
Foto: https://www.sun.ac.za/Home.aspx
Die DA en Studenteplein se hofaansoek teen die Universiteit Stellenbosch (US), die US Raad en die US Senaat ("die respondente") is op Maandag 15 Augustus 2022 in die Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. Die hofaansoek (wat op die dag van die verhoor aangepas is) is gebring vir 'n hofbevel om:
- Ingevolge artikel 172(1)(a) van die Grondwet van Suid-Afrika te verklaar dat die besluite van die US Senaat en sy komitees in die vier semesters in 2020 en 2021 om af te wyk van die bepalings van die US Taalbeleid (goedgekeur op 22 Junie 2016) en om veranderinge aan te bring aan die fakulteite se Taalimplementeringsplanne, ongrondwetlik, onregmatig en 'n skending van die 2016-Taalbeleid is.
- Ingevolge artikel 172(1)(a) van die Grondwet, die respondente te beveel om te voldoen aan die US se taalbeleid (goedgekeur op 2 Desember 2021) wanneer besluite geneem word oor die taal van onderrig van individuele modules.
- Die respondente te beveel om die applikante se koste te dra, insluitende die koste van die twee advokate.
Die Universiteit verwelkom die Hooggeregshof se uitspraak dat die Senaat (en sy komitees) nie die taalbeleid oortree het soos beweer is nie, en dat die verklarende versoek – wat 'n bevel aangevra het dat die Senaatsbesluit en veranderinge aan die fakulteite se Taalimplementeringsplanne as ongrondwetlik, onregmatig en 'n skending van die 2016-Taalbeleid verklaar word – van die hand gewys word. Verder verwelkom die Universiteit ook die feit dat die versoek om 'n bevel wat die Universiteit opdrag gee om aan paragraaf 7.4.4 van die Taalbeleid te voldoen, wegval gegewe die bovermelde konteks en die verklarende bevel wat van die hand gewys is.
Regter Cloete se uitspraak bevestig die US se deurlopende standpunt dat daar geen afwyking van die Taalbeleid (2016) was nie, maar wel gekonsulteerde en goedgekeurde veranderinge aan sekere taalreëlings van sekere fakulteite. Die US se Taalbeleid (2016) het volledig hiervoor voorsiening gemaak.
Die uitspraak dien ook as bevestiging dat die Universiteit in goeie trou opgetree het tydens die Covid-19-pandemie toe verskeie sektore, ook universiteite, baie vinnig nuwe werkswyses moes vind en noodmaatreëls moes tref. Die uitdaging en impak van die reuse akademiese skuif om in Maart 2020 binne ʼn kort tydperk alle kursusse aanlyn aan te bied, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Omdat 'n groot hoeveelheid bykomende aanlyn materiaal ontwikkel moes word met die byna onmiddellike en volledige skuif van residensiële na aanlyn onderrig te midde van ʼn nasionale inperking, het die werkslading buitengewone druk op dosente geplaas. Dit sou bykans onmoontlik wees om van dosente te verwag om in die betrokke omstandighede steeds alle nuwe leermateriaal in Afrikaans en Engels beskikbaar te stel.
Leermateriaal wat reeds in Afrikaans bestaan het, is egter steeds aan studente verskaf. Etlike Engelse podsendings is ook na Afrikaans vertaal en assesserings was in Afrikaans en Engels beskikbaar. Dosente was ook ten sterkste aanbeveel om die Taalsentrum se dienste te benut.
Die US se doelwit is nou, nadat alle Covid-19-inperkingsreëls opgehef is en alle studente en personeel uiteindelik na die kampusse toe teruggekeer het vir volledige kontaklesings en tutoriale en onderrig in die lesinglokale, om te verseker dat ons ons werksaamhede en aktiwiteite op ons onderskeie kampusse so gou moontlik hervat en dat daar ʼn goeie en produktiewe oorgang sal wees van dít waaraan studente en personeel noodgedwonge in 2020 en 2021 oor 'n afstand en aanlyn gewoond moes raak, en dít wat nou weer vir die Universiteit as 'n residensiële universiteit van gehalte moontlik en belangrik is.
"Met die verwydering van die streng maatreëls vir sosiale afstandhouding en ander regulasies wat met Covid-19 verband gehou het, en noudat ons na volle aangesig-tot-aangesig leer en onderrig in die klaskamer kan terugkeer, fokus die Universiteit daarop om te verseker dat die 2021-Taalbeleid ten volle geïmplementeer word ingevolge die Taalimplementeringsplanne van fakulteite en verantwoordelikheidsentrums. Ons beweeg deur die Taalbeleid saam vorentoe in die bevordering van meertaligheid binne ons instelling," sê prof Deresh Ramjugernath, Adjunk-Visekanselier: Leer en Onderrig.
Klik hier om die volledige uitspraak te lees.
- Lees ook ander artikels in LitNet se universiteitseminaar hier.
Kommentaar
Ek neem US nie kwalik vir hulle taalbeleid nie. Hulle word gedryf deur raspolitiek en hulle argumente is vervelig. Wie ek wel verkwalik is die Afrikaanse studente wat aanhou by US studeer ten spyte van hulle anti-Afrikaanse agenda. Die meeste Afrikaanse studente gee nie genoeg vir hulle taal om om die universities te boikot nie.