Onderhoud met Chase Rhys, skrywer van Kinnes, ’n novelle

  • 0

Kinnes
Chase Rhys

Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708763

Chase Rhys se boek Kinnes het pas die rakke getref. Die storie handel oor vier jong mense op die Kaapse Vlakte wat op die rand van volwassenheid staan. Rhys (29) woon in Ocean View, Kaapstad en het in 2010 sy graad in Theatre and Performance aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Benewens sy skryfwerk, is hy ook ’n stigterslid van Borderlands. Borderlands is ’n gemeenskapsprojek wat kuns gebruik om letterlike en figuurlike grense tussen gemeenskappe te oorbrug. Rhys is ook die eerste wenner van die Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers.

Mercy Kannemeyer het ’n bietjie met Rhys gesels.

Hoekom het jy besluit om die storie te vertel?

Ekkit die story vertel om te probeer sin maak van die donkerte in my omgewing oppie Kaapse Vlakte. Ek skryf sodat ôs nie verniet suffer nie – ôs kan die pyn gebruik en verander na iets positief. Ek wil mense remind dat ôs oneindig helderder as donkerte is. 

Wie is jou teikengehoor?

Die dedication in die boek het net twie woorde: "Vi ôs".

"Ôs" is die mense oppie Vlakte.

"Ôs" is die mense wattie hulself en hul taal in boeke sienie. Representation is altyd belangrik, daavoo het ek insist dat daa jong bruin mense oppie boek cover is.

Dieselfde tyd is die boek vi ammel van ek weet – ultimately is daar net een van "ôs". 

 Wou jy nog altyd ’n skrywer word?

Skryf is die gift wat ek gekry et, dit kô natuurlik. Van kleins af dra ek altyd ’n boek en pen op my. My hele lewe ontwikkel ek my skryfstyl in private. Ek het nieman toegelaat ommit te lees nie, wan ek het gewiet ek moes eers myself vind voordat ek iets kan offer, anneste maak ek net geraas. Nou wiet ek wie ek is en die werk is uit in die wêreld om te doen wat dit moet doen. 

Chase Rhys | Foto: Retha Ferguson

Vir hoe lank kom Kinnes nou al saam met jou?

Ek het Kinnes, die teaterstuk, in 2016 geskryf. Maar twie vannie karakters; Ahnie Brandt en Rolanda Fisher, het ek al tien jaar gelede create as ’n performative parody van Die Antwoord. Ek’s ’n character-driven skrywer, ek gebruik acting tegnieke om ’n karakter te skep en inhabit, dan vertel hulle soema self hul stories.

Toe ek Kinnes skryf, wassit my ou favourite, Rolanda, wat onverwags eeste uitgestiek et – sy't die story begin met "Yoh, I really lus for ’n entjie." Van daai een lyn vloei Kinnes se wêreld, die story ennie ander karakters vinnig na my toe. 

Ek het die teaterproduksie gesien – vertel so bietjie oor die skuif wat jy moes maak vanaf die stuk vir die verhoog tot die boek.

My drama-agtergrond help my om interessante karakters met outentieke dialoog te skep. Met die boek moes ek oek descriptive wies, especially vannie omgewing. Ek moes andaag gie annie plekke om my en leer hoe om ’n imaginary wêreld te bou met die selfde intricacies soes wat ek my karakters skep. 

Wie is die mense na wie jy opkyk in jou bedryf? Het jy enige rolmodelle?

Die mense wat voor my gekom et – Richard Rive, Adam Small en K Sello Duiker. En currently is Nathan Trantraal een van my favourite skrywers.

Wat is jou advies vir jonger skrywers? Mense wat dalk rolmodelle soos jy kort?

Vind uit wie jy is en skryf dan van daai posisie. Om persoonlike ervarings in jou skryfwerk te gebruik hoefie seer te wies nie – jy sal verstaan dis net deel van jou story, dis nie wie jy is nie. 

* Kinnes, die teaterproduksie, met regie deur Hennie van Greunen, is 6–17 November terug op die planke by die Kunstekaap. Kaartjies kan nou by Computicket gekoop word.

Lees ook

Kinnes deur Chase Rhys: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top