#NtuliMustRepresentAll: Nuwe UV-Taalbeleid moet ook Afrikaanse studente verteenwoordig

  • 15


universityseminar_banner

Geagte professor Jansen, visekanselier en rektor van die Universiteit van die Vrystaat,

Geagte lede van die Universiteitsbestuurkomitee van die Universiteit van die Vrystaat,

Geagte lede van die Uitvoerende Komitee van die Senaat van die Universiteit van die Vrystaat,

Geagte lede van die Senaat van die Universiteit van die Vrystaat,

Geagte lede van die Raad van die Universiteit van die Vrystaat,

Geagte lede van die UV-Taalkomitee van die Universiteit van die Vrystaat,

Geagte lede van die Studenteraad van die Universiteit van die Vrystaat,

As Nederlandse internasionale uitruilstudent is ek bekommerd oor die diskoers wat aan die UV ontstaan het oor die taalbeleid. In 2012 het ek die tweede semester aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en dit was 'n wonderlike ervaring. Ek het vriende gemaak, interessante Afrika-sienings leer ken en 'n nuwe taal – Afrikaans – my eie gemaak. Ek het vir een semester modules in BSc Geografie en Omgewingsbestuur gevolg, wat soortgelyk is aan my kursus, Stads- en Streekbeplanning, aan die Ryksuniversiteit Groningen in Nederland.

Gedurende die ses maande by Kovsies het ek belangrike oomblikke ervaar wat my vir die res van my lewe sal help vorm. Buiten 2012 se Suid-Afrikaanse ervaring, was ek ook tussen 2010 en 2013 ’n blogger by Nuus24 en bestuur ek tans Die Afrikaanse Opinieplatform wat ’n gesamentlike tuiste vir ou Nuus24-bloggers is.

Vanuit my Nederlandse perspektief word ek verbaas oor hoe sekere sake aan die UV gehanteer word. Natuurlik is daar aan die een kant die bemarking van die universiteit wat aanlyn plaasvind en aan die ander kant die werklikhede op die kampus. Dit was juis nie die bemarkingsfoefie wat my lewe verander het nie, maar die barre sosiale omstandighede op die Bloemfonteinkampus.

Wat my verder in verbasing laat is dat Lindokuhle Ntuli, die voorsitter van die Studenteraad (SR) op die Bloemfonteinkampus, hom teen Afrikaans uitgespreek het. Hy het gesê dat Afrikaanstalige fasiliteite studente skei. Sy oproep gaan saam met geweldige stemmingmakery teen Afrikaans. Hierdie mate van polarisasie wek kommer. Hy behoort egter ook die belange van studente wat in Afrikaans lesings volg, te verteenwoordig! Ek dink hy verteenwoordig Afrikaanssprekendes met sy uitsprake oor Afrikaans net soveel soos die apartheidsregering swart mense verteenwoordig het: sy mening verteenwoordig absoluut nie die belange van die groep waaroor hy praat nie.

Dit is myns insiens ook 'n ernstige probleem dat die SR geen verkose lede het wat Afrikaanse lesings volg nie, as 'n gevolg van 'n stelsel waarby lede per pos gekies word en minderhede daarom geen setels wen nie. Die Afrikaanssprekende lede wat wel gekies is, volg na bewering Engelse lesings. Slegs van die nieverkose SR-lede sou Afrikaanse lesings volg, maar omdat hul mandaat by die universiteitsbestuur geleen is, kan hulle nooit met dieselfde gesag in die SR praat as gekose lede nie. Dit sorg vir ernstige vraagtekens oor die mate waarin die SR studente wat Afrikaanse lesings volg, kan verteenwoordig. Dit ontbreek die SR daarom volledig aan legitimiteit om vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal te pleit. Die universiteit moet daarom hierdie relatiewe meerderheidsdiktatuur van verkiesings per pos vervang deur meer eweredige verteenwoordiging, waarby studente wat Afrikaanse lesings volg, ook verteenwoordig word binne die SR.

Maar die universiteit en die SR het 'n punt. Die huidige taalbeleid is myns insiens onhoudbaar. Dit skei mense te veel. Let wel: dit is 'n aanklag teen die beperkings van parallelmedium onderrig en nie teen onderrig in Afrikaans (of Suid-Sotho) nie. Hoewel die universiteit meertalig is, is dit vanuit die oogpunt van studente eentalig. Dit veroorsaak probleme met die aanvaarding van die ander kant van die parallel. Dit was die oorsaak vir die ontwikkeling van 'n persepsie waarin onderrig in sekere tale slegs ter bevoordeling van sekere groepe plaasvind.

Hierdie persepsie, asook die UV se beleid om slegs in Engels te transformeer, het gelei tot die huidige situasie waarin Afrikaans nie as taal waarin transformasie kan plaasvind, erken word nie. My vraag kom neer op waarom transformasie slegs in Engels plaasgevind het en nie óók in Afrikaans nie. Hoekom het Kovsies nie probeer om die demografie van Afrikaans in die Afrikaanse klasse te laat weerspieël nie? Hoekom is bruin en swart studente nie gestimuleer om in Afrikaans lesings te volg nie? In die universiteit se koshuise geld wel die harde 50/50-raskwota, maar transformasie van Afrikaans en transformasie in Afrikaans behoort skielik nie tot die universiteit se take nie?!

Laat almal daarvan bewus wees dat universitêre taalbeleid nie net gaan oor die taal van onderrig nie, maar ook oor die taal van navorsing en blootstelling aan variëteite van wetenskapvisies.

Ek dink die universiteit moet meertalig wees en bly. Die bate van meertaligheid is vanuit akademiese perspektief goud werd. Afrikaans gee as wetenskaplike taal toegang tot Nederduitse (Rynlandse) wetenskapvisie, gemeng met persepsies van Suider-Afrika. As Suid-Sotho ook gebruik word, kan unieke Afrika-persepsies aan wetenskap toevoeg. Die (eensydige) Angel-Saksiese (Engelstalige) wetenskapfilosofie word steeds nadruklik deur wetenskaplikes en institute uit die Verenigde State en Verenigde Koninkryk oorheers. Selfs Europese wetenskaplikes, wat veral wetenskap in hul eie moedertale bedryf, sukkel om ander wetenskapvisies (bv Nederduitse of Franse) in Engels te publiseer. Angel-Saksiese wetenskaplikes en tydskrifte is huiwerig om al te veel afwykende visies in Engels te aksepteer, juis omdat wetenskap na ’n eenduidige antwoord streef en die afwykende visies moontlik die onjuistheid van sekere standpunte kan toon.

’n Tweede belangrike wetenskaplike punt vir meertaligheid – en die natuurlike omgang met meerdere wetenskapvisies uit verskillende tale – is die feit dat wetenskap meertalig is. Dit is ’n leuen dat slegs Engels as internasionale taal van wetenskap gebruik word. Engels, Duits, Frans, Spaans, Portugees word almal wêreldwyd gebruik en het (nes kleiner tale) hul eie diskoerse. Dit is ook ’n leuen dat die inhoud van wetenskap in Engels superieur is aan wetenskap in ander tale. Op die gebied van energie is Duitstalige literatuur van hoër vlak as Engelstalige literatuur en op die gebied van stads- en streekbeplanning geniet Nederlandstalige literatuur soms die voorkeur bo Engelstalige literatuur. Hierdie omstandighede het byvoorbeeld prof Das Steyn van Kovsies se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe daartoe laat beweeg om ’n boek saam te stel met belangrike (Nederlandse) tekste van die Nederlandse prof Henk Goudappel.

Ek stem ook nie saam met André Keet nie, wat in Maandblad Zuid-Afrika sê dat die universiteit aan niemand behoort nie. Die bestuur – en nie die studente nie – is verantwoordelik vir die versekering van ’n stabiele toekoms van die universiteit: studente is klant en dus koning, maar nie die eienaar van die winkel nie. Oor wie “baas” is op die universiteit behoort nie die debat te lei nie, maar die debat moet gelei word deur die taak wat die universiteit in die samelewing moet vervul. Die universiteit is ’n middel om voorspoed in ‘n land te ontwikkel en te verseker. Dit is nie ’n doel wat sommer getransformeer kan word nie. As universiteite weens transformasie nie meer ’n middel kan wees om voorspoed moontlik te maak nie, kan die land nie meer sy nodige transformasie deurmaak nie. Transformasie van universiteite is nie direk in die belang van die land se miljoene armes nie. Transformasie van universiteite is slegs in die belange van die happy few wat universiteit toe gaan. As prof Keet dit nie besef nie, is hy onbevoeg om die transformasie van die Universiteit van die Vrystaat te lei.

’n Tweede punt betreffende transformasie is die waardes van transformasie. Na wat moet presies getransformeer word, wat is die doelwitte van transformasie? Ek dog transformasie is die proses om plekke en institute meer inklusief te maak, waarby daar ‘n plek is vir Europese sowel as Afrika-invloede, sonder dat die een die ander oorheers. As transformasie beteken dat Europese (of wit – soos rassiste dit noem) invloede vervang moet word met Afrika-invloede en waar geen plek meer is vir Europese invloede nie, is sommige voorstanders van transformasie daarom voorstanders van diskriminasie op basis van kulturele agtergrond. Die universiteit se plig – as instituut – is om sulke meningsvorming te bestry sonder om die vryheid van spraak te beperk. Die links-progressiewe bewegings wat transformasie voorstaan, sê hulle is voorstanders van die implementering van Afrika-waardes op universiteite. Maar die waardes wat die bewegings voorstaan, is heel moontlik nie “van Afrika” nie, maar sosiaal-liberale waardes afkomstig uit die weste. Daar is byvoorbeeld ’n groot verskil tussen die feminisme wat deur die transformasiebeweging voorgestaan word en die tradisionele man-vrou-verhoudings in Afrika volgens die (afgekeurde) Wet op Tradisionele Howe, waarby die wet sommige regte van vroue nie sou erken nie. Hoe kan die transformasiebeweging nou vir twee teenstrydige standpunte baklei?! Nog so ’n punt is dat die transformasiebeweging die heteronormatiwiteit van “wit mans” aan verskeie universiteite kritiseer, terwyl die Suid-Afrikaanse Raad van Tradisionele Leiers homoseksualiteit heeltemal afkeur. Ek wonder nou of links-radikale dele van die transformasiebeweging dan tog skelmpies Westerse waardes gebruik.

Die universiteit mag dus nie sommer buig vir die links-radikales wat blinde transformasie eis nie. Teen sommige dele van transformasie moet hard “nee” gesê word. Slegs na breë beraadslaging oor die agtergrond van sommige eise mag dinge gewysig word. ’n Kritiese en ope debat daaroor is noodsaaklik en Kovsies moet vermy dat mense gestraf word as hulle nie die hoofstroom mening deel nie, soos wat met Piet le Roux van die Universiteit Stellenbosch gebeur het. Histories Afrikaans-Nederlandstalige universiteite mag nooit kritiekloos teen hoofstroomse politieke menings staan nie. Anders het daardie universiteite niks geleer van hul rol in die ontstaan van apartheid nie.

Dit is ’n feit dat wetenskap in Afrikaans en Nederlands nodig is om bepalende gebeurtenisse in Suid-Afrika se geskiedenis te kan ontleed om sodoende ’n volhoubare toekoms vir die land te kan bied. Indien die UV blind sou verengels, sal dit moeilik raak om sy wetenskaplike posisie te handhaaf. Danksy die hoë standaard van Afrikaanse wetenskaplike onderrig is my punte van Kovsies een op een oorgeneem deur my Nederlandse universiteit. Buitendien sou verengelsing die universiteit byvoorbeeld ook met ’n groot erfenistaak opsaal: ’n nuwe bestemming vir derduisende Afrikaanse en Nederlandse boeke uit die UV-Sasol-biblioteek (een van die grootste versamelings van Afrikaanse en Nederlandse boeke in Suid-Afrika?) sal gevind moet word.

As die Universiteit van die Vrystaat as instituut met eie stem pa staan vir hierdie wetenskaplike belange, moet hy sy meertaligheid verdedig. Selfs as die universiteit hierdie redes, wat pleit vir die akademiese voordele van meertaligheid, wil verontagsaam, is daar redes waarom ’n stelsel van meertaligheid in die voordeel van die universiteit is.

Dit is egter ‘n feit dat bepaalde groepe Afrikaanssprekendes geen Afrikaanse lesings wil volg nie, omdat hulle daar nie welkom voel nie. Die gevoel word veroorsaak deur 'n klein groepie wat universiteit toe gaan as "white privilege" beskou en weens hul nie-akademiese ingesteldheid glad nie op die universiteit behoort te wees nie. Die laer wat hulle om Afrikaans getrek het, sal “ontlaer” moet word. Hulle sal moet besef Afrikaans is nie net hul besit nie. Die oplossing is nie om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf nie, maar juis om dit bloot te stel aan nie-Afrikaanssprekendes. Parallelmedium onderrig sal vervang moet word met ’n vorm van dubbelmedium onderrig. Dubbelmedium onderrig kan egter net werk as die sprekers van die mediumtale nie mekaar se tale praat nie. Ek sou daarom wil voorstel dat die Universiteit van die Vrystaat sy huidige taalbeleid so aanpas dat dit parallelle dubbelmedium onderrig bied. Met enkelmedium klasse in Engels en dubbelmedium klasse in Afrikaans en Suid-Sotho. So word die relatiewe eksklusiwiteit van Afrikaanse klasse deurbreek.

Daar is nog ‘n praktiese rede hoekom ek hierdie konstruksie voorstel: die kapasiteit van die lokale. Volgens prof Jansen moet die universiteit baie groei en teen 2020 ongeveer 40 000 studente 'n tuiste bied. In die huidige stelsel is lokale tydens Engelse lesings oorvol. Studente sit met ses in 'n bank waar eintlik vier behoort te sit en van die studente sit ook op die trappe. Die universiteit se huidige infrastruktuur is nie daarop bereken om die Afrikaanse studente by die Engelse lesings te prop nie, laat staan om as enkelmedium universiteit verdere groei van die aantal studente te akkommodeer. Dosente sal dus in elk geval meer as een keer hul stories moet vertel, omdat die lokale te klein is.

Na 20 jaar se universitêre transformasie moet dubbelmedium klasse – 50% tolking na Afrikaans (vanuit Suid-Sotho) en 50% na Suid-Sotho (vanuit Afrikaans) – haalbaar wees. Daar is in elk geval duisende mense in die Vrystaat wat Afrikaans sowel as Suid-Sotho praat. Die universiteit sal werklike meertaligheid moet bevorder: dat Suid-Afrikaners in hul eie taal sonder tussenkoms van Engels of 'n ander lingua franca met mekaar kan kommunikeer. Vertaaldienste kan daartoe bydra dat mense passiewe kennis van mekaar se tale kry – en daarmee insig in mekaar se kulture. Want slegs dan kan werklike en wedersydse transformasie plaasvind.

Slegs transformasie wat op grond van wedersydse respek plaasvind kan volhoubaar wees. Ongelukkig het die debat oor Kovsies se taalbeleid met vals redes begin toe prof Jansen in sy Maandagbulletin gesê het dat Afrikaanse studente voordeel het bo ander studente omdat daar spesiale Afrikaanse uittreksels van Engelse boeke beskikbaar is. Tydens my studies aan Kovsies het ek egter nooit sulke uittreksels gesien nie. Ek het wel gesien hoe (Afrikaanse) dosente geweier het om hul Engelstalige lesings se PowerPoint-skyfies in Afrikaans te vertaal en Afrikaanse vakterme in hul Afrikaanse lesings te gebruik. Een keer moes ek by een van daardie dosente protes aanteken omdat sy bestaande Afrikaanse vakterme as “foute” gemerk het omdat dit nie in ooreenstemming met die (Engelstalige) terme uit die (Engelstalige) boek was nie.

Geagte professor Jansen, u is vinnig besig om steun onder dosente en studente van alle agtergronde te verloor. Links-radikale studente, wat eintlik nie geïnteresseerd is in die doelwitte van transformasie nie, het transformasie gekaap om hul droom van ’n revolusie te dien. U weet dit. Daardie studenteleiers maak die versoenende werk van (voormalige) studenteleiers soos Emme-Lancia Faro, Johann Steyn en Modieyi Motholo ongedaan en ruk die mat onder u uit. U sal daarom moet (1) stop met sinnelose harde uitlatings oor sekere groepe; (2) terugkeer na die beginsels van u versoeningsleer; (3) steun soek vir hierdie beginsels (wat radikale en blinde transformasie uitsluit); (4) voorsiening maak vir ‘n doeltreffende, regverdige en ope transformasiebeleid; (5) ‘n volhoubare meertalige onderrigstelsel implementeer waarby die bates van verskillende tale aan almal toekom en (6) ’n stelsel van eweredige verteenwoordiging binne die Studenteraad invoer, sodat die stemme van minderhede hul plek binne die SR kry.

Geagte professor Jansen, indien u dit nie doen nie, sal u waarskynlik in die nabye toekoms gedwing word om te bedank as visekanselier en rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Ongelukkig is dit nie net u eie posisie wat in die geding is nie, maar ook die posisie van die universiteit as wetenskaplike instituut. Dit is juis u taak as visekanselier om die chaos wat daaruit kan ontstaan, te voorkom. Dit is die redes hoekom ek u oproep: Gebruik versoening en meertaligheid om transformasie aan Kovsies regverdig en inklusief te laat geskied.

Met vriendelike groete

Bart Bouwman

like_litnet_op_facebook

 

 

  • 15

Kommentaar

  • Avatar
    Englene Ferreira

    Baie dankie Bart Bouwman vir u uitstaande brief met riglyne vir 'n moontlike oplossing vir die probleme vir die handhawing van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat. Dat dit uit die pen van 'n Nederlandse student kom wat aanklank met Afrikaans gevind het, tydens sy studies aan die Universiteit, is hoogs prysenswaardig. Mag dit die oë, ore, mond, verstand en harte vind van diegene wat die Universiteit se belange op die hart dra.

  • Avatar
    Riana de Beer

    Baie interessante artikel. Ek hoop dat dit ook gelees sal word deur die persone aan wie dit gerig is

  • Avatar
    Etienne Viviers

    Hi Bart
    Ek is amper stom geslaan deur jou stelling dat die transformasie van universiteite nie direk in die belang van SA se miljoene armes is nie, maar slegs in die belange van die happy few wat universiteit toe gaan. Dit kom arrogant en onnosel voor, wat ek vanuit die res van jou skrywe aanneem nie eienskappe op toepassing van jou is nie. Andersins lees dit soos die neoliberale agenda wat Margaret Thatcher (nog 'n wetenskaplike) oor universiteite se non-rol in die samelewing se maatskaplike projek gepropageer het. (Thatcher het mos gedink daar is nie 'n "samelewing" nie, net individue, families en private industrieë.)
    Ek dink ook dit is simplisties om voor te stel dat jong swart feministe eintlik 'n Westerse paradigma voorstaan, terwyl ware "African roots" in die homofobie van die landelike patriargie moet lê. Homofobie in Afrika is die direkte gevolg van eeue-lange en voortdurende Westerse Christelike sendingwerk. Feminisme is ook nie outomaties en uitsluitlik 'n Westerse verskynsel nie.
    Ek hou baie van jou voorstel dat meer Afrikaanssprekendes en Sotho-sprekers mekaar se tale moet leer ken.

    • Nee, transformasie van universiteite is nie noodsaaklik in die belang van die land se miljoene armes nie. Universiteite moet 'n middel wees om transformasie in die land moontlik te maak. Indien universiteite se uitnemendheid beskadig raak deur transformasie van die universiteit self, kan die groter prentjie: eerlike, regverdige en nie-rasgebaseerde transformasie in die land in gevaar kom. Die land benodig universiteite wat funksioneer en studente tot goeie mense vorm, nie universiteite wat getransformeer is. Transformasie kan, as dit goed gebeur. Ongelukkig het transformasie van talle universiteite van Fort Hare tot die Universiteit van Limpopo misluk. Selfs die UK en Wits se internasionale akademiese aansien het die afgelope jaar hard gedaal. Dus laat ons 'n ander pad loop. Steeds transformasie, maar weg van meer Engels. Hoekom is daar soveel studente wat in Engels studeer, terwyl dit hul tweede taal is? Hoeveel Afrikaanse studente het Afrikaans as tweede taal? Hoekom gaan die UV nou studente help om in Engels te studeer; hoekom help hulle nie tweedetaalsprekers wat in Afrikaans wil studeer nie?!
      Dit is 'n feit dat die universiteit 'n tipe mikro-samelewing is wat relatief los staan van die samelewing as geheel. Dit is 'n vormende instituut, maar nie vir die mense wat nie betrokke is nie. As Kovsies sou transformeer, sou dit dalk klein positiewe gevolge het vir sommige groepe studente (die happy few), maar die breër nie-akademiese gemeenskap in Bloemfontein gaan in elk geval nie daarvan profiteer nie. Sterker, weens transformasie sal sommige bande met die gemeenskap buite die universiteit verbreek word weens die feit dat dié bande nie by die "nuwe institusionele kultuur" pas nie.
      Derdens, dit ís simplisties om te veronderstel dat "jong swart feministe eintlik 'n Westerse paradigma" is. Dit is ook nie my punt nie. Die punt is dat daar baie opvattings is oor wat Afrika-paradigmas is en wat nie. Vroue het verskillende posisies in verskeie Afrika-kulture en dit was juis hierdie verskeidenheid van menings wat ek wou toon. Die "jong swart feministe" is slegs een van die vele Afrika-paradigmas. En dit is juis die rede hoekom transformasiedrywers nie die (enige) waarheid dweep nie. Elke keer as hulle sê "ons is reg, ons praat van die ware Afrika-paradigma, dit is hoe transformasie moet", is hulle selektief. Ja, dit is gevaarlik om te sê dat voorstanders van transformasie skelmpies Westerse waardes gebruik, maar ek stel dit nie: dit is slegs 'n ope vraag in my brief.
      Dankie vir jou terugvoer.

      • Avatar
        Barry Saayman

        "Nee, transformasie van universiteite is nie noodsaaklik in die belang van die land se miljoene armes nie ..."
        Ek dink dit is 'n verskriklik belangrike punt. Prof Herman Giliomee stel dit soos volg:-
        "Coloured Afrikaans-speakers are the community with the lowest participation rate in tertiary education. A switch by Stellenbosch to predominantly English-medium instruction will be a lethal blow to this community’s hope to shake off centuries of neglect under slavery, segregation and apartheid. (and colonisation)
        The move away from Afrikaans single medium education at universities started well before the transition to an inclusive democracy. For a few years there was a sense that this move should not go too far.
        In 1996, when the US offered Pres Nelson Mandela an honorary degree, he stated: “To put it in the simplest and starkest terms: it surely must be possible in a system with more than twenty universities to come to an agreement that there would be at least one university whose main task would be to promote the sustained development of Afrikaans as an academic medium.” (My invoeging.)
        "Na 20 jaar se universitêre transformasie moet dubbelmedium klasse – 50% tolking na Afrikaans (vanuit Suid-Sotho) en 50% na Suid-Sotho (vanuit Afrikaans) – haalbaar wees."
        U spekuleer.
        My indruk is dat geen van die Afrikatale ongelukkig tot akademiese tale ontwikkel word nie, al plaas subartikel 6(2) van die Grondwet, 1996 'n verpligting op die Staat om die tale te bevorder:-
        "Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder."
        Dit is een van die paradokse van dekolonialisasie/nasionale bevryding dat die bevrydingsbewegings en voormalige kolonies die taal van hulle kolonialiseerdes as hulle eie aanvaar het.
        Die uitsonderings is Indië, China en Afrikaanssprekendes in Namibië en Suid-Afrika. Die res van die voormalige kolonies sukkel daarom met kulturele bevryding en het klaarblyklik nie 'n werkbare strategie om hulself en veral hulle kinders met moedertaalonderrig te bevoordeel nie.
        Suid-Afrika word nou 'n land van geradbraakte Engels as norm want Anglo-monoglotisme word vry algemeen deur die regerende elite bevorder. Dit is egter "pedagogiese onsin" en ongrondwetlik.
        Ek wonder of dit nie die groot rede is waarom miljoene skoolverlaters na 12 jaar steeds funksioneel ongeletterd is nie.
        Die verengelsing en Anglo-kulturele assimilasie/appropriasie wat Afrikaanssprekendes vanaf 1806 verwerp het wat nou opnuut op ons afgedwing word, is vir my 'n tipe herkolonialisering wat geen goeie gevolge kan inhou nie.
        Dit is die goeie reg van iedereen om vir Anglo kulturele assimilasie by verstek of andersins te besluit. Ek respekteer graag hulle besluit in hierdie verband. Maar hulle het geen reg om hulle besluit om my af te dwing nie.
        Afrikanisering onder die vaandel van sogenaamde transformasie is die volgende fase - ek wonder of ons dit ook suksesvol vir meer as twee eeue sal kan weerstaan.
        Sonder ’n werkbare teenstrategie gaan dit nie moontlik wees nie.
        Polarisasie is daarom ongelukkig ons voorland.
        En dit is wat u ongemaklik maak en vingers na sogenaamde rassiste laat wys. Ek kan u egter verseker dat dit verskriklik is om met veragting deur taalfasciste vervolg en gemarginaliseer te word en dat dit ook vir ons ’n uiters onaangename situasie is.
        Die Grondwet, 1996 maak voorsiening vir enkelmediuminstellings, onderhewig aan "die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel."
        Dit is 'n mondvol. Engelstalige enkelmedium-universiteite en skole het dus 'n grondwetlike bestaansreg. Dieselfde geld uiteraard vir Afrikaanse enkelmedium-universiteite en skole. Dit word ons egter kwalik gegun en selfs ons skole is onder geweldige druk om te verengels.
        Ek wens hierdie mense met hulle transformasie-obsessie wil my kinders met rus laat.
        My interpretasie van die Handves van Regte in die grondwet is voorts dat dit die bedoeling van die grondwet-skrywers is dat daar met goeie reg van alle universiteite verwag word om, tydelik as 'n oorgangsreëling, agteroor te leun om nie-Engelstalige studente in hulle keuse van 'n amptelike taal, meestal Engels, te onderrig omdat dit weens Afrikaanssprekendes se meertaligheid "redelikerwys doenlik is" terwyl hulle hulle eie tale in terme van Artikel 6(2) van die Grondwet, 1996 ontwikkel.
        Gemeet aan die res van Afrika het egter goeie rede om te vermoed dat hierdie edele ideaal nooit gaan realiseer nie.
        In die praktyk het die werklikheid tot grootskaalse verengelsing/Afrikanisering by verstek aanleiding gegee. U het dit opgemerk. Die proses gaan baie moeilik omgekeer word.
        Die idee van Anglo-monoglotiste is blykbaar om 'n tipe inklusiwiteit met die uitsluiting van Afrikaans te bevorder. Dit is duidelik 'n teenstrydigheid in ons volkshuishouding.
        Daar het dus geen grondwetlike verpligting op voormalige Afrikaanse universiteite gerus om te ver-Engels of te Afrikaniseer nie. Dit was vir alle praktiese doeleindes reeds Afrika-universiteite gewees.
        Assimilasie van Afrikaanssprekers deur Afrikakulture en onderontwikkelde Afrikatale is buite die kwessie. Ons kulture is onversoenbaar en dit is problematies.
        Ek kan myself die gemors voorstel indien assimilasie/appropriasie in Europa op minderhede afgedwing sou word en julle kulture is veel nader aan mekaar dan die geval in Suid-Afrika.
        Onthou Suid-Afrika het 10 konings en meer as 6000 ander tradisionele leiers wat hulle eie leefwyse deur artikels 143(1)(a), 211, 212, 219(1)(a) en 235 van die Grondwet, 1996 beskerm wat ons doelbewus uitsluit ...
        Hierdie 10 monargië is soortgelyk aan Lesotho en Swaziland op voorvadergrond in gemeenskaplike besit en het geen plek vir miljoene sogenaamde Europeërs met hulle Eurosentriese leefwyse en wêreldsiening nie. Ons het werklik 'n groot probleem.

    • Avatar
      Etienne Terblanche

      Hi Etienne, jy maak sulke oulike punte! Maar waar is die bewyse dat die ontsettende seksisme en homofobie (ons kort 'n meer intense woord, gelykstaande aan misogenie) in Afrika niks te make het met hulle eie vooroordele nie? Is dit nie 'n bietjie rassisties en aanmatigend om die sendelinge soveel sê te gee oor dié soort houdings onder Afrika se mense nie?

  • Avatar
    Pieter Van Zyl

    Foolish letter, you know very well that Sotho cannot be used as a language of tuition even if it could be that would lead to more racial division and cultural divsion. As much as you are not an English speaker so are the African learners. English is the way to go.

  • Goeiedag Bart. Baie dankie vir die artikel. Is dit dalk moontlik dat u 'n Engelse weergawe ook kan skryf? My Engelse vriende wat nie Afrikaans verstaan nie wil ook die artikel lees. Dit sal help dat meer mense jou boodskap kan hoor.

  • Avatar
    Etienne Terblanche

    Ek geniet die varsheid van heelwat van die punte wat jy maak ... daarvoor 'n lekker dankie! Maar jou praktiese voorstelle gaan werk nodig hê, reken ek, want jy sal moet kyk na die navorsing oor die gevolge van parallelmedium vir die taal wat nie polities ondersteun word nie (in hierdie geval Afrikaans).

  • Suid-Afrika het baie Engelse Universiteite en seer sekerlik kan daar tog plek wees vir Afrikaanse Universiteite. Dis tog nie te veel gevra nie. Ekself het ook 'n lesersartikel oor Afrikaans by http://www.opinieplatform.co.za met opskrif Beskerm Afrikaans teen dié wat dit wil afskaf. Gaan kyk vir die interessantheid.

  • Pieter van Zyl - of course languages lead to division. When the Germans speak German they exclude non-German speakers. So what? Should they now stop speaking German? We need more progressive forces who will champion multilingualism and sensitize South Africans to the issues of language. In this regards South Africa is lagging years behind the developed world.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top