Die Universiteit Stellenbosch voel ’n veer vir Afrikaans en vir meertaligheid. En ek is nie meer lus om mooi te praat nie.
Na aanleiding van die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof rakende Afrikaans as onderrigtaal voel ek en ‘n menigte ander lede van die Afrikaanse taalgemeenskap in die rug gesteek. Ek wil en kan egter nie namens ander praat nie. So, hierdie kom direk van my, Mercy Kannemeyer, ’n amper 25-jarige Afrikaanssprekende bruin vrou, gebore in die Wes-Kaap wat tans haar meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch doen. Ek beskou myself as een van die gelukkiges wat nog ’n tesis in Afrikaans kan skryf. Wie weet vir hoe lank dit nog die geval gaan wees?
Ek is nie meer lus om doekies om te draai nie. En ek is jammer as ek ’n gegewe perd in die bek kyk, want ek is bevoorreg genoeg om aan een van die top universiteite in die land te kan studeer. Maar (voeg hier na hartelus jou eie vloekwoorde in), goeie genugtig! Wat hierdie universiteit besig is om aan Afrikaans en al die ander ampstale (behalwe Engels) in ons land te doen, is futiel.
En hoe ongelooflik ironies is dit nie – die Universiteit Stellenbosch streef na dekolonialisering en transformasie en allerhande gonswoorde wat hulle beelde en weelde goed genoeg “weerspiëel”, maar deur Engels as hooftaal van instruksie te aanvaar, is die universiteit besig om hulself te herkoloniseer. Ek glo nie enigiemand hoef aan Engels se geskiedenis herinner te word nie.
Laat ek gou my politieke korrekte bril eers opsit. Engels lyk vir talle na die maklike oplossing. Links en regs word gepreek dat Engels jou voorberei op ’n internasionale beroepslewe. (Lag lag lag.) Dit is Suid-Afrika se lingua franca. Hoe gaan ons ander ampstale egter aanhou ontwikkel as ons die maklike oplossing aangryp? Hoe gaan Xhosa, wat een van die tale in die Wes-Kaap is wat die meeste gepraat word, op die akademiese vlak van Afrikaans en Engels kom as Afrikaans nou aan die agterspeen moet suig? Wie is so naïef om te dink dat die universiteit werklik enige pogings tot meertaligheid gaan aanwend? Hulle gryp na maklike strooihalmoplossings. En dit is onvolhoubaar.
Natuurlik wil ek hê dat die universiteit se arms vir almal oop moet wees. Natuurlik wil ek in ’n geïntegreerde taalgemeenskap studeer waar ons naatloos saam met mekaar en ook van mekaar kan leer. En natuurlik dink ek nie Afrikaans is die belangrikste taal op die planeet nie.
Wat Afrikaans in hierdie konteks egter verdien, is om in ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar die meerderheid sprekers van die taal bruin mense is, as prioriteit gesien te word. Nie bo enige ander taal nie, maar gelyk. Na aanleiding van dit wat by ander universiteite in die land gebeur het, het ek diep diep diep binne myself gehoop dat Afrikaans op Stellenbosch dit sal oorleef. Helaas.
Van buite af lyk dit sleg – die bestuur van die universiteit is te slapgattig om op te staan vir Afrikaans weens politiese faktore. Laat ek briek aandraai. Ek wil nie op hierdie punt misverstaan word nie. Afrikaans met al haar bagasie as die taal van die onderdrukker, word een met Stellenbosch, weens rassistiese Afrikaners en die wit opperheerskappy waarop die universiteit gebou is. Feit soos ’n koei. En ek gaan lieg as ek sê dat ek as bruin vrou dit nog nie ervaar het nie. Maar ek het gehoop dat die Universiteit Stellenbosch as een van die vier tersiêre instansies in die Wes-Kaap Afrikaans sou beskerm om die ontwil van die meerderheid bruin sprekers, in wie se hande die taal lê, in die provinsie.
Ek sou natuurlik verkeerd wees as ek maak asof ek nie weet watter bagasie die taal mee kom nie. Talle is kwaad vir die onreg wat in Afrikaans se naam gepleeg is. Die taal het egters niks onreg gepleeg nie. Dit is die sprekers van daardie taal wat daardie leed aangedoen het. En dis jammer. Maar dít is nie my Afrikaans nie.
My Afrikaans is bruin. My Afrikaans het my bevry. En my Afrikaans gaan nou daaronder ly. Sies Stellenbosch. Julle moes van beter geweet het.
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak
Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
Kommentaar
Mooi gestel Mercy. Presies en op die punt af!
Teeoor dit staan Jonathan Jansen se aweregse beskouing wat plek en tyd dienstig is (ja aweregs omdat die rekolonialisering van US onder beheer van die nuwe Effendis wat min vir gewone mense omgee): https://www.businesslive.co.za/opinion/columnists/2019-10-17-jonathan-jansen-why-the-afrikaans-debate-has-ended-with-a-whimper/
Maar, nouja, soos ons almal weet: die vorige oorheersers (Effendis) van Suid-Afrika het Afrikaans en US geen guns bewys nie.
Kommentaar soos professor Jonathan Jansen s'n vandag in Vrye Weekblad en doktor Blade Nzimande se wyd gerapporteerde s'n verlede week, steek sleg af teen 'n magisterstudent soos Mercy Kannemeyer se logiese en deurdagte argument. En Kannemeyer het nie mag nie. Sy het verstand.
Daar word geredeneer dat Afrikaans ten bate van bruin studente 'n onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch (US) moet wees. Dit is 'n argument wat dikwels gehoor word. Maar waarom dit nie ook onomwonde stel dat Afrikaanssprekende blanke studente sodanige onderrig nodig het en sal verwelkom nie? Baie van hulle is die lojaalste ondersteuners van Afrikaans. Myns insiens behoort Afrikaans die enigste of dan ten minste die hoofonderrigtaal aan die US te wees. En waarom word daar geswyg oor die afskaffing van Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK)? Aan albei universiteite was Afrikaans voorheen die hoofonderrigtaal. Dit kon gerus so gebly het.
Baie dankie, Mercy. Sjoe, dis 'n uitstekende video. Hoeveel julle jong Afrikaanse studente is, jy en jou kollegas, weet ek nie maar dat julle van die beste ( en eerlikste!) is, lyk my seker. Doe zo voort!
'n Vars bries!!! Kan ek/ons bietjie meer van haar hoor en bietjie minder van Betina se gal.
Prachtig artikel en verbluffende, verhelderende videoclip van Mercy Kannemeyer. Voor haar zijn - in het taaldebat dat meer de vorm aanneemt van een taaloorlog - sociale werkelijkheden veel belangrijker dan ideologische uitgangspunten. Wat een scherpe blik heb jij toch, Mercy!
Ek kon dit nie beter stel nie, dankie. Ek ken mense en het vriende wat hul kinders na Engelse skole stuur sodat hul eendag 'gereed' vir universiteit kan wees. Hoe lank dink Slim Wim gaan dit neem voordat Afrikaans ’n vreemde taal word? Skrik wakker jul transformeerders.
Almal wil Engels wees, daar is net 2% van die wit bevolking wat van Engelse afkoms is. Vir wat wil jy Engels wees? Met een Suid-Afrkaanse paspoort kom jy Engeland nie eens in sonder visa net soos al die ander Engelstalige lande. Afrikaans en tweede Xhosa is die tale in die Wes-Kaap. As Hollander praat ek net Afrikaans. Dis die mooiste taal en het niks te doen met apartheid nie. Engels is die apartheidstaal, wie was in beheer van ZA tijdens apartheid? Ja, Engeland, dankie.
Die Het Jan Marais Nasionale Fonds word nou misbruik vir beurse om Engels by US te bevorder.
Soos meermale in Kaaps gesê sal word; "so 'n bek moet jêm kry."
Jy verdien 'n ruiker Mercy Kannemeyer. Jou insig identifiseer die trajek van onthulling en roeping. Wat nou by Stellenbosch gebeur is niks ander as "taal-terrorisme" nie. Dit kom op 'n tyd waar alles tot 'n grysagtigheid gerelativeer word . Tyd self het 'n gees, 'n Zeitgeist wat idees inspireer (uself) en uitvee (u rektor). Sommige mense kry die voorskou voor ander en die massas, laaste. Overgesetsynde, waar die naels vuil is, is die gees suiwer en die kop skoon. Iets waarop Stellenbosch se togadraers nie kan aanspraak maak nie.
U inset Me. Kannemeyer is 'n welkome een. Dis hartseer wat Stellenbosch aan Afrikaans doen. Tog is pyn dikwels die modder waarin die Lotus blom en Afrikaans sal en behoort altyd 'n kruistog op hande te wees.
Gustaf Claassens, ek is geen lotus nie en was nog nooit.
Vir was 2 oumas in ABO en was ek bevoorreg om beide te ken as kind en jong man.
Hul Afrikaans was baie ouer en deurspek met Hoog-hollands. Hulle het geleef vanaf ossewa tot man-op-die-maan eras.
Ek veg geen ABO nie, het aan my eie oorloë deel gehad. Soos genetiese oordrag reeds bewys was, is die vegtersinstink veërwe en "veg" ons nou deur selfbestuur te bevorder en daardeur selfbeskikking.
Dis 'n voortdurende stryd waaruit ons wit Afrikaners gebore is en bang gaan ons nie word nie.
Ek mag vrae vra, soos onbillikheid met bv Het Jan Marais Nasionale Fonds, waarvan beurse vir arm studente gebruik word deur US, om hul studies nou in Engels te bevorder.
Het Wim de Villiers geen gewete en integriteit oor nalatenskap van 'n persoon se goedertrou nie?
Kwaai film Mercy.
Ek veronderstel Wim de Villiers beskou die Universiteit Stellenbosch as nog 'n Universiteit van Suid-Afrika, of is dit Eskom, 'n ander Nasionale Bate. Ons almal weet waar dit op pad heen is. Opwek van minder krag is vergelykbaar met studente dom maak.
Die Weskaap se Afrikanaanssprekende gemeenskap is te klein vir hierdie wêreld denker? Wie is hy om ons so te minag? Waar gaan hy vir die ander baie groter deel van die gemeenskap plek maak? Op die grasperke van die dorp en in die wynlande langsaan wat hul besit van gaan neem met plakkery? O! hy praat metafories? Is nie, want hoekom dan net in Engels laat klasgee?
Genoeg geskerts. In Australië word Dr. Ridd, die fisiekus, kenner van koraal en intieme van die Great Barrier Reef, van sy professorskap ontneem en afgedank. Nou is hy vry om te getuig dat die professoraat in hulle land magteloos voor die pennekrabbers staan, die vele vlakke van allemagtige bestuurders wie van opvoeding eintlik niks goeds weet nie behalwe dat dit geld werd is. Geld, hoe so? Dis die politici wie universiteite so bestuur dat hul nie meer as"netto positiewe bydraers tot die samelewing" beskou kan word nie, volgens Ridd.
Hierdie is nie net herkolonisering nie, maar iets veel erger. Kolonisering het goeie vrugte voortgebring, soos bv. die konsep ‘universiteit’ aan die suidpunt van die vasteland. Wat word hulle nou, so opvoedkundig en leersaam eens? Slagvelde van opstokery, ja, en wat daarby? Afdomskole?
Ek wonder hoeveel navorsing van US lei tot werkskepping vir voordeel van groter gemeenskap?
Sover was byna dekade spandeer teen Afrikaans om US te dekolonialiseer...
Is daar 'n middelpunt tussen die slapgatheid by US en die 'laertrek'* by Akademia? Wat is dit?
* Ek is nie seker of Akademia laer trek nie - ek weet nie genoeg van hulle af nie.
Wat is daar om laer rondom te trek by Akademia? Meeste studente woon klasse in by hul kampus by, met video 📹 konferensie klasse, landwyd.
Art29 (2) van Handves van menseregte verwys dat elkeen in SA geregtig is om in 1 van. 11 amptelike tale onderwys te ontvang. By US word daar nou met Engels voorsiening gemaak vir Afrika se studente.
Waarom moet ons net agteroor sit en aanvaar dat US hul eie ideale afdwing op 'n taalgroep in hul eie land? Daarom rebeleer ons op wetlike manier deur Akademia te ondersteun, geen laer trek nie. Akademia gebruik 4de industriële rewolusie onderrig tegnologie en metodes.
Dis 'n perfekte en eerlike analise!