Stories op die Rooiplein: Veeltalige Maties of gerusstellende leuens?

  • 7

Die afgelope week was daar terugvoer uit verskeie oorde oor die Konstitusionele Hof se bevinding jeens die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid. Daar was ’n paar kritiese stemme wat die dieper nuanses van die hofbeslissing en veeltaligheid ontleed het, waaronder treurstemme wat behoorlik gevoelens van protes ontroer het teenoor die traumatiese gevolge van die afsterwe van substantiewe meertaligheid (sien Mercy Kannemeyer, “US geherkoloniseer” 19 Oktober, LitNet; Danie van Wyk, “Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe”, 11 Oktober, LitNet).

Daar was ook ’n paar vreugdevure uit voorspelbare oorde, soos die reaksie van Blade Nzimande, wat die geleentheid gebruik het om die mense wat ’n grondwetlik-demokratiese stryd gevoer het ter wille van veeltaligheid en die behoud van Afrikaans op Maties, van ‘n verkrampte Afrikaner-nasionalisme of iets dergeliks te beskuldig (Yoliswa Sobuwa, “Nzimande welcomes court's ruling on university language policy”, 14 Oktober, Sowetan). Gegewe sy diepgewortelde Stalinisme is dit nie juis verbasend nie.

Daar was ook etlike randeiers met onsamehangende opinies, waarvan een min of meer lui dat die ongelukkigheid oor die hofbeslissing tekenend is van ’n klomp verstokte Afrikaners wat reken hulle baklei nog in die Anglo-Boereoorlog (Bettina Wyngaard, “Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?”, 14 Oktober, LitNet). Die onsensitiwiteit van hierdie opmerking gegewe die ABO se onlangse herdenkingsdatum, en die vars herinneringe aan die menslike lyding daartydens ter syde, is dit hartseer dat ’n skynbaar gewilde en gerekende rubriekskrywer so ’n stuk werk kon aflewer waarin daar hoofsaaklik ’n herhaling voorkom van die ou holruggeryde argument dat Engels se globaliteit genoegsame rede is dat Afrikaans maar keer op keer moet terugstaan.

Ek is ewe teleurgesteld in my gunsteling-nuus-en-meningsplatform Vrye Weekblad se publikasie van slegs ’n vertaalde Jonathan Jansen-meningstuk (“Die stryd was nooit oor die taal nie, maar oor die oorlewing van Boere-baasskap”, 18 Oktober). Jansen, onder wie se leiding Afrikaans by die UV ten gronde gegaan het, trek te velde teen die bona fides van Afrikaanse taalaktiviste in die universiteite-taaldebat, en reken dat dit eintlik oor die behoud van wit Afrikanermag gaan. Al wat ek (minagtend) hieroor kan sê, is dat Jansen skril en bitter klink, en dat sy gevolgtrekking nie op enige getuienis van so ’n verkrampte Boeremag berus nie. Hy sóú ook geen sulke bewyse vind nie. Sy vooroordele stink nogal vir ’n begaafde US-professor.

Nog ’n tragiese opportunis tot die Schadenfreude is die Demokratiese Alliansie, met hul verklaring dat die beslissing ’n oorwinning vir Afrikaans en Engels se “gelyke status” is (Annelie Lotriet, “DA unequivocally supports English and Afrikaans as primary and equal languages of instruction at Stellenbosch University”, 10 Oktober, DA.org.za).

Nie net is dit duidelik dat dié lot nie die hofuitspraak, die 2016-taalbeleid, of enigiets wat relevant is, gelees het nie, maar dit is onder die omstandighede duidelik dat iemand in hul propagandakantoor gedink het hierdie “gelykheid” is ’n helse oorwinning vir Afrikaanssprekendes, en dus ’n noodpleister vir die uittog van DA-stemmers onder diegene wat voel die party het Afrikaanse belange verraai. Arme drommels, dis seker die gevolge van faksionalisme. En boonop is die verklaring vir alle doeleindes gerepudieer deur die DA-LP Leon Schreiber se onmiddellike bedanking vanuit die US se Institusionele Forum, met die hofbeslissing as rede.

Terugvoer wat werklik ’n impak op my gehad het, was nie die gevleuelde woorde van ons wat kommentaar gelewer het vanuit gemaklike posisies buite die universiteit se binnewerking nie. Die kommentaar van Risha Lötter, ’n tolk wat aan die US werksaam is (“Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief”, 19 Oktober, LitNet), het die beste weerklink. Haar waarneming van die US se tektoniese taalverskuiwings is dat ons nou met Afrikaanssprekende studente sit wat nie in Afrikaans óf Engels enigiets wys word nie. Akademiese skryfwerk getuig van ’n swak woordeskat, en die studente wat oorskakel na Engelse studie toe, sukkel in elk geval. Die vertalingsmeganisme in die studente se breine is van min nut as hulle nie eens hul moedertaal in die akademiese sin kon baasraak nie. Sy lê veral klem op die feit dat Afrikaanssprekende studente die bewuste besluit neem om na Engelse studie oor te skakel. Hierdie is ’n groeiende verskuiwing, sê sy beswaard.

Ek is tans ’n student en het hierdie sentiment van Risha die laaste paar jaar gedeel, hoewel dit soveel wrewel in my losgemaak het teenoor die Engelstalige establishment, die US-raad, die politici en wie nóg ook al aandadig kon wees. Dit was moeilik om te aanvaar dat die groot bydraer tot Afrikaans se ondergang aan die US die studente self is. Hierdie vermoede het by my bly karring, veral wanneer ek terugdink aan die lae betrokkenheid van Afrikaanse studente tydens die taaldebat, ten spyte van die Adam Tas Studentevereniging vir Afrikaans se beste pogings om die Afrikaanssprekendes te mobiliseer.

Ek het altyd die min belangstelling toegeskryf aan Afrikaanssprekendes, veral Afrikaners, se klaarblyklike postapartheid houding om polities onder die radar te verkeer en nie te veel geraas te maak nie. “Kop omlaag, swot, kry graad en moenie waves maak nie,” som hierdie houding op.

Statistiese navorsing sou dalk ’n goeie beginpunt gewees het voordat ons te veel geld en tyd aan hofsake spandeer het. Ek vermoed dat die afkeer wat ek gekoester het teenoor die aanvaarding van Afrikaanssprekendes se ongeërgdheid oor die taaldebat, was dieselfde heimlike rede waarom die voorstanders van Afrikaanse tersiêre onderrig min tot geen steekproewe onder studente aan die US, UV en Tuks gedoen het nie. Ons was bang vir wat ons sou bevind. Dit was te moeilik om in die spieël te kyk en die werklike sweer raak te sien.

Om my vermoedens en vooroordele te toets het ek besluit om ’n stel onderhoude onder respondente op die Rooiplein te voer. Uit hierdie kort onderhoude wou ek nie ’n deeglike statistiese databasis van een of ander aard opstel nie. Ek wou bloot ’n steekproef doen van wat in studente se koppe aangaan rondom taal en die taalbeleid. Dit sou vir my ten minste die gerusstelling gee dat my ergste vermoedens dalk akkuraat was, al dan nie.

Wat ek bevind het, strook baie met Risha se waarnemings.

Die stories op die Rooiplein

“Engels is my dominante taal,” verklaar Prayers Chasela, ’n eerstejaar- vroulike student in algemene geesteswetenskappe en oorspronklik van Malawi. Sy beantwoord sodoende my vraag oor waarom sy in Engels studeer. Ek krabbel die antwoord neer waar ons in die koelte op een van die Rooiplein se betonbankies sit. Dieselfde bankies waarop daar onlangs dekoratiewe frases uit die 11 amptelike tale van Suid-Afrika geëts is. Korporatiewe Botox-glimlaggies.

Prayers ag steeds Chichewa, die taal van 12 miljoen mense in Malawi en sy onmiddellike buurlande, as haar moedertaal. Sou sy Chichewa wou gebruik indien sy in Malawi kon studeer? “Nee, ek sou steeds Engels gebruik. My Engels is beter as my Chichewa.” Ek sit terug met ietwat van ’n frons. Is dit moontlik om ’n taal as jou moedertaal te ag, maar tog ’n ander taal te verkies vir studie, en boonop ’n beter begrip en beheer van die alternatiewe taal te hê? Ek moet myself rem om hierdie gedagte nie hardop te verwoord nie. Hierdie is ’n feitesending, nie ’n kruisondervraging nie.

Thantaswa Qayi studeer maatskaplike werk deur Unisa, maar het gedurende die vier jaar van haar studie die US-biblioteek gebruik. Ons sit onder ’n uitheemse plataanboom wat’n welriekende dog irriterende stuifmeel op ons neerreën. “Ek had geen keuse oor studies in Engels nie,” antwoord sy ietwat oorbluf. Sy sal nie regtig in Xhosa wil studeer nie, want as diverse mense in haar beroep en oor die algemeen nie Xhosa of Zoeloe kan verstaan nie, is Engels tog seker die logiese alternatief. “Ek vermoed dáái Zoeloe voel anders,” skerts sy en maak ’n kopbeweging in haar vriendin Zandile Dlamini se rigting.

Zandile studeer ook maatskaplike werk deur Unisa, en toe haar afgesonderde beurt kom om my vrae te beantwoord, sê sy laggend dat sy ook geen ander keuse gehad het as om in Engels te studeer nie. Wat van Zoeloe? “Dit sou interessant wees,” antwoord sy na ’n oomblik se besinning. “Dit sou beslis my studies makliker gemaak het ... dis moeilik om alles in my kop na Engels te vertaal.” Sy reken dat Unisa beslis opvoeding in inheemse moedertale kan bied. “Dis tog deur die pos en dus moontlik,” redeneer sy.

Ek stap met ’n draai in die rigting van die Geologie-gebou. Simba Ambayi is ’n Namibiër wat Sjona tuis praat. “Ek kan wel Afrikaans praat,” sê hy. In Namibië gebruik mense Afrikaans as ’n lingua franca. Hy studeer vir sy LLB-graad in Engels, omdat hy gemakliker daarin is as in Afrikaans. En selfs al kon hy in Sjona studeer, is die praktyk Engels.

Igsaan Davids is my eerste Suid-Afrikaanse burger. Hy identifiseer as ’n bruin man met Kaaps-Maleise wortels. “My moedertaal is Engels,” sê hy. Hy studeer ook vir sy graad in finansiële bestuur in Engels. Enige ander tale? “Afrikaans, as tweede taal. My familielede het almal Engels met my gepraat. Hulle het wel met mekaar Afrikaans gepraat.” Ek kan nie anders om ’n wrewel in my hart te voel oor die antwoord nie. Hoekom het hierdie student se familie gekies om hom Engels groot te maak? Wat is dan fout met Afrikaans? Ek beteuel my.

Die helfte van my respondente was moedertaal-Afrikaanssprekend van wie een, Tarryn, as bruin en vroulik geïdentifiseer het. Die ander vier was wit.

Tiaan Grobbelaar en sy maat Brendon Venter is Afrikaanssprekend en het hoërskoolonderrig in Engels ontvang. “Sou jy in Afrikaans wou studeer, Tiaan?” Hy neem ’n diep trek van sy Pall Mall-sigaret en druk dit dan ongemaklik dood op die geëtste skrif in die betonbankie. “Nee,” antwoord hy met ’n ongemaklike skerp blik in my rigting. “Buite die Wes-Kaap ... buite Suid-Afrika is dit nie ’n taal van die werksplek nie.” Brendon voel dieselfde toe sy beurt kom. “Ek studeer regte ... met Engels kan ek makliker met meer kliënte skakel. En dis universeel.” As mederegstudent wil ek bitterlik graag losskiet met ’n weldeurdagte teenargument.

Tarryn Alexander is ’n eerstejaar van Worcester en studeer teologie. Sy doen dit deels in Afrikaans en deels in Engels. Ek glimlag soos ’n tevrede skoolmeester toe ek dit hoor. “Dis die moeite werd om in Afrikaans te studeer. Ek verstaan beter in my moedertaal,” antwoord sy met oortuiging. Waarom nie alles in Afrikaans nie? wil ek gretig weet. “Dis die handboeke,” antwoord sy skouerophalend. Hoe lank gaan haar studies nog Afrikaans wees? wonder ek toe ek later weer haar onderhoudopname uitluister.

Vir Stefanie Eloff is Engels ’n moeilike perd om op te saal, selfs in haar finale jaar van bedryfsingenieurswese. Sover is haar derde en vierde jaar net in Engels. “Dis seker beter so, want al die bronne, handboeke en die werksomgewing self is Engels ... Ek het al baie daaraan gedink dat dit makliker sou wees in my moedertaal as in Engels.” Sy het egter nie juis ’n keuse nie – dit voel asof haar fakulteit stadig maar seker Afrikaans uitfaseer.

Nienke Pieters, ’n oud-Affie, is in haar tweede jaar van megatroniese ingenieurswese. “Ek studeer in Engels ...is makliker om die terme te verstaan as die ou Afrikaanse woorde! En boonop is die werksplek Engels.” Gegewe Stefanie se terugvoer dat sy eers vanaf haar derde jaar in Engels klas geloop het, is Nienke se volgende antwoord vir my kritiek belangrik wat verengelsing betref: “In my eerste jaar was daar een Afrikaanse klas. Daarna was alles Engels.”

My inleidende vrae is opgevolg deur vrae wat kennis oor die taalbeleid toets, asook ’n vraag oor die begrip meertaligheid en wat die belang van die voortbestaan van moedertale is.

Op my vraag of hulle kennis dra van die taalbeleid of die onlangse gebeure daarrondom, kon nie een student vir my ‘n werklik akkurate antwoord gee nie. Simba Ambayi sê hy weet niks daarvan nie behalwe dat dit “elke jaar verander”. Igsaan Davids dog dis sedert 2016 ’n tweetalige beleid. Hy sê hy weet niks van Xhosa se status nie. Die res het nie ’n idee gehad wat die beleid of die geskiedenis daarvan behels nie.

Al die studente het meertaligheid omskryf as die vermoë om meer as een of selfs twee tale te kan praat. Hul begrip daarvan is dus vanuit die perspektief van ’n individuele spreker. Hulle blyk dus nie kennis te dra van meertaligheid as ’n eienskap van hul omgewing of as ’n definiërende funksie van die universiteit nie.

Hoe beoefen ons meertaligheid op kampus? Die studente se antwoorde is ’n sprankeltjie hoop. Daar is voorstelle wat behels dat klasse in Xhosa ingestel moet word, dat verpligte taalverwerwingsklasse in Afrikaans en Xhosa aangebied word, dat eerstejaars tydens Verwelkomingsweek aan die meertalige aard van Maties bekendgestel word.

Dink jy jou moedertaal moet aanhou voorbestaan en ontwikkel word? Na aanleiding van hul antwoorde het ek nie veel hoop gehad vir hierdie vraag nie. Maar toe begin die stortvloed.

“Ja!” skree die antwoorde vanaf elkeen van die vraelyste. Ons moedertale is ons herkoms. My moedertaal dra my kultuur en my wese – daarsonder is ek niks. “Ek dink en voel in Afrikaans ... my ‘binneste’ is Afrikaans,” antwoord Nienke Pieters.

 “Ek het Afrikaans nodig om met Afrikaanse mense in die werksplek te kommunikeer, en om my taalvermoëns uit te brei,” sê Igsaan Davids.

 “Ek is lief vir Chichewa, want dit is my herkoms en is dominant in Malawi. En Engels veroorsaak ’n taalhegemonie ... dis vreemd aan my Afrika,” antwoord Prayers Chasela met oortuiging.

“Mense wat Zoeloe is, maar nie Zoeloe kan praat nie, maak my hartseer,” sê Zandile Dlamini. “Ek het nie respek vir hulle nie – hulle maak asof hul herkoms nie goed genoeg is nie.”

Simba Ambayi meen sy moedertaal, Sjona, skakel die tradisionele met die moderne. Hoe bedoel hy nou? vra ek. “Engels domineer so erg dat ek nie daarmee kan vind wie ek is nie. Sjona is my taal om met my herkoms te skakel, met wie ek ís.”

Tarryn sê: “Dis die taal van my grootraak – die mooiste taal.”

Brendon: “Afrikaans dra kulture en waardes – daarsonder sal hierdie dinge sterf.”

Tiaan: “Taal bevat ’n geskiedenis, ’n kultuur, ’n uniekheid – selfs in die akademie is daar plek hiervoor.”

Nou waarom kontrasteer hierdie antwoorde so skreiend met hul keuse van studietaal?

Die nabetragting

Ek kan, soos vroeër genoem, nie met hierdie stories ’n stel statistiek verskaf wat taaltendense oor die volgende x aantal jaar uitpluis nie. Ek doen geesteswetenskaplike werk; stories is my eksperimente. Hierdie studente se stemme vertel wel vir ons iets diep kommerwekkends, maar gee ook hoop.

Eerstens is Risha reg. Sy het die getalle studente-in-Afrikaans sien afneem; my onderhoude wys iets van die houding en aannames wat hierdie verskuiwing aandryf. Studente sien Afrikaans nie as ’n taal wat vir hul ekonomiese geleenthede gaan verskaf nie. Engelse opleiding word verkies, omdat daar die konvensionele kennis op loop is wat dikteer dat Engelse opleiding jou indiensneembaarheid verbeter. Hierdie is konvensionele kennis en dus hoorsê, gegewe hoe graduandi wat in Afrikaans afgestudeer het, steeds hoogs suksesvol is. Veral die wit Afrikaanse studente en hul ouers vergeet dat hul moderne ekonomiese bevoorregting alte dikwels sy oorsprong het in die tyd en moeite van ‘n gegradueerde voorsaat wat in Afrikaans gekwalifiseer het.

In die Afrikaner-nasionalistiese Suid-Afrika van apartheid en sy institusionele wit bevoorregting was Engels steeds ’n prominente taal in die professionele en werksomgewing. Maar wie kan hierdie kinders kwalik neem, gegewe hoe skaars werk en geleenthede in ons ekonomiese klimaat is? Is dit regverdig om hul ouers se omstandighede met hulle s’n te vergelyk?

Wat opvallend is, tweedens, is dat geeneen van die studente iets van die US se taalbeleid of die geskiedenis daarvan geweet het nie. Hulle het dus blind en weens hoorsê op Maties in Engels begin studeer. Hulle het ook geen begrip van meertaligheid as ’n eienskap van hul omgewing nie. Hul indruk daarvan is dat dit iets is waaroor ’n individu beskik.

Die universiteit, soos ek hulle ook beskuldig in my rubriek in Rapport (“Afrikaans: Wat gaan jy doen?”, Rapport Bylaag, 13 Oktober), doen niks om veeltaligheid proaktief aan te moedig en gewild te maak nie. Die meeste taalkundiges en taalpolitieke wetenskaplikes sal vir jou sê dat statusverhoging die beste medisyne vir die voortbestaan van enige taal is. ’n Taal moet akademiese en navorsingskrag hê en sodoende die nuanses van sy sprekers kan uitdruk. Die US as staatsinstelling is geweldig goed geposisioneer om effek te gee aan Suid-Afrika se natuurlike meertaligheid in die openbare sfeer. Dit hoef bloot verantwoordelikheid te neem vir drie streekstale: Afrikaans, Engels en Xhosa.

Hul sin vir verantwoordelikheid jeens twee van die drie tale behels korporatiewe vensterversierings, soos duur naamborde en betonbankies met veeltalige frases. In die klasse vind jy gefrustreerde dosente wat in Afrikaans moet voorsien selfs al studeer weinig studente in die taal.

Jy vind studente wat te bang is om in Afrikaans vrae te vra, want die radikales boelie jou met ‘n hardop gesug of ’n venynige gemompel, en die wit Engelse studente begin met mekaar oor ander dinge gesels.

Jy vind ’n kultuur van oorgawe aan ’n stelsel wat op ’n glybaan na verengelsing is, en oplaas die studente gaan blameer wanneer Afrikaans totaal as akademiese en onderrigtaal van die kampus af verdwyn.

Kan ons hierdie omgewing bestempel as een wat veeltaligheid bemagtig? Ek twyfel.

Kan ons hierdie omgewing as een bestempel wat aan studente ‘n keuse gee om in ‘n gegewe taal te studeer? Dit is tog nie ’n “keuse” wanneer die hele stelsel jou subtiel in een rigting dwing nie.

Met geen proaktiewe poging om studie in Afrikaans en Xhosa aan te moedig en te beloon nie, en deur Afrikaans af te skaal oral waar dit nie meer “prakties doenbaar” (daai ou skuiwergat!) is nie, kan die US hul hande in bloederige onskuld was.

Maar die Afrikaanssprekende studente staan nie onskuldig in hierdie proses nie. Ten spyte van die druk is daar studente wat steeds in Afrikaans volhou, uit nood of uit beginsel. Dieselfde geld, wel met meer genade weens historiese verdrukking, vir sprekers van Xhosa en ander inheemse tale oor die land heen. Al my respondente het met entoesiasme hul oortuiging uitgespreek dat hul moedertale moet voortbestaan, om redes wat met identiteit en menswaardigheid verband hou. “Jy kla / oor die toestand van ons land / maar fokken doen iets daaromtrent,” dink ek wrewelrig aan Fokofpolisiekar se lirieke uit “Brand Suid-Afrika”.

’n Giftige mengsel van bevoorregting (waar geld en ’n Engelse taalkolonialisme die botoon voer), ekonomiese desperaatheid en ’n ontmagtigende omgewing vir inheemse tale is die rede vir studente op die kampus en elders se ongeërgdheid.

In 1994 het die samesprekings oor veeltaligheid in ’n nuwe Suid-Afrika ter elfder uur geëindig met 11 amptelike tale as kompromie. Neville Alexander se voorstel van vier amptelikes – Afrikaans, Engels, algemene Sotho en algemene Nguni – het nie veld gewen nie. Sedertdien was niemand bereid om ’n gesprek oor taal-etiek te voer nie, veral gegewe hoe dominant Engels in die sakewêreld funksioneer en hoe de facto alleen-amptelik dit geword het. Niemand het gaan dink oor hoe die invloed van Engels, selfs as “eerste te midde van gelykes”, getemper kan word deur behoorlike taalbeplanning en gehoorgewing aan die Grondwet se gees en strekking nie. Die Pan-SA Taalraad is ’n dooie dier wat al ’n geruime tyde lê en vrot. Die Britte regeer nie hier nie, maar die regering se houding teenoor veeltaligheid dra meer as ’n sweempie van voortgesette Engelse taalkolonialisme.

In hierdie land van pyn, ongelykheid, bloedgrond en voortgesette kolonialiteit moet ons op Steve Biko se wyse begin wegdoen met die verstikkende houvas wat buitelandse kolonialisme om ons kele het. Ons is Suid-Afrikaners wat slegs verenig sal wees in ons diversiteit as ons ophou verengels in diversiteit. Soos hierdie studente uitgewys het, is ons herkoms en uniekheid, ons menswaardigheid, aan ons tale verbind. Kom ons vat dit terug, op Maties en elders.

Lees ook:

Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief

  • 7

Kommentaar

  • André Badenhorst

    Hierdie briljante skrywe bied ‘n bloudruk vir ekstensiewe nabetragtingstudies oor die enorme skade wat ons brose samelewing aangerig word deur idiote in magsposisies.

    Ten spyte daarvan , gee die skrywer gee ook baie hoop. Ons jeug kan behoorlik dink in hul eie taal!

  • Johannes Comestor

    Frederik, ek het groot waardering vir jou standpunt en ingeligtheid, vir die moeite wat jy met jou opname gedoen het en vir die trant waarin jy jou lojaliteit jeens Afrikaans bewoord het. Die skuldiges aan die US-Afrikaansmoord is nie net sommige/baie van die studente nie, maar ook die US-bestuur en die dosente. Wat my die meeste ontstig, is die skynbare afwesigheid van hoorbare protes uit die US se Departement Afrikaans.

  • Barend van der Merwe

    Die saak herinner by uitstek aan die situasie van gaymense en die Bybel. Die Bybel verkondig liefde - he jou naaste lief soos jouself en moenie oordeel nie, maar spoeg terselfdetyd vuur oor hoe weersinswekkend homoseksualiteit vir god is. Die resultaat is chaos. Absolute chaos.

    So is dit ook met taal. Ons land spog oor eenheid in verskeidenheid op die landsleuse, maar in praktyk is daar nie plek vir verskeidenheid nie. When in Rome...en, die skrywer vuur mens aan om met passie en ywer die moedertale te koester, maar verswyg om voorbeelde te gee oor wat in die praktyk moet gebeur. Daar was tog al baie pogings. Vertalers, tolke ens. Uiteindelik bly die reenboog rooi. Die ouditeur aanvaar net Engels.

  • Barend van der Merwe

    Ek het absoluut geen voorstel nie. Hoekom moet ek een he? Ek is nie 'n taalstryder nie. My punt is eenvoudig dat filosowe bou graag ivoortorings. Hulle het vir alles 'n antwoord maar vir niks 'n oplossing nie. Ons weet alles wat in hierdie artikel staan. Hoe belangrik moedertaal is. Hoe verweef dit is met identiteit. Hoeveel makliker daar in moedertale nuwe konsepte aangeleer word. Ons het dit alles al tot vervelens gehoor. Dit verander niks. Die pad wat Suid-Afrika gekies het is een van integrasie en Engels.

  • François Smuts

    Ek is 'n Kaapse advokaat met 27 jaar ervaring van die regspraktyk in verskeie rolle. Dis vir my baie interessant om telkens die refrein te hoor dat Engels die taal van die werksplek en die besigheidswêreld is.
    Hieroor kan mens twee opmerkings maak. Die eerste is dat Afrikaanssprekendes volgens my skatting, indien nie ongeveer die helfte nie, dan 'n baie stewige minderheid van die mense in die regs- en sakewêreld uitmaak. In hierdie verband moet mens nie klein besighede uit die oog verloor nie. Heelwat van hulle hou maar die kop laag en praat Engels om hulle nie die gramskap van die owerhede op die hals te haal nie. Maar almal van hulle waardeer dit as hulle kliënte is en jy met hulle Afrikaans praat. Dit gee aan die Afrikaanssprekende - en daarom minstens tweetalige - regsgeleerde (en, skat ek, enige ander besigheidspersoon) 'n beduidende bemarkingsvoordeel. Interessant genoeg, as mens na wynetikette kyk, is daar klaarblyklik 'n toenemende besef dat daar baie Afrikaanse mense is met geld in die sak, en dat dit 'n marksegment is wat waardeer as jy hulle taal praat.
    Die tweede is 'n antwoord op die teenargument op my eerste punt: Dis inderdaad so as jy na webwerwe, bemarkingsmateriaal en amptelike korrespondensie kyk, dat die regs- en sakewêreld dramaties verengels het sedert 1994. Maar dis myns insiens direk die gevolg van 'n politieke agenda deur die regerende party. En tipies van hoe politici maar maak, word die toestand wat hulle grootliks help skep het, dan aangevoer as rede hoekom mense nie in Afrikaans moet studeer nie. Hierdie onreg is natuurlik soveel erger in die regswêreld, waar ons hoofregter eensklaps en in 'n asemsnakkend arrogante handeling, Afrikaans as regstaal die nek omgedraai het.
    Gelukkig het ek nou al twee keer in die hof ervaar dat voorsittende beamptes wat Afrikaans magtig is, in gevalle waar die partye en getuies almal Afrikaanssprekendes is, die sake in Afrikaans aangehoor, met slegs betoogshoofde, betoë en uitsprake in Engels.
    Ten slotte en wat betref die argument in die uitspraak dat daar nie geld is vir meertaligheid nie: Dis die argument van mense met min of geen waardering vir die waarde van veeltaligheid of die ondersteuning van 'n veelvuldigheid van kulture nie; en wat óf te lui óf te oneerlik is om te vra hoekom daar nie genoeg geld is nie.
    Myns insiens is dit dus te vroeg om skouers op te haal, of om meerderwaardig aan te voer dat Engels gelyk is aan integrasie, nie-rassigheid en al daai polities korrekte maar inhoudlose lawwighede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top