Beste lid van PEN Afrikaans
Die Universiteit Stellenbosch skenk tans oorweging daaraan om Engels die verstektaal in hul aktiwiteite te maak. Afrikaans en Xhosa sal as doseertale gebruik word as daar studente is wat dit versoek. Die universiteitsraad moet op 30 November die finale besluit oor dié nuwe taalbeleid neem.
Ons plaas hierby die reaksie van een van ons lede, Breyten Breytenbach, op die voorgestelde nuwe taalbeleid. Ons sien daarna uit om van ander lede te hoor.
Die Bestuur: PEN Afrikaans
*****
Die diktaat van Open Stellenbosch
Dit maak eintlik nie saak hoe die rektor se bestuurspan se aanbeveling/besluit betreffende die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid ingeklee, bewimpel of opgedollie word nie. Dit maak ook geen saak dat dié wat reeds oorgegee het nog praat van 'n beleid wat deur die Raad bekragtig moet word nie. Dis beledigend om te wil voorgee hierdie besluit is geneem (en is waarskynlik al 'n geruime tyd onafwendbaar) met enige sin of begrip van wat 'n universiteit behoort te wees en die waardes wat dit veronderstel is om te inkarneer, of dat dit geneem sou wees met die belange van die studente in gedagte of selfs met die oog op die belange van die land nie. Dis beledigend en aanstootlik dat "demokrasie" soos 'n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is te probeer verdoesel.
Die beleidsbesluit is geneem deur 'n aantal opportuniste wat geen sin of begrip het van wat 'n taal beteken en dra en verteenwoordig en ontsluit en waar dit vandaan kom nie – énige taal, selfs Engels. En dit is geneem onder druk van 'n groep mense wat in feite ook niks voel vir wat 'n universiteit, énige universiteit, veronderstel is om aan te bied nie.
Daar sou ten minste 'n greintjie eer kon gered word indien die universiteitsowerhede erken dat 'n taal maar net 'n kommunikasiemiddel is, hoe eenvoudiger hoe beter, dat hulle in feite nie omgee vir etiese oorwegings of begrippe soos "geskiedenis" of "meervolkigheid" of "identiteit" of toegang tot kennis, of dat daar enige aanspraak op verantwoordelikheid teenoor die Afrikaans van die bruin meerderheid in die Wes-Kaap is nie. Dit sou al help indien die universiteitsowerhede rondborstig wou erken dat dit nog altyd deel was van die bestaansvesel van die Universiteit Stellenbosch om die politieke hegemonie van die dag na die mond te praat – en dan die karkas van dom lafhartigheid en sinisme te bewimpel in die kleed van akademiese oorwegings, of finansiële haalbaarheid, of om die onaanvaarbare toe te smeer onder voorwendsels van "bestuur". Mens sou byna die beginselvastheid kon bewonder. Mens sou dit objektief kon bejammer as die jakkalsdraaie van 'n instinktiewe fascisme as dit nie so treurige skouspel was nie.
Nou ja, daar sal seker nie 'n vlag gehys word nie, selfs nie eens die wit vlag nie. Dis nie nodig nie. Maar sal onthou word as die dag waarop die onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid van die universiteitsowerhede vir 'n oomblik in die geskiedenis duidelik was vir almal om te sien, insluitende dié wat nou hulle "oorwinning" vier. Dis 'n skande wat onthou sal word.
Kommentaar
Sic transit gloria mundi!
Breyten Breytenbach, ek salueer u! MEER op die man af kon dit Nie beter gestel word Nie. DANKIE vir 'n man van staal, wat met trots hou by sy taal en siening!
Dankie Breyten. 'n Duisend dankies.
My gevoel is verslaenheid. Het nie kon dink ek sou die dag sien nie. Eintlik het ek nie woorde wat my teleurstelling in die land en sy mense, om watter rede ook al, gestand kan doen nie. Hoe arm moet ons nog word aan alles wat saak maak voor 'n wending kom? "O wye en droewe land..."
Ek ween saam met jou en baie ander.
Goeie genade, ek het gedog my Afrikaans is goed, maar ek het moeite om Breyten Breytenbach se skrywe te ontleed.
Ek het gedagt dat dit net ek was wat met moeite gelees had.
Amper hoog Holllands geweest.
As jy 'gedog het' is jou Afrikaans miskien self bietjie problematies. Ek sou dink jy kon "dog', of 'gedink het', maar om te gedog het klink meer ingewikkeld as wat Breyten skryf. En in elk geval: dis nie moeilik om te verstaan as jy bereid is om te lees nie, inteendeel, dis pure plesier om Afrikaans te lees van iemand wat met die taal omgaan, anders as om dit te verlaag deur oorveneenvoudiging.
Pieter J Swanepoel, ek sou dink dat as mnr Breytenbach "ek het gedog" kan gebruik dan kan ek seker ook:
"mammie
ek het gedog
as ek eendag huis toe kom
sal dit onverwags so teen skemerdag wees
met jare se opgegaarde rykdom
op rue van ysterkoeie"
Sy gedig "Dog" uit die bundel "Kouevuur"
So, geensins "meer ingewikkeld as wat Breyten skryf" nie 🙂
Antoinette, wat 'n puik stuk skrywe. Ek het dit so geniet. Ek hoop nou net die US Bestuur kry dit onder oë want dit is 'n betigtiging uit die boeke.
Dankie vir die verslag. Dit gaan oor meer as net taal. Gee in en daar word meer gevra. Kyk maar net na die studiegeld vraagstuk.
Ek was verslae toe ek sien hoe hulle ons taal en kultuur verkoop het. Nee, weggegee het. Alles verniet gaan tot niet.
Hierdie is 'n skande en verraad teen almal wat hulle vir die ontwikkeling en voortbestaan van Afrikaans as volwaardige taal beywer het.
Amen.
Breyten
Jy kon dit nie beter nms ons almal, wat geskok en hartseer is oor hierdie lafhartige besluit, gestel het nie. Wat 'n skande!
So val nog 'n Afrikaanse seder.
Dankie Breyten. Net jy kon dit so mooi stel. Wat 'n fiasko!
Dit is nou weldeurdagte kommentaar.
Ek is nie iemand wat by hierdie dinge betrokke raak op sosiale media nie maar die feit dat 'n deurdagte akademikus en leier soos Wim de Villiers demokrasie so onder sy stert skop is totaal onaanvaarbaar.
Ek is die vader van twee huidige studente op Stellenbosch - en dus gedeeltelike befondser van Wim de Villiers se salaris - en weet regtig nie hoe om my teleurstelling te verbloem nie.
Ek salueer jou Breyten. Daar was baie dae in my lewe dat ek jou politieke oortuigings verwerp het, maar die feit dat jy vir jou taal opstaan, maak van jou 'n man. Ongelukkig kan dieselfde nie van almal te Stellenbosch gesê word nie. Mag die dag van hul verraad teenoor Afrikaans elke dag van hul lewe hul tot verantwoording roep. Skande Stellenbosch!
Ek dink alle Afrikaners moet ophou hulle studiegeld betaal. Dan sien ons waar kry hulle hulle salarisse vandaan. Dis die Afrikaners wat betaal en dis die Afrikaners wat die universiteite aan die gang gehou het. Hierdie mense het Engelse universiteite waarheen hulle kan gaan as hulle in Engels wil leer. Waarom moet ons altyd knieë buig en terugstaan? Mense haal julle kinders uit die universiteite en spaar duisende rande per jaar. Ons studeer gratis deur international universiteite. Google EduEx. Kyk daarna en maak n skuif met u kinders wat wil leer.
In aansluiting by Breyten, die volgende gedig:
Stellimbos
Jy met die skat van jou groenakker prag
Deur die Nederlanders geplant vir timmerhout.
Van der Stel se bos.
My kennisvennoot.
Veronderstel om intellektueel stimulerend te wees
Maar jy’s niks anders as pretensieus en intellektueel bedees.
Jan Marais het geld gegee dat jy Afrikaans kan wees
Weg met die knegtelike eerbiediging van Koningin Victoria en haar Engels
Voort met Afrikaans en Nederlands
Die stryd om Afrikaans woed in die Paarl-
as Nederlands goed genoeg vir Moses was...
Stellimbos
Simon van der Stel se vlacke valeij
met schoone hooge boomen versiert
Die Kaap was Hollands Die Kaap was Engels
Die Kaap is Afrikaans.
Stellenbosch-uitgespreek soos die Engelse “bosch”-
Die belofte van akademiese uitnemendheid
Everybody loves Stellies
Because we are so diverse
Want daar’s nou g’n plek meer vir Afrikaans.
Breyten, onthou hoe kort die lewe is vir ouer mense, laat die gevegte aan die dommes oor, en kies om jou tyd aan gesin, familie en vriende te bestee. Wees gerus,die tyd sal leer wie regtig betroubaar was.
Weer eens 'n bewys van breindood leiers wat nie 'n benul het van wat werklik nodig is vir ons land nie. Gee "hulle" sertifikate wat niks weet en nooit geleer het nie. So gaan ons land ten gronde. Dis mode en wettig om te toy-toy en af te breek.
Geagte mnr Breytenbach, al wat ek kan sê is DANKIE vir jou eerlike kommentaar. Dit is 'n hartseer dag, 13 November 2015. Hopelik word daar besin, maar ek glo nie, 'n HARTSEER DAG vir AFRIKAANS, ons almal se taal.
Dit is baie goed gestel mnr Breytenbach. Dit is 'n puik brief vol waarhede!
Wel, ek het aan US studeer; hoop nie die SU maak nou alles waarvoor ek hard geleer het, ongeldig nie. Dis al wat dalk in ligter luim gesien kan word! Oor die res is ek baie ernstig en so bly JY, Breyten Breytenbach, het opgestaan vir my universiteit se taalbeleid en die verskuilde agendas daar agter.
In 1974 het ek met jou YSTERKOEI gesweet, maar ek was gelukkig vry om in my moedertaal te studeer! Nou weet ons nie wat die toekoms inhou vir ons Afrikaanse universiteite soos US nie. As oud-Matie, as moeder van 'n Matie en as 'n gewone taaljuffrou in Afrikaans ondersteun ek almal wat namens my 'n stem gaan lug en 'n vuis gaan bal vir hierdie baie ernstige saak!
Ek hou skool by 'n landelike hoërskool net om die draai buite Stellenbosch en mense, na al die jare is die Kaap steeds meer Hollands as Brits, want ons bloedjies sukkel met die Engels! Daarom moet ons vir veral ons plattelandse kinders ook 'n stem wees. Hoop daar gaan mense met ruggraat toetree en nie hierdie gewigtige saak net hier laat nie!
Annalene Scholtz
Maar die hele doel is "south Africa must fall"; dit is wat die kommies wil hê.
As 'n groot gees - 'n taalliefhebber van Afrikaans - so sy hart uitpraat, huil ek saam met hom oor die skande!
Dankie Breyten. Jy slaan die spyker op sy kop. Nou vir die koppe van die hensoppers ...
Breyten het die kluts kwyt.
Die staat skuld niemand iets wat hy nie die ander gee nie.
Ek as ouer sorg vir die voortbestaan van my taal by my kinders.
Dis nie die staat se job nie.
Inga - Dis duidelik dat jy die "job" self doen?
En per grondwet is die staat verplig tot vryheid van assosiasie wat aan ander bloot deur hulle getalle toeval - daarom dan die morele verpligting op die regering van die dag om daardie reg aan Afrikaans te bied - en vir die geleerde maghebbers van US wat dit moet opeis.
So waar. Dankie. Die wat moet opeis is te lamsakkig.
JUST REMEMBER one thing. Wanneer jou voorvaders die regering was, wat het hulle vir die anderskleuriges gedoen? NIKS. Alles was gereserveer vir wittes wat meestal Afrikaners was. Moenie nou klaar oor dit wat u nou toekom. Die gemors wat ons land nou beleef is hoogstens as gevolg van BANTU EDUCATION OF 1957. GROEPSGEBIEDWETTE, APARTE STRANDE, INGANGE, ek wonder hoe 'n kleurling/moslem moes gevoel het toe distrik 6 WIT GEBIED verklaar was in 1960 en hulle omtrent oornag in Mitchell plein gedompel was. EN om alles te kroon was 95% van julle HOOG HEILIGE CHRISTENE, skande.
Stem saam, nou sit ons.
Mense verkies om te vergeet van die daaglikse vernedering wat mense moes deurleef... maar baie van die mense wat daardie daaglikse vernedering moes deurleef was ook Afrikaans-sprekend.
Jy is heeltemal reg dat die staat niemand iets skuld nie en die klem is op NIEMAND. Hoekom voel die staat dan so skuldig dat hy moet inmeng en elke donnerse Afrikaanse skool en Afrikaanse universiteit verengels?
Sodat meer kan deel in die hulpbronne wat ons het. Die mense in ons land is belangriker as Afrikaans.
Daar is meer as 30 ander universiteite.
Amen
Breyten is in die kol. Self kon ek dit nie beter gestel het nie. Die mens is mos inherent lui en slapgattig en kies altyd die weg van die minste weerstand.
Tereg beklemtoon Breyten dat 'n taal veel meer is as net 'n kommunikasiemiddel. Indien dit slegs as omgangstaal gebruik word, vervul dit die funksie van bloot 'n kommunikasiemiddel, maar as instrument van jou denke en jou emosies is dit die instrument waardeur jy jou menslikheid en medemenslikheid verwoord. Slegs jou moedertaal is die volkome toereikende instrument daarvoor. Volgens prof Wim de Villiers kwalifiseer Engels as enigste onderrigtaal aan die US omdat dit die omgangstaal in Suid-Afrika is. Dié onbegrip het ek nie van iemand met sy akademiese statuur verwag nie.
Mooi gestel Lina. Met meer as simpathie vir die saak.
Marleen
Soos soms in krieket, "too little too late". Ons het mos hierdie dinge sien kom, Breyten, en elke keer is een of ander vorm van rasionalisering gebruik om die argumente vir of teen gelyk te maak, of te ignoreer. "Dis 'n skande wat onthou sal word."
Dat 'n revolusie sy kinders eet is onvanpas wanneer beginsels strykdeur gehandhaaf word.
Eerder, soos wat geskiedenis herhaal, sal daar weer 'n Afrikaanse instelling vanaf die grond opgebou moet word. Net om weer gerysmier te word.
Niks is meer kosbaar in hierdie land nie; nie taal, kultuur of geskiedenis nie en nog minder menselewens. Alles word met geweld reggekry en ek ys om te dink waar dit gaan eindig. Daar is hoeveel universiteite waar Engels die eerste taal is, hoekom kan daar nie een of twee Afrikaans wees nie? Watter eise is volgende? Gratis kos en klere? Dit begin werklik belaglik raak. Demokrasie? Wat 'n grap!
Jammer as ek sinies klink, maar ek is nie seker dat hierdie skande baie lank onthou sal word nie. Dit is regtig moeilik om tred te hou met al die skandes wat daagliks in SA gepleeg word.
Ek is geen ondersteuner van Afrikaner nasionalisme nie (trouens ek was uitgeskop uit Majuba omdat ek beswaar gemaak het dat ek nie 'n wasmasjien op 'n Sondag kon gebruik nie, al moes 20 Kleurlingvroue in die kombuis werk op 'n Sondag). Maar die feit bly staan mense soos Degenaar, Esterhuyse ens ens ens het Afrikaans eindeloos verryk soos al die digters ens en nou om sonder meer die taal af te skaf is 'n grusame verarming van die land se kultuur... net om 'n paar "hot heads" tevrede te stel en 'n oorwinning te oorhandig aan Blade Nzimande.
Ag hemel , Wilhelm. Wat is nou so eienaardig dat Kleurlingvroue op Sondae gewerk het? Blanke dokters het Saterdae en Sondae ( en ek glo steeds ) noodoperasies op kleurlinge en swart pasiënte uitgevoer .
Ja, Betsie, niks ongewoond nie, maar hoe kon hulle dan vir my sê ek mag nie 'n wasmasjien op 'n Sondag gebruik nie? Dis die punt. En my dan uit 'n koshuis te gooi omdat ek beswaar gemaak het.
Wat meer kan ek sê? Die diefstal duur voort! Ons word beroof van soveel dinge wat vir oms kosbaar is, as gevolg van politieke motiewe! Daar is genoeg Engelse opvoedkundige instansies om Stellenbosch!
Sê ek ook mos is daar niemand met ruggraat wat die ware feite wil aanvat en verdedig nie? Het die apartheids-albatros om ons nek gemaak dat ons nie meer kan baklei en standpunt inneem vir dit wat ons wragtag met moeite opgebou het nie?
Afrikaanssprekendes moet eenvoudig enige skenkings weerhou. Miskien kan dinge nog gered word. Andersins moet Wimpie, Blade, hul meelopers, ens bereid wees om 'n deel van hul salarisse vir hul doel te skenk.
Marionette dans oral rond, sommige klaarblyklik nogal in hul skik om hul toutjies te wys. Tragies naïef en kortsigtig. Mens kan net bly hoop dat die volgende paar weke sterk besluitnemers sal oplewer wat ander daarvan kan oortuig dat eentaligheid nie inklusiwiteit verseker nie. Meertaligheid en meelewendheid, soos nog altyd op Stellenbosch die geval was, is die antwoord.
Die Kaapse Afrikaners het vanaf GRA-dae gewoel vir die erkenning van die Taal. Sommige van ons pa's en oupa's moes "Dutch Donkey" om hulle nekke dra omdat hulle gedurf het om hulle eie taal op skool te kon besig. Maar nou buig ons voor die "PC" godheid van 'n non-regerende owerheid om hulle venyn te bevredig. Mens se trotse besit is eie-beeld en eie-waardigheid. Wat moet die opkomende geslagte van hulself dink - dis sielkundige selfmoord. "Ek hou van 'n man ... wat kan ..." is blykbaar uit die mode!!
'n Besluit geneem deur 'n spul papbroeke wat, soos De Klerk en sy trawante, nie die moed van hul oortuiging het om standpunt in te neem vir dit wat reg is nie. Om saam te span met 'n meerderheid, wat alles wat hulle het, te danke het aan 'n klein minderheid wat, deur stryd en harde werk, groot dinge (onder andere US) tot stand gebring het, is soos om die kant van 'n spul boelies teen 'n geboeliede te kies en daarna te spog met jou aandeel daarin. Skande! Is dit nie pateties dat 'n groep mense so 'n swak selfbeeld het dat hulle nie eers probeer om self iets vir hulle eie mense tot stand te bring nie, maar teer op ander se prestasies. Nog meer, besef die "geleerdes" nie dat hulle met hulle besluit van tegemoetkomendheid eintlik die mense beledig deur indirek toe te gee dat hulle 'n minderwaardig groep is en self tot niks in staat is as hulle nie gehelp word nie. Die US sal nog die wrang vrugte van 'n papbroekige besluit pluk. My innige simpatie aan hierdie groep mense wat die US se besluit as 'n oorwinning sien en nie as die belediging wat dit in werklikheid is nie.
Hoekom bou hierdie regering nie n pragtige nuwe wêreldklas Universiteit vir al hulle doeleindes nie, in stede daarvan om ’n vorige bewind se poging te STEEL nie. Dan kan hulle werklik trots wees op hulle EIE Prestasies. Nou lyk dit of hulle wil ploeg met ’n vorige bewind se(gesteelde) kallers!
Die Afrikaners moet leer om saam te staan. Hoekom nog belasting betaal as ons stem nie gehoor word nie. Dankie Breyten.
Mens voel verslae - en magteloos. Dankie Breyten vir jou wonderlike woorde. Daardie landjie van ons, ai tog. Dis asof ons nie laer kon daal nie, maar blykbaar tóg!!
Niemand kan jou siel en menswees met ’n besluit wegneem of erger nog, wegwens nie. Engels was nog maar altyd die akademiese voertaal en het weinig inherente verskil aan die kultuur van die US gemaak. Om ’n taal te koppel aan waardes is die gevaar. "It's not the roots of fruit trees that matter, it's the fruits they bear." Dis nou die tyd om ander te wys dat Afrikaans sal oorleef en groei deur dit uit te leef en te koester by die US. Is ek ’n ander mens as ek doof word en vingertaal gebruik?
Ek doseer by ’n Universiteit en verstaan die besluit. Ek is Afrikaans maar doseer in Engels. Dit help die studente om internasionaal te publiseer. Die wat in Afrikaans studeer het sukkel om aan die vereistes te voldoen van die internasionale akademiese omgewing. Afrikaans bly voortleef by die huis. Almal is baie negatief maar ek sien wit pienk en pers saamleef in harmonie by ons uni in Engels.
Wil jy beweer dat deur die jare, wat daar in Afrikaans gedoseer is, nog niks goeds uit ons Afrikaanse universiteite ontstaan het nie en dat ons daardeur geestelik en intellektueel verarm is? Dus sê jy dat almal van ons wat deur die jare ons grade in Afrikaans behaal het se kwalifikasie is minderwaardig. Blykbaar verstaan jy nie veel nie. Hierdie is 'n baie emosionele onderwerp en oorwinning vir mense wat Afrikaans vir alles blameer wat verkeerd is in hierdie land. OS is polities gedrewe en het niks te doen met akademiese uitmuntendheid nie. Hoekom speel US nie oop kaarte met die gemeenskap wat hy veronderstel is om te bedien nie? Wie het hulle almal geraadpleeg en watter gewig heg hulle aan sekere groepe se insette? Ek kan jou belowe julle gaan nog vele eise in die gesig staar - oa dat julle eie poste deur swartmense vervang moet word ongeag meriete. Deur aan Blade N toe te gee maak julle die deur oop vir 'n derderangse universiteit. Hierdie is bloot toe-eiening deur 'n groep mense wat nog niks geskep het nie, alles eis en dan vernietig. Volgende is die skole, Taalmonument ens. Hierdie ongevraagde toegewings gaan nog hierdie land vernietig.
As jy werklik belangstel in hoe ingeligte mense voel, gaan na hierdie webwerf: http://www.politicsweb.co.za/documents/stellenbosch-university-will-be-anglicised--wim-de. Hierdie besluit maak my skaam vir my ou universiteit. Ruggraatloos. Gee toe nog voor dit gevra word.
Ditto Jan. Dat die Afrikaanse student, wat in al die jare in Afrikaans studeer het, nou so onnosel is en nie deur die internasionale akademiese gemeenskap, wat sal ek dit noem, as goed genoeg gereken word nie, gesien word! Sjoe, het sy enige idee van die bydra wat deur Afrikaners in Afrikaans en Engels gelewer is? Dankie vir jou antwoord.
Jy weet nie waaroor dit gaan nie. Kom kyk hier in Wellington by een van die voorste Onderwys-opleidingsentrums in die wêreld - daar is nog so paar stryders wat die standaard handhaaf - ma o wee - dit wat die studente vertel gee jou nagmerries - as 'n seun uit die Hantam vir jou Engelse foute uitwys van 'n student dan moet jy weet hoe laat dit is. Niemand het nog ooit 'n probleem met die Engelse klasse gehad nie maar om dit op papier te sit en die standaard te maak is papbroekig.
"Die wat in Afrikaans studeer het sukkel om aan die vereistes te voldoen van die internasionale akademiese omgewing ..."
U impliseer dat moedertaalonderrig studente tot mislukking doem. Ek glo u nie.
U stelling is "pedagogiese onsin" in die woorde van Dr Van Zyl Slabbert.
Gemotiveerde Afrikaanse studente wat nagraads in hulle tweede taal "sukkel", werk net eenvoudig harder. Hierdie studente het ook toegang tot Nederlands met heelwat minder aanpassing. U Engelse studente geniet nie hierdie voordeel nie.
U argument is van toepassing op diegene wat u in hulle tweede of selfs derde taal naamlik Engels voorgraads probeer onderrig. Die mislukkingsyfer spreek vanself.
U gaan hulle lot met verengelsing geensins verlig nie.
SU gaan eerder Afrikaanssprekendes net verder ernstig met verengelsing benadeel.
Prof Hermann Giliomee stel dit soos volg:-
"Coloured Afrikaans-speakers are the community with the lowest participation rate in tertiary education. A switch by Stellenbosch to predominantly English-medium instruction will be a lethal blow to this community’s hope to shake off centuries of neglect under slavery, segregation and apartheid.
The move away from Afrikaans single medium education at universities started well before the transition to an inclusive democracy. For a few years there was a sense that this move should not go too far.
In 1996, when the US offered Pres Nelson Mandela an honorary degree, he stated: 'To put it in the simplest and starkest terms: it surely must be possible in a system with more than twenty universities to come to an agreement that there would be at least one university whose main task would be to promote the sustained development of Afrikaans as an academic medium.'”
Baie dankie Breyten, die probleem is dat die besluit wat hulle gemaak het in eie belang was, amper soos 'n Kortbroek marionetbesluit ... as julle sê dans, trek net die toutjie.s Groete van die duine en walvisse af !
Hoe reageer jy teen ’n oorvloed van ongeregtighede wat sedert die Anglo-boere-oorlog sy invloed gehad het?
Afrikaans is een van Suid-Afrika se amptelike tale. Volgens die grondwet mag daar teen niemand gediskrimineer word nie. Ek sien dit as diskriminasie as daar nie 'n tersiêre instansie in SA is wat toegewy is aan Afrikaans as onderrigmedium nie. Waarop ek trots is, is dat 'n Afrikaanse universiteit hom progressief belyn het met die grondwet met merkbaar geslaagde en kreatiewe inisiatiewe om diversiteit, nie net te akkommodeer nie, maar te verwelkom. Die US blyk egter nou reaktief te wees en in 'n sekere sin teen die grondwet op te tree. As Afrikaans 'n nie-amptelike taal was, sou ek kon verstaan oa agv regeringbefondsing wat hul sou noodsaak. Ek wil kan weet wat is 'rote counting' in Afrikaans as ek die Graad 1's in hulle regmatige moedertaal onderrig. En nie oor 10 jaar in argaïese woordeboeke moet gaan rondsoek vir die antwoord nie. Sal Lina Spies, Breyten B en ander bekroonde Afrikaanse liefhebbers nie voor 30 November kan vergader met US (nie) ... of is dit nou sonder die (nie ...). Ons as gewone mense se stemme is dalk te sag.
Mag ons lesse neem uit hierdie fout en dit nie herhaal nie.
Ook hier in België vinden we dit spijtig om te moeten vernemen.
Het Afrikaans is zo een mooie taal om te horen, maar hier in Europa voor ons te moeilijk om te leren.
Afrikaans mag niet vergeten geraken, want dat zou een ramp zijn.
'n Nuwe Taalstryd het begin. Wat gaan ons DOEN? Kan die pen swaarder weeg as die swaard of noodsaak ons omgewing ons om die pen neer te lê en te sit - in die strate, op die trappe, voor die parlement en waar ook al. Ons MOET die stryd opneem of verdwyn?
Ek is Afrikaanssprekend, Ek is lief vir my Moedertaal, soos seker elke ander mens op hierdie aarde. My kinders praat Afrikaans in Skotland en Nederland en sal verseker dat hulle kinders dit ook kan praat.
Ek het ook die afgelope 20 jaar die voorreg gehad om 'n personeellid van die Universiteit Stellenbosch te wees en het soms regtig gevoel dat die universiteitsraad uit hul pad gaan en agteroor buig om die regering, hul kritici en elke jan-rap-en-sy-maat wat 'n eiertjie te lê het, te probeer akkommodeer, hoe belaglik die aantygings soms ook al voorgekom het.
In die praktyk en uit 'n besigheidsoogpunt is dit soms net heeltemal onprakties om Afrikaans as verstektaal te gebruik, want:
1. Op die manier verloor jy 'n groot persentasie van potensiële klandisie;
2. Om klasse meertalig te probeer aanbied, is daar eerstens nie genoeg ure per dag om die hoeveelheid periodes wat daarvoor benodig word te akkommodeer nie; tweedens is daar nie genoeg personeel met die geskikte vaardighede om dit te akkommodeer nie; en derdens is daar vir die meeste vakke eenvoudig nie genoeg handboeke in Afrikaans beskikbaar nie;
3. Om hierby aan te sluit verhoog die kostes astronomies wanneer vertalingsdienste en verdubbeling van drukwerk bygereken word.
4. In die praktyk verkies die meeste studente om hul opdragte en eksamens in Engels af te lê, wat hul huistaal ook al is (en dit is 'n feit, wat "Pappa" ook al in sy tirade mag sê as sy liefie swak gevaar het in die eksamen).
5. Indien enige van die studente beplan om voorleggings te doen by die oorgrote meerderheid van kongresse wat plaaslik of in die buiteland aangebied word, moet hulle dit professioneel, in akademiese taal, in Engels kan doen of nie aanvaar word nie.
6. Dit is tersiêre instansies se plig om studente voor te berei vir die arbeidsmark. Hoeveel geleenthede is daar beskikbaar vir potensiële kandidate wat net Afrikaans magtig is, en word hul wêreld nie net 'n bietjie wyer as hulle hulself professioneel in Engels ook kan aanbied nie.
Oor die afgelope 20 jaar was dit my ondervinding dat 'n baie klein persentasie van studente wat by die kantore kom aanklop het vir raad, dit in Afrikaans gedoen het, of dit selfs magtig was, hoe swak, skeef en krom die Engels ook al gebesig is.
Ek is trots om Afrikaanssprekend te kan wees. Ek is ook trots daarop dat ek meer as een taal aangeleer het en myself uitstekend in elkeen kan uitdruk. Ek geniet elke stukkie leesmateriaal waaruit ek my lewe kan verryk. Hoekom dit nie ook vir ons jongmense gun nie? As enige student (van wie die moedertaal enige van die 10 ander in Suid-Afrika is) nog nie Engels aangeleer het wanneer hulle skool verlaat nie, is dit laat in die dag en is hulle reeds 'n onreg aangedoen.
Na my mening moet ons, as Afrikaanssprekendes, net ophou om so histeries te wees oor ons Taal wat gaan uitsterf en as ouers verseker dat ons ons plig nakom deur te sorg dat ons kinders en ons kinders se kinders hul Moedertaal by die huis leer en nie die verpligting aan iemand anders oorlaat nie.
Koerant- en tydskrifredakteurs moet verseker dat elke berig en artikel taalkundig 100% korrek is voordat dit geplaas word (want dit is afskuwelik wat mens elke dag raaklees). Dit geld ook vir draaiboekskrywers van televisie en films (ek weet nie waar in die land dit die gebruik is om ipv woorde soos want, waarom, daarom, dus, omdat te gebruik, dit te vervang met 'n punt en 'n nuwe sin te begin nie).
Net ter afsluiting: Ek het in 2001 by geleentheid 'n paar dae op Isle of Skye deurgebring en terwyl die "kinders" besig was om aandete te vang 'n jong ma en haar seuntjie van ongeveer vyf jaar oud teëgekom. Sy het met my in die aksent van die tipiese Hooglandse Skotte gepraat, maar met die seuntjie in Kelties. Dit was die eerste maal wat ek die pragtige taal hoor en ons het 'n geselsie daaroor aangeknoop. Sy het vir my verduidelik dat dit haar, en ander jong ouers van die omgewing, se plig is om te sorg dat die taal nooit uitsterf nie. Hoeveel Afrikaanssprekendes is daar nie vandag in die wêreld oor, teenoor die handjie vol Kelte nie? Indien elkeen wat so 'n bohaai maak oor die Taal wat sal uitsterf, wat so ernstig oor die saak voel, sal ophou mekaar verskree, maar iets daadwerkliks sal doen om die voortbestaan van Afrikaans uit eie huis te verseker, hoe sal dit dan uitsterf?
Almal van ons - ja , antwoord maar daardie een - kan Engels verstaan en praat. Die universiteitstaal ten spyt.
Baie studente verkies Engelse vraestelle omdat baie lesings wat moes, nie in Afrikaans was nie. Baie leermateriaal is in Engels. Baie dosente wat Engels is, is swak in Afrikaans ( want die universiteit gee nie om nie) en kan ook nie Afrikaanse vraestelle nasien nie. Baie Afrikaanse dosente besig 'n Engels bestrooide Afrikaans want hulle is lui. Sommige slaan selfs oor na (swak) Engels. Na my verbintenis deur my kinders (en hulle vriende en medestudente) met die universiteit oor nege jaar egter, is dit nie waar vir minstens drie van die graadprogramme ( nie een 'n "sagte" program nie) dat die meeste studente verkies om hul opdragte en eksamens in Engels af te lê, wat hul huistaal ook al is, nie.
Ek en my geslag - die oueres, het met Afrikaanse opleiding ons goed kon uitleef en uitdruk in 'n Engelse sakewêreld – wêreld oor van Oos na Wes en Noord na Suid. Wat taal aanbetref lê dit nie op die universiteit se weg - wel op die student s'n - om verantwoordelik te wees daarvoor dat die studente voorleggings professioneel, in akademiese taal, in Engels kan doen of nie aanvaar word by die oorgrote meerderheid van kongresse wat plaaslik of in die buiteland aangebied word, nie.
Dit is tersiêre instansies se plig om studente voor te berei vir die arbeidsmark deur relevante kennis en vaardighede suksesvol ( met goeie dosente) oor te dra - nie deur 'n taalbeleid ( van Engels) nie. In alle gevalle waar ek oor meer as twintig jaar aanstellings gedoen het, het op gelyke akademiese vlak, Afrikaanssprekendes altyd taalkundig beter gevaar hetsy hulle Afrikaans of Engels in die werkplek wou/moes gebruik. Niemand praat van potensiële kandidate wat net Afrikaans magtig is nie - hoe het hulle by die universiteit uitgekom dan? En, in elk geval, potensiële kandidate se wêreld word net 'n bietjie wyer as hulle hulself professioneel in Engels, Afrikaans, Xhosa , Sjinees ens kan aanbied. Oor die ondervinding dat 'n baie klein persentasie van studente wat by die kantore kom aanklop het vir raad, dit in Afrikaans gedoen het, of dit selfs magtig was, hoe swak, skeef en krom die Engels ook al gebesig is, is dit bloot omdat dit juis daardie wat Engels wou wees, gevoel het hulle moes wees, Engels gedwing was, wat raad nodig had. Die res was gemaklik in Engels (ook) en het nie raad nodig gehad nie. Die persepsie oor en houding van baie nie-doserende personeel is ook dat Engels die professionele taal is, moet wees, daarom praat die studente met hulle Engels.
Jy sê as enige student nog nie Engels aangeleer het wanneer hulle skool verlaat nie, is dit laat in die dag en is hulle reeds 'n onreg aangedoen. Korrek, dis nie die universiteit se plig om hulle daarvolgens te moet oplei nie, en die universiteit(e) behoort by verstek Engels Huistaal as matriekvak te vereis.
Dit is waar dat indien die wat so ernstig oor die saak voel, iets daadwerkliks sal doen om die voortbestaan van Afrikaans uit eie huis te verseker (en die akademici kan maar gerus dit in hulle akademiese huis dit ook doen), dit nie sal uitsterf nie . Maar dit gaan nie soseer oor uitsterf nou nie, maar oor mens se reg . Moenie ontneem wat ek het en dink dit maak sin nie - voeg vir ander iets by. DIT is nou maar eenmaal die koste van 'n sg veeltalige of veelkulturele land en moenie dit as motivering vir afskaling van die aanbieding van Afrikaans voorhou nie.
Die argument dat als in Engels moet wees ter wille van die besigheid/kommersiële wêreld is lank nie meer geldig nie. Van die mees suksesvolle besigheidsmense in SA is AFRIKANERS! Wat Afrikaanse universiteite bygewoon het. En wat, ek vermoed hulle sakevergaderings ter wille van die wat nie Afrikaans kan praat nie, in Engels hou. Al wat ek wil sê is daai argument dat dit terwille van die besigheidswêreld moet wees, hou lank nie meer water nie. Daar is ander motiewe betrokke, en ja, ek vermoed praktiese realiteite en natuurlik Engelse studente wat 'n Afrikaanse universiteit soos Stellenbosch wil bywoon - en dan Engels eis as onderrigmedium. Ons lewe in 'n tyd van waansin en groter onreg.
Ou Wim was top matrikulant in die Wes-Kaap, in 1977. En toe raak hy dokter - 'n man moet slim wees om dokter te word.
Tant Lina (Spies) moet my nou maar verskoon dat my Afrikaans na 21 jaar in die sakewêreld erg onakademies geraak het, maar Wim en die US Senaat het 'n hond losgemaak wat hul nog vreeslik gaan byt ...
Shame, ou Breytie wil nou in die pot oor taalregte en ruggraatloosheid en hy het so hard saam baklei om dit wat nou gebeur te laat vlam vat in die land. Waar lê jou belange eintlik ou maat?
Ag Hein, jou redenasie is soos een wat verwag dat mense eendimensioneel moet wees. Ek haal my hoed af vir iemand wat konsekwent onreg aanspreek. En dis wat Breyten doen. Anders as hoe jy dit sien. Met respek gesê.
Baie hartseer besluit vir my. Ons moet ook protes hou vir ons mooie taal en vir die behoud van ons taal.
... ons moes dit verwag het want alles wat waardevol en betekenisvol is moet vernietig word, taal en so ook die boere en hul grond. "Zimbabe is die voorbeeld wat gevolg moet word." Basta met die grondwet, hulle maak wat hulle wil. Die volgende teiken is PU vir CHO in Potch. Snaaks dat so klein groepie so 'n groot bedreiging is.
Dankie Breyten. Ek hoop jou waarschuwing is niet verniet!!!!
Breyten jy het goed gedoen en was weer jou ou self. Dat dit ’n jammer dag was, ja maar wees positief. Hoe meer ’n ding bedreig word hoe vinniger groei dit. Hoe verskil dit van onse Jan se tyd. Hoe verskil dit van hedendaagse groei in Afrikaanse teater en film na die dreigemente, hoe verskil dit van die verspreiding van Christendom agv bedreigings. Nee wees sterk. Afrikaners het ruggraat en trots en ’n oorlewingsingesteldheid. Hulle sal hieroor ook triomfeer.
In 1938 het van Wyk Louw 'n opstel geskryf "Die ewige trek". Die drie geskiedkundige oomblikke wat hy hieronder plaas is - die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die derde, die keuse van Afrikaans as amptelike taal. (Bron: 'Die daad binne die geskiedenis' deur Gerrit Olivier; DSA 1989/12).
Ons staan nou voor die vierde een. Kom ons DINK goed ... wat om te doen.
Ek kan eintlik op alles voorafgaande net sê: 'Sela'. Kyk ook met groot oë en afwagting in die rigting van UP waar ek vir meer as 30 jaar dosent was.
I'm English. And Stellenbosch is my Alma Mater (BSc Bosbou, 1987).
And I disagree with what they're doing. Leave the tuition in Afrikaans. Before I became a Matie my Afrikaans was non-existent; nou kan ek dit wel verstaan en praat (maar lewe nou in Frankryk, so leer Frans ook!)
Dis hartseer om te dink dat Afrikaans as ’n erkende akademiese vaktaal kan uitsterf. Prof Wim, as dit jou mag beïnvloed, dink terug toe jy die kanseliersmedalje in 1983 ontvang het. Jy kon medisyne met diepe begrip en etiek in jou Moedertaal bemeester. Ek gun dit vir almal, maar los ’n plekkie vir Afrikaanssprekendes om dit ook te doen. Mens mis nie iets voor jy dit verloor het nie. My eenvoudige woorde staan in die skaduwee van groot geeste wat hier kommentaar gelewer het, maar as jy dit lees (ek glo jy is tans onder baie druk ), slaap asb daaroor.
Ek huil vir my mooi taal ... Afrikaans
Dankie Breyten! Wat het van demokrasie geword! Het die Afrikaanssprekende studente wat in die meerderheid op US is dan geen sê meer nie! Dat prof de Villiers voor Blade se druk geswig het is verseker! Dis 'n skrynende skande wat ten hemele skree! Dan sal die een dametjie so ewe sê studente kan nie internasionaal publiseer nie! Nog nooit van sulke groot twak en onwaarheid gehoor nie!
En hoeveel duisende studente het hul grade, meestersgrade en doktorsgrade in Afrikaans afstudeer en tog het duisende van studente ’n blywende merk internasionaal gemaak, waar Engels die oorwegende voertaal is!
Hoe vaal en vervelig word die reënboognasie noudat diversiteit en veeltaligheid nie meer die botoon voer nie. Dankie mnr Breytenbach vir jou eerlike woorde.
Ou Breyten. Waarom sal die Afrikaans-kwessie jou nou so pla?
Was jy nie een van die galbrakers wat jare gelede jou bek uitgespoel het oor die sogenaamde Afrikaanse "establishment" nie?
Was jy nie een van die groot voorstanders van die ANC agenda tydens die aanloop tot die 1994 verkiesings nie?
Ek skaar my by Breyten.
Amen, Breyten en Lina!
Ek dink nie Breyten is onbillik in sy versoek dat die besluitnemers/skoothondjies ten minste eerlik kan wees oor die werklike redes agter die besluite nie. Dit sal heelwat mense die moeite spaar om weldeurdagte akademiese argumente in die 'debat' te lewer.
Breyten, dis 'n plesier om te sien hoe jy my taal gebruik, ongeag wat jy sê en ongeag of mens daarmee saamstem. Dis 'n yslike lekkerte om 'n ware meester en woordsmid te sien werk. Ek kry skoon hoendervleis. Dankie daarvoor.
NS: ek stem ook 100% saam met die inhoud.
Voordat enige taalgeveg aangepak word, moet die belangrikste vraag beantwoord word: wat wil die meerderheid Afrikaanse studente hê? Ek sien nêrens op LitNet dat hierdie vraag gevra word nie: Wil die meeste van hulle nie maar in Engels studeer nie? As dit die geval is, is enige taalstryd op kampus in elk geval sonder enige legitimiteit. As hulle wel in Afrikaans wil studeer het die universiteit en die goewerment geen reg om hulle te keer nie. Maar die eerste vraag moet eers beantwoord word: Wat wil die meeste Afrikaanse studente hê?
Wat is die toekoms van die Afrikaanse letterkunde as daar nie meer 'n literêre diskoers in Afrikaans kan wees nie?
Wat van Jannie Marais se vereistes.
"bequeathed the money required before his death in 1915.[10]:291 There were certain conditions to his gift which included Dutch/Afrikaans having equal status to English and that the lecturers teach at least half their lectures in Dutch/Afrikaans. By 1930, very little, if any, tuition was in English.[10]:291"
Moet sy skenking plus rente nie aan sy nasate teruggegee word nie?
Van Wikipedia gekopieer.