Kinnes deur Chase Rhys: ’n resensie

  • 1

Kinnes
Chase Rhys

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708763

Waarskuwing: Indien jy nog nie die boek gelees het nie – dié stuk bevat besonderhede oor dele van die storie. Lees op eie risiko.

Kinnes, deur Chase Rhys, handel oor die wel en wee van vier jongmense op die Kaapse Vlakte. Hulle woon in Jurassic Park en probeer tussen bendegeweld, dwelms en familietwis deur hulle bestaan voer.

Oor die karakters

 “Die kinnes van vedag dink rêrag hulle’s in ’n movie, nuh,” sê ma Mary na aanleiding van die dramatiese gebeure wat die jongmense in die verhaal moet deurmaak. En dit is hoe die lees van die boek ook voel. Rhys se skryfwerk is gedetailleerd en die beelde wat hy oproep, word glashelder in die leser se brein vergestalt.

Anwaar Peter Brandt, beter bekend as Ahnie Brandt, en sy vriende, wat almal deel is van die Butcher Boys, word gevra om ekstras te wees in ’n internasionale fliek, GangStar. Nadat hulle populariteit begin groei, begin hulle hul eie flieks maak en dis op hierdie punt waar realiteit en fiksie begin vervleg. Ahnie bly by sy ma, Mary, wat hom alleen grootgemaak het. Sy sal enigiets vir haar kind doen. Nicole Lamb is die slim en stil meisie in die skool. Derick Delcarme gaan sit langs haar in die wiskundeklas en kort voor lank raak dié twee verlief en Nicole word swanger. Rolanda Fisher, die mooi en gewilde meisie wat elke jaar die modeparade by die skool wen, wil graag ’n Cape Kardashian wees. Sy roem haar op haar mooi voorkoms en dra uiteraard die groot ironie wat aan die einde van die storie ontvou.

Temas wat aangeroer word

Sommige van die temas wat in die storie aan bod kom, is: om jonk en uitgelewer aan jou omstandighede te wees; die menslikheid van die verkeerde besluite neem; die invloed wat die teenwoordigheid of afwesigheid van ouers in ’n kind se lewe kan hê, met spesifieke betrekking op die rol van die pa of patriarg in die familiegegewe.

Die jongmense in die storie, die “kinnes”, gaan elk deur hul eie krisis en moet met alle mag probeer om te oorleef. Rhys kry dit reg om deur middel van die karakters se lewens die lewe en realiteite van talle ander op die Kaapse Vlakte te ontbloot. Hy doen dit egter met soveel empatie en deernis dat die leser toegelaat word om met elke karakter te simpatiseer. Tydens die lees van die novelle het ek konstant gewonder hoekom elke karakter optree soos wat hulle optree. Die kinnes is vasgevang in ’n fisiese sowel as geestelike ruimte wat moeilik is om uit te ontsnap. Die fisiese ruimte word al hoe moeiliker om in te leef, deur faktore soos dwelmmisbruik en geweld, terwyl die geestelike ruimte maak dat hul uitkyk op die lewe as gevolg daarvan, swaar daaronder begin ly.

Binne die werklikheid van die menslikheid van verkeerde besluite neem, kry die leser insig in die werklikheid van menswees sowel as wat dit beteken wanneer iemand deur hul omstandighede gedwing word om sekere besluite te neem.

Terwyl al die karakters hul eie vorm van die menslikheid van verkeerde besluite ervaar, val Derick se omstandighede my die meeste op. Derick moet noodgedwonge skool verlaat wanneer hy uitvind Nicole is swanger. Hy sukkel dan om werk te kry en besluit om vir Uncle Mikey, wat die leier is van die UML’s (Uncle Mikey’s Laaities) te begin werk. Dit wat hy gedog het ’n tydelike oplossing sal wees om geld in te samel, verander later sy lewe soveel so dat hy uiteindelik in ’n rolstoel beland.

Ouerskap is ’n belangrike tema in die verhaal. Kinders kry kinders en moet dan hul kinders grootmaak terwyl hulle self nog nie werklik kinders was nie. Dit laat my dink aan lirieke wat die kunstenaar en liedjieskrywer Frazer Barry onlangs geskryf het: “Die kind kry ’n kind, die kind se kind kry kind en die grootmense is kinders wat nooit eers kinders was nie.” Ma Mary doen alles in haar vermoë om vir Ahnie te beskerm, doodeenvoudig omdat hy haar kind is. Die liefde wat sy vir hom het, word duidelik in die manier waarop sy tot die uiterste sal gaan om seker te maak dat Ahnie nie iets oorkom nie. Wanneer hy uiteindelik in groot moeilikheid beland, stuur sy hom na sy pa toe. Die pa’s in die storie is grotendeels afwesig. Dit laat ’n mens wonder oor die sosiale konstruk en realiteit van afwesige pa’s en die invloed wat dit op ’n mens se lewe kan hê.

Chase Rhys | Foto: Retha Ferguson

Hoekom is die storie belangrik?

Rhys kry dit reg om ’n snaakse, dog eerlike en menslike verhaal te vertel wat tot mense van verskillende areas van die lewe sal spreek. Die storie is nog meer belangrik omdat die kwessies eg is. Die werklikheid word op so ’n manier uitgebeeld dat ’n mens nie anders kan as om met die karakters te simpatiseer nie. “Ons kannie meer onse kinnes verloor nie …” sê Nicole, en dié woorde resoneer diep met wat in ons land aan die gebeur is. Te veel jongmense word slagoffers van ’n onregverdige bestel, en met Kinnes skyn Rhys lig daarop dat dinge nie langer so kan aanhou nie. Verandering is nodig.

Jongmense wat uitgelewer word aan hul omstandighede, het ongelukkig so algemeen geraak dat ’n mens geneig kan word daartoe om onsensitief daarmee om te gaan. Nadat Ahnie in groot moeilikheid beland en sy ma die een is wat na hom uitreik, sê sy: “Anwaar is mos oek ieman se kind.” En dit skakel weer met die menslikheid wat Rhys op so ’n deernisvolle manier in die storie verwoord. Alhoewel al hierdie vreeslike onregte aan die gebeur is, is dit belangrik om in ag te neem dat almal iewers behoort. En dan kan ’n mens net hoop dat die lewe se dobbelsteen in jou guns sal reg val.

Voor in die boek skryf Rhys die boek is “Vi ôs”, en hy kry dit reg dat die “ons” in die storie ’n universele ons word. Die kwessies in Kinnes raak ons almal, soos dit behoort.

Lees ook

Onderhoud met Chase Rhys, skrywer van Kinnes, ’n novelle

  • 1

Kommentaar

  • Pingback: The List: Author Mia Arderne’s influences – News Daily Africa

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top