Ikabod vir Afrikaans aan US beteken Ikabod vir US

  • 3

Cerneels Lourens (foto verskaf)

Kommentaar op die konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US)

Die verdediging deur Wim de Villiers met sy motivering vir die taalbestel by die US in die onlangse Beeld-artikel noop my om ’n frase van DJ Opperman ter beskrywing daarvan te ontleen, naamlik ’n warrelwind op ’n ashoop.

My stygende verontwaardiging met hierdie skynheilige proses van konsultasie van ’n voldonge besluit laat my wens dat een van die woedende weerligstrale van Brits die konkelgroep onder die plataanboom vergaar. Die ongelooflike gefundeerde motiverings ter ondersteuning van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by die US het egter slegs akademiese, historiese en sosiolinguistiese waarde, aangesien die geteikende hoorders daarvan reeds lankal doof is. Dit help nie om dit te herhaal nie, want soos Mark Twain gesê het: “Never tell the truth to people who are not worthy of it.”

.........

Die US is ’n Engelse universiteit en die geleidelike uitfasering van Afrikaans oor die afgelope jare het nou sy laaste stuiptrekkings bereik.

..........

Die US is ’n Engelse universiteit en die geleidelike uitfasering van Afrikaans oor die afgelope jare het nou sy laaste stuiptrekkings bereik. Hoewel dit heerlik en eervol is om vir jou vaderland, overgesetsynde vir die US, te wil sterf, à la Horatius, is dit dalk nodig dat die bittereinders ’n “Vereeniging”-moment moet beleef. Die energie en middele wat tans aangewend word om Afrikaans as krummeltaal by die Engelse tafel op te tel, behoort eerder vir ’n nuwe Vrye Universiteit Stellenbosch aangewend te word.

Natuurlik sal dit ’n privaat universiteit moet wees wat kragtens subartikel 29(4) van die Grondwet subsidie kan vorder.

.........

Die onvoorsiene gevolg (of was dit dalk deel van die groter denkers se beplanning?) van die verengelsing van die US is naamlik dat dit nou afstand gedoen het van die reg om as onafhanklike universiteit binne die geografiese gebied in die Wes-Kaap te bestaan.

..........

Die onvoorsiene gevolg (of was dit dalk deel van die groter denkers se beplanning?) van die verengelsing van die US is naamlik dat dit nou afstand gedoen het van die reg om as onafhanklike universiteit binne die geografiese gebied in die Wes-Kaap te bestaan. Dit maak nie finansieel of rasioneel sin dat daar meer as een Engelse universiteit hoef te wees nie. Die klaarblyklike is dat die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van die Wes-Kaap en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie net kampusse van die Universiteit van Kaapstad as sambreelinstelling behoort te word. Dit gaan ’n geweldige besparing vir die staatskas beteken om van die onnodig swaar topstrukture ontslae te wees, en die gelde kan dan vir arm studente aangewend word.

Hierdie gedagte sal waarskynlik ’n groot bondgenoot hê in die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, wat deur wyle Marinus Wiechers in sy outobiografie, Hierdie plek, hierdie tyd, op bl 317 korrek beskryf is as ’n uitgesproke Afrikaans-hater met sy hande op die staat se beursie. Wiechers skryf verder op bl 17: “Blade Nzimande sal sorg dat Afrikaanse universiteite nog verder doodgesmoor word.” Wiechers stip die waarheid van die dag met betrekking tot Afrikaans soos volg op gemelde bladsy aan: “Vandag is die haat teen Afrikaans want dit sal te opsigtelik rassisties wees om wit studente die teiken te maak ...” Hierdie hatigheid is bewys met die publisering van die nuwe taalbeleid vir hoër onderwys toe Afrikaans as inheemse taal uitgeskryf is.

Die Grondwetskenders hoef geen vrees te hê dat hulle deur die Konstitusionele Hof gerepudieer sal word nie, want die hoogeerwaarde hoofregter en die meerderheid van sy span deel die Minister se sentimente. Ek voorspel dit gaan weer op 20 Mei 2021 na vore kom wanneer die Appèlhof se pro-Afrikaanse uitspraak in die Unisa-verhoor omvergewerp gaan word. Die geleenthede van so ’n Unisa-vakuum kan ook deur so ’n nuwe instelling gevul word om afstandsonderrig in Afrikaans aan te bied.

Die kniebuiging voor die hipernorm van die tyd, transformasie, het, soos staatsveiligheid vroeër, vernietigende gevolge te midde van ’n era van ongeorganiseerde politieke leierskaploosheid in die Afrikaanse gemeenskap vir Afrikaanse instellings. Daar is toegelaat dat ’n era binnegegaan word waar daar nie Afrikaanssprekende leerstoele in alle vakrigtings beklee gaan word om Afrikaans as wetenskaptaal te beoefen nie. Hierdie proses om Afrikaans uit openbare universiteite te verdryf is uiteindelik ’n tipe intellektuele onthoofding; soos in die Katyn-woud in 1940 met die Poolse intellektueles, is hierdie ’n hedendaagse intellektuele teregstelling van Afrikaanses.

.........

’n Groter Universiteit van Kaapstad met die verskillende kampusse, waaronder Stellenbosch, sal effektiewer dienste aan Xhosa bied en ruimte aan die Afrikaans-Nederlands-leerstoele ruimte kan gee.

.........

’n Groter Universiteit van Kaapstad met die verskillende kampusse, waaronder Stellenbosch, sal effektiewer dienste aan Xhosa bied en ruimte aan die Afrikaans-Nederlands-leerstoele ruimte kan gee. Sodoende sou daar ontslae geraak word van die bestaande verstikkende denneboom en binne ’n vernuwende omgewing sal die kanniedood, Afrikaans, sonder die bagasie van apartheid kan vernuwe. Afrikaanshartige alumni kan verder in die oorgangsproses as belangegroep optree terwyl hulle hul groot energie in die ontwikkeling van ’n nuwe privaat universiteit belê.

Die oorwinning van die Wim-kliek oor Gelyke Kanse in die Konstitusionele Hof met die bedenklike kontak met die uitspraakgewende regter, Edwin Cameron, voor aanhoor en uitspraak, het waarskynlik nie aan hierdie gevolg aandag gegee nie. So ’n mega-universiteit kan professor Wim se ideale om ’n uitstaande universiteit van uitnemende internasionale gehalte daar te stel verwesenlik. Miskien is Jonathan Jansen ’n aangewese kandidaat as visekanselier vir so ’n “Kaap van Goeie Hoop-universiteit” en Thuli Mandonsela as kanselier daarvan.

Dit is dus ikabod vir Afrikaans by die US en dit is ikabod vir die US as onafhanklike instelling, al glo u my nie nou nie.

........

Dit is dus ikabod vir Afrikaans by die US en dit is ikabod vir die US as onafhanklike instelling, al glo u my nie nou nie.

.........

Ek stel voor dat daar ’n formele plegtigheid, ’n simboliese “begrafnis”, ná die COVID-19-grendeltyd gereël word om sentimenteel afskeid te neem van die US as Afrikaanse instelling. Daar kan byvoorbeeld voorlesings uit die ryk letterstryd van die afgelope jare gehou word.

Daar sal nie oor uitsluiting weens taal gekla kan word nie, want die Gelyke Kanse-saak is mos vir meer as ’n jaar vertraag toe waarnemende adjunkhoofregter Cameron so ’n week voor die eerste verhoordatum die regsverteenwoordigers ingelig het dat sy blitslesende kollegas nie net die kerndokumente nie maar die volle rekord in Engels vertaal wil hê – by nabaat wat ‘n skat! (Hierdie uitstel was eers nie opsetlik om die 2016-taalbeleid te laat vestig nie.)

As ’n verdere wenk vir so ’n simboliese begrafnis stel ek voor dat die volgende aanhaling uit Nelson Mandela se aanvaardingstoespraak van die eredoktorsgraad op 25 Oktober 1996 in die begrafnisbrief gedruk word. (Om koste te bespaar kan die begrafnisbrief op die agterkant van die taalartikel in die Grondwet gedruk word.)

The real issue therefore is not the extermination or preservation of Afrikaans as an academic medium.

Rather, the question is this: Amongst ourselves, how are we to negotiate a dispensation for the South African university system that meets the following three criteria? Firstly, that a milieu should be created and maintained for Afrikaans to continue growing as a language of scholarship and science. At the same time, that non-speakers of Afrikaans should not be unjustly deprived of access within the system. And moreover, that the use and development of no single language medium should – either intentionally or unintentionally – be made the basis for the furtherance of racial, ethnic or narrowly cultural separation.

Let me put it to you simply and bluntly: within a system comprising more than twenty universities, surely it must be possible to reach an accommodation to the effect that there will be at least one university whose main tasks will include that of seeing to the sustained development of Afrikaans as an academic medium.

How that institution is to accommodate languages other than Afrikaans is one of the details that can be settled through a process of negotiation. If we could manage to resolve the major political conflicts through negotiation, then surely the country's men and women of learning need not view a matter of this nature as posing some insuperable obstacle.
(http://www.mandela.gov.za/mandela_speeches/1996/961025_stellenbosch.htm).

Sy teleurstelling met die verstikkende denneboom waaronder Afrikaans nie kan gedy nie, sou waarskynlik prontuit gestel gewees het.

Miskien kan ek aan die hand doen dat ’n spesiale taak aan professor Wim toegeken word, naamlik om as bestuurder van die simboliese lykswa op te tree. Ek dink nie hy sou hoflik gelas moet word nie, maar sou vrywilliglik instem.

Sodra hy na sy krematorium vertrek het, kan die Afrikaanse feniks vrygelaat word. Die kollekte kan dan ingesamel word en ’n komitee aangewys word om die Afrikaanse Biblioteek van die US ’n alexandrynse ramp te spaar en ook om die skenkingsaktes na te gaan.

Ten einde: Die taaltornado teen Afrikaans op die gebied van hoër onderwys, wat ’n uitwerking op ouers se keuse vir hulle kinders se skooltale het, behoef ’n grootse kongres van belanghebbendes om ’n Afrikaanse senaat wat alle invloedrykes insluit, daar te stel om kollektief vir Afrikaanse belange, miskien as rugsteun vir die Afrikaanse Taalraad, op te tree. Dit kan skaars hulpbronne konsentreer.

Ek hoop iemand is besig om Blade Nzimande se gure taalbeleid van 30 Oktober 2020 voor 29 April 2021 op hersiening te neem.

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

Persverklaring: Uitnodiging om kommentaar te lewer op eerste konsep van hersiene Taalbeleid (2016)

SU language debate 2021: Inside the anxious world of the taalstryders

US-taaldebat 2021: Stellenbosch se taalbeleid lankal onsmaaklik en toksies

US-taaldebat 2021: Skande op Maties – rooi ligte in die US se taalbeleid

US-taaldebat 2021: Is die Universiteit Stellenbosch besig om Afrikaanse studente te ont-taal?

US-taaldebat 2021: Toe, wanneer word jy baas oor ’n ander se mond?

  • 3

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Cerneels Lourens is waarskynlik in die kol wanneer hy sê dat daar nie 'n toekoms vir Afrikaans is onder mense soos Wim de Villiers en sy kollegas nie. Met hierdie bydrae word 'n saadjie gesaai wat hopelik oor tyd daartoe kan lei dat die eerste sooi van 'n Vrye Afrikaanse Universiteit in die Wes-Kaap gespit word.

    Dit sal egter van ons, die Afrikaanses self, afhang of so 'n stap 'n realiteit sal kan word. Sonder die wíl en nodige toewyding kan so 'n ideaal nie verwesenlik word nie. Akademia en SolTech in Pretoria het wel bewys dis moontlik en die resultate is verstommend.

    Ons kan doodeenvoudig nie meer ons toekoms in die hande van 'n vyandige ANC-regering oorlaat nie. Hulle dra geen, absoluut geen belange van ons op die hart nie. Inteendeel ... Ons sal daarom ons eie toekoms in hierdie verband moet skep. Dit geld vir onderwys, veiligheid en talle ander terreine. Die groot plus is dat ons die kundigheid, kennis en vermoë het om ons ding te doen. Deur onsself te handhaaf kan en sal ander ook daarby baat vind aangesien ons onlosmaaklik deel is van die suidelike punt van hierdie kontinent. Dalk is dit tyd vir 'n massiewe Afrikaanse Indaba om oor 'n toekoms na Covid te besin. Daar's ook 'n verantwoordelikheid op die manne met die diep sakke wat op ekonomiese terrein hulle merk gemaak het. Afrikaanse besighede, organisasies en instellings is fondse ontsê tydens Covid. 'n Bewys dat ons toekoms voortaan in ons eie hande sal wees. Bestaande burgerlike organisasies het reeds groot vordering gemaak en hierop kan en moet gebou word.

  • Stop die vernietiging van Afrikaans! Afrikaans het net soveel bestaansreg as enige ander taal in S. A. Ek is 'n alumnis van U. S.

  • Hans Richardt

    Ek wil geen alumni wees van enige vorige Afrikaanse universiteit in SA nie. Ek het my bydraes na Soltech en Akademia gekanaliseer. Ek sal nooit 'n geforseerde etniese amalgamasie-beleid ondersteun met my nederige geldelike bydrae nie. Al brand die US af, sal Afrikaans bly voortbestaan in suidelike Afrika. Dis lekker om in Afrikaans te skinder deesdae in publiek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top