
Foto van horlosie: Pixabay; foto van Earl Basson: verskaf
Die tweede semester is hier. COVID-19 en inperkingsmaatreëls het te veel onderrigtyd laat verlore gaan. Naomi Meyer het by ’n paar opvoedkundiges aangeklop en praktiese raad vir ouers gevra.
Hier onder reageer Earl Basson, ’n navorser verbonde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie waar hy Afrikaans Eerste Addisionele Taal doseer, op die vrae.
Die tweede semester van die jaar het onlangs afgeskop. Nou die dag hoor ons dat Angie Motshekga gepraat het van die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat reeds verlore is. Ons weet ons leef in ’n totaal ongelyke samelewing, en akademiese opvoeding is een manier om ’n sukses van jou lewe te kan maak.
Het jy enige voorstelle van wat gedoen kan word om kinders te help om verlore skooltyd in te haal? Wat kan ouers by die huis doen om hulle kinders te help – akademies?
.......
Dit is eintlik kommerwekkend, veral as jy in ag neem hoe kompak die KABV is. Natuurlik word dit vererger deur die sosiale ongelykheid in Suid-Afrika.
........
Ek stem saam met die Minister dat baie skooltyd verlore is. Dit is eintlik kommerwekkend, veral as jy in ag neem hoe kompak die KABV is. Natuurlik word dit vererger deur die sosiale ongelykheid in Suid-Afrika. Jou vorige gesprekke met opvoeders en dosente het reeds ’n aantal goeie voorstelle opgelewer. Ek sal die volgende byvoeg:
- Dit is uiters belangrik dat ouers probeer om vir hulle kinders ’n skedule te skep. Die skedule hoef glad nie soos die tradisionele skoolrooster te lyk nie. Wanneer jy die skedule skep, moet jy jou huisomgewing in ag neem. Gebruik dit bloot as ’n manier om te verseker dat daar daagliks minstens twee ure se leer plaasvind.
- Ouers moet te alle tye met die kind se onderwyser kommunikeer. Die onderwyser sal vir jou ’n aanduiding gee van areas waarmee die kind sukkel.
- Maak gebruik van platforms soos LitNet Skole en die biblioteek in die gemeenskap om ekstra hulpbronne te kry.
- Probeer om aktiwiteite by die huis in leergeleenthede te omskep. Laat die kind byvoorbeeld vir jou die instruksies van ’n resep lees.
Dink jy daar is sekere gewoontes wat oor die afgelope paar maande gevorm is wat aangespreek moet word? Ek praat van meer tyd wat kinders op skerms spandeer het, of tye wat hulle doelloos in die strate rondgedwaal het, georganiseerde sport wat tot stilstand gekom het. Mens wil so graag die kinders veilig hou van die virus, maar ook is sport of buitemuurse aktiwiteite 'n manier om die kinders gefokus te hou, of hoe? Hoe gemaak, as ouers self hul hande vol het om hulle eie balle in die lug te hou?
........
Hier is dit veral waar die sosiale ongelykheid in die land ’n groot rol speel. As gevolg van die benadering wat gevolg is, het baie leerders die roetine van daaglikse skool- en onderrigtyd verloor.
........
Jy is heeltemal reg. Hier is dit veral waar die sosiale ongelykheid in die land ’n groot rol speel. As gevolg van die benadering wat gevolg is, het baie leerders die roetine van daaglikse skool- en onderrigtyd verloor. Daarom is dit belangrik dat ouers vir hul kinders ’n skedule skep, nie net om weer die roetine te vind nie, maar ook om verlore akademiese werk in te haal en selfgerigte leer aan te moedig. Indien ouers sukkel om hulle eie balle in die lug te hou, is dit veral belangrik om ’n ooreenkoms met die kind te skep. Só ’n ooreenkoms sluit in gesprekke oor wedersydse verwagtinge, realistiese doelwitte vir wat jou kinders op hul eie kan bereik, en laastens ’n ondersteunende omgewing waar die kind nie verder onder druk geplaas word nie. Praat openlik ook met jou kinders oor hul geestelike welstand, want dit is ’n kwessie wat hopeloos te min aandag kry.
Kan jy aan enigiets dink wat kinders in hierdie tyd beter kan voorberei op ’n toekoms wat heeltemal anders lyk as die verlede? Kom ons verbeel ons dis ’n ideale wêreld.
........
Twee dinge staan uit: tegnologie en selfgerigte leer. Tegnologie het ongetwyfeld die onderrig-en-leer-proses verander. Tydens die pandemie het ons besef dat digitale geletterdheid nou ‘n belangrike komponent van die onderrigproses is.
..........
Twee dinge staan uit: tegnologie en selfgerigte leer. Tegnologie het ongetwyfeld die onderrig-en-leer-proses verander. Tydens die pandemie het ons besef dat digitale geletterdheid nou ‘n belangrike komponent van die onderrigproses is. Ons moet dus ons leerders toerus met die nodige vaardighede vir die eise van die nuwe digitale era. Dit is glad nie ’n nuwe sentiment nie, maar ek hoop dit word nou ter harte geneem. Leerders moes ook onafhanklik werk, wat weer eens die belangrikheid van selfgerigte leer op die voorgrond geplaas het. Onderwysers moes die leerproses fasiliteer en nie as die enigste bron van kennis optree nie. Ek hoop dit word meer aangemoedig wanneer ons na normale onderrig terugkeer, want dit hou heelwat voordele vir die kind se ontwikkeling in.
Lees ook:
COVID-19 en verlore skooltyd: Christa van Staden se wenke aan ouers en onderwysers