Stigtingstoespraak van die Afrikaanse Alumni-vereniging: Afrikaans en universiteite

  • 4

Hierdie toespraak deur Johann Rossouw is op 27 November 2015 by die stigting van die Afrikaanse Alumni-vereniging in Stellenbosch gelewer. 

Dames en here

Eerstens my dank aan die organiseerders van vanaand se geleentheid om u toe te spreek oor Afrikaans en die universiteite. Die Afrikaanse alumnivereniging is ’n inisiatief waartoe ek my graag verbind, en ek hoop dat dit van krag tot krag sal gaan.

Lees ook:
Afrikaans en die toekoms daarvan
US-Raadsbesluit: US verbind tot meertaligheid sonder uitsluiting

Dames en here, volgens my geheue het daar reeds in die laat jare negentig van die vorige eeu gesprekke oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal aan die universiteit plaasgevind. Een so ’n gesprek is te Hammanskraal buite Pretoria gereël deur Fragmente: Tydskrif vir filosofie en kultuurkritiek. Nog so ’n gesprek oor die sogenaamde Universiteit van Kannaland is op Oudtshoorn gereël deur die bekende Oudtshoornse sakeman en stigter van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Nic Barrow.

Albei hierdie gesprekke asook talle ander gesprekke sedertdien oor die tema het plaasgevind teen die agtergrond van groeiende kommer oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal by die openbare Suid-Afrikaanse universiteite. Gebeure die afgelope jaar aan die Noordwes-universiteit, asook die Universiteite van Pretoria, die Vrystaat en Stellenbosch het die kommer net verder verdiep.

As ’n mens terugkyk oor die amper twee dekades se gesprekke oor Afrikaans aan die openbare universiteite kan ’n aantal waarnemings gemaak word. Die eerste waarneming is dat die woordvoerders vir Afrikaans as akademiese taal ’n aantal sterk argumente ontwikkel het wat enige plek ter wêreld verdedig kan word, en wat aansluit by die gesaghebbendste eietydse navorsing oor kleiner tale in die eietydse akademie. Hierdie argumente sluit in:

– dat Afrikaans dien as model vir die toekomstige ontwikkelinge van Suid-Afrika se ander inheemse tale;

– dat op grond van demografie minstens twee Suid-Afrikaanse universiteite Afrikaans as akademiese taal moet gebruik;

– dat Afrikaans as akademiese taal ’n belangrike rol het om bruin en swart Afrikaanse moedertaalsprekers uit armoede te lig;

– dat die Suid-Afrikaanse grondwet Afrikaans as taal van onderrig beskerm waar dit prakties haalbaar is en nie met diskriminasie gepaardgaan nie;

– dat Afrikaans deur verskeie dokumente van die Departement Hoër Onderwys as nasionale bate erken word;

– dat moedertaalonderrig die beste soort akademiese onderrig is.

Hierdie lys argumente is geensins volledig nie. Nietemin kan in weerwil van hierdie lys sterk argumente ’n tweede waarneming oor die afgelope amper twee dekades oor Afrikaans en die openbare universiteite gemaak word, naamlik dat hierdie argumente oënskynlik nie veel gehelp het om Afrikaans as akademiese taal aan ons openbare universiteite te bestendig nie. Om die waarheid te sê is die druk op Afrikaans aan die vier universiteite hierbo vermeld groter as ooit, en is daar min waarborge dat die goeie argument Afrikaans aan hierdie universiteite sal bestendig. Die vraag is waarom, en wat ons te doen staan.

Wat betref die vraag oor waarom die goeie argument nie die posisie van Afrikaans as akademiese taal aan die openbare universiteite bestendig nie, sal ons eers stilstaan by die idee van die universiteit, en tweedens by die plaaslike en globale politieke kontekste waarbinne Afrikaans as akademiese taal aan die openbare universiteite bly verswak.

Oor die idee van die universiteit, kortliks die volgende. In ’n lesing wat die bekende Afrikaanse filosoof Danie Goosen in Oktober 2014 gehou het, het hy aangevoer dat die Middeleeuse universiteit in die loop van die afgelope twee eeue opgevolg is deur, onderskeidelik, die Von Humboldt-universiteit en die Thatcher-universiteit. In hierdie lesing wil ek graag aansluit by Goosen se gedagtegang en ’n bietjie daarop uitbrei.

Die Von Humboldt-universiteit is die universiteit wat vroeg in die 1800’s in Berlyn sy beslag gekry het en tot laat in die twintigste eeu die toonaangewende idee van die universiteit in die Weste, maar ook in die Afrikaanse wêreld was. Hiervolgens is die taak van die universiteit dat studente as afgeronde mense van inbors en karakter sal afstudeer, en hulle taak as kritiese burgers kan volstaan in die samelewing ter bevordering van die welstand van die nasiestaat. Die geestelike ontwikkeling van die student staan voorop, en die student word opgelei om voortdurend te vra wat hy of sy vir die samelewing kan doen.

Dan, in die laat jare tagtig, sien ons die opkoms van die Thatcher-universiteit. Dit is vernoem na die konserwatiewe Britse premier van die jare tagtig, onder wie se regering ’n finansiële konsultasiefirma in die laat jare tagtig opdrag gekry het om ondersoek in te stel na hoe die Britse universiteitswese sogenaamd doeltreffender kan funksioneer. Dit het ’n brutale marklogika op die universiteitswese losgelaat wat gelei het tot onder meer die verswakking van dosente se werksekerheid, die snelle groei in die indiensneming van burokrate aan die universiteit, die vernietiging van deursigtige bestuur en die sentralisering van mag aan die universiteit, steeds stygende studiekoste en die wegkalwing van daardie vakgebiede waaruit die universiteit as instelling ontstaan het, naamlik die humanoria. En dit alles in die naam van groter doeltreffendheid. Binne hierdie siening van die universiteit moet studente beskou word as kliënte wat die maksimum persoonlike voordeel uit hulle studie moet trek ten einde hulleself te kan handhaaf in ’n steeds meer kompeterende arbeidsmark.

Nog ’n bekende Afrikaanse filosoof, André du Toit, het in die laat jare negentig tot die slotsom gekom dat wat Goosen die Thatcher-universiteit noem, aangehelp is deur twee beslissende gebeure ná die Tweede Wêreldoorlog. Eerstens het groot nywerhede hulle navorsing na universiteite begin skuif en dit daar befonds, natuurlik met die eis dat daar ’n opbrengs op hulle beleggings moes wees. Tweedens het die studenteopstande van 1968 daartoe gelei dat baie meer studente as ooit aan universiteite ingeskryf is, natuurlik op die rekening van die staat, wat ook sy pond vleis begin eis het. Die gekombineerde groter belegging van die nywerheidsektor en die staat in die universiteit het daartoe gelei dat universiteite se outonomie weggekalwe is en dat akademiese vryheid begin agteruitgaan het. Dit is waarom ’n mens vandag petisies deur akademici wat rektore steun minder ernstig moet opneem as die veel raarder verskynsel, naamlik petisies deur akademici wat rektore kritiseer.

Suid-Afrika is natuurlik ook in die afgelope twintig jaar deur hierdie prosesse geraak. Terwyl een nasionalisme ’n ander een as die ideologie van die staat vervang het, het die nuwe regering ewe min as sy voorganger gehou van universiteite wat kritiese jongmense opvoed. Gevolglik is universiteite chronies die afgelope twee dekades deur die staat onderbefonds. Op sy beurt het dit tot ’n volgende tragedie gelei, naamlik dat die besture van ons openbare universiteite die marklogika van die Thatcher-universiteit omhels het ten einde hulle instellings likied te probeer hou. Soos dit nou maar in die mark gaan, was dit elke universiteit vir sigself, wat gelei het tot bisarre oneweredighede in die Suid-Afrikaanse hoëronderwysstelsel. Om maar een voorbeeld te noem: Waar die koshuisgelde aan die Universiteit van die Vrystaat vanjaar nagenoeg R18 000 beloop het, verstaan ek die gelde vir nuwe koshuise aan Wits beloop nagenoeg R65 000 – oftewel die volle moontlike totaal van ’n NSFAS-studielening per jaar.

’n Mens sou dink dat redelike mense aan universiteite hierdie onredelike ontwikkelings sou teenstaan, maar inderwaarheid is dit nie wat gebeur het nie, omdat ’n hele nuwe arsenaal van propaganda ontplooi is rondom die begrip van die sogenaamde wêreldklas universiteit. Waar die universiteit wêreldwyd vir feitlik sy hele bestaan getoets is aan watter bydrae dit tot sy plaaslike omstandighede maak, het daar in die afgelope twintig jaar ’n heel koddige verskynsel na vore getree, naamlik dat universiteite hulleself toenemend sou meet aan die jaarlikse wêreldranglyste van universiteite, welke ranglyste vir praktiese doeleindes in die Anglo-Amerikaanse wêreld ontwikkel is. Dit verg nie veel om in te sien dat namate die Anglo-Amerikaanse invloedsfeer in ons eietydse wêreld deur die opkoms van China, Indië en ander lande ondermyn word, hierdie ranglyste ook mettertyd ontbloot sal word vir die parogiale oefeninkies wat hulle is.

Waarom dan die geesdrif uit Suid-Afrika vir hierdie ranglyste, afgesien van die feit dat die staat se onderbefondsing van die universiteitswese universiteitsbesture tot die omhelsing van die Thatcher-universiteit gelei het? In hierdie dae waar omtrent enigiets op apartheid geblameer word, wil ’n mens nie graag daaraan meedoen nie, maar dit lyk asof die nawerking van apartheid inderdaad hier ter sprake is. Die besture van die voorste tien Suid-Afrikaanse universiteite is meesal mense wat studente in die jare sewentig en tagtig was, dit wil sê toe Suid-Afrika internasionaal die geïsoleerdste was. Dit wil voorkom asof die litteken van daardie isolasie so diep is dat dié besture vandag feitlik enigiets sal omhels wat net lyk asof dit isolasie teenwerk. Dat hulle daarmee die kreatiwiteit, eiesoortige karakter en outonomie van hul universiteite vernietig in ’n soort selfkoloniserende drif is maar net nog een van daardie pikante Suid-Afrikaanse ironieë. Dat hierdie mense meesal slegs een internasionale taal, naamlik Engels magtig is, buitelandse kongresse hoofsaaklik in Engels bywoon en tot die gevolgtrekking kom dat Engels vandag die taal van die akademie is, is ewe ironies. Maar dan kan dit ook nie anders nie vir hierdie mense as om te redeneer dat Afrikaans as akademiese taal ’n hindernis is. En natuurlik, as jou idee van die universiteit die parogiale Anglo-Amerikaanse Thatcher-universiteit is, en sy opvatting dat jy jou moet kan handhaaf in een of ander vaag omskrewe internasionale arbeidsmark met die name van Stanford, Yale en Oxford opgeroep soos inkantasies in ’n mistiese ritueel, dan ís Afrikaans ’n hindernis wat moet verdwyn. Miskien moet Afrikaanse voorstanders van hierdie idee ook dan net vir ons kom verduidelik waarom hulle nooit daarna verwys nie dat meer as 70% van Amerikaanse dosente onderbetaalde kontrakwerkers is, dat geestesiektes onder studente aan Ivy League-universiteite bly styg, en dat die verval van die Anglo-Amerikaanse universiteit die voorste algemene akademiese onderwerp in publikasies soos die Chronicle of Higher Education, die London Review of Books, die New York Review of Books en Arts&Literature Daily is.

Die Afrikaanse ondersteuners van hierdie siening van die universiteit bevind hulle vandag in die bed saam met die Afro-nasionaliste. As dit nie so tragies was nie, sou ’n mens kon lag vir hoe die Afro-nasionaliste, beginnende by die Minister van Hoër Onderwys, ook die Thatcher-universiteit met sy wêreldranglyste omhels. Is dit omdat vele van die Afro-nasionaliste in ballingskap in die Anglo-Amerikaanse wêreld gewoon en dié se norme toegeëien het? Is dit omdat hulle so desperaat is om te lyk asof hulle ewe goed kan presteer as die Afrikaner-nasionaliste voor hulle? Of is dit gewoon en heel prosaïes omdat hierdie idee van die universiteit Suid-Afrikaanse universiteite se vermoë om kritiese burgers op te voed bly ondermyn?

Laasgenoemde is omtrent al gevolgtrekking waartoe ’n mens kan kom as jy let op hoe angstig die regering was om die FeesMustFall-beweging se eise toe te staan, en tegelykertyd die beweging te probeer verdag maak en te kaap – min dinge maak die Afro-nasionaliste so bang as die idee dat sy eie jong geslag nie meer sy ideale ondersteun nie.

Van dié jong geslag gepraat: Dit is hulle wat hulle vanjaar begin verset het teen hoe die regering en die akademiese stelsel in hulle in die steek laat. Jong mense waarvan die meeste eerste geslag studente is van ’n arm agtergrond wat moet studeer in die swak Engels waarmee die openbare skoolstelsel hulle meesal toegerus het. Dit is nie vreemd nie dat hierdie versetbeweging begin het by die drie universiteite wat tradisioneel vir bevoorregte, wit Engelse studente voorsiening gemaak het, naamlik Kaapstad, Rhodes en Wits, en daarna oorgespoel het na Tukkies, die PUK, Kovsies en Maties. By al hierdie universiteite het meesal swart studente hulself begin vergelyk met hul wit eweknieë en tot die slotsom gekom dat hulle slegter daaraan toe is. Die kinkel in die kabel by die vier histories Afrikaanse universiteite was dat onderrig vir Afrikaanse studente deur Afrikaanse dosente in hulle moedertaal deur swart studente as ’n ekstra vorm van onregmatige bevoorregting gesien is. Laat ons dan nou ook maar vir mekaar sê dat nie een van die verskillende inklusiewe strategieë met betrekking tot taal wat deur hierdie universiteite ingespan is, hierdie swart studente tevrede gestel het nie – of dit nou tolking, parallelmedium- of dubbelmediumonderrig was. Die feit dat die handjie vol militante swart studente aan veral Kovsies, die PUK en Maties glad nie die meerderheid swart studente verteenwoordig nie, en dikwels baie georkestreerd van buite die instellings lyk, word liefs verswyg deur besture aan hierdie universiteite wat vasgevang is in ’n knyptang tussen die fascistiese, ongrondwetlike regeringseis vir demografiese verteenwoordigendheid en militante studente-energie.

Daar is een laaste punt om te maak oor die politieke wêreldkonteks waarbinne hierdie gebeure aan Suid-Afrikaanse universiteite vanjaar afgespeel het, veral met betrekking tot die FeesMustFall- en RhodesMustFall-bewegings wat Afrikaans en sogenaamde whiteness in die visier gekry het. Ek verwys na die feit dat op die dag nadat Maties se bestuurspan hulle omstrede dokument oor taal aan die US bekendgemaak het, ISIS se aanvalle op Parys plaasgevind het. Waarmee ons hier te doen het, is ’n nuwe geslag voorheen benadeeldes wat vir hul ouers se verraad teenoor hulle wraak wil neem op die nakomelinge van diegene wie se ouers hul ouers verdruk het. Die wyer politieke effek van die verdrywing van Afrikaans as akademiese taal uit die openbare universiteite is dat dit ’n verdoemende boodskap stuur oor hoe die huidige orde nie plek het vir minderheidstale nie, dat dit nie sy erns met diversiteit is nie, dat demokrasie bloot ’n vyeblaar vir sentralisme is en dat die 1994-akkoord van wedersydse erkenning tussen Afrikaner en Afrikaan toenemend misken word.

As ’n mens beroepsambisie vir ’n oomblik daar laat, kan ’n mens sekerlik toegee dat baie van die akademici wat hul steun vir Wim De Villiers se verengelsingsplanne aan Maties uitgespreek het, ook gemotiveer word deur ’n sterk sin vir die nalatenskap van die onreg van die verlede. Dis net jammer dat die Thatcher-universiteit reeds so onteenseglik met maatskaplike ongelykheid en uitbuiting verbind is, dat om Afrikaans aan die US op te offer in die naam van ’n wêreldklas universiteit, min aan die onreg van die verlede gaan verander.

Om saam te vat, dit wil voorkom asof Afrikaans aan die openbare universiteite vandag die slagoffer is van die kombinasie van universiteitsbesture gemerk deur apartheidsisolasie, ’n regering wat alles sal doen om beheer te probeer hou, militante swart studente-energie en, les bes, Afrikaner-akademici met ’n sin vir historiese onreg dog polities naïef. Dit bring my ter afsluiting by die vraag wat voorstanders van Afrikaans as akademiese taal vandag te doen staan.

Soos met omtrent alles in Suid-Afrika begin die antwoord by die immergroen wysheid dat ons die een moet doen sonder om die ander na te laat. Oftewel die behoud van Afrikaans as akademiese taal aan die vier openbare universiteite waar dit nog voorkom, sal een strategie vereis, terwyl die vestiging van Afrikaans as taal van private universiteite ’n ander strategie sal vereis.

Wat die openbare universiteite betref, die volgende. As daar een ding is wat tot vanjaar gekort het in die gesprek oor Afrikaans aan die universiteite, was dit konkrete politieke handelinge deur veral Afrikaanse studente. Die Adam Tas-studentevereniging aan Maties asook protes deur Afrikaanse studente aan die PUK was ’n nuwe en welkome verandering. Ook die enorme openbare druk waaraan Maties se bestuurspan onderwerp is ná hulle omstrede taalaankondiging van 12 November. Soos ’n kollega aan die Universiteit van Kaapstad onlangs teenoor my opgemerk het, is die passiwiteit van studente en dosente ’n noodsaaklike voorwaarde vir die sentralisme en magsmisbruik van Thatcheristiese universiteitsbesture, vir wie ’n ondemokraties afgedwonge orde die groot waarde is. Die eenvoudige waarheid is dat as Afrikaanse studente in die besonder en die Afrikaanse burgerlike samelewing in die algemeen nie druk op hierdie universiteitsbesture vir die behoud van Afrikaans binne ’n veeltalige omgewing toepas nie, hulle gewoon sal dans na die pype van die regering en militante swart studente.

Met dit gesê moet ’n mens ook nie naïef wees oor hoe vernietigend die kombinasie van die faktore hierbo vermeld inwerk op Afrikaans aan die openbare universiteite nie. So belangrik as wat die stryd om die behoud van Afrikaans aan hierdie universiteite is, is die stryd vir die oprigting van ’n privaat Afrikaanse universiteitsektor eweneens. Die Solidariteit-beweging het reeds ’n eerste belangrike tree in hierdie rigting gegee met die oprigting van Soltech en Akademia, soos ook die onregmatig onbekende AROS-opleidingsinstansie vir Afrikaanse onderwysers in Pretoria. ’n Mens hoop ook dat die sukses wat die Curro-groep met private Afrikaanse onderrig behaal het, ook sal oorvloei na die private Afrikaanse universiteitswese.

Die hoop op ’n private Afrikaanse universiteitswese sal egter beskaam indien die idee van die Thatcher-universiteit ook hier toegepas word. Nee, wat hier nodig is, is wat Goosen in sy bovermelde lesing beskryf het as die alternatief op die Thatcher-universiteit, naamlik die gemeenskapsuniversiteit. Die gemeenskapsuniversiteit moet poog om studente op te voed vir die deelname aan hul eie gemeenskapslewe, wat insluit ekonomiese selfstandigheid, en ’n opvatting waarvolgens die gesonde gemeenskap die voorwaarde van die florerende ekonomie is, en nie andersom nie. So iets is reeds met groot welslae behaal deur onder vele meer die Walliesers, die Baske en die Kataloniërs. Nog ’n ononderhandelbare voorwaarde van die private Afrikaanse universiteitswese is dat die finansiering van arm Afrikaanse studente absoluut voorop moet staan, want die feit bly dat die historiese verdeling tussen, enersyds, grootliks wit en middelklas en, andersyds, grootliks bruin en arm die Afrikaanse wêreld se grootste siekte bly. As die finansiers en opvoeders van die private Afrikaanse universiteitswese hierdie uitdaging te bowe kan kom, sal Afrikaans weer kan word wat sy eens op ’n tyd was, naamlik in die woorde van wyle Jan Rabie, Suid-Afrika se grootste nierassige prestasie.

Laat dit ons erns wees. Ek dank u.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Naòmi Morgan

    Uitstekende uiteensetting. Jy kan ook die Deense volkskoolmodelle by die lys voeg; dit is belangrik om te weet waar jou wortels is (sien ook die laaste bladsy van Brink se Vurk in die Pad: ons was die afgelope eeue hier, en nie elders nie ...)

  • Ik schrijf als filosoof. Ook ik geloof dat moedertaalonderricht het beste onderricht is.
    De moedertaal is de taal waarin jij vloekt, waarmee je naar de zg'private parts' van jouw of de ander zijn lichaam verwijst. Maar dat is wellicht het dialect waarmee je bent opgegroeid. Ik moet dus nuanceren : de standaardtaal die het dialect uit je moedertaal heeft uitgezuiverd is de beste. Waarom? En waarom niet het Engels? Ik beperk me tot de filosofie : hier is het wellicht nog meer dan elders nodig je zo goed mogelijk te kunnen uitdrukken, met elke nuance die mogelijk is. De filosofische taal voedt zich aan de moedertaal en verrrijkt die op haar beurt. Er is geen tweede taal voor een standaard-spreker die dezelfde relatie heeft tot zijn academische bezig-zijn als de moedertaal en vooral : er is geen enkele andere taal waarin zij/hij op een dergelijke manier sporen zal kunne nalaten. Daarom is het zo belangrijk dat een filosoof romans en poëzie leest, zelfs als die vertaald zijn in de moedertaal. En dat een filosoof kan publiceren in de moedertaal, liefst zo begrijpelijk mogelijk, hoewel dat zelfs niet hoeft. Als men overal ter wêreld het Engels als voertaal zou gaan hanteren – het geen gelukkig nog niet helemaal het geval is - dan zouden degenen die zo communiceren (hetgeen verschilt van 'denken') eigenlijk nergens thuishoren.

  • Avatar
    Ina Wolfaardt-Gräbe

    Uitstekend beredeneer, Johann. Die belang van Afrikaans as wetenskapstaal, insonderheid die humanoria, kan nie ontken word nie - besinnende denke kom ten beste tot uitdrukking in helder formulering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top