Twaalf dinge in die taaldebat om oor na te dink

  • 3

frikkielombardDie debat oor die voertaal by US het baie reaksies en emosies ontlok. Baie van hierdie reaksies het elemente van die waarheid bevat en sommiges was na aan loutere onsin, sê die eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Frikkie Lombard.

Hy sê die Afrikaanse taal verdien beter en meer lojale gebruikers; nie diegene wat “Afrikaans! Afrikaans!” skreeu en die taal daagliks verknoei nie, maar wat Afrikaans doodgewoon só praat en skryf dat dit sy geldigheid as medium in die een taalsituasie na die ander demonstreer.

Lees ook:
Universiteit Stellenbosch: Vrydag die 13de
Koebaai, Afrikaans? Afrikaans as onderrigtaal in skole
Frederik de Jager: Afrikaans aan die US
Fanie Olivier: Vanuit Pole – rondom Stellenbosch

Hier is twaalf dinge in die taaldebat om oor na te dink:  

      1. Standaardafrikaans en die terminologie wat oor 'n betreklik kort tyd in Afrikaans geskep is, is iets groots en prysenswaardigs wat deur harde werk en inisiatief tot stand gebring is. Jan Rabie het dit een van die heel groot prestasies van ons land genoem. Dit is 'n mite dat Afrikaans nie 'n taal van die tegnologie kan wees nie.
      2. Om mense wat pro die Engelse voertaal is, te demoniseer (volgens Amanda Gouws het kollegas en andere dit gedoen), is net so verkeerd as om mense wat vir die behoud van Afrikaans pleit, te demoniseer.
      3. Die meeste mense wat vir die behoud van Afrikaans pleit, pleit eintlik vir meertaligheid in 'n meertalige omgewing. Dit is op sigself nie 'n onredelike pleidooi nie, en die meeste mense wat ek ken en wat daarom vra, is nie verkramp nie en verlang nie 'n "Boere-enklawe" nie.
      4. Dat 'n mens jou nie internasionaal sou kon handhaaf omdat jy in Afrikaans opgelei is nie, is 'n mite. Daar is baie Maties en oud-Maties en studente van histories Afrikaanse universiteite wat regoor die wêreld hulle beroepe met groot sukses en uitnemendheid beoefen. My twee kinders is albei in Afrikaans opgelei en het geen probleme om hulle in Engelse omgewings en oorsee te handhaaf nie.
      5. Dat parallelle onderrig Afrikaanssprekende studente sinvolle interaksie in die klaskamer met studente van ander tale en herkoms ontsê, is iets wat voor oë gesien moet word.
      6. Dit vra nogal ’n besondere mate van ruimgeestigheid om jou taal en deel van jou menswees op te offer; niks van hierdie aard word ooit van Engelssprekendes, die mees enkeltalige mense op aarde, gevra nie. Dat enige intellektueel ontwikkelde mens goedskiks ’n tegnologies en kommunikatief sterk taal sienderoë wil laat terugsak na ’n laefunksiegeselstaal gaan eintlik die verstand bietjie te bowe. En dit is werklik naïef om te dink dat Afrikaans nie geknou gaan word as sy tersiêre en hoër funksies verval nie.
      7. Daar word sterk gesuggereer dat Afrikaans “uitsluitend” van aard is. Engels dra waarskynlik nie daardie bagasie nie, maar is ook vir baie studente redelik uitsluitend. Dit kom egter voor asof sulke studente eerder in Engels sal voortsukkel as in Afrikaans, en ek seg dit met die grootste deernis vir studente wat in ‘n ander taal as hulle moedertaal moet studeer.
      8. As Afrikaans nie op universiteit ondersteun word nie, is die kans dat Afrikatale ondersteun en opgehef kan word, bitter skraal.
      9. As dit waar is dat die meeste Afrikaanse studente in Engels klas wil ontvang, sal 'n mens hierdie werklikheid moet aanvaar (ek doen dit met teensin). Dit lyk egter of studente wat sterk voel oor Afrikaans, nie eintlik geraadpleeg is in die besluitneming/opname nie.
      10. In my werk sien en beleef ek elke dag die geweldig ryk en geskakeerde Afrikaanse woordeskat. Afrikaans is ’n “propperse” taal, nie sommer ’n hierjytaaltjie nie.
      11. Die Afrikaanse taal verdien beter en meer lojale gebruikers; nie diegene wat “Afrikaans! Afrikaans!” skreeu en die taal daagliks verknoei nie, maar wat Afrikaans doodgewoon só praat en skryf dat dit sy geldigheid as medium in die een taalsituasie na die ander demonstreer.
      12. Ek weet dat die talebestel ’n geweldige kluif is en dat diegene wat by pragmatiese besluite daarrondom moet uitkom, onder groot druk is. Vir hulle wens ek die wysheid van Salomo toe. Vir die res van ons wat op een of ander manier geraak gaan word: lankmoedigheid en die vermoë om steeds met humor en vindingrykheid in Afrikaans te leef.

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Francois P Theron

    "Dat 'n mens jou nie internasionaal sou kon handhaaf omdat jy in Afrikaans opgelei is nie, is 'n mite. Daar is baie Maties en oud-Maties en studente van histories Afrikaanse universiteite wat regoor die wêreld hulle beroepe met groot sukses en uitnemendheid beoefen. My twee kinders is albei in Afrikaans opgelei en het geen probleme om hulle in Engelse omgewings en oorsee te handhaaf nie."
    Hiermee stem ek volmondig saam en nie heeltemal met die ander stellings nie. As jy goed tweetalig is in Afrikaans as Moedertaal en Engels as tweede taal (lees, praat en skryf) sal jy geen probleme hê in enige witboordjie werk nie ... Punt!
    Ek het afgetree op 31 Maart hierdie jaar en het basies my hele loopbaan 99% gekommunikeer in Engels, my tweedetaal, alhoewel my Afrikaans in die proses so bietjie 'seer' gekry het, maar glad nie doodsake soos die doemprofete beweer nie. Inteendeel ...

  • Avatar
    Willem Koekebacker

    Bostaande geld vir almal wat soos donkies met oogklappe op loop en net één taal praat. Hulle sluit hulle af van ander denkwyses en sal as gevolg net hulle denkwyse as dié waarheid beskou. Kyk na Rusland waar die mense oor die algemeen net Russisch en dalk, mos die jong mense, net 'n bietjie Engelse kennis het. Maar hulle kry net informasie in hulle eie taal, natuurlik is dit 'n politieke kwessie maar die gevolge is heeltemal dieselfde, verarming van die ontwikkeling op talle aspekte. Dis hoekom ek, en ek is 'n regte Kaaskop van die Lae Lande, probeer 'n bietjie Afrikaans te praat en te skrywe, omdat slegs in dié taal die geskiedenis beskikbaar is soos dit werklik aangegaan het. 'n Taal sal NOOIT skuldig wees aan wat ook al aangegaan het in die verlede. Maak nie saak watter taal nie. Net die mense het bloed aan hulle hande ... Lank lewe Afrikaans!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top