Om te twyfel

  • 9

Desmond Painter (Foto: Izak de Vries)

Hierdie is die eerste aflewering van ’n gereelde rubriek wat ek vir LitNet sal skryf, en dit laat my met ’n gevoel van vertwyfeling.

Nie omdat ek nie weet waaroor om te skryf nie. Dit is juis die probleem: ek het pasklaar idees oor allerlei, en ek is nie bang om hulle uit te spreek nie. Ek word daagliks deur Facebook se Memories-funksie herinner aan halfgebakte, voortydige en dikwels onregverdige menings wat ek deur die jare daar gedeel het. Gewoonlik getik in ’n vlaag van irritasie; dikwels aangebied in ’n toon van vingerswaaiende teregwysing.

Dit is natuurlik een van die kenmerke van die tyd waarin ons leef. Die afgelope dekades se revolusies in inligtingstegnologie en veral sosiale media het nie net bygedra tot ’n grootskaalse demokratisering van deelname aan openbare diskoers nie (alhoewel, dit is natuurlik ’n toenemend gefragmenteerde openbare domein, gekenmerk deur enklaves van eendersdenkendheid, kru identiteitspolisiëring, en ’n moraliserende politiek van beskaming), maar ook tot die relativering van die inhoud van diskoers. Wat is feit en wat fiksie? Wat is waarheid en wat leuen? Hoe besluit jy na wie om te luister, en wie om te glo, in die nimmereindigende lawaai van stemme?

Kom ons noem dit die era van die opinie. In ’n landskap waar tradisionele opvattings oor gesag omvergewerp is en almal met ’n slimfoon toegang het tot ’n platform – en meer nog, diesélfde platforms waarna die magtigstes onder ons, die Zilles en die Trumps, hulle ook wend – is die epistemologiese slagspreuk van ons tyd dalk inderdaad die ikoniese woorde van The Dude in die Coen-broers se kultusklassieke rolprent The Big Lebowski: “Yeah, well, you know, that’s just like your opinion, man ...”

Die relativering van voorskriftelike gesag en alle vorme van establishment, kerklik, polities sowel as wetenskaplik, is natuurlik op vele maniere aantreklik. Die idee dat ons vir onsself kan dink en besluit, en boonop die middele het om ons stem te laat opklink, maak van elkeen van ons ’n potensiële “meningsvormer” – of gee ons ten minste toegang, gewoonlik in die vorm van internetbemiddelde menigtes (mobs), abstrakte groepe wat tydelik gevorm word rondom een of ander politieke knelpunt of morele paniek, tot wat vroeër culture jamming genoem is: die omverwerping, verwerping en soms herontplooiing van outoritêre simbole, amptelike boodskappe en die betekenisse van woorde.

Terselfdertyd is ons uitgelewer aan opportunistiese misbruik van iets wat nie slegs die kulturele veralgemening van The Dude se individualistiese bravade is nie, maar ’n soort sistemiese relativisme: Facebook, Twitter, die kommentaarkolomme onderaan artikels en berigte wat aanlyn gepubliseer, gedeel en gelees word, moedig nie bloot gesprek aan nie, maar ’n gelykstelling van menings. En daarmee saam ’n radikale versplintering van die regulatiewe idee van die waarheid. Dit wat eers gewoon mistasting was, word ’n alternatiewe wetenskap. Dit wat eers net politieke of historiese leuen was, word alternatiewe feit. Dink aan die hardnekkigheid van menings dat inentings by kinders kousaal verbind kan word aan outisme. Dink aan Donald Trump ... Of Helen Zille se stellings oor kolonialisme en Steve Hofmeyr s’n oor apartheid.

’n Mens sou Thabo Mbeki, wat in die middernagtelike ure op die internet afwykende sienings oor MIV ontdek, dalk nog as ’n slagoffer van hierdie tendens kon sien, maar wanneer Donald Trump verwys na “fake news”, weet jy hy het dit reggekry om van die waarheid as sodanig ’n retoriese figuur en ’n politieke speelbal te maak. Is ons in die era van die opinie inderdaad, soos baie beweer, postwaarheid?

’n Mens moet versigtig wees vir reaksionêre response op hierdie wilde weste van wedersyds antagonistiese menings en die relativering van waarheid. Die neiging is te dikwels om simplisties terug te verlang na ’n era van kundigheid, van oorgelewerde gesag, van duidelike hiërargieë van kennis en opinie; en om terug te val op onkritiese beskouings van die wetenskap, liberaal-demokratiese instellings en praktyke, en die tradisionele media. So asof die intense era van maatskaplike kritiek – dekolonialisering en feminisme, marxisme en postmodernisme, en so baie ander – niks bygedra het tot ons morele en politieke verbeelding nie behalwe om die teelaarde te skep vir die relativisme van ’n Trump.

Dit bring my terug by my vertwyfeling. Wat is die doel van ’n rubriek soos hierdie? Om ook mý mening te lug? My stem te voeg by al die ander stemme wat daagliks gehoor word? Om ’n mediaprofiel te bou? (Want selfs die universiteite besef húlle kennisbronne, die professor met sy navorsing, die artikels en die patente, moet bemarkbaar en mededingend gemaak word.) Of is dit om myself te vestig as ’n soort arbiter van die waarheid binne die grense van die vakgebied waarin ek grade en ’n akademiese posisie het?

Nee. Alhoewel ek nie meegesleur wil word deur die gelykmakende stroom van opinie nie, wil ek ook nie ’n intellektuele wetgewer wees nie. My doel hier is nie om waarheid te onderskei van leuen, feit van fiksie nie. Ek wil eerder getrou bly aan my vertwyfeling, dit as kritiese bril dra. Eerder as om te onderskei tussen regte en verkeerde antwoorde op vrae, wetenskaplike teenoor kwasiwetenskaplike oplossings, wil ek wonder oor die vrae wat ons vra – waar hulle vandaan kom, wie hulle vra, en in wie se belang hulle, wetenskaplik sowel as kwasiwetenskaplik, gevra en beantwoord word.

Is die rol van die kritiese bewussyn dan nie by uitstek om die historiese en ideologiese aard van wat bestendig, en veral natuurlik, skyn te wees, te dissekteer nie? Om die vloeibaarheid en onvoltooidheid van die wêreld rondom ons, dit wat soms ons mees vertroude waarhede skyn te wees, raak te sien nie?

Om te twyfel.

  • 9

Kommentaar

  • albert cruywagen

    Om te twyfel kan 'n reusebydrae lewer tot 'n positiewe uiteinde ... as mens intens daaraan werk.

  • André Badenhorst

    Baie dankie Desmond vir jou stem wat deurkom (sedert lanklaas). As dit werklik jou eie is (wie s’n is?), dan kan ek nie wag vir die opvolgende sarsie van woordidees nie. Maak dit die doel: Om jou stem bloot te stel (ook aan kritiek). In die idioom van die nuwe wêreld en ter wille van (ons almal se) groei.

  • Ja ons moet dissekteer en kan onderskei tussen fopnuus en die waarheid. En ons almal twyfel soms oor iets. Maar die internet en veral geslote groepe is ongenaakbaar en soms wreed. Hoekom sal enigiemand hom of haar gereeld wil blootstel aan ongeoorloofde kritiek wat dikwels ad hominem aanvalle en fopnuus insluit?

  • Gustaf Pienaar

    Ek verskil so ietwat van die skrywer. As juris het ek my hele loopbaan gebou om 'n soeke na "waarheid". Dit is immers waarom elke hofsaak waarby ek gedurende my loopbaan betrokke was, gedraai het. Dit het onlosmaaklik deel van my wese geword. "Absolute waarheid", weet ons as juriste, is dikwels 'n onhaalbare droom. Daarom werk ons in siviele gedinge met konsepte soos "op 'n oorwig van waarskynlikhede" en - by strafgedinge - "bo redelike twyfel", as bewysmaatstawwe. Nie perfek nie, maar goed genoeg. Nog nooit vantevore in my lewe het ek meer getwyfel oor wat waar is en wat nie - veral mbt ons geskiedenis. Dit is egter van kardinale belang in, byvoorbeeld, die huidige debat oor grond. Ons móét weet, en ons moet almal leer om saam met bewese waarhede saam te kan leef - al is dit aan die hand van die "ligter" maatstaf van 'n oorwig van waarskynlikhede. Dalk moet 'n nuwe WVK - byvoorbeeld oor grond - in die lewe geroep word?

  • ... wil ek wonder oor die vrae wat ons vra – waar hulle vandaan kom, wie hulle vra, en in wie se belang hulle, wetenskaplik sowel as kwasiwetenskaplik, gevra en beantwoord word.
    Klink vir my soos 'n idee wat 'n prikkelende reeks gesprekke by Woordfees 2019 kan word.

  • Kan jy nou meer, Desmond. Ek twyfel partykeer oor my tuisgebak by die kerkbasaar, maar die mensies verslind my baksels voor die voet.

  • Vir die natuurwetenskaplike is daar myns insiens grade van twyfel. Oor wette soos die van Newton en Faraday word min getwyfel. Hulle effekte kan waargeneem word en word trouens elke dag gebruik. In my geval is daar meer onsekerheid oor goed soos swaartekragkolke, ens.

    In die wêreld van die geesteswetenskaplike is daar meer onsekerhede en meer ruimte vir verskillende opinies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top