Gelyke Kanse ontvang internasionale steun: JM Coetzee en Robin Renwick steun die inisiatief

  • 3

jmcoetzee650

Die Nobelpryswenner JM Coetzee en die bekende Britse oud-diplomaat lord Robin Renwick het hul steun verleen aan die veldtog om Afrikaans se gelyke status met Engels as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch te behou.

Die twee internasionaal bekende persoonlikhede gee stukrag aan die veldtog genaamd Gelyke Kanse, wat verlede week deur ’n groep besorgde Suid-Afrikaners begin is. Volgens die organiseerders van die veldtog kry hulle dwarsoor Suid-Afrika en uit die buiteland ondersteuning vir hul inisiatief, wat vanweë die relevante grondwetlike kwessies van menseregte, gelykwaardigheid en veeltaligheid groot belangstelling uitlok.

Coetzee, die bekroonde Suid-Afrikaanse  skrywer wat deesdae in Adelaide in Australië woon, en lord Renwick, voormalige hoë kommissaris in Suid-Afrika wat in Londen woon,  is onder die honderde mense, hier te lande en in die buiteland,  wat reeds die beswaarskrif by die internet-skakel  http://gelykekanse.com/ onderteken het.

Die veldtog spruit uit pogings van die bestuurspan van die US om die universiteit te verengels. ’n Verengelsing-dokument wat verlede November deur die span uitgereik is, is kort daarna as gevolg van wydverspreide openbare teenstand deur die US-Raad gerepudieer. Maar op Maandag, 21 Maart, het die bestuurspan ’n nuwe konsep-taalbeleid in effens verwaterde vorm uitgereik, sonder dat hulle die Raad se voorskrif oor ’n taalkomitee gevolg het en ook nie geraadpleeg het met Afriforum nadat ’n hofskikking in hierdie verband aangegaan is nie.

Skerp kritiek teen die voorgestelde nuwe taalbeleid is onder andere uitgespreek deur die Hertzog-pryswenner Breyten Breytenbach, lid van die groep besorgde landsburgers wat Gelyke Kanse in die lewe geroep het. Die US het verklaar dat hy eers later wil reageer.

Volgens ’n woordvoerder van Gelyke Kanse, adv Jan Heunis, kry die groep positiewe terugvoering van ’n wye verskeidenheid van mense en groepe wat teen die afskaal van en selfs aanslag teen Afrikaans gekant is. Meer besonderhede sal binnekort bekend gemaak word.

Lees ook:

Die Taaldebat op US en die belang van moedertaalonderrig vir enige taalplan

Danie van Wyk
Universiteitseminaar

"Afrikaans is nie meer die taal van die wit elite nie. Bruin mense gaan dus sentraal binne hierdie debat staan en vir hulself praat."

US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief

Breyten Breytenbach
Universiteitseminaar

"... u ideologie van pragmatisme herinner my aan die fris kêrel wat sy ma en pa vermoor het en nou by die hof pleit om vonnisversagting uit hoofde van die feit dat hy ’n weeskind is …"

US-taalbeleid: Die syfers vertel ’n storie

Hermann Giliomee
Universiteitseminaar

"Watter student sal ’n eerlike antwoord gee as hy of sy weet die dosent se grootste begeerte is om parallelmediumklasse te vermy?"

US-taalbeleid: Ope brief aan Breyten Breytenbach

Anton van Niekerk
Universiteitseminaar

"Die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word."

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Theresa Papenfus

    Wonderlik. Ek hoop almal wat Afrikaans wil offer ter wille van sogenaamde "internasionale " aansien, neem regtig kennis.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Steun vir Afrikaans van hierdie twee buitelanders gee hoop, maar wanneer laat plaaslike Afrikaansdosente individueel of groepgewys van hulle hoor?

  • Avatar
    André Badenhorst

    Ek het nie veel hoop vir hoop nie. Daar is ongelukkig nie salf te smeer aan domastrantheid nie. Ten spyte van die jare lange goeie argumente en die uitwysing van onsin, het die uitrangering van Afrikaans eksponensieel momentum gekry. Breytenbach se woorde, soos ek dit onthou tydens die destydse T-Opsie-debat was: "Stellenbosch kan nie Afrikaans red nie, al wil hulle ook". Ek dink hy het verwys na die selfgenoegsame domastrantheid wat ons nou sien. Die proses is nou weer heerlik op dreef, met eergister se sluiting van openbare insette oor die taalbeleid. Nou is die besluit oorgelaat aan interne deelname. Die uitkoms is voorspelbaar, ten spyte van die konvokasie se sterk teenstand: En dit is wat Alant noem 'n "veeltalige kammakastige taalbeleid" soos wat hy tereg sê, al reeds verantwoordelik is vir eentaligheid op verskeie SA kampusse (http://www.litnet.co.za/o-red-ons-liewe-god-van-die-taalklousulekomplot/). Ons sal moet herdink, 'n paradigmaskuif of twee maak, en bereid moet wees om die universiteit in sy tradisionele vorm oor te laat aan die noodwendigheid van vervlakking. Dan sal ons moet begin bou aan vele "LitNette".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top