Afrikaans uitheems? Nzimande se bedrieglike woordspeletjies

  • 2
Tasioulas wys daarop dat indien ons elke denkbare menslike belang en strewe as ’n “mensereg” verpak, ons juis die aard van menseregte as kragtige beskermende aansprake ondermyn.

Niemand kan verkwalik word indien hulle sou reken dat die bron van die hele geveg rondom taal aan die Universiteit Stellenbosch na die Departement van Hoër Onderwys en hul verstokte leier, Blade Nzimande, herlei kan word nie.

Die DA het ’n versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting aan die Departement gerig om meer te wete te kom oor die omstrede uitsluiting van Afrikaans en San- en Khoitale by die definisie van inheemse taal, ’n begrip wat in ’n beleidsdokument oor taal in hoëronderwysinstellings vervat is. Aanvanklik het ’n herrie ontstaan toe hierdie definisie sy debuut gemaak het in die konseptaalbeleid van die US. Die US-bestuur, wat teen dié tyd nie juis ’n toonbeeld van skitterende integriteit of ruggraat is nie, het dadelik na Nzimande en sy departement vinger gewys. Hulle is tog eerbare karakters, en dit kon derhalwe nie hul idee wees nie.

Intussen het die departement op Leon Schreiber, DA-LP, se Inligtingswet-versoek gereageer met die verduideliking dat Afrikaans nie as “inheems” geklassifiseer word in hul beleidsdokument nie, omdat dit nie “histories gemarginaliseer” (geskiedkundig randverskuifd) is nie. Schreiber het op Facebook gereageer en die departement se verduideliking as irrasioneel beskryf.

Die departement se irrasionaliteit lê juis in die onhoudbare begripsverruiming wat hulle pleeg. Begripsverruiming gebeur wanneer ’n bestaande begrip op meer feitelike gegewens van toepassing word. Omstandighede of waarnemings kan sodanig verander dat dit regverdigbaar word om ’n begrip se omvang te verbreed. So definieer ons nie meer ’n swaan as ’n “witgeveerde, elegante watervoël” nie, omdat swartgeveerde watervoëls wat dierkundig bepaald swane is, destyds in die nuutontdekte Australië gevind is. Wat natuurwetenskaplike begrippe betref, is begripsverruiming dikwels eenvoudiger, omdat die manier waarop nuwe feitekennis in die wetenskap ontstaan, verskil van wat in die politiek, filosofie en in die intermenslike leefwêreld gebeur. Die wetenskaplike metode lei begripsverruiming in die natuurwetenskap. In die geesteswetenskappe is menslike motiewe, gedrag en kulturele praktyk weer so veelsydig en moeilik peilbaar dat die omskrywing van begrippe baie debat en onsekerheid ontlok.

Begripsverruiming kan ’n nuttige instrument wees om politieke narratiewe te manipuleer. Omdat ’n gevestigde begrip dikwels beleidsonderskrywing en bekendheid in ’n bepaalde samelewing geniet, kan maghebbers maklik so ’n begrip met verdere betekenis laai. Die bygevoegde betekenis strook dan met ’n narratief wat deur so ’n maghebber gedryf of verkies word. Indien ’n maghebber se opponente nie hierop bedag is nie, word die begrip uit die opposisie se hande geneem en teen hulle gebruik. ’n Ander variasie is dat ’n gewilde, alombekende begrip só gebuig en verdraai word om meer gerieflik omvattend te wees dat selfs teenstrydighede daarin opgeslurp word. Daarvoor moet ons oë en ore gespits wees.

John Tasioulas, regsfilosofieprofessor aan die Universiteit van Oxford in Engeland, het onlangs in ’n belangrike artikel (The inflation of concepts: Conceptual overreach threatens the quality of public reason) op die vakkundige blad Aeon geredeneer dat onregverdigbare begripsverruiming in onder andere die menseregte as vakgebied gebeur. Tasioulas wys daarop dat indien ons elke denkbare menslike belang en strewe as ’n “mensereg” verpak, ons juis die aard van menseregte as kragtige beskermende aansprake ondermyn:

Once rights are effectively reduced to interests, however, they’re vulnerable to being regularly  traded-off against the innumerable other interests with which they potentially come into conflict ... [R]ights have historically been valued precisely because they’re regarded as robust entitlements to certain modes of treatment, such as freedom from attacks on our persons and property.

Indien ons die begrip mensereg ongeregverdig verruim, sit ons met ’n menseregtestelsel wat nie behoorlik afdwingbaar of beveiligend van ons regsbelange is nie. Die begrip menseregte word ook dikwels deur maghebbers wat in wese nie enige regsorde goedgesind is nie, verruim om hul vergrype te regverdig. China se regeerders sweer gereeld hoog en laag hoe hulle deel is van reëlgebaseerde, promenseregte-verbintenisse. Rusland onder Wladimir Poetin het ook onlangs plegtig aan die Biden-administrasie vertel hoe ywerig die Russiese regering deel vorm van ’n internasionale staatkundige orde gebaseer op menseregte. Ons weet egter goed hoe die Chinese regering ’n kultuur- en selfs volksmoord teen die Oeighoere in Oos-Turkestan voer (ek weier derhalwe om van Xinjiang te praat). Ons weet ook dat die Poetin-regime se totalitêre optrede teen politieke opposisie en gayregte-aktiviste nie getuig van enigiets menseregteliks nie.

Gelukkig is verdagte begripsverruiming nie ’n nuwe verskynsel nie. Ons beskik oor kennis om sulke woordspeletjies met agterdog te bejeën. Vir sover begripsverruiming in politieke taal voorkom, het skrywers soos George Orwell en Franz Kafka al op die belaglike terminologiese doodloopstrate en selfregverdigende ywer van opgepompte en selfteenstrydige begripsverruiming gewys. Nzimande en sy departement pleeg begripsverruiming met die term en begrip inheems. Ek het al op Netwerk24 my skeptisisme oor inheemsheid uitgespreek sover dit op mense en kultuur eerder as net op plante en diere van toepassing gemaak word. Vir doeleindes van die begrip se alombekendheid en toepassing op menslike gemeenskappe sal ek my skeptisisme vir eers op die ys hou.

Dit is uiters bedenklik of Nzimande en sy span die begrip inheemsheid in terme van historiese randverskuiwing kan omskryf. Daar is eerstens geen konsensus oor wat ’n taal of ’n mens inheems of uitheems maak nie. As ons volgens ’n dierkundige en plantkundige benadering werk, dui dit op die “oorspronklikheid” of die “ontstaan” van ’n kulturele identiteit en ’n taal in ’n bepaalde omgewing. Die probleem is dat menslike kultuur en taal se ontstaanspunt allermins duidelik is. Afrikaans het sy vorming in Suid-Afrika in ’n bepaalde historiese konteks ondergaan. Was dit nie vir Nederlands nie, was hier geen Afrikaans nie; was dit nie vir die suidelike punt van Afrika en sy mense nie, was daar insgelyks geen Afrikaans nie. Wat is dan nou die werklike ontstaansrede vir Afrikaans, en bepaal so ’n oorsaak haar inheemsheid? Indien Nzimande en sy span nie eens verby hierdie onsekerheid kan kom nie, hoe maak hulle die sprong na “historiese marginalisering” oftewel geskiedkundige randverskuiwing?

Waarom nie net eerder oop kaarte speel en Afrikaans tipeer as ’n “geskiedkundig minder randverskuifde taal” of iets dergeliks nie? Dan weet ons ten minste hoe hulpbronne verdeel en regstellende stappe gedoen kan word.

’n Omskrywing van inheems wat onder andere op “historiese marginalisering” gebaseer is, maak bloot nie sin nie. Dit insinueer dat die ganse taalgemeenskap wat Afrikaans praat, histories ongemarginaliseer moet wees, wat geheel onwaar is. Ons weet goed dat bruin Afrikaanssprekers weens historiese benadeling swaarkry. Indien Afrikaans as sambreeltaal met talle etniese variëteite en streeksoorte beskou word, maak die Nzimande-omskrywing steeds nie sin nie: Net omdat die Afrikaners se weergawe van Afrikaans vir baie jare die amptelike botoon gevoer het en ander weergawes gemarginaliseer is, maak dit nie die somtotaal van Afrikaans heeltemal gemarginaliseer óf totaal ongemarginaliseer nie. Siende dat Afrikaans as taal dan seker “gedeeltelik” gemarginaliseer is, sal Nzimande op sy eie logika nie kan besluit dat Afrikaans “inheems” of “uitheems” is nie. En wat op aarde sal “half-inheems” nou eintlik beteken? Ek hoop jy as leser sien die totale lagwekkende absurditeit, à la Franz Kafka en Joseph Heller van Catch-22-faam, wat hieruit blyk.

Inheemsheid, wat ’n alombekende, kragtige en selfs emotiewe retoriese begrip is, word hier as ’n vangnet gebruik, en geplooi om die departement se ideologiese uitgangspunte en narratiewe te pas. In die konteks van die onlangse ongelukkigheid in bruin geledere oor die skynbare “swart Afrikane eerste”-chauvinisme wat in die ANC en regering broei, is dit heeltemal moontlik dat Nzimande en sy span vergeet het van die bruin Afrikaanse gemeenskap toe hulle hul beleid opstel. Hulle was te obsessief op die “uitheemsheid” van wit Afrikaanssprekers toegespits om aan bruin Afrikaanssprekers te dink. ’n Verdere kontekstuele verdagtheid is die feit dat ook Khoi- en San-tale by Nzimande se “inheems” uitgesluit word. As daar nou ooit groepe was wat ná aan die beskrywing “inheems” kom, is dit sekerlik die Khoi en San.

Nzimande se taktiek om inheems as begrip te verruim, laat dié heromskrewe begrip onder sy eie teenstrydighede en absurditeite inmekaar stort. Die gevaar bly wel dat Nzimande se opponente nie sal insien dat sy verruiming van die begrip ongeregverdig en onhoudbaar is nie. Dit is presies wat hy wil hê, naamlik dat sy teenstanders hom op sy eie grondgebied konfronteer deur sy onhoudbaar verruimde begripsomskrywings te aanvaar, en gevolglik vanuit ’n meer ingeperkte hoek teen hom te baklei. Nzimande se belaglike woordspeletjies en skadelike ideologiese agendas moet eerder raakgesien en aan die groot klok gehang word. Nzimande en sy ruggraatlose nadoeners in die US-bestuur se optrede word as verdelend onder Afrikaanssprekendes ervaar, en beslis sinister wat hul motiewe betref, siende dat daar ’n ongesonde fiksasie met die “inheemsheid” van mede-Suid-Afrikaners is.

Kyk ook:

Afrikaans: die groter prentjie

Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top