Vanuit Pole – rondom Stellenbosch

  • 37

Lees ook:
Universiteit Stellenbosch: Vrydag die 13de
Geagte professor De Villiers
#NtuliMustRepresentAll

Op 20 November tree Wim de Villiers persoonlik tot die gesprek toe met onderstaande e-posbrief wat hy rig aan elke alumnus van die Universiteit Stellenbosch, dalk ook aan elke lid van die konvokasie en miskien ook donateurs. “Vriende”, in elk geval. 

’n Belangrike bydrae is skakels waardeur ons toegang kry tot belangrike dokumente in die gesprek: die rektor se bestuurspan se aanvanklike verklaring, ’n verklaring deur die dekane en die mosie van die raad se uitvoerende komitee waarna daar ook al in die media verwys is.

(Die eerste verklaring word met die oopmaakslag geïdentifiseer as “Verklaringfinaal” en ’n mens hoop net dat dit inderdaad die verklaring is waarmee alles begin het.)

20 November 2015 

Beste Alumni en Vriende 

ʼn Verklaring oor taal-implementering deur die Rektor se Bestuurspan (RBS) by die Universiteit Stellenbosch op 12 November 2015 is met wyd uiteenlopende en diverse reaksies van verskeie belangegroepe begroet. Op Dinsdag 17 November 2015 het die Dekane van al tien fakulteite ‘n verklaring uitgereik waarin hulle hul ondersteuning uitspreek vir Bestuur se vertrekpunt, dat die US behoort te verseker dat taalimplementering nie as hindernis dien in die pad van toegang en leergeleenthede, of die suksesvolle voltooiing van akademiese programme nie. Op Sondagaand (15 November 2015) het die Uitvoerende Komitee van die Universiteitsraad ‘n mosie aanvaar waarin bevestig is dat die Afrikaanse onderrigaanbod nie afgewater sal word nie en dat die taalspesifikasies soos vir 2016 goedgekeur, geïmplementeer sal word. 

Op grond van kommentaar in e-posboodskappe, op sosiale media en in die tradisionele media, is dit duidelik dat die huidige posisie en die pad vorentoe uitklaring vereis. ʼn Duidelike onderskeid moet getref word tussen a) taal-implementering en b) veranderings aan die Taalbeleid van die Universiteit.

a) Taal-implementering 

• Taal-implementering sal in 2016 steeds verseker dat studente in Engels en in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch kan studeer.
• Terwyl onderrig in Afrikaans voortgaan, sal bykomende ondersteuningsmeganismes geïmplementeer word om te verseker dat studente wat nie Afrikaans verstaan nie, nie uitgesluit word van die onderrigaanbod nie.
• Om dit te behaal, sal meer modules met groot inskrywingsgetalle in parallelmedium aangebied word en onderrig in kleiner klasgroepe verbeter word.
• Die versnelling van die implementering van parallelmediumonderrig verhoog dus die gebruik van beide Afrikaans en Engels as tale van onderrig en leer.
• Vir kleiner klasgroepe behoort alle konsepte in ten minste Engels oorgedra te word, met leer wat versterk sal word deur die beklemtoning van sleutelbegrippe ook in Afrikaans. Dit brei die gebruik van Engels uit, sonder om die status van Afrikaans as 'n onderrigtaal aan te tas.
• Bogenoemde implementering van meertaligheid sal in belang van inklusiwiteit verseker dat alle studente die volle voordeel uit die akademiese aanbod kan put. 

b) Taalbeleid en -plan 

• Die verklaring van 12 November deur ons as Bestuurspan, dui op ons ondersteuning vir maatreëls om die leer-ervaring van alle studente te verbeter. Dit is nie ʼn beleidsdokument nie.
• Die US se Taalbeleid en Taalplan kan hersien word om die US se verbintenis tot gelyke toegang vir alle studente, en die pedagogiese argumente vir die gebruik van beide Afrikaans en Engels, te reflekteer.
• Die Statuut van die Universiteit bepaal dat slegs die Raad die Taalbeleid na ʼn proses van konsultasie en met instemming van die Senaat kan verander. Die feit dat veranderinge aan die Taalbeleid 'n meer ingewikkelde proses behels, beteken nie dat die implementeringsmaatreëls hierbo beskryf, nie kan voortgaan nie.
• Die mosie deur die Uitvoerende Komitee van die Raad van die Universiteit wat op 15 November 2015 aanvaar is, herbevestig die status van die verklaring deur die Bestuur as ʼn besprekingsdokument; dit bevestig ook die statutêre proses wat nodig is om veranderinge aan die Taalbeleid aan te bring; en dit bevestig dat die goedgekeurde taalspesifikasies van toepassing sal wees in 2016.
• Dit is nie akkuraat dat ons Bestuurspan ons verklaring van 12 November teruggetrek het nie. Ons bly daartoe verbind om die akademiese aanbod in Afrikaans en Engels uit te brei, asook tot effektiewe interne kommunikasie wat nie belangegroepe uitsluit nie.
• Ons bly ook volkome daartoe verbind om die statutêre prosesse te volg om veranderings aan die Taalbeleid en Taalplan aan te bring. 

Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier

Na aanleiding van wat ek hier te lese kry, het ek gedink dat ek prof De Villiers tog maar sal antwoord en het ek die volgende in ’n koue donker laatmiddag aan hom gestuur.

Geagte prof De Villiers

Dankie vir u skrywe, persoonlik aan my gerig, maar wat ek aanneem aan ten minste elke lid van die konvokasie gestuur is. Dankie ook vir die drie skakels waardeur 'n mens toegang kry tot volledige dokumente.

U is waarskynlik onkant gevang deur die aard en omvang van die reaksie, maar u behoort darem iewers te verstaan dat Afrikaanstaliges aanspraak wil maak op 'n Afrikaanstalige universiteit. Met ras en rasgebaseerde transformasie het dit niks te make nie.

Dit lyk asof u hierdie vanselfsprekende idee nog steeds vreemd, onhoudbaar en onaanvaarbaar vind. 

Die rede daarvoor gaan my verstand steeds te bowe. "Uitsluiting" (soos u dit graag noem) deur taalmedium Afrikaans is immers geen uitsluiting van universitêre studie nie, aangesien daar 'n horde ander universiteite is waar studente in 'n Engelsmedium milieu kan studeer. Onder andere twee binne die onmiddellike omgewing van Stellenbosch. 

Maar as u argument deurgevoer word, sal 'n mens uiteindelik moet aanvoer en aanvaar dat daar vir Afrikaansmedium skole ook geen plek is nie. Ander deelnemers aan die debat het reeds hierop gewys.

Stellenbosch se uitnemendheid het niks te make met die feit dat dit Engels moet word nie, want dit was immers altyd 'n voortreflike akademiese inrigting. Die geskiedenis van sy alumni bevestig dit. U is self daarvan 'n voorbeeld, en u vader ook.

Wat die voorgestelde "taalbeleid" uiteindelik impliseer, is egter dat duisende Afrikaanstaliges in die Wes-Kaap (en natuurlik elders) uitgesluit gaan word van die voorreg en geleentheid om in Afrikaans student te wees, met alles wat saamhang daarmee. So word hulle natuurlik vreemdelinge in hulle eie leefwêreld en hulle land.

Ek lees dat die RBS se uitgangspunt vir sy besluit berus op die feit dat Engels die "omgangstaal" in Suid-Afrika is. Dit het natuurlik niks te make met die grondwetlike verskansing van al ons tale nie, en beslis nie met die verpligting van die Staat om die bevordering van alle tale (ook Afrikaans) te verseker nie. Nie eers u sou kon aanvoer dat die voorgestelde besluite aan hierdie grondwetlike verpligting gehoor gee nie. 

Engels, aan die ander kant, hoef nie as taal op tersiêre vlak beskerm of bevorder te word nie – daaroor stem ons almal saam.

(Terloops: as die ander nege Suid-Afrikaanse tale op universiteitsvlak bevorder moet word, sou ek meen dat dit in die eerste plek sou geskied in 'n omgewing waar daardie tale "omgangstale" is: Xhosa by universiteite in die Oos-Kaap, Zulu in KZN, Venda en Noord-Sotho in Limpopo ens. Of meen u dat daardie universiteite nie goed genoeg is om dit te doen nie? En, interessant genoeg, ek merk nie op dat daar by die ander twee universiteite in die Wes-Kaap omvattende programme is om Xhosa se posisie as onderrig- en leermedium te bevorder nie.)

En sou u u nie kon indink dat 'n mens ook die maatstaf van 'n "omgangstaal" kon terugvoer na 'n kleiner omgewing, soos 'n universiteitskampus, nie.

U bestuurspan se voorstel behels verder ook: In koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies te gebruik. Ander tale kan ook bykomend gebruik word, en meganismes soos tolking kan ook ingespan word. 

Wat 'n verstommende besluit. As u ten minste voorgee om demokraties te wees, sou u kon voorstel dat die koshuise by wyse van 'n meerderheidstem self kon besluit oor watter taal of tale as "koshuistaal" gebruik moet word. Sien u, nou skielik is "omgangstaal" nie meer 'n faktor nie. 

Daar is, vrees mens onder hierdie omstandighede, uiteindelik die moontlikheid denkbaar dat ook koshuistoelating gaan geskied op basis van "ras" en "taal", om op hierdie wyse te verseker dat Engels sy "regmatige" dominante posisie in elke koshuis kry.

Gaan daar verder ook mettertyd verwag word dat afrigting van alle sportspanne in Engels moet geskied, aangesien dit, juis ook op Stellenbosch, 'n integrale deel van die studente se "leefomgewing" uitmaak? En alle studenteverenigings? Die Matie?

Die subtielste ingryping kom natuurlik in die verskuiwing rondom die klas-aanbod. 

Rondom groot klasgroepe bly die situasie ten opsigte van parallelle aanbiedings onveranderd, voorlopig altans. Maar ek kan my voorstel dat daar gou-gou aangevoer gaan word dat 'n dosent nie Afrikaans magtig is nie, en dat die parallelle aanbod in twee of meer groepe maar vir almal in Engels gaan wees. En, ja, die dosent verstaan geen Afrikaans nie: opdragte en eksamens moet maar liefs in Engels voltooi word.

Maar dit is rondom die kleiner groepe waar die akademiese kapitulasie duidelik word. Op die oomblik is die beleid wat in 2016 geïmplementeer gaan word volgens u brief die volgende: • Vir kleiner klasgroepe behoort alle konsepte in ten minste Engels oorgedra te word, met leer wat versterk sal word deur die beklemtoning van sleutelbegrippe ook in Afrikaans. Dit brei die gebruik van Engels uit, sonder om die status van Afrikaans as 'n onderrigtaal aan te tas.

Ek sukkel om presies te verstaan wat hierdie benadering gaan behels: "alle konsepte in ten minste Engels" "met "beklemtoning van sleutelbegrippe ook in Afrikaans". "Ten minste" beteken net een ding; daar is 'n opsie rondom Afrikaans. En is "konsepte" en "sleutelbegrippe" verskillende dinge? 

Die mooiste is egter die slotsin: dat hierdie benadering die gebruik van Engels uitbrei, sonder om die status van Afrikaans as 'n onderrigtaal aan te pas. Regtig? As "onderrigtaal"? As dit die soort logika is wat besluitneming op Stellenbosch ten grondslag lê, hou ek my hart vas rondom akademiese uitnemendheid.

Volgens die Bestuurspan is die nuwe voorgestelde beleid egter die volgende, nogal 'n ingrypende, verskuiwing: In kleiner klasgroepe sal alle inligting in Engels oorgedra word. Addisionele ondersteuning in Afrikaans en isiXhosa sal voorsien word gedurende die lesing en/of aanvullende, gefasiliteerde leergeleenthede om studente te help om die akademiese materiaal te verstaan.

Wat 'n mens vermoed het, word nou direk uitgespel: alle inligting in Engels. Afrikaans word 'n stertjie, iets wat later, miskien, en met ekstra las vir die studente, aangevul sal kan word. Vreemdelinge aan hulle eie universiteit.

'n Mens sou begrip hê vir daardie omstandighede waar 'n dosent NIE Afrikaans magtig is nie (dit was nog altyd die geval op Stellenbosch), maar nou word die uitgangspunt dat die dosent in die eerste plek Engelstalig is of moet wees. Kom dit by aanstellings, is dit duidelik dat Afrikaanstaligheid 'n belemmerende eerder as 'n normale faktor gaan wees. Daarmee lui die doodsklok vir Afrikaans as 'n akademiese taal.

In u dokumente word daar telkens gepraat van taal as "versperring" in die pad van toegang en sukses. Snaaks dat dit nooit in die verlede as versperring vir Engelstaliges op Stellenbosch gedien het nie, en ook nooit 'n faktor was vir die suksesvolle voltooiing van akademiese programme nie. En vir die moontlikhede om internasionaal kleim af te steek. 

Om na iets anders terug te keer. Wat my bly interesseer, is die rede waarom u in die eerste plek die "RBS-verklaring" juis nóú uitgereik het. As dit net 'n algemene besprekingsdokument sou wees, lyk dit my dat die heel beste tyd sou wees om dit aan die begin van 'n akademiese jaar aan die orde te stel. Vir 'n lang en rustige debat. Maar nou kan ek iewers nie aan die gevoel ontsnap nie (vergewe my hierdie sinisme, maar ek het hierdie strategie al elders aan die lyf gevoel) dat hierdie nuwe beleid op pad was na 'n raadsvergadering en dat gedane sake daarna net met baie moeite gekeer sou kon word.

Ek wil u en u bestuurspan vra om ten minste net weer na die taalverspreiding van Suid-Afrikaanse universiteite te kyk, na die werklike taaldemografie wat in die Wes- en Noord-Kaap bestaan, na die belange van alle Afrikaanstaliges en na wat in die Handves van Menseregte in artikel 29 rondom taal en onderwys uitgespel word. Ek gee dit maar in Engels omdat u u duidelik daartoe wil verbind. Die vetdruk is van my kant af.

29(2) Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable. In order to ensure the effective access to, and implementation of, this right, the state must consider all reasonable educational alternativesincluding single medium institutions, taking into account –

[a] equity;

[b] practicability; and

[c] the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices.

Wat is, bly die vraag, eintlik “reasonably practicable” onder die bestaande omstandighede waar daar nêrens anders die moontlikheid is om in Afrikaans te studeer nie? Beslis nie om Afrikaans te reduseer en ondergeskik aan 'n ander taal te stel nie!

In hierdie konteks bestaan daar GEEN rede waarom Stellenbosch nie in die eerste plek 'n Afrikaanstalige universiteit sou wees en moet bly nie. En dit is hierdie reg wat elke Afrikaanstalige op sy of haar manier in die reaksie op die bestuursbesluit probeer uitoefen.

Buitendien het die Afrikaanstalige gemeenskap in terme van art 31[2] die reg "to form, join and maintain [...] linguistic associations and other organs of civil society", waarvan Stellenbosch in terme van sy ontstaan en ontwikkeling beslis een is, al het hy ook status as 'n openbare opvoedkundige inrigting. 

Dit is ook hierdie reg wat elke Afrikaanstalige op sy of haar manier in die reaksie op die bestuursbesluit probeer uitoefen.

Sterkte met al hierdie dinge.

Prof Fanie Olivier

Ns. Hier uit Pole (waar die taal-inkommers maar ook moet aanvaar dat Pools die universiteit se akademiese en administratiewe werkstaal is).

  • 37

Kommentaar

  • Avatar
    Willem de Jager

    Dankie vir u skrywe, Prof Olivier. 'n Mens sou dink dat Prof De Villiers dit wat u hier uiteensit sou verstaan; in ag sou neem hoe die meganismes van vreemdeling-making in werking gestel is. Hy verstaan dit egter ongetwyfeld heel goed: Waar ideologies-gedrewe besluite as pragmatisme voorgehou word, word nugtere rede die vyand.

  • Avatar
    Etienne Terblanche

    "Wat 'n mens vermoed het, word nou direk uitgespel: alle inligting in Engels. Afrikaans word 'n stertjie, iets wat later, miskien, en met ekstra las vir die studente, aangevul sal kan word. Vreemdelinge aan hulle eie universiteit."

    En ter wille van vrede, en om praktiese oorwegings, gaan die Afrikaanse studente die spit afbyt en ooreenkom om dinge maar in Engels te doen: soos op UJ.

    Dit breek my hart. Ons gewelddadige land wys nou ook sy kulturele tande, nee, hap sommer net blindelings na Afrikaans, die sondebok. Lekker ou Newspeak. Ek het die mag, bly jy stil, ek sal vir jou sê hoe jy moet maak, en wanneer: jy is eksklusief, so ek sluit jou uit, ek maak jou toe! En ek is nie eksklusief nie.

    Ek dink ons sien die einde van die demokratiese gees waarbinne die nuwe SA begin het. Ons sien 'n "new kid on the block," 'n nuwe fascisme, en hy lyk verskriklik oud en bekend, nes die skynbaar-beskaafde, gevaarlike omies van destyds.

    Of sien ons dit? Is ons siende blind? "Eyes wide shut?"

    Hoe ook al, daar is aansienlike kwade bedoelings onder sekere besluitnemers teenoor Afrikaans ... of aansienlike onkunde.

    U berig is 'n vars bries. Heerlik kalm en beredeneerd, maar nie bloedloos nie. Baie dankie. Ek hou die berig vas.

  • Fanie, jy slaat de spijker op de kop. Artikel 29.2 en 31.2 spreken voor zich. Ik denk dat prof De Villiers dit wellicht heeft "vergeten".

  • Avatar
    Ronelle Melvill

    Prof Fanie Olivier,
    Dankie dat jy geskryf het wat ek nie kon verwoord nie.
    Soos talle ander, het ek die Rektor se omskrywe met groot onrus gelees.
    Prof De Villiers, ek rig die volgende vertoë tot u uit Perth, Australië:
    Luister asb na die dringende beroepe wat tot u kom vir die behoud van ons Afrikanertaal en -kultuur: Afrikaans is nie Siembamba nie.

  • Avatar
    Charl-Pierre Naude

    Uitstekend gestel, Fanie. Die belangrikste punt van jou skrywe bly hierdie een:
    Uitsluiting" (soos u dit graag noem) deur taalmedium Afrikaans is immers geen uitsluiting van universitêre studie nie, aangesien daar 'n horde ander universiteite is waar studente in 'n Engelsmedium milieu kan studeer. Onder andere twee binne die onmiddellike omgewing van Stellenbosch.
    Daar is 'n absoluut benepe interpretasie van wat "insluiting" behels, tans vaardig, iets wat nie later as nou aan die kaak gestel behoort te word nie.
    Wat HET in 1976 in Soweto gebeur - werklik gebeur? Skoliere en studente is geforseer om definisie aan hulself te gee in 'n taal waarin hul hulself nie WOU definieer nie. En nou?
    Daar is 'n swyende hoop onder die gees van bewind dat die wil tot opstand onder Afrikaanses nie genoegsaam bestaan nie, en daarom sal daar 'n kans gewaag word met hulle. Dalk is hulle reg, maar dieselfde swyende hoop onder bewindhebbers en hul organe, het OOK in 1976 bestaan.

  • Ek het self ’n seun by Stellenbosch wat hartseer is. Die jonges sien hul toekoms Engels en wil nie in Afrikaans klas loop nie. Al die terme wat hul gaan gebruik bv as ’n rekenmeester is Engels so hoekom moet hy dit dan in Afrikaans leer?

    • Ek het in Afrikaans studeer. Meeste van my boeke was in Engels. Ek het hoofsaaklik vir Engelse maatskappye gewerk en het geen probleem met enige terme in Engels en/of Afrikaans nie.

  • Dankie vir hierdie logika wat vir my sin maak. Die einde van Afrikaans as voorgraadse onderrigmedium sal lei tot die einde van Afrikaanse hoërskole; daardie instansies wat jaarliks van die beste matriekprestasies behaal. Is Akademia die alternatief indien US voortstorm na 'n Engelse instansie?

  • Avatar
    Sharon Doubel

    Dis jammer dat Stellenbosch nou, nadat die kinders aansoek gedoen het, sy "omgangstaal" verander. Ons was ingenome met die T sisteem. Nou is dit te laat om aansoek te doen by ander Afrikaanse universiteite. Ek self was op RAU toe dit een van die beste B.Com.-fakulteite gehad het. As gevolg van sy taalbeleid en verandering is dit nie 'n plek waarheen ek my dogter sal stuur nie. Dis jammer om te sê maar Maties jy gaan dieselfde doodloopstraat af as RAU. Die heilige klippe van die Taalmonument word vandag deur niemand geag by UJ nie, net so sal die rotse wat Maties gebou het, die Afrikaners afgebreek word. Haar monumente afgekap word; haar beelde vernietig word. So sal ons vergaan as gevolg van ons gebrek aan kennis.

    • Sharon, jou verwysing na 'heilige klippe' roep by my die "heilige kalf" op! Verslaafdheid aan die goeie ou dae van bevoorregting van die taal gaan ons nêrens bring nie. Taal moet in diens van die land en al sy inwoners staan. "Al praat ek die tale van mense en engele praat ...

    • Avatar
      Marianne Collen

      Dankie Fanie. Jy het alles gesê wat ek in my hart voel. Die derde geslag Maties moet nou prysgee wat ons as vanselfsprekend aanvaar het.

  • Baie goed gestel, bravo! Ek is 'n boerin in die Wes-kaap waar alles baie afrikaans is. Wat van agtergeblewe bruin mense wat regtig sukkel met Engels? Antwoord asb Prof de Villers.

  • Avatar
    Jacobus Pienaar

    Dit is so perfek gestel, dankie.
    Kan iemand nie die skole in Stellenbosch reël vir ’n protes in pro-Afrikaans nie?
    Ek moet byvoeg, dat Madiba sowel as Zille al op rekord verklaar het dat daar ’n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch moet wees.
    Die probleem het gekom met die ANC lakeie, Brink en Bothman se toelatingsbeleid om Afrikaanse studente te verminder.
    Die laaste strooi was die 50/50-opsie, wat die verwagting van transformasie-ideologie van Afrikaans uit, verhoog het.

  • Sou Slim Wim se huistaal nog Afrikaans wees? Wonder net. Maar wou eintlik sê Afrikaans is bloot die eerste hekkie. Sedert "demokrasie" gaan alles oor poste/geld vir voorheen benadeeldes. Die volgende druk gaan wees vir getalle doserende personeel en studente volgens nasionale demografie. Kwalifikasies is mos maklik verkrygbaar in sommige kringe.

  • Fanie, dankie. Wat 'n nugtere en beredeneerde siening. Mag Wim de Villiers en andere se oë oop gaan.

  • Avatar
    Pienkes du Plessis

    Die besluite van prof De Villiers en sy bestuurspan om Afrikaans eintlik met 'n spantou vasgebind die toekoms in te neem, is verstommend. Die gevolge landswyd gaan so verreikend wees dat ons oor tien jaar sal vra hoe dit moontlik was dat Afrikaanssprekendes ooit kon toelaat dat hulle taal stil-stil in 'n doodkis toegespyker word. Dankie prof Olivier vir u uitmuntende brief.

  • Raymond Van Diemel
    Raymond Van Diemel

    Een neiging opvalled van prof Fanie - die neiging tot uitsluiting en na al die jare nog 'n verslaafheid aan "Afrikaanssprekendes alleen en na die maan met die res". Sal SU oor 25 jaar nog eksklusief Afrikaans wees? Nee, so waarom nie Prof Wim se toekomsdenke ondersteun nie?

  • Avatar
    Pierre de Villiers

    Ek dink prof Wim loop op `n baie dun draadjie. Hy moes net besluit watter kant toe hy wil val. Uiteindelik het die emosie gewen en die intilektuele verloor. Gaan ons maar net aanhou toelaat dat ons taal geboelie word, of gaan ons soos die Franse ons taal voorop stel?

  • Uitstekende reaksie Prof. Ek hoop diegene wat so kapituleer aan Engels sal dit sal verstaan. Ek skaam my vir die leierskap by my Alma Mater.

  • Ons een kind se senior klas het ses jaar gelede besluit op Afr as studietaal in een vak. Toe stel Stellenbosch ’n dosent aan wat nie Afr magtig was nie! Ons voorouers het geveg om Engels uit skole ens te hou, nou neem die Engelse taal net so oor ... oorgawe word op ’n skinkbord gegee. Dis so jammer.

  • Avatar
    Anna-Marie Grroenewald

    Tog verstommend dat die woord "transformasie" steeds genoem word terwyl hulle eintlik van taalbeleid praat. As 'n mens na die Wes-Kaap kyk, is Afrikaans beslis die taal wat die meeste gepraat word (Engels is nie eers onder die eerste 3 tale wat die meeste in SA gepraat word nie!) en 'n groot deel van die Afrikaanssprekendes is ons bruin gemeenskap ( wat ook gereken word onder agtergeblewenes) wat meestal in die Wes-Kaap voorkom. As ons wil transformeer, hou dan Stellenbosch meestal Afrikaans sodat die bruin deel van ons bevolking ook moedertaalonderrig kan ontvang. Studente wat graag in Engels onderrig wil ontvang het baie ander universiteite om uit te kies, so die argument van taaltransformasie hou nie water nie, ook nie die stelling dat Stellenbosch 'n wêreldgehalte universiteit wil word nie. Dit was hy nog altyd. Vgl ons knap medici wat al die jare nog altyd wêreldwyd geloof is. Ek dink eerder dat die verengelsingsbeleid die standaard sal afbring na 'n Derdewêreld-universiteit. Daarom gaan ek maar my klein donasietjie wat ek elke maand al jare lank vir die universiteit gee, staak. Dit lyk so al asof die regering reeds groot donasies gegee het om Engels spreektaal te maak in 'n oorwegend Afrikaanse distrik; ek is regtig teleurgesteld dat die universiteit so swig voor druk van 'n politieke party.

  • Avatar
    marie bredenkamp

    Bravo, Fanie - en dat jy uit die vreemde 'n eg-Afrikaanse, en vriendelike beredenering deurstuur na "the powers that be". En vir die ruime ondersteuning deur seker 99 % van de deelnemers aan hierdie gesprek. Ek is bevrees niemand is so doof as dié wat nie wil hóór nie (hoekom dink ek aan Breyten se 'Huis van die Dowes': "Hoesê?"). En verder dink ek ons moet weer die oorsprong van die uitdrukking "Jy sal nog jou gat sien!" gaan naspeur. Ek vertoef nog 'n wyle in Engeland, maar ween oor die geleidelike heengaan van Stellenbosch.

  • Baie dankie prof Olivier vir belangrike aspekte aan die rektor uitgewys.
    In die 1ste koerantberigte op 13 November, het die outoritêre woorde soos “sal” en “moet” in elke paragraaf my opgeval. Is dit dié soort hedendaagse taalgebruik van US akademici, dalk die verslaggewer se vertaling van hul "recommendations" (onthou, dit was in Engels) of die woordkeuse van dr Blade se ultimatum?
    Waarom was hierdie "voorstelle" vir die Raad bedoel, voor hul vergadering openbaar gemaak? Selfs die Raad was hiermee onkant gevang. Was dit veronderstel om die Raad uit te daag en te manipuleer, die ANC tevrede te stel, ondersteuning te toets, OS tevrede te stel, of om 'n minagtende boodskap van nie-inmenging te stuur aan betrokke buitestaanders (lees almal wat vir Afrikaans omgee) en donateurs?
    Dit is te begrype dat universiteite in die 21ste eeu, en spesifiek in SA, moet ontwikkel om aan hedendaagse uitdagings en vereistes te voldoen. Maar kan hierdie soort transformasie uitgevoer word sonder die tradisioneel akademiese waardes van intellektuele vryheid, kritiese ondersoek, eerlikheid, verdraagsaamheid, outonomiteit ens ens?
    US se ambisie om as 'n “wêreldklas” universiteit te kompeteer en erken te word, word admireer, maar terselfdertyd word vergeet dat dit in 'n ontwikkelende land opereer en 'n etiese plig teenoor veral die bruin gemeenskap van die Wes-Kaap het. Waar anders moet uitblinker bruin, wit en swart Afrikaans-sprekers gaan studeer? US ontken dat dit 'n streeksuniversiteit is, maar buig agteroor om isiXhoza, as 3de taal in die WK, te akkommodeer. Hoe rym dit?
    Soos modegiere, sny die US-bestuur elke paar jaar hul taalbeleid na die patroon van ANC-dreigemente en wéér eind 2015 volgens wat gons op studente aktiviste se # - vaandels.
    Kylie Thomas se “free borns” groepie Open Stellenbosch studente en hul roerende “Luister” reklame video dra veel meer gewig by die visekanselier en kie. Was hulle dan voorheen so blind vir die brutale rassisme deur party van hul studente? Ons sou verwag dat minstens 'n oop taalkongres by 'n wêreldklas universiteit gereël sou wees, voordat eensydig en kortsigtige voorstelle aan die Raad vir goedkeuring voorgelê word. Vrydenkers se kritiek en insette word eerder as “regs” verdag gemaak. Geen wonder daar is soveel agterdog en selfs vyandigheid onder die algemene publiek nie.
    En nee, vir 'n Akademia as plaasvervanger vir US wat opgebou en befonds was met beursies wat Afrikaans praat. US kan ook 'n ekstra kuberuniversiteit met e-onderrig begin. Ons wil ons kinders laat sosialiseer met enige student wie respek het vir mekaar se tale en kultuur, en aan Afrikaans haar regmatige status op US gun. Soveel tale elkeen kan, soveel male 'n beter ingeligte gegradueerde.
    Almal is egter nie so naïf om nie te besef dat die aanslag op Afrikaans as taal, eintlik die volgende fase is om wit Afrikaanssprekendes finaal te straf en hul regte in SA te ontneem, 'n spreekwoordelike, “jaag die vuil skuim terug in die see vanwaar hulle kom”. Terselfdertyd word die bruin mense as minderwaardig aan die “Africans” beskou, behandel en benadeel..
    Argumenteer, skryf, gal braak, petisies of sinvol in die media debatteer, help niks in SA, maar eise stel deur te intimideer met betogings verrig wondere. Elke nuuskanaal se TV kamera is daar om die gebeurtenis wêreldwyd te beeldsend, so ook die slimfoonvideos op die sosiale media.
    Ek is bevrees, as bekommerde Afrikaanssprekendes werklik hul taal tot sy regmatige status by US wil herstel, sal duisende vreedsaam met die 2016-opening, die kampus moet gaan beset en eis dat hul wense vervul word voordat hulle die betoging staak. Daar is genoeg ruimte om klein tentjies op te slaan en heel kreatief die protes vriendelik en aanskoulik aan te bied. Opelug debatte, voordragte, dra van kostuums, biljette uitdeel, slim plakkate, geur van braaivleis, musiekverhoë (met bv Amanda, Bosch, Coenie, Laurika, Chameleon, Parow, Zoid) wat studente en dosente lok soos die rotvanger fluitspeler van Hameln ens ens. Naspers kan die borg wees, want sonder lesers sal ook hul Afrikaanse produkte uitsterf. Donateurs moet oortuig word om hul skenkings te staak, totdat die US bestuur LUISTER en 'reboot'.
    Ongelukkig is bogaande net 'n verbeeldingsvlug: ons Afrikaners is te gemaksugtig, sien neer op proteste en talle is reeds die grootste vyand van Afrikaans deur te glo hul kinders het 'n beter toekoms (elders!) in Engelse skole en universiteite. Afrikaners is nie bereid om op te offer vir wat hul taal vra nie. Enige iemand gereed om die kapituleerders en passiewe studente Januarie in US te gaan wakker skud?

  • Avatar
    Christiaan Klindt

    Dankie Prof Fanie
    Met ’n oop kop voel ek dat daar vir almal in hierdie land ’n plek moet wees ook vir my kind. Hoe regverdig ons dit dat elke etniese groep en taal ’n plek mag hê maar Afrikaans moet altyd sy plek deel? Terugstaan en buig is nou al so ’n deel van die reaksie deur Afrikaanses dat ons dit nou in ons eie huis, US, ook oorweeg. Nee wat Afrikaans was hy nog altyd en Afrikaans moet hy bly.

  • Avatar
    Johan Gericke

    ’n Raakvat betoog. Die omvang van hierdie sosiale ingenieurswese is laas onder apartheid gesien. Hierdie is inderdaad ’n vergeldende omkering van daardie argitektuur – en nie minder verwerplik nie -, gebaseer op die grys reënboog-ideologie waar een wit en Afrikaanse ‘pixel’ uit elke tien op elke lewensterrein onsigbaar sal raak, en waar daar nie ’n plek in die land sal wees waar ’n Afrikaan herinner sal word aan die pyn van ’n gekolonialiseerde verlede nie - die werklike ‘dekolonisasie van die denke’ - en waar die Springbokspan soos Bafana lyk, en inkomste per kapita gelykheid bereik. Nog ’n domino tuimel.
    Getalle en gehalte behoort nie ’n probleem te wees nie. Solank NWU (Potch) en VU onder dieselfde swaard leef, en met helderheid oor Stellenbosch sal Afrikaanse studente landwyd instroom. Daar sal dan veel harder gewerk moet word aan respek vir ander, en om nie-wit studente te werf en welkom te laat voel, want balans gaan krities wees. En natuurlik sal daar voortreflike dosente wees wat eksklusief in Engels sal werk. Elke student behoort ten minste een kursus te neem in ’n ‘vreemde taal’ uit Suid-Afrika, wat nie Engels of sy huistaal is nie, soos in Amerika gestipuleer word. Voorts glo ek dat die oorgrote meerderheid van studente wat ’n graad in Afrikaans kan verwerf, weinig probleme behoort te hê om gewoond te raak aan Engelse terminologie in die werkplek.

  • Avatar
    koos van Rooyen

    Baie goed gestel Prof Fanie. As 1000 Afrikaanssprekende studente by Wits gaan inskryf en betoog om in Afrikaans onderrig te word sal hulle uitgelag word. Daar is baie plattelandse kinders wat nie Engels magtig is nie. Waar moet hulle gaan studeer?

  • Avatar
    Jacobus Pienaar

    En toe is status quo gehandhaaf. Dis egter net tydelik, want dubbelmedium raak altyd enkelmedium in SA. Slim Wim en sy bende sal nie die klap lekker vat nie. Ek moet hom dankie sê, hy het die ANC se transformasie verduidelik. Die migrasie van die Nguni se voltooiing tot die hele Suider Afrika.
    Wel daar kom nou weerstand van baie voorheen apatiese mense en studente.

  • Avatar
    Bennie & Rita van den Berg

    Hoe kan ons met Fanie kontak maak?
    Dit gaan oor sy ou alma-mater, Port Natal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top