Aanvaar Afrika(ans) aan die US

  • 27

Lia Snijman (foto: MatieMedia)

Die Universiteit Stellenbosch (US) was weer eens in die hof as gevolg van hul taalbeleid, hierdie keer omdat Gelyke Kanse voel dat die taalbeleid diskriminerend is teenoor Afrikaans en die mense wat dit praat. Ek glo dat die rede hoekom die US so gereeld in die hof is oor hul taalbeleid, is dat die twee keuses waartussen hulle weifel, albei slegte keuses is.

Ek baseer my menings op die studie van taalbeplanning. Robert A Hall het in 1951 daarna verwys as “glottopolitics”, so ja, daar gaan oor die politiek gepraat moet word.

Alhoewel die nuwe Grondwet voorsiening gemaak het vir 11 amptelike tale, sien ons nie dat dit juis veel in die praktyk toegepas word nie. Dus is die stryd met veeltaligheid nie ’n probleem wat net die US het nie, maar die US is wel ’n baie goeie voorbeeld daarvan en het die hulpbronne om dalk sukses te behaal met hul taalbeleid.

Die eerste keuse vir die US, en die een wat Gelyke Kanse voorstaan, is om terug te gaan na die gebruik van Afrikaans en Engels (met Xhosa vir kommunikasie- en seremoniële doeleindes). Dit is ’n slegte idee, omdat dosente ook net mense is en soms vergeet om al hulle stellings van Afrikaans in Engels te vertaal.

Daar is sommige dosente wat daarop aandring dat hul studente van die vertalingsdienste gebruik moet maak, maar dit is soms prakties baie moeilik om te gebruik. Sulke gebeure kan studente wat nie Afrikaans verstaan nie, uitgesluit laat voel. Gevoelens van uitsluiting moet nie ligtelik opgeneem word nie, want dit is baie moeilik om tuis te voel en jou moed te behou terwyl jy studeer as jy voel asof jy nie heeltemal deel is van die universiteit waaraan jy studeer nie. Universiteit is klaar moeilik genoeg sonder dat die taalbeleid jou ook nog pootjie.

’n Groot argument vanaf die groepe wat Afrikaans wil behou, is dat die Grondwet voorsiening maak vir al 11 ons amptelike tale en hul gebruik. Dit ignoreer egter die feit dat geen ander Afrikatale gebruik kan word in ’n akademiese konteks aan die US (of enige ander universiteit in Suid-Afrika) nie.

Ek stem wel saam dat ons al 11 ons amptelike tale behoort te beskerm en behou, dus glo ek ook dat om slegs Engels te hê aan die US ’n slegte idee is. Die hegemonie van Engels is sleg vir alle ander tale in Suid-Afrika.

Neville Alexander

Moet my nie verkeerd verstaan nie – Engels is ’n fantastiese lingua franca in Suid-Afrika. Veral vir ons wit mense wat steeds nie ’n Afrikataal kan praat nie. Ek loop graag in Engels klas, want ek verstaan dit op ’n huistaalvlak en ek beplan om eendag, ten minste gedeeltelik, in Engels te werk.

Dit is egter nie die geval met alle Afrikaanssprekendes nie. Daar is mense wat werklik sukkel om op ’n akademiese vlak in Engels te kommunikeer, of selfs net nie hul beste werk lewer in Engels nie. Om mense nie die kans te gun om op hul beste te presteer nie, veral wanneer die hulpbronne daar is, is ’n sonde.

Wat dan van dié wat ook dalk sukkel met Engels op ’n akademiese vlak, maar wat nie Afrikaans as hul huistaal het nie en wat ’n taal praat met veel minder hulpbronne? Of wat van dié wat wel Afrikaans as hul huistaal het, maar hul dialek word nie as akademies gesien nie?

Wat kan ’n mens dus nou doen? Ek is gelukkig nie net hier om te kla nie, maar ook om ’n oplossing voor te stel.

Eerstens moet die ontwikkeling van Afrikatale geprioritiseer word. In die geval van die US behoort dit Xhosa te wees. Ek weet dat die US dit al begin ontwikkel het, maar dit word nog glad nie as so ’n belangrike doelwit gesien nie. Ek onthou in my eerste jaar van Antieke Kulture het ons ’n lys met van die antieke gode se name en ander terminologie in Xhosa ontvang, maar verder sien en hoor ek Xhosa aan die US net in e-posse en tydens seremonies vir so ’n paar sinne.

Hoe dan gemaak met taalhulpbronne vir Xhosa? ’n Mens kan nie eens laerskool klaarmaak in Xhosa nie. Mense glo dat omdat daar nie die hulpbronne is nie, niks gedoen kan word nie.

Afrikaans was egter ook aanvanklik nie ’n taal wat akademies gebruik kon word nie. Mense het gelag vir die idee van Afrikaans in formele of belangrike situasies gebruik, byvoorbeeld in die kerk – dit was dan mos ’n kombuistaal? Genoeg mense het egter wel omgegee oor die taal, dus het daar sosiale en ekonomiese steun daarvoor ontstaan sodat dit kon ontwikkel.

Wyle Neville Alexander, ’n bekende taalbeplanningsakademikus, het genoem dat Afrikaans die hulpbronne en voorregte het wat gebruik kan word om Afrikatale te bevorder en bemagtig. Party mense sal vra hoekom ons moet help – ons het dit dan self gedoen; mense moet vir hul eie taal pa staan.

Dit ignoreer egter die feit dat Afrikaans ontwikkel is ten koste van ander tale. Die apartheidsregering het net die politieke wil gehad om Afrikaans te befonds en het doelbewus ander tale agtergelaat, want hulle het die belangrikheid van moedertaalonderrig verstaan.

Kwesi Kwaa Prah (https://www.litnet.co.za/challenge-language-post-apartheid-south-africa/)

Ons kan nie verwag dat Xhosa dieselfde tipe ondersteuning sal ontvang vanaf die huidige regering nie. Soveel as wat ek nie hou van sekere dinge wat die huidige regering doen nie, moet ek noem dat ek innige simpatie vir hulle voel met die taalkwessie. Die apartheidsregering het die meeste van die land se bevolking en hul behoeftes bloot geïgnoreer. Hulle het ook net twee amptelike tale gehad om na te kyk, terwyl die ANC nou 11 het. Boonop sit die ANC met ’n sisteem wat gemaak was om slegs wit mense te baat.

Of jy nou ’n NP-ondersteuner, ’n “freedom fighter” of iets tussenin was, jy en jou taal het gebaat by die onderdrukking van ander tale. Dus voel ek dit is ons morele plig om daardie tale en hul mense te help.

Wat dan van die ander dialekte van Afrikaans? Daar word gereeld gepraat oor hoe daar meer bruin sprekers van Afrikaans is as wit sprekers, veral wanneer Afrikaanse belangegroepe probeer om nie rassisties te lyk nie. Tog hoor ek nooit hoe daardie groepe praat oor die herstandaardisering van Afrikaans nie.

Ek praat van meer as net “kanalla” deelmaak van die AWS (Afrikaanse woordelys en spelreëls); ek praat van ’n herstrukturering van ons taal. Daar is drie groepe van Afrikaans: Oranjerivierafrikaans, Kaaps en Oosgrensafrikaans (ook bekend as Transvaalse Afrikaans). Tog is net die (witter) Oosgrensafrikaans deel gemaak van Standaardafrikaans, want dit was die enigste dialek met politieke ondersteuning. Standaardafrikaans is dus nie gekies op grond van suiwerheid, gesofistikeerdheid of enigiets anders nie, maar bloot op grond van ras. Alexander noem in sy akademiese werk dat Afrikaans mense kan verenig, ontslae raak van die taal se onderdrukkerstigma en alle Afrikaanssprekendes bemagtig indien dit herstandaardiseer word.

Al my argumente beteken wel niks indien moedertaalonderrig vanaf ’n laerskool- en hoërskoolvlak nie verbeter word nie, asook as die werksomgewing nie verander nie. Alexander het gesê: “[U]nless African languages are given market value, [no] amount of policy change […] can guarantee their use in high-status functions and, thus, eventual escape from the dominance and hegemony of English.”

Kathleen Heugh, nog ’n akademikus van die taalbeplanningsveld, skryf in haar akademiese werk oor hoe taal nie meer as ’n reg gesien moet word nie, maar as ’n hulpbron. Dit kyk na tale op ’n emosionele en funksionele vlak, nes Alexander aanraai, en gee dus sodoende daaraan veel meer waarde.

Kwesi Kwaa Prah se universiteitseminaar “The challenge of language in post-apartheid South Africa” noem hoedat die sowat 80% van Suid-Afrika se bevolking wat ’n Afrikataal praat, nie glo dat hulle taal ’n taal is wat hulle in die lewe gaan help of bevorder nie. Ek dink dit is ’n baie hartseer toedrag van sake.

Afrikaanssprekendes moet mooi gaan kyk na Afrikaans en die geskiedenis daarvan. Ja, dit kom van Nederlands af, maar ons kan nie die invloed wat Afrika op ons taal gehad het, miskyk nie. Dit is tyd dat ons weer eer bring aan hierdie vasteland wat ons taal help vorm het en dat ons ons deel doen om haar ander kinders ook te help.

Anders is ons in elk geval besig om aan ’n stagnerende en binnekort dooie taal vas te klou. Ek weet nie hoe jy voel nie, maar ek is lief vir Afrikaans en ek glo dit is die beste pad vir Afrikaans, en die res van Suid-Afrika, om ons hulp aan te bied en aan te pas.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

The challenge of language in post-apartheid South Africa

Gelyke Kanse-persverklaring: Konstitusionele Hof-toetssaak oor taal

Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch

Gelyke Kanse: Afrikaans, die sondebok

Gelyke Kanse: ’n onderhoud met Philip Spies

  • 27

Kommentaar

  • Die "herstandaardisering" praatjies moet nou regtig end kry, want dit is loutere twak. Dit kom voor asof die mense wat dit voorstaan (wat op aarde die term ook mag beteken, niemand weet nie - 90-95% van Afrikaans se woordeskat is na raming Germaans (Nederlands) - dit is onweerlegbaar waar dit vandaan kom-, nieteenstaande fantasieë wat opgediep word !); en dit is my oogpunt; die "herstandaardisering" praatjies - wat merendeels van die "elite" (lol) Stellenbosch establishment afkomstig is (in die Noorde hoor jy niks daarvan nie, met goeie rede!) - gebruik in 'n poging om Afrikaans WEEREENS by politiek in te trek vis a vis Blankes teenoor Bruines - Hoekom nie Afrikaanses nie?!! Waarom nie verenig staan agter ons juweel nie?! Wat is fout met Afrikaan?s! (gaap, die ou storietjie met ons geliefde taal)

    Die liberales (die Kapenaars) sal nie stop nie voordat alles "getransformeer" (lees: vernietig) is nie.

    Los uit my Taal, of maak reg vir 'n groot baklei, verdeeldheid en meer tweedrag en moontlike taal-afskeiding. Afrikaners uit die Noorde gaan gewis nie net staan en toekyk hoe ons pragtige taal vernietig word nie!!

  • In verband met skrywer se mistasting van Afrikaans wat kwansuis in die binnebaan geplaas sou word deur die ou regering en dat slegs aandag aan die ontwikkeling daarvan gegee was: gaan lees asseblief eers Hermann Giliomee se werk, waar dit duidelik gemaak word dat Afrikaans nooit voorgetrek was nie MAAR dat die gelykstelling van Afrikaans met Engels en die bevordering daarvan juis (in die nasleep van die Tweede Vryheidsoorlog - wat vandag nog met ons is) - JUIS 'n ononderhandelbare voorwaarde vir Suid-Afrika se voortbestaan en stabiliteit was.
    Tweedens, na 'n KWARTEEU se "demokrasie" ('n godskreiende eufemisme) - kan daar met die BESTE bedoelings NIE geargumenteer word dat swartes in die algemeen ooit begaan was, of is, met die ontwikkeling en vooruitgang van hul onderontwikkelde tale nie. Om op tipies bedrieglike, "joernalistieke" (is daar nog een van hulle wat eerlik en opreg is en nie bedrieglik optree nie?) wyse (soos die media se "ou laai" is) die skuld hiervoor (soos skynbaar alles) voor die deur van die NP regering te plaas; is die grootste leuen van alles.
    Skrywer sal goed doen om haar te vergewis van Giliomee se uitstekende insigte, navorsing en skrywes; en op te hou om na alles deur 'n verdraaide en skewe liberaal-progressiewe (misplaaste en naïef idealistiese) lens te kyk.

  • Die gronde waarop die argumente uiteengesit in hierdie artikel berus, en die misplaaste aannames daarin, herinner my mooitjies aan hoe die geëerde geskiedkundige en skrywer, Dan Sleigh, op hierdie selfde blad die historiese verdraaiinge (ook bekend as die gewilde anti-Afrikanergesinde linkse en Engelse media en establishment narratief) en opportunistiese gebruikmaking van die amandelheining in die Kaap tereggewys het en met feite en kennis die propaganda waarde daarvan vir linksgesindes en simpatiekgesindes van kommunisme afgewater het tot FEITE en REALITEIT, nie misplaaste IDEALISME nie.(terloops, ek lees die ander dag weer Brink se "Die Kreef Raak Gewoond Daaraan", en wrintiewaar, hy raak dieselfde twak daarin kwyt, ofskoon dit maar net 'n roman en derhalwe fiksie is). Dankie.

  • Barend van der Merwe

    Suid-Afrika se sogenaamde 11 amptelike tale is 'n klug. Reenboogisme het net een taal en dit is Engels. Die Grondwet se voorkrif van 11 amptelik tale is maar net 'n simboliese gebaar. In die praktyk is dit niksseggend. Die reg tot toegang tot onderwys en opleiding word deur die Grondwethof as 'n belangriker reg gesien as die reg op moedertaalonderrig. Afrikaanse skole verwyn al meer, en die realiteit begin stadig insink dat die taal werklik onder druk is. Aanvanklik is dit ontken deur te wys op die groot aantal musiek, kunstefeeste en boeke wat nog in Afrikaans verskyn. Vandag word dit duidelik dat al minder mense die taal nog deeglik kan skryf of lees.

    Dit lyk vir my onafwendbaar dat Engels die voorland is. Afrikaans sal dalk nog in Orania bietjie oorleef.

  • Vergewis jouself asseblief van die feite- Maroela Media het verlede maak 3 miljoen unieke besoekers (lesers) ontvang. Sal jy dit as stagnasie karakteriseer?

    Miskien is Afrikaans besig om by liberales te kwyn...jip, dis die antwoord!

    Jou kommentaar is bedoel om uit te lok, dit werk nie, en skep nie 'n baie goeie indruk nie.

    Waarom doen jy nie iets om by te dra in pleks van om (oënskynlik) te mor en te kla en doemprofeet te speel nie, soos om bv. artikels by te dra tot die Afrikaanse Wikipedia? (die mees vinniggroeiende - waarvan die kwaliteit van die artikels as die beste in Afrika gereken word - "Afrika" Wiki-weergawe)

  • Barend van der Merwe

    Dis maar 'n hartseer dag wanneer die trefslae van Maroela Media as maatstaf gebruik word vir die stand van Afrikaans. Ek lees Netwerk24, wat ook nogals duisende subskripsiehouers het, en selfs Netwerk24 kan nie kersvashou by van die Engelse publikasies nie. Die probleem is dat die wette nie meer in Afrikaans gemaak word nie. Daar word nie meer so baie akademiese navorsing en formele studies in Afrikaans gedoen nie. Die uiteinde is wat ons sien, - al minder mense kan die taal nog spel volgens die reels van die Akademie van Wetenskap en Kuns. Vir Wikipedia het ek beslis nie tyd nie. Skiet my so 3 of 4 miljoen voor, dan skryf ek graag elke maand vir jou 'n artikeltjie op Wikipedia. Ek gebruik self nie juis Wikipedia nie. Ek kan nie sien hoe Afrikaans se posisie gaan verbeter nie. Dalk in Orania maar Suid-Afrika is op die pad na Engels. Dit is die keuse wat mense voor my gemaak het by die onderhandelingstafels in Kemptonpark. Die mense voor ons het 'n Engelse land gekies. Nou sit ons met die Engelse land. En sterkte as jy dink dat nuwe Wikipedia artikels die taal gaan spaar.

  • Barend van der Merwe

    Hierdie praatjies van "herstandarisering" gaan nie verdwyn nie. 'n Minderheid binne die Afrikaanse gemeenskap het die sogenaamde reels gemaak vir die meerderheid. Dalk moet die spulletjie maar die 'n ordintlike Boerekerk maak en dramaties skeur. Dies wat wil herstandardiseer maak dan so, en die ander klomp kan aan die ou standaarde hou. Soos die kerke, waar een klomp gays wil trou en ander klomp dit nie wil nie. Elkeen kan mos maar maak soos hy smaak. Dit is 'n magstryd en soos hulle altoos seg, all is fair in love and war.

  • Jy's maar baie pessimisties Barend, ek hoop vir jou onthalwe dat iets kan gebeur wat jou weer hoop kan gee.

  • Dit is nie die aantal trefslae nie Barend, dit is die aantal unieke besoekers per maand. M.a.w. jou besigtiging word net een keer getel, al keer jy hoeveel keer daarna weer terug na Maroela Media gedurende die maand. So ja, anders as wat jy beweer, is dit groot nuus en rede om positief te voel. Afrikaans is ook een van die min tale wat deel tans uitmaak van Google ("Goelag" vir my) se nuwe rewolusionêre outomatiese herkennings-tegnologieë (sien artikel op MM deur Alana Bailey van Afriforum). Is dit 'n taal wat 'n inkrimping beleef? Allermins! Die joernalistieke standaarde op MM is, ander as die bedrieglike HSM, van uitstekende gehalte en onpartydig, met 'n veelheid van skrywers, van die liberale Leopold Scholtz tot die meer gematigde Herman Toerien, en ander skrywers wat meer konserwatief is. Rhoda Kadalie skryf gereeld ook artikels, asook akademici soos Prof. Koos Malan en Prof. Danie Goosen. Daar is ook 'n "jong stemme" afdeling wat 'n stem aan die jongere geslag gee. Baie gebeur daar, jy kan jouself gerus 'n guns doen en meer tyd daar spandeer...ewenwel, dis jou keuse.
    Die Afrikaanse Wikipedia IS van goeie gehalte en groei elke dag. Ek beskik nie oor drie of vier miljoen Rand nie; maar tog probeer ek elke dag 'n verskil maak, van artikels oor Komponiste tot pianiste, dirigente, violiste ensomeer (kyk dit uit!)
    Die verskoning dat ons weg vir ons gebaan is deur die lamsakke tydens die "onderhandelings" gaan nie op nie. Die probleem lê eerder by 'n ondermynende en oikofobetiese houding onder 'n paar Afrikaners, en dan veral ook die "akademici" wat ter will van politiese korrektheid hul taal verraai, maar daaraan werk ons ook (sien Akademia) Ons het immers 'n wil, ons kan 'n verskil maak indien ons wil sterk genoeg is. Ons waag nie vir een oomblik handdoek ingooi nie!
    Ek wil net byvoeg dat dit derhalwe onsin sal wees om nie voort te gaan om ons juweel 'n kans te gee nie.
    NS: dit is baie belangrik dat jy Professor Laurette Pretorius se briljante artikel lees oor hoe belangrik en onmisbaar Wikipedia regtig vir Afrikaans se toekoms is, dit, hoop ek, sal jou in die verband tot nuwe insigte bring.
    Jy is veels te pessimisties man; terwyl daar op Afrikaners se erfenis en ons westerse erfenis en nalatenskap jag gemaak word soos wraaklustige jagters agter 'n mensvreter leeu aan, is dit nog veels te vroeg (en misplaas) om tou op te gooi en mismoedig te raak oor Afrikaans en sy ontwikkeling en groei. Boonop toon syfers aan dat daar 'n groot begeerte en aanvraag onder veral swart immigrante in Gauteng bestaan om in Afrikaans en in 'n Afrikaans omgewing skool te gaan, geen wonder Lesufi die Edele Lord Milner blaas so vuur nie! Die toekoms is blink!
    #Afrikaans 2025

  • Barend van der Merwe

    Dit is nie 'n saak van emosie, van optimisme of pessimisme nie. Nie vir my nie. Dis 'n saak van realisme. En ek is al gewoond daaraan dat my opinie as dislojaliteit beskou word. Ek geniet my taal maar ek lewe nie in 'n droomwereld nie. Afrikaans is vandag in die posisie waar Khoi en San se tale is. En wat het van daardie tale geword. Die sosiolinguistiek het dit tot vervelens toe bewys - neem die politieke mag weg van 'n taal, en daardie taal verdwyn.

  • Barend, logies beredeneerd gesien, en sonder emosionele argumente; is Afrikaans 'n uiters nuttige, ontwikkelde en wetenskaplike taal, wat in talle terreine van die lewe gebesig word. Met respek teenoor die Nama mense en so aan, die Khoi en San tale is dit nie en was dit nooit nie.

    Oksitaans floreer nog, alhoewel dit ook al 'n insinking beleef het, maar steeds floreer dit, omdat dit 'n ontwikkelde taal is. Waarom nie Afrikaans nie?
    Dit is die groot onderskeid. Was ons taal nie ontwikkeld nie, was ons in die moeilikheid, andersins huldig ek nog steeds 'n positiewe uitkyk.

  • Johannes Comestor

    Lia Snijman het 'n verwronge siening van apartheid en die geskiedenis van Afrikaans. Haar standpunt word gevoed deur haar sug na politieke byderwetsheid. In weerwil van sy Engelse naam, het Charles die moed van sy oortuiging om moeite te doen om vir Afrikaans in die bres te tree. Ten spyte van sy onmiskenbaar Afrikaanse van, versaak Barend van der Merwe sy moedertaal, Afrikaans, in die waan dat sy benadering realisties is. Eintlik is sowel Snijman as Van der Merwe slagoffers van polities gemotiveerde propaganda.

  • Barend, ek meen Afrikaans verskil in geen opsig van tale soos bv. die genoemde Oksitaans, Tsjeggies, Hongaars, Slowaaks of Georgies ens. nie. Die tyding is in elk geval besig om teen globalisme en daarmee saam die oorheersing van Engels te draai en indien die onderdrukkende ANC regime vir een oomblik dink hulle gaan in isolasie, en sonder dat daar uiterste simpatiekgesindheid jeens Afrikaans (dink: die Vlaminge!) gekweek word - soos wat Europa ook uit sy sluimeringe geruk word - Afrikaans mooitjies uit die weg ruim, MAAK HULLE 'N REUSE FOUT.

  • Barend van der Merwe

    Akademia is interessant. Ek hoop hulle kwalifikasies word goed aanvaar. Dit sal Afrikaans baie help indien Akademia aanvaar word.

  • Barend van der Merwe

    Hoeveel van Maroela Media se klikke is moedertaalsprekers van Afrikaans? Mense lees Afrikaans net om maar te sien wat word geskryf. Uit nuuskierigheid. En hoeveel mense sit oorsee? Buitelanders wat Afrikaans verstaan. Dokters wat emigreer het. Daar gaan nou weer baie vlug weens die NHI. Nee wat Maroela oortuig my nie. Wikipedia ook nie. Ek wil weet hoeveel skole en hoeveel universiteite daar nog is voor ek juis opgewonde sal raak.

  • Barend, indien enigeen van oordeel is dat die "NGV" (eufemisme vir Nasionale Afro-gebaseerde Kommunisme) in sy huidige ongrondwetlike formaat (reg om vrylik die bedryf en beroep van jou keuse uit te oefen, reg op privaatheid, reg om vryelik 'n privaatpraktyk/hospitaal sonder regeringsinmenging te bedryf en reg om wins in 'n vryemark te maak, reg op eiendom [die staat kan immers nie sommer net proklameer: die privaat hospitaal, bv. Eugene Marais in Pretoria is sommer mooitjies nou 'n regeringsinstansie (sommer net so!) en basta met die res nie, reg tot vrye assosiasie en reg op vrye uitoefening van oortuiging en gewete, reg op liggaamlike integriteit!!!) - of in enige formaat - sal slaag en nie hand en tand beveg gaan word nie - (selfs deur die *rooi brigade* - sien berig gister op MM - hulle is van oordeel (dank die Here! Is dit 'n wonderwerk?) dat die nasionale gesondheidsdiens EERS verbeter en reggeruk moet word voordat daar selfs aan so iets gedink kan word) - is hulle erg verwaand.

    Betreffende "her-standaardisering" - ek IS GLAD nie teen die inbring, en status verlening aan unieke en oulike Afrikaanse woorde vanuit ander dialekte of variëteite as deel van die standaardvariëteit van Afrikaans (SvA) nie- wat ek glad nie kan hanteer nie en wat my boos maak - is wanneer woorde gebruik word wat duidelik as mengeltaal en Engels kwalifiseer (daar word voorgegee dat dit Afrikaans is maar dit, is dit glad nie) en nie as Afrikaans nie.

    Veral die Oranjerivier-Afrikaans het die oulikste uitdrukkings en selfskeppings in Afrikaans (wat verdien om deel van die SvA gemaak te word- sien bv. Hans du Plessis se Griekwapsalms - wat 'n ereplek in elke Afrikanerhuis beklee - en in elke Afrikaans huis moet beklee) wat bygewerk en deel van die SvA gemaak moet word, maar die sogenaamde Kaaps is vervuil van woorde en uitdrukkings wat nie Afrikaans is nie maar eerder kroolse Kaapse Engels is. Ek se weer, dit kan nie met die beste wil op aarde as Afrikaans kwalifiseer nie, Nama, Griekwa en Oranjeriver-Afrikaans wel.

    Wat van belang hier is, is die begrip " Afrikaanse eie-skeppings of nuutskeppings". Kaaps bevat baie woord wat NIE Afrikaanse nuut -of eieskeppings is nie maar bloot gekreoliseerde Engels is (daar word dan gemaak asof dit Afr. is maar dit is allesbehalwe). Jy kan tog nie bloed uit 'n klip uit tap nie. Veral Kaaps en sy mengeltaal is duidelik iets heel anders as Afrikaans. Gee dan erkenning daaraan as aparte taal asseblief en ontwikkel dit, maar moet dit nie in Afrikaans probeer in forseer nie.

  • Barend van der Merwe

    Ja en dit gebeur toenemend al meer en meer neh, die Engels wat so inkruip. Nou ja toe 😉

    @Johannes, ek is nie juis lus om met jou te redeneer nie. Jy is by a long shot nie die eerste mens wat my 'n verraaier noem nie. Dis goed en wel so. Ek is nie 'n taalstryder nie. Ek geniet my taal maar dit is wat dit is. Die geskiedenis is teen Afrikaans. Dit beteken nie dat mens in sak en as sit en jou taal afskryf nie. Ek sien Afrikaans maar net as 'n taal met groot probleme in terme van sy behoud. Spesifiek hierdie weergawe wat ek geleer was, wat mos die enigste ware Afrikaans is, volgens die here en menere. Ja wat as dit beteken dat as 'n mens 'n opinie het jy 'n verraaier in jou oe is, dan by all means. Dan seg ek kaas dit en geniet dit. Dis jou opinie.

  • Barend van der Merwe

    Europa gaan die Boertjies en hulle Afrikaans kom red seg jy. Seker, net soos in die Boereoorlog...

  • Die volgende is 'uittreksel uit:https://www.gov.za/about-sa/south-africas-people
    "According to Stats SA’s Community Survey 2016, isiZulu is the most common home language spoken by 24,6% of the population, followed by isiXhosa (17%), Afrikaans (12,1%), Sepedi (9,5%), Setswana (8,8%), and English (8,3%), Sesotho (8%), Xitsonga (4,2%), Siswati (2,6%), Tshivenda (2,4%) and isiNdebele (1,6%).'

    Die beheptheid met Engels is onverstaanbaar aangesien Afrikaans die 3de plek beklee en Engels die 6de plek.Is dit maar nie net 'n poging om 'n globale mens te skep tenkoste van al die ander tale.

  • Dit is nie die enigste "ware" weergawe nie Barend, maar indien jy enigiets van taalwetenskap weet sal jy besef dat 'n standaardtaal bestaan sodat verskillende sprekers daarvan, d.i. sprekers van die Oosgrens variëteit (self hulle, die blankes, meng deesdae hulle taal so en praat so onsuiwer - dit maak my van my kop af- daar is ook 'n verslapping te bespeur onder hulle geledere), Oranjerivier variëteit en ook Kaapse variëteit mekaar kan verstaan. Aansprake soos die wat jy maak bestaan lankal nie meer nie en daar is geen sprake van meerderwaardigheid (meer) nie. Ek beskou dit dus as die propagering van stereotipes en as verdelend.
    Is dit nou die GRA se skuld dat hulle passievol was oor hulle taal en dit wou bevorder? Nee! Indien jy jou geskiedenis ken sal jy weet dat daar reeds op daardie stadium tweedrag en verdeeldheid was . Latere jare het die "African People's Organisation" -(Die hoof organiserende party vir bruinmense in daardie jare) van Dr. A Adburahaman geweier om Afrikaans te praat; en Engels voorgestaan en boonop die burgers verag. Maar die ongemaklike stukkie geskiedenis word gerieflikheidshalwe sommer nou onder die mat gevee!!! Waarom om hemelsnaam die oikofobetiese neiging om altyd dit wat eie aan jou is, jou eie bloed - Afrikaners- te wil verdink en verkleineer en hulle (ALTYD) as die sondebokke te wil uitsonder? Nee Barend, jy moet bietjie mooi gaan dink. Kom ons neem 'n hipotetiese scenario: as taalvegters soos Preller dan vir Abdurahman gevra het; maar ou maat, kom sit saam met ons aan tafel dat ons onse Afrikaans kan bespreek, dink jy Abdurahman sou geneë geneem het met die voorstel? Ek sien uit na jou repliek.

  • Barend van der Merwe

    Johannes - hy wil knaend die Sol Plaatje Universiteit se naam verander en dit 'n Afrikaanse universiteit maak. Sy rasionaal is dat die Noordkaap kamstig Afrikaans is. Funny want die Noordkaap se soort Afrikaans is mos nie Afrikaans volgens julle beleerde manne nie maar dis eerder "Kaaps".

    Daar is inderdaad oproepe dat Zoeloe ons enigste amptelike taal word. Ek het dit al gesien. En waar is Kaaps in daai statistiek? Of maak julle nou soos op sensusdag en veklaar almal van die ZCC tot die NG kerk as "Christene"?

  • Wilhelm Fourie

    Hierdie is 'n baie interessante bydrae. Natuurlik moet alle nie-Engelssprekendes op 'n manier saamwerk. Ek stem egter nie saam dat Standaardafrikaans net op ras geskoei is nie. Afrikaans is sekerlik deur die Apartheidsregering misbruik, maar die standaardisering van Afrikaans was ten minste gedeeltelik 'n logiese proses. Ja, baie dialekte is misken, maar my vermoede is dat indien Kaaps vandag gestandaardiseer word die resultaat nie ver van Standaardafrikaans sal wees nie.

  • Afrikaans is ook GROOT in die Kaap (ironies genoeg, waar ons vandaan kom) Barend, dit kan jy darem nie ontken nie!

  • Lia Snyman sê:

    "Ek praat van meer as net 'kanalla' deelmaak van die AWS (Afrikaanse woordelys en spelreëls); ek praat van ’n herstrukturering van ons taal. Daar is drie groepe van Afrikaans: Oranjerivierafrikaans, Kaaps en Oosgrensafrikaans (ook bekend as Transvaalse Afrikaans). Tog is net die (witter) Oosgrensafrikaans deel gemaak van Standaardafrikaans, want dit was die enigste dialek met politieke ondersteuning. Standaardafrikaans is dus nie gekies op grond van suiwerheid, gesofistikeerdheid of enigiets anders nie, maar bloot op grond van ras. Alexander noem in sy akademiese werk dat Afrikaans mense kan verenig, ontslae raak van die taal se onderdrukkerstigma en alle Afrikaanssprekendes bemagtig indien dit herstandaardiseer word."

    Ek moet met Charles saamstem dat ek nie hou van die praatjies oor herstandisering nie. In Engels is daar ook 'n standaardtaal wat onder andere die wêreld deur as akademiese, finansiële en ingenieurstaal geskelm met die standaard-kilogram te peuter.

    In Engeland is daar ook dialekte en niemand het al gevra dat hulle in standaardengels ingebring moet word nie. Daar is die Skotse en Walliesers (met hul eie taal) en Geordie in die Noordooste van Engeland. Hierdie voorbeeld is uit Wikipedia:
    "Ah man, wee but a feul wad hae sold off his furnitor and left his wife. Noo, yor a fair doon reet feul, not an artificial feul like Billy Purvis! Thous a real Geordie! gan man an hide thysel! gan an' get thy picks agyen. Thou may de for the city, but never for the west end o' wor toon."

    (Rough translation: "Oh man, who but a fool would have sold off his furniture and left his wife? Now, you're a fair downright fool, not an artificial fool like Billy Purvis! You're a real Geordie! Go on, man, and hide yourself! Go on and get your picks [axes] again. You may do for the city, but never for the west end of our town!")

    Ek het self etlike jare daar deurgebring en gesien hoe die taal as huistaal voortleef. As tegniese en skryftaal geld Standaardengels.

    Afrikaans kan homself gelukkig ag dat ons so 'n goed-ontwikkelde standaardtaal het, wat deur skrywers, digters, ekonome (bv. Dawie Roodt) gebruik kan word. Die mense wat daaraan wil torring, verwar standaardtaal met streeksdialek.

    Viva la Standaardafrikaans!

  • Jammer oor die tikfout. Moet wees:

    Ek moet met Charles saamstem dat ek nie hou van die praatjies oor herstandisering nie. In Engels is daar ook 'n standaardtaal wat onder andere die wêreld deur as akademiese, finansiële en ingenieurstaal gebruik word. Om aan 'n standaardtaal te torring is soos om skelm met die standaard-kilogram te peuter.

  • spook speurder

    Met in ag neming van ander kommentators se replieke, Lia, die amaXhosa het oor die afgelope eeu naastens vertiendubbel tot hoeveel sprekers nou? 17% van die bevolking nagenoeg. Laat hulle dus hul eie universiteite bou. Na die afgelope kwarteeu se verwikkelinge (laat ons met respek nie ontwikkelinge noem nie) bo-op die vorige eeu s’n gestapel is hulle deesdae nie net waarskynlik super ryk nie maar hulle het ook die politiese mag agter hulle.
    Gebeure by Vrystaatse en Noordwestelike universiteite het intussen bewys dat die boetiebendes van onderdrukking in die regering nie Afrikaners se moeite ag nie, al het hul eie mense verstandelik daarby gebaat, want dit stuur die verkeerde boodskap. Sowaar. Die nuwe droomverbeterde SA is dood gebore. Dit was reeds in die baarmoeder futloos gewees, Jy kan ‘n gesonde moderne beskawing nie op enige vorm van Marxisme bou nie want dit gebruik onwerkbare definisies van werk, besittings, kapitaal ensomeer. Dis deels daarom dat ons land in een stort.
    Skoolgaan en opvoeding het onder die amaXhosa 'n eie betekenis en wat onder Afrikaners daarvan leef is vir hulle hoogs onwennig. Hul het 'n ou kultuur en 'n eie sogenaamde tradisionele stuk verkose aarde waar hulle hul uitleef. Die wie in stede woon is daar gebore en is ‘n klein minderheid. Meestal is hul tuis weggedryf, verwyder of het gekies of is betaal om nie tuis te bly nie.
    Hoekom dan nie eerder buitengewone moeite doen vir die Nama mense nie, vir die Khoi en San tale nie? Hulle word seer sekerlik onderdruk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top