Die klok het geslaan, die koeël is deur die kerk en dis amper middernag. Die simboliese slagveld lê besaai met die wrakstukke van uitgediende clichés. Ons het die rolprent al meer kere gesien as enigiets wat DStv al heruitgesaai het. En dit wil gedoen wees.
Hoekom sal ons dan nog ’n keer aandag aan die saak gee? Seker dan maar ter wille van wat in die verre verlede, sê tot so vyf jaar gelede nog, as “die rekord” bekendgestaan het. In Engels is in dieselfde verre verlede verwys na ’n “newspaper of record”. Van dié soort ding moet ’n mens boekhou – omdat onreg nie ongemerk verby mag gaan nie, maar in hierdie geval ook ter wille van daardie oomblik wat ongetwyfeld eendag sal aanbreek wanneer mense van die toekoms soos verstomde argeoloë (en in navolging van die verrassend voortydige Tito Mboweni) die ruïnes van ’n manjifieke beskawing ontdek en vra: “Maar hoe kón die mense dan so dom wees?”
As ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees, en slim, o so slim, was die post-apartheid Afrikaanse voorstanders van Afrikaans as taal van hoëronderwys. Die baanbrekers onder hulle het al in die laat 1970’s gerebelleer teen die onreg wat die apartheidsregering Afrikaans aangedoen het. Vir dié rebellie was die belonings uiteenlopend, maar konsekwent wreedaardig: tronkstraf, akademiese ostrasering, verdagmaking. Profete word nie in hulle eie land geëer nie, en soos dit maar met alle profete gaan, is dié ook deur hulle eie mense gestraf.
In daardie selfde jare wat die rebellie begin het, was die toekomstige Afrikaanse rektore wat uiteindelik eendag die destydse Afrikaanse universiteite sou verengels, aan die wit kant begunstigdes en selfs ondersteuners van die Afrikaner-establishment, of aan die bruin ontvangkant daarvan. Die een ding wat die toekomstige rektore wel eendag ongeag kleur sou deel, was ’n allesoorheersende drang om in te pas by die toekomstige meerderheid. Dat goeie bedoelings so tot konformisme kon skif, om Van Wyk Louw te parafraseer.
Teen hierdie tyd weet ons van sondebokke. Miskien het ons nog nie genoeg gedink oor die perverse kinkel wat sondebokkery in ’n koloniale samelewing soos ons s’n kry nie. Een, twee, drie, vier staan hulle in ’n ry: die rooi gevaar, die swart gevaar, die regse gevaar ... en Afrikaans. Op hierdie nimmereindigende zombie-banket kom sit ons altyd weer aan vir nog ’n gemarineerde, diepgebraaide stukkie van die sterwende droom om in hierdie land “ons” te kan sê.
In ’n stukkende kolonie waar omtrent niks meer werk nie, kan die lyers aan gelykheidskoors darem nog op die sondebok staatmaak. Daar is dus geen rede om te glo dat die Konstitusionele Hof Gelyke Kanse, wel, gelyk sal gee nie (hoewel ’n wonderwerk seker altyd kan gebeur ...). Soos Steve Biko tóé al, is ons op ons eie. (Dit geld vir almal in hierdie land en eendag sal ons dit dalk nog van mekaar agterkom, en dan sal ons dalk begin leer hoe om “ons” te sê, maar dis ’n droom vir die lewe na die dood.)
Ter wille van die rekord, dan, het dit in die epiloog van hierdie makabere moordroman, waarin zombie-rektor op zombie-rektor met dieselfde stomp mes die kermende Afrikaanse sondebok keel afsny sonder om ’n bloedspatsel op sy of haar pak(kie) te mors, tyd geword om vir mekaar te sê dat in ’n koloniale samelewing ons die sondebok só nodig het dat die goeie argument nie ’n kat se kans staan solank die koloniale magspatrone nog nie verbreek is nie. Ter wille van die rekord, wat nou ook al so bloedbesmeerd is dat ’n mens nie weet of die mense van die toekoms dit sal kan lees nie, moet ons die dood van hierdie goeie argumente en hulle gepaardgaande eksperimente soos ’n geduldige patoloog ondersoek.
Niks fokus ’n mens so as ’n bewussyn van die naderende apokalips nie, en so is dit ook met die rebelle in hierdie verhaal, wat ook hul deel bygedra het om ’n stuk Afrikaanse geskiedenis te skryf wat ’n mens darem weer kan laat kop oplig en vir ’n oomblik laat vergeet van die massas gemoedelike konformiste wat al in hierdie taal geleef en lewend dood van hulle inpassery was. As die nood hoog is, dan dínk jy, en dínk het hierdie rebelle gedínk.
Die een ding waaroor die rebelle en die zombie-rektore van lankal af saamstem, is dat taal nie gebruik mag word om uit te sluit nie. Die lastigheid is dat om enige taal te gebruik, per definisie reeds uitsluit, vir die eenvoudige rede dat geen taal deur almal gepraat word nie. In ’n land met ’n bloedbesmeerde taalrekord sou dit altyd bars gaan om die gegewe uitsluitendheid van taal so te verreken dat ons nuwe maniere van saamleef en saamdink aan ons openbare universiteite kon vind. (Die histories Engelse liberale universiteite sou dit wel oplaas teen 2015 agterkom toe Rhodes uiteindelik begin val het, soos hulle ook besig is om uit te vind dat met die slagting van sondebok Rhodes en sy witterige Engelse nakomelinge, die tirannie van ’n meerderheid wat géén teenstem duld nie, die logiese uitkoms is. Die makabere skoonheid van dié tirannie is watter mooi idees dit alles koloniseer en van alle skeppende betekenis stroop – transformasie, geslagsgelykheid, dekolonisasie, en wie weet wat nog?)
Die kern van die rebelle se gedagtegang was dat die gegewe uitsluitendheid van taal so verreken moet word, dat taal op so ’n wyse hanteer word, dat dit ná die val van apartheid ons op nuwe maniere laat saamwees. Lank voor die zombie-rektore kwakend in die middelmatige koor van die “wêreldklas-universiteit” saamgesing het, het die rebelle planne beraam aan die hand van die beste praktyke van saamwees deur taal elders in die wêreld, en het dit in daardie paar verbeeldingryke jare na 1994 begin bepleit en beproef. Dit het tot twee, miskien drie eksperimente gelei, weliswaar nie almal ewe verbeeldingryk of eerlik nie – maar goed, niks in hierdie wêreld is volmaak nie.
Om mee te begin – en wie sou dit nou kon dink van ’n provinsie wat op sy dag dalk die mees rassistiese in die land was? – het die Universiteit van die Vrystaat onder denkleiding van Theo du Plessis omstreeks 1995 die parellelmediumtaalbeleid ingestel. (Du Plessis het die sonderlinge onderskeiding dat hy sedert sy eerstejaar aan die UV in 1977 tot vandag toe strykdeur in opstand is, en daarvoor salueer ek nou maar in die verbygang hierdie mees beskeie rebel.) Dit is die moeite werd om ter wille van die bloedbesmeerde rekord die agtergrond van die UV se parallelmediumtaalbeleid in oënskou te neem.
In die middel 1980s slaag die verligtes aan die UV net-net daarin om ’n referendum te wen wat daartoe lei dat die universiteit nie langer slegs vir wit studente oop is nie. Die mooi simboliek ten spyt, bly die UV die volgende sowat 10 jaar min of meer lelieblank wat studente betref. Teen dié agtergrond bedink Du Plessis en andere ’n plan wat amper uniek in die wêreld was, naamlik dat lesings en assesserings aan die UV in sowel Afrikaans as Engels sou geskied, amptelik bekend as ’n parallelmediumtaalbeleid.
Die plan het so goed gewerk dat toe ek in Januarie 2012 as dosent by die UV aangesluit het, die UV-hoofkampus uit 65% “generies swart” en 35% “wit” studente bestaan het. ’n Verdere merkwaardige syfer: Toe Du Plessis in 1977 ’n eerstejaar aan die UV was, was daar op wat nou die hoofkampus genoem word sowat 9 000 “wit” studente en so was dit nagenoeg steeds in ... 2012. Die afleiding wat hiervan gemaak kan word, is dat die een “bevolkingsgroep” wat in 1977 welkom aan die UV gevoel het, steeds in 2012 welkom aan die UV gevoel het, terwyl die ander “bevolkingsgroep” wat in die verlede nie welkom aan die UV was nie, teen 2012 inderdaad welkom aan die UV gevoel het. Soos enige post-apartheid Suid-Afrikaanse universiteit wás daar soms rassespanning en -voorvalle aan die UV, maar dit maak nie die veel belangriker feit ongedaan nie, naamlik dat die parallelmediumbeleid ’n reuse rol gespeel het om die verdelingslyne van die verlede oor te steek en brûe tussen voorheen aparte groepe te bou.
Dog, in die parallelle heelal waarin rasieleiers oor ras leef, is uiteindelik aangevoer deur die klein minderheid wat vir die afskaffing van die parallelmediumbeleid en die verengelsing van die UV verantwoordelik was, dat ... die beleid segregasie (en selfs apartheid!) in stand hou, aangesien die Afrikaanse klasse grootliks “wit” en die Engelse klasse grootliks “generies swart” was. Terwyl navorsing en selfs die destydse rektor by meer as een geleentheid in die openbaar verklaar het dat lesinglokale nie soseer die ruimte is waar integrasie plaasvind nie, maar dat dit eerder gebeur in groepsklasse, tutoriale, koshuise, kerke, sport- en kultuuraktiwiteite en dies meer, het dit alles geen verskil gemaak aan die bewoners van die parallelle heelal waarin ras dieselfde rol vervul wat swaartekrag in die bekende heelal vervul.
Wanneer die rasieleiers van ras onder druk geplaas is, is die eintlike agenda wel onthul, naamlik dat die parallelmediumbeleid Afrikaanse studente “onregverdig” sou bevoordeel omdat hulle in hul moedertaal studeer, terwyl feitlik al die studente wat in Engels studeer aan die agterspeen suig omdat Engels nie hulle eerste taal is nie. In dié soort gesprek is die taalvoordeel van die sowat 17% Engelse moedertaalsprekers in daardie stadium aan die UV gerieflik verswyg, nes die feit dat die ANC-regering in die loop van 20 jaar nagenoeg niks vir die ander inheemse tale gedoen het nie, ook verswyg is. Anders gestel: vir praktiese doeleindes het die ANC-regering sy tradisionele ondersteuningsbasis van die keuse vir ander tale as Engels ontneem, wat sommige van die rasieleiers van ras dan uitgebeeld het as “swart ouers kies vir Engels”. Wat nie uitgespel is nie, is dat as “samehorigheid” beteken dat die Afrikaanse minderheid dan nou maar hulle taal en die reuse ekonomiese bydrae wat werkskepping deur sprekers van die taal vir álmal in die land maak, moet opgee, dit dan nou maar so moet wees. Geoffer sal jy geoffer word, sondebok!
Dan was daar die eksperiment van die Noordwes-universiteit onder leiding van ’n ander ou rebel, Theuns Eloff. Die baanbrekerswerk met die Suid-Afrikaanse universiteitsopleiding van tolke wat onder leiding van Du Plessis aan die UV begin is, het oorgespoel na die NWU, en húlle antwoord op die gegewe uitsluitendheid van taal, was om deur middel van tolking Afrikaanse studente en anderstalige studente in een en dieselfde lesinglokaal saam te laat sit en leer. Nog was dit het einde niet: Op die regering se skandalige pligsversuim teenoor die ander inheemse tale was die NWU se reaksie om Setswana onder sy vlerk te neem en tolking ook vanuit Afrikaans na Setswana te laat geskied.
In die bekende heelal sou ’n mens reken dat dit die rasieleiers van ras tevrede sou stel, maar in parallelle heelalle werk dinge eenvoudig volgens ’n ander logika. Nee, sien, het die rasieleiers geraas, om met oorfone na ’n tolk te luister “stigmatiseer” ’n student – en dit terwyl die einste student skaars nou die dag weens ’n hoop werklike, monsteragtige stigmas nie naby daardie kampus toegelaat sou word nie. Boonop sou dit ’n “minderwaardige leerervaring” vir die student vir wie getolk word, bied.
’n Rektor wat normaalweg nie so rasbehep is nie, het toe wel die eintlike aap uit die mou gelaat toe hy omstreeks 2015 in die openbaar verklaar het dat Theuns Eloff ’n “wit enklawe” in die Suid-Afrikaanse universiteitswese wil onderhou – of min of meer so iets. (’n Mens hoor naderhand soveel vergesogte versinsels uit die parallelle heelal dat jy ook nie aldag seker is of jy reg gehoor het nie, en nog minder of jy reg onthou nie.)
Die doodsonde van Eloff se NWU was dat die meerderheid studente op die Potchefstroomse kampus wit was. Nie die feit nie dat iets soos een uit vyf studente op daardie kampus en in daardie stadium “generies swart” was, en dat baie van hulle weens onderrig in puik Afrikaanse skole swartmense was wat verkies het om in Afrikaans te studeer en so die wit stigma van die taal verder gebreek het, het enige verskil aan die rasieleiers van ras gemaak. Hieruit kan afgelei word dat as Afrikaans ’n betroubare sondebok in die huidige Suid-Afrika is, is ras vir ’n handjie vol ras-ondernemers wat hele akademiese, politieke en sakeloopbane op hulle rasbeheptheid gebou het soos daardie fopspeen wat die laat ontwikkelende kind steeds saans onder die komberse lê en suig. (Laat ons dus in hierdie konteks bepaal dat fopspeen ’n mooi Afrikaanse sinoniem vir fetisj is.)
Dan was daar in die derde plek die eksperiment met dubbelmediumonderrig, wat die Universiteit Stellenbosch in die vorm van die sogenaamde T-opsie beproef het – ’n opsie wat afhangende van jou perspektief as berug, befaamd, bisar of sommer goeie ou oëverblindery beskryf kon word, en wel vir die eenvoudige rede dat om dieselfde leerinhoud in dieselfde lesinglokaal in dieselfde tydsbestek in sowel Afrikaans as Engels te verduidelik, neergekom het op ’n halvering van wat geleer word, en toe ook nou nie juis lank gehou het nie. Buiten dat die T-opsie volgens ’n welwillende vertolking (welwillendheid wat nie sonder besondere inspanning moontlik is nie) miskien ’n soort van ’n poging was om die gegewe uitsluitendheid van taal te bowe te kom, is die een ander opmerking oor die eksperiment, soos Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer van vroeg af uitgewys het, dat die US se onbedoelde en veral bedoelde pogings na 1994 om te verengels enersyds die US se historiese verantwoordelikheid teenoor bruin Afrikaanssprekendes ontduik het. Andersyds het dit die groep wat by verre die beste daarin geoefen is om sy etniese belange onder die voorwendsel van universeel aanvaarbare beginsels soos voortreflikheid, vooruitgang, gelykheid, geregtigheid en so meer te bevorder, naamlik wit Engelssprekendes, die meeste bevoordeel. Wits-, Rhodes- en Kaapstad-universiteite se wit, bevoorregte, Engelse “verlies” was, wel, Stellenbosch se “wins”. (’n Mens sê deesdae ook nie sommer “nee” vir studente wat hulle klasgelde self kan bekostig nie, of hoe?)
In die bekende heelal maak niks hiervan sin nie, maar in die parallelle heelal is ook dít volkome logies – veral vir arrogante, bedorwe Afrikanermans wat Stellenbosch van toeka tot nou steeds beheer, en wat snags met glasige oë in hulle beddens lê en droom van ’n paar plekkies hoër op die “wêreldranglyste” wat deur hoofsaaklik die Anglo-Amerikaanse wêrelddeel saamgeflans word, en wat die wêreld insluit op dieselfde manier as wat die Amerikaners na hulle nasionale bofbalkompetisie as die “world series” verwys, terwyl bofbal in die res van die wêreld ewe geesdriftig gespeel word as wat die geval met bobslee buite ’n handjie vol verre noordelike lande is. (’n Mens kan nie help om te wonder of die bedreiging wat aardverwarming vir bobslee inhou, nie een of ander ekwivalent vir die Anglo-Amerikaanse “wêreldranglyste” van universiteite het nie, maar dit sal seker afhang van die toenemend onvoorspelbare stryd tussen die bekende heelal en die parallelle heelal. Gegewe die tempo waarteen fopnuus die wêreld oorneem en mense van die bekende heelal se aptyt vir die werklikheid skynbaar gelyklopend afneem, sal ek nie in hierdie stadium my verswakkende randjies op die bekende heelal verwed nie.)
Hoe ook al: Die T-opsie was uit die oogpunt van die wêreldkampioene van konformisme en inpassery van sulke korte duur, en hulle kon intussen genoeg seine in Engels in verband met die heersende kodes na die parallelle heelal uitsaai – “greater inclusivity”, “diversity training” en die soort van ding – dat dit vir niemand nodig was om van die US ’n sondebok te maak nie, want daar is darem nog ’n bietjie waardering vir ’n bokkie wat homself ter wille van vrede, transformasie, en algehele harmonie aan die wolf offer.
Kortom, nagenoeg 20 jaar se pogings om anders met Afrikaans in die universiteitswese om te gaan en brûe oor die ou verdelingslyne te bou, het uiteindelik op die rotse van die sondebok en die rasfopspeen geloop. Eendag, miskien nie so ver in die toekoms in nie, wanneer die onverbiddelike wet van demografie en die vinnig versnellende selfvernietiging van die VSA Engels enersyds relativeer, en andersyds aan Mandaryns en Hindi ’n staanplek langs Spaans, Arabies en Frans gee, sal mense van die toekoms dalk verstom staan by die ruïnes van die gesloopte gebou van Afrikaans as openbare universiteitstaal, maar teen daardie tyd sal die taal waarskynlik volledig geprivatiseer wees – met al die goeie en slegte dinge wat ook dié keuse onvermydelik impliseer.
Vir ’n Afrikanerman op die vooraand van 50 hou dit bepaalde risiko’s in om hierdie relaas van ’n taalmoord af te sluit met verwysing na die onskuldige slagoffers van hierdie sondebokritueel, naamlik die geskatte meer as 600 000 swart en meer as vier miljoen bruin Afrikaanse moedertaalsprekers, maar kom ek om, so kom ek om – nog een bloedspatsel op die besmeerde rekord sal nie soveel van ’n verskil maak nie. Ek maak die verwysing in die vorm van vrae, vir die adres van wie ook al aangespreek voel:
- Bied die privatisering van Afrikaanse hoëronderwys nie nou ’n historiese tweede kans aan diegene met diep Afrikaanse sakke, wat die kans kort na apartheid laat verbygaan het om arm bruin en swart Afrikaanse jongmense met ’n massiewe beurspoging aan die US te laat studeer nie, om nou so ’n beursskema by privaat Afrikaanse hoëronderwysinstellings in te stel nie?
- Hoe het die mense wat die politieke mag in 1994 oorgeneem het hulle mag so misbruik dat ek met my eie oë aan die UV in 2015 moes toekyk hoe jong swartmense jong bruinmense wat vir Afrikaans opstaan verguis? Is dít waartoe die droom van ’n post-apartheid Suid-Afrika verval het?
- Wat gaan en kan elke regdenkende Afrikaanssprekende in die bekende heelal doen om Afrikaans nie langer soos ’n weggooibare verbruiksartikel te hanteer nie, maar om haar aan te hou laat leef, praat, skryf, droom, saam met en tussen die ander inheemse tale waarsonder sy niks is nie? Of sal dit met ons van Afrikaanse tong wees soos Giuseppe Tomasi di Lampedusa iewers in sy epiese roman, Die luiperd, nagenoeg soos volg skryf: “Ons was luiperds en leeus; diegene wat ons gaan vervang, sal jakkalse en hiënas wees”?
Universiteite in Afrika: Is moderne kennis noodwendig Westers en daarom verwerplik?
Gelyke Kanse-persverklaring: Konstitusionele Hof-toetssaak oor taal
Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch
Repliek op die debat oor moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel
Kommentaar
Onverbeterlik gesê...
Die Katalane hanteer die taalkwessie, myns insiens, op 'n verstandige wyse. Lesings word op Youtube opgeneem in die dosent se eie taal en onderskrifte in 'n ander taal, byvoorbeeld Engels. Die klasse word gebruik om die lesings te bespreek (in die student se eie taal) en om probleme op te los.
Gelyke Kanse noem ook so 'n moontlike oplossing
Ek het in 2016 'n lesing bygewoon waar hulle stelsel uiteengesit word.
https://www.litnet.co.za/anthony-pym-se-lesing-the-role-of-translation-in-language-policy/
Wat is 'sondebok' hier - 'culprit' of 'scapegoat'?
As ek moet sê, kollega, dink ek dit sal 'n Lampedusa-aanhaling moet wees ...
Sondebok, Jan. Groete.
Johann Rossouw se analise van veral my alma mater (Stellenbosch) is absoluut reg. Die huidige rektor stel hoofsaaklik belang in die wit Engelssprekende studente uit die Suidelike Voorstede van Kaapstad en die verengelsde deel van die bruin gemeenskap. Die groot Afrikaanssprekende bruin gemeenskap teenoor wie (veral wit Afrikaners) 'n historiese verantwoordelikheid het, pas eenvoudig nie in sy toekomsvisie nie. Die middelklas-Afrikaners wat al die jare die US ondersteun het, ten spyte van uiters beperkte finansiële vermoëns, pas ook nie in sy wêreldbeeld nie. Die US is besig om meer van 'n plek van wit bevoorregting te word as wat dit ooit in was en dit is 'n skande!
Alle skatte van my tye is grou.
Vaalheid
word ook Gods waarheid.
As ek diep in die water kyk
fonkel soms flou
rooi korale in die
Emajogi.
(Estiese digter Betti Alver, uit "Koralen in de Emajogi", VAN HAAST NAAMLOZE KUSTEN, Moderne Estiese poësie - 1989)
Jan Rap, die sondebok in hierdie hele saga is, Geforseerde Etniese Almalgamasie wat nou amptelike regeringsbeleid is en afgeforseer word, dmv wetgewing en regspraak, teen taal en simbole, bv 1928 vlag wat nie eens in privaatheid van jou woning vertoon mag word nie.
Dit herinner aan die sg Totale Aanslag era onder NP, toe selfs ANC simbole verbied was.
SA het duidelik in oglokrasie verander, waar klipgooiers dikteer aan die regering van kleptokrate.
Watse mooie uiteensetting, dankie Johann Rossouw.
Sovêr luiperde, leeuse, jakkalse en hiënasse wil ek graag voorstel dat Afikaans gelukkig tot 'n mag van twee of meer lewendiger as sulkes soos die V.N., die Rooikruis en Amnestie Internasionaal is, seker maar omrede nie 'n mense instelling nie.
My antwoord op jou eerste vraag, Johann, is dat die US se oorwinning in die konstitusionele hof baie Afrikaners sal help verstaan waar hulle hulp benodig word.
Op jou tweede vraag is my antwoord dat die sterkste droom in post-apartheid Suid-Afrika van 'n toekoms was wat swart is. ("Ons beurt om te eet.")
Laastens sal ons Afrikaans moet uitdra na buite in ons diaspora: daarin aan ons kleinkinders die verhale van hierdie droewe land gaan vertel.