Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?

  • 37

Tussen die rugby, die NG Kerk-sinode en die Konstitusionele Hof-beslissing oor Stellenbosch se taalbeleid was sommige Afrikaner-braaivleisvure maar ʼn koorsige affêre die afgelope naweek, vermoed ek.

Dié wat die ergste opgewonde raak, is waarskynlik dieselfde groep wat in 1993 in afwagting op die Groot Swart Slagting hul spense vol blikkieskos gepak het – en weer in 1999, in voorbereiding op die ineenstorting van die internet. Goed, ek gee toe, krap aan mense se taal en jy krap aan hul emosies. Maar is dit regtig die dood van Katryn as die US se taalbeleid uitgebrei word? Ek dink nie so nie. Daar is ander maniere om ʼn taal lewend te hou.

Om dit te gebruik om ander uit te sluit, is nie die regte manier nie. Veral nie as die taal in die eerste plek negatief beskou word juis omdat dit gebruik was om uit te sluit en te onderdruk nie. Iewers moet mens mos leer uit die foute van die verlede en daarop verbeter. Wanneer die hoogste hof in die land gekonfronteer word met twee stelle kompeterende regte, is die kanse dat hulle gaan beslis ten gunste van die reg wat uitsluit ten koste van die kompeterende reg wat groter groepe insluit, maar skraal.

Verlede week se beslissing het nie die universiteit verbied om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik nie. Inteendeel, dit maak ruimte vir die gebruik van Afrikaans, maar ook dat Engels as onderrigtaal bevestig word. Hoekom is dit problematies vir soveel Afrikaners?

Ek vermoed dit gaan veel minder oor die behoud van die taal as wat dit gaan oor die behoud van eksklusiewe wit ruimtes. Toe skole die eerste keer oopgestel is vir alle rasse, was daar ʼn massa-eksodus van wit leerders. Die gehalte van onderwys sal laer word, was beweer. Anders gestel, swart en bruin mense is te onnosel om saam met wittes te leer. Natuurlik is dit nooit in die openbaar so kru gestel nie. Maar die braaivleisvuur, na so ʼn paar brannas en Coke ...

Afrikaans moet beskerm word, is die argument. Hoekom? In ʼn land met 11 amptelike tale is daar nie voorsiening vir onderrig in nege van die tale nie. Dit is maar redelik onlangs eers, in ʼn land waar Xhosa en Zoeloe die eerste taal van die oorgrote meerderheid van die bevolking is, dat ʼn doktorale proefskrif vir die eerste keer in Xhosa gelewer is. Gelewer by ʼn tradisioneel Engelse universiteit, Rhodes. Ten spyte van die protes dat daar by Stellenbosch voorsiening gemaak word vir die bemagtiging van alle tale, sou dit nie daar gebeur nie. Ek sal ook baie verbaas wees as daar enige proefskrifte in tale anders as Engels en Afrikaans gedurende my leeftyd daar aanvaar word.

En die mense wat so graag argumenteer dat al die ander landstale opgehef moet word: Hoeveel van julle kan julleself help in ʼn Afrikataal? Kom ons begin maar eenvoudig, met hallo, dankie, hoe gaan dit? In die taal wat die mees algemeen is in jou spesifieke streek. Maar dan kan die meeste van julle dit ook nie in Afrikaans doen met iemand van ʼn ander kleur nie, of hoe? En hoeveel weet wat julle swart huishulp se naam is, laat staan nog hoe om dit uit te spreek? O nee, dis te swaar om uit te spreek, is die refrein. Kom ons hou maar by Gladys of Hope of Faith. Maar die name van Italiaanse filmsterre, Franse ontwerpers en Sweedse en Kroatiese sportsterre gly soos heuning van jul lippe af. Verskoning.

Afrikaanssprekendes is Afrikaans se grootste vyand.

Dis Afrikaanssprekendes wat ander uitsluit omdat hulle nie die “regte” Afrikaans praat nie. Hoekom dan verbaas wees as mense eerder kies om ʼn ander taal te praat? Hoekom verbaas wees as mense kies om eerder ʼn taal te praat waarin jy met ʼn groter deel van die samelewing kan kommunikeer?

Engels is die besigheidstaal van die oorgrote meerderheid van die samelewing in Suid-Afrika. Die Noord-Kaap en Namakwaland is omtrent nog die enigste gebiede waar mens kan verwag om in Afrikaans as standaardtaal bedien te word.

Tale sterf nie uit omdat hulle nie as onderrigtaal op universiteitsvlak gebruik word nie. Xhosa, Zoeloe, Sepedi en die ander tale in Suid-Afrika bewys dit. Tale sterf uit wanneer hulle nie gebruik word nie.

Dus, voordat daar aanvalle gerig word en daar neerhalend na Slim Wim verwys word, vra eerder jouself af: Hoekom jou kinders aanraai om eerder Australië (of enige ander oorsese land) toe te trek? Dink jy hulle, en hulle kinders, gaan die taal daar lewend hou? Hoeveel van julle wat julle kinders weggestuur het na ander lande toe, moet nou Engels praat met jul kleinkinders?

Selfs Nederland, die emosionele heimat van soveel Afrikaners, gaan nie die taal lewend hou nie. Stuur jou kinders soontoe, en hulle leer blitsvinnig Nederlands praat en raak selfbewus oor hulle Afrikaans.

Die probleem is nie dat die regering die mes in het vir Afrikaans nie. Die probleem is dat die meeste Afrikaanssprekendes aanhou om die negatiewe stereotipes oor die taal en haar gebruikers bevestig.

Een van die eerste argumente wat gebruik word oor hoekom Stellenbosch Afrikaans moet bly, is om die arm bruin kinders van die platteland wat nie in Engels die mas kan opkom nie, te help. Het iemand al gaan kyk hoeveel van daai arm bruin kinders by Stellenbosch toegelaat word?

In my tyd, toegegee in die 1980’s, was ek een van drie bruin studente in my klas van 400 studente. My broerskind het tot 2017 aan Maties studeer, dus goed 30 jaar later. In haar klas was daar minder as 20 van die arm bruin studente vir wie die onderrigtaal behoue moet bly.

Die arm-bruin-student-verskoning is net dit: ʼn verskoning. UWK en UK, al twee veel meer inklusiewe spasies, het verkies om met hul taalbeleid meer mense in te sluit. En selfs toe die US se deure ferm gesluit was vir bruin en swart studente, was daai twee universiteite se deure oop vir die arm bruin plattelandse student, wat vinnig genoeg aangepas het in Engels.

Die hof het korrek beslis. Net jammer dat Afrikaners nie op hul eie tot die regte besluit kon kom nie. Keer op keer op keer moet inklusiwiteit van buite afforseer word.

Maar, vir die geharde eksklusiewe Afrikaanssprekendes: Moenie worry nie. Ek hoor Solidariteit bou ʼn Afrikaanse universiteit.

Ek wonder hoe welkom die arm bruin studente van die platteland daar gaan wees.

Lees ook:

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

Elders gesien: Wannie Carstens reageer op die Konstitusionele Hof se beslissing

  • 37

Kommentaar

  • Bettina Wyngaard, jy's reg jy sê 'n taal sterf uit as mense dit nie meer praat nie en al klaar praat mense nie meer Afrikaans nie; luister maar na die sepies. En hoekom sal Afrikaans mense uitsluit? Swart leerders daag by Afrikaanse skole op en eis om in Engels onderrig te word, nie Zoeloe of Venda of Xhosa nie maar Engels. Hoekom? Omdat die swartes (en bruines seker deesdae) dit so verkies en dis hulle volle reg maar hoekom moet Afrikaanssprekendes nou hulle taal (universiteite en skole) inboet om 'n swart (en bruin?) gier terwille te wees? Nog 'n ding; as jy dink hierdie land het 11 amptelike tale leef jy in 'n droomwêreld.

  • Eerlikwaar, ek begin net lees aan Betina se goed dan weet ek reerds hier kom dit. Kritiek, kritiek en weereens kritiek. Geen balans nie, wonder waarom skryf sy enigsins in Afrikaans.

  • Berdéhan Brand

    Dialekte en variante is ryk & beskrywend, sê ek net. Dit erbarm emotiewe gewaarwordinge wat standaardafrikaans nie altyd so mooi kan sê nie. Rou & skreiend.

  • Wonder of die skrywer by een van hierdie braaivleisvure aangesit het om te weet wat daar aangegaan het? Haar afsin of moet ek liewer sê haat van die Afrikanerkultuur kom telkens na vore in haar artikels. Sy toon ‘n gebrek aan insig oor moedertaalonderrig en wat dit vir die meeste Afrikaanssprekendes en ander nie- Engelssprekendes kan beteken. Die groep wat persentasiegewys die minste verteenwoordigers is onder die studerende jeug is juis die bruin studente. Solidariteit se Afrikaanse hoërinstellings sluit niemand uit op grond van ras nie. Baie swartes het al aan Sol-Tech studeer en kan vir hul ‘n eie lewe maak. Wonder wat sê sy vir Danie van Wyk die bruin opvoedkundige wat ook saam met Gelyke Kanse gestaan het. Dat die vlak van onderwys in ons land onder die nuwe bedeling dramaties gedaal het is ‘n feit. Om 30% te kry om in matriek te slaag is werklik ‘n skande en baie van hierdie swak uitkomste kan ook aan ‘n gebrek aan moedertaalonderrig toegewys word. Los maar Solidariteit en hul inisiatiewe uit. Hulle vra die belastingbetaler niks nie. Wonder hoeveel doen die skrywer om die armlastiges in haar omgewing op te hef.

  • Suid-Afrika Eerste Erdvark

    My beskeie voorstelle:

    1) skaf alle nasionale en provinsiale staatsdepartemente van onderwys summier af; en

    2) skaf die nasionale departement van Hoër Onderwys summier af.

    3) deel die totale jaarlikse staatsbegroting vir alle onderwys en opleiding, inbegrepe tersiëre onderwys, deur die somtotaal van alle skoliere en tersiëre opleiding studente gelykop vir gebruik deur die skoliere en studente in daardie jaar;

    4) die private sektor en die ouergemeenskappe moet dan self stelsels uitwerk vir hul kinders se onderwys en opleiding;

    5) op hierdie manier raak ons toenemend ontslae van die visielose, ondoeltreffende en oneffektiewe korrupte nanny-staat en ‘n “entitlement” onbetrokke ouergemeenskap.

    6) en op hierdie wyse sal die nek van sekere selfgesentreerde vakbonde gebreek word;

    7) en ouers sal moue moet oprol en betrokke raak indien hulle erns het met hul kinders se toekoms;

    8) en die goue reël sal geld: soort soek soort, en jy skei die wenners van die verloorders.

    En siedaar! Weg met al die verwyte van die verlede! Haal uit en wys ouers!

  • Barend van der Merwe

    Ek kan beslis meer as net hallo en totsiens se in 'n Afrikataal en ek verkies om mense se regte name te gebruik en nie hulle Europese name nie.

    Jy is nogals in 'n lekker gerieflike posisie waar jy links en regs klappe kan uitdeel. Ek kry nie die idee dat die mense wat blikkieskos in 1994 vergader het, spesifiek die mense is wat hulleself beywer vir Afrikaans by Stellenbosch nie. Dit lyk vir my meer na professore van die universiteit. Baie van hulle is begaan oor moedertaalonderrig en voel anders oor die waarde van moedertaal op universiteit as wat jy doen. Mense verskil maar oor die saak. Ek is self geen taalstryder nie, tog sien ek die waarde van moedertaal. Moedertale word wereldwyd ingespan van graad een tot PhD. Dit is net in Suid-Afrika waar ons ons moedertale minag en die resultate spreek vanself. Ek glo die staat moet homself beywer om mense ten minste tot en met graad 7 in moedertaal te onderrig.

    Die weer was ook bietjie ongier die laaste tyd so ek het nie veel by die brandewyn en braai uitgekom nie.

  • Ek is elke keer verstom oor die persoon se bydraes. Dit is gemaklik om "klappe en skoppe" uit te deel, terug te sit, en handjies te vryf en sê, "het julle, kry vir julle". My beskeie mening is dat daar van die skrywer 'n ongesonde afkeur in 'n sekere bevolkingsgroep is en dit maklik en gerieflik op die forum uitgekots word. Dit is mos maar soos die gesegde gaan dat dit 'n sprekende voorbeeld van die hand byt wat jou gevoed het. Daar is niks mee verkeerd om eksklusief in groepsverband te wees nie. Net die Afrikaner/boer/witte word daaroor verguis. Ek wil nie inklusief wees nie. Ek weier. Ek het my eie identiteit, kultuur taal en wat ook al. Ek dwing dit op niemand af nie. Ek respekteer ander groepe se menings en gebruike. Hoekom nou pertinent die Afrikaner se identiteit, kultuur en taal aanval verstaan ek ook nie. Dit kom vir my daarop neer dat jaloesie, afguns, neidigheid en onderliggende minagtiing van die sekere bevolkingsgroep mode is. Vind berusting en vrede in jou hart verstand en gemoed, en jy sal rustig lewe.

  • Onse Bettina. Soos gewoonlik vol stereotipes, oningelig, nydig en afgunstig teenoor Afrikaners en hul taal, en vol versluierde rassisme. Kan haarself nie help nie ...

  • Gustaf Claassens

    Sarkasties en suur. Dis die gevoel wat jy kry met die lees van hierdie artikel. En, dit kom al 'n ruk. Mens sal graag wil weet hoekom. Dis onnodig en die skrywer se aansien nie waardig nie. Dit daar gelaat.

    Feitlik gesproke sou mens verwag dat Bettina nie hierdie soort afgesaagde en oorvereenvoudigde argumente sou opper dat 'n taal nie Universiteite nodig het om te oorleef nie. Dis bloot moedswillig en net te gerieflik om elke keer hierdie oppervlakkige argument te gebruik. Lui selfs! Vakkundiges en taalkenners soos Prof. Theo du Plessis het al male sonder tal hierdie absurde argument aangespreek en met feitlike bewyse, hokgeslaan.

    Nicol Stassen van Protea Boekhuis (ek praat onder korreksie) sê in die verband "Geen taal kan sy volle potensiaal bereik of aanhou verwesenlik as hy op kunsmatige wyse by die hekke van die akademie gestuit word nie. Die dag wat Afrikaans nie meer as universiteitstaal erken word nie, verdwyn hy as vaktaal, as taal waarin jy oor voortdurende ontwikkeling en navorsing in die wetenskappe kan skryf. Die feit dat dit tans goed gaan, met die boeke en die flieks en die musiek en die TV, sê egter bitter min oor môre en oormôre, soos wat die Kerskalkoen jaar op jaar nét te laat besef. Die hede voorspel die toekoms nie.”

    Afrikaans as ‘n instrument van kommunikasie en draer van kultuur sal sonder twyfel erg geknou word indien hy sy status as onderrig taal op tersiêre vlak moet inboet. Soortgelyke navorsing bevestig dit. Adv. Chris Heunis het in ‘n vroeëre betoog oor die saak, en in verwysing na Stellenbosch, die volgende geldige punte oor Afrikaans as taal gemaak:

    * Dit sal met verdrag sy hoëre funksies verloor.

    * Dit sal ophou om ’n volwaardige wetenskapstaal te wees.

    * As daar nie meer ’n vooruitsig is dat Afrikaanssprekende skoliere in Afrikaans aan universiteite sal kan studeer nie, sal hulle ouers hul toenemend na Engelse skole toe stuur en Afrikaanse skole sal noodwendig ook in die proses tot niet gaan. (Dit, ongeag die feit dat dit bewys is dat leerders makliker ingewikkelde konsepte in hulle moedertaal snap. Ouers vergeet te maklik dat leerders of studente se prestasie negatief beïnvloed word omdat dit dikwels vir hulle moeiliker is om in Engels te formuleer – en dit geld meermale tot op doktorale vlak – my inskrywing)

    * Namate dit gebeur, sal ouers hul kinders toenemend vir skool voorberei deur Engels met hulle te praat.

    * So sal Afrikaans sy dood tegemoet gaan; langsaam maar onafwendbaar.

    * Afrikaans is ’n volwaardige wetenskaps- en onderrigtaal.

    * Daar is 26 universiteite in die land waarvan, soos ek gesê het, nog net die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Afrikaans as primêre onderrigtaal gebruik.

    * Daar is vier universiteite in die Wes-Kaap, waarvan drie uitsluitlik in Engels onderrig aanbied.

    * Daar is 560 skole in die Wes-Kaap wat in Afrikaans enkel- of dubbelmediumonderrig aanbied.

    * Die Universiteit Stellenbosch het ’n bewese vermoë om onderrig in Afrikaans aan te bied.

    * Dit is ’n onomstootlike feit dat studente wat voorgraadse onderrig in hul moedertaal ontvang, akademies beter vaar as studente wat nie in hul moedertaal onderrig ontvang nie.

    Mens hoef nie geniaal te wees om die meriete van hierdie argument te begryp nie al het die Konstitusione Hof met ‘n meerderheidstem daarteen gestem. ‘n Bietjie meer moeite en minder nyd sal help om die geldigheid van hierdie argument te ondersteun. Daar is talle kundiges en hoë profiel individue (verteenwoordigend vanuit ‘n breë sprektum van ons samelewing wat hierdie argument steun. Ek’s seker Bettina het haar reeds hiervan vergewis deur na die profiele van diesulkes op “Gelykekanse” se webwerf te kyk.

    Een van hulle is niemand anders nie as Breyten Breytenbach, ‘n ikoon in eie reg. Oor sỳ bona fides kan niemand twyfel nie. Miskien sal dit goed wees om met Breytenbach self af te sluit. Enersyds omdat hy ‘n hoogs gerespekteerde persoon van aansien regoor die wêreld is en andesyds omdat niemand anders op ‘n poëtiese manier beter uitdrukking kan gee oor iets wat as kosbaar geag word nie.

    In sy bundel “op weg na kû” maak Breyten Breytenbach 'n aanklag oor die toekoms van Afrikaans en hoe universiteite die taal salpeter. Hy stel dit so:

    "wanneer jy die moedertong
    in my mond laat verdor
    neem jy die wêreld weg
    verduister jy my geheue
    maak jy dat ek as vreemdeling
    en sonder ’n eie paar skoene
    die toekoms moet ondergaan

    Want vir 'n digter is die skryfproses intiem en verbonde aan 'n moedertaal met sy "mondmaniere". Anders word die digter 'n gefuikte papegaai wat gewoon pik-pik in 'n nabootsing.”

    By 'n ander geleentheid sê Breyten:

    " Ek wil my byna verstout om ook 'dankie' te sê namens die abbavaders en die oermoeders wat die taal in al haar uitinge en wysies en wyshede vertong en ge-mond het, en dit aan ons toevertrou het as 'n werklike (dalk die enigste) déélmakende gedeelde erfenis ..: die imams en die kapteins, die ballinge en die slawe en die smouse en die knegte en die kosters en die mynwerkers en die voormanne en die 'Afrikaners'... MER, Marais, Leipoldt, Jan Rabie, Piet Philander ... "

    ’n Mens kan nie wraak neem op ’n taal nie; jy kan wraak neem op mense; en jy sou kon wraak neem op mense deur hulle die geleentheid te ontneem om onderrig in hul moedertaal te ontvang, maar as dít deel van enigiemand se agenda is, dan word die noodsaak vir weerstand en verset soveel dringender en groter.

    Soos met meeste dinge in die lewe het ons keuses. Eerder as om jou te skaar aan die kant van hulle wat bloot lippediens aan Afrikaans bewys en as ‘polities korrek’ gesien wil word word (wat dit ookal beteken!), gooi ek my gewig in by Breytenbach en diesulkes. Dit voel reg, is regverdig en ‘n standpunt wat op stewige fondamente gebou is. Om sarkasties na Solidariteit se poging vir ‘n Afrikaanse Universiteit te verwys, laat mens wonder of Afrikaans nog enigsins ‘n prioriteit vir Bettina is. Afrikaanses het tot die besef gekom dat hulle nie hulle hoop kan vestig op Presidente en politici nie. Die tyd het duidelik aangebreek om self te begin doen en daarmee is reeds op groot skaal begin. Dis nie vreemd vir ons mense nie. Die geskiedenis is vol voorbeelde en as ons om ons kyk hoe boere hul medeboere in tye van nood bystaan (en talle ander voorbeelde) dan weet jy waar jy tuis voel en hoekom.

  • Johannes Comestor

    Dit is eienaardig dat die taal van die grootste koloniale en imperiale moondheid vir Wyngaard heeltemal aanvaarbaar is terwyl Afrikaans om politieke redes as verwerplik geag word. Die regering is glo nie teen Afrikaans nie. In die praktyk blyk telkens die teenoorgestelde. Dit is dit ANC wat die tussentydse Grondwet van 1993 in 1996 verander het sodat Afrikaans nie meer gelyke status met Engels het nie. Die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2016 die gelyke status wat Afrikaans as onderrigtaal tot in 2014 amptelik gehad het, vernietig. Wyngaard verwelkom die verengelsing van die US. Dit bevestig dat die bruin elite oor die algemeen dislojaal jeens Afrikaans is. Dit sou onwys wees om die toekoms van Afrikaans om demografiese redes aan diesulkes toe te vertrou.

  • Johann Basson

    Geagte Bettina,

    Ek lees op die Internet dat u in 1971 gebore is en beskik oor ‘n LL.B.-graad.

    Ek is ‘n 71 jarige volbloed kreool Afrikaner. Angela van Bengale en Krotoa was van my stammoeders.

    My vrae aan u:

    * Wat is die verskille tussen wit mense, witmense, bruin mense, bruinmense, swart mense en swartmense? En wat van geel mense (geelmense)?

    * Wat is ‘n Afrikaner?

    * Het u al ooit ‘n deeglike studie gedoen oor hoe die Engelse imperialiste tussen 1500 - 1910 andere in vele lande se menswaardigheid verguis het en smart, lyding en dood veroorsaak het, inbegrepe in Suid-Afrika? Wat was die impak van hul handelinge op die nageslagte? Vele van my voorouers het ook in die Nazi-kampe gesterf oor hulle van Joodse afkoms was. Hulle name is gedokumenteer en in my besit.

    Ek, kreool Afrikaner, wil leer uit mense en die mensheid se foute van die verlede, maar ek weier om ‘n slaaf te wees van die verlede. Daarvoor is hierdie lewe te kortstondig.

    As mede-regsgeleerde teenoor ander regsgeleerdes: ‘n onreg kan nie reggemaak word met ‘n nuwe onreg bloot omrede die meerderheid hul siening deur onregverdige wetgewing op minderhede wil afdwing nie.

    Die toekoms wink vir ons om ligte en sout vir die mensdom te wees. Daar is opbouende werk om met wysheid te doen. Laat ons handevat. Kreatiewe eerbare werk en werksaamheid is die manna vir menswaardigheid en selfaktualisering.

    ‘n Mooi week verder met alle opbouende projekte.

    Groetnis, Johann.

  • Hierdie rubriek laat 'n mens wonder waarom sy Afrikaans gebruik het om 'Troos vir die gebrokenes' 'Vuilspel' en 'Slaafs' in Afrikaans te skryf.

  • Liewe me Wyngaard. Ek vra nederig om verskoning oor my ongevraagde kommentaar soos in hierbo. Ek moes van beter geweet het om nie op jou skrywe te reageer nie. Ek sal in die vervolg my weerhou daarvan. Vrede vir jou.

  • Johan, ek hoop sy lees jou antwoord met n oop gemoed, anders gaan dot geen impak op haar maak nie

  • Wat voor een absolute ou Sannie Suurtiet!
    En hier dog ek in my globale onskuld dat almal wat Afrikaans praat en skryf dalk net raakvlakke deel wat kleur en kultuur transendeer.
    Dank die Genade dat ons hier in Namibië blootgewoon net Afrikaans praat (of ten minste probeer verstaan), al is jou van nou Hangula, Nujoma, Pohamba, //Xhagas, van der Merwe of !Ganeb. Vanne soos Kandjiriomuini, Tjingaete, Uazuvera en name soos Hifikipunja, Tjeripi en Veripi word geleer en ge-oefen net hoe om te sê en waar om die klem te lê.
    Party van ons vind dit wel moeiliker om Hough, Hasenjäger, Koffiekan, Schröder, Engelbrecht, Windwaai en Köhler na behore uit te spreek, maar ons lag daaroor, vat hande en 'workshop' informeel en vrolik verder aan ons verstaan-tog-net-mekaar.
    Op welke manier kan enige een van ons dan uitgesluit voel? Dit gebeur net as jy nie wil verstaan nie, nie wil uitreik nie, nie wil luister nie en nie wil saam bou nie. Dalk het party van ons allerhande vooropgestelde idees oor wie wie is, wat wat is en wie wat is?
    Engels is 'n fantastiese, ryke taal waarin ons werk, nuus luister en ons aan Donald en Boris verstom en flieks kyk en Google - en skande op die Afrikaanspraters wat nie Engels na behore kan besig nie - 'like in adapt or die', sê ek.
    Gewaande gewaardordinge van ekslusiwiteit werk nie vir my nie.
    Praat met my alvorens jy allerhande aannamens maak.
    Ek lief jou vreemde verskynsel - dalk het jy 'n punt beet, maar die boeg waaroor jy dit gooi laat my nek jeuk.

  • Hans Richardt

    Jan Marais gee in 1912 geld vir Het Jan Marais Nasionale Fonds om Afrikaans te bevorder aan US.
    Deesdae word hierdie fondse aangewend om beurse vir arm studente wat in Engels hul studies doen, te gee.
    Die ABO se voertaal was in Hollands en Afrikaans word in 1925 amptelik erken. Vir my is daar geen verband tussen ABO en Afrikaans nie. Noem dit maar net...

  • Hans Richardt

    Dit gaan nie oor ABO van vooraf veg nie, die vrae gaan oor Afrikaans wat benadeel is. Bv Jan Marais Nasionale Fonds was gestig om Afrikaans by US te bevorder.
    Sou die skrywer dan nie vrae gevra het as bv Rhodes-beurs by Universiteit van Kaapstad gegee was vir studies in uutsluitlik Afrikaans nie?

  • Koos, Bettina skryf net KRITIEK. Sy kan mos nou kom staan en huil as daar kritiek op haar kritiek is nie.

  • Johannes Comestor, jy slaan die spyker op sy kop daar en jou stelling "Dit bevestig dat die bruin elite oor die algemeen dislojaal jeens Afrikaans is" is in die kol. 'n Aantal jaar gelede was Dr Franklin Sonn moerig oor iets en kondig toe vir sy gesin af dat daar nie meer 'n woord Afrikaans in hulle huis gepraat gaan word nie. Kan jy jou indink dat Bishop sou ophou Engels praat oor hy kwaad is vir Theresa May? Dink ook na die stand van Afrikaans sedert Jonathan Jansen en Russel Botman.

  • Hans Richardt

    Jan Rap, vir gaan dit daaroor dat Jan Marais skenking gegee het in 1912 om Stellenbosch te bring van "kollege", na volwaardige universiteit, met voorwaardes dat Afrikaans gelyke kanse kry soos Engels.
    Die probleem is, dat bv Universiteit van Transkei verwaarloos was en dat geforseerde etniese almalgamasie nou beleid in SA is. Gelykheid kom net as jy bereid is om volgens regeringsbeleid te almalgemeer. Maw vryheid van keuse en assosiasie is nou toiletpapier werd. So ook gelyke taalregte.

  • Hans Richardt

    Ons wit Afrikaners stook nou soet papsak tot brandewyn en drink dit op ys. Vleis is te duur om te braai deesdae, so dis somner net saam kuier...
    Die Afrikaners in Vrystaat het deesdae wêreldkampioen Rum, so dis Rum en Coke...
    Bettina Wyngaard moet regte van vryheid van keuse en assosiasie tog beskryf.
    Of is daar menseregte wat nou geïgnoreer kan word as dit by wittes kom?
    In ABO was swart en bruin aan Britse kant. Maw hul het imperialisme gesteun en ook Engels. Waarom skryf Bettina dan nog nie in taal van imperiliste nie?

  • Gustaf Claassens

    Vleis is inderdaad duur en Rum dalk goedkoop in die Vrystaat, Hans. Ook baie waar dat vrywillige assosiasie onderspeel word in 'n wêreld wat wat aan 'n geforseerde 'gelykheidsvirus' ly. Net om in die praktyk te vind dat party meer gelyk is as ander. Mens noem dit skynheilige, politieke opportunisme. Dis hier te lande ook so. Soos, dat die tale ingevolge ons Grondwet gelyke status deel. Wanner dit 'grond toe kom' dan ervaar ons egter dat Ingels meer gelyk is as die ander. Stellenbosch die nuutste voorbeeld.

    Maar, dis ook waar dat talle swart-en bruinmense aan die kant van die boere geveg het tydens die ABO, Hans. Om pro Afrikaans te wees en ons saak te bevorder moet ons waak teen feite-foute. Ek sê maar net en glo jy stem saam.

  • Wyngaard, praat jy van die een waartydens die Brits - en Engelsgesinde kleurlinge die terugkerende Boere (wat hul bloed vir hul land en logieserwys hul taal gestort het) uitgejou het en bespoeg het en waartydens meer as 27,000 onskuldige boeremense (meestal onskuldige kinders [onthou jy vir Lizzie van Zyl?, ek's bly...] en vrouens) in die Britse moordkampe omgekom het, is dit die een waarvan jy praat?

  • Leopold Scholtz

    Al weer dieselfde ou holrug geryde argument: As jy vir Afrikaans is, is jy vir apartheid, uitsluiting en rassisme. Bettina, hoekom bodder jy nog om in die afskuwelike taal vir sy rassistiese sprekers te skryf? Skryf voortaan in Engels, mens!

  • Hans Richardt

    Leopold Scholtz, sy is net so erg soos Blade 🔪 Nzimande, wat Afrikaans wil "red" van verregse moedertaalsprekers, wie selfbeskikking en selfbestuur doen, deur hul eie geld te gebruik om Afrikaanse instellings te bou. Anders as wat Wyngaard glo, is dit nie wit Afrikaners monopolie kapitaal nie, maar 'n kollektiewe groep, wie met klein maandelikse bydrae dit moontlik maak.
    Sy kan gerus self dink aan arm bruines op platteland, waarom moet ons "verregses" nou ook aan hul dink, as hul eie niks met hul te make wil hê nie?

  • En hoekom is jou boeke nie na Engels vertaal nie? As ek jou reg verstaan mis jy mos nou uit op n groot, groeiende mark. Boonop lei ek af dat jy sommer self die vertaling kan doen en dan daarvandaan die opvolgverhale in Engels skryf.

  • Hans Richardt

    Ek wonder of die hofuitspraak oor "Boere se baasskap" gaan, soos Johnathan Jansen in Vrye weekblad beweer het en soos dit hier gesuggereer word?
    Al gedink daaraan, dat taal en kultuur saak van erns vir ons "wit verregses"? Eintlik wil ons net op ons eie wees en nie aan gekarring wil wees deur liberales nie. Per slot van sake, is dit ons eie arbeid, ons eie kapitaal vir selfbestuur vir ons eie instellings.
    Die liberale wat geforseerde etniese almalgamasie imperialistiese beleid onderskryf, doen dit tog uit vrye keuse.

  • Breyten Breytenbach

    Me Wyngaard: Mag ek my oogklappe vir 'n oomblik afhaal en sê, "u besig mos nou suiwer stront"?

  • Hans Richardt

    Breyten Breytenbach, lankal al geleer om nie tyd en energie te mors met chaos wat liberale veroorsaak nie. Ek neem liewer deel aan selfbestuur/selfbeskikking, deur Afrikaanse kollektief te steun. Dit het niks met ABO te make nie, dit gaan daaroor om nie slagoffer van voortdurende oglokrasiechaos by bv US te wees nie.

  • spook speurder

    LOL Astra, dit maak twee van ons.
    Jô Bettina, dis nou vir jou ‘n mondvol!
    Begin jy jou eie, nuwe hoofstuk van die Anglo-Boereoorlog, of die Bruin-Boereoorlog of die Armbruin-Boereoorlog of wat?
    Anders as Joseph Stalin (18 December [O.S. 6 December] 1878[1] – 5 March 1953) en Chairman Mao ( December 26, 1893 – September 9, 1976) ) was daai Boeremense vredeliewend. Hulle het dit nie nodig geag om te gaan skoor soek of om die lewe vir almal te wil gaan verander nie. Hulle het met mense rondom vredevol saamgeleef. Dat jy die regeringsagent Blade Nzimande se voorbeeld nie as problematies beskou nie is steurend. As jy bloot as wetsgeleerde arbitrer maar streng volgens jou gevoelens ‘n kant kies om te beskerm dan mors ek my tyd om jou rasioneel te wil beantwoord.
    As jy gekrenk oor iets is sê dit tog. Ons kan nie op die platvorm heen en weer gevoelvolle modder wil slinger en verwag om na geluister te word nie. Soapies hoort elders.

  • spook speurder

    Humor is die beste medisyne vir watse kwale? Die lewe?
    Blykbaar het Nero viool gespeel terwyl Rome brand, hier lag ons sommer almal saam, dis makliker en vry meer mees bevrydend as die drama bv. van ‘n sopie.
    Ma jy’s reg, dankie v d link. Ek sien daar's baie ander geleenthede daar, vir lag en stoei. My lewe blom verbete, liefie, ek lag met trane in my diepe oë, ice eitsch eitsa tog, my liefde vir jou!
    Was ons kultuur maar altyd die van 20 somethings en in die bed, saam, ja, maar nee, ons omgewing is ‘n ongelukkigheid, ‘n droewe tranedal van ons kultuur wat vernietig word en verder, deur die politici in die bed saam, en sonder ons, sommer, bepaal. Die krag van die afgod skep wat? Meer politici? Dit betaal goed.
    Beide die gereg en hoër opvoeding van die land en by die universiteite struikel en gaan nou onder hul donker hand van lig gebuk, geboggerd, vrek.
    Eerste gevrek is die soeke na goud, soos van ouds nie uit die aarde nie. Dis ook maar al vrek wat hul bewerk, vir ons.

  • Hans Richardt

    As dit gaan oor uitsluiting opgrond van taal, moet kritiek teen Engels as amptelike taal te loots. Daar is geen humor in diskriminasie en onderdrukking nie.
    Lusifi se geforseerde etniese amalgamasie beleid dmv van skoolplasings in Gauteng, dui op amptelike regeringsbeleid van wetlik geforseerde etniese almalgamasie imperialisme.

  • Ronée Robinson

    Ek is só moeg vir sulke sinnelose veralgemenings. Ek leer my Franse onderwysers van beide my Afrikaans en Kaapse Afrikaans. Danksy my dra sy t-hemde van VannieKaap. Genoeg met sinnelose, onnadenkende nonsens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top