“Sonder die vermelde universiteitsprodukte sou die stryd om dekolonisering minder doeltreffend gewees het. Versetbewegings soos Pan-Afrikanisme, négritude en Afrikanasionalisme was almal antikoloniaal maar nie noodwendig teen die idee van universiteite nie.” – Willie Breytenbach
.........................
Lees ook die LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel “Die rol van ’n Afrika-bewussyn in universiteite in ’n nie-Westerse konteks” deur Attie van Niekerk (Mei 2019):
“Die sake wat in die #mustfall-bewegings tydens die studente-onrus in 2015–2016 na vore gekom het, is nie nuut nie. Sake wat handel oor onder andere die rol van universiteite in ’n nie-Westerse konteks binne die groter debat oor die gevolge van Westerse kulture op ander kulture in die tyd van kolonialisme, het reeds in die stryd teen apartheid na vore gekom en word al vir dekades lank deur Afrika-skrywers bespreek.”
.........................
1. Agtergrond
Die oudste universiteite in die wêreld is van Arabiese oorsprong en in Noord-Afrika geleë: spesifiek die Kairouan- (al-Qarawiyin-) universiteit wat in 859 nC as ’n instelling vir Islamitiese studies by die Groot Moskee van Féz in Marokko gestig is.
Dit het opleiding in Islamkunde, Moslem-argitektuur en landbou verskaf. Dit is opgevolg met die vestiging van die Al-Azhar-universiteit in Kaïro wat in 970 nC opgerig is. Jode en Christene van Alexandrië is ook toegelaat. Dié universiteite bestaan nog.
.........................
“Die nuutste toevoeging hiertoe is die ‘Born frees’ in Suid-Afrika wat eis dat vakinhoude minder Westers en meer nie-Westers moet wees. Die vraag is: Bestaan sulke proteste ook in nie-Westerse (dog moderne) state soos China, Japan, Indië en Arabië?”
.........................
Die oudste Europese universiteite was dié in Parys, Oxford (1167 nC) en Cambridge (1209 nC).
Dis egter eers ná die uitvinding van die Gutenberg-drukpers (15de eeu) dat die biblioteekkomponent van die universiteitswese tot sneller kennisverdieping gelei het, waarsonder die Renaissance en nywerheidsrevolusie nie sou plaasgevind het nie. Dit het kolonialisme versnel wat ook universiteite in Afrika opgelewer het.
2. Universiteite in oudkolonies
’n Beduidende aantal Afrika-universiteite is in hierdie oudkolonies gestig. So het Westerse kennis ook na andersoortige kulture versprei. Die tale van die wetenskap in die koloniale tye was Arabies, Frans en Engels. Elders was dit Spaans en Portugees.
In die voormalige Britse kolonies is die oudste universiteite Fourah Bay College (Sierra Leone, 1876 en geaffilieer met Durham College in Engeland), Achimota College, 1924 in die Goudkus (vandag Ghana en geaffilieer met die Universiteit van Londen), Ibadan (Nigerië, ook 1924 en ook geaffilieer met die Universiteit van Londen), die Makerere-universiteit in Uganda (1933), ook geaffilieer met die Universiteit van Londen. Daar was ook ’n Kitchener Memorial College in Khartoem. Protestantse sendingkerke het groot rolle in hierdie stigtingsprosesse gespeel.
Gedurende hierdie vooronafhanklikheidstydperke het die Britse regering beleide van indirekte beheer gevolg waarvan die erkenning van stamgesag noodsaaklik was. Die Britte het voorkeur gegee aan manstudente wat die seuns van tradisionele leiers soos opperhoofde, kapteins en hoofmanne was. Ná onafhanklikwording (sedert die 1960’s) het die Britse regering voortgegaan om nog enkele universiteite op te rig, spesifiek in Khartoem (Soedan), Nairobi (Kenia), Morogoro (Tanganjika, nou Tanzanië), Zaria en Enugu (Nigerië) en Kumasi (Ghana).
.........................
“Die oudste universiteite in die wêreld is van Arabiese oorsprong en in Noord-Afrika geleë: spesifiek die Kairouan- (al-Qarawiyin-) universiteit wat in 859 nC as ’n instelling vir Islamitiese studies by die Groot Moskee van Féz in Marokko gestig is.”
.........................
In die voormalige Franse kolonies was die oudste universiteit ook die enigste en gestig in Dakar (1949, Senegal). Die redes vir hierdie min universiteite in Franssprekende gebiede was die Franse “beskawing”- en assimilasiebeleid wat spesifiek daarop ingestel was om ’n Franssprekende swart elite in Afrika te skep wat “méér Frans as Afrikaan” sou wees. Dis hoekom so ’n merkwaardige staatsman en intellektuele leier soos Leopold Sedar Senghor, die eerste president van Senegal, al sy studie noodwendig in Parys (Frankryk) moes voltooi. Dié “verfranste” swart studente het egter terugverlang na Afrika, ten spyte daarvan dat hulle ’n spesiale regstatus ontvang en allerlei voordele geniet het. Die status was getiteld évolué. Die Katolieke Kerk het groot rolle gespeel.
Dit het die elites nie van Afrika vervreem nie. Die uiteinde was ’n vreedsame kulturele protes wat as négritude (“swartheid”) bekend gestaan het en ’n gevestigde tradisie in die Franse letterkunde geword het. Ná dekolonisasie het dié voormalige évolué die kern van die nuwe regerende klasse in Franssprekende Wes-Afrika geword. Dis juis hulle opvoeding wat tot politieke mag en nuwe klasvorming gelei het.
In die Belgiese Kongo was die amptelike taal ook Frans. Tydens die koloniale tyd was daar in hierdie groot land (later Zaïre en vandag die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)) slegs een universiteit (Lovain), naamlik in Leopoldville (gestig in 1954). Dié universiteit is in werklikheid deur die Katolieke Kerk onderhou. Die impak was egter minimaal, want veels te min het voordeel getrek. Selfs vandag nog bestaan die burgerlike samelewing in die DRK hoofsaaklik uit swart Katolieke.
In die kort tydperk waarin Duitsland oor Afrika-kolonies beskik het (1884 tot 1918), is geen universiteite in Duitswes (Namibië), Duitsoos (Tanzanië), Kameroen of Togo gestig nie. ’n Duitse sendeling, Johann Krapf, wat vir die (Britse) Church Missionary Society in Tanganjika gewerk het, het die Bybel egter in 1865 in Swahili vertaal. Nog ’n interessantheid is dat ’n Swahili-leerstoel reeds in 1887 aan die Universiteit van Berlyn gestig was. Of dit steeds bestaan, kan nie vasgestel word nie.
Universiteite het koloniale samelewings nie drasties verander nie, behalwe dat elites gevestig is wat nuttige rolle in postkoloniale state gespeel het, soos hier onder uitgelig sal word.
3. Die situasie vandag
Tans is daar ongeveer 2 600 tersiêre inrigtings in Afrika, waaronder technikons, universiteitskolleges en universiteite (waarvan daar ongeveer 340 is), wat weer onderverdeel kan word in publieke/staatsuniversiteite; private universiteite en virtuele universiteite. Behalwe die Moslemrol in sekere Noord-Afrika-universiteite, speel kerkgenootskappe feitlik geen direkte rol in Afrika-universiteite nie. Die getalle groei steeds en beloop tans ongeveer 100 in Noord-Afrika (met die meeste universiteite in Algerië, maar die meeste studente in Egipte) en ongeveer 50 in Suider-Afrika (met die meeste universiteite en studente in Suid-Afrika).
Universiteitsgehalte is nie orals dieselfde nie en die gehaltemeting daarvan ook nie bevredigend nie. So is daar byvoorbeeld minstens vyf “gesaghebbende” organisasies wat ranglyste opstel: Times Higher Education (THE), Journals Consortium, Financial Times Top Business Schools, Shangai Academic Ranking of World Universities en QS Top Universities.
Dit wat gemeet word – indien data beskikbaar is – is navorsingsuitsette, vernuwing en aanwending van tegnologie. Dis moeilik om bedryfskoste, dosentgetalle en donateursbydraes en gemeenskapsdienste of studenteterugvoer te vergelyk, omdat dié data nie altyd bestaan nie. Is dit regverdig om ’n klein universiteit met ’n grote te vergelyk?
Volgens dié ranglyste is die beste Afrika-universiteite in slegs twee Afrikastate geleë: Suid-Afrika (veral UK, Wits en Stellenbosch) en Egipte (veral American University en Cairo University), gevolg deur enkeles in Nigerië (Covenant en Ibadan), Marokko, Uganda, Kenia, Ethiopië en Tunisië. Studenteprotes wat in Afrika voorkom, is meestal gemik op klasgelde, huisvesting, kos en beurse. Dis feitlik nooit téén of vir gehalte gemik nie.
4. Meer spesifieke vraagstukke
Ander belangrike vraagstukke in die hedendaagse universiteitswese in Afrika die volgende: toegang (wie bepaal die minimum vereistes?); taalbeleid (in Afrika is daar ses universiteitstale: Arabies, Frans, Engels, Portugees, Swahili en Afrikaans); geslagsgelykheid (bepaal deur vraag of aanbod); getallegroei (getalle het sterk toegeneem, maar wie betaal daarvoor, wat boeke, huisvesting en sakgeld betref?); stratifikasie (is sommige fakulteite belangriker as ander, bv teologie of ingenieurswese?); diversifikasie (vroeër was die klem veral op teologie; daarna op tegnologie en nywerheid); publieke versus privaat (behoort private universiteite ook vir staatsubsidies te kwalifiseer?); wie beheer en bestuur kampusse (slegs die universiteit, of kan uitkontraktering plaasvind?); subsidies (moet private universiteite minder staatsteun ontvang?).
Die nuutste toevoeging hiertoe is die “Born frees” in Suid-Afrika wat eis dat vakinhoude minder Westers en meer nie-Westers moet wees.
Die vraag is: Bestaan sulke proteste ook in nie-Westerse (dog moderne) state soos China, Japan, Indië en Arabië? Dis te betwyfel.
5. Wie baat?
Wat Afrika betref, het die koloniale universiteitswese ’n beduidende en selfs voordelige rol gespeel in die voorbereiding van nuwe leierskap vir die postkoloniale bedelings in Afrika.
Die Arabiese universiteite in Noord-Afrika het Moslems bevoordeel; die Franse het Katolieke en die Franse taal bevoordeel; en die Britte weer Engels. Christelike sendingkerke fokus weer op tradisionele leiers soos die seuns van stamhoofde. In al drie hierdie gevalle is manstudente uitdruklik bevoordeel. Nogtans was daar nooit spesifieke vroueproteste teen die universiteitswese nie.
Mense wat in Westerse universiteite opgelei is en bekende (manlike) Afrikaleiers geword het, sluit die volgende in:
Dr Mnandi Azikiwe, in 1963 tot president van Nigerië verkies. Hy het aan die Lincoln-universiteit in die VSA studeer.
Dr Hastings K Banda, wat in 1964 president van Malawi geword het. Oudstudent van die Universiteite van Edinburgh en Glasgow in Skotland.
Sir Ababakar Tafawa Balewa, eerste minister in Nigerië (1960). Oudstudent van Londen-universiteit.
Dr Kofi Busia, eerste minister van Ghana in 1969. Oudstudent van Londen- en Oxford-universiteite in Brittanje.
Amalcar Cabral, stigter van die bevrydingsbeweging in Portugese Guinee. In 1956 vermoor. Oudstudent van die Universiteit van Lissabon.
Dr JB Danquah, opposisieleier in Ghana (1961). Oudstudent van die Universiteit van Londen.
Jomo Kenyatta, eerste president van Kenya (1963). Oudstudent van London School of Economics en Moskou-universiteit.
Sir Seretse Khama, eerste president van Botswana (1965). Oudstudent van Wits en Oxford.
Nelson Mandela, eerste president van die nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika. Oudstudent van Fort Hare.
Eduardo Mondlane, stigter van Frelimo in Mosambiek. In 1969 vermoor. Oudstudent van Wits, Lissabon en North West University in Illinois, VSA.
Kwame Nkrumah, eerste president van Ghana (1960). Oudstudent van die University of Lincoln, Pennsilvanië en Gray’s Inn, Londen.
Julius Nyerere, eerste president van Tanzanië (1962). Oudstudent van Makerere in Uganda en Edinburgh in Skotland.
Milton Obote, tweede president van Uganda (1966). Oudstudent van Makerere in Uganda.
Die ANC in Suid-Afrika: Drie van die ANC se vroegste leiers het almal universiteitsopleiding gehad, te wete DDT Jabavu (Fort Hare en oorsee); ZK Matthews, die eerste swart gegradueerde van Fort Hare in 1923, asook Yale-universiteit in 1935; en Albert J Luthuli, stigter van die ANC in 1912, produk van die Metodistekerk se Adams College in KwaZulu-Natal.
(Sol T Plaatje, bekende persoonlikheid en die skrywer van Native life in South Africa, wat in 1916 gepubliseer is, was nie universiteitsopgelei nie, maar die produk van ’n Duitse sendingskool in Barkly-Wes.)
Daar is geen bewyse dat enige van hierdie leiers ooit verkwalik is omdat hulle die produkte van moderne universiteitewese was waarvan almal nie eens in die Weste was nie. Proteste is ’n produk van die tydperke sedert onafhanklikwording.
6. “Die stryd duur voort”
Bostaande uiteensetting weerspreek die stellings dat alles wat die Weste in die kolonies ingebring het, insluitende moderne kennis, ongedaan gemaak moet word. Sonder die bovermelde universiteitsprodukte sou die stryd om dekolonisering minder doeltreffend gewees het. Versetbewegings soos Pan-Afrikanisme, négritude en Afrikanasionalisme was almal antikoloniaal maar nie noodwendig teen die idee van universiteite nie.
Tog duur die stryd voort. Dis egter ’n nuwe stryd. In Suid-Afrika is die stryders meestal die “Born frees”, dws jonger mense, veral studente, wat materiële griewe het. (Die internet, informasietegnologie en Google bedreig wel die konvensionele universiteitsbiblioteek.)
Die “Born frees”-stryd het binne die parameters van die digitale era plaasgevind: daarom die hashtag-bewegings soos #FeesMustFall wat in Oktober 2015 by Wits gestig is en na UK en Rhodes in Grahamstad (Makhanda) versprei het. Geringer proteste het ook by die Skiereilandtechnikon, Fort Hare, Stellenbosch en Nelson Mandela-universiteit en elders uitgebreek. Die begrippe Westers en modern moet nie verwar word nie; Arabiese en Japannese universiteite byvoorbeeld kan “modern” wees, dog nie noodwendig “Westers” nie.
Dan was daar ook #AfrikaansMustFall, maar daar was ook ’n #ZumaMustFall. Beide is anti-establishment, maar steeds nie anti-universiteit nie. Dis wel so dat verskeie outokratiese Afrikaleiers sedert dekolonisasie akademici (en joernaliste!) hardhandig behandel het oor die kritiek wat hulle uitspreek. Dink maar aan Robert Mugabe wat weinig persvryheid geduld het en ’n voormalige Suid-Afrikaanse president wat snedig na “clever blacks” verwys het.
7. Slotopmerking
Nou, vier jaar later, is “hashtaggers” oënskynlik bedeesd. Dit kan sekerlik weer opvlam, veral in Oktober, want dis die maand waarin studente hulle predikaatpunte kry of nie. Agterstallige klasgelde is ook ’n faktor.
Die punt is: ’n Student met ’n swak predikaat druip reeds in Oktober. Dan is dit tyd vir nog ’n “Oktoberrevolusie”, net soos ’n rapsie oor 100 jaar gelede in Rusland gebeur het.
Bibliografie
Binns, Lynch & Nel. 2018. The Routledge Hand Book of African Development. Londen: Routledge.
Davidson, Basil. 1994. Modern Africa. A social and political history. Londen: Longman.
De Jager, Nicola en Ubanesia Adams-Jack. 2017. Stellenbosch University’s “Born-Frees”: Responsibly Engaged. In D Lambrechts en P Fourie (reds) 2017. Modern State Development, Capacity and Institutions. Stellenbosch: Sun Press.
Harari, Yuval Noah. 2018. 21 Lessons for the 21st Century. Londen: Jonathan Cape.
Jahn, Janheinz. 1972. Who’s who in African literature. Tübingen: Horst Erdmann.
Kimble, George HT. 1962. Tropical African. Vol II. Society and Polity. New York: Anchor Books.
Kretchmar, Louise. 2017. The voice of Black Theology in South Africa. Braamfontein: Ravan Press (eerste keer in 1986 uitgegee).
Lutz, Barend. 2017. South African student protests as new imagined communities in the digital ages. In Lambrechts en Fourie (reds). Op cit.
Machanick, Phillip. 2015. Varsities pull rank – but it’s irrelevant. Mail & Guardian, 17–23 Julie 2015.
Mazrui, Ali. 1986. The Africans: A triple heritage. Londen: BBC Publication.
McKenna, Siout. 2015. The varsity ranking system is broken. Mail & Guardian, 11–17 September 2015.
Meredith, Martin. 2005. The state of Africa. Johannesburg: Jonathan Ball.
—. 2014. The fortunes of Africa. Londen: Simon & Schuster.
Plaatje, Sol T. 1982. Native life in South Africa (eerste keer in 1916 uitgegee). Braamfontein: Ravan Press.
Kommentaar
Dankie Willie vir jou nugter ontleding. In Geneeskunde en Ingenieurswese kan ons nie anders as om te steun op die Westerse kultuur en wetenskap nie. Moedertaalonderrig speel ook 'n beduidende rol in kennisoordrag en toepassing. Ongelukkig het die ander Afrika-tale nie die nomenklatuur om tersiêre opleiding moontlik te maak nie. Afrikaans is die uitsondering op hierdie gebied.
Suid-Afrika is besondere dank verskuldig aan Willie Breytenbach dat hy hierdie sensitiewe saak vir ons so duidelik oopgebreek het. Dit bring hierdie skokkende waarheid na vore dat daar nooit voorheen geveg is ter wille van Afrika-wetenskappe nie. Nou kan daar uiteindelik begin word met die groot taak om universele waarhede te herondersoek sodat die Afrika-kern daarvan ontbloot kan word en die mensdom tot 'n heeltemal nuwe en beter begronde insig kan kom!
Maar nog belangriker as dit staan die verstommende ontdekking van die Oktober-faktor wat niemand tevore raakgesien het nie. Fenomenologies beskou, is die begrippe “vermoë” en “aanleg” tog net Westerse konstrukte wat ten doel het om irriterende meetinstrumente soos eksamens te regverdig. Dit is nou duidelik dat sulke vernederende assesserings nie gepas is in 'n land waar almal gelyk en dus eenders is nie. Die Suid-Afrikaanse akademici het nou die heerlike uitdaging om vir die eerste keer in menseheugenis studente intens op te lei vir toekomstige werklikhede sonder om enige druk uit te oefen, sonder die onregverdige verwagting van prestasie en terselfdertyd 'n finansiële beloning vir die voorreg om studente van Afrika te kan inskryf.