans die taal van elkeen is wat dit met moederstong leer praat is net so.

      Egter, die Anglo-Boere slagting het 116 jaar laat by US opgedaag want, soos die heer Rossouw dit uitwys, SA was iets anderkant die Hexrivier.

      En ongeag al die behaaglikhede van voorstedelike welvaart en kennis, die onontkombare bly; slegs Afrikaans gaan bepaal of díe instelling net die bos van Stellenbosch gaan oorhou of 'n bakermat van beskawing gaan wees.

      Daardie sleutel word gehou deur gedienstigheid en verraad. In wese koud teenoor opofferings en oortuigings.

    • Breyten, die verstommendste van alles is dat hulle nou nog nie agterkom dat hulle net gebruik word nie. Onverstaanbaar!

    • Breyten. Skitterend in 'n neutedop. Wonder net waarom ons vriend Max nie op hierdie forum reageer nie?

  • Louis le Roux

    Ek wonder of die "raad" daaraan gedink het dat daar steeds Afrikaanssprekende en anderstalige studente by US sal wees? Dat daar steeds studente uit verskillende rassegroepe sal wees? Hierdie stap is niks anders nie as 'n tydbom wat wag om af te gaan. Met hierdie besluit is rassespanning vererger en die nagevolge hiervan kan tot groot tragedies lei. Politieke korrektheid lei net tot verdere spanning.

    Deur hierdie besluit het 'n eens trotse Afrikaanse instelling gesneuwel en dit deur 'n minderheidsgroepie van om en by 30 aktiviste.
    NEE, NEE, NEE. Dit moenie toegelaat word nie.
    STAAN OP MY VOLK!!!!!!!

  • Willem de Jager

    Ek verbaas my dat Litnet so 'n "verkrampte" skrywe plaas. Fantasties verwoord, Johann Rossouw. Die agenda is so duidelik en wie beter vir die job as 'n wit man met 'n Afrikaanse naam. In besonder stem ek saam dat die studente wat voortaan in hul tweede taal onderrig gaan ontvang sosiaal in 'n swakker posisie sal wees. Internasionale taalpolitiek laat daar geen twyfel oor nie. Waar ek ook al in die wêreld in Engelstalige omgewings gewerk het was dit 'natuurlik' die wit Engelssprekende wat dominant was. Maar populistiese politiek ter syde is dit vir my 'n hartseer dag in die geskiedenis van Afrikaans en die oudste Afrikaanse universiteit in die wêreld. Ek sal my 'dunce cap' gaan opsit. On the positive side, perhaps this move will raise the US a notch or two in the Anglo-American dominated world rankings.

  • Gogo de Bruin

    Ek vertrou die US (of is dit nou SU?) sal binnekort 'n verklaring uitreik oor die Woordfees 2016 voordat ons geld uithaal vir verblyf en kaartjies. Moet ons dan ook daar Engels praat? En gaan daar Afrikaanse toneel, skrywers, gesprekke ens wees? Hier in die noorde het ons reeds 'n oordosis Engels.

  • Zondra Hoffmann

    Skok en teleurstelling kan ek nie eers beskryf nie. Eienaardig dat Engels nou ewe skielik die taal is wanneer alles wat Kolonialisme verteenwoordig afgebreek en verwyder moet word. "DECOLONIZE" is die slagspreuk, maar ek vra wat verteenwoordig Engels as spreektaal? Hierdie logika is vir my vreemd en daarom is ek oortuig dat dit net 'n politieke beweging is hierdie wat deur die ANC (en hulle trawante) saam met hulle bedmaats in hierdie geval, die EFF (en hulle trawante) gevoer word. Dis uiters teleurstellend wat hier aan die gebeur is.

  • Pierre de Villiers

    Goeiedag Johann.
    Jou skrywe is baie insiggewend en ek vereenselwig my met elke woord.
    Niemand is vandag meer ontnugter oor die Nuwe Suid-Afrika, as mnr. FW de Klerk self nie. Ja, ek stem saam dat die Ou Suid-Afrika nie ’n toekoms gehad het nie, en dat Apartheid verkeerd was.
    Professor Wim de Villiers is nou in FW se skoene. Al verskil is dat FW self gekies het om te staan as president van die land. Prof Wim is as `n wit man moedswillig aangestel as rektor. Die rede is dat die ANC weet dat dit in hul guns tel om druk uit te oefen op Prof Wim.
    Prof Wim, as jy nou nog nie ontnugter is nie, dink ek dit is tyd dat jy gaan aanklop by mnr. FW de Klerk.

  • Dit lyk my neoliberalisme en afro-fasciste het hierdie rondte gewen.

    Die vraag is nou hoe die Afrikaanse gemeenskap daarop gaan antwoord. Gaan hulle die universiteit op groot skaal boikot of dit maar gelate aanvaar?

  • Johan Rossouw, jy verdien 'n medalje.
    Die beer en die jagter het besluit op samesprekings. Hy was honger en die jagter wou 'n vel hê om hom toe te maak. Na die gesprek het die beer weggestap; sy maag was vol en die jagter was binne-in sy vel.
    Hou aan toegee en hulle gaan moet oorgee, want die spul gaan met niks minder tevrede wees nie.

  • Fanie Olivier

    Dankie, Johann, vir jou uitgesproke reaksie.
    En, ja, die politieke gedienstigheid ken geen rede nie.
    Die feit is dat universitêre opleiding in Afrikaans nog nooit enige iemand se internasionale status gekortwiek het nie, soos duidelik blyk uit die feit dat prof De Villiers self in Afrikaans afstudeer het.
    Die aftakeling van universiteite se gesag en selfrespek het reeds 15 jaar gelede begin, toe die universiteite, Stellenbosch inkluis, sonder boe of ba ingestem het dat die wetgewing waarvolgens hulle bestaan het, verdwyn.Ek weet nie eers of die universiteitsraad destyds hieroor geken is nie ...
    Die waarheid is van toe tot nou het die Regering stelselmatig die universiteite afgeknou.
    En in plaas daarvan om te weier om saam te speel, het opeenvolgende rektore van Stellenbosch telkens weer bietjies bes gegee. Seker omdat hulle bang was dat die staat die geldkraantjie sou toedraai, iets wat gewoon natuurlik onmoontlik was.
    Die politieke gedienstigheid word inderdaad duidelik deur die oordrewe rol wat die Rektor aan "Open Stellenbosch" [en, verstommend, Sasco!] toeken. Ja, as die uitgangspunt is dat 'n mens jou deur klein drukgroepe laat boelie, dan is dit seker waar. Maar, soos jy skryf, het iemand al regtig gaan kyk hoe verteenwoordigend hierdie groepe is?
    Die Senaat en die Raad moet inderdaad nog besluite neem, maar soos Breyten geskryf het, is daar ook maar min murg in daardie pype.
    Die eintlike vraag is: Wat sal Stellenbosch verloor as dit 'n Afrikaanse universiteit bly? Niks nie!
    Dalk 'n bietjie selfrespek herwin en bevestig dat akademiese uitnemendheid, onafhanklikheid en maatskaplike verantwoordelikheid nogal hoog op 'n universiteit se agenda behoort te staan.
    En as die moontlik onvoorstelbare gebeur? Dan sal ons uit Afrikaanse geledere weer van voor af werk maak van 'n Afrikaanse universiteit. Of ten minste 'n kampus.
    Soos daar Suid-Afrikaanse satelliete van internasionale Engelse universiteite is, kan ons seker ook 'n satelliet vestig vir 'n Nederlandse of Vlaamse universiteit en daardeur ook meteens internasionale akkreditering en finansiële ondersteuning kry.
    'n Volhoubare alternatief sal duisende skenkers wie se geld nog na Stellenbosch [en ander universiteite] gaan [of gegaan het], die moontlikheid bied om kwaliteitonderrig in Afrikaans te verseker.
    Maar kom ons hou voorlopig duime, tone en koppe vas dat die Senaat en die Raad vorentoe so 'n stukkie gesonde verstand en 'n tikseltjie dapperheid aan die dag gaan lê.
    Fanie Olivier

    • Wilhelm Snyman

      "Soos daar Suid-Afrikaanse satelliete van internasionale Engelse universiteite is, kan ons seker ook 'n satelliet vestig vir 'n Nederlandse of Vlaamse universiteit en daardeur ook meteens internasionale akkreditering en finansiële ondersteuning kry." Goeie idee!

    • Dis nou 'n briljante voorstel, die van 'n Nederlandse universiteit met 'n satellietkampus in Afrikaans. Ek sien dit reeds in my gedagtes op Wellington. Eers 'n instelling wat Afrikaanse onderwysers oplei, sorg dat Afrikaanse terme bybly by die jongste internasionale denke. So behou ons uitnemendheid in Afrikaanse skole. En dalk ook daar te stig: 'n taalinstituut wat ander inheemse tale se akademiese ontwikkeling ondersteun. Beslis iets om oor na te dink!

      • Pieter van der Westhuizen

        Uitstekende idee, veral mbt die opleiding van onderwysers. Sonder onderwysers wat behoorlik opgelei is om die meta-taal wat vir onderwys so belangrik is te verstaan en te gebruik kan ons nie Afrikaans se voortbestaan op skoolvlak handhaaf nie.

      • Barry Saayman

        “En dalk ook daar te stig: 'n taalinstituut wat ander inheemse tale se akademiese ontwikkeling ondersteun. Beslis iets om oor na te dink!"
        Kom ons dink hardop oor paternalisme versus maatskaplike verantwoordelikheid.
        Afrikaans sal myns insiens nie kan doen wat mense nie graag vir hulself wil doen nie ...
        Artikel 6(2) van die Grondwet, 1996 plaas die onus vierkantig op die Staat om die status van Afrikatale te verhoog, uitgesonderd seker Afrikaans wat oral met minagting amptelik afgeskaal word:-
        "Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder."
        Ek is onbewus van enige Afrikataal wat doelgerig deur hulle eie sprekers ontwikkel word om die hoër funksies van taal suksesvol te kan vervul.
        Dit is een van die paradokse van nasionale bevryding en dekolonialisasie - lande aanvaar die taal van hulle voormalige kolonialiseerders as hulle eie.
        Ek dink net China, Indië en Afrikaanssprekendes in Namibië en Suid-Afrika weet wat kulturele vryheid behels, hoe dit bewerkstellig word en waarom kulturele bevryding uiters belangrik is.
        Die ongrondwetlike verengelsing by verstek van Suid-Afrika deur Anglo-monoglotiste, wat vir meer as twee eeue deur Afrikaanssprekers vanaf 1806 verwerp is, is daarom vir my 'n tipe herkolonialisasie wat niks goeds kan voortbring nie.
        Die volgende fase is Afrikanisering van Suid-Afrika met, paradoksaal, Engels as enigste amptelike taal.
        Ek wens die regerende elite wil maar eerder my taal en my kinders en hulle opvoeding met rus laat. Ek belowe om as teenprestasie dieselfde te doen en hulle tale en kinders uit te los. Ek sal die les wat die paternaliste onder ons met die bloedige 1976 opstande in Soweto geleer het nooit vergeet nie.

    • Gogo de Bruin

      Die satellietkampus is 'n interessente voorstel maar moenie dink dat dit deur die ANC, die EFF, Open Stellenbosch en hulle trawante verwelkom of verduur sal word nie. Daardie mense se selfbeeld hang ten nouste saam daarmee dat Afrikaans gereduseer word tot die woord apartheid.

  • Ek is geskok oor die feit dat daar toegelaat word dat die ANC Regering heel waarskynlik gaan seëvier om nog 'n pilaar van beskawing in Suid-Afrika te vernietig.
    Ek is 'n eerste generasie Engelssprekende Suid-Afrikaner wat die moeite gedoen het om Afrikaans-Hollands in te gesluit het by my graad. Alhoewel dit by Ikeys was, was ek nog altyd gelukkig om die taal te gebruik om te wys hoe belangrik dit is om mede-burgers te wys ons sit aan dieselfde tafel en moet mekaar respekteer! Constantly giving in to blackmail by unethical, corrupt politicians does nothing to encourage change to a respectful, integrated society where we can all pull this ship of State into a safe harbour. There are a huge number of non-white people in South Africa who use Afrikaans either as a home language or a second language to communicate with their fellow citizens. Do not add to the denialism of inept "Dr's" who flaunt their unearned doctorates by advertising their stupidity!

  • Beter kon jy dit hoegenaamd nie stel nie Johann. Ek dink ek is nie die enigste een wat nou ingelig is nie. Dankie.

  • Annette le Grange

    Johan Rossouw, dankie vir jou mening oor die taalkwessie, baie van ons voel soos jy,beter kon jy dit nie in jou brief "namens" ons verwoord het nie.

  • Philip Fourie

    Ek stem saam met Johann Rossouw. Spesifiek wil ek noem dat dit uiters naïef is om te erken dat 'n besluit geneem is op grond van politieke druk; dis 'n uitnodiging vir die drukgroepe om verdere druk toe te pas en meer eise te stel.

  • Andries Botha

    Die verklaring deur die universiteit se bestuurspan is absolute verraad teenoor Afrikaanssprekende studente. Uit ons geskiedenis het ons geleer dat die onderdrukking van ons taal, Afrikaans sterker uit die stryd laat tree het. Mag hierdie huidige blatante onderdrukking van Afrikaans weer eens daartoe lei dat die geskiedenis herhaal word!

  • 150 openstellenbosch-studente verander ’n universiteit se taalbeleid! Maak die universiteit toeganklik; moenie Afrikaans uitverkoop nie! Wat het gebeur met kommunikasie in beide tale?

  • Johan Grobbelaar

    Uiters teleurgesteld! Skaam om te sê dat ek eens op 'n tyd verbonde was aan die US ...

  • Johann
    Ver "noord van die Hexrivierberge" is daar twee praktiese riglyne:
    - die AWB's is geen rassiste; daarvoor is hier te veel trotse "home grown" kleurlinge,
    - oor die verhouding met Afrika; konflik gaan nie daaroor dat hulle nie die wiel uitgevind het nie maar wel deurentyd staan en verloor (soos die 75% rioolplase wat buite werking is).
    Dus, in '77 se verkiesing het FW dit gestel; geen Grondwet is die papier werd waarop dit staan as dit nie in die harte van die mense is nie.
    Tog die jammerte: Jou skrywe is 'n bona-fide oproep tot regverdigheid, dit praat helaas met hartelose Afrikaners.

  • Dis opvallend dat die sogenaamde meerderheid in Suid-Afrika (ook studente) kwansuis teen kolonialisme is, maar die koloniale taal voorop stel. Terselfdertyd word Afrika-tale ondermyn.
    My alma mater (US) moet sy knie buig as nuttige idiote en die golf sonder my (en drie ander oud-Maties van dié gesin) ry.
    Hoe jammer dat energie spandeer word om die geskiedenis uit te vee, dit wat self regop staan af te breek - In plaas van nuut skep, ontdek en bou.
    US - Uitmuntend Stellenbosch, SU - Stellenbosch uit (bvp betrap).
    Sela

  • Vicky Sandilands

    Gaan ons toelaat dat nog 'n breinkind van die Afrikaner net so verniet weggegee word? As taal 'n probleem is hoekom gaan hulle nie na die oorheersend Engelse universiteite soos UCT toe nie? Alternatiewelik, laat die wat ontevrede is hul eie universiteit stig met HUL eie geld!

  • André Badenhorst

    Uitstekende betoog, dankie Johan! Kom ons kyk of rede bo geraas sal seëvier, soos dit fundamenteel hoort by 'n ware universiteit. Kom ons kyk of die US hom vir eens kan posisioneer as 'n instelling met onafhanklike denke. Die oomblik is hier. Die geleentheid dalk verbrou. Quo vadis Stellenbosch?

  • Babs Pretorius

    Dankie Johan, baie goed verwoord, die studente het ingeskryf om te studeer, volgens US reëls neergelê, waar is dissipline, wonder net wat kom volgende, hulle sal nooit tevrede gestel word nie, kom wat wil, sidder om te dink? Kan ons so ruggraatloos raak?

  • Ek stem saam met die stelling.
    Daar is een aksie wat die land na 1994 verstaan en dit is publieke protes.
    Die tyd het aangebreek dat die spreekwoordelike miljoen Afrikaners optrek na Stellenbosch om te demonstreer waar ons harte en oortuigings lê. Afrikaans is my identiteit en ek het niemand die reg gegee om dit op die altaar van wat ook al te offer nie.

  • Dit is verstommend dat die Prof en sy meelopers so vinnig die knie gebuig het. Dit is eintlik pateties. Hulle moet onthou dat daar baie Afrikaanse studente is, wat ook kan opstaan, meer as die paar wat hulle laat val het. Sies wat 'n skande.

  • Adriaan Groenewald

    Dankie, Johann, dat iemand hom verwerdig om op hierdie sinnelose besluit te reageer.
    So word geïmpliseer dat dit nie meer vir leerders nodig sal wees om Afrikaans as skoolvak te neem nie, want vir watter doel sal dit kan aangewend word?
    Nou moet hul in 'n tweede taal tersiêre onderrig ontvang en vraestelle antwoord!

  • In die kol, Johann. 'n Nugter en luide stem namens elkeen wat trots is op Afrikaans, die taal waarin menige denker en meningvormer sy/haar idees verwoord. Ons MOET hierteen harde geluide maak; ons MOET ons ontevredenheid te kenne gee!

  • André Badenhorst

    Tot nou toe was ek bereid om 'n verskil te maak aan die hele Suid-Afrika met 'n moontlike studie aan die Universiteit van Stellenbosch, maar aangesien hierdie entiteit nie meer bestaan as universiteit nie ('n universiteit is gefundeer op kritiese rede en nie die navolging van die ideologie van die politieke heersersklas nie), sal ek in die idioom van "ANC comes before SA" my eerder wend tot diens aan my eie taalgenote asook 'n heenkome soek by 'n ware vrye universiteit.

    • Ditto Andre Badenhorst, 'The New SU' neem eensydig aan dat alle Afrikaanssprekendes (Moedertaal) sal Engels magtig wees. As ons in Suid-Afrika dan agteroor knak vir intimidasie deur 'revolutionary mobs' - Dan stem ons maar met die voete. A la Nr 1 - 'Mother-tongue comes before SU'

  • Dr.Johan Kloppers

    Hierdie is die ergste vorm van verraad. As jou eie swig voor die aanslag van die gepeupel dan weet jy jy is uitverkoop. Hierdie toegewing wat gemaak is, is maar die begin van die kanker wat hierdie pragtige Universiteit stellselmatig gaan afbreek totdat daar niks oor is nie. Die Afrikaner is weereens in die rug geskiet en dit deur jou eie mense.

  • Johannes Vogel

    Ek sien dat dit "slegs" sowat 30 mense is wat Afrikaans gaan laat sneuwel in Stellenbosch. So wie is Dawid hier en wie is Goliat? Die groep van 30 wat die "magtige" miljoene Afrikaners verslaan. So waarom is daar geen optog van van ’n miljoen Afrikaners om ’n standpunt te maak vir ’n Afrikaanse US nie? Nee, stil-stil is die Afrikaner se blus uit en is protes iets wat veilig en gemaklik op sosiale media gevoer kan word. Die Afrikanerpen is nie magtiger as die swaard nie. PUNT. Mooi briewe in Afrikaans gaan nie Afrikaans red nie. Dit het net ’n paar optogte gekos om te verseker dat klasgelde nie verhoog gaan word. Afrikaners moet finaal besef die dae van eksklusiwiteit is lankal verloor. Wat nou plaasvind is bloot die implementering van besluite wat deel was van die oorgawe van ’n apartheidstaat na ’n demokratiese land. Afrikaners het hul mag verloor en hul moet aanvaar dat meerderheidsbelange nou prioriteit kry. Geen inheemse taal beklee die bevoorregte posisie van Afrikaans nie. Afrikaans is mooi. Taal is belangrik. Al die sentimente wat so mooi verwoord is, het meriete. Maar realpolitik is nou hier ter sprake. Bevoorregte posisies vir Afrikaners gaan oral tot ’n einde kom. Wat bewerkstellig moet word is die radikale transformasie wat moet plaasvind om ’n uitnemende opvoedingstelsel vir alle leerders daar te stel. Afrikaans sal survive. Solank mense in Afrikaans wil dink, lees, skryf en praat. Die dae van Leliewit Afrikaner eksklusiewe belange is (good riddance) finaal verby. En dit het ’n revolusie gekos om dit te bewerkstellig. Ja daar was die mooi praatjies en versoeningsgebare met ’n fantastiese konstitusie. Dis bloot die naïewe wie sou glo dat als net business as usual sou bly. Ja daar is skynheiligheid in die hele proses. Dit is wat mens van politici kan verwag. Wat Afrikaners mee kan help, is om met alle belanghebbende partye saam te werk om te verseker dat US en ander universiteite selfs beter universiteite kan word. Daar is baie ruimte vir verbetering. Is daar een universiteit in Suid-Afrika wat in die top 500 in die wêreld gereken word? Ek dink UCT het die lys al gehaal. Net-Net.

  • Fanie Olivier

    Die reaksie op Breyten se verwoestende brief en Johann Rossouw se kommentaar deur die ope brief, bevestig duidelik hoe diep die woede en ongelukkigheid is rondom die rektor van die Universiteit van Stellenbosch se verklaring oor sy “bestuurspan” se besprekingsdokument.
    Ons almal wat al met universiteite en “bestuurspanne” te make gehad het, weet hoe werk die storie by Senaats- en Raadsvergaderings. So ’n besprekingsdokument word soms ’n terloopse punt op ’n agenda, word heel dikwels vanuit die voorsitterstoel aangebied as die enigste eintlike standpunt [hy of sy en die “bestuurspan” weet immers beter] en as dit by stemming kom, word dit feitlik sonder uitsondering ’n openbare stemming sodat verdagmakery en intimidering maklik is. Lede volg maklik die weg van die minste weerstand en wil nie sommer standpunt inneem teen diegene wat immers beter weet nie.
    Ek wil nie sê dat dit op vergaderings op Stellenbosch so sal gaan nie. Ek sê maar net ...
    Dit gaan daarom heelwat organisasie verg om op ’n ordentlike en verantwoordelike manier die kortsigtige besluit van die “bestuurspan” en die duidelike geesdriftige ondersteuning daarvan deur die Rektor ongedaan te maak.
    Hier vanuit Pole is dit nogal moeilik om so ’n veldtog rondom ’n Afrikaanse Stellenbosch aan die gang te sit, maar ons briewe alleen gaan maar min uitwerking hê. Maar ek maak graag enkele voorstelle.
    Wat ons nodig het, is ’n breed-opgesette storie waarin almal wat kan en belang het, betrokke raak. Ek dink Die Burger behoort hierin die leiding te neem, saam met die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, die Vriende van Afrikaans, die Afrikaanse Taalraad en PEN-Afrikaans as ’n drukgroep. Hoe jammer dit ook al is, sal die FAK nie betrek moet word nie > hoe goed die bedoelings mag wees, is daar net te veel ou koeie wat teenstanders uit die slote sal gaan grawe. Dieselfde geld vir Solidariteit, maar nie om dieselfde redes nie.
    Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns moet waarskynlik formeel sy of haar eie ding doen en die Wes-Kaapse Regering ook.
    Hou ons los van [maar dankbaar vir] enige partypolitieke steun en moet nie die veldtog een maak wat rondom die ANC as die teenstander opgestel is nie. Vind bv uit wat dink mnr Fransman oor die moontlikheid van nog ’n Engelse universiteit in sy provinsie ...
    Die eerste ding wat gedoen moet word, is om die volledige besprekingsdokument in die hande te kry. Ook die volledige verslag van die “taakspan” of “taakspanne” en die samestelling van hierdie spanne. Soos wie hulle aangewys het en watter mandaat hulle gehad het om namens belangegroepe op te tree ... En om dit dan op ’n deursigtige wyse krities te bespreek.
    Seker die heel belangrikste ding is die openbaarmaking van die individue op die Raad se menings rondom hierdie verwikkelinge. Sulke “NAME AND SHAME”-benaderings is ongelooflik suksesvol. [Hoe lyk dit met “Sies vir wat jy kies”?]
    Publiseer die name van die Raadslede sodat almal weet wie gaan die besluit neem. Die lys is openbare besit en elkeen van ons kan sonder meer vir elkeen van die Raadslede daaroor nader. Maar dit sou sin maak as so iets op ’n gekoördineerde wyse geskied.
    Dit is, uiteindelik, individue wat gaan stem en wat hopelik anoniem sal kan stem, in ooreenstemming met hulle gewete.
    Die lys van die huidige raad aan die einde van hierdie brief verskyn op die Universiteit se webwerf. Minstens 80% van die Raad is op die oog af Afrikaanssprekend. Enkele raadslede se termyn loop einde van 2015 af ...
    1. Kry by elke raadslid sy/haar persoonlike opinie oor die aangeleentheid, spesifiek en uitdruklik of hulle saamstem dat Stellenbosch ’n Engelse universiteit moet word, soos deur die “bestuurspan” voorgestel.
    Kry hulle sake-profiel en bevestig wie van hulle deur medium Afrikaans studeer het.
    As hulle geen kommentaar wil gee nie, publiseer juis dit ook sodat lamsakkigheid en draadsittery aan die groot klok gehang kan word. Vind uit waarom hulle nie kommentaar wil lewer nie > dit is tog immers hulle eie persoonlike opinie as hulle nie ’n belangegroep op die Raad verteenwoordig nie. En as hulle ’n belangegroep verteenwoordig, hoe hulle van plan is om daardie groep se mening vas te stel.
    Vra ook spesifiek of hulle dink dit is billik en redelik dat
    [a] daar nie ’n enkele Afrikaansmedium universiteit in die land moet bestaan nie;
    [b] daar in die provinsie wat oorwegend Afrikaanssprekend is, drie Engelsmedium universiteite sal wees en nie ’n Afrikaansmedium een nie;
    [c] die grondwetlike bepaling van taalgelykheid en -bevordering geïgnoreer en ondermyn word;
    [d] die bedoeling van testateurs geïgnoreer kan word en of hulle sal instem dat alle donasies en erflatings wat die Universiteit Stellenbosch spesifiek met Afrikaans verbind uit die Universiteit se fondse gehaal sal word en beskikbaar gestel sal word vir die oprigting en bedryf van ’n Afrikaanse universiteit in die Wes-Kaap.
    2. Konvokasie-raadslede is gebonde aan ’n opdrag van die konvokasie. Hou daarom ’n referendum by konvokasielede.
    3. Senaat se raadslede gebonde aan ’n opdrag van die Senaat. Waar en wanneer gaan die Senaat hieroor ’n besluit neem? Die bestaande lede se termyn verstryk in ieder geval aan die einde van die jaar. Wie is die nuwe Raadslede?
    4. SR-Raadslede is gebonde aan ’n besluit van die Studente-unie. Hulle moet daarom ’n referendum onder die studente-unie hou.
    5. Vind uit hoe die donateurs se Raadslede gekies word. Vra hulle of hulle meen dat alle donateurs se houding rondom Afrikaans getoets moet word en hoe hulle voorsien dat dit kan gebeur. Wat maak hulle rondom bepalings van ouer nalatenskappe en donasies waarin Afrikaans ter sprake is as die Universiteit Engels gaan word?
    6. Nader nou reeds die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad vir kommentaar en vra vir statutêre grondwetlike beskerming.
    7. Nader spesifiek die rektore van al die ander universiteite vir kommentaar oor die regverdiging van een Afrikaanstalige universiteit.
    8. Gaan haal weer Jakes Gerwel se verslag en sy menings rondom die noodsaaklikheid van Afrikaanse universiteite uit die argiewe.
    9. Hoor wat dink Mathews Phosa hieroor.
    10. Kry die opinies [en publiseer dit met die loop van tyd] van die glansganse en die ander belangrike en beduidende persoonlikhede binne die Suid-Afrikaanse vermaaklikheids-, sake- en kultuurwêreld.
    Die Rektor en Visekanselier
    Prof Wim de Villiers
    Ampstermyn: 01.04.2015 - 31.03.2020
    Viserektor (Gemeenskapsinteraksie en Personeel)
    Prof Nico Koopman (Waarnemend)
    Ampstermyn: 01.06.2015 – tot verdere kennisgewing
    Viserektor (Leer en Onderrig)
    Prof Arnold Schoonwinkel
    Ampstermyn: 01.09.2012 - 31.08.2017
    Viserektor (Navorsing en Innovasie)
    Prof Eugene Cloete
    Ampstermyn: 01.09.2012 - 31.08.2017
    Bedryfshoof
    Prof Leopoldt van Huyssteen
    Ampstermyn: 01.04.2013 - 31.12.2016
    Deur die Minister van Hoër Onderwys benoem
    Prof André Keet
    Ampstermyn: 01.12.2014 - 30.11.2018
    Prof Gerhard Maré
    Ampstermyn: 25.09.2014 – 24.09.2018
    Me Sindi Lingela
    Ampstermyn: 01.01.2014 – 31.12.2018
    Deur die Konvokasie verkies
    Dr Koos Bekker
    Ampstermyn: 02.04.2012 - 01.04.2016
    Prof Wannie Carstens
    Ampstermyn: 02.04.2014 - 01.04.2018
    Dr George du Toit
    Ampstermyn: 02.04.2014 - 01.04.2018
    Mnr Johan Theron
    Ampstermyn: 02.04.2014 - 01.04.2018
    Prof Prieur du Plessis
    Ampstermyn: 02.04.2012 - 01.04.2016
    Mnr Piet le Roux
    Ampstermyn: 02.04.2012 - 01.04.2016
    Deur die Senaat verkies
    Prof Mohammad Karaan
    Ampstermyn: 01.01.2014 - 31.12.2015
    Prof Hansie Knoetze
    Ampstermyn: 01.01.2014 - 31.12.2015
    Prof Nico Koopman
    Ampstermyn: 01.01.2014 - 31.12.2015
    Deur die Permanente Akademiese Personeel (nie-Senaatslede) verkies
    Prof André van der Merwe
    Ampstermyn: 01.09.2014 – 31.08.2016
    Deur die Permanente nie-Akademiese Personeel verkies
    Me Gretchen Arangies
    Ampstermyn: 06.04.2014 – 05.04.2016
    Deur die Institusionele Forum verkies
    Vakante posisie
    Deur die Raad van die Munisipaliteit van Stellenbosch aangewys
    Mnr Cyril Jooste
    Ampstermyn: 25.09.2014 – 24.09.2018
    Deur die Donateurs verkies
    Mnr Jannie Durand
    Ampstermyn: 02.04.2012 - 01.04.2016
    Mnr George Steyn (Voorsitter vanaf 02.04.2012)
    Ampstermyn: 02.04.2014 - 01.04.2018
    Prof PW van der Walt (Ondervoorsitter vanaf 07.05.2012)
    Ampstermyn: 02.04.2014 - 01.04.2018
    Deur die Premier van die Wes-Kaapse Provinsiale Regering aangewys
    Mnr Andricus van der Westhuizen
    Ampstermyn: 01.08.2014 - 31.07.2018

    • Bennie Stroebel

      Fanie baie dankie vir jou raak-vat konstruktiewe kommentaar.
      Ek glo daar moet gedoen word en nie net gefilosofeer en mooi geverbaliseer word nie.

    • Gustaf Pienaar

      Dankie Fanie - en Johann - vir interessante gesigspunte en sinvolle voorstelle. Ek dink terug aan die skouspelagtige wyse waarop Kader Asmal (ook genoem "die ANC se Lord Milner") die Randse Afrikaanse Universiteit as eens trotse Afrikaanse instelling verwoes het. Iemand - ek kan nie meer onthou wie nie - het destyds oud-studenteleiers van RAU genader vir voorstelle oor hoe daar op Asmal se planne gereageer moes word. My bydrae was: laat die Afrikaanse gemeenskap van die Rand - vir wie RAU immers in die eerste plek gestig is - besluit of hul weerstand wil bied. (Self het ek toe al in Wes-Kaapland gewoon). Sover ek weet is Asmal se verwoestingswerk van daardie jong Afrikaanse universiteit sonder slag of stoot aanvaar. Fanie is dus reg: hierdie keer moet die Afrikaanse gemeenskap geaktiveer word om - anders as wat met RAU die geval was - met mag en mening weerstand te bied. Geen steen behoort onaangeraak gelaat te word nie. In die verband het Fanie 'n paar skitterende voorstelle. En Fanie, moenie AfriForum en Solidariteit te gou afskryf nie. Dit is instansies wat besonder invloedryk is en 'n groot Afrikaanse gevolg het. As Stellenbosch die dag sou val, wonder ek of ons nie juis ons hoop, geld en talente moet wy aan Solidariteit se Akademia nie. My kinders is trotse produkte van US; nou hou ek asem op vir die kleinkinders ...

      • Fanie Olivier

        Hallo Gustav
        Dit is nie dat ek Solidariteit en AfriForum afskryf nie - hulle is bitter belangrike instellings en burgerlike organisasies. Maar as hulle voorop geplaas word rondom hierdie baklei, word dit maklik vir mense om ou bagasiekoeie uit die rassesloot te gaan grawe. En, ja, Akademia is in ieder geval van kernbelang vir die voortbestaan van tersiêre studie in Afrikaans.

  • Christiaan Carstens

    Johann, jou artikel is goed geskryf. Dit is kommerwekkend dat 'n klein groepie mense die septer swaai. Politieke korrektheid is 'n vloek. Ruggraatlose leiers laat mense in die steek.

  • Elza van Heerden

    Ek, as oud Stellenbosser en Ma van 2 seuns wat aan die Universiteit van Stellenbosch studeer het, is geweldig teleurgesteld deur hierdie besluit wat die Universiteitsraad nou moet en sal deurvoer. Dis regtig ’n swart dag in Afrikaans se geskiedenis! Ek sal Prof de Villiers en sy meelopers nooit vergewe nie. Die ANC voel net hulle vorder as hulle alles wat Afrikaans is, vertrap. So verdoesel hulle hulle eie onbeholpenheid om te regeer. Ek hoop net van harte dat die Afrikaanse studente nou sal optree en die verraaiers sal verdryf.
    Ek doen ’n beroep op alle Afrikaanse finansiële ondersteuners van Stellenbosch Universiteit, om hulle geld te weerhou van hierdie Universiteit en eerder AfriForum se Afrikaanse Universiteit finansieel en andersins te steun. SUID-AFRIKA KOM VOOR DIE anc!!!

  • Renee du Toit

    Kan die US asseblief statistieke verskaf oor die persentasie studente wat tans in koshuise woon wat nie Afrikaans verstaan nie? Watter persentasie US-studente is nie Afrikaans magtig nie? Swaai die stert nie die hond nie?

  • The management of all of our "Ex" world famous universities now haven't got the guts to expel (Not just suspend) these idiot students who always just trash everything.

    Businesses that give them bursaries and parents who are working their guts out to put them through university should immediately cancel the bursaries, and any foreign students involved sent home!

    Tertiary education is NOT a right for everyone, it is a privilege for those who have worked for "A" and "B" grades. These idiots protesting now are supposed to be the leaders of the future? Viva Afrikaans viva -- at the Afrikaans universities. And I am English speaking. Why don't these poor students go to Fort Hare etc. Let those who wish to study get on with it, and the university support them instead of cowering to a bunch of rabble? This is political stirring by a "Third Force"?

  • Petro Bezuidenhout.

    Dat so iemand soos die Rektor van 'n Universiteit nie die insig het dat hy misbruik word vir 'n politieke agenda nie, slaan my dronk.Ek is hoogs ontsteld oor hierdie besluit wat my Alma Mater ten diepste raak.

  • Tragies. Wat gaan die Jan Marais trust se trustees besluit oor toekomstige finansiële steun aan Stellenbosch? Soos ek dit het, is Afrikaanse instelling/studente 'n voorwaarde. Dalk Akademia oorweeg?

  • Interessant wat Sechaba Dan Montsisi, een van die leiers van die 1976 opstande en MP vir meer as 20 jaar, nou vir die BBC gesê het:
    "They must look at changing the curriculum and make sure that it is designed to help us as a developmental state, instead of bench-marking itself against European universities". In ander woorde, SlimWim se nuwe koninkryk moet nou ook noodwendig die standaarde laat val.

    Kry vir jou Wim!! Ons skenk nie weer 'n sent aan jou organisasie nie!

  • Ek is bly dat die polemiek aan die gang bly. Ek hoop net iemand lewer al hierdie kommentaar by die rektor af want hy moet sien en hoor hoe ons Afrikaners hieroor voel. Ek huil vir my taal, ek huil vir my kind wat uit ’n Afrikaanssprekende skool volgende jaar Stellenbosch toe moet gaan. Al die entoesiasme van ’n eerstejaarstudent word nou vervang deur bekommernis oor 'gaan ek my kursus is Engels baasraak'. Hoekom gee ons Afrikaners so maklik weg, veg ons so min vir ons eie en kla dan so baie as ons dit verloor het? Gaan dit ook die rektor se reaksie wees...weggee en kla...as hy ons universiteit uitverkoop het aan mense wat Afr haat as die taal van die verdrukker? Wanneer gaan ons ophou weggee en opstaan vir wat vir ons belangrik is? Asseblief mnr die Rektor, maak ons trots op jou as Afrikaner ... veg vir ons.

  • Miskien net 'n storie van baie lank terug aangesien self koshuise se huisvergaderings nou in Engels moet wees. In 1905 het die Engelse na die Anglo Boereoorlog 'n veldtog van anglisasie geloods wat ondermeer behels het dat kinders in skole 3 dae per week net Engels mag praat en klasse in Engels moes wees. Dit was nie eers net daarbo nie maar hier in Vanrhynsdorp se distrik by 'n plaasskool. My Oupa het met smaak vertel hoe hulle as vyf- en sesjariges met die intrapslag moes Engels praat of hulle kon of nie en dan gestraf is as hulle oortree het . Die een wat 'n Afrikaanse woord gebruik het het dan 'n merk "mark" gekry wat hy om sy nek moes dra tot na pouse sodat die onderwyser dan kon straf uitdeel. Nou wonder ek wat die straf gaan wees in EENDRAG as jy die drakoniese wette oortree . Skorsing? So laat hulle maar maak soos hulle wil want as hulle alles gedoen het wat hulle kon om Afrikaans en Afrikaanses te straf vir hulle nalatenskap - goed en sleg - sal ons maar weer voor begin. Die strewe na uitnemendheid sal hulle egter nie kan uitdoof nie. Ek is dankbaar vir die voorreg wat ek gehad het om op Stellenbosch vir vyf jaar te wees.

  • Hiermee ook my stem teen die uiters onbillike en ongrondwetlike besluit om dit selfs net te oorweeg om Stellenbosch Universiteit se taal te verander. Dis tyd vir aktivisme!

  • Pieter Schoombee

    Stellenbosch moet Engels word om 'n wêreldgehalte-universiteit te wees. So lui die argument. Is daar geen wêreldgehalte-universiteite in Duitsland nie? Of in Frankryk nie? Of in Nederland nie? Sjina? Rusland? Noem op.

  • Jy slaan die spyker op die kop Johann!
    Swig voor intimidasie deur elemente , en jy sal aanhou terugval. Verraad is 'n ongeneeslike siekte.

  • Margaret Louw

    Johan Rossouw se treffende betoog laat mens hoop dat daar nog 'n kans is dat Afrikaans as akademiese en onderrigtaal op ten minste voorgraadse vlak aan US sal oorleef.
    Fanie Olivier se raad is van enorme waarde. Is daar 'n joernalis of organisasie wat sal kan opvolg?
    Kan ons egter wegkom van die emosionele uitroepe oor Afrikaner wees? Stellenbosch kan nie as 'n instelling vir Afrikaners beskou word nie.
    Dis Afrikaanssprekendes op voorgraadse vlak, uit alle gemeenskappe, wat onder die beoogde implementering gaan ly, nie Afrikaners in die algemeen nie. Julle sal altyd Afrikaners wees, maar die vraagstuk hier is of julle kinders in hul eerste taal sal kan studeer.
    Wat koshuisbeleid betref, dis steeds 'n poging tot kosmetiese integrasie wat nog nooit suksesvol was nie. Mense meng met ander by wie hulle tuis voel, en daar sal gedeelde taal nooit 'n brug, óf 'n muur wees nie. Deel my vlak van beskawing, my sin vir humor, my respek vir logiese denke, dan leer ek om jou kultuur en jou taal te waardeer. Praat met my in enige taal waarin ek my tuis voel, maar wees vulgêr of onverdraagsaam of wreed, en ek draai my rug op jou.

  • Geagte Johann
    Baie dankie vir hierdie brief.
    Ons taal moet sy plek in hierdie land hê!
    Jou brief en die reaksie wat dit lok maak my 'n trotse Afrikaner. Ek sien uit om die US se reaksie te hoor op hierdie brief.

    Ek staan agter jou en al die ander wat veg vir ons taal!

  • Dr.Johan Kloppers

    Nadat 'n mens gelees het deur al hierdie briewe van bekommernis, is dit nou tyd om koppe bymekaar te sit en te werk aan 'n plan van optrede. Dit is tyd dat ons weer sal opstaan en terugvat wat vir ons kosbaar en dierbaar is. Het ons vergeet van die Doringboompie wat in elkeen van ons is wat lief is vir ons PRAGTIGE TAAL --- AFRIKAANS.
    DIE DORINGBOOMPIE
    Daar het ’n doringboompie
    vlak by die pad gestaan,
    waar lange ossespanne
    met sware vragte gaan.
    En eendag kom daarlanges
    ‘n ossewa verby,
    wat met sy sware wiele
    dwars-oor die boompie ry.
    “Jy het mos, doringstruikie,
    my ander dag gekrap;
    en daarom het my wiele
    jou kroontjie platgetrap.”
    Die ossewa verdwyn weer
    agter ‘n heuweltop,
    en langsaam buig die boompie
    sy stammetjie weer op.
    Sy skoonheid was geskonde;
    sy bassies was geskeur;
    op een plek was die stammetjie
    so amper middeldeur.
    Maar tog het daardie boompie
    weer stadig reggekom,
    want oor sy wonde druppel
    die salf van eie gom.
    Ook het die loop van jare
    die wonde weggewis -
    net een plek bly ‘n teken
    wat onuitwisbaar is.
    Die wonde word gesond weer
    as jare kom en gaan,
    maar daar die merk word groter
    en groei maar aldeur aan.
    (TOTIUS)

    • Dr. Kloppers, dankie vir die plasing. In Afrikaans en veral in gedigte vind ek my trotse identiteit. Ons het niemand die reg gegee om ons taal op enige altaar te offer nie. Die vraag wat deurlopend by my opkom is; waarom kan Stellenbosch nie die universiteit wees waar Afrikaanssprekendes van alle rasse studeer nie?

  • Donateurs van US maak oop julle oë. Daar is nog 'n suiwer Afrikaanse universiteit wat kan doen met donasies.

  • Ek dink nou hardop en stry daarteen om die anti-Afrikaans plaag ter wille te wees. Soos reeds geskryf - Die 'rewolusie' sal nooit stop nie (Hoe anders het die tipe politici 'n rol vorentoe?). Laat ons die nuwe ‘Common enemy’ uit hul plan verwyder. Diegene wat Afrikaans en/of Afrikaanssprekend is EN Afrikaans 'n regmatige plek (nie oorheersend nie) gun, behoort :
    - Afrikaans te dink, droom, pleeg, skep, ontwikkel, befonds, koester, uit-te-deel, nageslag te skep, en so meer.
    - Op alle terreine aanspraak te maak (billik, nie oorheers nie) dat jou reg erken word (kortweg gestel, betaal / doen sake in alle tale met voorkeur aan Afrikaans).
    Die liefhebbers en voorstanders van Afrikaans moet voorkom dat die anti-Afrikaans plaag (AAP, vreemd?) ons uitoorlê met rektor se tipe 'kat in duiwehok' brief / verklaring. Ons moet Fanie Olivier se gedagtes oordink en toepas :
    - Versoek rektor se kantoor / Universiteit om statistiek bekend te maak, wie en hoeveel persone (studente, ouers, donateurs, ensovoorts) se kommentaar of bydrae is vooraf bekom om tot die besluit te raak?
    - Verwag mening / antwoord van elke US Raadslid of Senaat, ensovoorts.
    - Skort alle befondsing aan US dadelik op (let wel, nie staak nie. Weerhouding kan nie as ‘teen rewolusionêr’ geëtiketteer word nie).
    - Laat ons na alternatiewe vir US begin kyk, binne of buite Suid-Afrika.
    - Ons moet druk en mening oral uitoefen sonder om net kritiek te lewer. Voorkom die beskuldiging van: ‘Swart gevaar’, Apartheid US en bevoorregting, ensovoorts.
    - Gebruik sosiale netwerke om wêreldwyd te kommunikeer.
    Ons is gesin van vier, almal US, Helderberg / Pieke, Erika / Aristea, Francie van Zijl, Gold Fields. Ek is ʼn ‘bevoorregte armgat’, kon nooit donateur word nie (behalwe ondersteuning aan twee spruite as geldvriend), MAAR was die inisieerder by twee geleenthede waar my werkgewer M-studies (Navorsing aan US, saam ten minste vyf jaar) befonds het. Ek is spyt.

    • Indien die daar voortgegaan met die "ontplooing" van die besluit van Prof de Villiers (en sy kaders) stel ek voor dat oudstudente nie meer finansieel bydra tot enige bystand of ander fonse nie.

  • Johan mooi saamgevat. Prof Wim, jammer jy val oor die eerste ANC-hekkie. Meer van jou verwag.

  • Hennie Stander

    Johan,

    Moet Prof Wim nie eerder hom ook beywer saam met die nuwe anglofiele, by name Open Stellenbosch en SASCO, om die naam van die US terug te verander na die oorspronklike "Victoria College" nie? Die ou naam van die universiteit sal tog baie beter inpas by die algehele verengelsing van die plek. Lord Alfred Milner sing seker juigliedere, waar hy ook al tans mag wees.

  • Ampie Coetzee

    Johann,
    Dis 'n dodelike brief, my broer. Ek is trots op jou. Dis net jammer, dink ek, dat die professor hom nie eintlik aan ons gaan steur nie. Jy kan aan sy gesigsuitdrukking (soos die foto van hom in 'n koerant verlede week), kan jy sien dat hy vasbeslote is om te doen wat hy sê. Of die Raad nou saamstem of nie. Hermann Giliomee het al lank aangehou praat oor die lot van Afrikaans by US; en niemand het geluister nie; en Breyten het al in 1964 in 'n gedig gepraat van 'Afrikaans stuiptrekkende taal'. Ons het gestry en kwaad geword, en soms binnetoe gehuil.
    Dankie dat jou brief so ordentik en beredeneerd was, en so met agting vir die professor geskryf is. Daar was nie eens 'n sweempie van ironie nie!

  • Betsie Potgieter

    Ek het ’n seun wat sy Meestersgraad in Wynkunde aan ’n Franse Universiteit gaan doen het en sy MBA aan ’n Duitse Universiteit. In albei gevalle moes hy die twee tale aanleer om sy studies te kon voltooi. Sommige klasse was net in Frans en in Duits. Waarom kan Suid-Afrikaners nie Afrikaans aanleer as hulle Maties toe wil gaan nie? Ander lande is trots op hulle taal - ons verraai ons s’n.

  • Pienkes du Plessis

    Geluk gewens Johan! En sommer Breyten ook. Mens kan baie dinge verstaan, maar hoe 'n rektor en sy bestuurspan hulle kan laat intimideer deur klein groepies militantes soos Open Stellenbosch en Sasco, is duister. Vrydag 13 November 2015 was inderdaad een van die hartseerste dae in die geskiedenis van Afrikaans.

  • Ek ondersteun jou skrywe, Johann en dink dis uitstekend. Ek en my vrou is albei oud-Maties en ons ses kinders het almal hul grade by Maties behaal. Dit was 'n voorreg om daar te kon studeer. Ons het almal belang by hierdie tragedie. Ek stem met al die sentimente van oud-Maties wat hul skok en ontsteltenis oor hierdie gebeure by ons alma mater uitspreek saam. Jy kan jou nie emosioneel van so iets losmaak nie, al is sommige van ons frustrasies nie altyd op realisme gebaseer nie.
    Een van die belangrike realiteite is: Is dit vir die huidige geslag student wat in 'n Afrikaanse ouerhuis grootgeword het nog belangrik dat die US se voer- en onderrigtaal primer Afrikaans bly? Kan ons, die vorige geslag(te) Maties namens hulle praat? Het ons 'n akkurate idee hoeveel huidige Afrikaanssprekende Maties werklik bekommerd is oor taal? Is daar al onlangs 'n betroubare en akkurate opname onder studente hieroor gedoen? Indien nie, dan is dit nou van allergrootste belang om so iets te onderneem, anders sal die debat baie eensydig en in sommige opsigte futiel wees.
    Ons ouer geslagte was byvoorbeeld soms intens betrokke by studentesake en wie van ons onthou nog die monstervergaderings waar daar met entoesiasme en geesdrif sterk menings oor sake van die dag geuiter is? Maar is daar nog iets hiervan in die studenteliggaam oor? Hoeveel stel die hedendaagse Afrikaanssprekende student belang in aktuele sake wat sy/haar taal, kultuur en ander eie-waardes direk raak? Ek sou wou dink dat enige druk wat namens die huidige geslag studente te US uitgeoefen word deeglik hiermee rekening sal moet hou.
    Die meeste redenasies en sentimente wat ten gunste van die behoud van die status quo en teen die skandelike boedel-oorgee van die US leierskap uitgespreek is, is sinvol en geldig wat ons ouer geslagte aanbetref (my ingesluit), maar wat help dit as dit ons kinders en kleinkinders nie kan skeel of die US verengels of nie en of hulle slegs in Engels onderrig ontvang nie. Dit gaan oor die US se toekoms en nie die verlede nie.
    Myns insiens is 'n groot rede waarom #"Afrikaans must fall" plaasvind die gevolg is van die passiwiteit van die Afrikaner/Afrikaanssprekende self.

  • Paula Hartzenberg

    Om Afrikaans by die US weg te neem, is om hierdie kragtige taal as akademiese taal die nekslag toe te dien - juis omdat dit so fyn kan sny en probleme van die land van binne uitwys en aanspreek. Afrikaanse denke bedreig die vyande van geregtigheid. Hulle bewe.

  • Cecile Cilliers

    Giovanni het huil-huil agter sy pragtige Rosina se kis gestap. Toemaar, sê sy goeie maat, toemaar. Môre soek jy weer vir jou 'n vrou.
    Môre ? Snik Giovanni. Wat doen ek vanaand ?
    Huil help min. Wat gaan ons doen ?

  • Johan Longland

    Wil Prof de Villiers my probeer wysmaak dat daar in België nie plek is vir 'n universiteit wat in Vlaams klas gee nie? Wat gebeur in Switserland waar Duits en Frans die twee groot tale is in 'n land waar daar vier amptelike tale is? Daar is verskeie "konfigurasies" van universiteite - net Duits, Duits/Engels, Frans, Italiaans/Engels, ens. En die Franse studente gaan brand nie die Duitse universiteite af nie.
    Miskien moet Prof de Villiers en die "skerp man" Blade Nzimande kers gaan opsteek in Switserland. Daar is geen kwessie in my opinie dat daar plek is vir minstens twee Afrikaanse universiteite in SA nie. En ja daar is plek vir 'n Zulu universiteit. So kan ons aangaan.
    Die kern van die probleem in my opinie is jaloesie. Jaloesie deur swart studente dat hul moedertaal nog nie die akademiese sukses van Afrikaans kon behaal nie. Maar wat doen hulle om hul eie taal te ontwikkel? Niks nie. Ek besef dit gebeur nie oornag nie, maar wat doen hulle nou. Pleks om hul taal te ontwikkel, wil hulle Afrikaans reduseer tot niks. En Prof de Villiers speel so in hul hande.
    Die argument dat Afrikaans sekere studente uitsluit, is natuurlik loutere snert. In al die uitsprake waar Afrikaans so aangeval word, vervang bietjie in daardie verklarings "Afrikaans" met "Engels" en "Stellenbosch" met "Wits". Sluit Wits nie dan ook sekere Zulu, Xhosa en Afrikaanse studente uit nie?
    Ook die argument deur sekere Afrikaanse mense dat Engels in elk geval die internasionale taal is, dra nie water nie. Ek het klas gedraf in Afrikaans aan die US jare gelede en ek kon in elk geval agv my tweetaligheid (goeie skoolopleiding) maklik ook in Engels in die werksomgewing inskakel. Moet alle Franssprekendes in Switserland dan ook na 'n Engelse universiteit gaan?
    Ek kan maar net hoop dat die besluitnemers sal terugstaan en ordentlik besin. Ons kan nie toelaat dat 'n handjie vol barbare groot universiteite kan kaap nie. Dit sal 'n kwade dag wees in die US se geskiedenis as hierdie voorstel aanvaar word.

  • Garrett de Villiers

    Baie dankie almal. Dit is lankal nodig.
    Breyten Breytenbach, groot asseblief, omskep jou bydrae in 'n spiespunt-gedig, sodat dit ewig en diep kan indring om vir altyd hierdie gewrig van gebeure in Afrikaans/Stellenbosch vas te vang.

  • Die rol van dr Kyle Thomas van Open Stellenbosch behoort ondersoek te word. Die aantuigings wat sy teenoor Raadslede gemaak en die feit dat sy aan die Minister skrywes gerig het behoort haar geskors gekry het. Nie 'n woord is deur die bestuur gerep nie. Die feit dat sy na haar groot oorwinning bedank het, laat my wonder wie haar beskermheer was en die bedanking het gekom nadat sy besef het sy gaan probleme optel. Kan die rektor maar die storie uitklaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top