Verklaring deur Universiteit Stellenbosch: 10 Oktober 2019
Uitspraak in die Konstitusionele Hof
Konstitusionele Hof lewer uitspraak ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid
Die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom die eenparige uitspraak van die Konstitusionele Hof op 10 Oktober 2019 insake ons Taalbeleid, wat in 2016 goedgekeur is.
Die uitspraak sê duidelik dat ons Taalbeleid grondwetlik geregverdig is. Dit bevestig ook die doel van die Taalbeleid: om toegang tot die Universiteit en meertaligheid te bevorder, en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel te ondersteun.
Die Hof het ook bevind dat die proses wat die Universiteit gevolg het om die Taalbeleid te aanvaar, deeglik , omvattend en inklusief was, en dat daar behoorlike oorlegpleging plaasgevind het.
Die Universiteit neem kennis van die Hof se verwysing na die beskerming van minderheidstale. Buiten die gebruik van Engels, is die US verbind tot die gebruik van Afrikaans en isiXhosa. Dit is ook die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, die provinsie waaruit die meeste van die US se voorgraadse studente kom.
Die Hof het ook bevind dat die Taalbeleid nie daarop uit is om Afrikaans “op enige manier te elimineer” nie. Ingevolge ons Taalbeleid, bly ons verbind tot die gebruik van Afrikaans – tesame met Engels – as onderrigtale, in die konteks van inklusiwiteit en meertaligheid.
Dit is ook die US se ervaring dat die implementering van die Taalbeleid ’n bevestiging is dat daar aan die eis van meertaligheid voldoen word – ook wat betref die besondere plek van Afrikaans in onderrig, die administrasie en in die leefomgewing aan die US.
Die Taalbeleid ondersteun die bevordering van ’n transformerende studente-ervaring, een van die ses kern- strategiese temas van die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024. Deur die gebruik van meer tale word toegang en inklusiwiteit bevorder. Sowel Engels as Afrikaans word as onderrigtale gebruik – Engels sodat niemand uitgesluit word nie, en Afrikaans omdat daar steeds ʼn vraag na onderrig in Afrikaans is.
- Besoek www.sun.ac.za/taal vir meer inligting oor die US Taalbeleid.
- Klik hier vir die volledige uitspraak van die Konstitusionele Hof (saak CCT 311/17)
MEER INLIGTING
Hoe word die US se Taalbeleid toegepas?
Vir voorgraadse modules is Afrikaans en Engels die tale van leer en onderrig. Waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is, sal lesings afsonderlik in Afrikaans en Engels vir groot groepe aangebied word, maar tutoriale en praktika sal studente van albei taalgroepe weer in een sessie saamtrek.
In lesings waar Afrikaans én Engels gebruik word, word alle inligting minstens in Engels oorgedra, aangevul met ’n samevatting of beklemtoning in Afrikaans. Vrae word in dieselfde taal as die vraag beantwoord. Vir eerstejaarmodules sal intydse tolking gedurende elke lesing beskikbaar wees. In verdere studiejare sal tolking op versoek van die fakulteit voorsien word.
Voorgraadse lesings kan in een taal aangebied word net waar die aard van die leerstof dit regverdig, die dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem. Vir ten minste eerstejaarstudente sal intydse tolking na die "ander" taal beskikbaar wees.
Studente sal verder in Afrikaans én Engels ondersteun word deur konsultasies in kantoortyd; roetine-tutoriale en -praktika; inligtings- en kommunikasietegnologie ondersteunde leer (klank- en video-opnames); en die dienste van die US Taalsentrum.
Alle verpligte leesstof wat deur dosente geskep word (dws buiten gepubliseerde materiaal) sal beskikbaar wees in Engels en ook in Afrikaans. US-moduleraamwerke en -studiegidse is in Engels én Afrikaans beskikbaar. In voorgraadse modules word vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in Afrikaans én Engels opgestel, en kan studente alle assesserings en geskrewe werk in Afrikaans of Engels voltooi. Die meertalige model ondersteun Afrikaanse studente wat in hul eerste studiejaar nog nie Engels op ʼn akademiese vlak bemeester het nie. Ons vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente. Teen hul finale studiejaar sal studente in staat wees om nasionaal en internasionaal ook Engels mee te doen, waar dít die taal van besigheid en ander interaksies is.
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak
"Afrikaans: Kom saam | Come along"-simposium by Sol Plaatje-universiteit: ’n onderhoud
Kommentaar
Die taalbeleid is glo nie daarop uit om Afrikaans "op enige [!] manier te elimineer nie." Dit is gewoon nie die waarheid nie. Tans is Afrikaans in talle gevalle afwesig waar dit voorheen floreer het. Kom ons kyk hoe lank dit na dese neem voor die Universiteit Stellenbosch 'n eentalige Engelse universiteit is.
Afrikaans word as 'n onderrigtaal gebruik "omdat daar steeds 'n vraag na onderrig in Afrikaans is." Dat Jan Marais dit as 'n voorwaarde vir sy stigtingskenking gestel het dat Hollands/Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels mag inneem nie, word dus nie eens as 'n rede vir die voortgesette maar uiters beperkte gebruik van Afrikaans as onderrigtaal genoem nie. Iets wat nie weggeredeneer kan word nie en waaroor die US verkies om te swyg, is dat die US hoogs oneties met Jan Marais se stigtingsvoorwaarde omgaan.
Skynbaar is Jan Marais se geld goed gewees, solank dit gelyke geleenthede in Engels bevorder. Volgens skrywer is dit dan voorsetting van ABO...
Vir ons Afrikaanse "verregse" sprekers wat selfbestuur bevorder, voel Blade 🔪 Nzimande blykbaar hy moet Afrikaans vanuit ons kloue red...?