Gelyke Kanse-persverklaring: Konstitusionele Hof-toetssaak oor taal

  • 2

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Groot belangstelling heers onder akademici en in onderwyskringe oor 'n toetssaak in die Konstitusionele Hof rakende die omstrede kwessie van die reg tot onderrig in Suid-Afrika se inheemse tale op tersiêre vlak. Hierdie saak word Donderdag 8 Augustus 2019 in die Konstitusionele Hof in Johannesburg aangehoor.

Die beweging Gelyke Kanse en Matie-studente het appèl aangeteken teen 'n uitspraak van die Kaapse Hoër Hof wat die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch gehandhaaf het. Die Kaapse Hof het die aansoek om hersiening van die US-taalbeleid met koste verwerp.

Die kostebevel is sedertdien laat vaar, aangesien grondwetlike kwessies op die spel is. Die saak is ook vertraag deurdat die Konstitusionele Hof gelas het dat alle hofstukke, wat meer as 7 000 bladsye beloop, in Engels vertaal moet word.

'n Volle regbank van die Konstitusionele Hof sal na verwagting betoë van die onderskeie partye aanhoor.

Die appellante voer aan dat die Universiteit Stellenbosch (US) in stryd met die Grondwet, wat onderrig in 'n amptelike taal van keuse tot op die hoogste vlak waarborg waar dit redelikerwys doenlik is, onder politieke druk geswig en Afrikaans begin afgradeer het. Gevolglik geniet Afrikaans ook nie meer by US die gelykheid van aansien wat 'n honderd jaar vanaf die universiteit se stigting gegeld het en steeds as prakties haalbaar in 'n oorwegend Afrikaanse voedingsgebied beskou word nie. Dit is vandag des te meer prakties haalbaar gegewe die nuutste ontwikkelinge in afstandonderrig wat reeds wêreldwyd en ook by US toegepas word.

Die Konstitusionele Hof se uitspraak sal na verwagting rigtinggewend wees vir al 26 Suid-Afrikaanse universiteite, waarvan die oorgrote meerderheid slegs Engelse onderrig aanbied. Drie voorheen Afrikaanse universiteite het reeds formeel begin verengels, terwyl slegs US en Potchefstroom steeds in sommige departemente Afrikaanse lesings aanbied.

Die uitspraak sal ook van belang wees vir skole wat tot graad vier in die inheemse tale klasgee, maar daarna gedwing word om na Engels oor te slaan.

Gesaghebbende navorsing het getoon dat hierdie beleid besonder nadelige gevolge inhou – nie net vir sodanige leerders nie, maar ook vir 'n land se ontwikkeling. 

  • 2

Kommentaar

  • Dat dit nodig is vir so 'n voor-die-hand-liggende onderwerp om so 'n hoë draai in die konstitusionele hof te gaan maak, toon die verdieping van die krisis in die regstelsel.

  • Hans Richardt

    Vir my dui die regspraak teen Afrikanerssimbole en as taal, op geforseerde etniese almalgamasie wat nou amptelike regeringsbeleid is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top