Op 10 Oktober is uitspraak in die Konstitusionele Hof gelewer ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid. Lees die volledige uitspraak hier. Danie van Wyk reageer op die hofbeslissing.
Die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor Gelyke Kanse se hofsaak oor die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch gaan beslis verreikend wees. Dit het ’n onomkeerbare situasie geskep wat sal afwentel na Afrikaanse skole op primêre sowel as sekondêre vlak. Afrikaans is ’n gevoelige slag toegedien.
Dit is ’n jammer dag vir Suid-Afrika waar een van die grootste bates van die land, naamlik die Afrikaanse taal, tot niks nie gereduseer is, en Engels verhef word as die belangrikste taal ten koste van al die tale soos vervat in die Grondwet, en waarvolgens alle amptelike tale op ’n gelyke basis geplaas is en dus veronderstel is om almal dieselfde status te geniet.
Dit laat my dink aan die boek van George Orwell, Animal farm, waarvolgens die plaasdiere almal dieselfde status sou hê en gelykes sou wees. Die proklamasie “All animals are equal, but some animals are more equal than others” is tekenend wat hierdie hofuitspraak tot gevolg het – Engels is nou meer gelyk as al die ander amptelike tale, alhoewel hulle veronderstel is om dieselfde grondwetlike status te hê.
Baie Suid-Afrikaners kan nie op hierdie tydstip hul gevoelens verwoord nie. Dit is ook ’n gevoelige slag vir meertaligheid, nie slegs aan die US nie, maar ook vir die land. Dit strook ook nie met uitsprake van die President soos onlangs in Upington uitgespreek tydens Erfenisdag, dat alle tale in die land gelyk is nie. Dit was slegs lippetaal waarvan die teendeel nou bewys is. Engels is verhef tot die belangrikste taal in Suid-Afrika. Die ander amptelike tale is op die sylyn gerangeer en sal daar stagneer tot wie weet wanneer. Die kanse op die ontwikkeling van die inheemse tale is ook ’n slag toegedien. Uit die aard van die saak besef ons nie wat die langtermyngevolge van hierdie uitspraak gaan wees nie. Suid- Afrika is ná vandag taalkundig armer.
Vir Afrikaans as onderrigtaal is dit ’n groot terugslag. Hoe die taal hierna op tersiêre vlak gaan herstel, is byna onmoontlik indien daar nie vanuit Afrikaanse geledere aggressiewe pogings aangewend gaan word om Afrikaans as onderrigtaal lewend te hou nie. Om pro-Afrikaans te wees beteken nie om anti-Engels te wees nie. Daarvoor het ons begrip. Dit gaan hier om die amptelike erkenning van ’n taal en alles wat daarrondom gebeur. Dit gaan hier oor die aantasting van ’n basiese mensereg, naamlik die handhawing van ’n taal.
Die koste-aspek wat genoem word om Afrikaans en Engels as onderrigtaal by die US as gelyk te hanteer, neem nie in ag die feit dat Afrikaans reeds ’n ontwikkelde taal is nie. Parallelmedium sou die oplossing wees en daarvoor kon ’n oplossing gevind word. Dit kon as voorbeeld aangewend gewees het om ook die ander inheemse tale tot ’n hoër status te ontwikkel. Afrikaans kon die voertuig geword het om dit te verwesenlik.
Vyftig jaar gelede het die destydse Zambiese adjunkpresident, Simon Kapwepwe, die onderrig van Engels as hoofvak aan Zambiese skole veroordeel. Hy het dit bestempel as ”giftig” en die “beste manier om Afrika-kultuur en -karakter te vernietig”. Kapwepwe het verder gesê die onderrig van Engels veroorsaak ’n minderwaardigheidskompleks by kinders. Hulle kan eerder in plaaslike tale onderrig word. Sy mening was nie gegrond op haat vir die koloniale stelsel nie, maar op nugterheid en die noodsaaklikheid daarvan om Zambiërs ’n voller en meer betekenisvolle lewe te verseker.
Ghana het sewe jaar gelede hul onderwysstelsel hersien en groter klem gelê op moedertaalonderrig en hoe die miskenning van meertaligheid ’n negatiewe effek op die gehalte van onderwys gehad het. Suid-Afrika kan hieruit leer.
Die verontagsaming van Afrikaans as onderrigtaal kan in dieselfde lig gesien word as die Zambiese en Ghanese ervarings. Meertaligheid is deur die Konstitusionele Hof met die spreekwoordelike badwater uitgegooi. ’n Geleentheid tot ware nasiebou is daarmee heen. Ons het ’n soeke na kohesie en die bou van ’n Suid-Afrikaanse samelewing waarin alle inwoners en spraakgemeenskappe tuis sal voel. Dit gaan nie spoedig gebeur nie. Op die politici kan ons nie staat maak nie.
Jou taal verleen menswaardigheid aan jou. Hierdie uitspraak verteenwoordig beslis ’n erge aantasting van die menswaardigheid van ses miljoen Afrikaanssprekendes. In die Wes-Kaap in besonder is dit ’n hartseer dag vir veral arm bruin, meestal plattelandse leerders/studente. Weer eens word hulle, soos in die verlede, toe die US ’n eksklusiewe instansie was waar bruin leerders/studente nie toegang geniet het nie, benadeel. Vir ’n tweede keer word daar gediskrimineer teen hulle, hierdie keer op grond van taal en nie van velkleur nie.
Daar is nie begrip vir die sosio-ekonomiese behoeftes van hierdie studente nie en die hofuitspraak is ’n groot terugslag ook vir hulle.
Ons onderwysstelsel verkeer reeds in ’n krisis, en die negering van moedertaalonderrig op tersiêre en skoolvlak dra grootliks by tot hierdie situasie. Parallelmediumonderrig sou die oplossing wees aan die US om gelyke kanse aan almal wat daar studeer, te bied. Engelssprekende studente word dus bevoordeel en baat by hierdie bevestiging van die taalbeleid.
By die US brand die vure hoog en word fees gevier oor hierdie “oorwinning”, maar in baie Afrikaanse huise en skole is daar vandag hartseer. Dit was ’n grootse poging van Gelyke Kanse om Afrikaans te red. Daarvoor salueer ek hulle.
’n Waardevolle geleentheid tot kwaliteit- hoër onderwys is ons ontneem.
Afrikaanssprekende, jy is op jou eie.
Ek treur.
Danie van Wyk, Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak
"Afrikaans: Kom saam | Come along"-simposium by Sol Plaatje-universiteit: ’n onderhoud
Kommentaar
Danie van Wyk verwys na Zimbabwe en Ghana. Kenia kan hierby gevoeg word, met Swahili en Engels as die twee amptelike tale. Swahili word daar baie meer as Engels gebruik. 'n Wydverspreide opvatting by Keniane is dat hulle met Engels as amptelike taal hulle nie as bevry van kolonialisme kan beskou nie. Desnieteenstaande volhard die ANC-regering met die koloniale taal Engels as eintlik die enigste amptelike taal.
Op die betrokke datum waarop hierdie uitspraak gelewer is, was regter Edwin Cameron reeds verkies as die Kanselier van die Universiteit van Stellenbosch (met ingang Januarie 2020). Hy is dus deel van die Universiteit se establishment - die titulêre hoof van die Universiteit. In gewone taal, hy is die nommer 1 togadraer van die Universiteit.
Gelyke Kanse is in effek in litigasie met die Universiteit en die Universiteit se establishment.
Op watter basis het Gelyke Kanse 'n kans om suksesvol te wees as regter Cameron die regter is? In 'n sin besluit regter Cameron oor homself en dit wat hy verteenwoordig of gaan verteenwoordig. Hoe kan dit nie 'n botsing van belange wees nie? Hoe is dit moontlik dat hy homself nie gerekuseer het nie? Wat doen mens as die Grondwetlike hof nie basiese regsreëls nakom nie?
.
Die reenboog is rooi ja. Mugabe is 'n held onder ons eie politici.
Danie van Wyk as ervare opvoeder met eerstehandse kennis van die vorige sowel as die huidige onderwysbestel slaan die spyker op sy kop.Uitstekende uiteensetting van die werklike gebeure op grondvlak.
Die US en ander universiteite se besture wat gekapitalieer het vir die "Fees must Fall -bendetjie "het die armes ( veral bruin Suid-Afrikaners se kinders vir die wolwe gegooi.Mag die visie en implimentering van die verkose Taalbeleid van die US
in die praktyk en realiseer...anders gaan die toekoms van Veeltaligheid en respek vir die Grondwet ( Veeltaligheid) hulle eendag wreed oordeel.
Beste Danie, jy verwoord presies hoe ek voel! Baie dankie!
Engels is die algemene taal wat almal nodig het om oor die weg te kom in die wêreld. Die Afrikaners ook. Al die ander inheemse tale in die land, Afrikaans ook, moet die beste doen om hulle taal lewend te hou. Dit te praat, te skryf, te lees. Om Afrikaans as die grootste bate van die land voor te stel is om die taal voor te stel as belangriker as enige van die ander inheemse tale. Bloot om dit op onderwysvlak, spesiaal tersiêre onderwysvlak, aangebied word? Dis 'n klap in die gesig van enige van die ander tale in die land. Die geteem daaroor bewys die chip op die skouer, nog steeds, van die wit Afrikaner.
Evan, jy verdraai die skrywer se woorde en kom tot belaglike gevolgtrekkings. Die beroemdste Britste tydskrif, "The Economist" (wat sekerlik nie as anti-Engels beskou kan word nie), het op 23 Februarie 'n artikel gehad oor onderrig in Engels aan nie-moedertaal-sprekers. Omvangryke statistiek en navorsing het getoon dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word, beter vaar in Engels as kinders wat in Engels onderrig word! Dis veral in Indië die geval wat (soos Suid-Afrika) 'n meertalige land is.
Nee jy is verkeerd, dit gaan nie oor geteem nie, maar wel om die belangrikheid van moedertaalonderrig. Jy het tog Engels aangeleer dmv Afrikaans, of hoe?
As jy 'n taal as onderrigtaal doodmaak kan dit nie groei nie, want dit lewer dan nie meer 'n bydrae in die uitbreiding van kennis op alle gebiede nie. Afrikaans is die taal van 6,8 miljoen mense teenoor 4,8 miljoen Engels.
Die artikel deur Izak de Vries, dieselfde onderwerp sê baie beter wat ek bedoel het in my kommentaar. Lees dit asseblief.
Dit gaan oor hernude imperialistiese houding en glad nie of ABO oorgeveg word nie.
Afrikaans was nie amptelike taal tydens ABO nie, Afrikaans het eers na ABO as taal beslag gekry en is nog nie 100 jaar oud as amptelike erkende taal nie.
Jammer Bettina, jy sit pot toe feitlik heeltemal mis met jou analogie.
https://afrikaans.com/english/the-origin-and-history-of-afrikaans-afrikaans-has-a-story/
FC Boot, meer as 10 miljoen mense in Suid-Afrika praat isi-Zulu. Miskien moet dit die algemene taal van onderrig wees in die land.
Geldige beswaar lyk dit my!
Beste Danie,
Jy sê: “Afrikaans kon die voertuig geword het om dit te verwesenlik”.
Ek’s mal oor die woorde van jou. Dit vat jou tegelykertyd ver terug en ver die toekoms in. Wat op spel is is niks minder as die mense van die vasteland Afrika se vryheid nie; van hul eie kulture en daarteen in ons gedeelde moderne wêreld hul armoede en hongersnood nie.
As ons ‘n oomblik lank die olifant in die kamer in ag neem dan sien ons ‘n voorspoedige vasteland met ons as katalisator. Maar die wêreld sluk homself in die geval dronk aan olifant bloed, of hy is van meent of dronk net dors vir meer.
Die eerbaarheid van die reg in ons land staan van hierdie hofsaak af duidelik en deeglik in die kollig van verhoor gegewe AB Cilliers se feitelike kommentaar hier bo.
Daarvolgens is die manier waarop die regsbank in hierdie saak optree, dat hul een man toegelaat het om gelykertyd beide as regter en as gedaagde op te tree nie aanvaarbaar nie. Dat hul hom die leiding toegelaat of gegee het spreek miskien selfs van sameswering en boeke vol van minagting van die gereg en van lyf wegsteek.
Hierdie optrede is ‘n verdere hoofstuk van die slegte ou dae toe Afrikaans eers as swart skaap en sondebok se mêê die wêreld se uitverkorene gemaak is.
Het ons ‘n kans om hieroor ‘n saak voor die wêreld hof te lê?
Nie as die V.N. ‘n sê daarin het nie. Hul ore is as deel van hul fondamentlegging reeds teen Afrikaner stemme gesluit.
Is dit ons plig om hieroor ‘n saak voor die wêreld hof te lê? Ek voel dat dit is.