US-taaldebat 2021: Denken ist heute überhaupt nicht mehr Mode (denke is vandag hoegenaamd nie meer mode nie)

  • 5

Ronée Robinson (foto: verskaf)

Denken ist heute überhaupt nicht mehr Mode, Anna Haag1

Op Donderdag 1 April 2021 het ek die wonderlike nuus ontvang dat die jong meisie van Afrika-herkoms (ek sal na haar as X verwys) wat weens my toedoen in Afrikaans skoolgaan, tot prefek van haar laerskool verkies is. Die velprofiel van leerlinge in haar skool is bruin en wit, sy is swart. Mens het geen moeite om haar op die foto’s van haar eerste skoolkonsert, vele jare tevore, uit te ken nie. Van meet af aan is sy omarm en omhels deur die Afrikaanse gemeenskap en nou kyk ek na die foto’s waar sy trots in haar skoolklere met haar prefekwapen en prefek-erekode staan. Die prefekte word skynbaar deur ’n mate van demokratiese proses gekies en sy is een van 11 in die hele graad. Haar ouer suster, wat die nabye Engelstalige laerskool bygewoon het, het nie hierdie uitsonderlike Afrikanerwarmte en insluiting in die gemeenskap beleef nie. Beide kinders praat, benewens hulle eie taal, Afrikaans en Engels en leer nou (weer met my aanmoediging) Frans.

..........

Die afgelope jaar of wat het ek, weens die virus, veel meer per motor deur die land as voorheen gereis. Ek was en bly telkens verbaas oor hoe teenwoordig Afrikaans is.

............

Die afgelope jaar of wat het ek, weens die virus, veel meer per motor deur die land as voorheen gereis. Ek was en bly telkens verbaas oor hoe teenwoordig Afrikaans is. Mens praat Afrikaans (en word spontaan so aangespreek) letterlik tot net voor Johannesburg. Jansen se fantasie dat hierdie ’n wit ding is, is dus presies dit – ’n fantasie. Dit maak my hart bly as ’n jong man met ’n bruin vel my spontaan met ’n “Middag Tannie” begroet en ek dan met groter genot na sy bry kan luister. Ek knoop sommer ’n geselsie aan vir die genot van die Afrikaans wat mens so deur die land hoor, met haar vele aksente en veelvuldige karakter.

Op dieselfde dag dat ek so diep geraak is en so diep dankbaar is dat ek hierdie mooi kind na die Afrikaanse skool gestuur het, dat die skool so goed was vir haar, dat haar familie haar so onderskraag het, dat sy haarself so bewys het en so woeker met haar talente, maak ek die fout om die LitNet-webwerf te raadpleeg. Daar kom ek Jonathan Jansen teë, iets wat mens deesdae eerder moet vermy. Maar ek kon myself nie keer nie; ek het sy stuk gelees en, moet ek bieg, hewig ontsteld geraak, heeltemal té ontsteld en té ontwrig. Maar taal is ’n emotiewe ding. Jansen weet dit self. Hy het onbeskaamd histeries geraak toe ’n winkelassistent hom, met die grootste respek en juis weens daardie respek, op Afrikaans gegroet het. Ondanks die ontsteltenis wat sy reaksie, as prominente figuur, haar moes aangedoen het, ondanks die feit dat sy dadelik na Engels oorgeslaan het, het hy dit goedgedink om ’n woedende openbare tirade op haar af te vuur waarop sy nie sou kon reageer nie, soos hy goed geweet het. Die teater was syne en hy het dit uitgebuit soos sy emosies hom gedryf het. Hy het dit nie goedgedink om te meld dat sy dadelik tot Engels oorgeslaan het nie. Tot vandag toe het hy geen verskoning vir sy optrede aangebied nie, ondanks die boefagtigheid van sy optrede. 

............

Lees ook:

Jonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer

Jonathan Jansen "flip" toe vrou hom in Afrikaans aanspreek

...........

Mens begin al meer vermoed dat dit boeliegedrag was. Dalk is dit waarom hy so aanklank by eentalige imperialisme vind.

Verstommend, gesien sy DJ Coffee-debakel en sy nuutgevonde posisie as Engelse taalstryder, beskryf Jansen die verbod op die gebruik van Afrikaans by US-koshuise as ’n bakatelletjie. Dit is belaglik om eers daarvan kennis te neem. Diegene wat daarop reageer, is geharde “taalstryders”, verregse konserwatiewe wit mense met ’n hunkering na mag. In ieder geval is dit nie duidelik dat so ’n opdrag gegee is nie ... En so donder hy voort sonder ’n sweempie van ironie.

Werklik? Waarom het die universiteit hierdie situasie toegelaat? Wat is aan die gang in koshuise dat enigeen in ’n posisie van mag dit goeddink om so op te tree? Waarom is Jansen so neerbuigend teenoor die ontsteltenis van die studente en hul ouers? Wat sou gebeur het as die ouers geweier het om gehoor te gee aan die opdragte – sou daar weer ’n raskwessie ontstaan soos dié waarin “DJ Coffee” hom verlustig het? Waarom is die nuwelinge op so ’n vyandige wyse ontmoet? Waarom wag Jansen nie tot die vele ondersoeke wat van stapel gestuur is, afgehandel is nie? Waarom ignoreer hy die berigte dat die beweringe onderskraag word deur eedsverklarings, deur die identifisering van plek en tyd en deur die reaksie van die US self? Beweer hy dat die studente en hulle families meineed gepleeg het? Indien wel, op watter gronde? Waarom meld hy nie die amptelike reaksie van die US nie, naamlik dat die taalbeleid kwansuis verkeerd toegepas is – dus, dit het gebeur, dit is onaanvaarbaar, en nou probeer die US die beste spin daarop sit.

Opmerklik is Jansen is geensins ontsteld oor die gebeure nie; hy uiter nie ’n woord van kritiek daarteen nie. Hy skyn besorg te wees oor die “lek” van die inligting en sinspeel daarop dat daar iets sinister daaraan toe te skryf is. Sy doel is om diegene wat ontsteld voel oor die gebeure, bespotlik te maak; as onaanvaarbaar te brandmerk. Hy neem dit op hom om te besluit wie en wat ons is ten spyte van sy kennelike onkunde van daardie feite.

Jansen toon geen empatie met eerstejaars en hulle gesinne wat die trauma moes verduur dat iemand hulle vertel dat hulle nie met mekaar op hulle huistaal mag kommunikeer nie. Dat sy reaksie nie geloofbaar is in omstandighede waar hy histeries geraak het omdat hy (in Stellenbosch!) ’n sin op Afrikaans moes verduur nie, ontgaan hom duidelik.

Jansen beroep hom op die gebruik van Engelssprekende kolonialiste wat, as wapen in die imperialistiese stryd, graag die ander etiketteer. Sekere faksies in Suid-Afrika was en bly byvoorbeeld maar net té bereid om die vernietigende gebruik van Engels-geïnspireerde staatskaping voort te sit met die gebruik van die frase “white monopoly capital”, opgedis deur ’n klomp Engelse wat weer eens gretig was om te doen wat nodig was in ruil vir obsene bedrae geld. Dat dit ’n land tot sy knieë kon gebring het, was nie iets waarmee die spul by Bell Pottinger hulself sou besorg nie. Die frase het geen inhoud gehad nie, maar was bedoel om as ’n magtige wapen in diens van vele agendas te wees.2

..........

Nou het ons ’n woord wat Jansen aan ons opdis: “taalstryder”. Wat presies dit beteken, is nie duidelik nie. Wat duidelik is, is dat Jansen dit as skelwoord aanwend, as instrument van belediging en uitsluiting.

............

Nou het ons ’n woord wat Jansen aan ons opdis: “taalstryder”. Wat presies dit beteken, is nie duidelik nie. Wat duidelik is, is dat Jansen dit as skelwoord aanwend, as instrument van belediging en uitsluiting. Enigeen wat ontsteld voel oor die uitsluiting van studente weens hul taal, is “taalstryders”, ongewens, skandelik, moet verdwyn, is belaglik en hoort eintlik glad nêrens nie, sekerlik nie by die universiteit nie. Sodoende veroordeel hy ook sommer van meet af aan die studente en hul ouers wat klagte gelê het. Geen poging wend Jansen aan om aan te hoor, te vertroos, te verseker of te verstaan nie. Wat almal moet wees, is eentalig, onderdanig aan die voortsetting van die imperialistiese projek wat hy voorstaan. Die einste man wat so gretig is om my en elke ander Afrikaansspreker te etiketteer as magsbehep, heg groot waarde aan mag en onderdanigheid en sy “heersende” narratief. Dalk is dit waarom hy eentaligheid so onderskraag. Mense is meer geneig tot skaapagtige gehoorsaamheid as hulle in die kraal van een taal saamgehok kan word.

Kennelik meld Jansen nie ’n woord oor die verskynsel van wit eentaligheid nie; die verskynsel van wit mense wat jou, byvoorbeeld in Stellenbosch, bedien maar weier om ’n woord Afrikaans te spreek, ten spyte daarvan dat hulle in die Kaap grootgeword het en vir 12 jaar Afrikaans studeer het. Is die mense bloot domonnosel of is iets anders aan die gang? Een ding is seker – hulle heg geen waarde aan meertaligheid nie. En waarom Jansen se stilte, hy wat só te kere gaan oor sy reg om op sy huistaal bedien te word? Sy pretensie dat meertaligheid by die US gebou word, is presies dit – ’n pretensie. Die oomblik dat Engels die heersende taal word, loop meertaligheid by die agterdeur uit. Die Engelse is in wese nie meertalig nie, wil dit nie wees nie, en gaan dit nooit wees nie. Geen wonder dat hy nou voorgee dat hy eintlik nie Afrikaans besig nie. Ek het self reg teenoor die man gesit en waargeneem dat hy perfek Afrikaans besig. Hy het ook geen sulke beperkings in homself opgemerk terwyl hy gereeld in die Afrikaanse pers geskryf het nie. Maar dan is dit “cool” om agter jou eentalige imperialisme te skuil en so almal te dwing om die taal van jou keuse te praat.  

........

Taal maak saak, om vele redes. Een van die sterkste oorwegings ten gunste van meertaligheid is die geleentheid wat dit tot verbreding van denke en uitkyk bied.

..........

Taal maak saak, om vele redes. Een van die sterkste oorwegings ten gunste van meertaligheid is die geleentheid wat dit tot verbreding van denke en uitkyk bied. Die Indiese skrywer Shashi Tharoor, waarsku oor kolonialisme van die “mind”. In my ervaring is dit omtrent onvermydelik by Engelse eentaliges. As mens eers in Engels vasgeval is, is die gevaar groot dat jy nie die vermoë het om te begryp dat die lewe heel anders daarbuite uitsien nie. Dit is nie verbasend nie dat, soos Tharoor uitwys, die Engelse nie ’n konsep het van hulle eie geskiedenis nie en dat hulle nie in staat is tot die ekwivalent van Willy Brandt se Kniefall nie. In my ervaring lyk die wêreld heel anders op Afrikaans, Frans, Duits, Nederlands as op Engels. Diegene wat alleen Engelse literatuur lees, loop veel mis van wat in die wêreld aangaan. Skrywers soos Kishore Mahbubani3 waarsku gereeld oor die gevare van hierdie eensydige Engelstalige uitkyk op die wêreld en die hubris wat dit meebring. Diegene wat hulle kinders tot eentaligheid verdoem om hulle kwansuis beter vir die toekoms voor te berei, mag juis ’n wêreldburger skep wat swak toegerus is om die nuwe wêreld, bevry van totale Engelse dominansie, tegemoet te gaan. Wie is beter voorberei op die toekoms – X, met haar mooi Afrikaans, haar perfekte Engels, haar huistaal, Frans en binnekort hopelik ook Duits, of die tipiese produk van ’n Engelstalige skool wat grootword met alleen Engels en die uitgediende leuen dat daar geen lewe daarbuite is nie? Die harde feit is dat dit wat die Engelse skole voortbring, alleen Engels eentalig met ’n imperialistiese houdinkie is wat weier om iets anders as Engels te besig, selfs al is daardie produk omring van Afrikaanssprekendes.

My oproep is juis vir meer meertaligheid. Ek is ook nou betrokke by ’n Tswanasprekende gesin wat weens die gebrek aan goeie skole in die townships gedwing is om hulle kinders na skole te stuur wat Engels en Afrikaans aanbied, maar geen Afrikatale nie. Tot my skok vra etlike van my swart kollegas toenemend vir my om hulpbronne in Afrikaans – hulle kinders is in dieselfde bootjie. Ek wil my nie die disoriëntasie van ’n klein Tswana-dogtertjie indink wat skool met ’n Babelse verwarring moet assosieer nie. In plaas daarvan dat sy erken, omarm en bevestig voel, ondervind sy vreemdheid en verwarring op tale waarvan sy geen woord uitmaak nie. (Die omstandighede van X was van so ’n aard dat sy geen kans op moedertaalonderrig gehad het nie.) Jansen se fanatiese aandrang op Engelse imperialisme neem die hart uit Suid-Afrika en laat elkeen aan die ontvangkant daarvan voel asof daar nie eintlik ’n plek vir ons hier is nie. Dis waaroor dit gaan, Jansen, nie oor mag nie.

RM Robinson, 5 April 2021

Eindnotas

1 Denken ist heute überhaupt nicht mehr Mode: Tagebuch 1940–1945. 2021. Reclam. Anna Haag.

2 Vir diegene wat meer wil weet oor hoe presies die Britte Indië leeggestroop het, beveel ek aan Churchill’s Secret War deur Madhusree Mukerjee, asook Shashi Tharoor se Inglorious Empire. Kyk hier hoe Tharoor die Engelse vasvat: https://youtu.be/f7CW7S0zxv4.

3 Has the West lost it?

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

Kaaps is the future of Afrikaans

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: US-koor sing nog in Afrikaans

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

Strate toe vir Afrikaans by US: 9 April

  • 5

Kommentaar

  • Etienne Viviers

    Om ʼn misverstand te vermy begin ek deur te skryf dat ek Afrikaans se voortbestaan op alle terreine van die samelewing (universiteite, skole, kerke, in die howe ens.) ondersteun. Maar ʼn problematiese skrywe soos Robinson sʼn gaan dit nie in ons huidige politieke klimaat vermag nie. Ek lewer dus die volgende hopelik opbouende kommentaar:

    Ja, daar is ʼn “colonisation of the mind” wat in Engels kan plaasvind, en meertaligheid is ʼn waardevolle strategie daarteen. Maar “colonisation of the mind” is mos iets wat plaasvind met enige taal wat aangeleer word – kyk bv. na die moeilike geskiedenisse van Duits en Frans, die twee koloniale tale wat X nou aanleer. Dit is ook heeltemal moontlik om alleenlik in Engels te dekoloniseer (dit word tans regoor die wêreld gedoen), net soos wat dit moontlik moet wees om alleenlik in Afrikaans teen ’n apartheidsblik te dink, praat en skryf. So ʼn verset het te doen met die intensies van ʼn individu se gedagtewêreld, nie met die skaapagtige groepsdenke van ʼn spesifieke taalgroep nie.

    As meertalige Afrikaanssprekende wat afkomstig is vanuit ʼn meertalige Engelssprekende familie, en ʼn veel breër meertalige Engelssprekende gemeenskap, vind ek Robinson se skrywe kortsigtig wat die stereotipering van “Engelssprekendes” betref – Suid-Afrikaanse Engelssprekendes wat op vreemde denkwyse outomaties geassosieer word met staatskaping, Bell Pottinger en “die Engelse” in Engeland. Die gedagte dat Suid-Afrikaanse Engelssprekendes hulle oorgee aan ʼn destruktiewe Engelse imperialistiese projek is verregaande. Nie almal wat Engels praat in Suid-Afrika sit nou op ʼn ashoop omdat Prins Philip onlangs oorlede is nie. En daar is ook Afrikaanssprekendes wat tans sy dood betreur.

    Hierdie is nie produktiewe dialoog wat Engelssprekendes so sleg sê dat hulle (outomatiese plekhouers vir die Engelse in Engeland) as groep kwansuis geen konsep van hulle eie geskiedenis het nie. Dit is ook ʼn growwe stereotipering van Engelssprekendes regdeur die wêreld – en selfs ook die Engelse in Engeland – wat daarop aandring dat hulle as vermeende “eentaliges” nie “genuflection” of “Kniefall” verstaan nie. Laastens is dit ook nie “Afrikanerwarmte” wat vra of iemand wat Afrikaans praat, maar eerder Engels wil besig, bloot domonnosel is nie. Die ironie is dat Afrikaanssprekendes wat Engels praat juis (anders as wat Robinson skryf) meertaligheid ʼn kans gee. Daar is geen verpligting om Afrikaans, Engels of enige ander taal wat mens magtig is te móét praat nie. In ʼn meertalige gemeenskap is dit ʼn vrye keuse, ofskoon ʼn keuse van gaan-ons-mekaar-verstaan? wat wedersyds gemaak mag word.

  • Ronée Robinson

    Beste Etienne, dankie vir jou bydrae. Ek merk vele denkfoute daarin. Byvoorbeeld, ek merk jy spreek nie die verskynsel van eentalige Engelsheid in Stellenbosch aan nie. Sou ek, byvoorbeeld, waag om in die Engelse Orania (agter die vis en tjips-gordyn - soos mens in bv Claremont vind) Afrikaans met 'n eentalige te spreek, sou ek daar uitgewerk word met al die mag van impera (dit het ek inderdaad self beleef tot die mate dat ek daardie area onleefbaar vind). Hoe jy jou weg van Afrikanerwarmte na eentalige onnoselheid vind, begryp ek hoegenaamd nie, maar dalk is jy verstom om te sien dat daar vele meer werklikhede in Afrikaans is as die een waaraan die eentalige vasklou? Hoe jy eentaligheid in Stellenbosch regverdig is nie duidelik nie. Dit skok jou duidelik dat mense krities oor die eentaliges is. Daardie kritiek is nie my eie woorde nie. Ek haal aan, voorlopig uit maar net een van die vele bronne tot my beskikking, met die hoop dat jy jou denke sal uitbrei (bron: Inglorious Empire, What the British did to India, deur Dr Shashi Tharoor - ):
    1 Dr Shashi Tharoor (hy haal Churchill aan). Dr Tharoor maak 'n punt wat ek gereeld maak - waar in London vind mens wat mens oral in Berlyn vind - herinnering aan wandade van die verlede? In Suid-Afrika aanbid die eentaliges in kerke wat die euwels van die impera in konsentrasiekampe vier. (Gaan wandel in St George's in Kaapstad, in die Anglikaanse kerk in Johannesburg en vra jouself af waarom dit moontlik is.) Jy sal ook in die VSA nie een herinnering vind aan die wandade van die Amerikaners vind nie. Ek haal verder aan uit sy boek: "What the British did to India pxxvi: "When Willy Brandt was chancellor of Germany, he sank to his knees at the Warsaw Ghetto in 1970 to apologize to Polish Jews for the Holocaust. There were hardly any Jews left in Poland, and Brandt, who as a socialist was persecuted by the Nazis, was competely innocent of the crimes for which he was apologizing. But in doing so - with his historic Kniefall von Warschau ... he was recognizing the moral responsibility of the German people, whom he led as chancellor. That is precisely why I called for atonement rather than financial aid." Ek is op rekord met my apologie vir apartheid (ek resoneer met Tharoor, al was ek té jonk vir apartheid, het ek dit gerade geag om my verskoning op rekord te stel: https://thoughtleader.co.za/i-apologise-for-apartheid/) Maar ek het nog geen verskoning ontvang vir wat die Engelse aan my mense en, vir daardie saak, die res van Suid-Afrika of Afrika, gedoen nie. Ek deel Dr Tharoor se sieninge.

    p xxvi): "It is getting late for atonement, but not too late: I, for one dearly hope that a British prime minister will find the heart, and the spirit, to get on his or her knees at Jallianwala Bagh in 2019 and beg forgiveness from Indians in the name of his or her people for the unforgivable massacre that was perpetrated at that site a century earlier. David Cameron's rather mealy-mouthed description of the massacre in 2013 as a "deeply shameful event" does not, in my view, constitute an apology. Nor does the ceremonial visit to the site in 1997 by Queen Elizabeth and the Duke of Edinburgh, who merely left their signatures in the visitors' book, without even a redeeming comment. Whoever the PM is on the centenary of that awful crime will not have been alive when the atrocity was committed, and certainly, no British government of 2019 bears a shred of responsibility for that tragedy, but, as a symbol of the nation that once allowed it to happen, the PM could atone for the past sins or her nation, That is what Prime Minister Justin Trudeau did in 2016 when he apologized on behalf of Canada for the actions of his country's authorities a century earlier in denying permission for the Indian immigrants on the Komagata Mara to land in Vancouver, thereby sending many of them to their deaths. Trudeau's Willy Brandt moment needs to find its British echo. ... The British public is woefully ignorant of the realities of the British empire, and what it meant to its subject peoples." Daardie eentalige onkunde vind mens in Suid-Afrika. Groete, met die hoop dat jy begin lees en jou ruggraat daarmee sal vind. Gee jouself vryheid om uit die heersende narratief te ontsnap. Gaan lees wyer!

  • Etienne Viviers

    Ai Ronée: Dat ek nou nog nie begin lees het nie en my ruggraat vermis? Nee man. My denke is regtig baie meer in jou kraal as wat jy vermoed. Dit is jammer dat ons nie saam 'n koffietjie kan drink om hierdie beledigings en ooglopende misverstande uit die weg te ruim vir meer produktiewe dialoog nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top