Wanneer die Konstitusionele Hof binnekort uitspraak lewer in die saak tussen Gelyke Kanse (breedweg) en die Universiteit van Stellenbosch (breedweg), sal dit die eerste keer wees dat Suid-Afrika se hoogste hof besluit oor hoe taalregte uitspeel op die vlak van universiteitsonderrig.1
Almal wat sou belangstel, weet reeds waaroor dit gaan. Die Raad van die Universiteit het ongeveer vyf jaar gelede begin om sy beleid rondom die taal waarin daar klas gegee word, te verander. Die aard van hierdie verandering het met verloop van tyd ander en nuwe gedaantes aangeneem wat diegene wat 'n premie geplaas het op die Afrikaanse karakter van die universiteit verontrus het. Om dit sagkens te stel.
Daar is uiteraard nie hier ruimte om op die verloop van hierdie proses in te gaan nie. Dit kom egter breedweg daarop neer dat steeds meer redes gevind word waarom lesings, ook voorgraads, nie meer in Afrikaans sou aangebied word nie, dat navorsing hoofsaaklik in Engels gepubliseer sou word en dat die personeelprofiel sou verander. So het ek, terloops, self onlangs uitgevind dat daar biblioteekpersoneel is wat 'n mens nie meer in Afrikaans kan help nie.
Onderliggend was die druk van 'n groeiende Engelssprekende studentegemeenskap (nie sonder meer "swart" nie), die opvatting dat die instelling nie internasionaal sou kon meeding sonder 'n Engelse (waarskynlik Amerikaanse Engelse) profiel nie en dat dit onrealisties sou wees om van akademici wat nie Afrikaans magtig is nie te verwag om by 'n Afrikaanse taalomgewing in te pas.
Hierop was die verweer dat daar reeds twee Engelsmedium-universiteite binne 'n uur se ry vanaf Stellenbosch is en dat die alumni van Stellenbosch dekades lank bewys het dat hulle internasionaal meeding en presteer. Die belangrikste argument was dat die grootste moedertaalgroep in die universiteit se omstreke Afrikaans is en dat tienduisende ander Afrikaanssprekendes dwarsoor die land aanspraak kan maak op Afrikaanse onderrig, dat die bepalings van die grootste oprigtingsborg spesifiek die Afrikaanse aard van Stellenbosch as voorwaarde gestel het en, natuurlik, dat die rassekaart geen enkele rol hier te speel het nie.
Die meningsverskille tussen die voor- en teenstanders van die sogenaamde herposisionering van die Universiteit van Stellenbosch het soms onverkwiklike wendings geneem en dikwels persoonlik geword. Ad hominem, net om ons daaraan te herinner dat Latyn vir eeue die onderrigtaal van Europese universiteite was.
Die persone wat ongelukkig was oor die taalverskuiwings het hulle mettertyd georganiseer in 'n groepering met die naam "Gelyke kanse". Hulle was van mening dat die besluite van die Raad sedert 2015 onbillik was en dat die implementering daarvan teen Afrikaanssprekendes diskrimineer.
Miskien sou dit nuttig wees om daarop te wys dat met die aanbreek van die derde Suid-Afrika, daar ses volwaardige Afrikaansmedium-universiteite was. Die Universiteit van Port Elizabeth was toe nog, soos van sy instelling af, 'n "tweetalige" universiteit. Daar was geen sprake daarvan dat so 'n bedeling kon bly bestaan nie.
Professor Jakes Gerwel, voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en toe minister in die presidensie van president Nelson Mandela, het hierdie bul by die horings gepak. In 'n verslag wat 'n komitee onder sy leiding aan die destydse minister van onderwys, professor Kader Asmal, deurgestuur het, besluit hulle:
The predictable danger for the long-term continuance of Afrikaans at these institutions is that the force of demographic changes in the student population will "naturally" erode the use of Afrikaans as academic medium. There is in our view the need for an agreement, in terms of the scheme suggested in the previous section, on one or more universities that shall have the specific obligation to cater for the (continued) development of Afrikaans as a language of high status functions, including particularly those of science and scholarship.
The University of Stellenbosch and Potchefstroom University are the two that the Committee would recommend for being tasked with having as one of their main responsibilities attending to the sustained development of Afrikaans as academic and scientific medium [and] will have a primary obligation to nurture, develop and promote the knowledge production functions of Afrikaans.
What is at issue here following the line of argument the Committee advanced in the preceding sections is the need to ensure that at these two institutions the right of access to Afrikaans-medium studies be guaranteed and dynamically promoted, particularly at undergraduate level. [...] The pertinent obligation, though, is to ensure that within these developments Afrikaans is systematically and consciously attended to as medium of scholarship and institutional life. This obligation should be a binding agreement reached with the Ministry of Education (and possibly the Ministry of Arts, Culture, Science and Technology).2
Van so 'n bindende ooreenkoms het daar niks tereggekom nie en die bestuur van die US het van hulle kant af geen aanduiding gegee dat hulle hiervan bewus was of gedink het dat dit 'n belangrike standpunt is nie. Uit 'n ander stoel skryf Albie Sachs as regter van die Konstitusionele Hof in 'n uitspraak uit 1996 soos volg:
The fourth assumption is that the Afrikaans language is one of the cultural treasures of South African national life, widely spoken and deeply implanted, the vehicle of outstanding literature, the bearer of a rich scientific and legal vocabulary and possibly the most creole or "rainbow" of all South African tongues. Its protection and development is therefore the concern not only of its speakers but of the whole South African nation. In approaching the question of the future of the Afrikaans language, then, the issue should not be regarded as simply one of satisfying the self-centred wishes, legitimate or otherwise, of a particular group, but as a question of promoting the rich development of an integral part of the variegated South African national character contemplated by the Constitution. Stripped of its association with race and political dominance, cultural diversity becomes an enriching force which merits constitutional protection, thereby enabling the specific contribution of each to become part of the patrimony of the whole.3
Onderliggend aan die hele debat (vanselfsprekend by Sachs en ook sowel Gerwel as Gelyke Kanse) is die taalklousule (Artikel 6) wat taalregte in die Grondwet verskans4 en dan die onderwys-klousule, Artikel 29:
29. (1) Elkeen het die reg (b) op verdere onderwys wat die staat deur middel van redelike maatreëls in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.
(2) Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van – (a) billikheid; (b) doenlikheid; en (c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.
Die uitgangspunt van die Gelyke Kanse-span was dat die onderliggende waardes van die Grondwet en die regte van spesifiek Afrikaanssprekendes ondermyn word; die Universiteit (ook 'n groep respondente) betoog dat hy geen spesifieke primêre verantwoordelikheid teenoor Afrikaans het nie en dat hy die middele waaroor hy beskik redelik administreer binne 'n groter Suid-Afrikaanse konteks van bemagtiging.
Die saak is in 2017 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor en Gelyke Kanse se aansoek is van die hand gewys [Hofverslae 2018(1)]. Daardie hof het in die eerste plek aangevoer dat Afrikaanssprekers deur apartheid in die binnebaan geplaas is en 'n groep is wat ekonomies en opvoedkundig bevoordeel is. Die Universiteit sou dus 'n regstellende verpligting hê. Die rassekaart, dus.
Ook die tweede rede wat die Hooggeregshof aanvoer, berus (myns insiens verkeerdelik) op rassediskriminasie: Die 2014-beleid van die US (waarmee Gelyke Kanse nie soseer 'n probleem gehad het nie), "was not equitable as it denied black students access to the University", terwyl daar geen sprake daarvan was nie.
Die derde uitgangspunt was die vertolking van artikel 29[2] van die Grondwet. Die Hof besluit dat die verpligting van die Universiteit om Afrikaanse opvoeding te verskaf beperk is tot wat redelik "practicable" is en deur middel van redelike opvoedkundige alternatiewe.
Omdat daar heel duidelik grondwetlike kwessies ter sprake is, het Gelyke Kanse die ongewone kans gekry om die saak direk na die Konstitusionele Hof te neem in plaas daarvan om eers by die Appèlhof in Bloemfontein hulle saak te gaan stel.
Die Appèlhof het wel nog op 'n manier iets te sê. In 2017 het hierdie hof in die saak tussen die Universiteit van die Vrystaat en AfriForum (en andere) ook na universitêre taalbeleid gekyk. Nadat die Hooggeregshof ten gunste van AfriForum besluit het, het die Appèlhof dit tersyde gestel.5
Die belangrikste rede hoekom die UFS geregtig daarop was om hulle taalbeleid te verander, sê die Appèlhof, was omdat die parallelmedium-benadering (ook die US se 2014-beleid) "unintended consequences" gehad het deurdat dit wit Afrikaanssprekende studente van swart studente gesegregeer het en tot ander klagtes aanleiding gegee het.
As 'n mens al die persoonlike verskille en geskille opsy skuif, is die uitspraak van die Konstitusionele Hof baie belangrik vir alle partye. Dit sal bevestig in watter opsig die rasbeheptheid rondom Afrikaans plek begin maak vir 'n redelike gesprek en hoe seker mense kan wees dat verskanste grondwetlike regte beskerm sal word al is dit nie noodwendig so polities korrek of gerieflik nie. En op 'n praktiese vlak sal dit aandui watter probleme daar dalk in die nabye toekoms vir die Pukke wag.
As Stellenbosch as 'n Afrikaanse universiteit verdwyn, gaan dit waarskynlik groot implikasies hê rondom die toekoms van Afrikaanse skole, tensy die ideaal van 'n groot selfstandige Afrikaanse universiteit baie gou werklikheid word.
Bykans twintig jaar gelede het Stellenbosch self daardie geleentheid gehad om nie deel te word van die "nasionalisering" van tersiêre onderwys nie, maar politieke dienstigheid het hierdie moontlikheid gekelder. Toe was dit heelwat makliker.
Nou sal dit dalk nodig wees vir 'n nuwe Jannie Marais om die bal aan die rol te sit, maar met die troos dat die internasionale steun en ondersteuning vir die selfstandigheid en akademiese oorlewing van kleiner tale groter is as op enige ander tydstip in die geskiedenis.
En o, ja. Hier's 'n stukkie pret om jou mee besig te hou terwyl ons wag. Daar is 'n webwerf waar 'n mens kan voorspel wat die uitkoms van die saak gaan wees. Hier kry jy die biografiese inligting van elke regter wat na die betoë geluister het en dan kan jy voorspel wat elkeen se besluit gaan wees. Gaan gooi jou dice hier.
Iewers, as jy net weet waar, is daar seker ook 'n beroepswedder waar jy jou paar rand skoolgeld kan gaan waag!
___________________________________________________________________
1. Gelyke Kanse and Others v Chairman of the Senate of the Stellenbosch University and Others. Die saak is vroeër in die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof aangehoor (17501/2016) 2018 (1) All SA 46 (WCC) en op 8 Augustus 2019 in die Konstitusionele Hof. Uitspraak is voorbehou. Diegene wat belangstel in die al die hofstukke, kan dit by die volgende skakel bekyk: https://collections.concourt.org.za/handle/20.500.12144/34621?show=full
2. Gerwel, G.J. 2002: Report on the position of Afrikaans in the university system, pp 16 en 17.
http://www.dhet.gov.za/Management%20Support/Gerwel%E2%80%99s%20Language%20Policy%20Framework%20for%20Higher%20Education%20in%20South%20Africa.pdf Besoek op 12 Augustus 2019.
3. Sachs, Albie: Uitspraak in Ex parte Gauteng Provincial Legislature: In re Dispute Concerning the Constitutionality of Certain Provisions of the Gauteng School Education Bill of 1995 1996 (3) SA 165 (CC), paragraaf 49
4. Die betrokke gedeeltes van Artikel 6 wat ter sprake sou kon wees, is die volgende:
6.2 Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons
mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te
verhoog en hul gebruik te bevorder. [Dit raak egter nie die keuse tussen Afrikaans en
Engels as onderrigmedium nie – FO]
6.3 b. Munisipaliteite moet die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem.
[Natuurlik nie bindend nie, maar universiteite sou hulle lokaliteit ook kon oorweeg – FO]
6.4 Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls
hul gebruik van amptelike tale reël en monitor. Sonder afbreuk aan die bepalings van
subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word. [Aangesien universiteite se funksionering deur nasionale wetgewing bepaal word, sou 'n
mens kon verwag dat iemand van owerheidsweë bekommerd na die besluite op Stellenbosch
sou kyk – FO]
6.5 ʼn Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur nasionale wetgewing ingestel, moet–
[a] die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van–
[i] alle amptelike tale
[Hierdie Taalraad het reeds sy duidelike kommer uitgespreek oor die feit dat die besluit beslis nie hiertoe bydra nie – FO]
LitNetters wat belangstel in die probleme rondom artikel 6, kan gerus na die volgende drie bydraes gaan loer:
Malan, Koos. 2011 The discretionary nature of the official language clause of the Constitution,
in: Southern African Public L.a.w., 26:2, Jan 2011, p. 381 – 407.
2012 'n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse
grondwet. LitNet Akademies Jaargang 9 (1) https://www.litnet.co.za/n-oorweging-van-die-sosiopolitieke-kragte-wat-inwerk-op-die-betekenis-en-toepassing-van-di/
Plessis, Theo du. 2012 Vir wie is 'n taalwet belangrik? Enkele kritiese opmerkings oor die
noodsaak van 'n nasionale taalwet vir die sogenaamde inheemse tale
https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-n-nasionale-taalwet-vir-suid-afrika- noodsaaklik-vir-die-behoud-van-inhe/
5. 2018 [2] AfriForum and Another v University of the Free State 2018 (2) SA 185 (CC)
Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor
'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid
Gelyke Kanse ontvang internasionale steun: JM Coetzee en Robin Renwick steun die inisiatief
Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate
Kommentaar
Die Katalane hanteer die taalkwessie, myns insiens, op 'n verstandige wyse. Lesings word op Youtube opgeneem in die dosent se eie taal en onderskrifte in 'n ander taal, byvoorbeeld Engels. Gelyke Kanse noem ook so 'n moontlike oplossing
Ek het in 2016 'n lesing bygewoon waar hulle stelsel uiteengesit word.
https://www.litnet.co.za/anthony-pym-se-lesing-the-role-of-translation-in-language-policy/
Fanie Olivier se seminaar kort 'n klein regstelling. Die verwysing in voetnoot 5 na die Appèlhof se uitspraak van 2017 in die Afriforum-saak is verkeerd. Die verwysing moet wees, University of the Free State v Afriforum and Another 2017 (4) SA 161 (HHA). (Die naam van ʼn hofbeslissing word gewoonlik nie vertaal nie, maar die res van die verwysing is nie die naam nie en daarin kan (SCA) met (HHA) vervang word.) Die uitspraak waarna hy in voetnoot 5 verwys, is die uitspraak van die Konstitusionele Hof waarin die aansoek vir verlof om teen die Appèlhofuitspraak te appèlleer van die hand gewys is – Afriforum and Another v University of the Free State (2018 (2) SA 118 (KH). Die Afrikaanse afkorting vir (CC) is (KH). Hierdie uitspraak van die Konstitusionele Hof is belangrik want die Konstitusionele Hof wyk nie maklik af van sy vorige uitsprake nie en dit gaan interessant wees watter verskille en ooreenkomste die Konstitusionele Hof gaan sien tussen die meningsverskille en omstandighede op Die Bult en in Die Pieke.
Baie dankie vir jou regstelling, Peter. Die verwysing in die teks soos dit verskyn het, is inderdaad na die uitspraak van die Appèlhof [University of the Free State v Afriforum and Another 2017 (4) SA 161 (HHA)]. Dankie oor die vermaning rondom die gebruik van SCA in plaas van HHA en CC in plaas van KH. In die gepuliseerde hofverslae verskyn dit egter in Engels...
Om een of ander rede het my gedeelte oor die Konstitusionele Hof se afwys van die aansoek om verlof om te appelleer, weggeraak, maar die die voetnoot het behoue gebly. Daardie uitspraak is, soos jy opmerk, van kardinale belang en die KH het vir die Gelyke Kanse-span ook uitdruklik gevra hoe hulle geval verskil van die UFS-saak waaroor daar breedvoerig uitspraak gegee word. Die media-opsomming wat die KH verskaf het, maak die redes daarvoor betreklik duidelik. Nogmaals dankie vir jou regstelling.
Lesers kan die Konstitusionale Hof se UFS-saak se media-opsomming by hierdie skakel kry: http://www.saflii.org/za/cases/ZACC/2017/48media.pdf
Beste Fanie!! Ek is 'n Afrikaans-onderwyser en ons is besig om een van jou gedigte te bespreek. Is daar 'n moontlikheid dat ek asseblief jou e-pos adres kan kry? Een van my studente het 'n vraag wat hy baie graag vir jou wil vra oor jou gedig: besoekersboek. Indien dit enigsins moontlik is, sal ek dit so waardeer.
Groete
Eleonor van den Heever