Universiteitseminaar: Guerrillas en die universiteit wat moet kom

  • 10

Foto van Johann Rossouw: verskaf; foto van agtergrond: https://pixabay.com/photos/spring-school-study-line-paper-1611531/

’n Voordrag is op 13 Oktober 2022 deur Andrew Nash by die Toyota US Woordfees gelewer. Hier is ’n skakel na die artikel wat op LitNet verskyn het:

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Anton van Niekerk het op Andrew Nash se artikel reageer. Hier is ’n skakel na sy reaksie:

Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"


Johann Rossouw reageer nou hier onder op bogenoemde artikels:

In Julie 2018 val die groot voorreg my te beurt om Istanboel, asook Thessaloniki, Véroia, Kozani en die Heilige Berg Athos in die noorde van Griekeland te besoek. Onder vele van die indrukke wat my van hierdie reis bygebly het, is ek opnuut herinner aan een daarvan by die lees van Andrew Nash en Anton van Niekerk se opstelle oor die verval en vervlakking van die eietydse universiteitswese, naamlik hoe die feitlik-totale afwesigheid van Engels op bogenoemde plekke daartoe bydra dat die inwoners van daardie plekke ’n eiesoortige bydrae tot die eietydse kunste, godsdiens en denke gevoed deur eeue-oue, steeds lewenskragtige tradisies kan maak.

As Afrikaner wat hart en niere verbind is tot dit wat my eie taal, kultuur en plekke onderskei, was my ervaring in bogenoemde plekke, maar ook op ander plekke waar dié soort van ding belangrik is, dat ek en die mense daar baie vir mekaar te sê het en spontaan bande kon smee en vorme van samewerking kon aanpak – die soort van dinge wat in die eietydse universiteitswese gekategoriseer (en gekoloniseer) word onder die term internasionalisering. Natuurlik is Engels soms ook in dié kontekste van waarde, maar ewe dikwels kon dit ook geskied deur medium van Frans of, les bes, Afrikaans self. So het dit gekom dat my eerste uitnodiging na en deelname aan ’n internasionale konferensie (gedurende Julie 2008) te danke is aan ’n lang opstel oor Bernard Stiegler wat ek op LitNet gepubliseer het, en wat deur twee Vlaamse filosowe raakgelees is, nadat ek die voorafgaande dertien jaar geweier het om akademiese werk in Engels te publiseer, of in enige geakkrediteerde akademiese tydskrif in Engels te publiseer.

.............
Hierdie dinge meld ek as getuienis uit my persoonlike ervaringsveld dat ’n lewe van saamdink en saamskep búíte die verstikkende matriks van “uitnemendheid,” soos deur Nash en Van Niekerk ontleed is, heeltemal moontlik is – ondanks alle korporatiewe en bestuurspropaganda tot die teendeel waaraan enorme tyd, energie en bronne aan die meeste eietydse Suid-Afrikaanse universiteite bestee word.
................

Hierdie dinge meld ek as getuienis uit my persoonlike ervaringsveld dat ’n lewe van saamdink en saamskep búíte die verstikkende matriks van “uitnemendheid,” soos deur Nash en Van Niekerk ontleed is, heeltemal moontlik is – ondanks alle korporatiewe en bestuurspropaganda tot die teendeel waaraan enorme tyd, energie en bronne aan die meeste eietydse Suid-Afrikaanse universiteite bestee word. Hieronder sal ek terugkeer na hierdie persoonlike ervaringe van wat ’n universiteit behoort te wees, ten einde verder te probeer dink saam met my twee vakgenote oor watter alternatiewe vandag ontgin kan word om, wel, die universiteit te bevry van hierdie koloniale seekat wat dit so moeilik maak om op kampus asem te haal. Vir eers meld ek kortliks waaroor ek met Nash en Van Niekerk saamstem, en waaroor ek van Van Niekerk verskil.

Ek is dit roerend eens met my twee vakgenote dat:

– kapitaal en tegnokrate die eietydse universiteitswese gekaap het, wat miskien nêrens duideliker gedemonstreer word nie as in die opstelling van universiteitsranglyste, en in universiteite se vulgêre najaag van ’n beter plek op die lyste;

– Afrikaans as akademiese taal onder druk verkeer weens die rol van die ranglyste (Nash)

– die mismaakte vorm wat uitnemendheid aangeneem het, Suid-Afrikaanse akademici plaas in ’n posisie van nuwe koloniale onderdrukking waar ons waarde gemeet word aan die aansien wat ons sou geniet in ryker lande soos die VSA of Brittanje;

– geen Suid-Afrikaanse rektor aan ’n openbare universiteit vandag die moed het om “uitnemendheid” en die ranglyste die rug na te keer nie (Van Niekerk).

Waar ek van Van Niekerk verskil, is oor sy enigsins vreemde aanbieding van die taalkonteks waarin Afrikaans sig vandag aan die Universiteit Stellenbosch bevind – vreemd omdat terwyl hy met Nash saamstem dat die verwording van die ideaal van uitnemendheid die gevolg van die bewuste toepassing van die paradigma van die mark op die universiteit is, hy hom oënskynlik nie sover kan bring as om uit te wys dat die situasie van Afrikaans aan die US vandag eweneens die maaksel van hierdie paradigma is nie. Dit is byvoorbeeld al male sonder tal uitgewys dat die US ’n keerpunt bereik het toe in die laat jare negentig ’n bewuste besluit geneem is om Engelse studente aktief te werf, net soos die besluit onder die rektorskap van Chris Brink om ’n hoër plek op die ranglyste na te jaag ’n verdere keerpunt was. Wat in feite daar gebeur het, is dat die US, toe dit kon kies om die geskiedkundige uitsluiting van bruin Afrikaanstaliges ongedaan te maak en so voort te bou op die groot plaaslike bydraes van sy voorafgaande geskiedenis, eerder gekies het om ’n Thatcheristiese, Engelse markuniversiteit te word. Dit is goed en wel vir Van Niekerk om aan te voer dat in die jaar 2022 is daar eenvoudig demografiese en ander werklikhede waarmee dosente aan die US “pragmaties” moet omgaan, maar vir die rekord is dit belangrik om te boekstaaf dat hierdie werklikhede geskep is deur harde keuses en strategieë.

..............
Dit is goed en wel vir Van Niekerk om aan te voer dat in die jaar 2022 is daar eenvoudig demografiese en ander werklikhede waarmee dosente aan die US “pragmaties” moet omgaan, maar vir die rekord is dit belangrik om te boekstaaf dat hierdie werklikhede geskep is deur harde keuses en strategieë.
.................

In dié verband bly dit ’n pikante ironie dat terwyl dit tydens die Mandela-presidensie geensins vanselfsprekend was om te kies vir ’n Engelse markuniversiteit nie, aanhangers van die Engelse markmodel aan die US voorstanders van “’n vaste plek vir Afrikaans” aan die US bly beskuldig daarvan dat hulle die mense is wat onnatuurlike en onvolhoubare keuses maak – so asof die keuse vir ’n Engelse markuniversiteit natuurlik en volhoubaar is. (Ek kan nie help om te wonder of die hoofrede waarom “Stellies” in 2022 die nuus gehaal het, naamlik urine-insidente onder die invloed, kanariekleurige seine in die myn is nie, maar ek laat dit aan die leidende ligte van kritiese rasteorie oor om hierdie saak te ontsyfer. Ek is veels te veel van ’n oudoos-Platonis oor die kop geslaan met die Goeie, die Ware en die Skone om die semiotiek van suipende oopgulpstudente te verstaan – wat nog te sê van waarom ’n beweerde verkragting daar op “Stellies” stil-stil uit die nuus verdwyn het, terwyl die urinereuk net nie wil weggaan nie.) 

Maar nou ja, “Stellies” het sy bed opgemaak, die koeël daar is deur die kerk – sowel vir ware uitnemendheid as vir Afrikaans – en dit sal nie help om krokodiltrane te stort oor wat alles daar kon wees nie. Dis veel sinvoller om te dink oor wat vandag nog oor die algemeen binne die eietydse Suid-Afrikaanse universiteitswese gedoen kan word om ware uitnemendheid, akademiese integriteit, skeppendheid, nuwe bondgenootskappe en die bou van studente se karakters te bevorder.

.............
Maar nou ja, “Stellies” het sy bed opgemaak, die koeël daar is deur die kerk – sowel vir ware uitnemendheid as vir Afrikaans – en dit sal nie help om krokodiltrane te stort oor wat alles daar kon wees nie. Dis veel sinvoller om te dink oor wat vandag nog oor die algemeen binne die eietydse Suid-Afrikaanse universiteitswese gedoen kan word om ware uitnemendheid, akademiese integriteit, skeppendheid, nuwe bondgenootskappe en die bou van studente se karakters te bevorder.
...............
  1. Soos veral Nash se opstel bevestig, is daar nie so iets soos ’n universiteit sonder ’n ideaal nie. Die probleem met uitnemendheid is dat dié ideaal aan die eietydse universiteit so verword het dat ware opvoeding, integriteit, karakterbou, verbeelding, skeppendheid, en dies meer alles aan die soort universiteit onder enorme druk verkeer. Eweneens veroorsaak dit groot wrewel onder akademici, en ’n toenemend-onoorbrugbare kloof tussen die bestuurskader(s) en die akademici. En, belangrik, diegene wat hulle in bestuursposte vanaf dekaansvlak en hoër begeef, is al hoe minder akademici wat tot ware uitnemendheid verbind is. In die naam van groter doeltreffendheid word universiteite dus al hoe ondoeltreffender, want watter organisasie kan na wense presteer as die bestuurslui en die res van die werknemers vir totaal uiteenlopende ideale werk?
  2. Vir hoe lank dit nog so sal wees, is ’n ope vraag, maar tans is die akademiese departement nog selfstandig en onafhanklik genoeg dat dit wel ’n ruimte vir die najaag van ware uitnemendheid kan wees. Om dit moontlik te maak, is daar bepaalde voorwaardes, naamlik dat die betrokke departement as geheel kies vir ware uitnemendheid, dat hierdie ideaal (soos die wysheidsideaal in Plato se Faidrus) die kollegas van die departement voer na ’n hoër en groter geheel as die individuele lede van die departement, dat die departement verbind is tot ’n spesifieke paradigma in hul vakgebied, dat die departement daarna streef om die plaaslike en die globale voortdurend met mekaar te bemiddel (en nie die een bo die ander te stel nie), en dat die departementshoof deugsaam moet wees en doen wat menslik moontlik is om onderlinge harmonie en die individuele florering van elke kollega te verseker. Wanneer dit gebeur, word die departement as’t ware ’n universiteit téén die verworde universiteit van valse uitnemendheid en bedenklike ranglyste.
  3. So waardevol en betekenisvol as wat die strategie onder punt 2 kan wees, het dit sy beperkinge, waaronder die vernaamste die volgehoue stryd teen die koloniserende ideaal van “uitnemendheid” en ranglyste wat deur die bestuur bedryf word. Die stryd is nie sinloos nie, maar dit is noodwendig ’n soort akademiese guerrilla-oorlog waarin die imperiale magte soms betekenisvolle neerlae ly, maar altyd oor genoegsame bronne beskik om die guerrillas weer in nuwe hoeke in te jaag. Daarom is die opsoek van alternatiewe so noodsaaklik. Hier verwys ek na twee alternatiewe wat al hoe belangriker in die SA konteks word, naamlik die gemeenskapsuniversiteit, wat Akademia byvoorbeeld voorstaan, en die moontlikhede wat eietydse inligtings- en kommunikasietegnologieë bied om ’n wyer publiek te bereik. ’n Platform soos LitNet het byvoorbeeld in hierdie verband oor meer as twee dekades ’n absoluut-wesenlike baken van opvoeding, skeppendheid, verbeelding en grondige debat in SA geword. Salig sy diegene wat die voorreg het om reeds voltyds in diens van hierdie twee soorte alternatiewe te staan; en wys sy die guerrillas aan die eietydse universiteit wat daarvandaan saam met hierdie twee soorte alternatiewe werk en dit help uitbou. Soos wat die kloosters aan die kennis, die denke en die wetenskap ’n heem gebied het in Wes-Europa ná die val van die Romeinse Ryk in 476, en uiteindelik geboorte geskenk het aan wat tot vandag toe die vernaamste Europese universiteite is, so is hierdie alternatiewe die nuwe kloosters van ons tyd waar ware uitnemendheid bedryf word – en hulle potensiaal vir die openbare disseminasie van kennis, wetenskap en denke is in verhouding veel groter as dié van die Middeleeuse kloosters.
  4. ’n Opmerking oor Afrikaans as akademiese taal, wat teruglei na die inleiding van hierdie opstel – in die inleiding het ek probeer aandui hoe kontekste waarin Engels nie ’n groot teenwoordigheid geniet nie, juis ook kontekste is waarin die neo-koloniale ideaal van valse uitnemendheid en ranglyste nog nie so ’n stewige vastrapplek gekry het nie. Andrew Nash is heeltemal reg as hy sê dat hy ook die Engelse taal teen hierdie virus wil beskerm, maar ironies genoeg is dit in ’n sekere sin makliker om dit in ander tale as Engels te doen, omdat Engels die vernaamste taal van valse uitnemendheid en ranglyste is. Anders gestel, die doelbewuste keuse om in Afrikaans en ander tale te werk, in jou moedertaal waarmee die wêreld in die eerste plek vir jou geopen is, is per definisie om die koloniste se suurstof te verminder. Dit is waarom die groot Ngũgĩ wa Thiong’o tydens ’n Afrikadag-lesing aan die Universiteit van die Vrystaat sowat tien jaar gelede verklaar het die antwoord op al ons vrae is: “Die wêreld begin by die huis.” Ngũgĩ het sy stelling toegelig deur studente aan te moedig om ander tale as hul eie aan te leer en ook in daardie tale in ander kontekste as hul eie te gaan studeer. Máár, het hy bygevoeg, die sin van dit alles staan of val by die mate waartoe dit wat studente in en deur ander tale insamel, deur daardie studente terug na hulle eie taalwêrelde vertaal kan word, oftewel, om die wêreld ook huis toe te bring.

’n Laaste, persoonlike verwysing (want as die werklikheid toenemend soos ’n gestig funksioneer, is die persoonlike ervaring dikwels ’n laaste bewys van vryheid, wysheid en waarheid). Toe ek onlangs uit guerrilla-oorwegings aansoek gedoen het vir die (volkome absurde) hernuwing van my gradering as navorser deur een van die bastions van die valse ideaal van uitnemendheid, naamlik die Nasionale Navorsingstigting, is ek deur die beoordelaars van my aansoek verkwalik dat ek te min in Engels publiseer (en per implikasie te veel in Afrikaans), met die verdere misplaaste kommer dat ek daarmee my akademiese loopbaan skaad.

Ek het dit vertolk as ’n enorme kompliment – en ’n welkome bewys dat die virus van valse uitnemendheid nog nie in my bloedstroom beland het nie.     

  • Johann Rossouw, professor in filosofie, Departement Filosofie en Klassieke, Universiteit van die Vrystaat

Lees ook:

Tegniek en Republiek: Wisselende vryheidsbegrippe in Afrikaner- en Suid-Afrikaanse politiek

Bernard Stiegler se teologie van skrif en die disoriëntasie van Westerse moderniteit

Die industrialisering van mimese: In gesprek met die denke van René Girard en Bernard Stiegler oor outomatisering

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Persverklaring: StudentePlein oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak

Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid

Reguit met Robinson: Is transformasie bloot ’n mooi woord vir die US?

Theuns Eloff: Aftakeling van Afrikaans as akademiese taal universiteite se eie skuld

Leon Schreiber oor US en Afrikaans

BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

Universities South Africa [USAf] colloquium: "The challenges in the implementation of the new language policy"

DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education

Die US se tweede konseptaalbeleid van 2021: Maskerspele, of groeiende paleisrevolusie?

Is Afrikaans aan die US ’n spyker ryker in haar doodskis?

Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC

Response to letter of Dr Smith

US-taaldebat 2021: Die wat en waarom van die Maties-Taalbeleid

Listening, not squabbling, builds academic communities

Wat verdedig ons? Die Afrikaanse kampus as fabriek

Luister bo kibbel bou inklusiewe akademiese gemeenskappe

Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

US-taaldebat 2021: Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

  • 10

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Maties is nie "Stellies" nie, asb. Soos Tukkies nie "Pretties", Kovsies nie "Bloemies", Pukke nie "Potties", Witsies nie "Joheys" en Ikeys nie "Capeys" is nie, asb.

  • Hanno Visagie

    Engelse, aspirant-AfroSaxons, Afrikaanses, noordelike Afrikaners (bv Vrystaters) en plaaslik-verlopende skaam Afrikaners praat verkeerdelik al meer van die US as "Stellies" ipv die eeuoue Maties. Dit is of onkunde of opsetlik deel van die woke kultuurstryd teen Afrikaans en Afrikaners. Iemand moet hulle reghelp.

  • Johann Rossouw

    Hanno, as ons so ver heen is dat ’n essayis sy ironiese woordspel en sarkasme moet verduidelik, is ons ver heen.

  • Melléta Louw

    Meer helder kon hierdie argument nie bewoord word nie. Baie dankie daarvoor. En dan bly ek ook altyd wonder waar en hoe die simpel “Stellies”-woord posgevat het. Was dit miskien heel toevallig, of was dit 'n fyn berekende poging om die statuur van 'n eens trotse universiteit seer te maak?

  • Andre Badenhorst

    Die Engelse studente het met die naam opgekom. Johann sal verseker "Maties" wou sê; die funksie hiervan is dus duidelik parodie.

  • Johann Rossouw

    Dankie, Melléta en Andre. Die knap Frederick van Dyk het my inderdaad ’n tyd gelede daarop gewys dat die oorgang vanaf Maties na “Stellies” gepaardgaan met die verengelsingsproses aldaar.

  • Conrad Steenkamp

    Johan, uitstekende stuk. Net jammer jou bydrae is nie in Engels beskikbaar nie.
    PS: Hanno Visagie, dit is tong in die kies bedoel.

  • Johann Rossouw

    Dankie, Conrad. Ek het geen beswaar as die stuk vertaal word nie, inteendeel; tyd ontbreek my helaas.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top