.........
Die verblydendste aspek van die stryd om Afrikaans as ’n akademiese taal is die mate waarin alle taalgenote bereid is om die voorlopers en vaandeldraers van die stryd te wees. Dit is ’n belangrike teken van ’n kultuurgemeenskap wat volwassenheid bereik het en reeds verby die verdelingslyne van apartheid gegroei het.
...........
Die verblydendste aspek van die stryd om Afrikaans as ’n akademiese taal is die mate waarin alle taalgenote bereid is om die voorlopers en vaandeldraers van die stryd te wees. Dit is ’n belangrike teken van ’n kultuurgemeenskap wat volwassenheid bereik het en reeds verby die verdelingslyne van apartheid gegroei het.
Dit laat ’n mens wonder of die tyd nie nou ryp is vir ’n outydse volkskongres oor Afrikaans nie. Want dit sou die eerste keer wees sedert Afrikaans ’n amptelike taal geword het dat al sy sprekers onder een dak (DAK?) kan vergader sonder dat party by die agterdeur moet ingaan terwyl ander breëbors deur die voordeur stap.
Die eerste keer ook dat almal se verwagtinge, behoeftes en kommer op een agenda sou verskyn, en oor strategieë gepraat kan word wat almal insluit. Les bes die eerste keer dat alle Afrikaanssprekers vanaf Richardsbaai tot by Port Nolloth en vanaf die Kaapse Vlakte tot by Grootfontein in Namibië by so ’n gesprek betrek kan word. Want ons moet besef dat politieke grense net dit is: politieke grense. Maar terselfdertyd dat dit ’n groot uitwerking het op kulture wat daardeur verdeel word in “ons” en “hulle”.
........
Die Groot Trek van bruin Afrikaanses deur die dorre weste van ons land tot bo in Namibië is nog nie naastenby so goed beskryf soos die hoofsaaklik wit trekke deur die sentrale en oostelike dele van die land nie, maar dit was nie minder idealisties en heroïes nie.
.........
Die Groot Trek van bruin Afrikaanses deur die dorre weste van ons land tot bo in Namibië is nog nie naastenby so goed beskryf soos die hoofsaaklik wit trekke deur die sentrale en oostelike dele van die land nie, maar dit was nie minder idealisties en heroïes nie.
As ’n mens wil weet waar die werklike hartland van Afrikaans lê, kan ’n mens nie beter as om alle plekname wat met “-fontein” eindig, met mekaar te verbind nie. Daar waar die strepe die dikste lê, daar is Afrikaans se tuiste, en die mense wat daar woon is “ons mense”.
...........
Maar hoekom juis ’n “volkskongres”?
Omdat Afrikaans ’n lang tradisie het van sulke kongresse wat tot verbeeldingryke en werkbare oplossings gelei het.
.........
Maar hoekom juis ’n “volkskongres”?
Omdat Afrikaans ’n lang tradisie het van sulke kongresse wat tot verbeeldingryke en werkbare oplossings gelei het. Dink maar aan die ekonomiese volkskongres van 1939, met sy leuse “’n Volk red homself.” Dit het die grondslag help lê vir die merkwaardige opkoms van Afrikaanse entrepreneurs ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog.
Of aan die volkskongres oor “armblankes”, nadat ’n span van die Universiteit Stellenbosch, met geld van die Carnegie-stigting, ’n diepgaande ondersoek na die verskynsel gedoen het. Dit het tot ’n paar verbeeldingryke oplossings gelei. Dink maar aan die besproeiingskema wat die NG Kerk by Kakamas langs die Oranjerivier begin het.
Daarom was dit so tragies dat dieselfde universiteit nie kans gesien het om ’ n soortgelyke ondersoek na bruin armoede te doen nie. Dit is wel dekades later – ook met geld van die Carnegie-stigting – deur die Universiteit van Kaapstad gedoen. Ongelukkig het dit nooit tot ’n “volkskongres” gelei nie en ook nie tot verbeeldingryke projekte om armoede mee uit te wis nie.
Die baie deeglike Erika Theron-kommissie, wat baie publisiteit geniet het, was hoofsaaklik op ’n politieke oplossing van die “Kleurling-probleem” gerig, maar het nie tot praktiese planne vir armoedeverligting gelei nie.
Daar is besonder baie waaroor dringend gepraat moet word, soos:
* Hoe die Afrikaanse jeug, ongeag geldelike posisie of stand, die bes moontlike onderrig in Afrikaans kan ontvang.
* Hoe onderwys en opleiding binne ’n geslag kan help om armoede uit te wis.
* Hoe ons kan voorkom dat Afrikaans as ’n taal doodbloei weens die stroom van emigrante wat die land verlaat.
Emigrasie het reeds krisisafmetings aangeneem, en daar is aanduidings dat meer hoogs geskooldes van kleur as wittes tans die land verlaat.
Volgens die Amerikaanse Pew-navorsingsinstituut het daar teen 2017 meer as 900 000 Suid-Afrikaners is die buiteland gewerk. Hierdie raming is moontlik hopeloos te laag. ’n Mens moet onthou dat landverlaters slegs een maal in ’n tienjaarsiklus op ’n land se sensussyfers as ’n “immigrant” sal verskyn. Daarna word so iemand gewoon as ’n burger van die land gereken.
Geen wonder nie dat Homecoming Revolution, Afrika se grootste werwingsfirma, bereken dat sowat 2,7 miljoen Suid-Afrikaners in die buiteland woon en werk (Rapport, 26 Mei 2019).
Flip Smit, oudrektor van Tukkies, en self ’n gerekende demograaf, sê dat Afrikaners se getalle jaarliks met 24 000 afneem. Dit is die ekwivalent van 48 skole van 500 kinders elk wat elke jaar “verdwyn”.
Afrikaans het reeds meer as 130 skole verloor, en nog meer gaan in die slag bly, want ons verloor nie net ons kinders deur emigrasie nie, maar ook hulle kinders, gebore en ongebore, wat vandag die laerskole moes volmaak.
Daar is skaars ’n huis in die land waarin daar nie oor iemand getreur word wat permanent in die buiteland woon nie. Emigrasie het van blanke Afrikaanses ’n sterwende bevolking gemaak, met meer mense bo 65 as tussen 25 en 35.
Ons sal vinnig moet besef hoe kosbaar bruin en swart Afrikaanssprekende kinders is, want hulle sal Afrikaans die toekoms moet inneem.
Net soos wit kinders, is bruin en swart Afrikaanssprekende kinders vandag letterlik en figuurlik ons volk se toekoms en daar moet soos kleinode na hulle omgesien word. Hulle moet die soort onderwys ontvang waarmee hulle suksesvol in die postindustriële ekonomie kan meeding.
........
Net soos wit kinders, is bruin en swart Afrikaanssprekende kinders vandag letterlik en figuurlik ons volk se toekoms en daar moet soos kleinode na hulle omgesien word. Hulle moet die soort onderwys ontvang waarmee hulle suksesvol in die postindustriële ekonomie kan meeding.
.........
Wie dit nie besef nie, of reken dit is vrome “politieke korrektheid”, verstaan nie wat die woord “demografie” beteken nie.
Wat ons verder nodig het, is ’n inspirerende ideaal waaraan jongmense bereid sal wees om hul lewe te wy, op grond van waardes wat hulle heelhartig kan onderskryf.
Van 1994 af was daar nog niemand wat so ’n ideaal kon formuleer waarmee jongmense sin kon maak uit wat in Suid-Afrika aan die gebeur is nie. Die soort ideaal wat jongmense sal laat sê: “Ek kom huis toe om iets opwindends te help opbou!”
As ons hulle en hul talente wil terughê, sal ons self die omstandighede moet skep waarbinne hul talente gebruik kan word, sodat hulle nie nodig het om in die buiteland uitlaatgeleenthede vir hul kreatiwiteit te gaan soek nie Dit sal iets moet wees waaraan hulle sowel hul vaardighede as hul idealisme kan wy om ’n nuwe toekoms te help skep.
So iets is wel moontlik. Daarvan getuig die opkoms van Singapoer deur in een geslag te ontwikkel van ’n verarmde kolonie, geteister deur ’n burgeroorlog, tot een van die wêreld se gunsteling-tegnologiebestemmings. Daar heers vrede tussen sy twee rassegroepe, terwyl Maleiers en Chinese ’n paar kilometer daarvandaan, in Maleisië, steeds soos kat en hond baklei.
Of dink aan Taiwan, wat ’n florerende elektroniese bedryf gebou op die kundigheid van die ABC’s – American Born Chinese – wat oorreed is om terug te kom en te help bou.
Wat ons ook al doen, moet binne die moontlikhede van die Grondwet val, maar buite die dooie hand van die staat.
Afrikaans is vandag in ’n veel sterker posisie as in in 1994, toe baie gemeen het Afrikaans se regte sal vanself in stand gehou word onder ’n nuwe bedeling. Die afgelope twee dekades is merkwaardige infrastruktuur geskep wat die stryd om die behoud van die taal vorentoe kan dra. Dink maar aan al die strukture wat Solidariteit, onder die versiende leierskap van Flip Buys, tot stand gebring het; of aan die lewenskragtige ATKV en alles wat daardie organisasie vir die taal doen.
Wat wel skort, is kohesie tussen die verskillende instansies en ’n bewysbare vermoë om namens die meerderheid Afrikaanssprekers te praat en met die staat te kan arm druk, iets wat die Afrikaanse Taalraad wel probeer doen.
Maar die wêreld het dramaties verander en toenemend sal namens alle Afrikaanssprekers in Suider Afrika met internasionale liggame onderhandel moet word, en daarvoor is politieke legitimiteit nodig.
Hier dink ’n mens aan ’n voorstel wat die grondwetkenner en medeskrywer aan die Grondwet, wyle Marinus Wiechers, op ’n keer gemaak het: dat Artikel 235 van die Grondwet aan alle kultuurgroepe in die land die reg verleen om hul eie virtuele “taalprovinsies” te skep.
Hierdie idee is nie so vergesog as wat dit dalk klink nie. Die internet is besig om teen so ’n rasende tempo te groei dat verskeie internasionale toekomskundiges die afgelope paar jaar al oor die moontlikheid van virtuele state in die kuberruimte besin het. Facebook alleen het al twee miljard gereelde gebruikers – meer mense as wat China inwoners het – en dit is die agterplaas waarin ons eie kinders verkieslik speel. Binne hierdie kubergemeenskap vind al hoe meer groepe vir hulself ’n tuiste. Hulle wissel van die Vatikaan tot by gespreksgroepe oor esoteriese onderwerpe; van Al Qaeda tot Isis, wat met groot kundigheid die internet gebruik om Moslems wêreldwyd onder hul vaandels te verenig en in baie opsigte soos ’n staat optree.
Sommige geleerdes meen dat die Verenigde Nasies uiteindelik geen ander keuse sal hê nie as om sulke virtuele state soos normale state te behandel.
Die internet is by uitstek die ruimte waar “metaterritoriale” gemeenskappe – gemeenskappe sonder vaste grondgebied – tot stand kom. Virtuele gemeenskappe is reeds besig om heelwat van die prerogatiewe van bestaande soewereine state te verwerf. Boonop val dit klaarblyklik saam met die begin van die einde van nasionale state soos ons dit sedert die Hervorming leer ken het.
Dit kan van so ’n taalprovinsie ’n kragtige middel maak om nsionaal en internasionaal namens Afrikaans te praat.
........
Ons het veel om met mekaar oor te gesels. Die vraag is wie die inisiatief gaan neem om so ’n taal-volkskongres te reël. Daar is verskillende organisasies wat dit wel kan doen, maar sal hulle bereid wees om terug te staan sodat “mindere” organisasies ook ’n gelyke aandeel aan so ’n volkskongres kan kry?
.........
Ons het veel om met mekaar oor te gesels. Die vraag is wie die inisiatief gaan neem om so ’n taal-volkskongres te reël. Daar is verskillende organisasies wat dit wel kan doen, maar sal hulle bereid wees om terug te staan sodat “mindere” organisasies ook ’n gelyke aandeel aan so ’n volkskongres kan kry?
Wat nodig is, is ’n neutrale liggaam wat deur almal as legitiem aanvaar sal word. Sou LitNet bereid wees om hiermee die voortou te neem?
- Piet Muller is ’n skrywer en toekomsnavorser in private praktyk
Lees ook:
COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers
Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate
’n Donker wolk en ’n nuwe skooljaar: ’n gesprek met ’n skoolhoof van Kuilsrivier
Kommentaar
Die jongmense is lankal nie meer op Facebook nie. Facebook lyk deesdae soos Die Burger op Saterdae. Vol aankondigings van wie almal onlangs oorle' is.
Sal so 'n kongres werk? Waaroor sal daar gepraat word? Weer al die ou verwyte van die verlede? Covid-19 het ons opnuut gewys hoe sjarmant die mensdom steeds hulle verskille hanteer (dis sarkasties bedoel).
Die soort van gesprekke waarvan gepraat word, is op kleiner skaal wel aan die gang. Baie voetjie-vir-voetjie werk is ook gedoen en ons is in sekere opsigte beter daaraan toe as vroeër. Die idee van 'n 'volkskongres' oor Afrikaans is egter in beginsel 'n goeie een, beslis iets wat die Afrikaanse Taalraad in beginsel sou kon ondersteun.
My volhartige steun, Piet. 'n Tydige voorstel.
Ag tog, net nie nóg ’n kongres nie! Die vraag wat nooit geopper en beslissend beantwood word nie, is wat is die persentasie van Afrikaners wat in die oorlewing van Afrikaans belangstel? As dit nie die meerderheid is nie, dan is só ’n oorkoepelende organisasie nie demokraties verkose nie, maar in die belang van ’n minderheid. Kortom, hoeveel Afrikaners stel werklik belang in die oorlewing van Afrikaans?