“Dala Afrikaans!” – die geboorte van ’n nuwe taalbeweging

  • 3

Frederik van Dyk

Die strate van Stellenbosch het op 9 April 2021 met ’n groep heldhaftige en besorgde voorstanders van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch te kampe gehad. Wat is hier gebore, wat het hier ontstaan? Die beweging wat hier groei, verstaan goed dat die sprekers van Afrikaans moet aandring op insluiting by staatshulpbronne soos openbare universiteite. En oor uitsluiting sal hulle hul vuiste in opstandigheid lig.

.........

Die lewenskragtige en volhoubare voortbestaan van Afrikaans, ’n taal wat op talle wyses gepraat en geskryf word en met talle herkomste spog, is nie net afhanklik van haar sprekersgemeenskap nie. Inderwaarheid kan geen taal vir haar groei en voortbestaan net op haar sprekers staatmaak nie.

...........

Die lewenskragtige en volhoubare voortbestaan van Afrikaans, ’n taal wat op talle wyses gepraat en geskryf word en met talle herkomste spog, is nie net afhanklik van haar sprekersgemeenskap nie. Inderwaarheid kan geen taal vir haar groei en voortbestaan net op haar sprekers staatmaak nie. Taal is, soos feitlik enige ander sosiokulturele eienskap van die mensdom, ook sensitief vir magsuitoefening. En sosiale kragte soos toegang tot hulpbronne, relatiewe rykdom, bevoordeling en benadeling is alles bepalend van die magspel tussen tale.

Agtergrond: Mag en die geskiedenis

Om magsuitoefening in ons samelewing te temper in die nadraai van apartheid het ons op ’n Grondwet ooreengekom wat nie slegs waardes soos menswaardigheid, vryheid en gelykheid vooropstel nie, maar op ’n sentrale beginsel berus: nie-oorheersing.

.........

Soos Nelson Mandela dit destyds by die Rivonia-verhoor opgesom het, is die strewe hier ter sprake die beëindiging van bedelings waarin sommige hulself aanmatig om ander te oorheers, hetsy deur geweld, uitbuiting, slawerny, kulturele meerderwaardigheid of rassediskriminasie.

...........

Soos Nelson Mandela dit destyds by die Rivonia-verhoor opgesom het, is die strewe hier ter sprake die beëindiging van bedelings waarin sommige hulself aanmatig om ander te oorheers, hetsy deur geweld, uitbuiting, slawerny, kulturele meerderwaardigheid of rassediskriminasie. Daaruit vloei ’n verdere kwalifikasie op mag, naamlik dat mag nie arbitrêr uitgeoefen mag word nie, maar slegs indien dit binne die oppergesag van die reg geregverdig is.

Ons wil dus wegbreek, nie net van die apartheidsnalatenskap nie, maar van ’n ganse geskiedenis en samelewingstrategie wat op verowering en uitbuiting gebaseer is. Hierdie geskiedenis kry in Suid-Afrika dikwels ’n blote “wittes en swartes”-rasverklaring. Die geskiedenis van hierdie landstreek, lank voor daar sprake van ’n Suid-Afrika was, is een van verowering en ondemokratiese magsuitoefening tussen en binne-in talle verskillende groepe, volgens ras-, etniese, klas- of politieke lyne. Dikwels was daar ook vrede en voorspoed onder omstandighede wat ons vandag telkens as onaanvaarbaar en moreel verkeerd beskou. Ons plig om beginselvaste standpunte oor verskynsels van die verlede in te neem is noodsaaklik, selfs al was ’n verskynsel in haar historiese konteks moreel geregverdig. Sonder om strepe in die sand te trek, soos die Universele Verklaring van Menseregte of die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996, dobber ons in die waters van morele relativisme, wat geen gawe samelewingstrategie is nie. Terselfdertyd kan ons praktyke uit die verlede prys en die voordele daarvan probeer uitbou, mits dit gemeet en gepas is aan die waardes wat ’n toekoms vry van oorheersingsdrang daarstel. Dit is ’n fassinerende geskiedenis wat ons geërf het. Dit behoort vrylik bestudeerbaar te wees, en Suid-Afrikaners behoort altyd vry te wees om te besin, te stry en te vier aan geskiedkundige nalatenskappe.

Ons geskiedenis laat ons inderwaarheid nie toe om te oorvereenvoudig en absolute skurke en ewige weldoeners te identifiseer nie. Waaroor ons wel vanuit ’n histories-politieke oogpunt kan saamstem, is dat inklusiewe politieke en kultuurinstellings daarop gebaseer is dat mag regverdigbaar uitgeoefen word, sonder ’n drang na oorheersing of meerderwaardigheid deur sommige teenoor ander.

9 April: ’n NEE aan oorheersing deur Engels

........

Die optrede op 9 April was die derde keer in die geskiedenis van Afrikaans dat mense gemobiliseer het om die taal se welstand en volhoubaarheid te beskerm.

..........

Die optrede op 9 April was die derde keer in die geskiedenis van Afrikaans dat mense gemobiliseer het om die taal se welstand en volhoubaarheid te beskerm. Plakkate is deur betogers rondgeswaai met slagspreuke wat die rektor se roekeloosheid jeens Afrikaans veroordeel. Daar is geëis dat die taal, as vergestalting van sy sprekers deur die eeue, as inheems aanvaar word, omdat beleidsdokumente van die Departement van Hoër Onderwys en hul gewillige handlangers aan die Universiteit Stellenbosch Afrikaans by hul werkbegrip van “inheemse taal” uitgesluit het.

Die groep van hoofsaaklik bruin Afrikaanssprekendes het grootse leierskap en waardigheid getoon. Lede van die Khoi- en San- etniese groepe, vir wie Afrikaans ook ’n kleinood is, is deur die Doman Autshomao Krotoa (DAK) Netwerk van aktiviste en talle ander gevolg in ’n vreedsame betoging teen die universiteit se verwaarlosing van Afrikaans. Hierdie toedrag van sake is aangevuur deur die US se taalbeleid, wat deur ’n magdom vae bepalings en ontsnappingsklousules die Afrikaanse aanbod in ’n tydelike passasier verander het.

.........

Dit was die eerste keer dat Afrikaanssprekers vanuit talle verskillende politieke, etnies-kulturele en rasseagtergronde om ’n gedeelde belang betoog het: die volhoubare voortsetting van Afrikaans aan ’n instelling wat veronderstel is om sy gemeenskap te dien.

.........

Dit was die eerste keer dat Afrikaanssprekers vanuit talle verskillende politieke, etnies-kulturele en rasseagtergronde om ’n gedeelde belang betoog het: die volhoubare voortsetting van Afrikaans aan ’n instelling wat veronderstel is om sy gemeenskap te dien. Die rooi en ougoud van die kenteken dui juis op die opstand en woede jeens onreg wat trek op Maties se maroen en  ougoud. Rooi, want iets is ontsteek en seer in Stellenbosch.

Die instelling kan slegs sy gemeenskap dien indien die universiteit, soos een plakkaat gelui het, ophou om Afrikaans as minderwaardige “weggooitaal” te behandel. Iets wat soos ’n sterwende dog afgeleefde ou hond hanteer word; wat die bietjie sterwensversorging kry voor dit finaal uitgesit word en ’n rol in die akademie verloor. ’n Rol wat noodsaaklik is vir die waardigheid en sofistikasie van die Afrikaanse taal as ekosisteem en somtotaal van interafhanklike dele.

Die Beweging 9 April is in opstand teen onregverdige en onregverdigbare oorheersing deur Engels aan die US wat deel is van ’n wyer tendens van verengelsing. Verengelsing is weer geskoei op ’n meerderwaardigheidsin en oorheersingsdrang wat al sedert die Britse Ryk met ons is. Vandag het daardie heerssug in die behoeftes van Westerse-kapitaalmagte omgeskakel, en universiteite speel met daardie spel saam.

Waarom anders sit ons almal met die valse konvensionele kennis dat slegs Engels vir jou loopbaansukses sal vervolmaak? Want te veel openbare instellings lei studente vir die Anglo-Westerse buiteland op, pleks van vir die behoeftes van ons plaaslike gemeenskappe. Engelsheid moet ’n billike en volhoubare mate van plek aan Afrikaans en ander inheemse tale opgee.

Net soos met arbeidswetgewing en omgewingsbewaringsreëls sal die impak van globaliserende kapitalisme op taalwaardigheid met weerstand aangespreek moet word.

En hiervoor is die Beweging 9 April uitgeknip en gereed.

Voorwaarts, en dala Afrikaans!

Lees ook:

’n Taalbom bars al weer in Stellenbosch

Onverskilligheid of malligheid? Ons hoef nie een sektor van die gemeenskap te ontmagtig om die ander te bemagtig nie.

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Die taalkwessie aan die Universiteit Stellenbosch

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

US-taaldebat 2021: US-koor sing nog in Afrikaans

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

Griefskrif met sewe eise vir Afrikaans aan US oorhandig

US-taaldebat 2021: Denken ist heute überhaupt nicht mehr Mode (denke is vandag hoegenaamd nie meer mode nie)

  • 3

Kommentaar

  • Danie van Wyk

    Baie goed verwoord, Frederik. Alle Afrikaanse stemme is nou nodig om die afskaling van ons taal teë te staan. Ons moet Afrikaans eien en moedertaalonderrig opnuut aanmoedig en vestig. “Dala Afrikaans”!

  • Johann Basson

    Puik artikel. Dankie.

    Wat het Suid-Afrikaners geleer uit die foute van die Anglo-Sakse se kolonialiseringbeleid gebaseer op “white suremacy”? Verowering gevolg deur oorheersing en uitbuiting en die aantasting van minderheidsgroepe se menswaardigheid? En wat doen Suid-Afrikaners om nie die foute van die verlede te herhaal nie?

  • Gerrit Boonstra

    Uiteindelik word die debat oor Afrikaans nie net meer gevoer deur persone wat moontlik blootgestel is aan die beskuldiging van "taalbulle", of "eiebelang" of "terugverlang na die ou bedeling" ens. nie, Nou het mense en organisasies soos DAK toegetree in die protes van onreg: die mense op grondvlak wat duidelik en bewysbaar ly onder die verengelsing. Ek is wit, en het die voorreg gehad om in Afrikaans aan US te studeer in die sestigerjare, maar is diep beswaard dat dieselfde voorregte my bruin broersen susters nou ontneem word in 'n era waar hulle eintlik aan die dekades-lange diskriminasie moes ontsnap. Nou is die wit net met swart vervang, Afrikaans net met Engels, en hulle sit steeds droëbek en ontmagtig. En die ironie is dat die mense wat hulle ontneem, weereens my wit broers en susters is. Ek skaam my daarvoor, en sal dit nooit aanvaar dat alle studente se gelyke kanse en geleenthede ontsê word om hulle potensiaal te ontwikkel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top