O red ons liewe God van die taalklousulekomplot

  • 3

Na afloop van die 12 November-uitspraak van die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, waarin hy sy voorneme aankondig om Engels die universiteit se administratiewe en akademiese basistaal te maak, hoor ek ’n paar dae later iets soos die volgende regverdiging daarvoor van iemand wat duidelik opgewonde is oor hoe die besluit Stellenbosch oopmaak, oopmaak soos in “Open Stellenbosch”: “As mens nie in Xhosa of Zoeloe (of, sou mens kon byvoeg: Venda, Tsonga, Pedi, Sotho, Tswana, Swati, Ndebele ...), op universiteit kan studeer nie, is dit tog nie regverdig dat jy dit kan doen in Afrikaans nie?” Ek slaat summier oor na East Coast Radio, maar besef dan my wrewel is onvanpas: Oopkopper se misplaaste obsessie met “regverdigheid” is per slot van sake in die Grondwet.

Lees ook:
Stigtingstoespraak van die Afrikaanse Alumni-vereniging: Afrikaans en universiteite
US-Raadsbesluit: US verbind tot meertaligheid sonder uitsluiting

Eintlik het ons natuurlik ’n baie goeie Grondwet. En die van ons wat besorg is oor tale – nie net oor Afrikaans nie, veeltaligheid! – sou toentertyd met reg kon dink dat die grondwetskrywers dit eens had met ons besorgdheid. Hoe anders verduidelik jy die feit dat die taalklousule vanaf die “ou” (1983) Grondwet (Afrikaans en Engels as amptelike tale met voorsiening vir “swart tale” in die “selfregerende state”) na die “nuwe” (1994) Grondwet ’n allemintige 83 plekke opgeskuif het van klousule 89 tot klousule 6, met die tale wat so te sê bespreek word in dieselfde asem as die landsvlag en "Nkosi Sikelel' iAfrika"? Helaas, dit was toe alles nonsens. Joe Slovo-hulle het nie regtig omgegee vir Suid-Afrika se tale nie en hier skiet hulle ons – dis nou diegene wat kan lees wat ek hier nie in Engels nie skryf – al die afgelope 21 jaar as’t ware vanuit die graf uit in die voet.

Klousule 6 is ’n volmaakte windeier. Ons ken hom uit PANSALB- en ATKV-notules, die cut and paste van nie-regeringsorganisasies wat hulle beywer vir moedertaalonderrig, die inleidingsparagrawe van wetenskaplike artikels – uitsluitlik in Engels – oor een of ander aspek van multilingualism. Basies kom hy neer op twee stellinge. Die eerste is natuurlik die noem (subklousule 1) van die 11 amptelike tale, dws Engels en Afrikaans + 9. (Nodeloos om te sê stem die 9 merkwaardig ooreen met die aantal “onafhanklike” en “semi-onafhanklike” swart tuislande – Transkei, Bophuthatswana, ens – waarvan daar toevallig ook 9 was. Duidelik was PW Botha se “konstellasie van state” ’n veel geriefliker basis vir die grondwetskrywers se leë taalkundige oogmerke as die veel moeiliker argumente van taalnavorsers in die 80's en 90's aangaande die standaardisering, minstens wat geskrewe taal aanbetref, van veral die Nguni- en Sotho-taal- (dialek?) -families). Maar kom ek beperk my hier tot wat ek sou uitlig as die tweede fundamentele stelling: “all official languages must enjoy parity of esteem and must be treated equitably” (subklousule 4) en wat voorafgegaan word deur dié mooi belofte: “Recognising the historically diminished use and status of the indigenous languages of our people, the state must take practical and positive measures to elevate the status and advance the use of these languages” (subklousule 2).

Ons kan twee basiese dinge inlees in bogenoemde klousules.

1. ’n Taal is ’n ding wat met “regte” beklee kan word.

Minstens in soverre mens tale sou sien as iets wat van buite af geobjektiveer kan word – ’n taal is ’n “ding” – lyk die gewraakte gelykheidserkenning nogal oulik. Wat dit nóg ouliker maak (en polities slim – Joe-hulle was nie taalkundiges nie, maar hulle het geweet van politiek), is hoe die tale in hierdie “parity of esteem” as’t ware menslike hoedanighede aanneem. Dis tog per slot van sake met betrekking tot die mens dat ons oor die jare, al die pad van die Franse Revolusie tot by die Freedom Charter en die Struggle, gewoond begin raak het aan die fundamentele idee van gelykheid (“equality”), alombekend as menseregte. En dan is dit net ’n hanetreetjie om vandaar, soos die taalklousule ons dan nou ook verlei om te doen, te praat van “taalregte”, nie soseer in die voor die hand liggende sin van mense wat die reg het om ’n spesifieke taal te gebruik nie, maar in die sin van tale wat op sigself regte het. Afrikaanse taalgeleerdes en politieke kommentators het nogal met ’n handige etiket vir hierdie “parity of esteem” vorendag gekom, maar wat aandui in hoe ’n mate hulle sélf in bogenoemde slagyster getrap het: die “gelykberegtiging” van die 11 amptelike tale wat “verskans is in die Grondwet”. (“Gelykberegtiging” is toevallig onsêbaar in Engels; daar is dinge wat mens nie in Engels kan sê nie ...).

Gelykberegtiging, sê wie? Hoe “bereg” jy ’n taal? Dit gaan immers nie oor tale as “dinge” nie, maar oor die sprekers van tale wat kies om tale op een of ander manier – en tot op een of ander vlak – te beoefen. Politici en burokrate kan tale sien as dinge. (Dit verklaar ook terloops waarom, wanneer daar vanuit burokratiese weë van taalontwikkeling gepraat word, die samestelling van woordeboeke – een taal, een woordeboek! – sulke groot aandag kry: niks onderstreep die ding-status van ’n taal soos ’n woordeboek nie). Vir die res van ons is ’n taal iets wat jy doen. Dis ’n aktiwiteit, dis praat en sing en luister en, partykeer, lees en skryf. Dis uiteraard slegs op daardie vlak – vlakke – wat daar regtig sprake kan wees van “taalregte”.

Hierdie siening van taalregte – as my reg om ’n taal te beoefen volgens my keuse – word egter verdoesel in die grondwetlike taalklousule. Vanuit ’n politieke bestuursoogpunt verstaan ’n mens hoekom: die Staat wil die indruk skep dat hý, nie die sprekers van die tale nie, verantwoordelikheid neem vir die “gelykheid” van Suid-Afrika se tale. Hierdeur word nie net die tale as objekte gelykgestel nie (Afrikaans is presies soos Zoeloe wat presies is soos Sotho, ens), maar die insette wat die sprekers self sou kon lewer in die beoefening van hulle tale word gelykgestel – Afrikaanssprekers voel oor Afrikaans presies soos Zoeloesprekers voel oor Zoeloe, daarom doen hulle in Afrikaans presies soos Zoeloesprekers doen in Zoeloe, ens. Nie net die tale nie, maar die houdings jeens die tale word op die manier gelykgestel, of, sal mens liewer sê, gestandaardiseer.

Dieselfde drogredenasie geld met betrekking tot die veelgeroemde noodsaak om, soos uiteengesit in subklousule 2, Suid-Afrika se “historically diminished” tale te ontwikkel: “the state must take practical and positive measures to elevate the status and advance the use of these languages”. Nou, ons weet almal hoe dramaties die Staat te kort skiet wanneer dit by die erkenning van Suid-Afrikaanse burgers se tale kom. Een vinnige voorbeeld, nogal gepas vir dié tyd van die jaar: SARS se webblad is slegs in Engels beskikbaar. En jy gaan vergeefs probeer om iets in ’n inheemse taal te lees op die Departement van Basiese Opvoeding se webblad. Ag, daar is tientalle sulke voorbeelde; selfs PANSALB het al by tye daaroor gekla. Maar dis nie regtig op die vlak van die lamlendige verskaffing van taaldienste dat die Grondwet se taalklousule vir ons gelieg het nie. Ons sou, as ons ons gesonde verstand gebruik het, om die waarheid te sê al lankal die Staat onthef het van sy kammakastige meertalige verantwoordelikhede. Die eintlike leuen lê daarin dat die indruk geskep word dat die ontwikkeling van ’n taal-as-objek afhang, nie van die sprekers van die taal nie, maar van die Staat. Die Staat bou damme en paaie en ontwikkel infrastruktuur (of nie); die Staat ontwikkel tale (of nie). Meer oor hierdie punt ’n bietjie later.

2. ’n Taal is ’n blote instrument.

Enige taal het ’n doel, naamlik kommunikasie. Taalkundiges praat van die oordrag van ’n boodskap van A na B; die taal is die medium. Dit mag op die oog af lyk asof hierdie beheptheid met taal as iets waarmee jy iets doen, taal as iets prakties, goed behoort in te skakel met wat ek hier bo geargumenteer het oor taal as aktiwiteit. Dit lyk nogal dieselfde (en weer eens moet ons die Grondwetskrywers se slim politieke voetwerk bewonder), maar dit is nie. Om taal in hierdie sin voor te hou as iets “nuttigs” is maar net ’n ander manier om taal te objektiveer, om dit te takseer as ding. Jy gebruik jou stuk gereedskap, wanneer jy klaar is bêre jy hom weer in die kas.

Weer eens, helaas, het ons in die taalklousule-slagyster getrap, met Afrikaanssprekendes aan die voorpunt. Ons het ons naamlik genoop gevoel om ons taal in ’n groot mate te reduseer tot sy mees uitstaande “nut”, wat, in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika, natuurlik dui op die geleentheid om in jou eie taal te kan leer. Moedertaalonderrig. Ek wil geensins die talle navorsingsverslae oor die enorme voordele van moedertaalonderrig – of eerstetaalonderrig – bevraagteken nie. Maar by nabetragting kan ons miskien vandag toegee dat die klem wat daarop geplaas is in haas al die aspekte van die sogenaamde taaldebat, op ál die vlakke van die onderwys – van die Laerskool Kuilsrivier tot die Hoërskool Vryburg, tot, les bes, die Universiteit Stellenbosch – eintlik oormatig was. Ons het die frase “kinders (of studente) leer die beste in die taal wat hulle die beste verstaan” ’n bietjie oorbeklemtoon. Eerder as om Afrikaans ekstra beenruimte te gee het dit die tapyt onder sy voete uitgetrek. Want sien – en hier kom ons terug by my vorige punt oor taal as aktiwiteit wat sprekers kies om op ’n sekere manier te beoefen – alle Suid-Afrikaners stel gewoon nie ewe veel belang in eerstetaalonderrig nie. Meeste Suid-Afrikaners stel nie daarin belang nie, en daar is inderdaad baie Afrikaanssprekendes in hulle geledere. (Dit gaan nie hier oor die vraag of die mense van wie ek hier praat wél, in ’n ideale wêreld, eerstetaalonderrig sou gekies het nie; die punt is dat hulle nie binne die Suid-Afrikaanse taal- en onderwyskonteks soos hy daar uitsien bereid is om hulle daarvoor te beywer nie).

Maar taal het veel meer as net ’n kommunikatiewe funksie. Die Franse taalkundige Claude Hagège praat van die representatiewe funksie van taal; in sy Language, Society and Identity praat John Edwards van die simboliese funksie, taal as ’n embleem van behorendheid tot ’n groep, ’n bymekaarkomplek (“rallying-point”). Taal, nie net as oordraer van ’n boodskap nie, maar as draer, as verteenwoordiger, van iets. Dis insiggewend met hoeveel noukeurigheid die Grondwetskrywers, onder die dekmantel van hulle instrumentele gerigtheid, seker gemaak het dat oënskynlik onskuldige woordjies wat ons alledaags tog so maklik met taal in verband bring, soos “culture”, “traditions” – en daardie ou turksvy, “identity” – nêrens in die taalklousule figureer nie (ook nie in die dele wat ek nie aangehaal het nie). Ons verstaan vandag hoekom. Hulle wou nie die Afrikaanse aap uit die mou laat nie. Of, sal ons sê (jammer vir die anglisisme) dat hulle bang was vir die Afrikaanse olifant in die kamer?

Ons kan nog ’n ding verstaan. Niks kon beter daarin geslaag het om spesifiek Engels te bevorder, en dit te midde van al die opgesmukte hoog-opgee oor veeltaligheid, as juis so ’n instrumentalistiese benadering tot taal in die Grondwet nie. En Engels ís bevorder. Dis miskien gepas hier om weer na professor De Villiers se gewraakte verklarinkie oor die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid te verwys. “English is the common language in South Africa,” sê hy ter aanvoering van sy voorneme om die universiteit Engels te maak, en verduidelik dan in ’n voetnota: “A language that is adopted as a common language between speakers whose home languages are different” (sic). Dis natuurlik nie heeltemal waar dat Engels regtig so “common” is nie. Die Basoetoe-handeldrywers wat van Lesotho met pakdonkies by die Drakensberge aftrek om voorrade te kom kry aan die KwaZulu-Natal-kant, praat nie Engels met die Zoeloe- en Xhosasprekers wat hulle teëkom nie. En hoeveel Engels hoor mens nou eintlik by die taxistaanplekke in sentraal Johannesburg? Nee, wat hier ter sprake is, is eintlik maar die min of meer verstedelikte, min of meer gegoede bolaag van die bevolking, iets so tussen ’n derde en ’n helfte. Maar die “common” is nietemin interessant. Want Engels is ons gemeenskaplike taal juis omdat hy nie aan enigiemand behoort nie. Dit geld selfs in ’n groot mate vir eerstetaal Engelstaliges (sowat 8% van die bevolking). Dink ’n bietjie na: wanneer laas het jy ’n Engelssprekende hoor sê: “my language”, “our language”?

Die gebruik van Engels is natuurlik weliswaar, in baie kringe, waaronder ook Afrikaanssprekendes, ’n merker van sosiale status en relatiewe sofistikasie – inderdaad die teken dat jy bo jou gemeenskap (bo jou identiteit) “uitgestyg” het. Maar hy verkry juis daardie status omdat dit wat hy representeer so totaal glibberig geword het. Engels gaan oor die hier en nou, ons is bottels wat dobber in ’n a-historiese see. Engels is ’n gemeenskaplike taal juis oor hy feitlik nooit ’n gemeenskapstaal is nie. Nelson Mandela vertel in Long Walk to Freedom van sy dae by Fort Hare, en hoe hulle almal op 'n stadium “black Englishmen” wou wees. Daardie tyd is verby. In die Suid-Afrika van die 1994-Grondwet is Engels almal se taal want hy is almal se tool.

Ons kan nou ’n bietjie van nader kyk na die aangehaalde “elevate the status and advance the use of these [historically diminished] languages”. Die woord “development” word ook gebruik in subklousule 5, waar die Grondwetskrywers dit het oor die verantwoordelikhede van PANSALB. Soos ek reeds aangedui het, word die klousules, wat tog so goed lyk op papier, van meet af nek-om gedraai deur die drogindruk dat taalontwikkeling van die Staat afhang. Geen partypolitieke burokraat in ’n pak klere, leerbaadjie of skouerbepofde rok met hooftooisel het al ooit iets gedoen om ’n taal te “ontwikkel”, of “lewensvatbaar te maak” of “op te hef”, of te “verintellektualiseer” nie. (Ons ken teen dié tyd al die clichés; ek behoort hulle eintlik in Engels te gee). Die voorbeeld van Afrikaans is sekerlik hier relevant. In teenstryd met die refrein wat met soveel reëlmaat teen ons koppe geslinger word: “Afrikaans is bevoordeel deur apartheid ...”, het geen kwaai  oom met ’n swart hoed en ’n wysvinger Afrikaans ontwikkel nie. (In 1976 het hulle presies die teenoorgestelde gedoen). Anders as wat die geval was in 1994 met die Grondwet se suiwer politieke bestempeling van tale as “amptelik”, het die amptelike erkenning van Afrikaans deur die destydse Unie-regering voortgevloei uit ’n merkwaardige taalkundige beweging, ’n opwelling van literatuur, poësie en joernalistiek, van opeising van die reg vir moedertaalonderrig en organisasie rondom Afrikaans op burgerlike vlak. Die “volk” (skrywers, dominees en priesters, digters, joernaliste, onderwysers) het gelei; die politici het op die wa gespring nadat hulle mooi seker gemaak het hulle sal nie afval nie. Toegegee, Sagmoedige Neelsie was nou wel ’n senator, maar hy was eintlik maar ’n lig-in-die-broek politikus, ’n agterbanker, en sy enorme literêre produktiwiteit – grotendeels aangegaan op eie koste, hy’t nie gewag vir ’n toekenning van PANSALB nie – verdwerg sy rol as ietwat aweregse politikus.

Die beginsel van taalontwikkeling wat deur die voorbeeld van die taalpioniers geïllustreer word, is presies die een wat die Grondwet ignoreer. Minstens wat inheemse tale aanbetref (ek sluit hier Engels uit op grond van sy oorweldigende instrumentele funksie as lingua franca) is dit ’n taal se representatiewe of simboliese funksie – dinge van die hart, van die gees  – wat hom ontwikkel tot hoër-funksie-gebruik (letterkunde, onderwys, wetenskap). Kortom, mense ontwikkel hulle taal nie uit nood nie (lees: oor hulle nie Engels magtig is nie), maar omdat hulle hulself en hul kinders, hulle “mense”, om een of ander rede in hul taal wil laat geld. (Nes “gelykberegtiging”, is die idee om jouself “te laat geld” toevallig ook onsêbaar in Engels). Weer eens is Afrikaans ’n voorbeeld: van ons grootste taalfigure, histories sowel as hedendaags, was ook entoesiastiese anglofiele wat net so goed hulle ding in Engels sou kon doen, hulle het Afrikaans as hoë-funksie-taal gekies. (En baie van hulle het hulle beursies saamgebring. Dink ’n bietjie: 100 jaar gelede was daar ook maar druk om te verengels. Toegegee, dit was nie tóé nodig om COSAS se wannabe Afro-Saksers met hulle “One Country One Language” waaroor Max Du Preez onlangs in een van sy rubrieke verslag gedoen het, die hoof te bied nie. Maar hoekom het die Stellenbossers nie toe al maar verengels en ons die moeite van in die bresse tree vir Afrikaans gespaar nie? Maar nee, toe loop stig hulle Naspers ...).

Die historiese “voorbeeld van Afrikaans” is egter beperk. Daar is tog al so dikwels oor die afgelope 20 jaar geargumenteer, gewoonlik deur voorstanders van multilingualism (ondermeer Neville Alexander), dat Afrikaans ’n voorbeeld sou kon wees vir die ontwikkeling van die Grondwet se nege inheemse swart tale. Maar daardie “voorbeeld” is, helaas, so inhoudloos soos die taalklousule se beloftes. Ek wil nie hier te diep ingaan op die redes nie. Mense is natuurlik haastig om Suid-Afrika se spesifieke geskiedenis van onderdrukking te gebruik as verklaring vir die onderontwikkeling van Suid-Afrika se swart tale; nes die Grondwet inderdaad impliseer in sy verwysing na dié tale se “diminished status”. (Die idee dat die swart tale “onderdruk” is deur kolonialiste en wit Suid-Afrikaners sit natuurlik ideologies ’n bietjie ongemaklik met, sê nou maar, die werk van die Europese sendelinge wat reeds in die 19de eeu tale soos Zoeloe, Xhosa en Sotho in geskrewe vorm vasgelê het en daartoe aanleiding gegee het dat ’n letterkunde soos dié van Zoeloe, hoewel besonder klein vergeleke met dié van Afrikaans – en helaas, na 21 jaar van die Grondwet se taalklousule, steeds onverkrygbaar is by bv Exclusive Books – nietemin van die oudste inheemse letterkundes in Afrika is. En wat van die pakkamers vol wetenskap- en aardrykskunde-skoolhandboeke in Zoeloe, Sotho, ens – as hulle nie intussen verbrand is nie – wat met reëlmaat in die 60’s en 70’s deur die Departement van Basiese Onderwys se voorgangers geproduseer is?).

’n Meer omsigtige antwoord kom na vore wanneer mens, soos die historikus TRV Davenport, kyk na die geskiedenis van Suid-Afrika se twee dominante nasionalismes, Afrikaner nasionalisme en Swart (“African”) nasionalisme, en jy besef watter rol taal in elkeen gespeel het. Afrikaans was onomwonde die taal van eersgenoemde. (Hy was natuurlik ook die taal van ander nasionalismes wat deur apartheid se rassisme onderdruk is en wat steeds grootliks onderdruk bly, soos die nasielikheid van die Griekwas). Engels was uit die staanspoor die taal van Swart bevryding. Hy was die ANC se taal vir organisasie, administrasie en geskrewe argument; die inheemse tale, met ruimskootse steun op orale tradisie, dié van mondelinge mobilisering, gewoonlik via sang. (Kyk jy na ANC- en COSATU-vergaderings op televisie besef jy dié taalpraktyk het geensins verander nie.) Maar die beste perspektief oor waarom dit wensdenkery is om te wil voorgee dat die inheemse swart tale ontwikkel kan word “soos Afrikaans” kom van buite Suid-Afrika, van die Afrika-kontinent self. Die punt is dat daar nie ’n enkele land in Afrika is – en hier dink mens aan lande wat reeds 50, 60 jaar gelede onafhanklik geword het – waar ’n inheemse taal naastenby dieselfde hoë-vlak-funksie verkry het as die eertydse koloniale tale nie (Engels, Frans, Portugees). Hierdie feitlik totale gebrek aan literêre en, verál, onderwys en wetenskaplike gebruik, is selfs waarneembaar in lande waarvan ’n inheemse taal redelike administratiewe status verkry het – waar politici, meer geredelik as hier by ons, geneig is om politieke toesprake in die inheemse taal te maak (Robert Mugabe praat byvoorbeeld nogal dikwels in Shona). Alamin en Ali Mazrui wyt hierdie triestige toestand van die hoë-funksie-ontwikkeling van Afrika se tale aan ’n kompleksiteit van faktore, van Afrika se byna ongelooflike taalverskeidenheid en die Afrika-tale se laat koms tot geskrewendheid, tot die arbitrêrheid van landsgrense wat getrek is sonder inagname van etniese en taalkundige faktore, tot die oorkoepelende funksie van ras wat – veel eerder as taal – dié nasionalistiese embleem of “bymekaarkomplek” was in die stryd vir bevryding en vooruitgang.

Dit gaan in elk geval nie, in die kwessie van die ontwikkeling (al dan nie) van Suid-Afrika se swart tale, oor “reg” of “verkeerd” nie. Daar sou uitstekende redes gewees het vir hulle ontwikkeling (mens het veral simpatie met die menigte sprekers wat nie ’n funksionele beheersing van Engels het nie en nog minder Afrikaans magtig is); daar is ongetwyfeld goeie redes waarom die relatief opgevoede, relatief gegoede landsburgers wat dié tale sou kon ontwikkel gekies het – en steeds kies – om hulle eerder te wend tot Engels. (Taalkundiges se teleurstelling hieroor maak nie ’n verskil nie.) Die opsies vir dié van ons wat nie net Afrikaans praat nie, maar lief is vir Afrikaans, wat praat van “my Afrikaans”, “ons Afrikaans”, wat partykeer selfs reken ons is Afrikaans, is eenvoudig. Ons kan aanhou om Afrikaans, in die naam van ’n ondeurdagte en bowenal skynheilige taalgelykstelling soos voorgehou deur die Grondwet se taalklousule, te wil inmessel in ’n muur van amptelike “veeltaligheid” waarvoor daar nooit enige behoorlike fondasie was nie en waarvoor daar geen historiese presedent is nie, allermins in Afrika. Dít is uiteraard die opsie van ons hedendaagse universiteitsbestuurders: die leegheid van die Grondwet se taalklousule word met reëlmaat klakkeloos en gedienstig herhaal deur ons universiteite – Pretoria, Wits, Stellenbosch, UKZN ... – se kammakastige veeltalige taalbeleide. Kom ons haal vir oulaas uit prof De Villiers se verklaring aan: “the University remains committed to the further development of Afrikaans and isiXhosa as academic languages.” (Genugtig, was die afgelope 100 jaar se opvoedkundige en wetenskaplike welvaart van Afrikaans, en dit nogal so dikwels by Stellenbosch, dan net ’n droom?) Of ons kan verklaar wat taalkundiges in elk geval reeds lankal weet, naamlik dat Afrikaans, inheemse, Afrika taal wat hy is, pertinent nie soos ander tale is nie, dat hy om die waarheid te sê ’n een-uit-’n-duisend taal is wat ontwikkel het aan die hand van sonderlinge geskiedenisse waarvoor jy ver – inderdaad op ander kontinente – sal moet soek vir iets soortgelyks (soos Hindi, Indonesies en Hebreeus), en dat, as daar iets soos ’n Verenigde Nasies-toekenning was vir wêrelderfenistale, Afrikaans ongetwyfeld ’n wêrelderfenistaal sou gewees het wat van hom ’n nasionale bate sou gemaak het soos Tafelberg, die Drakensberge of die iSimangaliso Wetland Park ... Afrikaans, ons "Pêrel van Groot Waarde". Miskien, na 21 jaar se demokrasie, is ons nou volwasse genoeg om, deur ’n klein bietjie taalhistoriese eerlikheid aan die dag te lê, ons eindelik vry te maak van die politieke oëverblindery van die Grondwet se taalklousule.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Jaco Alant, ek voel ook gefrustreerd oor die Afrikaanssituasie in die nuwe Suid-Afrika. Ek stem egter nie saam met "eintlik het ons natuurlik 'n baie goeie Grondwet" nie. Afgesien van die sotlike opset van elf amptelike tale is daar geen groep- en minderheidsregte nie; geen kwalifiserende voorwaardes (bv geletterdheid) vir stemreg nie, behalwe ouderdom; geen vetoreg nie; geen absolute verbod op rassediskriminasie nie; geen keerdatum vir rasgebaseerde bevoordeling nie, ens.
    Jy het reg deur te beweer dat die elf amptelike tale 'n dekmantel was/is "om spesifiek Engels te bevorder." Wat bygevoeg kan word, is dat hierdie opset Afrikaans in groter mate as enige van die ander tien tale benadeel. Maar eintlik was die referendum onder blanke kiesers oor "magsdeling" ook 'n slenter, want (algehele) magsoorgawe was toe reeds 'n voldonge feit. Lees bv Niël Barnard se boek, Geheime revolusie (2015).
    Jy noem tereg dat daar plaaslik twee nasionalismes is, dié van die swartes en dié van (sommige) Afrikaners. Afrikaans is inderdaad "'n embleem van behorende tot 'n groep." Dit is juis hierdie verwantskap van Afrikaans en Afrikanernasionalisme wat veroorsaak het dat ANC-gedienstige rektore soos Chris Brink en Russel Botman alles in hulle vermoë gedoen het om Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch af te skaal en Wim de Villiers Afrikaans as onderrigtaal heeltemal wil uitroei.
    Terloops, jou verwysing is na die 1996-Grondwet (nie 1994 nie). Wat ook belangrik is, is om wat tale betref die Oorgangsgrondwet (1993) met die 1996-Grondwet te vergelyk. JC Steyn verskaf albei se bewoording (Ons gaan 'n taal maak, 2014, p 525-527). Steyn: "Die belangrike bepaling in verband met die nie-inkorting van taalregte en -status is in die finale Grondwet van 1996 weggelaat" (p 443). Wat hier gebeur het, is dat die 1994-verkiesing ingevolge die 1993-Oorgangsgrondwet gehou is, terwyl die 1996-Grondwet opgestel is nadat die ANC 'n oorweldigende oorwinning in die verkiesing behaal het. Dit is nog 'n doelbewuste slenter waarmee die sluwe ANC weggekom het en nog 'n voorbeeld van die absolute ondoeltreffendheid van die blanke grondwetlike onderhandelaars. Lees bv Anthea Jeffery se boek, People's war (2009).

  • Avatar
    Cilliers van Niekerk

    Later hopelik meer, maar ek moet nóú sê dat ek met die lees net wou hê dat dit nooit ophou nie!

    Die helderheid van sig en argument, die klinkende (geheel-en-al na Engels onvertaalbare, soos dit hoort) ekonomie van uitdrukking, en juwele soos "Joe Slovo-hulle het nie regtig omgegee vir Suid-Afrika se tale nie en hier skiet hulle ons – dis nou diegene wat kan lees wat ek hier NIE in Engels nie skryf – al die afgelope 21 jaar as’t ware vanuit die graf uit in die voet... Klousule 6 is ’n volmaakte windeier." maak (soetseer, natuurlik) sommer my Krismis!

  • Avatar
    Gogo de Bruin

    Ek vertrou dat LitNet in middel Januarie weer prominensie aan hierdie puik artikel sal gee want dit behoort wyd gelees en bespreek te word en moenie in Kersfees en somerstrand te versand nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top