Philip Spies het onlangs die boek Afskeid van ’n volk geskryf, en is ’n kundige op die gebied van Toekomsstudies. Hy is ook voorsitter van Gelyke Kanse, en vertel vir Naomi Meyer van onlangse gebeure in die Konstitusionele Hof.
Philip, Gelyke Kanse was nou onlangs in die Konstitusionele Hof oor die US se taalbeleid: https://www.litnet.co.za/gelyke-kanse-persverklaring-konhof-toetssaak-oor-taal/. Dit voel asof die taalgesprek al baie lank aan die gang is. Wil jy dalk deel waarom hierdie saak vir almal, van alle taalgroepe, in die land van belang is?
Naomi, die Universiteit Stellenbosch (US) Raad het ’n nuwe taalbeleid in 2016 aanvaar wat na die oorwoë mening van sommige raadslede, sommige US alumni en sommige US-studente, tot gevolg sal hê dat Afrikaans as onderrig- en kulturele-taal binne ’n dekade heeltemal sal verdwyn op die US-kampus. Bondig gestel: ons vrees is dat die 2016 US-taalbeleid, tesame met sy omvattende institusionele beleid, daarop ingestel is om die US in die kortste moontlike tyd te verengels en kultureel te saniteer.
Die skerpste verskille was met diegene in die US se hoofbestuur en in die US-Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) wat verengelsing as ’n noodsaaklike voorwaarde vir toekomstige akademiese uitnemendheid beskou — en Afrikaans en die Afrikaanse kultuur as ’n hindernis sien. Teenoor hierdie beskouing staan daar enkele raadslede, en vele alumni en studente van die US wat Afrikaans as ’n kennistaal koester en ook glo dat karakterbouende opvoeding (dit wil sê nie net opleiding nie) in ons huidige tydsbestek noodsaaklik geraak het, en dit beteken dat die rol van kultuur erkenning moet kry in opvoedkunde. In verskeie beroepe is ’n sterk beroepskultuur alreeds van die grootste belang om ’n etiese- en doeltreffende praktyk te verseker, byvoorbeeld in die regsberoep, die ingenieursberoep, die mediese beroep, ensovoorts.
Die teenstanders van die US se 2016 taalbeleid het daarom Gelyke Kanse gestig, aanvanklik net om Afrikaans as kennistaal te behou, maar metteryd ook om die belang van alle inheemse tale in opvoeding uit te lig. Die uitgangspunt was aanvanklik om dit deur middel van ’n oop gesprek te doen, maar toe dit uiteindelik onmoontlik blyk te wees, is daar besluit om taalregte in die howe te toets. Ons hoop is steeds om alle Suid-Afrikaners se grondwetlike reg op moedertaal-onderrig hierdeur te bevestig, veral omdat die Suid-Afrikaanse Grondwet onderrig in ’n amptelike taal van keuse tot op die hoogste vlak, waar dit redelikerwys doenlik is, waarborg.
Gelyke Kanse glo egter ook dat hulle saak oor meer as slegs taalregte gaan. Dit gaan ook oor Suid-Afrika se volhoubare ontwikkeling. Verskeie verslae van UNESCO wys daarop dat kultuur ’n fundamentele aspek van ’n land se ontwikkelingsproses is, en stel dit dan ook pertinent dat volhoubare ontwikkeling slegs moontlik is indien kulturele faktore met die strategieë vir ontwikkeling geïntegreer word. Die bekende bedryfskenner, Peter Drucker, het eenkeer verklaar dat ’n organisasie se kultuur sy strategie vir brêkfis sal eet.
Kultuur is ’n maatskaplike gedragvormingsisteem, en taal is die medium waardeur die integriteit van hierdie sisteem onderhou word. Metafories-gesproke: taal is die kulturele medium waarbinne en waardeur inligting en insig van een persoon na ’n ander simbolies gekommunikeer word — die “bloedsomloop” en “senustelsel” wat ’n goeie, samehorige samelewing van uiteenlopende mense kanhelp vorm, dit dan deurlopend sterker maak, en op-en-wakker hou.
Naomi, hieruit volg dan ook my antwoord op jou vraag waarom Gelyke Kanse se saak vir almal, van alle taalgroepe, in die land van belang is. Ons glo dat taal ’n invloed het op die denke van mense en daardeur ook op ’n begrip vir mekaar as mense met verskillende agtergronde. Sommige taalkundiges argumenteer dat ’n taal mense se denke, sowel as die kultuur wat die taal onderhou, mettertyd omvorm. Taal is hiervolgens nie slegs ’n intrument wat inligting en idees tussen mense kommunikeer nie, maar dit speel ook ’n rol in die bou van onderlinge begrip tussen mense, hoe inligting interpreteer word, in die vorming van idees, in mense se uitkyk op die lewe, in hulle verstaan van dinge en in hulle reaksie op gebeure. Dit het belangrike implikasies vir ’n kultureel-diverse land soos Suid-Afrika. Dit suggereer dat dit noodsaaklik is om mekaar se tale aan te leer en mekaar se kulture te respekteer as ons daarna sou strewe om ’n goeie en vooruitstrewende samelewing in Suid-Afrika te bou.
Daarom propageer Gelyke Kanse dat elke Afrikaanssprekende nie net op Afrikaans moet fokus nie, maar ook ’n taal van ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika moet aanleer. En ook dat dit noodsaaklik is om kennis en insig te ontwikkkel van die kultuur wat daardie taal bedien. Die toekoms van Afrikaans in ons land loop saam met die toekoms van ander inheemse tale en kulture in Suid-Afrika.
Soos genoem voel dit of die taalgesprek al lank aan die gang is. Watter skuiwe het jy in die gesprek sien plaasvind die afgelope tyd?
Die taalgesprek loop ’n lang pad, want sedert die stigting van ’n VOC- halfwegstasie aan die Kaap, was dit ’n kwessie waarby die owerhede van elke tydsbestek diep betrokke was. Aan die begin was Nederlands ’n amptelike taal en die Franse Hugenote en Duitse koloniste moes daarmee verlief neem. En hierdie Nederlands is oor die eeue omvorm tot ’n taal wat ons vandag Afrikaans noem. ’n Praktiese taal wat spontaan ontwikkel is deur alle mense aan die Kaap sodat hulle mekaar kon verstaan. Met die Britse kolonisering van die Kaap het taal mettertyd in ’n strydpunt verander omdat Afrikaanssprekendes toe alreeds inheems was, en die Britte wou vir goeie administrasie dit doen wat die VOC gedoen het met die Franse en Duitse koloniste ’n honderd jaar gelede.
Die Genootskap van Regte Afrikaners het Afrikaans teen die einde van die 19de eeu midde-in die destydse politieke debat geplaas, maar Afrikaner-instellings soos die Victoria Kollege (die voorganger van US) was min daardeur gepla. Stellenbosse studente het toendertyd gemaklik met Engels-onderrig saamgeleef omdat dit ’n instelling was wat ’n elitegroep uit Afrikaner-geledere bedien het, terwyl die res van die Afrikaanssprekende bevolking met geringe skoolopvoeding moes klaarkom. Selfs die groot ysbreker vir Afrikaans aan die begin van die 20ste eeu, CJ Langenhoven, was teen die einde van die 19de eeu nog ten gunste van Engelse onderrig in Suid-Afrika. Later sou hy in sy stories spot met die geneigdheid van elitistiese Afrikaners om liewers in hulle geradbraakte Engels te praat omdat dit aan hulle die bevrediging van behorende tot “’n hoër klas” gegee het. Tot en met die 1920’s het die NG-Kerk en politieke leiers soos Generaal Hertzog, Afrikaans as ’n minderwaardige taal beskou. Tweetaligheid het toe Engels-Nederlandse tweetaligheid beteken. Afrikaans was gesien as ’n “kombuistaal”.
Afrikaans het eers in 1925 die status van ’n amptelike taal verwerf. Daarna het dit ’n groot rol gespeel as kennis- en onderrigtaal om wit Afrikaanssprekendes op te hef. Maar ongelukkig het dit na 1948 die taal van wit oorheersers geword, wat selfs die belange van ander medemakers van die Afrikaanse taal nie net misken het nie, maar hulle selfs onderdruk het. Nou maak laasgenoemde groep twee-derdes van Afrikaanssprekendes in die land uit, en baie van hulle is arm en onvaardig om vir hulle ’n goeie lewe in hierdie land te bou. Hulle benodig vir maatskaplike ontwikkeling, net soos hulle wit volksgenote voorheen, goeie onderrig in Afrikaans, terwyl Afrikaans steeds deur die magshebbers gesien word as ’n simbool van wit oorheersing en apartheid. Dit maak ’n redelike beskouing van die belang van Afrikaans binne amptelike beleidvorming uiters moeilik, en te meer so in regspraak.
Die Afrikaans-gesprek is vandag breedspannig en insluitend. Daar word aktief erkenning gegee aan verskillende Afrikaanse praatstyle en die kulturele gebruike wat daarmee saamloop. Die taal word vandag bevry van sy apartheidskanse deur aan die ander sprekers van Afrikaans erkenning te gee. Stadig, maar seker, maak dit ook ’n bydrae tot groter onderlinge respek tussen mense van verskillende agtergronde. Dit is vir my die duidelikste bewys van hoe moedertaal-erkenning, veeltaligheid en kulturele begrip ’n samelewing kan bou.
Dink jy dat die gesprek ’n positiewe uitkoms vir die voortbestaan van Afrikaans op tersiêre vlak sou kon hê?
’n Oop gesprek waar deelnemers ’n dialoog met mekaar onderhou, is noodsaaklik om sake objektief uit te pluis en onderlinge begrip te bou. Dit was, en is steeds, die verkose roete vir Gelyke Kanse. Maar ’n oop gesprek is nie voldoende nie. Niks gebeur sommerso vanself nie, optrede is nodig. Daarom moet so ’n gesprek ook gaan oor ’n roetekaart — oor waarna moet ons strewe, hoe moet ons daardie strewes verwesenlik en watter bronne is nodig om dit te verwesenlik. Ons moet na praktiese oplossings soek en daaraan begin werk.
Daar is op die oomblik twee programme vir Afrikaans-onderrig in Suid-Afrika aan die ontwikkel, en almal wat Afrikaans wil bevorder behoort in denke, en ook wesenlik, die programme te ondersteun. Op hierdie oomblik is die uitspraak van die Konstitusionele Hof in Gelyke Kanse se saak nogvoorbehou. Indien dit ’n gunstige uitspraak vir Afrikaans-onderrig sou wees, dan sal daar baie geleenthede wees om, selfs binne die amptelike opvoedkundige bestel, Afrikaans-onderrig te versterk. Indien dit ongunstig is, dan kan ander roetes na volhoubare Afrikaans-onderrig gevolg word.
Wat dink jy is die impak van die gebruik van inheemse tale van hierdie land op universiteitsvlak ook op die gebruik van inheemse tale op skoolvlak?
Ek het reeds verwys na die belangrike rol wat taal en kultuur in die ontwikkeling van ’n samelewing speel. In terme van die direkte impak daarvan op die uitkomste van onderrig,is die implikasies alreeds duidelik. As moedertaal-onderrig op tersiêre vlak onvoldoende is, dan het dit ’n oorspoeleffek na skole want gehalte-onderrig vereis leerkragte wat die woordeskat van gevorderde kennis verstaanbaar en goed kan oordra aan leerders. Dit is waarskynlik een van die redes vir ons disfunksionele skoolstelsel waar leerders in veral swart skole net tot graad vier moedertaal-onderrig ontvang. Gesaghebbende navorsing het bevind dat hierdie leerders ’n agterstand van tot vyf jaar teenoor hulle eweknieë het in hulle matriekjaar. Dit het dan weer ’n impak op akademiese prestasies by universiteite en ander naskoolse opvoedkundige instellings.
Bied ’n taal gelyke kanse? Skryf asseblief uit jou perspektief vir ons lesers of vir enigiemand wat hier lees, waarom hulle hieroor moet nadink of hiervoor moet omgee.
Jou vraag moet binne die konteks van my vorige bespreking oor die rol van taal in die ontwikkeling van samelewings beantwoord word. Die kort antwoord is dat, as jy ’n opvoedkundige instelling het wat slegs Engels as onderrigtaal gebruik, dan — in terme van my vorige bespreking — sal dit Engelssprekende studente relatief bevoordeel en Afrikaanssprekendes relatief benadeel. So ook as as Engels- of IsiXhosa-sprekendes studeer aan ’n eksklusiewe Afrikaanse universiteit. In ’n kultureel-heterogene land soos Suid-Afrika skep dit probleme vir ’n universiteit wat beide inklusiwiteit en voortreflike onderrig en navorsing as oogmerk het. Afgesien van enige politieke druk verteenwoordig hierdie situasie ’n ernstige dilemma vir die bestuur van ’n universiteit soos die US.
Hierdie dilemma word dermate vergroot as een taal, soos Engels, ’n wêreldtaal is waardeur akademici en wetenskaplikes met mekaar kommunikeer, en waarmee sakemense hulle ondernemings internasionaal bedryf. Dit beteken dat enige universiteit in die wêreld, waar ookal, voorsiening moet maak dat hulle opleidingsprogram studente ook voorberei om met gemak hulle studies en loopbane deur middel van ’n wêreldtaal te bevorder.
Afgesien daarvan of ’n Afrikaanse universiteit onder politieke druk toegee om te verengels, maak dit ook uit ’n institusionele oogpunt, goeie strategiese sin om die maklike uitweg van verengelsing te verkies Daardeur kan vermoënde (hoofsaaklik) enkeltalige Engelssprekende studente, nadertrek sonder om meertalige, relatief vermoënde Afrikaanse studente vreeslik te benadeel en sonder om voormalige groot donateurs uit die (voormalige) Afrikaanse sakegemeenskap die harnas in te jaag, omdat hulle nie meer enige kommersiële waarde in die bevordering van Afrikaans sien nie.
Dit is duidelik dat die kommersiële-, politieke- en maatskaplike omgewing in Suid-Afrika ongelyke kanse met onderrig ondersteun, en dat dit toenemende ongelykheid tussen dié wat het en dié wat nie het nie,tot gevolg sal hê. Ons lewe vandag in ’n kennis-gedrewe wêreld waarin ekonomiese vooruitgang saamhang met die samehorigheid en die kennisstatus van gemeenskappe. En een van die grootste afbrekers van gemeenskap-samehorigheid (en dus van toenemende intergroepkonflikte) is oneweredige verdeling van rykdom wat enige krake in ’n heterogene gemeenskap soos Suid-Afrika dermate sal vergroot.
Langenhoven het gesê: "Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man” ( verskoon tog die chauvinisme in die spreuk). Vir sy langtermyn ontwikkeling is dit belangrik dat Suid-Afrika inheemse tale moet bevorder vanaf primêre skoling tot op tersiêre opvoedkundige vlak. En dit beteken spesifiek dat alle Suid-Afrikaners moeite moet doen om ten minste een inheemse taal buiten Afrikaans aan te leer en ook die kultuur wat dit ondersteun.
Is dit realisties en moontlik? Moderne inligting- en kommunikasie-tegnologie maak afstandonderrig by die dag makliker, wat beteken dat kampus beperkings in die toekoms nie meer ’n belangrike faktor vir universiteite behoort te wees nie. Die grootste beperkings wat op Afrikaans-onderrig, of dan ook onderrig in enige ander inheemse taal, geplaas word is dié van ’n gebrek aan verbeeldingryke denke, wilskrag en toewyding.
Die gelyke kanse, wat die beweging Gelyke Kanse voorstaan, lê opgesluit in bogenoemde benadering. Hierdie benadering sal ’n groot hupstoot kry indien die Konstitusionele Hof die grondwetlike reg van moedertaalonderrig by Universiteit Stellenbosch sou bevestig. Dit kan dan die ys breek vir moedertaal onderrig by ander opvoedkundige instellings in Suid-Afrika.
Lees ook:
Repliek op die debat oor moedertaalonderrig binne die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel
Universiteite in Afrika: Is moderne kennis noodwendig Westers en daarom verwerplik?
Gelyke Kanse-persverklaring: Konstitusionele Hof-toetssaak oor taal
Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch