Theuns Eloff: Aftakeling van Afrikaans as akademiese taal universiteite se eie skuld

  • 4

Theuns Eloff, voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (Foto: Naomi Bruwer)

Van die huidige 26 universiteite in Suid-Afrika, waarby die Universiteite van Tegnologie ingesluit is, sal daar teen 2030 waarskynlik net nege wees wat internasionale erkenning geniet. Die res sal almal ondermiddelmatige universiteite wees of in effek kolleges word.

So sê ’n voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU), Theuns Eloff.

Eloff het hierdie voorspelling Donderdag 19 Mei 2022 gemaak tydens ’n virtuele vergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se werksgemeenskap op Potchefstroom wat via Zoom plaasgevind het.

Die tema van die gesprek was die toekoms van die Suid-Afrikaanse universiteitswese teen die agtergrond van onlangse politieke ontwikkelinge. Hy het sy toekomsscenario oor die land se universitewese geskets met die land se politieke klimaat sedert demokrasie in gedagte.

Die nege universiteite wat volgens Eloff met internasionale erkenning sal oorleef, is die Universiteit van Kaapstad (UCT), Universiteit Stellenbosch (US), Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), Rhodes-universiteit (UR), Universiteit van die Vrystaat (UV), Noordwes-Universiteit (NWU), Universiteit van Johannesburg (UJ), Universiteit  van die Witwatersrand (UW) en die Universiteit van Pretoria (UP).

NWU die enigste tuiste vir Afrikaans as onderrigtaal

Die enigste universiteit waar Afrikaans nog tot ’n mate as akademiese taal sal voortbestaan, is volgens hom die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. In Stellenbosch sal Afrikaans nog net twee jaar as akademiese onderrigtaal oorleef voordat die universiteit volledig Engels sal word, voorspel Eloff.

“NWU is al universiteit in die land waar daar nog so ’n bietjie van ’n wil is vir meertaligheid.”

Hy sê hierdie landwye verengelsing van universiteite kan nie net voor die deur van die ANC-regering gelê word nie. Die aftakeling van Afrikaans as akademiese taal aan universiteite is tot ’n groot mate universiteite se eie skuld. Nie een van hulle het regtig meer ’n wil om meertalig te wees nie. Eloff sê nie een van die ANC-ministers van hoër onderwys het gedurende sy tyd as rektor by hom daarop aangedring dat Afrikaans moet verdwyn as akademiese taal nie. As dit nie vir die interne druk binne die universiteite self was nie, sou Afrikaans volgens hom nie so onder beleg gewees het by daardie instellings nie.

Eloff se voorspelling oor Afrikaans as akademiese taal was in reaksie op ’n vraag van die Afrikaanse Taalraad se uitvoerende hoof, Conrad Steenkamp, wat wou weet hoeveel ruimte universiteite regtig ten opsigte van hulle taalbeleid het.

Die grootste sondebok

Eloff gee toe dat universiteite min beweegruimte ten opsigte van taalbeleid het. Hy glo egter die grootste sondebok by universiteite waar Afrikaans verdwyn, lê by die bestuur. “Die druk om te verengels het nie net van regeringskant gekom nie, maar van die magshebbers op die universiteite self”.

Volgens hom was daar as’t ware ’n sameswering by universiteite se magshebbers om te verengels omdat dit makliker is vir ’n universiteit om net Engels te wees as wat dit is om meertalig te wees.

Die taalkenner en emeritus professor by die Noordwes-Universiteit, Wannie Carstens, het dit beaam dat Afrikaans “weg” is by US. Hy sê hy het self op die Universiteitsraad gedien en weet presies wat daar gebeur het.

Van die breër probleme rondom die Suid-Afrikaanse universiteitswese moet volgens Eloff gesien word teen die algemene politieke situasie van die land die afgelope 28 jaar onder ANC-bewind.

Hoewel Suid-Afrika ’n mislukkende staat is, is die land volgens hom nog nie ’n mislukte staat nie. Die faksiegevegte binne die ANC, korrupsie en gebrek aan ’n politieke wil om te lei het alles daartoe bygedra dat Suid-Afrika ’n mislukkende staat geword het.

Die ANC se ideologies gedrewe rassetransformasie, kaderontplooiing en Zuma se byna ongesiene staatskaping tydens die “nege verlore jare” van sy bewind het die land veral duur te staan gekom. Dit sal jare en selfs dekades neem om die skade te herstel.

Onder Ramaphosa se bewind het die gevolge van staatskaping, korrupsie en rassetransformasie tydens Zuma se termyn al hoe duideliker geword.

’n Silwer rand om die donker wolk?

Volgens Eloff is daar darem ook ’n silwer rand aan die donker wolk. Alles is nie net negatief nie. Die regstelsel bly sterk (behalwe oor rassetransformasie), misdaadvlakke daal hier en daar, daar is vordering om staatskapers en korrupsie te begin vasvat en mense soos Ace Magashule en Busisiwe Mkhwebane is op pad uit, terwyl Zuma nie meer ’n politieke faktor is nie. Dit is alles positiewe tekens.

Demokrasie in die land is ook besig om te verstewig, met die ANC wat onder 50% steun gekry het in die afgelope plaaslike verkiesings.

Eloff voorsien nie dat die ANC reeds tydens die 2024-verkiesing uit die kussings gelig sal word nie, maar is hoopvol dat daar teen 2027 ’n nuwe politieke scenario in die land kan wees waar die ANC nie meer alleen die septer swaai nie.

Een van die pertinente kwessies wat deur hom uitgelig is ten opsigte van dinge wat verkeerd geloop het in die land, is die ANC se ideologie van rassetransformasie volgens die 80-9-9-2-formule: 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër. Dít is die formule waarmee transformasie vandag in Suid-Afrika toegepas word. Eloff sê die ANC wil hê dat hierdie formule op elke aspek van die samelewing toegepas word.

Hy sê alles word gegrond op die kwotaformule van 80-9-9-2, wat reeds op pad na 83-8-9-1 is. Hierdie formule moet volgens die ANC nie net in die staatsdiens van toepassing wees nie maar in elke samelewingsfaset en onderdeel daarvan. Minderhede mag volgens hierdie ideologie nêrens in beheer wees nie. “Wanneer kom dit ook na die kerke se kant toe? Dit is nie onmoontlik nie, want volgens hierdie ideologie mag minderhede nêrens meer in beheer wees nie.”

Die ANC se ideologie van rassetransformasie is die grootste negatiewe faktor in die land, sê Eloff. “Die drie instrumente wat gebruik word om hierdie doelwit te bereik, naamlik regstellende aksie, gelyke indiensneming en swart ekonomiese bemagtiging (SEB), het ontaard in ’n toksiese kombinasie van rassetransformasie waar kaderontplooiing en korrupsie gedy.”

Die gevolg is onder andere ’n gebrek aan goeie kapasiteit in die staatsdiens, met onbevoegde kaders en korrupte amptenare op alle vlakke. Dit het alles bygedra tot die mislukkende staat en het dramaties vererger onder Zuma se bewind. SEB en toe-eiening het gelei tot ’n ryk swart elite maar groter ongelykheid, met min of geen dienslewering vir gewone Suid-Afrikaners nie.

Die “onheilige drieling”

Eloff praat van die “onheilige drieling”, naamlik armoede, ongelykheid en toenemende werkloosheid met gepaardgaande betogings.

Hy sê die ANC is vandag meer verdeeld as ooit sedert 1912. Hulle het die eise en kompleksiteit van landsbestuur heeltemal onderskat. Pleks daarvan om ’n moderne politieke party te word, het hulle ’n bevrydingsbeweging gebly, met ’n skisofreniese ekonomiese beleid.

Die meerderheid Suid-Afrikaners in die land ervaar frustrasie en woede, terwyl minderhede polarisasie en vervreemding ervaar – ook ten opsigte van Afrikaans.

Eloff sê hegemonie gegrond op ras maak oorheersing maklik. Die meerderheid koop in op die nuwe ideologie net soos wat die meerderheid wittes apartheid aanvaar het. Die gevolg is dat minderhede, veral Afrikaanssprekendes, ontuis voel in die land van hul geboorte.

Suid-Afrikaners moet hulle volgens Eloff staal vir ’n moeilike en stormagtige tydjie in die aanloop tot die 2024-verkiesing. Alles is egter nie verlore nie. Die goeie nuus is dat die land hom by ’n punt bevind wat die U-draai na herstel kan wees.

Met realisme en humor, wat Suid-Afrikaners nog altyd in moeilike tye help oorleef het, is daar volgens Eloff lig aan die einde van die tonnel en ’n kans om die wa deur die drif te kry. “Tien of vyftien jaar in ’n land se geskiedenis is op die lange duur net ’n druppel in die emmer.

“As Christene kan ons nie anders as om vas te hou aan hoop en geloof en te glo dat God in beheer is nie, hoewel dit nie altyd so duidelik is as mens die koerant in oggend oopmaak nie.”

  • Die fokusprent deur Maiconfz by hierdie artikel is ’n verwerking van ’n afbeelding op Pixabay.

 

Lees ook: 

Freek Robinson se gesprek met Leon Schreiber oor US en Afrikaans

Naomi Meyer se gesprek met Lorna Carson: BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson

Piet Muller se seminaarstuk: Dit is tyd vir ’n “volkskongres” oor Afrikaans

Arlys van Wyk: University seminar: Language of instruction – how do we respond responsibly?

More on education, access, transformation, language and the Constitution on LitNet’s Universiteitseminaar | University Seminar page

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Wat is Eloff se mening oor Akademia en die se toekoms?

    Het Suid-Afrika genoeg kolleges? Daar is 'n konflik van belange tussen kennisoordrag en kennisontwikkeling. Word eersgenoemde nie deesdae 'n bietjie afgeskeep nie? Hoekom is die internasionale ranglyste so belangrik? Mens verstaan dat die universiteite hoog op die lys die sterkste studente lok. Maar elke streek het tog unieke uitdagings. Bedien elke universiteit nie 'n unieke streek met unieke uitdagings en behoeftes nie?

  • Net 'n opmerking: Daar is 'n verskil tussen 'n sondebok en 'n sondaar. Die sondebok is die onskuldige wat die skuld kry vir iets wat die sondaar gedoen het.

  • Petrus Pieters

    "Volgens hom (Eloff) was daar as’t ware ’n sameswering by universiteite se magshebbers om te verengels omdat dit makliker is vir ’n universiteit om net Engels te wees as wat dit is om meertalig te wees. "

    Eloff ignoreer die rol van die Afrikaanssprekendes wat kinders universiteit toe stuur - die universiteite se klante. Gelyke, gelyktydige, parallelle aanbieding in 'n meertalige situasie is die enigste oplossing. Natuurlik is selfs van die welvarende ou Afrikaanse inrigtings te suinig, lui of onvindingryk om dit selfs te probeer, maar waar dit wel met sukses aangepak is, het die Afrikaanse ouers hulle kinders vir ander redes as taal na die oorblywende of nuwe veilige Afrikaanse (lees wit) hawens gestuur en gaan hulle dit na alle waarskynlikheid vir die voorsienbare toekoms bly doen. Van die redes kon wees dat hulle nog nie gereed is of nie kans sien vir diversiteit in dieselfde ruimte nie - die onopgeloste dilemma hier en oral elders. In so 'n mate het dit gebeur dat die aanvraag vir die Afirkaanse aanbiedings vir alle paraktiese doeleindes verdwyn het. Die betrokke universiteitsbesture kan nie kwalik geneem dat hulle die parallelle aanbieding gestaak het nie. Vir wie moes dit plaasvind? Die probleem is groter as sameswerings tussen "magshebbers" by universiteite. Die onvermoe om diversiteit op 'n gelyke grondslag in dieselfde ruimte te hanteer, en die onwilligheid van dele van die bevolking om dit te probeer doen, is die probleem.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top