US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

  • 6

Op 10 Oktober is uitspraak in die Konstitusionele Hof gelewer ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid. Lees die volledige uitspraak hier. Izak de Vries reageer.

So, ons land se hoogste hof het Gelyke Kanse se aansoek teen die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid uitgegooi. Ek is nie ’n regskenner nie en sal geensins op die fyner aspekte van die reg probeer ingaan nie. Hierdie saak is op tegniese gronde geveg en al hou ek nie noodwendig daarvan nie, glo ek dat die regbank tegnies die saak oordink het en daarvolgens gehandel het.

Dus?

Dalk moet ons heeltemal anders kyk. Dalk moet ons nie bloot na Afrikaans kyk nie. Dalk moet ons verder kyk.

Ek is van beroep ’n uitgewer. Nie baie lank gelede nie is my beroep onder die loep geneem hier in Afrika.

Op 13 en 14 Junie 2019 het 200 mense uit 40 lande in die Movenpick Hotel in Nairobi, Kenia vergader. Dit was die tweede keer dat die Internasionale Vereniging van Uitgewers ’n konferensie in Afrika gehou het.

Die 81-jarige Ngugi wa Thiong’o het die amptelike openingsrede gevoer. In Engels het hy gesê: “English was the language of glory, while African languages were the languages of gory.” Hy moedig uitgewers toe aan om meer boeke uit te gee in Afrika se eie tale. “If Iceland, with 300 000 people, can sustain literary culture, why not Africa, where there are 40 million speakers of Yoruba, or 60 million Hausa, and 100 million speaking Swahili?” was sy vraag aan die uitgewers.

Bodour Al Qasimi, die ondervoorsitter van die vereniging, is vlot in Swahili. Sy het ’n indrukwekkende paar sinne in Swahili gesê, maar toe oorgeslaan na Engels en gesê Afrika is “one of the most widely misunderstood regions in the world and also one of the most under-represented regions in global literature and culture”.

Gaaf. Wat het dit met Stellenbosch te doen?

Alles.

Kom ons bepaal ons by die laaste paar sinne deur Al Qasimi. Afrika is nie teenwoordig in die groot wêrelddebatte of -letterkundes nie. Ja, daar is name soos Ngugi wa Thiong’o, Zakes Mda, dalk selfs Deon Meyer, wat raakgesien word. Hoeveel wenners van die Nobelprys vir letterkunde het egter in Afrikatale geskryf? Ek weet nie van een nie.

Kimani Njogu het tydens ’n werkswinkel, ook in Nairobi, ’n paar dae ná wa Thiong’o se lesing só gereageer: “It needs a larger, government-involved ecosystem. Local-language books are hardly visible. Local bookshops rarely stock them. There are a lot of local-language manuscripts and writers but few willing publishers due to the costs involved.”

Hier lê die antwoord. Ekosisteme vir ons tale.

Njogu sê sonder ’n ekosisteem vir inheemse tale gaan ons hulle nie koester nie; dan gaan studente nie daarvoor vra nie.

Hoe anders sou ons land daar uitgesien het as #RhodesMustFall by die Universiteit Kaapstad vervang is deur #Sifuna-isiXhosa!

By UKZN sou ons dan oproepe van #Sifuna-isiZulu gesien het.

As dít gebeur het, sou daar dan genoeg studente wees wat #OnsSoekAfrikaans wou skree.

Die koue feit is egter dat nie genoeg mense op Stellenbosch of in Kaapstad of Johannesburg aangedring het op inheemse tale nie. Nie op Afrikaans nie. Nie op Zoeloe nie. Nie op Venda nie.

Wat my bring by Ngugi wa Thiong’o se uitdaging aan mý beroep: Gee uit in Afrikatale. Wel, ons het al. Ek het al by verskeie maatskappye boeke in Afrikatale uitgegee. Ek het persoonlik Amathol' eendaba en Ikhelwo lityala van prof Peter Mtuze uitgegee en was betrokke by talle vertalings na Afrikatale.

Daardie boeke verkoop egter nie. Hoekom nie? Want ons het geen ekosisteem daarvoor nie. Rwanda se regering koop op groot skaal handboeke aan. In Suid-Afrika? In Suid-Afrika word uitgewers gedreig as ons vrae vra oor waar die geld heengaan wat geoormerk word vir boeke.

Nogeens sou ’n mens dus moet vra: As die regering nie wil help nie, wat van ander opsies? In Suid-Afrika het ons inisiatiewe soos die FunDza Letterkundetrust wat ongelooflik goeie werk doen, maar in Nigerië word selfone gebruik om boeke te publiseer en te verkoop. Chidi en Chika Nwaogu, ’n Nigeriese tweeling, het ’n digitale platform genaamd Publiseer geskep. Hulle gee boeke uit in die inheemse tale van Nigerië. Mense koop dit en die uitgewers betaal tantieme. Dit werk.

Dus?

Dalk moet ons, soos in Nigerië, nie na die regering kyk nie. Die Afrikaanse boekbedryf word deur privaatgeld aangedryf. Afrikaanse boeke vaar steeds baie goed – ver beter selfs as Engelse titels in Suid-Afrika. Afrikaans het nog ’n ekosisteem; een wat tans nog Afrikaanse boeke en musiek aan die lewe hou. Ons ekosisteem is egter nie sterk genoeg om ’n kritieke massa te skep van mense wat daarop aandring om in Afrikaans te studeer nie, daarom gebeur dit nie. Die akademiese uitgewerye in Afrikaans is ook morsdood. Dele van ons ekosisteem is reeds dood, maar ten minste het ons een.

Nou vir die olifante in die ekosisteme: Juis omdat Afrikaans nog ’n klein, immer krimpende ekosisteem het wat deur privaatgeld aan die lewe gehou word, kan ons uit ’n bevoorregte posisie sien dat ander inheemse tale se ekosisteme totaal verkrummel.

In Ysland word ander tale se ekosisteme nie bedreig deur hulle eie ekosisteem nie.

In Suid-Afrika was Afrikaans se ekosisteem dekades lank kunsmatig vergroot en dit het ernstige skade aan die ander tale se ekosisteme veroorsaak.

Ons jongmense sien dit. Ons jongmense verstaan van bevoorregting. Hulle wil versoen.

Dalk moet elke Afrikaansspreker begin moeite doen om ’n ander taal te begin omarm en te lees. Ek praat nie van Duits nie. Ek sê Afrikaanse mense moet begin vra vir boeke en klasse in Zoeloe, of Xhosa, of Sotho.

Afrikaans se toekoms lê in die beskerming van ander tale se ekosisteme.

Die dag as genoeg Zoeloes begin aandring op tersiêre onderrig in Zoeloe, die dag as Kaapstad se kampus dreun van ’n aandrang op Xhosa, die dag as die Universiteit van Venda in Venda gaan klasse aanbied, daardie dag gaan Afrikaans ook weer terugkeer na klaskamers.

As Afrikaans ons kwynende ekosisteem wil red, moet ons ander tale se ekosisteme help voed.

Ons moet veeltalig dink.

Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit is noodsaaklik.

Persverklaring: Konstitusionele Hof lewer uitspraak ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se Taalbeleid

Konstitusionele Hof wys weer hy dien Engelse kolonialisme: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

Gelyke Kanse: ’n onderhoud met Philip Spies

Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch

  • 6

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Ek sou eerder voorspel: As die Zoeloes op Zoeloe, die Xhosas op Xhosa en die Vendas op Venda as universitere onderrigtaal sou aandring, sou die eens Afrikaanse universiteite, met die Universiteit Stellenbosch - soos hy tans daar uitsien - aan die voorpunt, wat Afrikaans betref, se: Nooit weer nie.

  • Interessante ideaal en iets vir opvoedkundiges om aan te kou en wat selfs op Stellenbosch wat voorgee dat hulle veeltaligheid voorstaan, ontwikkel en ondersoek kan word.
    Dit is mos een van die redes van 'n "wereldklas universiteit?" Die viering van Diversiteit.
    Die aanleer van ander se tale is die vertrekpunt na vredeliewende naasbestaan....oral.

  • Pedro Jooste.

    Ja maar wat van die Afrika taalverbruikers se eie bydrae. Hulle het nie hul eie skrif ontwikkek nie. As hulle self nie wil bydra aan hul eie taalgebruik nie hoekom moet ander? Ons mense het self finansieel bygedra en ons eie taal ontwikkel. Ons voorvaders het hier met Nederlands aangekom. Ek glo as jou taal vir jou belangrik is, moet jy as gebruiker dit self ontwikkel. Anders is dit ’n mors van tyd vir enigeen om oor te ontferm. As ons taal groei, is dit oor ons eie wil. Wat doen Afrika vir hulle eie tale, die kinders word toegelaat om te kies. Hulle leer eerder in Engels maar vertrap leerstandaarde. Daarom ontwikkel hulle eie skryftaal nie.

  • Die Grondwetlike Hof het bevestig dat die druip van Nguni sprekers ok is. Net solank Afrikaans sprekers gestraf word. Afrikaans 'n minderheidstaal in 'n provinsie waar die meerderheid Afrikaans praat? Sal die ander 22 universiteite ook voorsiening maak vir Afrikaans sprekers? Nooit. Die politiek van diskriminasie sal dit nie toelaat nie. Ons moet onsself regeer om regverdigheid na te volg. Wonder hoeveel weet dat daar meer migrante kinders in die laerskool stelsel is as plaaslike inboorling Afrikaans praters? Dis massamoord op alle vlakte op die Kaapse Vlakte.

  • spook speurder

    Izak jy trek ligkastele uit die donker. Lees Pedro Jooste se kommentaar. Hier was g'n ekosisteme behalwe vir tale by monde van gespreekte woorde nie. Jy is verkeerd om Afrikaans te beskuldig soos:
    "In Suid-Afrika was Afrikaans se ekosisteem dekades lank kunsmatig vergroot en dit het ernstige skade aan die ander tale se ekosisteme veroorsaak.
    Ons jongmense sien dit. Ons jongmense verstaan van bevoorregting. Hulle wil versoen."
    Ek stem nie saam nie, nog dat as daar ekosisteme was hul kunsmatig onderdruk is, nog dat jongmense bloot versoening soek. Hul soek eerder waarheid.
    As jy wat Afrikaner is hand in eie boesem plaas wat kom daar uit? Haat? Nee.

    Selfs daaroor dat:
    “Afrikaans se ekosisteem dekades lank kunsmatig vergroot” is stem ek nie noodwendig saam nie. Kyk wat het sekere kragte in 1976 in Soweto uitgevoer toe probeer is om net twee skool vakke van Engels na Afrikaans oor te plaas.

    Jy is nie net verkeerd nie maar gooi nog 'n lepel vals getuie as skade op ons.
    Weet jy waar oral in daardie tye universiteite gebou is, vir eie tale onderrig?

    Kultuur inmenging is nie regerings se doel nie. Hul doel is wel om gelykheid onder die wet toe te pas. Sien jy enige teken daarvan? Kulture kom en sien self klaar en daaruit verrys regerings. Dat die gehate Afrikaners uit hul pad vir ander gegaan het is versmoorde kennis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top