Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit 'n US-tolk se perspektief

  • 9

Ek het Gelyke Kanse se aansoek by die hof teen die huidige US-taalbeleid met belangstelling, dog met min spanning, dopgehou. Die oggend waarop die Konstitusionele Hof beslis het dat die taalbeleid inderdaad nie ongrondwetlik is nie, het ek die nuusberig vlugtig gelees, skouers opgehaal en oudergewoonte 'n lesing gaan tolk. My skouerophaling was egter nie omdat ek nie omgee nie, maar eerder omdat die beslissing nie vir my verrassend of selfs besonder teleurstellend was nie.

Alhoewel die beslissing my nie teleurgestel het nie, is ek nie gaande oor die huidige (2016-) taalbeleid nie. Indien dit ongedaan gemaak sou word, sou my werk as opvoedkundige tolk by die universiteit wesenlik van aard verander: Ewe skielik sou ek Afrikaanse lesings tolk na Engels vir maklik 20 tot 40 studente, in plaas van die Engelse lesings wat ek tans tolk vir ten beste 'n handjievol Afrikaanssprekende studente. Ten minste vir 'n ruk sou dit vir my voel asof ek 'n kernagtige rol speel in vele studente se leerervaring. Dit sou vir my lekker wees; dit is lekker om 'n dosent te tolk wat in sy of haar moedertaal doseer; dit is lekker om deel te neem aan die interaktiwiteit en spontaneïteit wat soveel makliker ontstaan wanneer 'n spreker só uit die vuis kan praat. Dit is veral lekker om te voel dat meertaligheid regtig plaasvind, nie net sosiaal tussen studente nie, maar ook op akademiese vlak; dat vakkenners en taalkenners hulle saam bearbei om vir studente die bes moontlike toegang tot kennis te gee, in hulle eie tale.

Maar ek dink nie dat hierdie tipe meertaligheid bereik sou word bloot deur die huidige taalbeleid af te skaf nie. Voor die inwerkingtreding van hierdie taalbeleid in 2017 het werklike meertaligheid op die US nie enigsins meer geseëvier as nou nie. Ja, heelwat meer klasse het toe in Afrikaans plaasgevind, maar 'n groeiende meerderheid studente was Engels- of Xhosasprekend, en vir dié studente was dit vervreemdend om klasse by te woon waar hulle, ten spyte van dosente en tolke se beste pogings, nie dieselfde ervaring kon hê as hulle Afrikaanse klasmaats nie. Boonop verkies 'n groeiende groep Afrikaanse studente om in Engels klas te draf – die mees algemene argument wat studente noem ten gunste hiervan is dat die handboeke (en dus die vakterminologie) buitendien in Engels is. Baie studente hoop ook om eendag oorsee te gaan werk, of glo dat hulle kliënte eendag hoofsaaklik Engelssprekend sal wees. Dit is die grootste – en seker die hartseerste – rede vir waarom die huidige taalbeleid nie afgeskaf kan word nie: studente verkies dit so. Hulle dink dat dit tot hulle voordeel is om hoofsaaklik in Engels te studeer.

Gegewe die minderheid studente wat in Afrikaans wil studeer, maak dit prakties sin dat die universiteit die maklikste uitweg sal kies: om toegang tot alle lesings en leermateriaal in Engels te verskaf, met toegang tot Afrikaanse opsies waar dit prakties haalbaar is. Ek is hoegenaamd nie 'n regskenner nie, maar ek kan met die letter van die 2016-US Taalbeleid nie foutvind nie. Met die gees daarvan moontlik wel. Die oplossing, lê dus nie by 'n terugkeer na die vorige benadering nie. Daar is geen terugkeer nie. Die enigste manier waarop meertaligheid by die US daadwerklik kan seëvier, is as taal die erkenning en aandag gegee word wat dit toekom: nie as 'n hoofpyn vir administrateurs en beleidmakers nie, nie as 'n bron van twis onder studente en belanghebbendes nie, nie eens as 'n kerndeel van identiteit nie, maar as die grootste medium waardeur kennis oorgedra word. Taal onderlê alles. Taal is hoe ons verstaan, en dit is hóékom ons verstaan of nie verstaan nie. Goeie pedagogie behoort die hart te wees van die taalbeleid, en dit behoort te lei tot kreatiewe en aanpasbare oplossing waarbinne een taal nie voorrang geniet bo 'n ander nie, maar studente se beste belange voorrang gegee word.

Buiten tolking gee ek ook klas in akademiese geletterdheid by 'n paar fakulteite, in beide Afrikaans en Engels. Onder die Afrikaanse groepe tref dit my dat studente in die algemeen swak skryf, 'n kleinerige woordeskat het, en Engelse artikels swak in Afrikaans vertaal. Uiteindelik dien hulle Afrikaanse werkstukke in wat die indruk by my skep dat hulle nie hulle eie taal heeltemal magtig is nie. Tog, wanneer Afrikaanse studente kies om eerder in Engels te skryf, is die skryfstyl weer gereeld opvallend Afrikaans, is die woordeskat ewe beperk. Dit geld ook vir ander studente wat nie eerstetaal-Engelssprekend is nie – dit is duidelik dat hulle toegang tot betekenisoordrag meer beperk is, dat hulle nie oorsaak-en-gevolg gemaklik in Engels kan uitdruk nie, dat akademiese Engels wisselvallig baasgeraak word. My indruk is dat studente nou meertalig is slegs in die sin dat hulle twee tale ewe swak praat.

Dít is wat ons op voetsoolvlak sien: Studente dink by hulleself: “Oukei, ek is nie heel gewoond aan die baie Engels nie, maar ek het goed gedoen daarin op skool en al my boeke is in elk geval in Engels”, en dan dui hulle aan dat hulle verkies om in Engels te studeer. Soms werk dit inderdaad beter: 'n groeiende meerderheid dosente doseer nou in hulle tweede taal, en die verbasende voordeel hiervan is dat dit hulle dwing om stadiger te praat, om konsepte te herhaal, in plaas daarvan om die hoog-akademiese en vlot Afrikaans te gebruik wat soms bo 'n eerstejaarstudent se vuurmaakplek sou wees. Ewe skielik is klasse meer toeganklik, omdat die dosent sáám worstel met die taal.

Daar is ook heelwat nadele: Tweedetaal-Engelssprekende studente voel gereeld nie gemaklik daarmee om deel te neem in die klas nie. Dit is scary om jou hand op te steek en 'n vraag te vra voor honderde klasmaats as jy nie seker is daarvan dat jy jou ten volle sal kan uitdruk nie. Dit was nog altyd die geval vir Xhosa- en ander Afrikataalsprekers; nou is dit 'n werklikheid vir Afrikaanse studente ook. Andersyds, al word hulle aangemoedig om dit te doen, wil Afrikaanse studente nie graag in Afrikaans vrae vra nie, want dit sou hulle uitsonder voor hulle klasmaat as iemand wat “nie Engels kan praat nie” of dalk erger, as iemand wat 'n politieke punt probeer maak. Dus bly hulle eerder stil, en iets van die vreugde van die leerervaring gaan verlore.

Dosente is ook onseker oor hoe om die taalbeleid toe te pas en pas dit, ten beste, wisselvallig toe: Klasskyfies word gewoonlik na Afrikaans toe ook vertaal, maar dan is die terminologie daarin gereeld foutief, of die spelling is swak, of dit word eers dae later beskikbaar gestel. Dit is geen wonder dat studente dink dat dit tot hulle voordeel sou wees om eerder in Engels te studeer nie. Tog is dit ook nie dosente se skuld nie – hulle trap skrikkerig rondom taal, bewus van die polemiek daarrondom, en boonop is hulle hulpbronne beperk: Dit vereis tyd en besonder baie moeite om weldeurdagte leermateriaal in meer as een taal te verskaf; hiervoor behoort hulle ingrypende steun te ontvang.

Dosente interpreteer die toepassing van die taalbeleid ook verskillend: Sommige dosente verskaf kort opsommings van die klasinhoud in Afrikaans aan die begin of einde van 'n lesing, terwyl ander dosente kernkonsepte in Afrikaans herhaal. Studente wat saam klas bywoon se ervarings verskil dus: Afrikaanssprekende studente hoor die herhaalde konsep in Afrikaans – baie keer dan eers uitdruklik verduidelik, omdat die dosent self Afrikaans is – terwyl studente wat nie Afrikaans magtig is nie, slegs een keer die konsep aangetref het, en nou sit en luister na sinne in 'n taal wat hulle nie verstaan nie. Dit kan studente gegrief laat voel, en op hulle beurt voel dosente senuweeagtig omdat hulle sukkel om in almal se behoeftes te voorsien. Baie dosente kies bloot om die lesing geheel net in Engels aan te bied.

Afrikaans is 'n goedontwikkelde akademiese taal, maar min dosente, en nog minder studente, is daarvan bewus. Om in meer as een taal aan kennis blootgestel te word is 'n voorreg, nie 'n hindernis nie – konsepte wat baasgeraak word in meer as een taal, geniet voorrang in 'n mens se verstand. En uiteindelik gaan baie van hierdie studente se kliënte Afrikaanssprekend wees, iets waarvan hulle nie gewoonlik bewus is nie. Prokureurs, geneeskundiges, makelaars: 'n kliënt wil jou in sy of haar eie taal vertel van 'n seer knie, of van die probleme met 'n eksvrou/eksman, of die geld wat hy of sy skuld.

Soos die Gelyke Kanse-span ook tereg uitwys, ontbreek die werklike ontwikkeling van Xhosa as akademiese taal byna heeltemal. Die 2016-US Taalbeleid is hier versigtig: Dit sê dat die universiteit sigself daarvoor sal beywer (en vir meertaligheid in die algemeen) waar dit “redelikerwys uitvoerbaar” is. Ek kan verstaan dat die Konstitusionele Hof bevind het dat die US se huidige vertolking van wat prakties haalbaar is, billik is. Hoëronderwysinstellings ervaar druk van alle kante af, en om Xhosa werklik verder te ontwikkel sal baie meer geld en arbeid vereis as wat tans spandeer word. Weer eens voer ek dus aan dat die huidige taalbeleid getrou is aan die letter van die wet – maar dat dit meer kan doen, veel meer behóórt te doen, indien dit werklik studente se beste belange wil dien.

Dus is ek nie wesenlik teleurgestel deur die Konstitusionele Hof se uitspraak ten gunste van die huidige taalbeleid nie. Om terug te keer na die vorige taalbeleid, al sou dit net tydelik wees, sal groter ontevredenheid onder studente veroorsaak. Ek sou dit geniet om weer 'n menigte klasse na Engels toe te tolk, maar my genot is hier van geringe belang. Ek wil ook nie voel dat ek, en my tolkkollegas, alleenverantwoordelikheid dra daarvoor om te verhoed dat klasse ontaard in 'n Babelse verwarring nie. Ek wil deel vorm van ‘n toegewyde span, 'n span waarvan elke universiteitspersoneellid deel vorm, wat ditself daarvoor beywer om vir studente die heel beste meertalige en sinvolle opvoeding te gee. Ek wil saam dink aan oplossings – en daar ís oplossings. Sommige dosente stel reeds video’s van hulle lesmateriaal beskikbaar in twee tale, wat ons dan tolk. Intydse tolking na Xhosa behoort meer te gebeur. Lesinhoud, klasskyfies, toetse behoort in goeie akademiese Afrikaans en Engels beskikbaar te wees, en werk moet gemaak word daarvan om akademiese Xhosa uit te brei.

Só 'n ware meertaligheid vereis buitengewone moeite – moeite wat nie uitdruklik verplig word deur die taalbeleid óf die Grondwet nie. Dit vra baie van dosente en steunpersoneel, en selfs van studente; dit vra dat tyd en entoesiasme en kundigheid in die oortreffende trap hierin belê word. Tog dink ek dat dit noodsaaklike werk is as ons onsself werklik as 'n uitnemende universiteit wil bestempel, en daarom hoop ek van harte dat die universiteit hierdie moeite sal doen, al word dit nie wetlik daartoe verplig nie.

US gerekoloniseer

Gelyke Kanse: Afrikaans, die sondebok

Gelyke Kanse: ’n onderhoud met Philip Spies

Aanvaar Afrika(ans) aan die US

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?

  • 9

Kommentaar

  • Ons dom regses het in die vroeë 80's al gesê Afrikaans gaan verdwyn as dinge aangaan soos dit toe aangegaan het. Ons is wel kwaad maar nie ontgogel nie.

  • Andre Badenhorst

    Die skande van Stellenbosch: Verspeelde kanse om op nuwe manier 'n vars toekoms te skep.

    Mens noem dit, diplomaties gestel, administratiewe en akademiese luiheid, maar in werklikheid was dit domastrantheid. Dalk was my verwagtinge te groot. Dalk was dit maar net blote domheid van mense wat nou soos Pontius Pilatus hul hande in onskuld was.

    Nee Pontius, die Bestuur van Stellenbosch Uniformity, ons het almal gewaarsku. Op hierdie platform en op vele ander, maar daar is net geluister na die een kant. Oor en oor gewaarsku. Van oraloor en oor die hele politike en kleurspektrum, van voorheen vryheidsvegters tot konserwatiewes, van jong mense tot stemme uit die graf, maar stiksienigheid het die geseëvier. Skreiend was daar eenvoudig nie genoeg en behoorlike beraadslaging nie en die oorweldigende wense van hul eie konvokasie, 'n hele geskiedenis en kenniskapitaal van selfopheffing en antikolonialisme is bloot eenkant toe geskuif ter wille van die irrasionele sentimente van 'n paar militantes om te herkoloniseer. Die enigste kans wat multitaligheid en multikulturaliteit gestaan het, daarmee heen.

    "Cultural diversity is as necessary for humankind as biodiversity is for nature" - UNESCO in hul unversele verklaring oor kulturele diversiteit

    Dit was asof daar in 2016 die geleentheid aangegryp is om oorhaastig 'n beleid te implementeer wat hulle al lankal teen hulle politieke korrektheid en staatsgedienstigheid spreek: "Die geleentheid is nou hier, nou moet die Rubicon oorgesteek word. Ons moet net eenvoudig deurdruk." Hoe sê hulle? Jy kan 'n perd tot by die water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie. Soos Zuma het hulle die grense van die wet getoets deur die Stalingrad-opsie en op die kort termyn daarmee weggekom, maar daarmee die gees van demokrasie en kulturele leefruimtes vernietig.

    Nouja, die koël is deur die kerk en innovasie gebeur nou buite die sfeer van die toenemende versukkeldes. Die geskiedenis gaan oordeel en hy gaan hard oordeel.

  • Ria Hugo-Burrows

    Ek het hierdie artikel met belangstelling en later met waardering gelees. Was self vir 20 jaar senior dosent aan die US, maar met die voordeel van ewe vlot in beide Afrikaans en Engels te wees - en kon sonder om dit regtig agter te kom, 'n vraag in die ander taal antwoord en bloot voortgaan. My pa het gedurende ons kinderdae ons as gesin verplig om gedurende aandete slegs Engels te gebruik, al het hy het die Afrikanerdenke en -kultuur aangehang, maar sonder om die (destydse) ander landstaal minder aandag te gee. En ja, ek het toe my Ph D in Engels gedoen!

  • Ria Hugo-Burrows, jammer dat daar nie Engelssprekendes is wat jou pa se voorbeeld gevolg het nie (maw die gesin praat net Afrikaans met aandete).

  • Anna Weideman

    Die eentaliges doen hulself ‘n groot onreg aan. Dis vir my ‘n groot plesier as ek ‘n ding goed kan sê in Engels! Ek wens egter ek was méértalig en nie net tweetalig nie, soos baie van ons landsburgers. Jan Rap, ek ken baie mense wat so vlot is in Afrikaans dat jy nooit sou raai hulle is Engels nie. Komaan, jy weet dis so. 😀

  • Anna Weideman, twee van my beste vriende is Engels en jy sou dit nooit kon raai nie; hulle Afrikaans is soos joune en myne, aksentloos (definisie van 'beste vriende' is daardie met wie jy die meeste oor-en-weer kuier, eet, braai, brug speel, scrabble speel edm). Die rede hoekom hulle Afrikaans so goed is, is omdat hulle in 'n Afrikaanse omgewing gewoon en gewerk het en miskien het hulle ook 'n bo-gemiddelde taalaanleg en NIE omdat hulle ouers gevoel het dat Afrikaans so belangrik is dat hulle saans met ete slegs sal Afrikaans praat nie.

  • Tap du Plessis

    Goed en wel, maar die werklikheid bewys anders: Tuks het akkommoderend opgetree en is verengels, Kovsies is verengels, RAU is verengels, Puk het hoe lank nog?

    Kyk wat gebeur op skoolvlak - dieselfde. Ipv skole bou, lw waarvoor begroot is, moet Afrikaanse skole akkommoderend word om uiteindelik verswelg te word en te verengels.

    Lees maar Flip Buys se boek Die pad na selfbestuur en sien wat werklik aan die gebeur is. 21 Taalwetmatighede word identifiseer, om maar twee te noem: ’n wêreldtaal (Engels), vernietig kleineres en tweetaligheid lei tot eentaligheid. Lees gerus die res en besluit self sonder vooroordeel.

    Afrikaans is een van vier tale wat in die 20ste eeu kon moderniseer tot ’n volle hoërfunksie funksionele taal.
    Is die wilskrag en oortuiging daar vir die oorlewing van Afrikaans? Van owerheidsweë en polities kan geen erkenning verwag word nie. Slegs uit eie geledere sal die voortgesette groei en handhawing van die taal kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top