’n Griefskrif waarin geëis word dat Afrikaans steeds as volwaardige akademiese taal by die Universiteit Stellenbosch (US) aangewend word, is vandag (Vrydag 9 April) tydens ’n protesoptog aan die universiteit oorhandig.
Die griefskrif met sewe eise vir Afrikaans is tydens ’n optog onder die vaandel van die DAK Netwerk ook aan die deure van die universiteit se hoofgebou vasgeplak.
DAK sê in die griefskrif dit is met groot verontwaardiging dat die hulle van die tersydestelling van die 2016-Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch kennis geneem het.
“Nie net het dit ’n woede onder ons mense ontketen nie, maar het dit ook visioene van die verlede van ontmagtiging en vernedering teweeg gebring.”
Die griefskrif is saamgestel deur die voorsitter van DAK, Danie van Wyk, en die sekretaris, Willem Fransman Jr, namens die direksie van die DAK. DAK Netwerk beywer hulle vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.
Hulle sê in die griefskrif dit is hulle erns dat die Universiteit Stellenbosch hul besluit oor Afrikaans in heroorweging moet neem.
Die eerste van die sewe eise wat in die griefskrif genoem word, is erkenning van Afrikaans as inheemse taal. Die blote feit dat Afrikaans nie deur die Universiteit Stellenbosch as ’n inheemse taal erken word nie, is volgens die protesgangers ’n mistasting van die taal se geskiedenis. “Afrikaans is so eie aan Suid-Afrika soos fynbos en die kokerboom.”
Hulle eis ook dat Afrikaans as ’n volwaardige akademiese taal by US sal bly voortbestaan. “Dit het die afgelope 75 jaar ontwikkel as ’n hoogs wetenskapstaal wat ’n groot bydrae gelewer het tot die vestiging van die US as ’n wêreldbekende akademiese instelling.”
DAK sê in hulle griefskrif hulle wil dit onomwonde stel dat hulle ’n voorstaander is van meertaligheid. Hulle eis dat die US ’n daadwerklike poging aanwend om ’n bastion vir meertaligheid te word en ’n weerspieëling van die Wes-Kaapse taaldemografie te weergee.
DAK Netwerk eis verder dat Afrikaanssprekende studente die geleentheid gegun moet word om ten minste ’n eerste kwalifikasie in Afrikaans te behaal. Hulle sê dit is op sigself ’n poging tot selfopheffing van ’n persoon en sy gemeenskap.
Verder eis hulle ’n onvoorwaardelike verskoning van die US vir die vernedering wat nie-wit studente in die verlede ervaar het. “Daardie Afrikaanse studente was erg benadeel deur die toelatingsbeleid van die US. Eers was dit op grond van velkleur gedoen, maar die hersiene taalbeleid van die universiteit bring hul basiese menseregte weer in gedrang.”
Daar moet volgens DAK ook met groot omsigtigheid omgegaan word met studiegeld wat onder moeilike omstandighede verdien is. Hulle sê in hulle griefskrif dat baie van die studente namens wie hulle praat eerstegeslag-universiteitstudente is wat uit ’n Afrikaanse plattelandse agtergrond kom en wat hulself wil bemagtig. Taal moet hulle nie benadeel nie, maar ’n bemagtigingsinstrument wees.
In die laaste instansie eis hulle dat die kultuur van robuuste debatvoering weer sy regmatige plek op die US-kampus moet inneem. Hulle stel voor dat belangegroepe soos hulle, die Universiteit Stellenbosch se Institusionele Forum, die geloofsgemeenskap, die gemeenskap as ’n geheel en andere so gou doenlik byeengebring word om gesprekvoering te stimuleer.
DAK Netwerk sê hulle vertrou dat die Universiteit Stellenbosch hierdie stellinge ter harte sal neem. Indien nie, sal hulle die Universiteit Stellenbosch pla met ander aksies totdat daar aan hulle mense reg sal geskied, sê die opstellers van die griefskrif.
Lees ook op LitNet en Voertaal:
Persverklaring: Lewer inset op hersiene US-taalbeleid teen 12 April 2021
Persverklaring: Suid-Afrikaanse Akademie betreur taaldebakel op Stellenbosch
Departement Afrikaans en Nederlands in opstand oor Afrikaans by US
US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?
’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk
US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies
US-taaldebat 2021: Taal op Maties ‒ Vir moedertaalonderrig of vir volk en vaderland?
US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?
SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders
Uit die argief (2006): Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid