Theodorus du Plessis reageer op die artikel “’n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Koos Malan.
Dit is nogal ironies om te dink dat ons hoog aangeskrewe Suid-Afrikaanse grondwet waarskynlik die aanleidende oorsaak is tot die huidige ampstaaldilemma waar Engels de facto die land se ampstaal word, die aanwending van Afrikaans in amptelike funksies oënskynlik berekend afgeskaal word en die nege Bantoetale (beide Afrikaans en Engels is ook Afrikatale) meestal soos patriotiese vlaggies in beperkte ampstaalfunksies aangewend word – aansienlik minder en op ’n veel laer gebruiksvlak as onder die apartheidsregime.
Dit is maar een van die onthutsende besluite waartoe ’n mens kom by die lees van Koos Malan se betekenisvolle artikel in LitNet Akademies, “’n Oorweging van die sosiopolitieke kragte wat inwerk op die betekenis en toepassing van die diskresionêre taalklousule van die Suid-Afrikaanse grondwet”. Dit laat jou wonder of dit ooit werklik die bedoeling van die land se meerderheidsparty was om die gevestigde tradisie van parlementêre ampstaligheid (wat teruggaan na die voormalige Kaapkolonie) voort te sit, al was dit dan in ’n ander formaat? Malan wys by implikasie eintlik op ’n soort mispassing tussen ’n bedoelde regsgebaseerde, pluralistiese taalbestel (’n voortsetting van ’n ou tradisie) en ’n andersoortige linguistiese kultuur, een wat aangevuur word deur ’n regstellende woede wat op allerlei denkbare maniere moet help om ’n absolute breuk met die koloniale en apartheidsverlede te bewerkstellig. In stede van die kultivering van een of ander vorm van kontinuïteit wat betref taalbeleid kry ons nou eerder te kampe met ’n oënskynlik georkestreerde poging tot diskontinuïteit. Die heersende linguistiese kultuur dikteer dat ons ook op taalgebied van nuuts af aan moet begin en asseblief tog net nie ’n beleid sal voer wat slaan op apartheid nie; dus verkieslik geen taalverpligting (in ieder geval nie een waar Afrikaans nog deel van die formule vorm nie) en geen taalvoorskrifte (byvoorbeeld vir die onderwys) nie. Onderliggend aan hierdie benadering is ’n filosofie wat treffend in 1994, toe ons nog met ’n nuwe grondwet gespook het, deur Albie Sachs verwoord is:
It might well be that one-day English will emerge as the working language of most of government and business in South Africa. Perhaps it will come to be the language that everyone wants to learn because of its utility. That, however, would be evolution through choice. Nothing could be more inimical to the widespread acceptance of English than to make it the common language by command.1
’n Mens wil amper sê: profetiese woorde! Nietemin was dit presies hierdie filosofie wat ons tydens die pre-1993-onderhandelingsproses waargeneem het toe die African National Congress (ANC) aanvanklik met ’n geen-ampstaal-voorstel gekom het. Dit was ten minste die standpunt van die sogenaamde Language Commission (wat die ANC inderhaas na afloop van ’n werkswinkel, Towards a language policy for a post-apartheid South Africa, teen die einde van Maart 1990 in Harare, saamgeflans het): “All eleven languages shall receive full recognition ...”, maar “[N]o language shall be declared official”2. Let op na die onbeholpenheid met die ampstaalgegewe – volledige erkenning sonder ampstaalstatus; waarskynlik ’n poging om die Vryheidsmanifes se egalitêre siening oor die erkenning van taaldiversiteit aan te vul. Tot in hierdie stadium was die debat oor ’n nuwe ampstaalbedeling in Suid-Afrika grootliks gedryf deur Afrikaanstaliges (progressief en andersins) en promeertaligheidsgesindes in die sogenaamde Breë Demokratiese Beweging (waaronder ook Afrikaanstaliges).3 Trouens, dit was juis as gevolg van hierdie rolspelers se inisiatiewe dat die ANC uiteindelik half gedwonge ook “aan boord” gespring en meertaligheid begin noem het. 4
Waarop stuur ek af? Die gedagte aan ’n amptelike meertalige bestel vir die “nuwe” Suid-Afrika was nie deel van die ANC se plan vir Suid-Afrika nie. Wat die ANC op die tafel kom lê het, was sy verbintenis tot Engels as die de facto-verkeerstaal van die sogenaamde bevrydingsbeweging (wat die ANC nou toe-eien), die taal van bevryding en van vereniging. Onderliggend hieraan lê duidelik ’n linguistiese kultuur waar ’n pluralisties-georiënteerde ampstaalbestel en die gepaardgaande ampstaalkonvensies beslis nie boaan die agenda staan nie. Ook opvallend afwesig, en heeltemal in akkoord met die Vryheidsmanifes se ideaal van “(a)ll people shall have equal right to use their own languages”5, is ’n verbintenis tot Suid-Afrika se Bantoetale.
Die vraag in verband met ons seminaartema wat dus aan die orde kom, is of ’n nasionale taalwet ’n verandering in die heersende linguistiese kultuur van die ANC-dampkring te weeg kan bring. Ons kan selfs verder gaan en vra of ’n nasionale taalwet enigsins versoenbaar is met die denkklimaat oor taal wat oor jare heen binne die bevrydingsbeweging gevorm is en wat sekerlik huidige denke beïnvloed. ‘n Senior amptenaar van Suid-Afrika se lynfunksiedepartement oor taal (die Departement Kuns en Kultuur) het juis gedurende 2011 tydens ‘n telefoongesprek met my veelseggend opgemerk dat taalwette nie eintlik inherent deel vorm van die taalbestuurskultuur op ons kontinent nie. (Ter beskerming word die persoon se identiteit verswyg.) Ons het dus nie taalwette nodig nie, want hulle pas nie by Afrika nie! Die persoon bevestig dus my argument tot hiertoe, naamlik dat daar binne die heersende linguistiese kultuur nie ruimte bestaan vir die voortsetting van die parlementêre ampstaaltradisie van voor 1994 nie. Kontinuering sou uiteraard afhang van ’n redelik voorskriftelike intervensie “van bo af”, wat volledig sou indruis teen die “van onder af” konvensie wat binne die bevrydingsbeweging gevestig is en waarna Albie Sachs so treffend verwys het. Onse amptenaar suggereer dus dat ’n tipiese taalbestel in Afrika evolusionêr ontwikkel na gelang van die voorkeur van “die mense”, met ander woorde “van onder af”. ’n Taalwet veronderstel (ongelukkig) taalvoorskriftelikheid. Sou die regering egter gedwing word om wel so ’n wet te aanvaar, moet ons aanneem dat alles in werking gestel sal word om te verhoed dat die wet lyk op een uit die apartheidsera.
Die vraag wat uiteindelik ook aan die orde kom, is of die behoud van die inheemse tale (wat waarskynlik meer is as die Bantoetale) binne die ANC-paradigma noodsaaklik is. Met die Vryheidsmanifes in gedagte moet ons uiteraard die vraag bevestigend beantwoord. Dit pas binne die heersende linguistiese kultuur om die inheemse tale te behou. Om, soos die Manifes hier bo dit stel, te verseker dat alle mense die gelyke reg sal hê om hulle eie tale te gebruik, vereis inderdaad ’n sekere mate van wetsingryping, omdat ons hier met die beskerming van ’n basiese taalreg te make het. Maar hierdie beskerming kan verkry word sonder om ’n nasionale taalwet te passeer: die Handves van Menseregte moet bloot hiervoor voorsiening maak, soos inderdaad by ons die geval is. Nietemin het ons ’n taalklousule wat implisiet verder gaan as die Vryheidsmanifes. Die diskresionêre aard daarvan (à la Malan) hou daarom waarskynlik ook verband met die feit dat regsgronde gevind kan word vir die vestiging van Engels as super-ampstaal, ’n stap wat die de facto-status van hierdie taal binne die heersende linguistiese kultuur legitimiseer.
Kortom, die behoud van die meeste van Suid-Afrika se inheemse tale is nie afhanklik van ’n nasionale taalwet nie. Daar kan waarskynlik, soos in 2010 in Nederland, waar ook vir ’n taalwet gevra is, geredeneer word dat bestaande wetgewing reeds voldoende beskerming bied.6 Afrikaans se geval verskil egter: Afrikaans benodig wél ’n taalwet. Van die redes hiervoor hou verband met die gevestigde status van die taal, maar ook met die gevestigde taalbelange en -regte wat oor dekades heen verwerf is. Sodanige taalbelange en -regte noodsaak beslis wetlike beskerming. Die argument wat dus uitgemaak behoort te word, is, soos in die geval van Nederland, of bestaande wetgewing voldoende beskerming vir taalbelange en -regte verskaf en of ’n taalwet noodwendig beter beskerming kan bied, sou gevind word dat die bestaande beskerming onvoldoende is.
Indien ’n mens nou hierdie weg opgaan, behoort ’n volgende stap te wees om vas te stel watter tipe taalwet aan die gevraagde vereistes gaan voldoen en om dan internasionaal te gaan kyk na die beste praktyke wat tans bestaan en om kers op te steek by lande waar ’n nasionale taalwet wel geslaagd is. Dit sou onvermydelik meebring dat ons buite Afrika moet beweeg, tensy ons wil bly soek na ’n oplossing wat “van onder af” sal ontspring. Sulke oplossings bestaan inderdaad, soos ek al in my eie navorsing vasgestel het.7 Maar dan gaan dit wel meebring dat ons heeltemal anders oor die regulering van ’n taalbestel moet begin dink. Dalk kan dit die tema vir ’n nuwe LitNet-seminaar word!
Bloemfontein, 2012-02-14
Bibliografie:
1 Sachs, A. 1994. Language rights in the new Constitution. Bellville South: South African Constitution Studies Centre.
2 Desai, Z. 1990. Impressions of the Harare language workshop. Language Projects Review 5(2):26-28.
3 Crawhall, NT. 1993. Negotiations and language policy options in South Africa: The National Language Project Report to the National Education Policy Investigation Sub-committee on Articulating Language Policy. Salt River: National Language Project.
4 Du Plessis, T en A van Gensen (reds). 1999. Taal en stryd: Gedenkbundel 1989—1999. Pretoria: Van Schaik.
5 African National Congress. 1955. The Freedom Charter. As adopted at the Congress of the People, Kliptown, on 26 June 1955. http://www.anc.org.za/show.php?id=72 (14 Februarie 2012 geraadpleeg).
6 Raad van State. 2010 (September 2010). Advies over Nederlandse taal in de Grondwet. 25 Augustus 2011 herwin van Adviesen: Samenvattingen: http://www.raadvanstate.nl/adviezen/samenvattingen/samenvatting/?summary_id=44 (14 Februarie 2012 geraadpleeg).
7 Du Plessis, T. 2010. Language visibility and language removal: A South African case study in linguistic landscape change. Communicatio 37(2):194-224.