Strate toe vir Afrikaans by US: 9 April

  • 3

Soos wat Jerigo se mure tot ’n val gekom het, hoop die organiseerders van komende Vrydag (9 April) se protesoptog by die Universiteit Stellenbosch (US) om die neiging tot Engelse eentaligheid by die universiteit tot ’n val te bring.

Vrydag se optog deur Stellenbosch se strate is maar net die eerste stap van ’n rollende protesaksie. So sê een van die hooforganiseerders, Danie van Wyk van DAK Netwerk wat hulle beywer vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.

Van Wyk is een van ’n uiteenlopende groep, hoofsaaklik bruin Afrikaanse leiers, wat keelvol is vir die US se taalbeleid en sê Afrikaans word ernstig afgeskeep. Hy noem dit ’n misdaad teen sy mense. Hy word gesteun deur verskeie gemeenskap- en kerkleiers, asook die Afrikaanse Taalraad.

Soos wat Martin Luther van ouds sy 95 stellings aan die Kasteelkerk (Schlosskirche) in Wittenberg se deure in Duitsland vasgespyker het, wil Van Wyk Vrydag sy besware teen die verengelsing van Maties aan die deure van die universiteit se hoofgebou vasplak.

En dit is maar net die begin van ’n voortgesette rollende protes, volgepak met simboliese handeling, sê ’n omgekrapte Van Wyk aan LitNet. Later die maand wil hulle in ’n konvooi motors met blasende toeters om die universiteit se kampus ry. “Soos wat Josua en die priesters om Jerigo gestap het en op hulle ramshorings geblaas het om die stad se mure te laat val, wil ons die US se Engelse taalmuur simbolies laat val,” sê Van Wyk.

Hy sê daar heers groot belangstelling vir Vrydag se protesaksie. “Navrae stroom uit verskeie oorde in van mense met verskillende agtergronde, van kunstenaars soos die sangeres en kampvegter vir menseregte Nadine Blom tot die bekende historikus Herman Giliomee.”

Volgens Van Wyk is daar ook verskeie ringe en gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) wat hulle by die protesaksie skaar. Mense van die sendingstasie Zoar naby Ladismith tot in Calitzdorp, Namakwaland, die Weskus en plekke soos Amandelboom het boodskappe van ondersteuning gestuur.

Van Wyk sê daar is regoor die Wes-Kaap en veral op die platteland ’n sterk weerstand onder die bruin Afrikaanse gemeenskap en gemeenskapsleiers teen die rigting wat die universiteit se taalbeleid inslaan.

Hy sê hulle is slaggereed vir Vrydag se protes en al die nodige vereistes is nagekom. As gevolg van die COVID-19-maatreëls se beperkings op massabyeenkomste maak hulle voorsiening om slegs 200 protesgangers te akkommodeer. Sommige van hulle kom met minibussies van plattelandse gebiede om deel te neem.

Die groep sal ongeveer 11h00 by die Braak in Stellenbosch byeenkom. Van daar gaan hulle deur die dorp se strate na die universiteit se hoofgebou beweeg waar ’n protesskrif met versoeke aan die rektor van die universiteit, Wim de Villiers, oorhandig sal word. Van Wyk sê hulle het reeds versoek dat De Villiers die protesskrif persoonlik in ontvangs sal neem, maar die universiteit het nog nie bevestig of hy daartoe ingestem het nie.

Danie van Wyk (Foto: Naomi Bruwer); Wim de Villiers (Foto: YouTube)

De Villiers ontken dat die universiteit Afrikaans ondergrawe en hou vol die US wil nie ’n Engelse universiteit wees nie maar ’n meertalige universiteit wat na uitnemendheid streef.

Hy is min beïndruk met politieke partye en drukgroepe se mobilisering oor die US se taalbeleid. “Hulle steur hulle nie aan die feite nie, en slaan ook nie ag op die kompleksiteite verbonde aan die implementering van meertaligheid by ’n groot hoëronderwysinstelling nie. Hulle sweep mense op en saai verdeeldheid,” het De Villiers verlede week in ’n stuk gesê wat aan die media versprei is.

Van Wyk stem saam met De Villiers dat politieke opportunisme ’n rol speel met die oog op vanjaar se munisipale verkiesings en wil daarom nie deel wees van enige protes wat as ’n politieke speelbal misbruik kan word nie. Geen politieke party is by Vrydag se protes betrokke nie.

Hy ontken egter ten sterkste beskuldigings uit sommige bruin geledere dat hulle net ’n groep bruin mense is wat wit mense se vuilwerk doen of wittes wil beïndruk om ’n werk te kry. “Ek verwerp sulke stellings met die minagting wat dit verdien,” sê hy beslis en met nadruk.

“Al waarop ons aandring is dat die universiteit sy taalbeleid hersien en ons grondwetlike taalregte respekteer,” sê Van Wyk. “Wat op die oomblik met Afrikaans by die US gebeur, is ’n misdaad teen my mense en ’n miskenning van Afrikaans.

“Ons het niks teen Engels nie en is ook nie gekant teen transformasie nie. Bruin mense is die groep wat die meeste ly onder die universiteit se huidige taalbeleid. Die universiteit skuld bruin mense ’n verskoning vir die wyse waarop hulle ons in die verlede op grond van ras uitgesluit het en nou weer op grond van taal.”

Van Wyk sê hulle dring daarop aan dat Afrikaanse studente wat dit verkies om in hulle moedertaal onderrig te word, ten minste hulle eerste graad in Afrikaans kan voltooi. Engels hoef niks in die proses te verloor nie en niemand hoef uitgesluit te word nie. Hy wil weet wat geword het van aanbevelings soos dié van die Jakes Gerwel-kommissie dat daar minstens twee universiteite in die land moet wees met Afrikaans as een van die onderrigtale.

Gerwel is in 2001 deur Kader Asmal, die destydse minister van onderwys, aangestel as voorsitter van die Gerwel-kommissie van ondersoek na die status van Afrikaans as onderrigtaal op universiteit. Bekendes soos Hein Willemse, Willie Esterhuyse, Njabulo Ndebele, Christa van Louw en Antjie Krog het op dié informele kommissie gedien. Dié kommissie se aanbevelings dat twee universiteite (een in die noorde en een in die suide) toegewys word om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel en te bevorder, is nooit geïmplementeer nie.

Van Wyk stem ook nie saam met die kommentaar van een van LitNet se lesers wat sê dit klink of hy ’n opruiende optog beplan amper soos die gepeupel wat die Capitol in Washington, VSA, bestorm het nie.

“Dit is geensins ’n opruiende optog nie, maar ’n waardige protesaksie. Daar is ook akademici wat aan die optog sal deelneem en die leiers aan die voorpunt van die optog sal in akademiese drag geklee wees om te wys dit is ’n waardige optog oor ’n ernstige akademiese saak.”

Tot watter mate Vrydag se optog die koers van die US se taalbeleid gaan beïnvloed, indien enigsins, bly ’n ope vraag. Dat hulle daarin geslaag het om opnuut die lig te laat skyn op die taalkwessie waaroor daar tans weer belangrike besluite geneem moet word, is gewis.

Die rektor het reeds in sy onlangse skrywe aan die media toegegee dat dinge soms skeefloop. “As studente aangesê word om nie Afrikaans in sosiale verband te gebruik nie, is dit verkeerd. Dis eweneens verkeerd as studente onder druk geplaas word om nie Afrikaans te gebruik in ’n kursus met spesifikasies wat wel vir Afrikaans voorsiening maak nie. Dít is nie ons beleid nie; dit is nie veronderstel om te gebeur nie. Ek is jammer daaroor; ons ondersoek dit en stel dit reg,” het De Villiers in ’n skrywe gesê wat op verskeie mediaplatforms in beide Afrikaans en Engels verskyn het.

Volgens De Villiers is die US nie ’n Engelse universiteit nie, al word hulle volgens hom verkeerdelik so uitgebeeld. Hy sê dit is ook nie ’n Afrikaanse of Xhosa-universiteit nie, maar ’n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit met ’n inklusiewe meertalige benadering.

Vanjaar het 37,7% van voorgraadse studente volgens De Villiers met registrasie Afrikaans as hul huistaal aangedui, van wie 49,2% gesê het hulle verkies onderrig in Engels. Diegene met Xhosa en ander amptelike landstale benewens Engels en Afrikaans as huistaal maak vanjaar 11,5% van die voorgraadse studentekorps uit.

Hierdie getalle weerspieël volgens De Villiers die diversiteit van die studente. Hy sê daar is steeds ’n beduidende vraag na onderrig in Afrikaans – 20% van alle voorgraadse studente het vanjaar dié voorkeur uitgespreek.

Die US se akademiese aanbod in die drie aanbiedingsvorme waarvoor die Taalbeleid voorsiening maak, het volgens De Villiers die afgelope vyf jaar min of meer dieselfde gebly. Hy sê die syfers vir 2020 het getoon dat 17,8% van klasse in parallelmedium plaasgevind het (afsonderlike Engelse en Afrikaanse strome), 63,2% in dubbelmedium (lesings in Engels, met ’n opsomming in Afrikaans), en 19% in enkelmedium (slegs Engelse of slegs Afrikaanse lesings).

Lees en kyk ook:

Persverklaring: Lewer inset op hersiene US-taalbeleid teen 12 April 2021 

Elders gesien: US-koshuis en slegs Engelse liedjies vir sêr

Afrikaans: US-protesaksie vanaf 9 April

Afrikaans: Rollende massa-aksie by US, 9 April

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

Persvrystelling: Ope brief aan die US-senaat

Departement Afrikaans en Nederlands in opstand oor Afrikaans by US

Persverklaring: Suid-Afrikaanse Akademie betreur taaldebakel op Stellenbosch

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

Kaaps is the future of Afrikaans

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

Uit die argief (2006): Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid

Uit die argief: Is Afrikaans uitheems?

US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?

’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk

Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK

Gesamentlike persverklaring deur die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch en senior onderwyskundiges

  • 3

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Welkom terug na 100 jaar, aan Victoria-kollege. Gelukkig het Afrikaans bestaan sonder Stellenbosch en Paarlberg.

  • Ek sukkel om die kloutjie by die oor te bring.
    As bykans 50 % van Afrikaanssprekende studente verkies om in Engels te studeer en 80% van alle voorgraadse studente (21 000) ook, waarom hierdie, sogenaamde, protesaksie?
    Dit gaan oor die behoefte van die studente en hul voorkeure en nie primêr oor 'n vorige generasie met hul eie historiese belewenis nie.
    Die statistieke wat Wim de Villiers aanhaal spreek boekdele.
    Die oorgrote meerderheid van studente wil eenvoudig in Engels studeer.
    Hoekom is dit só moeilik vir sommige om dit te verstaan?

  • Presies, Hans.
    Afrikaans is deel van 'n breë landskap en sluit in die afstammelinge van slawe, Indonesiërs, Java boorlinge, Khoi en ou Hollanders.
    Afrikaans, soos jy tereg sê, het nie 'n Stellenbosch of 'n Taalmonument nodig om haar voortbestaan te verseker nie.
    Dit sal bly voortleef ten spyte van die 'taalbulle' se geraas.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top