Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het op 30 November 2015 by die geskeduleerde raadsvergadering die volgende mosie met ʼn oorweldigende meerderheid aanvaar:
- Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het kennis geneem van die konsep-dokument van die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch wat op 12 November 2015 bekendgemaak is. Verder bevestig die Raad sy ondersteuning ten opsigte van die mosie van die Uitvoerende Komitee van die Raad - UK(R) - aangeneem op 15 November 2015.
- Vir sover die konsep-voorstel en verklaring van die Bestuur die amptelike Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) raak, verklaar die Raad die volgende:
- Die Raad bly verbind tot die Taalbeleid soos aanvaar op 22 November 2014 en die interpretasie daarvan deur prof Wim de Villiers in sy inhuldigingsrede: “Stellenbosch is nie ’n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n isiXhosa universiteit nie; Stellenbosch is ’n meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ’n land met 11 amptelike tale”.
- Die Raad verklaar onomwonde dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie. Daarom versoek die Raad die Bestuur om met die oog hierop die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die Raad geniet.
- Tegelykertyd verklaar die Raad dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie. Die Raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word. Die Raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ‘n strategiese bate vir US beskou word en as ‘n kompeterende voordeel uitgebou moet word.
- Wat die administratiewe en kommunikasie-taal aan die US betref, besluit die Raad dat taal nooit uitsluitend mag wees vir studente en personeel nie. Die Raad aanvaar dat, soos tans, amptelike dokumente en kommunikasie daarom in Afrikaans sowel as in Engels beskikbaar sal wees. Studente, personeel en die publiek sal steeds aangespreek word in die taal van hul voorkeur, hetsy Afrikaans of Engels en indien moontlik ook isiXhosa.
- Wat die voertaal van vergaderings en byeenkomste aan die US en in universiteitskoshuise betref, versoek die Raad dat dit onderling gereël word met die oogmerk om niemand uit te sluit nie.
- Die Raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ‘n groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente wat kies om aan die US te studeer. Die Raad sal daarom saam met Bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.
Kommentaar
Kan lesings nie elektronies in minstens drie tale beskikbaar gestel word nie? Dosente kan dan beskikbaar wees vir navrae en meer navorsing.
Ek is Afrikaanssprekend. Gaan inskryf by UK en dring daarop aan om my vraestel en lesings in Afrikaans te ontvang. Hoe nou?
As oud-Matie verwelkom ek die Raad se bevestiging van die huidige beleid tot meertaligheid. Baie dankie daarvoor. Wat is Prof Wim de Villiers se toekoms nou ?
Baie beter besluit maar moet nog verder verfyn word om Grondwetlike vereistes te behaal.
Siestog Engels is die voorland. Wat op aarde is 'n Suid-Afrikaanse universiteit?
Is Medies gekwalifiseer 1959 te UP.
1e jaar : Fisika ... Prof Verleger ... fantastiese dosent. Duitser.
Chemie ... Prof Vogel ... Goeie dosent ... moeilike man. Duitser.
Plantkunde (gedeeltelik) Prof Tjolnokkie ... Tjeg? Swak, maar praat goed Afrikaans.
2e Jaar: Chemiese Patologie Prof Grotepass. Fantastiese dosent ... Hollander.
Histologie ... Prof ? Hongaar wie ’n TEKSBOEK in Afrikaans geskryf het oor Histologie.*
3e Jaar: Patologie: Prof Barnetson ... Skot. Afrikaans uitstekend... beste dosent ooit! Farmakologie ... Tannie van Wits kom uithelp in Engels ... geen probleem nie. Kliniese Jare: Dermatologie ... Prof Findlay ... Engelssprekend ... gee uitstekende Afrikaanse klasse.
Interne: Prof Ziady... Joods /Engels ... Afrikaans baie goed.
Res: Afrikaans ... met uiters hoë standaard.
* Naam ontgaan my. Seun is Advokaat vip ... is Afrikaans !
Wat is hulle moeilikheid.? As jy so slim is , kan jy seker Afrikaans leer. My Optometris Warburton van Maidenhead, Engeland... binne ’n jaar duidelike Afrikaans met aksent.
My Russiese skoonsus het binne 'n paar maande vlot leer Afrikaans praat. Afrikaans is een van die maklikste tale om aan te leer.
Dit klink asof Afrikaans as akademiese voertaal / vaktaal ( een van die min, indien nie die enigste minderheidstaal ) wel beskerm sal word. Kleur speel geen rol nie, maar ek weet van baie groepe wat moedertaal as akademiese vaktaal koester. Vorentoe US laat ons akademici en studente internasionaal respekteer word. Mag ons akademiese stadaarde ten koste van alles behoue bly.
Joan Hambidge se gawe en skerp voorstel vir LitNet se woord van die jaar, "SlimWim", moet dalk nou vervars word (vir "be updated") na "TeSlimWim", wat amper ewe goed klink!
In alle erns verdien dié ewewigtige en selfs wyse verklaring heelwat lof, en gee dit my hoop, veral aangesien die Raad mi heel verteenwoordigend saamgestel is.
Smee nou daai yster terwyl hy warm is, sê ek!
Meertaligheid BO! Ons praat Suid-Afrikaans in Suid-Afrika!
Aktiviste is natuurlik teleurgestel maar studente sal bly wees om weer met rus gelaat te word om op die akademie te fokus. Dit waarvoor hulle daar is.
Dank die Vader hiervoor! Afrikaans is een van die amptelike tale van SA en MOET by US bly. Dankie vir die meer as 30 000 "ja" stemme in die referendum vir die behoud van Afrikaans by US. Die kommuniste het hierdie een verloor!
En wat as die nuwe raad (van mans) verkies/uitgesoek word? Die rektor noem gister in ’n onderhoud met Netwerk 24: "Die dokument wat die bestuur daargestel het was ’n gespreksdokument en dis al wat die status daarvan was. Dit het bloot as basis vir gesprekvoering met verskeie groepe gedien.” Regtig? Met wie, en waarom spreekbuise proff A van Niekerk, A Gouws ea se aanvalle in media op diegene wat van hul taaldokument verskil het? Klink na rektor se gevurkte tong paaiery, op donateurs wie hul beursies dalk wou toehou, "talk is cheap but money buys the whiskey".
US gaan in 2016 deur 'n teleurgestelde OS met EFF hulp waarskynlik onregeerbaar geprotesteer word, en dan weer toegewings sonder 'n vindingryke plan vir die 21ste eeu ...
Lees Giliomee 1 Des: “Enjoy the war, the peace will be much worse.”
Afrikaans at Stellenbosch: Council holds the line:
http://www.politicsweb.co.za/opinion/afrikaans-at-stellenbosch-council-holds-the-line?utm_source=Politicsweb+Daily+Headlines&utm_campaign=36fab8712c-DHN_2_Dec_20