
Foto van horlosie: Pixabay; foto van Michael le Cordeur: verskaf
Die tweede semester is hier. COVID–19 en inperkingsmaatreëls het te veel onderrigtyd laat verlore gaan. Naomi Meyer het by ’n paar opvoedkundiges aangeklop en praktiese raad vir ouers gevra.
Hier onder reageer Michael le Cordeur, senior professor en hoof van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch, op die vrae.
Die tweede semester van die jaar het pas afgeskop. Nou die dag hoor ons dat Angie Motshekga gepraat het van die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat reeds verlore is. Ons weet ons leef in ’n totaal ongelyke samelewing en akademiese opvoeding is een manier om ’n sukses van jou lewe te kan maak. Het jy enige voorstelle van wat gedoen kan word om kinders te help om verlore skooltyd in te haal? Wat kan ouers by die huis doen om hulle kinders te help – akademies?
........
Dit is waar dat ons in ’n ongelyke samelewing leef, en die beste voorbeeld daarvan is juis in ons skole. Dit het die Covid-pandemie vir ons uitgewys.
..........
Dit is waar dat ons in ’n ongelyke samelewing leef, en die beste voorbeeld daarvan is juis in ons skole. Dit het die Covid-pandemie vir ons uitgewys. Ontleed jy die skole wat aangedui het dat hulle gereed is dat alles leerlinge terug kan keer, sal jy sien dit is juis die skole wat genoeg ruimte het, genoeg klaskamers met slegs die verlangde 34 leerders per klas. Waar ’n skool genoodsaak is om 45 leerlinge in ‘n klas te sit, kan so ’n skool tog nie al sy leerlinge terugverwelkom nie? Maar ek weet dit en jy weet dit. So hoe is dit dat die Minister dit nie weet nie? Sy weet ook dat sommige skole nog nie toilette of lopende water het nie en tog doen sy of die Minister van Waterwese niks daaraan nie. Gift of the Givers weet dit ook. Net gisteraand sien ek dat Gift of the Givers klaskamers oprig by skole wat te min plek het. Dis mos die regering se werk? Waar is hulle?
Die vraag is of jy nou alle skole moet terughou?
.......
Die enigste oplossing is dat ouers begin verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders se opvoeding. Hulle móét hulp soek, saamspan, vennootskappe sluit met hul plaaslike sakemanne. Jy hoef nie geld te hê nie. Dit kos niks behalwe moeite en harde werk om klaskamers in die middag goed skoon te maak, om te sorg dat daar seep en water is om kinders se hande te was, of om maskers te maak vir kinders nie.
.........
Ek dink nie so nie. Ja, dis hartseer dat een groep weer sal agterbly, maar dit is op die regering se gewete. Ek het al geskryf, en ek sal dit weer sê: Die enigste oplossing is dat ouers begin verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders se opvoeding. Hulle móét hulp soek, saamspan, vennootskappe sluit met hul plaaslike sakemanne. Jy hoef nie geld te hê nie. Dit kos niks behalwe moeite en harde werk om klaskamers in die middag goed skoon te maak, om te sorg dat daar seep en water is om kinders se hande te was, of om maskers te maak vir kinders nie. My vrou, wat ’n naaldwerkonderwyser was en nou afgetree het, het al baie maskers gemaak vir skoolkinders – gratis. As almal dit doen, kan ons ‘n verskil maak.
Dink jy daar is sekere gewoontes wat oor die afgelope paar maande gevorm is wat aangespreek moet word? Ek praat van meer tyd wat kinders op skerms spandeer het, of tye wat hulle doelloos in die strate rondgedwaal het, georganiseerde sport wat tot stilstand gekom het. Mens wil so graag die kinders veilig hou van die virus, maar ook is sport of buitemuurse aktiwiteite ’n manier om die kinders gefokus te hou, of hoe? Hoe gemaak, as ouers self hul hande vol het om hulle eie balle in die lug te hou?
.......
Ja, ongelukkig is baie slegte gewoontes aangeleer en dit gaan tyd en báie dissipline van ouers en onderwysers verg om sake te herstel. Leerlinge het geleer om laat te slaap, nie huiswerk te doen nie, en om net sekere dae skool toe te gaan.
........
Ja, ongelukkig is baie slegte gewoontes aangeleer en dit gaan tyd en báie dissipline van ouers en onderwysers verg om sake te herstel. Leerlinge het geleer om laat te slaap, nie huiswerk te doen nie, en om net sekere dae skool toe te gaan. Dit het leerlinge (veral diegene in die arm gebiede wat dit die minste kan bekostig) ver agter gelaat en oneindige skade aangerig. Hier kom nog ‘n verlore generasie!
Skoolsport, waaroor ek baie passievol is …. Ek was my lewe lank by skoolsport betrokke, aanvanklik as speler en later as onderwyser en nog later as voorsitter van die skoolsportunie, en dit is vir my hartseer om te sien hoe kinders doelloos ronddwaal. Daar is darem ligpunte ook – ek sien kinders begin hul eie wedstryde organiseer in die townships. Dit is ‘n teken dat die skole nou reeds te lank toe is.
Ons wil almal terugkeer na die sportveld, maar kinders en onderwysers se veiligheid kom eerste. Daarom moet ons alle protokol handhaaf en waar dit nie moontlik is nie, moet ons liefs wag totdat die tyd meer geleë is.
Kan jy aan enigiets dink wat kinders in hierdie tyd beter kan voorberei op ’n toekoms wat heeltemal anders lyk as die verlede? Kom ons verbeel ons dis ’n ideale wêreld.
........
Ja, dis hartseer om te sê, maar kinders se dissipline het baie agteruitgegaan. Hier wag harde werk op onderwysers. En ouers. Onderwysers sal dit nie alleen kan doen nie.
........
Ja, dis hartseer om te sê, maar kinders se dissipline het baie agteruitgegaan. Hier wag harde werk op onderwysers. En ouers. Onderwysers sal dit nie alleen kan doen nie. Dalk sal selfs die hulp van kerke en maatskaplike organisasies ingeroep moet word. My ondervinding as onderwyser en skoolhoof is dat skoolsport juis kan help om dissipline te herstel.
Lees ook:
COVID-19 en verlore skooltyd: Christa van Staden se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Dewald Koen se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Estelle Kruger se wenke aan ouers en onderwysers
Tuisonderwys is nie inperkingsonderrig nie: praktiese raad vir ouers
Kommentaar
Welgedaan, Michael
Dit is kosbaar hoe jy jou kundigheid en eie ervaring in die onderwys deel met die ouers en onderwysers.