Afskeid van ’n volk
Philip Spies
Naledi
ISBN: 9781928426561
Philip Spies praat met Naomi Meyer oor Afskeid van ’n volk: op soek na ’n toekoms.
Hallo Philip, geluk met Afskeid van 'n volk: op soek na 'n toekoms. Die boek het my diep laat nadink. Die inleiding maak dit duidelik: hierdie is persoonlike vrae omdat ons nodig het om kritiese vrae te vra oor Afrikaanswees en Afrikanerwees. Die titel laat my vra: Moet ons afskeid neem?
Naomi, afskeid neem beteken vir my die wegbeweeg vanaf waar jy was en wat jy was, maar verwys nie noodwendig na die einde van ’n volk se bestaan nie. Dit beteken dat jy nou aanbeweeg na êrens anders en iets anders. En daardie êrens en iets is iets waarna nou gesoek moet word. Die vertrekkende vliegtuig op die buiteblad is ’n simbool van die afskeid vanaf wat Afrikaners voorheen was.
As ’n eerste stap vir die opheffing van ’n klomp vertrapte mense (mense wat moedeloos, en met ’n gevoel van minderwaardigheid na die rand van Suid-Afrika se blanke samelewing uitgestoot is), het Afrikaners hulle na die Anglo-Boereoorlog as ’n volk identifiseer. Daar was Afrikaner-leiers wat die leiding geneem het om stelselmatig hierdie volksidentiteit uit te bou en te versterk. Hulle het volksbewegings, ekonomiese aksies en politieke inisiatiewe aan die gang gesit en bestuur om te herwin wat Afrikaners in 1902 verloor het. En in 1961 was hulle hierin suksesvol met die totstandkoming van, in wese, ’n Afrikaner-republiek.
In 1994 is hierdie Afrikaner-republiek omvergegooi en ’n Afrika-republiek het toe oorgeneem. Toe het ’n tweeledige Afrikaner-diaspora gevolg: enersyds die emigrasie van tienduisende (veral jong, goed-opgeleide) Afrikaners en andersyds vele Afrikaners wat tuisgebly het as ontheemdes in hulle geboorteland. Vele van hierde ontheemdes het as “boetedoening” hulle geskiedenis, hulle taal en hulle kultuur verloën en ’n onduidelike Suid-Afrikanerskap aangegryp waarvan die aard, na my mening, nog nie deur hulle begryp word nie. Daar is nog nie ’n “samelewing” (die woord sê dit so pragtig in Afrikaans) in Suid-Afrika nie. “Suid-Afrikaners” is op die oomblik net ’n klomp volkere en groeperings wat sukkel om met mekaar klaar te kom. Die soektog na ’n toekoms gaan daaroor om ’n roete te probeer vind uit hierdie verwarring en konflik na ’n samelewing wat vir elke mens ’n bestaansruimte bied.
Die eerste hoofstuk, “Die uurwerk kantel. Die Nuwe Suid-Afrika (NSA) werk nie”, word daar geskryf. Ons weet dadelik van voorbeelde. Water, krag, onderstrominge in die regering, sprake van korrupsie of dalk selfs sinistere komplotte, sê 'n politieke ontleder nou die dag oor die radio, om vir Ramaphosa uit te werk en dalk weer 'n Zuma-figuur aan bewind te kry. Maar voorheen, voor die NSA? Het die land toe goed gewerk? In watter opsigte en teen watter prys?
Vir seker het Suid-Afrika, uit ’n bestuur- en administratiewe oogpunt, voorheen goed gewerk. Ou Suid-Afrika was goed bestuur indien ’n mens sou veronderstel dat die land en sy mense sistemies gesproke ’n masjienagtige karakter het (mense is gewoon net ratte in die masjien) of selfs ’n organiese karakter het (mense is ondergeskikte organe van ’n beherende Afrikaner-brein). Maar mensstelsels werk anders as masjiene of organismes. Mense het emosies, is oor die algemeen selfdenkend, en ontwikkel nuwe insigte en passies met verloop van tyd. Suid-Afrika is goed bestuur en geadministreer voor 1994, maar die werklike Suid-Afrika het mettertyd radikaal wegbeweeg van die veronderstelde land wat bestuur is. Daar het ’n verstrooiing en ontbinding van die regering se veronderstelde (1940’s-model) Suid-Afrikaanse samelewing plaasgevind – ’n entropie-proses wat stelselmatig spanning binne Ou Suid-Afrika opgebou het totdat dit onhoudbaar geword het. Met ander woorde: Skip Ou Suid-Afrika is goed bestuur en geadministreer op ’n onvolhoubare roete omdat daar nie realistiese “toekoms-seekaarte” vir die kaptein was nie.
By ons leeskring het ons anderdag The new Odyssey van Kingsley bespreek. Gepraat oor immigrasie in Europa. Gepraat oor immigrasie in hierdie land, waar Somaliërs en Zimbabwiërs (byvoorbeeld) baie gereeld die land binnekom, baie dikwels onwettig. Wat maak ons, die Afrikaanssprekendes van hierdie land, se situasie uniek? Of is dit nie die punt van hierdie boek nie?
Die boek is nie geskryf om op die een of ander basis ’n oordeel uit te spreek of normatiewe voorstelle te maak nie. Dit is veel eerder geskryf met die hoop dat daar ’n spieël geplaas kan word voor diegene wat voorheen hulleself as Afrikaners identifiseer het, of hulle nog as sodanig identifiseer. Of Afrikanerskap nog vir die leser van belang is, is ’n eie oordeel, maar as dit van belang is, dan is dit nodig om die betekenis daarvan te ondersoek. My afsluiting wys daarop dat as jy permanent wegtrek van Afrika, dan sal jy ook ophou om ’n Afrikaner te kan wees – net soos enige ander volk wat permanent emigreer vanuit hulle geboorteland.
Ek het jare lank self in die buiteland gewoon. Ek het in doeanekantore in lang rye gesit en as ek voor kom, het ek die immigrasiebeampte herken as die man wat verlede jaar ook my paspoort gestempel het. Hy het my op die naam vriendelik uitgevra oor my kinders, my gesin, en ons lewe in die dorp. Asof ons mekaar ken. Want ek was 'n wit, bevoorregte immigrant – ek het oorsee gewoon want ek kon gaan reis en ek was nie uit my land verjaag nie. Dink jy nie die meeste Afrikaanse mense is steeds in hierdie posisie nie?
Vir seker is dit so. Dit is veel makliker vir die meeste Afrikaners (bygesê, met die finansiële vermoëns) om vandag te reis, te studeer en te emigreer as 40 jaar gelede. En daarmee ook om afskeid te neem van hulle Afrikanerskap. Dit is dan ook een van die redes waarom duisende jong Afrikaners vandag so maklik afskeid neem van hulle land en van hulle Afrikanerskap. Dit is waarskynlik slegs emosionele bande wat jong Afrikaners vandag so ietwat terughou, maar as rasgebaseerde onderdrukkende beleidspraktyke soos demografiese proporsionaliteit sou voortduur, sal selfs hierdie emosionele bande maklik verkrummel.
Wat is die realiteite van 'n nasie, 'n uniforme Suid-Afrika, met meertalige skole en gelyke voorregte vir almal?
In my boek omskryf ek ’n “nasie” as volg: “’n Nasie word normaalweg beskou as ’n identifiseerbare samelewing volgens kultuur, taal, waardes, gewoontes en etniese karakter. Die Suid-Afrikaanse bevolking is egter so uiteenlopend dat hierdie beskouing van ’n nasie nie op Suid-Afrikaners van toepassing gemaak kan word nie.”
Suid-Afrika is nie ’n nasie nie en kan, soos sake nou staan, nooit ’n nasie word nie. En ek glo ook nie dat dit nodig is om ’n nasie te word ten einde ’n werkende, vooruitstrewende, samelewing hier aan die suidpunt van Afrika te vestig nie. In die boek bespreek ek een manier om so ’n samelewing hier te ontwikkel.
Vir my is “nasieskap” ’n harde politieke begrip wat in ’n land soos Suid-Afrika net tot die onderdrukking van een groep oor ’n ander aanleiding kan gee.
Begin toekomsstudies by die verlede? Hoe weet ons wie se verlede om as vertrekpunt te gebruik en ook, hoe weet ons wie sal in die toekoms die mag hê om dinge te beïnvloed?
Die geskiedenis is uiters belangrik ten einde goeie vooruitskouings te kan ontwikkel. Trouens, ’n tendensontleding is die ontleding van geskiedkundige patrone van verandering met die doel om daaruit vooruitskouings te kan maak. Metafories gesproke, as jy die “geskiedkundige” vaartlyn en spoed van ’n 150 000 ton-passasierskip kan bepaal, kan jy “voorspel” waar daardie skip sigself oor, sê, 20 minute sal bevind. Daarom is feitelike terugskouings uiters belangrik vir prognose. Dit gaan nie oor wie se geskiedenis nie, maar oor geskiedenis as ’n wetenskaplike studiegebied – dit wil sê, geskiedenis wat gestroop is van ideologie en mites. Daarom het ek in my boek probeer om kaalkop na “ons” geskiedenis te kyk. Of ek dit reggekry het, sal die leser maar self moet oordeel.
Die toekoms word ten goede of ten slegte beïnvloed deur leiers. Ideologiese konstruksies produseer leiers wat verkies het om die immer-ontluikende werklikhede vir vaste ideologiese konstruksies te verruil en daarom nie die rotse op hulle toekomsskip se vaartlyn kan raaksien nie.
Ek wil jou vra oor die woord "skynparadys" op bl 19, toe jy geskryf het oor die Suid-Afrika vir die Afrikaner-/Afrikaanse mense van die verlede.
Afrikaners het met ’n sekere uitkyk op die lewe hulle toekoms in Suid-Afrika probeer skep. Daardie uitkyk het in vele opsigte nie met die werklikhede tred gehou nie en daarom was die resultaat van ’n Afrikanerstaat ’n “skynparadys”, weens die veronderstelling dat dit ’n volhoubare sukses was.
Nog iets wat my getref het, op bl 22: die skuif weg na "onderdane, nie landhere nie". Wil jy hieroor ook iets sê?
Dit is ietwat ’n metaforiese stelling. Ek het dit ook later beskryf as ’n verskuiwing van “baas van die plaas” na “klaas op die plaas”. Enigiemand wat glo dat Afrikaners in hierdie land nog in die ou styl ’n politieke hou kan slaan, verstaan nie die situasie nie. Maar politiek is nie die enigste roete na selfgelding nie, en Afrikaners se taak is nou om daardie roete uit te werk. Dit is een van die temas in die boek
Was DF Malan se vraag oor "Afrikaner, Afrikaner, waarheen is jy op pad?" vir jou 'n soort vertrekpunt vir hierdie boek?
Nee, dit was nie my vertrekpunt nie. Veral omdat Malan daardie “Quo vadis”-vraag binne ’n heel ander wêreldbeskouing, tydsbestek en omstandighede gestel het as vandag. My vertrekpunt was vir hierdie tydsbestek, en ook van ’n heel persoonlike aard – veral ook omdat dit antwoorde moes verskaf op al die moeilike vrae wat my kinders in dosyne tafelgesprekke aan my gestel het.
Kultuur as bindingsfaktor en Afrikaans se rol hier. Dit is iets waaroor ek self wonder: die gevoelswaarde van Afrikaans. Dis tog nie asof almal wat Afrikaans praat, met elke woord swaar dra aan die bagasie en die wette van apartheid wat die taal afgedwing het nie. Tog, waarom het dit dan so verander en geskuif? En dink jy nie dit sal net aanhou om verder en verder te skuif, groter uit te sprei soos sterrestelsels nie? (Ek verwys na die afstand van mense tussen die taal waarin hul grootgeword het en die kultuur wat daarmee saamgaan, hoe dit ook al gedefinieer kan word.)
Jou moedertaal is die “bloedsomloop” wat die “liggaam” van jou kultuur onderhou. En kultuur is die basis van ’n volhoubare samelewing – dit is vir ’n gemeenskap rigtinggewend en ondersteunend in goeie en slegte tye. Ons maak ’n fout as ons Afrikaans as ’n “wit taal” beskou en ons maak ’n fout as ons ’n Afrikaanse kultuur as slegs ’n wit verskynsel beskou. Die meerderheid Afrikaanssprekers is vandag bruin mense, en in die toekoms sal dit selfs meer so wees. Kultuur is immer-wordend soos mense aanpas by nuwe verskynsels en omstandighede. Apartheid het Afrikaans en die Afrikaanse kultuur in ’n wit hok ingejaag en daarbinne vele kunsmatighede probeer skep. Maar kultuur kan nie gefabriseer word nie. Dit is iets wat spontaan ontstaan en gedy in vryheid, en nie in gevangenskap nie. Dit is die resultaat van ’n soeke na oplossings en vreugdes wat mense mee woeker om aan hulle bestaan op aarde betekenis te gee, en aan mense ’n gevoel van gemeenskaplikheid. Ek is baie positief oor Afrikaans en die Afrikaanse kultuur as ek veral met bruin mense praat, maar raak regtig benoud as ek so luister na bevoorregte wit Afrikaanssprekendes in hulle ongeagtheid van hulle kultuurerfenis.
Ek lees oor die ekonomie wat in die vroeë negentigerjare so sleg was, en mens dink onafwendbaar: Maar hoe swak is die rand nou? Hoe behou mens perspektief as mens na die verlede kyk, veral vanuit die bevoorregte posisie waarvandaan die meerderheid wit Afrikaanssprekendes steeds kyk?
In my boek het ek die vraag in een volle hoofstuk en gedeeltelik in twee ander hoofstukke bespreek. Jy kry perspektief deur na die geskiedkundige ontplooiing van die Suid-Afrikaanse ekonomie te kyk, waarheen dit vandag op pad is, en dan die vraag te stel: “Wat sal die Suid-Afrikaanse ekonomie op ’n volhoubare ontwikkelingsbaan kan plaas?” Die boek se fokus op hierdie vraag is vernuwing- en samelewinggerig: Die toekoms lê by die ontwikkeling van ’n goeie samelewing, bestaande uit goeie gemeenskappe en vaardige mense wat na mekaar kan omsien sonder om met ’n bakhand na die owerheid te kyk vir hulle probleme
En daar staan die woord: rasmeerderwaardigheid. Jy skryf oor baie olifante in die vertrek, noem dit op die naam. Wil jy hierop uitbrei of iets daaroor sê?
Om neer te kyk op ander was kultureel ingemessel by heersergroepe in die ou bestel. Eers het die Afrikaners dit ervaar in die neerkyk-manier van hulle Engelssprekende landgenote en koloniale heersers. En daarna het apartheid oorgeneem. Die resultaat is minderwaardigheidkomplekse wat mense hulle vermoë en begeerte om verder te dink as om te reageer teen dit wat hulle beledig laat verloor. Oplossings vir die Suid-Afrikaanse rasseproblematiek lê bokant hierdie gedrag. Dit lê by die ontwikkeling van ’n “ek is goed en jy is goed”-benadering tussen mense, maar dit vereis ook onderlinge begrip, respek en ondersteuning. In my boek spreek ek hierdie probleem aan deur die idee van ’n spanbenadering te propageer. Ook om mekaar se tale en kulture te leer verstaan.
Op bl 109 skryf jy oor iets wat steeds in die wit mens se psige teenwoordig is: Europa in Afrika; ons sal ’n beskawing na hierdie land bring. Of dink jy mense het ’n kopskuif gemaak? En ook: diegene wat dalk besef ons woon in Afrika, dink jy dat hulle ’n bereidwilligheid het om Afrika hier te maak werk, of net gelate terug te sit en toe te kyk hoe dinge misluk, soos wat hulle voorspel dit sal?
As jy vandag in Afrika rondreis, vind jy die suksesvoetspore van Afrikaners in boerdery en sakeondernemings – prestasies wat geen ander Westerling hulle dit maklik kan nadoen nie. Afrikaners is Afrikane (“Africans”). Daar is niks so belangrik as om die wêreld waaruit jy jou bestaan maak, te laat werk nie. Afrikaners se wortels lê diep en wydverspreid in Afrika – die klanke en landskappe van Afrika is deel van hulle psige. As jy hiervan wegtrek, neem jy afskeid van Afrikanerskap.
Kan ’n mens op twee stoele sit? Moet mens hier bly en bly kyk vir geleenthede in die buiteland?
As jy hierdie benadering het, het jy alreeds afskeid geneem. Die boek is nie vir hierdie soort mense geskryf nie.
Jy skryf oor die Grondwet se uitdaging om heterogeniteit te bestuur. Maar op praktiese vlak: Wat van wie s’n is wie s’n? Wie se grond, wie se stories, wie se eiendom?
Dit is presies waarvoor die Grondwet opgestel is: om regverdige en legitieme riglyne te gee en bepalings te maak wat hierdie heterogeniteit so bestuur dat sydige belange nie die land oor ’n afgrond kan stoot nie. Ongelukkig kan uitsprake van howe hierdie bepalings en riglyne begin herinterpreteer in terme van die heersende politiek van die dag. Dit is reeds aan die gebeur met uitsprake wat veelrassigheid eerder as nierassigheid ondersteun – gerig deur die huidige regering se beleid van demografiese proporsionaliteit. As eiendomsreg – wat binne sekere perke deur ons Grondwet ondersteun word – in hierdie proses verwater word, sal dit die weefsel van ons ekonomie uitmekaar laat val. Dit beteken die einde van ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika, en uiteindelik ekonomiese ineenstorting.
Wat help dit die Afrikaners of die wit Afrikaanssprekendes gesels net onder mekaar oor hulle toekoms? ’n Gesprek in Afrikaans tussen mede-Afrikaanssprekendes: wat is die nut daarvan in die land?
Die konteks van sulke gesprekke is uiters belangrik. Verstaan Afrikaners daardie konteks? Verstaan hulle wat Suid-Afrika van hulle gaan vereis as hulle vir hulle kinders hier ’n bestaan wil skep? Wat is die voorwaardes vir ’n vooruitstrewende Suid-Afrika, en wat staan ons te doen om so ’n land te help skep? ’n Gekla en ’n geween en gekners van tande tussen Afrikaners is nie ’n goeie gesprek nie.
Baie interessante opskrif: “Die ontasbare aard van vooruitgang”. Maar vir die Westerling, hoor ek nou die dag, is dit geld. Vir die man van Afrika is dit mag, as ek so kan stereotipeer. Vir die Oosterling, om voort te gaan met stereotipering, is dit eer. Hoe sal vooruitgang lyk vir mense met verskillende wegspringpunte en uitgangspunte?
Soos Naas Botha altyd gesê het: “Op die einde van die dag ...” Op die einde van die dag sal Suid-Afrika se sukses in die 21ste eeu daarvan afhang of daar ’n goeie samelewing hierdie land geskep kan word. Dit is die konteks waarbinne die moontlikhede van geldmaak en “eer” in die toekoms te voorskyn sal kom. Dit is ook vandag se universele reël vir die sukses van alle volke. In die 20ste eeu was dit kapitaal vir myne en fabrieke, in die 21ste eeu is dit mens- en samelewingkapitaal. In kennis en vernuwing lê die toekoms van ’n land se welvaart. Lande wat hierdie uitdaging kan aanvat, sal die moeite werd wees vir beleggers wat ’n veilige tuiste vir hulle geld soek
Wat hou die toekoms in vir hierdie land, van waar jy staan en kyk?
Die toekoms is nie iets wat voorspel kan word nie. Dit is iets wat gemaak moet word. Suid-Afrika stel uiters moeilike uitdagings aan sy mense. Wat in die toekoms gaan gebeur, sal daarvan afhang of Suid-Afrikaners en leierskap in Suid-Afrika die uitdagings kan raaksien, dit reg kan interpreteer en met toewyding iets daaraan kan doen
Jy skryf dat die primêre hindernis van die land nie armoede is nie. Maar hoe dan, wat van Maslow? ’n Honger kind kan nie konsentreer op skoolwerk nie. Of oorvereenvoudig ek?
Armoede in Suid-Afrika is ’n ernstige, lewensbedreigende hindernis tot die land se vooruitgang. Dit is egter nie ’n primêre hindernis nie, maar die uitkoms van vyf interaktiewe, primêre hindernisse wat in die boek bespreek word.
As jy na die toekoms van Suid-Afrika kyk, kan jy dit nie skei van die toekomste van die res van die lande ter wêreld nie. Maar staan ons verder weg van Brexit en van Trump in die VSA as van Zimbabwe met sy verknorsings? In watter mate is die toekoms van hierdie land in ons eie (en daarmee bedoel ek elke individu in die land se) hande?
Suid-Afrika het ’n baie oop ekonomie en dit is ook oop in terme van sosiale veranderings en mensbewegings oor sy grense. Met ander woorde dit is ’n onlosmaaklike subsisteem van die wêreldsisteem. Binne hierdie konteks hang dit van Suid-Afrikaners af, soos ook van elke inwoner van elke land op aarde, om die beste te maak van wat aan hulle voorgesit word. Suid-Afrikaners is nie noodwendig slawe van wêreldgebeure nie. Hulle sal net slawe word as hulle niks aan hulle eie heil probeer doen nie.
Kommentaar
Afrikaans = verregs= apartheid?
Politieke korrektheid viktimiseer Afrikaans en op onbillike gronde.
Ek het Philip Spies leer ken in die wynbedryf toe hy die Visie 2020 projek gelei het. Dit was ’n toekomsgerigte projek wat die bedryf sou gear vir 2020. Ek het sy boek gekoop en gelees en sien menige pittekos vir alle Suid Afrikaners om die gemors wat n onbevoegde ANC ons almal in gedompel het, aan te spreek. Ons almal moet diè vrae vra. Eers in ons apartheid groepsidentiteite (systemies) en dan met mekaar as ‘n nasie in wording...