Vir professor Anton van Niekerk
Filosofie
Stellenbosch Universiteit
Geagte prof Van Niekerk
Dankie vir u besadigde en redelike repliek op my skrywe gerig aan die rektor van u universiteit. Dis ten minste nie die woeste armswaaiery van die Rioolstorter met die Kopdoek daar uit die noorde nie. Ek het ook nie anders verwag nie: al weet ek niks van u gedigte nie, is dit darem nie heeltemal waar dat ek u denke nie respekteer nie. Ek aanvaar eweneens u bereidwilligheid om ter goeder trou in gesprek te tree oor die aard en die toekoms van Afrikaans aan die universiteit.
Ek is bly ons stem saam oor die onvervangbare lewenswaarde van Afrikaans – ál ons Afrikaanse tale, en so ook enige ander taal, want dit gaan oor die oopmaak van die kop en die hart, die aanwins van meertaligheid en die praktyke van omvorming. (Terloops, hoe kry u dit reg om saam te lewe met die holruggeryde en holle cliché van “transformasie”?) En veral die inheemse tale. Omdat die harttaal die unieke vormgewing van ons herinneringe en ons verbeeldingsvermoëns en skeppingsdrang vergestalt. Omdat dit ons toegang is tot die universele (die etos) van menswees.
Vergun my om enkele punte in u skrywe uit te lig en daarop te reageer. U sou ook nie anders verwag het nie. Vergewe my sommer by voorbaat as ek ’n draai maak by die stalle waarvan u (ek gebruik voortaan “u” in die generiese meervoudsin) nou die hekke probeer sluit nadat die perde verhonger is (soos lesers van u repliek daarop wys), voor hulle na die Eersterivier gelei is met die belofte van water en waar daar sedertdien gepoog word om hulle te versuip in die naam van pragmatisme.
Daniel Hugo skryf tereg dat “pragmatisme” ’n eng, oppervlakkige, gelykmakende ideologie is.
Elders is daar reeds gepleit vir ’n diepgaande besinning oor die funksie van universiteite – universele instellings, maar tog voortvloeiende uit Westerse teologies-filosofiese tradisies – in die Suid-Afrikaanse konteks, waar die konsep herbesoek sou moes word teen die agtergrond van Afrika se behoeftes en moontlikhede. Dit sal egter nie gebeur nie, want dit sit nie in Suid-Afrika se Hoër Onderwys-broek nie. Moet ons dan nie ten minste probeer sorg dat die kind wat empiries ontstaan het, en in Stellenbosch Kombuistalig was, nie saam met die badwater van politieke gedienstigheid weggesmyt word nie?
Indien dit so sou wees dat daar nie meer voldoende aanvraag vir Afrikaans by u Kakiebosch Universiteit is nie (Hermann Giliomee se tabelle weerlê hierdie drogpersepsie oortuigend – maar ons weet mos almal hoe mens deur die vrae reg te plooi by die antwoorde kan uitkom wat mens wil hoor) – hoe het dit gebeur?
Vergun my om die metafore so effens te versit – “digters” dink nou eenmaal in vergelykings: u ideologie van pragmatisme herinner my aan die fris kêrel wat sy ma en pa vermoor het en nou by die hof pleit om vonnisversagting uit hoofde van die feit dat hy ’n weeskind is …
In alle opregtheid dink ek dat u voorgestelde praktyk (bepaal deur die besluitnemers aan die universiteit, in oorleg met geselekteerde drukgroepe, sommige van hulle studente) die voortsetting is van die sogenaamde “bevrydingsbeweging” se behoudende, selfs reaksionêre beleid wat al lank ontluister is elders – te wete, ’n dirigisme in diens van ’n totaliserende en hegemonistiese projek. Te lande word dit die Nasionale Demokratiese Revolusie genoem (hoe verkneukel Orwell hom nie!), maar dis slegs ’n Stalinistiese “kultuur” uit die ou doos wat lankal leeg gesteel is.
Dit is miskien nie u persoonlike oorweging nie. As ek vir ’n oomblik my sterk partydige renons in “Stellenbosch” mag laat sien soos ’n onderrok: ek sou reken dis baie van u se hartewens om realistiese, fasiliterende idiote te wees in diens van historiese skuldedelging, met ’n traan van nostalgie vir die vervloë tyd van die boereplaas, die gansveer en die kleindorpsaand. Die gevolg daarvan is die daarstelling van ’n kaste van ootmoedige ivoortoringmandaryne wat skynbaar nie wegskram van intellektuele en doodgewone ongerymdhede nie. Dis tog hoe ons driebeenvolkie is: die een voet keurig geskoen in geveinsheid, die ander in sentimentalisme, en die “middelbeen” van verterende eiebelang wat ons probeer wegsteek.
Ek glo die oneerlikheid waarmee daar omgegaan word met basiese feite en statistiek, die valse manipulering van tendense om dan by voorafbepaalde konklusies uit te kom, die vernedering dat u instelling herhaaldelik deur hofbesluite gedwing moet word om woord te hou … dat al hierdie dinge gaan maak dat selfs die Baälsgod van Bestuur nie sal kan verseker dat die universiteit die internasionale aansien wat deur ’n Angel-Saksiese wêreldorde van kapitalisme geborg word, sal kan bereik en behou nie.
Want sien u: al dra ’n aap nou ook ’n goue ring, bly hy maar ’n kommin boereverneuker.
Dis die één ding wat my kamerade in die Vryheidsbeweging my geleer het: Wat laat jou dink dat jy mý respek waardig kan wees net omdat jy jou eie mense verraai het? Eens ’n oorloper altyd ’n oorloper.
Wat veronderstel dat ons tot ’n gedeelde begrip kan kom oor wat met “eie mense” bedoel word.
Wat my betref: hulle teen wie daar gediskrimineer word omdat hulle te arm is om aanvaar te word aan die hedonistiese universiteit wat net ingestel is op die voortsetting van sy “meerderwaardigheid”. Hulle, nou al hoe meer, wat gegroei het uit die kreolisering van wortelskiet; hulle in wie die voorsate se tale vervloei het in één uiting van baie tonge om die oorgange en die ruimteskepping van beweging te mag sing.
Ek is seker, geagte professor Van Niekerk, dat dit die begin van ’n lang gesprek is.
Hoogagtend
Breyten Breytenbach
US-taalbeleid: Ope brief aan Breyten Breytenbach
Anton van Niekerk "Die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word." |
'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid
Breyten Breytenbach "Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?" |
Kommentaar
What a wonderful full of expression and passion filled language Afrikaans is!
Absolute plesier om die stuk te lees. Ek volg met graagte die volgende seining.
Yes Bruce, "What a wonderful full of expression and passion filled language Afrikaans is".
Dankie Breyten, dit is tans digters en skrywers wat die DENKERS met die beste en nugterste argumente is, nié die "filosowe" of taalkenners op US nie (wie is die stilswyende akademici, tog nie net Van Niekerk nie?) Snaaks, Van Niekerk bly in korrespondensie met Breyten, maar nog hy nog die De Villiers nooi internasionale figure soos Breyten en ander taalkenners buite US, om op hul taalkomitee te dien. Hoekom nie?
Elke paragraaf van Breyten hierbo en elders, behoort as besprekingspunt in die nuwe taalbeleid opgeneem en evalueer te word.
Soveel reaksies op LitNet in die taaldebat tov US se taalbeleid: maar hoeveel van ons Breyten-ondersteuners het al die besware op hul GelykeKanse-webwerf onderteken en insette/kommentaar gelewer op US se taalwerf?
US se afsnydatum is môre: 22 April 2016!
Breyten, ek kan net sê dankie!!
Ek ken jou gladnie, nie eers goed genoeg op letterkundige gebied nie en slegs een keer 'n baie kort, tog leersame gesprek oor jou gehad, kort na '94 se 'bevryding' van SA en President Mandela se eerste buitelandse besoek, waartydens hy eers sy vriendin in Maputhu gaan oplaai het om hom te vergesel..
President Chisano het vir President Mandela versoek dat die "Boere, die Afrikaner" hulle moet kom help omdat hulle (al die Afrika regeerders, wat hier was vir Mandela se inhuldiging) gesien het alles werk hier, terwyl alles in duie gestort het oral in Afrika waar die koloniale magte padgegee het. Daarom het Chisano veroek dat slegs Afrikaners moet kom help.. en dit was daarom dat Mandela so'n versoek aan generaal Viljoen gerig het. Chissano wou geen Engesman sien nie!
Toe agt van ons die eerste nag in Mosambiek spandeer, was ek bevoorreg om 'n kamer te deel met jou broer Jan (van 32 battaljon), wat die "eerste keer in 17 buitelandse besoeke, sy paspoort laat stempel het".
Na 'n lang gesprek oor julle twee se uiteenlopende weë, het Jan die gesprek afgesluit met die versoek dat ek maar kan voortgaan met lees terwyl hy sy stiltetyd hou!!
Jan het verduidelik dat hy in 'n engelse kerk tot bekering gekom het en daarom steeds sy engelse Bybel gebruik.
Daardie aand en nag het ek besluit om so ver moontlik nooit weer iemand op sy baadjie te takseer nie omdat ek só verkeerd was oor twee broers.
Die afgelope twee briewe van jou oor Afrikaans, bevestig net weer wat ek daardie aand van Jan geleer het, toe ek van agter na hom staar terwyl hy op sy knieë was en 'n traan oor my wang rol..
Dankie Breyten! Dankie!!
Beste Koos Reyneke - mag ek maar Koos sê?
Dankie vir hierdie kosbare relaas. Broer Jan is baie, baie na aan my hart. Ek hoop maar net hy weet hoeveel ek hom bewonder.
Die intieme insident wat jy beskryf klink presies reg. Dit is wat hy sou doen onder enige omstandighede. Nou moet ek egter byvoeg dat sy vrou, 'n saggeaarde en verfynde mens, nie juis die beste kok op aarde is nie. Tot so 'n mate dat my broer se tafelgebed met die jare afgeskaal geraak het tot, "dear God, for what we're about the have - have mercy on us ..."
Ek neem aan jy het die kolonel ook onder ander en gevaarliker toestande geken? Dan wil ek net sê dat dit werklik 'n voorreg moes gewees het om in die teenwoordigheid te kon wees van so 'n leier met soveel integriteit.
Dankie dat u die herinnering wou deel.
Alle sterkte en moed toegewens,
Breyten Breytenbach
Dankie Breyten vir die mooi woorde oor jou broer!Die gene spreek vanself!
Breyten
Ek kry skaam oor ek vandag eers jou antwoord en kosbare woorde sien, en ook heel toevallig terwyl ek stoei en sukkel om op facebook of êrens weer op die internet te kom.
Noem my asb Koos. Ek sal báie geëerd wees en voel om deur so 'n groot Afrikaanse kampvegter so aangespreek te word.
Ongelukkig kon ek nooit onder Jan diens doen nie maar was uiters bevoorreg om generaal Viljoen persoonlik te leer ken en saam met hom betrokke te raak toe die beroepspolitici ons vanaf '92 op 'n groot dwaalspoor gevat het.
Ek was betrokke met die opstel van die Akkoord tussen die Volksfront en die ANC, rakende 'n volkstaat en/of tiende provinsie, wat Viljoen en Mbeki op Sondag 21 April '94 onderteken het.
Dis aangrypend hoe u die huidige vlak van akademiese denke hoër wink.
Baie dankie, Breyten Breytenbach!
Maar weereens, Breyten, jy praat mooi niks van die voorgenome beleid nie. Alles net kopdoekige asem uitgeblasery. Breyten, ek verbaas my met jou onbenullige houding en hubris. Wat rook jy?
Nee, meneer Muller, ek rook lankal nie meer nie. Seker maar skrikkerig dat my kopdoek dalk vlam kan vat. Ek wil u egter vriendelik versoek om 'n draai te gaan maak op Gelyke Kanse se webblad waar die US se voorgestelde taalkonsep punt vir punt ontleed en weerlê word (en dit bevat baie onderduimshede ...), en 'n alternatiewe benadering punt vir punt voorgestel word deur mense met ervaring en sonder verskuilde bybedoelings. U behoort daar ook toegang te verkry tot voorstelle van allerlei belanghebbendes, instansies en individue, van heinde en ver en Stellenbosch.
Breyten, werklikwaar mooi, maar kan jy dit nie fokken korter gesê het nie?
Fyn, skerpsinnige repliek - mens kan maar net hoop dat prof van Niekerk die nodige insig en waardering sal hê! Dankie, Breyten!
Breyten, my ouma, aan Ma se kant, het nogal gereeld hierdie woorde gebruik:
"Wiens brood men eet, wiens woord men spreek" (Dit is seker regte Kaapse Hollands!)
Dit lyk my nogal nommerpas vir die manne van US wat bereid is om terwille van hulle snytjie brood hul eie taal te versmoor, toevallig iets wat Kitchener nooit kon regkry nie!
Kleindorpsaand. Mooi. Eerder as om Stellenbosch in duie te laat stort, maak 'n reëling met een van die Hollandse of Belgiese universiteite dat Stellenbosch eerder 'n satelietkampus word, van sê Leiden, Utrecht, Ghent, wat ook al.
Leuven
Elke punt so feitelik en logies geldig, en so dringend ter sake, nou én voorheen, as wat dit onvergelyklik ingeklee is. As dít is wat Breyten se ope brief aan die Rektor alreeds op die tafel bring, kan mens selfs Piet se beledigingsbredie verduur!
Ek kan net vra, Prof van Niekerk, dat u ná u tesis van "bymekaarverbypraat" die geleentheid aangryp, en elk van dié punte aanspreek op die peil van trefsekere tersaaklikheid en konseptualisering - tot op hede afwesig van die debat - wat hulle gesamentlik en afsonderlik stel, en uitnooi!
Ú skrywe het terloops by my 'n soort vaal voorskadu van Breyten se antwoord bo ontlok - en is ek nou bly ek is in Boerehoflikheid geskool, en dat ek die veld eerder skoon gelaat het!
Een beklemtoning van 'n reeds implisiete punt sou ek myself wel toelaat:
Soos ek sake begryp is ons vermaarde Grondwet self 'n "pragmatiese" dokument, in die sin dat dit kompromieë van bemiddeling ter bereiking van hoë en suiwer oogmerke aangaan.
Ek stel dit aan u, Prof van Niekerk, en aan u mede-pragmatici, dat die onvermydelike implikasie van u benadering, naamlik dat die Grondwetskrywers bedoel het dat elke nie-Engelssprekende kind in ons wye en droewe land vir ewig 'n onoorkomelike agterstand teenoor haar/sy bevoorregte Engelse maats moet hê, die Grondwet óf as oneerbaar aan die kaak stel, óf skandelik onteer.
Ons Afrikaners se volksgeskiedenis is een van onreg, gely en op ons beurt aangedoen. Gaan ons nou wéér faal, of gaan ons die uitdaging aanvaar om van pas tot vermoë die land te lei tot verwesenliking van wat eintlik 'n geheel-en-al onverhandelbare (Grondwetlike) ideaal is?
Ek het ook die boodskap gekry. Moenie moeilikheid soek met Breyten Breytenbach nie!
"Al dra 'n aap nou ook ’n goue ring, bly hy maar ’n kommin boereverneuker."
Ten minste praat ons nog dieselfde taal - en die aap is beslis gewond.
Goeie aanvoergesprek met Prof van Niekerk. Het hy al gereageer?
Anton Muller, ek verbaas my oor jou onbeskoftheid.
Stellenbosch is 'n eensame plek vir 'n ongedistingeerde proffie in 'n veld wat soos 'n opdrifsel dryf tussen natuurwetenskappe en ingenieurswese, tastend in die duister terwyl die verligte filosoof en ander slimmes verwoestend voortneuk agter die dogma van die dag. Hoe welsalig is dit nie om te wandel in die lig van die sekerheid nie. Vanwaar dan die twyfel? Hoe gemaak met die analise van Douglas Smith (Former People) van die twee rewolusies, die een volg op die ander? Die eerste bou aan 'n nuwe toekoms. Vir sommige die hoop op 'n demokrasie, vir ander die geleentheid om, onder die vaandel van demokrasie, juis dit te vernietig. Die tweede, die vernietiging van die verlede, en daarmee saam die hoop op 'n toekoms.
Breyten, daar is baie wat ek jou nog oor 'n koppie koffie sou wou vra, al het jy reeds geantwoord: “Verligting is 'n straaltjie in die duisternis en die oortuiging van heldersiendheid is voortvarend en voorbarig.”
Ja-nee, ou swaer. Nou baklei die klomp Kapaterkaners darem lekker onder mekaar
#SchadenfreudePure
#VirtueSignalling
Lol, 'n klomp FW-geslag has-beens wat nog STEEDS die diskoers oor die Afrikaanse taal bestem.
Geen wonder die Afrikanerjeug verengels nie ... want hulle het sowieso NUL inspraak BY enigiets wat hul betrek, hetsy hul taal, politiek, kultuur, ens nie.
Die skrywes het my genoop om alles wat ek van Breyten kan kry op te koop - jammer so laat in my lewe.
Jan Marais, as kampvegter vir Afrikaans, het in sy testament die bedrag van GBP100 000 onder die volgende voorwaarde bewillig: “Ter bevordering van het hoger onderwijs te Stellenbosch, doch meer beijzonder van het onderwijs in en door middel van de Hollandse taal in zijn beide vormen (dat wil zeggen Afrikaans zowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in zodanige onderwijs de Hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiële landstaal zal innemen.”
Hoe affekteer die nuwe taalbeleid die stigting?
Elizabeth, Watter Jan Marais?
Merle, dit verbaas my nie dat jy en baie ander nie van Jan Marais weet nie, want hy word doelbewus deur die Universiteit Stellenbosch (US) en selfs grootliks in die debat oor Afrikaans aan die US doodgeswyg. Jan Marais is die groot weldoener wat met 'n groot skenking die stigting en ontstaan van die US moontlik gemaak het. Verlede jaar is sy dood 'n eeu gelede deur Het Jan Marais Nationale Fonds herdenk, maar nie deur die US (insluitende sy Afrikaansdepartement) nie. Die rede vir hierdie versuim is omdat Jan Marais 'n uitdruklike voorwaarde vir sy skenking gestel het, naamlik dat Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie. Nou wil die rektor, Wim de Villiers, en (van) sy bestuurslede die US verengels in weerwil van die ten minste morele verpligting wat Jan Marais aan hulle opgelê het. Pieter Kapp se pragtige boek, Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers ([Stellenbosch:] Het Jan Marais Nationale Fonds, 2015, 216p, R290), is in die boekhandel beskikbaar. 'n Boekbespreking deur Leon Lemmer, "Jannie Marais, die Stellenbosse weldoener", is op Praag (25.11.2015) gepubliseer en op die internet toeganklik.
"Die bemakings in sy testament was 'n deurgee van sy voorliefdes na latere geslagte - Stellenbosch en Afrikaans en sy kerk. As ek die familiebemakings - en dit is groot bedrae - weglaat, is die grootste bemakings die volgende:
£100 000 vir die totstandkoming van die US, wat lei tot "Het Jan Marais fonds".
£10 000 aan die Munisipaliteit vir die bou van 'n stadsaal.
£10 000 aan die Munisipaliteit vir die inrig van 'n park- die bekende Jan Marais-park waarna die Munisipaliteit gereeld as die Jan S Marais-park verwys.
£12 000 aan die NG Kerk van Stellenbosch - vandag die Moedergemeente.
£12 000 aan die Kweekskool.
£3 000 aan die Instituut vir Dowes en Blindes, Worcester.
£3 000 aan die Victoria Memorial Cottage Hospitaal te Stellenbosch.
Die restant van die boedel word dan in 'n trust gestort. Die bedrag hier ter sprake was £40 000 en dit gee aanleiding tot "Het Jan Marais Nationale Fonds".
In totaal bemaak hy dus £187 000 aan dorp en universiteit - in vandag se terme so ongeveer R32 miljoen."
Gert Wessels, jammer so laat in ons lewe oor Breytenbach ... Jammer so laat in ons lewe oor die gehele politieke beleid van die laaste 50 jaar. Daar is nog heelwat wat gered kan word - ons taal ingesluit.