Sol Plaatje was 'n Suid-Afrikaanse joernalis en skrywer wat sewe of agt tale kon praat. By die universiteit wat na hom vernoem is, die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley, word daar eerskomende naweek (op 5 Oktober) 'n kongres oor gesproke Afrikaans van hierdie betrokke streek aangebied.
Adean van Dyk en Emma Groenewald praat met Naomi Meyer oor hierdie simposium.
Adean, eerskomende naweek word ’n simposium oor Afrikaans by die Sol Plaatje-universiteit aangebied. By die Universiteit Stellenbosch is daar baie gesprekke rondom Afrikaans, maar ek kry die gevoel julle gesprek is iets anders: ’n ander streek, ’n ander soort gesprek. Is ek reg? Vertel my wat julle met die simposium beoog?
Adean van Dyk: Inderdaad, Naomi. Dit is altyd opwindend wanneer Afrikaansdepartemente allerhande gesprekke voer. Ek is ook goed vertroud met die Departement van Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch se middaguurgesprekke. Soortgelyk is die bal hier by Sol Plaatje-universiteit (SPU) ook aan die rol. In 2017 het SPU se vakrigting Afrikaans (Skool vir Tale), saam met die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK)se Departement van Afrikaans en Nederlands, ‘n wonderlike kongres oor Noord-Kaapse spreektaal en -letterkunde (Nuwe perspektiewe op taal, literatuur en kultuur) gefasiliteer. Dit was ook die eerste akademiese kongres wat by SPU aangebied is.
Die komende simposium oor Afrikaans in die Noord-Kaap, getiteld Afrikaans: Kom saam / Come along, het ‘n ander doel en volg nie op die 2017-kongres nie.
Die simposium se oorsprong lê in gesprekke wat SPU se visie-kanselier, prof Yunus Ballim, met individue in die Noord-Kaapgemeenskap gehad het oor watter rol die universiteit kan speel om die Noord-Kaap se mense te verenig. Volgens die 2011-sensus verteenwoordig die Noord-Kaapprovinsie die land se grootste aantal Afrikaanssprekers, met ‘n huistaalverteenwoordiging wat om en by 53% van die provinsie uitmaak. Verder beslaan die Noord-Kaapprovinsie ook die grootste geografiese area in Suid-Afrika. Die gevolg is dat interaksie, beide sosiaal en korporatief, problematies kan wees.
Die Afrikaanslektore (beide verbonde aan die Skool vir Geesteswetenskappe en die Skool van Opvoedkunde) het besluit om hieroor kop te krap deur verskeie aspekte rondom Afrikaans in die Noord-Kaap op grondvlak van nader te bekyk. Die doel is nie om Afrikaans as vaktaal of medium van onderrig te bespreek nie, maar eerder om te besin oor hoe Afrikaans op sosiale vlak gebruik word en wat die gemeenskap se behoeftes daaromtrent is. Afrikaans as vereniger van mense in die Noord-Kaap staan op die voorgrond. Uiteindelik wil ons ‘n gesprek voer oor hoe die universiteit, as ‘n jong tersiêre instansie, behoeftes aan taal- en kultuurontwikkeling in die gemeenskap moontlik kan help bevredig.
Gassprekers is genooi om die vraag inleidend te benader. Terselfdertyd ag ons die opinies van Afrikaansonderwysers en die Noord-Kaapse Departement van Basiese Onderwys van die grootste waarde. Ons het in samewerking met die Noord-Kaapse Departement van Basiese Onderwys byvoorbeeld ‘n aantal Afrikaansonderwysers vanuit verskeie provinsiale distrikte genader om die geleentheid by te woon ten einde ‘n holistiese idee te kry oor hoe Afrikaansonderrig in die provinsie lyk. Verdere bywoning deur Afrikaansonderwysers van die Kimberley-area (en elders) sal die bespreking natuurlik versterk. Opinies rondom Afrikaansonderrig wat tydens parallelbesprekings gekommunikeer word (wat onderskeidelik vir intermediêre-, senior- en VOO-fases aangebied sal word) sal byvoorbeeld ’n goeie aanduiding gee van waar die behoeftes in die onderrig lê. Wat werk vir hulle? Wat werk nie? Wat moet verander? Hoe kan dit aangespreek word? ‘n Elektroniese opname sal ook in die week voor die simposium aan talle Noord-Kaapse Afrikaansonderwysers gestuur word, met die doel om meer opinies virtueel te versamel. ‘n Paneelbespreking deur departementele verteenwoordigers sal dan hierdie opinies opsommend aan die groter gehoor kommunikeer.
‘n Tweede paneelbespreking deur die SPU-Afrikaanslektore sal repliek lewer op die dag se gesprekke. Hoe lyk die pad vorentoe? Kan ’n moontlike gemeenskapsdiensprojek identifiseer word?
Wat maak die Noord-Kaap se Afrikaans anders, dink julle? Vertel vir ons lesers wat nie daar woon nie: hoe is Afrikaans in Kimberley, watter taal praat die studente daar? Emma, ek het onlangs met jou ‘n onderhoud gevoer oor jou artikel in LitNet Akademies oor veeltalige universiteite (https://www.litnet.co.za/veeltalige-universiteite-n-onderhoud-met-emma-groenewald/). Dalk sluit iets van julle antwoord hierby aan?
Emma Groenewald: In Kimberley is Afrikaans die algemene gebruikstaal. Dit is werklik ’n inklusiewe taal wat oral gebruik word – by winkels, restaurante en besighede. Setswana is wel die taal wat deur die meerderheid SPU-studente gepraat word (51% studente-representasie, terwyl Afrikaans die tweede mees-gesproke huistaal onder studente is, met 22%), maar tog word Afrikaans daagliks informeel op kampus gebruik.
’n Groot persentasie Afrikaanssprekende studente is afkomstig uit verskeie streke in die Noord-Kaap – Namakwaland, Upington, De Aar en Kuruman.
Al hoor ons nog nie ’n spesifieke “SPU-Afrikaans” nie, bestaan die moontlikheid wel dat vermenging van Oranjerivier-Afrikaans, Griekwa-Afrikaans en ander Afrikaanse variasies, mettertyd ’n unieke “SPU-Afrikaans” kan vorm.
Wat gaan by die simposium bespreek word? Wie is die sprekers?
Adean van Dyk: Verskeie gassprekers is genooi om die tema Afrikaans: Kom saam / Come along te bedink en by te dra tot die groter gesprek. Ons wil graag klem daarop lê dat die simposium ’n informele gesprek is waartydens SPU verskeie stemme wil hoor. Natuurlik word daar ook genoeg peuselhappies tydens ’n gesprek bedien ...
Ek skop die oggend af deur vlugtig na die konteks van Afrikaans in die Noord-Kaap te verwys, waarna ons eerste gasspreker, Hennie van Coller (Universiteit van die Vrystaat), sal praat oor kreatiwiteit in Afrikaans as vereniger van mense. Victor Teise en Marga Stander bied hierna insig oor die onderrig van Afrikaans by SPU. Ons is ook gelukkig dat die Afrikaanse Taalraad die geleentheid bywoon. Conrad Steenkamp (uitvoerende hoof) en Ria Olivier (programbestuurder) sal uitbrei oor die ATR se visie oor moontlike ondersteuning in die Noord-Kaap.
Ons hoop dat die insigte wat deur die bogenoemde stemme gelewer word die Afrikaansonderwysers sal aanspoor om hul perspektiewe en ervaringe oor die onderrig van Afrikaans tydens die reedsgenoemde besprekings te deel.
Die dag word afgesluit met ‘n openbare lesing deur die ATKV se uitvoerende direkteur, Danny Titus, getiteld: Afrikaans as moedertaal: verpligting en geleenthede in hedendaagse Suid-Afrika. Prof Victor Teise sal ‘n kort repliek hierop lewer, waarna ’n skemerkelkiegeleentheid in die universiteitsbiblioteek sal plaasvind.
Asseblief laat weet die praktiese reëlings: kan enigiemand kom bywoon, wat is die kostes, en waar word die geleentheid aangebied?
Bywoning is gratis en almal is welkom, maar belangstellendes moet asseblief teen Woensdag, 2 Oktober, per e-pos RSVP. Kontak asseblief vir Emma Groenewald (emma.groenewald@spu.ac.za) of vir Sulette Bruwer (sulette.bruwer@spu.ac.za).
Registrasie begin om 07:30 in die Universiteitsbiblioteek (Scanlanstraat, Kimberley), met die verrigtinge wat om 09:00 begin.
Kyk hier vir nog inligting oor die simposium en besonderhede van hoe om daarvoor in te skryf.
Veeltaligheid op universiteit: ’n uitdaging én ’n geleentheid vir identiteitsvorming
Kommentaar
LOLS - Afrikaans Come Along (maar die ANC is mos lief vir onse Taal, en Afrikaans is mos GROOT by die cANCer en Sol Plaatje) at a state university where everyone is forced to speaka die Englisj very deliciously, abandon their Afrikaans roots, and have the colonial language par excellence as the only medium of instruction! Die ironie kan net nie GROTER wees nie!
Is this article meant to be parody?Is dese artikel bedoel om parodie te wees?
Nou't ek dit alles gehoor!
Die gebrek aan onderrig deur die medium van Afrikaans is sekerlik 'n ernstige tekortkoming aan die SPU wat aangespreek moet word, maar dit lyk asof hierdie kernsaak doelbewus vermy gaan word. Afrikaans is die ideale medium om die Noord-Kaap se inwoners te verenig. Met "lektore" word seker dosente bedoel.
Onlangs trachtte ik de dichtbundel van Pieter Odendaal, bekroond met de Ingrid Jonker Prijs voor Afrikaanse poëzie, te bemachtigen in België maar daar was geen beginnen aan. Wat ik wel kon bemachtigen, is een ander boek waarvan de dichter mede-auteur is, namelijk The Sol Plaatje European Union Poetry Anthology, uitgegeven door Jacana Literary Foundation in 2018. Een prachtige meertalige dichtbundel.
Nieuswgierig als ik was naar het genie van Sol Plaatje, kwam ik vlug op het spoor van zijn iconisch boek uit 1914 Native Life in South Africa, een boek dat de wereld heeft veranderd. Het meesterwerk kan worden afgehaald van de Gutenberg Collectie: http://www.gutenberg.org/ebooks/1452. Jazeker, tijden veranderen.
Aan de organisatoren van het Afrikaans: Kom saam - Come Along Congres wens ik dat de geest van hun illustere voorganger voortdurend in hun midden zal rondwaren.
Geen verskil tussen 'n lektor en dosent nie. Selfde ding.
"Lektor" is dikwels die lui vertaling van "lecturer." 'n Dosent kan 'n junior lektor, lektor, senior lektor, mede-professor of professor wees. "Dosent" is die omvattende begrip terwyl "lektor" rangorde aandui.