Die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede konseptaalbeleid is tans oop vir openbare kommentaar. Die nuwe konsep is gebaar na afloop van ’n fel stryd gedurende die eerste jaarhelfte tussen ’n breë koalisie vir Afrikaanse taalbelange aan die US en die US-bestuur. Kerngebeure tydens die eerste semester sluit in die [beweerde] arbitrêre en onregmatige "Slegs Engels-diktaat" in Matie-koshuise en die daaropvolgende sittings van die Menseregtekommissie, wat na verwagting in die nuwe semester sal hervat. ’n Verdere hoogtepunt was ook die Listen-video, wat die nare gevolge van die 2016-taalbeleid (bykans ’n tweeling van die eerste konsepbeleid, 2021) ten toon gestel het vir almal om te aanskou.
Die eerste konseptaalbeleid vir 2021, wat ingevolge die sikliese hersiening van US-taalbeleide voortbou op die 2016-beleid, het die gewraakte definisie van inheemse taal ingesluit. Die definisie, wat regstreeks uit die Departement van Hoër Onderwys se beleidsdokument oor taal in hoër onderwys opgeneem is, het teen alle gevestigde taalwetenskap in, Afrikaans en die Khoi- en San-tale uitgesluit. Dit het regstreeks aanleiding gegee tot die protesbeweging van 9 April 2021, wat Engelse taaloorheersing aan die groot klok gehang en spesifiek die talige uitsluiting van bruin Afrikaanse mense betreur het.
Die tweede konseptaalbeleid openbaar meer oor die binnewerkinge van die US-bestuur as wat hul dalk gemaklik sal wees om te erken. Dit bevat geurige elemente in die aanhef (klousules 1 tot 6) wat klaarblyklik ’n sensitiwiteit toon vir die diskoers van die eerste semester. ’n Aansienlik meer positiewe ingesteldheid teenoor proaktiewe meertaligheid blyk uit die aanhef. Die operasionele bepalings van klousules 7 tot 11 is egter ’n ander gedierte. Dit bevat weer dieselfde ontsnapklousules en vae bepalings wat Engels as die vernaamste taal in die 2016-beleid gevestig en regstreeks tot die afwatering van die Afrikaanse aanbod gelei het.
Opsommend kan dit gestel word dat die operasionele bepalings nie rasioneel met die aanhef verbind is nie. Geeneen van die gespoeg-en-geplakte operasionele bepalings kon die meertalige benadering van die aanhef konkretiseer of sal dit kan doen nie. Die aanhef is in aangesig van die operasionele bepalings ’n blote welluidende woordeslaai en niks meer nie.
Een van twee verklarings is hiervoor moontlik. Die eerste is dat die US-bestuur uit radeloosheid ’n konsepbeleid vol smaaklike woorde vir die siedende breë Afrikaanse koalisie gegooi het. Die tweede, dwingende verklaring is dat daar opponerende kragte in die US-bestuur bestaan en dat die teenstrydighede tussen die aanhef en die operasionele bepalings hieraan toegeskryf kan word.
Indien laasgenoemde verklaring die geval is, is dit nie sonder betekenisvolle gewig nie dat ’n matiger, taalprogressiewe groepering binne die US-bestuur dit darem kon regkry om ’n stel normatiewe beginsels te beding wat proaktiewe meertaligheid ter wille is.
Enkele voorbeelde uit die aanhef is as volg:
- Onder “meertalige konteks” in klousule 2 verskyn ’n verbintenis tot “individuele, institusionele en samelewingsmeertaligheid”. Individuele meertaligheid word voorgehou as bate en die vooruitsig word gestel dat die US individuele meertaligheid “aktief aanmoedig”.
- Afrikaans word erken as “internasionaal gerekende taal” met ’n “aansienlike akademiese repertoire”. Belangrik is die erkenning dat akademiese vaardigheid in Afrikaans internasionalisering onderskraag deur deure na geleenthede in Nederland en België oop te maak. Dit is moontlik dat die skerp bewoorde onderhoud oor die taalkwessie met die gerekende Vlaamse akademikus Yves T’Sjoen hierdie kontekstuele waarneming deurgehaak het.
- Transtaling, te wete die tegniek om verskillende institusionele tale tesame aan te wend ten einde ’n taalpositiewe omgewing te skep waar meer eerder as minder tale geakkommodeer word, word genoem as strategie ter aanwending. Druk deur taalbeleidkenners in die Departement Afrikaans en Nederlands, asook voorstanders van transtaling soos die US se Mbulungeni Madiba en die Afrikaanse Taalraad moet moontlik hiervoor bedank word.
- Klousule 7.5.3 bestaan binne die operasionele deel van die konseptaalbeleid en skep ’n verbintenis tot die voortgesette ontwikkeling van Afrikaanse vakkundige inhoud en die bevordering van navorsingsuitsette in Afrikaans, onder andere.
Die normatiewe verbintenisse tot ’n Afrikaanse aanbod het egter nie ’n kans teen die gebrekkige operasionele bepalings, wat steeds grootliks op aanvraag deur studente, personeelbeskikbaarheid en hulpbronbeskikbaarheid gebaseer is nie (sien klousule 6.9). Daarby word die reeds vae begrip redelikerwyse uitvoerbaarheid geheel en al sonder omskrywing gelaat. Die US-bestuur sien ook klaarblyklik steeds nie kans om van die gewraakte definisie van inheemse taal af te sien in ’n daad van etiese protes nie, en kies eerder om te berus by Blade Nzimande se bedenklike woordspeletjies. Dit is reeds tot vervelens toe op die openbare rekord geplaas dat die US-bestuur ’n toestand van verwatering geskep het wat tot die afname in die vraag na Afrikaans bydra. Om die Afrikaanse aanbod afhanklik te maak van die vraag na Afrikaans nadat die bestuur se eie gebrekkige 2016-beleid ’n klaarblyklike drastiese afname in Afrikaans bewerkstellig het, is uiters immoreel en vernederend. Die US-bestuur gooi ’n krisis wat hulle self geskep het, in Afrikaanssprekers se gesigte. Sedert 2016 kon Afrikaanse studente bloot net nie weet wat om te verwag nie, terwyl Engelse studerendes presies geweet het wat hulle toekom. By die US is die tafel vir Engelse studerendes gedek, maar die Afrikaanses moet maar hoop en skarrel vir ’n lepel en ’n blikbord. Hierdie stand van sake het [vermoedelik] selfs na die koshuise versprei, waar swakopgeleide koshuisleiers hulself [na bewering] aangematig het om ingevolge die 2016-beleid ’n "Slegs Engels-diktaat" af te dwing.
’n Tot dusver weinig besproke kwessie is die US-bestuur se onvermoë om te verseker dat die indiensnemingsbeleid ook die oogmerke van die Afrikaanse aanbod ondersteun. Die tweede konsepbeleid maak groot gewag van Afrikaans as voortgesette akademiese taal, maar verskaf geen riglyne of versekering dat die indiensnemingsbeleid vir Afrikaansmagtige personeel moet voorsien nie. Sonder reëlings rondom die indiensneming van Afrikaansmagtiges of die reël van billike, regverdige alternatiewe wanneer so ’n kandidaat nie beskikbaar is nie, is enige meertalige beleid gewis dood in die pot. Gegewe nasionale diensbillikheidswetgewing, waarvan die US-bestuur sekerlik deeglik bewus is, kan ’n mens opreg bekommerd wees dat die poel van Afrikaansmagtige personeel drasties sal krimp: Weens geskiedkundige onreg is die meeste Afrikaansmagtige akademiese personeel na alle waarskynlikheid wit mense. Die US-bestuur kan egter hierdie probleem oplos én ’n slag slaan vir diensbillikheid deur te fokus op die ontwikkeling van jong Afrikaansmagtige akademiese personeel van kleur.
Net soos die kwessie van personeel is die uitvoerbaarheid van ’n meertalige taalbeleid wat verbind is tot gelykberegtiging tussen tale nie onoplosbaar nie. Die US-bestuur kan die eerste wees om proaktiewe meertaligheid deur middel van transtalige klasse te vestig. Hulle kan aansporingsmeganismes om studies in institusionele tale anders as Engels aan te pak, oprig. Hulle kan navorsingsuitsette in tale anders as Engels beloon en aktief aanmoedig. Oplossings van hierdie aard is ’n kwessie van institusionele ingesteldheid om hoër onderrig met plaaslike taal- en kultuurbelewenisse te verweef eerder as om bloot nog “taalprodukte” te lewer. Dit gaan oor die erkenning dat Engels nie ’n neutrale oplossing of meerderwaardige norm is nie, maar hoogstens ’n histories toevallig nuttige rolspeler in ’n meertalige nasionale opset.
Indien daar ’n tweestryd in die US-bestuur bestaan tussen matige taalprogessiewes aan die een kant en die hardkoppige, nougesette Engelsverslaafdes aan die ander, is die tweede konseptaalbeleid ’n klein, klein treetjie na oorwinning vir die breë koalisie vir Afrikaans in die akademie. Hopelik groei die ontnugtering in bestuursgeledere sodanig dat die Anglofiele se loef gou afgesteek word, en beweeg ons na ’n taalbedeling wat vir ’n lewenskragtige, volhoubare Afrikaans in die akademie voorsiening maak. Vir nou is die aanhef van die tweedekonseptaalbeleid net verwaaide rookseine in die wind.
Kommentaar
Met al die klem wat die US in sy taalbeleid op Engels laat val, en die feit dat die meerderheid studente Engels verkies, wonder mens hoeveel van die nuwe studente wat jaarliks inskryf in alle geval ook Engels magtig is. Miskien is dit ook die rede waarom die slaagsyfer van eerste- tot derdejaarstudente ook maar so-so is.
Volgens syfers wat beskikbaar is skryf 500 000 eerstejaarstudente jaarliks by universiteite in. Van dié aantal verwerf 150 000 na vyf jaar hulle B-graad. Wonder nou net hoeveel van die eerstejaarstudente wat nou op US in Engels sal moet studeer, op 'n manier en met handboeke waaraan hulle nie op skool gewoond was nie, aan die einde van die jaar sal slaag.
Hoeveel geld word daar dan ook nie op dié manier vermors deur die studentehulp wat so vrylik gegee word nie?
Dit laat mens ook wonder of die US die wonderlike standaard van onderrig waarmee hy so spog sal kan handhaaf?
Die US se reaksie op die kommentaar op die hersiene taalbeleid en die daaropvolgende aanpassings, is niks minder as 'n klap in die gesig van diegene wat moeite gedoen het om kommentaar te lewer nie.
Benewens 'n paar mooi woorde wat ingebring is en sommige sinskonstruksies wat verander is, het niks wesenslik verander nie.
Dink die persone wat die konsepbeleid opgestel en aangepas het, regtig dat diegene wat baie tyd spandeer het en moeite gedoen het om kommentaar te lewer, nie gaan agterkom dat niks van belang verander of aangepas is nie?
Hulle kan hulself wel op die skouer klop omdat nog in boksie in die proses afgemerk is.