Die tweede semester is hier. COVID–19 en inperkingsmaatreëls het te veel onderrigtyd laat verlore gaan. Naomi Meyer het by ’n paar opvoedkundiges aangeklop en praktiese raad vir ouers gevra.
Hier onder reageer Faeed Amardien, ’n onderwyser op die Kaapse Vlakte, op die vrae.
Die tweede semester van die jaar het pas afgeskop. Nou die dag hoor ons dat Angie Motshekga gepraat het van die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat reeds verlore is. Ons weet ons leef in ’n totaal ongelyke samelewing en akademiese opvoeding is een manier om ’n sukses van jou lewe te kan maak. Het jy enige voorstelle van wat gedoen kan word om kinders te help om verlore skooltyd in te haal? Wat kan ouers by die huis doen om hulle kinders te help – akademies?
........
Sonder twyfel, die kwesbare leerders verloor. Hulle verloor uit op kennis, informasie, kos, inligting, raad, en aandag. Aspekte wat eenvoudig misgekyk of ignoreer word op die Kaapse Vlaktes.
.......
Die tweede semester van 2021 het aangebreek en ek dink dis veilig om die vraag te stel, wie wen en wie verloor? Dis ’n vraag wat konstant na vore kom as jy dink aan die grendeltydperk en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Sonder twyfel, die kwesbare leerders verloor. Hulle verloor uit op kennis, informasie, kos, inligting, raad, en aandag. Aspekte wat eenvoudig misgekyk of ignoreer word op die Kaapse Vlaktes. In die meeste gevalle, die response wat ouers aan hulle kinders gee is: “Jou onderwyser moet jou help. Dais hoeko hulle betaal wôd.”
Ek sidder om te dink hoe veral bruin mense se lewenstandaard en kondisie gaan lyk tien jaar van nou. Hulle sukkel reeds met die basiese geletterdheid en akademiese vaardighede, en COVID-19 het dit vererger en hierdie agterstand geskep.
Ek dink aan Chase Rhys se boek Kinnes wat die tema “Kinders wat kinders grootmaak” belig. Dit blyk veral by hierdie jong individue wat self ook nie opvoeding en basiese vaardighede as deel van hul wapenrusting het nie. Dus, minister Motshekga is akkuraat met haar stelling dat die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat verlore is, net nog meer skade aanrig.
........
’n Moeë matriarg wat heeldag arbeidswerk doen, en later die aand geld gaan leen om kos op die tafel te sit. Waar dan word die tyd gekry om kinders te help met huiswerk.
........
Bygevoeg, bruin ouers sukkel. Dis die hartseer realiteit waarmee ons worstel en wroeg. ’n Moeë matriarg wat heeldag arbeidswerk doen, en later die aand geld gaan leen om kos op die tafel te sit. Waar dan word die tyd gekry om kinders te help met huiswerk. Soveel geld word belê in outreach en social development programme, en die vraag moet gestel word hoe kan gemeenskappe bydra en help?
.........
Ouers, veral op die Kaapse Vlakte, het nie die tyd en nodige kennis om hulle kinders te assist in skoolwerk en take nie. Die KABV maak dit ontsettend moeilik, want die kurrikulum wat 20 jaar gelede voorgeskryf is, bevat nie die komplekse en intricate inhoud soos die KABV nie.
........
Ek stel dus die volgende voor:
- Eerstens, begryp jong individue die erns van opvoeding genoeg om verantwoordelike besluite te kan neem, veral wat hulle toekoms betref? Dis om hierdie rede dat hulle partykeer onverskillig optree en die “skool” afskeep. As hulle die narratief rondom “jou omstandighede bepaal nie jou bestemming nie” verstaan, behoort deursettingsvermoë deur te skemer.
- Ouers, veral op die Kaapse Vlakte, het nie die tyd en nodige kennis om hulle kinders te assist in skoolwerk en take nie. Die KABV maak dit ontsettend moeilik, want die kurrikulum wat 20 jaar gelede voorgeskryf is, bevat nie die komplekse en intricate inhoud soos die KABV nie. Die tyd en inhoud stem dus nie ooreen nie.
- Daar word nie vaardigheidsontwikkelingsprogramme in plaaslike gemeenskappe gebou nie. Programme wat kinders bemagtig in kennis, waardes, en om die regte keuse te maak. Wyksraadlede waak vir een of ander rede daarteen om geld te spandeer op seminare en werkswinkels wat die jeug kan enable om uiteindelik in die langtermyn terug te ploeg in die gemeenskap.
Dink jy daar is sekere gewoontes wat oor die afgelope paar maande gevorm is wat aangespreek moet word? Ek praat van meer tyd wat kinders op skerms spandeer het, of tye wat hulle doelloos in die strate rondgedwaal het, georganiseerde sport wat tot stilstand gekom het. Mens wil so graag die kinders veilig hou van die virus, maar ook is sport of buitemuurse aktiwiteite ’n manier om die kinders gefokus te hou, of hoe? Hoe gemaak, as ouers self hul hande vol het om hulle eie balle in die lug te hou?
.........
Inperkingsregulasies was openlik verontagsaam agv die gebrek aan fasiliteite, toestelle, internet en ’n ding so onbenullig soos ’n bordspeletjie. Is dit dalk die rede vir die ronddwaal in die strate? ’n Huishouding wat amper agt familielede bevat, dis genoeg om mekaar amper mal te maak.
.........
Dis ’n baie belangrike vraag. Ek dink veral aan ’n jaar terug toe die President die aankondiging maak van die eerste inperking. Inperkingsregulasies was openlik verontagsaam agv die gebrek aan fasiliteite, toestelle, internet en ’n ding so onbenullig soos ’n bordspeletjie. Is dit dalk die rede vir die ronddwaal in die strate? ’n Huishouding wat amper agt familielede bevat, dis genoeg om mekaar amper mal te maak. Ek deel my simpatie veral aan diegene wat nie die hulpbronne het om hulle besig te hou nie. Om ’n boek op te tel en te lees is nie iets wat kinders instinktief doen nie, want daar is nie ’n omgewing in huishoudings geskep wat kinders leer hoe lees jou wêreld verbreed nie. As onderwyser sien ek dit elke dag, in hulle skryfwerk sowel as hul verbalisering.
........
Om ’n boek op te tel en te lees is nie iets wat kinders instinktief doen nie, want daar is nie ’n omgewing in huishoudings geskep wat kinders leer hoe lees jou wêreld verbreed nie. As onderwyser sien ek dit elke dag, in hulle skryfwerk sowel as hul verbalisering.
.........
Die gewoonte kom alreeds voor COVID-19. Die skerm en toestel is ’n ontsnappingswêreld waar leerders, glo dit of nie, veilig voel om hulself te verwoord en partykeer goed voel oor hulself. Die pandemie het dit net vererger. Soveel so dat hulle salig onbewus raak van hul opvoeding en ingesluk word deur die manewales en drama wat skyn in ons gemeenskappe. Ek maak ’n daadwerklike poging om betrokke te raak by die sport by my skool en leerders ’n geleentheid te bied om “hulself te wees” en die belangrikheid van geestesgesondheid te alle tye te bespreek.
Ouers het ’n moeilike taak om hulle min tyd te balanseer. Kinders verg aandag en liefde, maar in dieselfde asem moet ouers na hulself en hul gesondheid omsien. Bowenal moet kinders weet hulle het ’n ondersteuningspan (familie) wat hulle belange op die hart dra. Met dit bedoel ek vrae so eenvoudig soos “Hoe was jou dag?” of “Watter werk het julle vandag gedek?” moet gestel word sodat kinders weet dat hulle nie alleen in hierdie stryd is nie.
Kan jy aan enigiets dink wat kinders in hierdie tyd beter kan voorberei op ’n toekoms wat heeltemal anders lyk as die verlede? Kom ons verbeel ons dis ’n ideale wêreld.
........
Educate yourself! Ek kan aan geen ander oplossing dink om onsself uit hierdie penarie te red nie.
.........
Educate yourself! Ek kan aan geen ander oplossing dink om onsself uit hierdie penarie te red nie. Ek echo die sentiments van ons voormalige president toe hy sê “Opvoeding is die belangrikste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak.” Wie se wêreld? Dit begin eerstens by jou! Sodat jy jouself kan verbeter en bydra tot die samelewing en ekonomie. Sodat jy ’n veel beter lewe vir jou kinders kan skep. ’n Veilige hawe wat gebou is rondom liefde en ondersteuning.
.......
Lees is ook ’n belangrike aspek wat ek dink kinders deel moet maak van hulle daaglikse lewe. Dit sal jou bemagtig om te onderskei tussen fopnuus en die werklikheid.
........
Lees is ook ’n belangrike aspek wat ek dink kinders deel moet maak van hulle daaglikse lewe. Dit sal jou bemagtig om te onderskei tussen fopnuus en die werklikheid. Watter informasie word geabsorbeer en wat nie? Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar daar is ’n Engelse gesegde wat sê “Take it in your stride.” Ontsluit jou potensiaal, want daar binne-in jou is daar iets besonders wat die wêreld by baat kan vind. Geen beroep is meer superior as ’n ander nie. Elke persoon het ’n roeping.
Lees ook:
COVID-19 en verlore skooltyd: Earl Basson se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Christa van Staden se wenke aan ouers en onderwysers
Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Faeed Amardien
COVID-19 en verlore skooltyd: Michael le Cordeur se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Dewald Koen se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Estelle Kruger se wenke aan ouers en onderwysers
Kommentaar
Faeed, baie dankie vir jou skrywe. Ek rou saam met jou oor dit wat Suid-Afrika se kinders verloor.
Dankie Faeed
Dit is insiggewend om te hoor hoe dinge in jou lewenswêreld lyk.
Ek is seker jy maak 'n groot verskil as onderwyser.