Jonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer

  • 17

Jonathan Jansen en Frederik van Dyk

Lees hierdie artikel deur Jean Oosthuizen ter agtergrond. Frederik van Dyk reageer.

Dit is met diep afgryse dat ek die berig op Voertaal (LitNet) vandag raak lees wat vertel hoe Jonathan Jansen vir Louise Swanepoel, ’n werknemer in die Protea Boekwinkel op Stellenbosch, sarkasties afgejak het nadat sy hom in Afrikaans aangespreek het.

Jansen het heel smalend, soos ’n wafferse skoolboelie, op sosiale media vertel hoe hy die vrou afgejak het nadat sy hom bloot gevra het oor of hy die professor van die Vrystaat is. Hy antwoord toe sarkasties: “Nee, ek is DJ Black Coffee” en volg die sosiale-media-plasing op met die volgende: “Now you know why black people sometimes flip because of language intolerance.”

Nou goed. Die eerste stap is om te vra of mev Swanepoel werklik taalonverdraagsaamheid gepleeg het. Ek besluit toe om Stellenbosch se Protea-tak te bel, en sy antwoord.

Sy klink geskok en oorbluf oor haar interaksie met Jansen. Sy het hom nog altyd bewonder. Dit was die eerste keer dat sy, ’n dame wat agter die Protea-tak se kasregister werk, met die hooggeagte professor kontak gemaak het toe hy skryfplakkertjies kom koop. Sy beskryf aan my hoe sy opgewonde was om ’n geselsie met die A-graad-navorser aan te knoop.

In watter taal het sy hom aangespreek? Sy kan nie onthou nie. Al wat sy onthou, is hoe groot die oomblik was toe Jansen by haar langs kom om vir sy plakkers te betaal. Volgens Jansen se sosiale-media-plasing het hy in Engels gegroet en gesê dat hy skryfbehoeftes benodig. Die presiese verloop van die gesprek blyk dus ietwat te verskil. Maar die ooreenkoms is dat beide partye vertel hoe Jansen sarkasties gereageer het op Louise Swanepoel se vraag of Jansen die “professor van die Vrystaat” is.

Hy interpreteer die hele interaksie as ’n geval van taalonverdraagsaamheid. Hy reken dat haar gebruik van Afrikaans moedswillig en aspris was; dat sy in Afrikaans met hom gepraat het vanuit ’n gevoel van meerderwaardigheid.

Daar is absoluut niks in die gesprek wat hom die reg gegee het om die betrokke afleiding te maak nie. Hy het te doen gehad met ’n bewonderaar sonder kwade gevoelens. En gegewe sy tweetalige Afrikaans en Engelse vermoë is dit laakbaar hoe hy gekies het om teenoor haar op te tree. Kon sy enigste werklike beweegrede dan veralgemening of stereotipering wees? Dat alle wit Afrikaanssprekendes hul moedertaal uit meerderwaardigheid of moedswil gebruik?

Jansen het wel ’n geskiedenis van Engelstalige chauvinisme. Hy is spreek hom uitdruklik daaroor uit dat ons openbare universiteite in Suid-Afrika nie Afrikaans, ’n mede-inheemse en amptelike taal, kan bekostig nie weens die verbintenis van Afrikaans met die ideologiese uitgangspunte van die apartheidregime.

Ek kan nie met Jansen hieroor stry nie. Afrikaans as medium is misbruik deur die uitsluitende en rassistiese beleid van die apartheidsregime. Dit het voorkeur bo ander inheemse tale ontvang. Hierdie deuntjie is al ’n welbekende en histories korrekte een.

Waar Jansen met oogklappe dwaal, is die vraag oor wat die stand van inheemse tale soos Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika met sy grondwetlike bedeling moet wees. Kan ons bekostig, vanuit ’n gedekoloniseerde perspektief, om geen akademiese en ander betekenisvolle openbare blootstelling en insluiting aan ons inheemse tale te gee nie? 

Indien Jansen se voorstaan van akademiese Engelstaligheid aanvaar word, beteken die taalklousule (artikel 6) van die Grondwet niks.

Ons moet ’n toekomsgerigte en niekoloniale rigting jeens inheemse tale inslaan, en dit beteken dat ons inheemse tale in die openbare sfeer moet betrek: in onderrig, in navorsing, in maatskaplike en politieke debat en in gemeenskapsontwikkeling.

Daar is niks inherent uitsluitend en onderdrukkend aan Afrikaans as taal nie. Inteendeel, sedert die apartheidsera is protes teen ongeregtigheid in daardie taal aangeteken. Vandag floreer Afrikaans oor ras- en klasgrense heen, danksy die burgerlike samelewing se letterkundige en politieke moeite. Die verantwoordelikheid van Afrikaanstaliges is om hul taal as een van insluiting te beoefen. ’n Taal wat gemeenskappe bou, wat nuwe kennis skep en wat voortgesette ongeregtigheid in al sy aangesigte beveg.

Maar daar rus ook ’n plig op diegene wat om verstaanbare redes Afrikaans tradisioneel as onderdrukkerstaal ag, om die taal se sprekers die kans te gee om binne ’n oop en demokratiese samelewing te woeker met hul talente en te wys hoe so ’n taal ook vir die goeie aangewend kan word. Jansen ignoreer skynbaar alle Afrikaanse welwillendheid en nierassige vordering. Sy standpunt van destyds dat Afrikaans nie op ons kampusse kan oorleef nie weens die verlede van die taal, is nie genoeg nie. As voormalige rektor en as invloedryke intellektuele stem het hy die plig om Afrikaans as inheemse taal ten minste die kans te gee om ook deel van ons openbare akademiese ruimtes te wees. Dit is ’n plig wat hy en die US nie oor omgee nie. Hulle was hul hande in bloederige onskuld.

Sy houding is nie verbasend nie; Jansen kan nie eens die gebruik van Afrikaans deur ’n welwillende bewonderaar-kassier in ’n oorwegend Afrikaanse boekwinkel aanvaar nie. Hy het Louise Swanepoel, ’n gewone vrou uit die werkersklas, met sy sarkasme en skynbaar akademiese-grootkop-snobisme vir ewig vervreem en beledig. Met watter ander houding antwoord jy: “Nee, ek is DJ Black Coffee” wanneer iemand jou vra of jy daardie welbekende professor uit die Vrystaat is? En dit nogal binne ons tydperk van 16 dae se aktivisme teen gendergebaseerde geweld! Sies man.

Hopelik sien baie meer mense as Louise Swanepoel nou vir Jansen raak vir wie hy regtig is. Dieselfde man wat aanvaarding, diversiteit en respek preek, kan dit nie teenoor sy mede-Suid-Afrikaners beoefen nie. Jansen se houding illustreer die diepgewortelde Engelse taalkolonialisme en onsamehangende afkeuring van Afrikaans en proaktiewe inheemstaligheid aan die Universiteit Stellenbosch. Maar ons het dit sien kom: Wim de Villiers het mos gesê dat dit nie “die US se werk is om Afrikaans te beskerm” nie. Die luitenante van verengelsing voeg bloot daad by woord.

En ek sê weer: Trek jou streep in die sand teen hierdie onkreatiewe enkeltalige en neokoloniale houding jeens ons inheemse tale.

Lees ook

Is Cameron regter in sy eie saak?

  • 17

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Ag jinne nee, wees rustig liewe volksgenote. Wat die heer Jansen gedoen het is eie aan sy aard. Ons Vrystaters ken hom so. Die man het agendas, baie...... en die eerste ding wat uitkom as hy by die voordeur uitstap, is sy vinger. Om vas te stel hoe die wind waai. En, dan laat sy oordeel hom steeds in die steek, soos telkemale in die verlede en nou weer gebeur het.

    Hy het 'n bekookte, moedswillige agenda gehad waarop hy (in eie belang) wou kapitaliseer (verkieslik met 'n gehoor en indien dit nie realiseer nie, sou sosiale media sy opvolg aksie wees) en toe byt die petalje hom aan sy haksteen. Hy't seker gedink noudat Stellenbosch Universiteit die engelse aflosstokkie in die hand het, dat Stellenbosch as gemeenskap ook 'halleluja' sal sing. Toe nie.

    Goeie raad is om nie notisie van hom neem nie. Hy is een van daardie mense wat die lyk op elke begrafnis en die bruid op elke troue wil wees. Gebeur dit nie, skep hy sommer self 'n insident. So, raak rustig Louise Swanepoel (van Protea Boekwinkel daar in Stellenbosch) mens neem nie skepsels soos die proffie ernstig op nie. Hy het duidelik nie vrede as mens nie en sy emosionele volwassenheid is die antitese van sy akademise kwalifikasies.

  • Federik, baie dankie vir jou duidelike standpuntinname. Ek moet jou darem net daarop wys dat die staatsdiens wat destyds die apartheidsbeleid uitgevoer het, tweetalig was: Afrikans en Engels ( streng 50/50). Alle apartheidswette is ook in albei tale gepubliseer.

  • Wat prof. Jansen betref: Sy opiniestukke verskyn gereeld in Afrikaanse koerante en sy boeke is ook in Afrikaans beskikbaar. Tog sien hy neer op Afrikaanssprekendes. Opportunisme?

  • Johannes Comestor

    Ek doen presies dieselfde as Louise Swanepoel. As iemand my in die koloniale en ANC-voorkeurtaal aanspreek, antwoord ek in Afrikaans, omdat die onverkwiklike waarheid is dat baie Afrikaanssprekendes deesdae in die openbaar Engels is. Wat nog nie genoem is nie, is dat Jonathan Jansen se moedertaal Afrikaans is. Is dit onverdraagsaam om in jou moedertaal aangespreek te word? Hy noem dat sy huistaal Engels is, maar dit is 'n polities gemotiveerde keuse. In sy boeke verwys hy na Engels as sy eerste taal; sy taal van voorkeur. Diegene wat Jansen se boeke en veral sy destydse Afrikaanse koerantrubriek gelees het, weet dat hy soms 'n insident verdraai of uitdink om sy politieke agenda te pas. As hierdie gewraakte insident dui op verset teen die verengelsing van Stellenbosch as universiteit en dorp, is ek sekerlik 'n sterk ondersteuner daarvan. Protea Boekwinkel op Stellenbosch het ek oor baie jare as 'n uitmuntende boekwinkel leer ken, sowel wat voorraad as diens betref. Ek ry elke jaar heelwat kilometers om meerdere besoeke aan hierdie oase te bring; om veral Afrikaanse boeke te koop.

  • Jeanette Ferreira

    Wanneer Prof. Jansen oor taal skryf, redeneer hy Afrikaans gaan eintlik oor baasskap (Vrye Weekblad 18 Okt 19). Wanneer hy oor taal 'n assistent afjak en op Twitter daaroor spog, skryf hy op Facebook dit gaan eintlik oor swak bediening: "As ek jou as ’n klant in my moedertaal aanspreek, verwag ek van jou om dit as die kliënt se voorkeurtaal van kommunikasie te erken. Punt.” (LitNet, 28 Nov. 1). Dalk het ek nie genoeg van sy werk gelees nie, maar ek het hom nog nooit wetenskaplik oor taal sien skryf wanneer dit eintlik oor taal gaan nie. As hy dan slegs oor die emosionele en ideologiese waardes van taal moet skryf, het hy reeds by herhaling demonstreer hoe taal kan kwets. Of hy is bewus is van taal se waarde as versoener, staat te besien.

  • Johannes Comestor

    Jonathan Jansen se ma kom van Montagu (Knowledge in the blood, p 91) en sy was 'n NG Kerk-lidmaat (p 137). Afrikaans is ongetwyfeld Jansen se moedertaal. Volgens die aanhaling in Jeanette Ferreira se reaksie ken Jansen nie die verskil tussen "klant" en "klient" nie.

  • Spoofascistiese daaroor k Speurder

    Beste Frederick, ek is verbaas om van Prof.Jansen se teen-Afrikaanse politiekgedrewe uitsprake van 1916 te verneem, amper so verbaas as daaroor dat hy nog daar werk. Dis soos Mao se slang te boesem koester. O? jaa ek het vergeet; dit sou reeds sy plekkie in die rektor se boesem verruim het.
    Jy verwys na Jansen se noem van die ideologiese uitgangspunte van die apartheidsregime. Nou wonder ek hoe hy daai einstes sou definieer. Weet jy wat hulle sou wees?
    Ek twyfel dat apartheid se plek in so baie mense se gemoed vandag al ooit in 'n regslokaal betekenisvol en konsekwent as regverdig bewys is, gegewe die klimaat, gevare, skuim, opdrifsels en mishorings van destyds.
    Waar pas hedendaagse fascistiese bullebakke in?

  • Orweliaanse Tolk.

    Frederik jy verstaan nie prof Jansen se Orweliaanse taal nie. Kom ek tolk :

    Prof : as 'n Engelse student in Engels wil klasloop by 'n Afrikaanse universiteit, is dit sy Grondwetlike reg, anders voel hy uitgesluit en kan hy maklik aanstoot neem. As 'n Afrikaanse student by enige universiteit in Afrikaans wil klasloop, het hy geen Grondwetlike regte nie, en verlang hy na Apartheid, beskou hy homself as meerderwaardig en wil hy doelbewus ander studente uitsluit.

    Prof : as 'n Afrikaans-moedertaal professor, op 'n oorwegend Afrikaanse dorp, by 'n Afrikaanse boekwinkel instap en Engels praat, is dit uiters onverdraagsaam en vernederend om vriendelik en belangstellend Afrikaans met hom te praat. A nee-A. As dieselfde professor op 'n oorwegend Engelse dorp by 'n Engelse boekwinkel instap en Afrikaans praat maar in Engels bedien word, is dit ook 'n teken van taalmeerderwaardigheid en onverdraagsaamheid - maar hierdie keer eienaardig genoeg ... van die professor se kant af. A-ja-A.

    Jy sien Frederik, konteks is altyd belangrik. Belangrike sake het ook mos altyd net een kant.
    .
    Ek hoop jy verstaan nou Frederik, want ek sal dit nooit verstaan nie.

  • Francois Verster

    Ek het Prof. Jansen se eerste boeke gelees en dit as ewewigtig beskou, veral insake opvoedkunde. Dat hy iewers 'n politieke keuse gemaak het, was reeds opmerklik toe hy Malema as 'n ware leier bestempel het. Het hy teen Afrikaans gedraai, of was hy voorheen bloot vals? Daaroor kan ons net raai - maar dat hy behoort te weet dat moederaalonderrig die beste opsie is, veral op skoolvlak: hy het dus sy roeping as opvoeder sodoende versaak.

  • Ronée Robinson

    Beste Frederik, dankie vir jou artikel. Ek is van mening dat, gesien ons herkoms, die tyd aangekom het vir ons (die nie - imperialistiese nie - eentaliges) om gemeensaak met, onder andere, die Europeërs te maak. Anders as dit wat Jansen voorstaan, praat ons darem enkele andere tale as die eentalige, trumpiaanse of johnsiaanse idiotiese imperialis van die konsentrasiekampe. Jansen mag 'n ywerige trumpiaan wees, maar ek vir een verag dié tipe wat die nagmerrie van die onderdrukking van die taal van You Magazine voorstaan. Geen wonder dat die eentaliges wel, eentalig is nie. Mag ek iets wat ek op Frans geskryf het aanheg?

  • Ronée Robinson

    Jeanette Ferreira skryf dat Jansen die volgende skrf: "As ek jou as ’n klant in my moedertaal aanspreek, verwag ek van jou om dit as die kliënt se voorkeurtaal van kommunikasie te erken. Punt.” (LitNet, 28 Nov. 1). Wonderlik, ek stem heeltemal saam. Dus, gesien die taalterroriste (eentalige idiote) wat Stellenbosch vervuil, sal nou, met Jansen se seëning, my moedertaal, synde Afrikaans, moet praat (let wel, ek beklemtoon - eentalige idiote, dus ingels eentalig. Mense wat Afrikatale praat is, wesenlik, meertalig. Dus nie ingesluit hierby nie). Dankie Jansen. Van nou af stap ek sonder skuldgevoel in besighede in Stellenbosch en dring aan op my moedertaal. Vind ook hierby my reaksie op Frans. Tyd dat die buitewêreld ag slaan op die lawwigheid van mense soos jy.

  • Ronée Robinson

    1 Décembre 2019: Jonathan Jansen et la politique des mensonges

    Un homme, universitaire, parfaitement à l’aise en afrikaans, entre dans une librairie à Stellenbosch. Visiteur régulier, il est bien connu là-bas. Il a souvent parlé en afrikaans dans cette librairie dans laquelle, en ce moment, son livre le plus récent est bien en vue. Il a besoin de papeterie. Cet homme est notoire dans tout le pays. Il se présent comme un professeur avisé.
    Suite à sa visite, il recourt à twitter:

    Me : Good morning
    She : Waarme kan ek help ?
    Me : I need stationery
    She : Is jy die Prof van die Vrystaat ?
    Me : No, I am DJ Black Coffee

    Now you know why black people sometimes flip because of language intolerance.

    Sur facebook le professeur éminent se plaint de l’attitude de l’assistante. Il rapporte qu’elle se comporte comme il n’était pas là.
    (Si le point n’est pas clair pour vous, ne vous dérangez pas. Tout le monde est étonné par les événements).
    La vérité ?
    Selon l’enregistrement cctv, après le coup de colère du professeur, la femme a changé tout de suite en anglais. Elle lui a demandé s’il s’était bien installé à Stellenbosch. Il lui a répondu qu’il se bien installé malgré tout.
    Jonathan Jansen, qui s’identifie comme noir, promet en fait la « culture » américaine et anglais, la culture de l’impérialisme. Je sais bien qu’il parle parfaitement l’afrikaans, la langue de la majorité de Stellenbosch. Donc, il y a un deuxième mensonge d’ici. L’intolérance linguistique à Stellenbosch n’est pas une intolérance afrikaans. C’est une intolérance anglaise. Jansen reste silencieux à propos des monolingues qui refusent de prendre connaissance du caractère afrikaans de Stellenbosch et qui imposent leur seule langue au monde entier. Je me rappelle bien ma colère contre une femme anglaise pour son refus de parler un mot en afrikaans à la caissière brune, qui l’a accueillie avec une salutation amicale en afrikaans. Si on se trouve dans des espaces où l’afrikaans est utilisé par la majorité, il faut se comporter avec respect pour la langue. Quel type de personne arrive dans un espace dans lequel la plupart parle afrikaans avec une attitude si barbare quand il rencontre cette langue ? Peut – être le même type d’idiot qui, arrivant à Paris ou Berlin, est étonné de découvrir que tout le monde n’est être pas imprégné par l’anglais.
    Pour quelle raison l’acceptation de l’impérialisme anglais ? Ironiquement, Jansen est un pion de l’impérialisme anglais. Il veut forcer, imposer, la conformité ennuyante de l’anglais. Il est déterminé à détruire la richesse des cultures, il est l’ennemi des gens (pour la plupart pas blancs) qui aiment leur langue – afrikaans. Il fait quoi, quand il rencontre une personne brune et de langue afrikaans dans un magasin à Stellenbosch ? Il adopte la même attitude, faux – supérieur du monolinguisme, la même attitude caractéristique des anglais, monolingues, impérialistes, intolérants contre tous les autre Sud – Africains ? Parce que, pour nous, la majorité, l’anglais n’est pas notre langue.
    Qui est, en fait, l’intolérant dans cette situation? Et pour quelle raison le besoin de mentir ? Et dans quel but ?
    Comment explique – t – on ce besoin assez hystérique de trouver, voire, de créer, un signe raciste, malgré la réalité ? Pour manipuler la réalité ? On se rappelle la réaction absurde de Lesufi pendant la coupe du monde. Et non oublier pas Schweizer – Renecke. Ici, avec sa réaction incohérente, Janson a créé un incident, tout à fait fictionnel. Il a heurté, sans scrupule, une femme qui l’avait traité avec respect et politesse. Il s’est apparu comme un personnage grossier, en fait, un homme dangereux. Dans ce pays, avec un gouvernement souillé par la corruption, le vol, la fraude et les mensonges, pourrions – nous nous permettre de donner de l’espace à un homme tel que Jansen plus longtemps ?

  • Daniel Hugo, goeie punt. En om Afriaans as die sondaar van apartheid en 'baasskap' te sien, is mos belaglik. Afrikaans het afsonderlik van apartheid ontwikkel - is die Bybel nie in Afrikaans vertaal lank voor die amptelike beleid van afsonderlike ontwikkeling nie? Afrikaans, soos ek dit het, was die kombuistaal wat uit ander plaalike en Europese tale ontwikkel het. Dis soos Fanagalo op die myne. En as die apartheidsregering Fanagalo of Engels verkies het, sou die anti-Afrikaanses daardie tale ook nou verag het? Dis juis omdat die gebruikers van Afrikaans teen Engelse kolonialisme oorlog gemaak het, dat Afrikaans sterk ontwikkel het. Om Afrikaans die sondaar van blanke baasskap te maak, is soos om alle Fords van die pad af te verban net omdat die seun in die straat af sy bande kort-kort spin. Dis nie die Ford nie, dis die ou wat hom misbruik, nie waar nie ...?

  • Desere Barnard

    Ek wonder wat die ou Prof sou sê indien n winkelassistent hom in Xhosa sou aanspreek? Siestog, die aandagsoeker sindroom is oral.

  • Ronee Robinson

    Ek het die uitdaging tot helderheid, eerlikheid en integriteit besonder duidelik aan Jansen gestel. Jy, Jansen, is nou op terme gestel. Antwoord binne 14 dae, hierdie keer sonder om agter 'n deurmekaar Afrikanermeisie te skuil.

  • Ronée Robnson

    Jammer, gesien Jansen se gebreke moes ek bygevoeg het: slaan tog ag op Soljénitsyne se Le dėclin du courage.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top