Oor Afrikaans en die toekoms daarvan

  • 5

Paul Kruger het gesê ’n mens moet dit wat goed en edel uit die verlede is, neem en die toekoms daarop bou. Wat Afrikaans betref, is daar heelwat uit die verlede wat as inspirasie en voorbeeld vir die toekoms kan dien. Ek wil betoog dat diegene wat die taal ter wille is en liefhet, na aanleiding van die tans baie aktuele krisis van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch weer ’n toekoms vir die taal kan en moet bou.

Die huidige krisis en hete debatvoering daaroor moet nie in isolasie beskou word nie. Die vernaamste standpunte in die debat kan soos volg opgesom word:

Vir verengelsing:

  1. Afrikaans as voer- en onderrigtaal sou studente en dosente uitsluit wat nie Afrikaans magtig is nie.
  2. Engels sou die lingua franca van Suid-Afrika wees, en daarom maak dit sin om hoëronderwysinstellings in daardie taal te bedryf.
  3. Onderrig in Engels berei studente beter voor vir hulle beroepslewe in Suid-Afrika en die wêreld.
  4. Afrikaans moet “bevry” word; presies waarvan is nie duidelik nie, maar vermoedelik behels dit dat die taal as sodanig (ten onregte) gelykgestel word aan die beleide van vorige koloniale en apartheidsregerings.
  5. Afrikaans is die taal van die onderdrukker en verdien derhalwe nie om bewaar te word nie.

Teen verengelsing:

  1. Afrikaans is ’n volwaardige standaardtaal en is dus ’n bate vir Suid-Afrika.
  2. Die Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika maak ’n beduidende deel van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en het ’n grondwetlike reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.
  3. Aangesien Afrikaans ’n standaardvariëteit het wat ’n draer van kultuur is, het Afrikaanssprekendes ’n grondwetlike reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, mits dit nie met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
  4. Moedertaalonderrig is die bewese beste medium van onderrig en leer, en daar is geen rede waarom Afrikaans nie daardie rol kan vervul nie.
  5. As die hoëvlakgebruik van Afrikaans nog verder afgeskaal word, is daar weinig hoop dat die ander inheemse tale beduidende vordering sal maak.

Wat is die konteks waarin dié debat gevoer word?

Dit is belangrik om te onthou dat ’n taal soos Afrikaans uit verskeie variëteite bestaan. Naas die standaardvariëteit – wat Standaardafrikaans genoem word en die variëteit is waarin onder meer die sogenaamde hoër funksies van die taal vervul word – is daar talle ander variëteite ook wat byvoorbeeld in verskillende streke of verskillende gebruikersgroeperinge en so meer gebruik word. Waaroor dit egter hier gaan, is Standaardafrikaans.

In die aanloop tot die beëindiging van apartheid het daar in sekere Afrikaanse kringe die drogredenasie posgevat dat Afrikaans nou ook van sy borstrokke vrygemaak kon word. Presies wat hierdie borstrokke sou behels, is nooit duidelik uitgespel nie, maar vermoedelik is die taal – heeltemal ten onregte – gelykgestel met die NP-regime.

Lees ook:
Monolingualism, not Afrikaans, must fall
Twaalf dinge in die taaldebat om oor na te dink

Ewenwel, die resultaat van die sogenaamde bevryding het wel duidelik begin word. Dit het byvoorbeeld mode geword om mildelik Engelse woorde en kwalik verbloemde Engelse uitdrukkings in veral die spreektaal te gebruik, en om al hoe meer kruer woorde in “goeie geselskap” te gebruik, ook in die gedrukte media. Dit was amper asof daar opsetlik langneus gemaak is vir goeie smaak, goeie maniere en goeie taalgebruik.

Voorts het die byna eksplosiewe groei van die elektroniese media ook meegebring dat die tradisionele gedrukte media al hoe meer om reklame-inkomste moes meeding, wat waarskynlik meegebring het dat al hoe meer Engelstalige advertensies in Afrikaanse publikasies begin verskyn het, byvoorbeeld in die loopbaanbylaes van koerante.

Die advertensies wat wel in Afrikaans verskyn het, was (en is!) dikwels taalkundig so swak versorg dat ’n mens amper beledig voel daardeur. ’n Mens sou sweer dat die adverteerders nog nooit van die Afrikaanse spelreëls en vertalende woordeboeke gehoor het nie. Die indruk word gewek dat publikasies so dankbaar is dat iemand daarin wil adverteer dat hulle nie aandring op Afrikaans, of goed versorgde Afrikaans nie. Vandag nog is taalkundig goed versorgde Afrikaanse reklamemateriaal so skaars soos hoendertande.

Ná 1994 het Afrikaans in die openbare sektor begryplikerwys baie vinnig begin verdwyn. ’n Mens kan bitter selde nog in die breë staatsdiens – met die moontlike uitsondering van sekere plaaslike owerhede in oorwegend Afrikaanssprekende streke in die Wes- en Noord-Kaap – in Afrikaans gehelp word.

Die erkenning van nege Afrikatale as amptelike tale naas Afrikaans en Engels het vanselfsprekend meegebring dat beduidend minder wetgewing ook in Afrikaans afgekondig word, en ongelukkig laat die taalkundige gehalte van hedendaagse Afrikaanse wetgewing toenemend veel te wense oor.

Wanneer wetgewing wel in Afrikaans ook afgekondig is, word latere wysigingswetgewing en bybehorende ondergeskikte wetgewing bowendien nie altyd in Afrikaans ook afgekondig nie, wat beteken dat gebruikers van die wetgewing effektief gedwing word om die Engelse teks te gebruik.

Selfs nie eens die Grondwet, wat juis die taalregte verleen, is ná 17 wysigingswette meer volledig bygewerk beskikbaar in enige van die amptelike tale behalwe Engels nie.

Dit is ook algemeen bekend dat daar van owerheidsweë al hoe meer druk uitgeoefen word op Afrikaanse skole om óf te verengels, óf dubbel- of parallelmediumskole te word (wat dikwels eintlik maar net die verengelsingsproses uitstel).

Voorts is die skoolkurrikulums vir Afrikaans as vak myns insiens ook nie meer bevorderlik vir die ontwikkeling van behoorlike taalkennis en ‑vaardigheid en ’n besef van wat goeie Standaardafrikaans is nie.

Dit is eweneens algemene kennis dat daar van die histories Afrikaanse universiteite net ’n skaduwee oorgebly het. Die meeste het feitlik volledig verengels, en daar het eintlik nog net drie oorgebly wat nog voorgegee het dat hulle ’n wesenlike Afrikaanse aanbod het: die Potchefstroom-kampus van die NWU, die UV en die US.

Die wesenlike gebruik van Afrikaans op NWU-Potch se dae is getel, ironies genoeg deur die toedoen van veral die Afrikaanse media, wat ’n groot bohaai gemaak het van eintlik heel onskuldige ontgroeningspraktyke en "studentepret".

Dit het die Minister van Hoër Onderwys, van wie dit bekend is dat hy geen vriend van Afrikaans is nie, die geleentheid gegee om tussenbeide te tree, waarvan die gevolge ook algemene kennis is.

Dit wil voorkom of daar onder leiding van Jonathan Jansen ook drastiese veranderinge by die UV aangevoor word.

Die verklaring van voorneme deur die US-rektor en sy bestuurspan het die huidige debat aan die gang gesit. Die beoogde taalbeleid is pas deur die US-Raad afgekeur in die sin dat die raad besluit het dat die taal-status quo gehandhaaf moet word. Die reaksie op dié raadsbesluit dui egter reeds daarop dat dit net tydelike grasie is; op die duur sal dit geen wesenlike verskil maak nie.

Hoekom nie?

Soos reeds genoem, is allerlei Afrikaanstalige instellings van owerheidsweë onder groot druk om minstens deels te verengels. Hierin word die owerheid skynbaar hartlik gesteun deur groeperinge binne die US wat hulle rektor se plan eintlik ’n bietjie voortydig in die openbaar gesteun het, en deur ander universiteitsrade wat skynbaar so besorg is oor krimpende staatsubsidies en politieke korrektheid dat hulle alte geredelik voetvalle voor die owerheid doen. As ’n universiteitsbestuur dus nie bereid is om die saak van Afrikaans as voer- en onderrigtaal met oorgawe en passie te dryf nie, is die saak verlore.

Wanpersepsies

Hierdie houding teenoor Afrikaans staan natuurlik in die teken van die liberale grondwetlike en menseregtelike era waarin ons tans in Suid-Afrika leef, ’n era tewens van egalitarisme waarin nie eens die skyn gewek mag word dat iemand of ’n groep dalk net beter as ’n ander daaraan toe is nie, ongeag of sodanige skynbevoordeling berus op taal, intellek, prestasie, aanleg, ondernemingsgees, organisering of wat ook al.

Dit is ironies dat dieselfde Handves van Regte wat gelykheid, menswaardigheid en al die ander menseregte verskans en waarborg, ook die reg op openbare onderwys in die taal van eie keuse en die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem verskans en waarborg.

Dit wil egter voorkom of hierdie regte, vervat in artikels 29(2) en 30 van die Grondwet, almal geld behalwe Afrikaanssprekendes – en die houding van talle Afrikaanssprekendes teenoor Standaardafrikaans speel geen geringe rol in hierdie stand van sake nie.

Hiermee hang saam die feit dat van geen ander openbare onderwysinstelling verwag is om dieselfde taalverwante aanpassings te maak as die Afrikaanse openbare onderwysinstellings nie.

Van geen histories Engelstalige universiteit of skool is verwag om twee- of meertalig te word ten einde "toeganklikheid" te verbeter nie. En is dit denkbaar dat indien ’n beduidende aantal Afrikaanssprekende inwoners van byvoorbeeld Limpopo of die Oos-Kaap sou besluit om hulle as studente by die Universiteit van Limpopo, Fort Hare of die Walter Sisulu-Universiteit in te skryf, daardie universiteite hulle sou laat dwing om hulle taalbeleide aan te pas?

Afrikaanssprekendes is egter dikwels maar te bereid om oordrewe tegemoetkomend te wees. Dalk ’n calvinistiese skuldgevoel? Gesien die feit dat die oorblyfsels van die NP sak en pak, en baie opportunisties, oorgeloop het na die eens geswore vyand en nou weer in die regeringsbanke sit, is dit stellig nie verbasend nie.

Die houding van ’n groot deel van die Afrikaanse publiek is dus net so belangrik as die feit dat daar by universiteitsowerhede geen wil meer is om Standaardafrikaans aan hulle instellings te beskerm nie.

Dit is nie net die gevolg van die kniebuigings en die oordrewe tegemoetkomendheid nie, maar ook van die persepsie by ’n beduidende aantal ouers (op al drie onderwysvlakke) dat hulle kinders beter vir die (beroeps-)lewe in die hedendaagse wêreld voorberei word as hulle deur medium van Engels studeer, ’n persepsie wat ook by ’n beduidende groep studente heers.

Hierdie persepsie slaan geen ag nie op die tallose internasionale studies wat die voordele van studie en kennisverwerwing deur medium van die moedertaal bewys. Dit neem ook aan dat onderwysers en dosente ewe goed in ’n ander taal as hulle moedertaal onderrig en studieleiding kan gee. En dít is ’n baie groot wanpersepsie.

Om byvoorbeeld ’n bepaalde vakgebied se Engelse terminologie te beheers, beteken nog hoegenaamd nie dat die onderwyser/dosent ook die vermoë het om vlot daarin les te gee en helder en duidelik te formuleer en te verduidelik nie. Daarvan kan ek eerstehands getuig – ek was amper anderhalf dekade ten nouste betrokke by die taalkundige versorging en vertaling van skriftelike studiemateriaal voortgebring deur dosente wie se moedertaal nie die onderrigtaal is nie.

Bogenoemde persepsie slaan ook geen ag nie op die feit dat duisende studente die afgelope eeu in Afrikaans gestudeer het, van wie groot getalle nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd uitnemend gepresteer het in ander tale as Afrikaans. Dit is dus ’n drogredenasie dat onderrig en studie deur medium van Afrikaans noodwendig swak prestasie in ’n Engelstalige omgewing sal beteken.

Sal Afrikaans nou uitsterf?

Weer moet daarop gewys word dat "Afrikaans" nie ’n enkelvoudige, homogene saak benoem nie en dat die debat eintlik behoort te gaan oor die behoud van Standaardafrikaans, die variëteit van Afrikaans wat (teoreties) oral en vir almal toeganklik en bruikbaar is, wat nie tot enige bepaalde (gebruikers-)groep of gemeenskap beperk is nie en waarin die hoër funksies van die taal verrig word. En dit is waar van enige kultuurtaal – beslis ook van Engels.

Die antwoord op bostaande vraag is dus onomwonde "nee", nie solank daar ’n redelike aantal moedertaalsprekers in Suid-Afrika, Namibië en selfs Zimbabwe is nie. (In Namibië is Afrikaans de facto, hoewel nie de iure nie, die lingua franca – en boonop ’n grotendeels onbesoedelde Afrikaans!) Die gevaar is egter dat die Afrikaans wat behoue gaan bly, sy hoër funksies geheel en al sal verloor en sal verval tot ’n taaltjie wat slegs deug vir sosiale verkeer, populêre liedjies, skraal ontspanningslektuur en jolyt op "kunstefeeste".

Neem ’n bietjie bestek op:

Luister ’n slag hoe Afrikaans by sosiale geleenthede gepraat word. Luister hoeveel Engelse woorde en uitdrukkings gebruik word: actually; in fact; never mind; great; die game; die ref; challenges en noem maar op; luister hoeveel Engels word net in Afrikaanse woorde weergegee: ek doen; ek hardloop ’n besigheid; ’n blinde oog draai; die joernalis skets ’n bleek omgewingsprentjie; die Bokke speel die All Blacks; die Stormers vat die Blou Bulle aan; by verre; siende dat; jou alarm vir sesuur stel en wie weet wat nog.

Daar word hoog opgegee oor "Afrikaanse musiek", maar verreweg die meeste van die lirieke neem NP van Wyk Louw se gemoedelike lokale realisme tot nuwe banale hoogtepunte, is skrikwekkend sentimenteel of blote rymelary of is deurspek met Engelse woorde. Voeg daarby dat die musiekritmes en woordritmes selde ooreenstem of erg gedwonge is, terwyl die musiek self, soos Marnix Gijsen dit in Joachim van Babylon stel, "van pijnlike armoede der muzikale inbeelding getuigen en … op een armzalige mathesis van herhaalde motieven zijn gebouwd". Die kombinasie van dié drie elemente tot die populêre "Afrikaanse musiek" is klaarblyklik kommersieel suksesvol, maar dit is van ellendige kulturele waarde.

Is dit die soort "kultuur" wat behoue moet bly?

Hoewel daar gewis uitstekende Afrikaanse ontspanningslektuur is, kom minder goed versorgde tekste al hoe meer voor – jonger redakteurs wat nie meer van beter weet nie? ’n Gerekende skrywer soos Deon Meyer se boek Ikarus bevat bowendien so baie Engels en mengeltaal dat dit myns insiens eintlik net as ’n Suid-Afrikaanse boek beskou kan word, nie meer as ’n Afrikaanse boek nie. Die dialoog weerspieël waarskynlik die taalgebruik van die betrokke karakters (die swart speurhoof, die bruin spanleier-speurder en die wit speurder) akkuraat, maar wat sou ’n leser te doen staan indien ’n karakter in so ’n boek skielik Venda of Spaans of Russies begin praat?

Is dit die literatuur waaraan ons toenemend uitgelewer gaan word?

Die geselsprogramme op radio en TV gee baie aandag aan allerlei "feeste", met inbegrip van die sogenaamde kunstefeeste, wat deesdae vinniger as kakiebos oral in die land en in enige gedaante opslaan. As die taalgebruik van die meeste glanspersoonlikhede met wie onderhoude gevoer word en van die "gewone" feesgangers wie se menings gevra word, enige aanduiding is van die kuns- of kultuurgehalte van die feeste, is dit ’n droewe prentjie.

Hoe lank nog sal die uitstekende Shakespeare-vertalings van vroeër en die dramas van die NP van Wyk Louws en die DJ Oppermans van Afrikaans nog hoegenaamd op sulke feeste verstaanbaar wees, om nie eens te praat van aftrek kry nie?

Is dit die vlak van die kultuur waarvan Afrikaans die draer moet wees?

Is ’n mengeltaaltjie van geringe waarde die soort taal wat diegene wat hoog opgee oor hoe lief hulle vir hulle moedertaal is maar nie bereid is om ter wille van Afrikaans op te staan nie, vir die nageslag wil aangee?

Ongelukkig is daar te veel mense, selfs hoogs geleerde akademici, wat naïef genoeg is om dié soort salf aan die wonde van Afrikaans te probeer smeer en daarmee die Afrikaanse gemeenskap te probeer wysmaak dat alles met Afrikaans voor die wind gaan en sy toekoms blink is.

Wat sou die verlies aan Standaardafrikaans beteken?

Daar is gedurende die afgelope eeu geweldig baie in Standaardafrikaans tot stand gebring. Afgesien van ’n letterkunde van wêreldformaat is tientalle woordeboeke saamgestel, is terminologie geskep op elke denkbare terrein van die maatskaplike lewe, is verskeie ensiklopediereekse geskryf, het derduisende wetenskaplike en akademiese publikasies die lig gesien. Sulke werk gaan steeds voort. Daar is mense wat vrywillig Afrikaanse Wikipedia-artikels skep, die WAT teken Afrikaans in sy wye verskeidenheid aan, nuwe terminologie word deur vrywilligers geskep en gepubliseer, nuwe uitgawes van woordeboeke verskyn gereeld, Afrikaans se grammatika en spelling word steeds beskryf en bygewerk, letterkunde van hoë gehalte word steeds geskep.

Maar Afrikaans word terselfdertyd al hoe minder as onderrigtaal op skool en by tersiêre instellings gebruik. Dit beteken dat die vraag na Afrikaanse handboeke en ander studiemateriaal al hoe kleiner word – om dit te skryf en uit te gee is alreeds so ’n groot probleem – wat meebring dat die terminologie verval of verouderd raak. Dit beteken weer net olie op die vuur van die voorstanders van verengelste universiteite en skole.

Dink maar: As voornemende prokureurs slegs in Engels onderrig word en slegs Engelse wette en handboeke ter beskikking het, hoe gaan hulle hul kliënte na behore in Afrikaans kan dien? Hoe gaan mediese dokters of tandartse wat slegs in Engels opgelei is, aan hulle Afrikaanssprekende pasiënte in die afgeleë platteland diagnoses en prognoses verduidelik? Of die landbouvoorligter die boer help? Of die Afrikaanse onderwyser sy/haar vak in ’n Afrikaanse skool gee? Hoe goed gaan die Afrikaanse joernalis vaar wat politieke wetenskap of wat ook al slegs deur medium van Engels geleer het?

Dit is dus ’n ernstige mistasting om, soos verskeie akademici, aan te voer dat opleiding in Engels studente beter vir hulle beroepe voorberei.

Die verlies aan die gebruik van Standaardafrikaans aan onderwysinstellings en ander hoëvlakinstansies het dus nie net institusionele gevolge nie, maar gewis ook baie praktiese, alledaagse gevolge. Om sienderoë toe te laat dat dié funksies van Afrikaans afgeskaal word en verlore gaan, is soos om jou duur Pierneef aan die wind en weer oor te laat.

Hoe kan die saak beredder word?

Die einste Handves van Regte, wat waarskynlik die verskoning is vir die kniebuigings en voetvalle om die owerheid ter wille te wees en "gelyke toegang" vir "almal" te bewerkstellig, bepaal ook soos volg (art 29(3) en (4) van die Grondwet):

(3)        Elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou wat—

(a)        nie op grond van ras diskrimineer nie;

(b)        by die staat geregistreer is; en

(c)        standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is vergeleke met standaarde by vergelykbare openbare onderwysinstellings nie.

(4) Subartikel (3) sluit nie staatsubsidies aan onafhanklike onderwysinstellings uit nie.

Dit sal myns insiens nie help om te baklei om Standaardafrikaans op die kampusse van huidige tersiêre instellings te behou nie. Die dood is klaar in daardie pot. Die huidige regime en hulle akademiese lakeie het immers reeds hulle kaarte te duidelik gewys.

In die verlede is talle Afrikaanse instansies – van watter aard ook al – tot stand gebring deur die ondernemingsgees en geld (dikwels bietjie-bietjie bygedra deur van die armstes) van Afrikaanssprekendes. (Ironies genoeg het die US sy groei en bloei te danke juis aan die ruim skenking van die Afrikaanssprekende Jan S Marais, wat sy skenking onderworpe gemaak het daaraan dat die nuwe universiteit Afrikaans-Hollands moes wees en sy natuurlike voedingsgebied moes dien. Wat sou die gevolge van die verengelsing van die US vir die Jan S Marais-Fonds wees?)

Dit kan weer gedoen word, en die Solidariteit-Beweging het reeds sulke grondwetlik verskanste stappe gedoen deur die stigting van Akademia en ’n tegniese opleidingsinstelling.

Wat nou moet gebeur, is dat alle donateurs van tersiêre instellings vir wie Afrikaans van belang is, hulle skenkings van die bestaande instellings weerhou of dit daaraan onttrek. Dié skenkings moet in ’n sentrale fonds – of saam met bestaande fondse soos Het Jan Marais Nationale Fonds, die Dagbreek Trust of die Helpmekaarfonds – gestort word en deur die kundiges in die Afrikaanssprekende gemeenskap belê, bestuur en aangewend word om ’n Afrikaanstalige tersiêre instelling (en dalk ook Afrikaansmediumskole) op te rig en uit te bou.

Daar is werklik genoeg sulke kundiges as ’n mens dink aan die verstommende sukses van fondse soos bogenoemde en van ondernemings soos die Sanlams en Santams, Rembrandt, NasPers, die PSG-Groep en selfs wyle Volkskas.

En as dit in die 20ste eeu in die nadraai van die Anglo-Boereoorlog, twee wêreldoorloë en die Groot Depressie en so meer gedoen kon word, kan dit in die 21ste eeu weer gedoen word.

As Solidariteit dit kon regkry met behulp van die beskeie bydraes van sy lede, is dit werklik ’n realistiese moontlikheid. Solidariteit se Akademia maak ook van die nuutste tegnologie gebruik, en die moderne tegnologie is iets wat met groot vrug aangewend kan word om so ’n tersiêre instelling na sy studente te bring, waar hulle ook al in die land woon.

Vir my sou dit ideaal wees as die reeds gevestigde tersiêre instellings van Solidariteit kon saamsmelt met so ’n te stigte instelling sodat alle menslike, finansiële en tegnologiese hulpbronne en infrastruktuur gekonsentreer en doeltreffend aangewend kan word. Die moontlikhede van so ’n tersiêre instelling, al is dit ’n soort virtuele instelling, is eindeloos, en in die Afrikaanssprekende gemeenskap is daar sonder die geringste twyfel genoeg kundigheid en ondernemingsgees om so iets ’n sukses te maak.

Aangesien Afrikaanssprekendes ’n beduidende bydrae tot die staatskas maak deur die verskillende belastings wat hulle betaal, sou dit seker ook nie onbillik of ongeregverdig wees om ingevolge artikel 29(4) subsidies van die staat te vra nie, mits ’n mens dan natuurlik kan verseker dat die staat die onafhanklikheid van die instelling eerbiedig.

Vanselfsprekend moet so ’n instelling oop wees vir enige student, ongeag "ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte", soos artikel 9(3) van die Grondwet dit stel, maar met die uitdruklike voorwaarde dat die student aanvaar dat die voertaal en onderrigtaal van die instelling Afrikaans is. En dit moet nie onderhandelbaar wees nie.

Om so ’n Afrikaanstalige hoëronderwysinstelling tot stand te bring of verder uit te bou moet allermins ’n laertrekkery of ’n soort mini-volkstaat wees of word. Dit moet deur en deur gaan om die oprigting van ’n eersterangse tersiêre instelling waarin Standaardafrikaans sy regmatige plek inneem, waar studente uit eie keuse opleiding in hulle moedertaal kan ontvang en waar Afrikaanse beroepslui vir die toekoms opgelei word.

Afrikaans, in die ruimste sin van die woord, is iets goeds uit die verlede waarop ’n toekoms wat deeglik in ons diverse land gegrond is, gebou kan word.

  • Tom McLachlan is ’n beroepstaalpraktisyn met 40 jaar ondervinding in verskillende ruimtes in dié beroep en was 18 jaar lank lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, waarvan hy by sy uittrede die voorsitter was.
  • 5

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie weldeurdagte, sober en helder oorsig oor die taalstryd rondom Afrikaans. Ongelukkig moet ek saamstem dat die oorblywende reste van Afrikaansmedium onderrig aan HAUs kort voor lank ondergeploeg gaan word. Hier oplaas het die Raad van die US gekeer dat die universiteit weer 'n keer van onder af op bestuur word, maar dis te min, en helaas te laat.

    Graag onderstreep ek die belangrikheid van Standaardafrikaans soos hierbo genoem. Praat van wanpersepsies: dit lyk my daar is 'n siening dat Standaardafrikaans bloot 'n soort muwwe, verouderde snobfoefie is, en dat Afrikaans hiervan (ondermeer) "bevry" moet word. Dit is onsinnig en onkundig. Na my mening moet die verskynsel van register verduidelik en beklemtoon word. Dis 'n begrip wat te veel mense glad nie verstaan nie. Elke volwaardige taal het immers sy registers, wat wissel van informele spreektaal tot formele taal wat ingespan word by, soos hierbo genoem, sake soos die skryf van wette en, natuurlik, ook akademiese taal.

    Dit help net mooi niks om te probeer betoog teen die gebruik van formele taal in bepaalde situasies nie. Die wêreld van die internasionale akademie, ongeag die taal waarin die student daaraan wil deelneem, word bedryf in 'n formele taalregister.

    Tydens 'n post-doktorale besoek aan Amerika het 'n dosent aan die CUNY aan my gesê: "Whatever you do, don't let them write in the vernacular. They can go nowhere with it." Dus: Engels het ook 'n formele register.

    Ek stem saam met die voorgestelde oplossing. Synde self 'n voormalige student en dosent aan Unisa, kan ek getuig dat afstandonderrig, as dit behoorlik beplan en bedryf word, en veral in 'n hibriede vorm waar daar wel ook interpersoonlike gesprekke plaasvind, onderrig van uitstaande gehalte kan lewer. Skaalvoordele kan kostes afbring. Reeds bestaande studiemateriaal kan aangekoop en vertaal word. Dis haalbaar. Kom ons doen dit!

  • Tom, baie dankie, jy verwoord my kommer onverbeterlik, vlek die oordrewe tegemoetkomendheid tot op die been oop, maar bied ook 'n uitweg. Mag daar genoeg Afrikaanssprekendes oor wees met taaltrots, waardering en ywer vir die werk en nalatenskap van skrywers, akademici en opvoeders wat hulle lewe aan die ontwikkeling van Afrikaans gewy het!

  • Avatar
    Johannes Froneman, woordvoerder van die visekanselier, NWU

    Tom fouteer wanneer hy aanvoer dat die NWU bloot voorgee om nog 'n Afrikaanse aanbod op die Potchkampus te hê. Ons doen dit. Tom slaan ook die bal mis oor sg onskuldige ontgroeningspraktyke. Dat dit onaanvaarbaar was, staan vas. Dit moes beslissend afgeskaf word. As dit 'n negatiewe impak gehad het, moet die skuld nie voor die media se deur gelê word nie.

  • Avatar
    Megan Marshall

    That clarifies a lot for me, Tom. What a rational and lucid exposition. It was good to read your prose again.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top