
Foto van horlosie: Pixabay; foto van Dewald Koen: verskaf
Die tweede semester is hier. COVID–19 en inperkingsmaatreëls het te veel onderrigtyd laat verlore gaan. Naomi Meyer het by ’n paar opvoedkundiges aangeklop en praktiese raad vir ouers gevra.
Hier onder reageer Dewald Koen, voorheen ’n onderwyser en nou ’n dosent, op die vrae.
Die tweede semester van die jaar het pas afgeskop. Nou die dag hoor ons dat Angie Motshekga gepraat het van die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat reeds verlore is. Ons weet ons leef in ’n totaal ongelyke samelewing en akademiese opvoeding is een manier om ’n sukses van jou lewe te kan maak. Het jy enige voorstelle van wat gedoen kan word om kinders te help om verlore skooltyd in te haal? Wat kan ouers by die huis doen om hulle kinders te help – akademies?
........
Ek vermoed dat ons in die toekoms ’n generasie leerders in skole gaan hê wie se lees- en begripsvaardighede selfs swakker gaan wees as wat tans die geval is.
..........
Ek is dit met die minister eens, Naomi. Dit is inderdaad ’n katastrofe op alle vlakke van die onderwyssektor, insluitend tersiêre onderwys. My persoonlike bekommernis is veral die uitwerking wat die verlore onderrigtyd op kinders in die grondslagfase gaan hê. Ek vermoed dat ons in die toekoms ’n generasie leerders in skole gaan hê wie se lees- en begripsvaardighede selfs swakker gaan wees as wat tans die geval is. Om ’n kind te leer lees en skryf is immers die fondament waarop daar in die daaropvolgende grade gebou moet word en indien daardie fondament onstabiel is, gaan daar definitief probleme wees.
Ouers en voogde speel ’n belangrike rol tydens hierdie pandemie, aangesien hulle deels die rol van die onderwyser ook moet vertolk. Dit op sigself kan in sommige gevalle problematies wees, aangesien nie alle ouers of voogde oor die nodige kennis beskik om byvoorbeeld algebra of lydende en bedrywende vorm aan hul kind te kan verduidelik nie. Dit is egter belangrik dat onderwysers laasgenoemde in ag moet neem wanneer hulle opdragte huis toe stuur. Dit bly steeds die onderwyser se rol en verantwoordelikheid om die inhoud te onderrig. Die ouer of voog vertolk ’n belangrike rol wat die vaslegging van daardie kennis of vaardighede betref. In hierdie opsig kan die ouer of voog wel hul kind help om verlore skooltyd in te haal mits daar nie van hulle verwag word om die inhoud van die sillabus te onderrig nie.
Ek stel dus die volgende wenke voor:
- Ouers of voogde moet as ’n span saam met die onderwyser werk. Maak seker jy het kontak met die onderwyser, hetsy via WhatsApp, e-pos, SMS of per telefoon. Dit is wel uitputtend vir die onderwyser, maar die meerderheid onderwysers wat passievol oor hul beroep is gedurende die pandemie, sal alles in hul vermoë doen om te verseker dat hul leerders nie benadeel word nie. Praat met jou kind se onderwyser en bespreek moontlike uitdagings. Vra vir leiding indien jy onseker is wat gedoen moet word. Spanwerk tussen die ouer/voog, onderwyser en leerder is van kardinale belang.
- Stel realistiese verwagtinge. Moenie onnodige druk op jouself en jou kind plaas nie. Ons is geneig om te vergeet watter emosionele uitwerking hierdie pandemie op kinders en studente gehad het en steeds het. Talle tieners voel depressief en veral jonger kinders is geneig om angstig te raak. Hou jou kind se gedrag fyn dop en bied die nodige emosionele ondersteuning. Spandeer steeds daagliks gehaltetyd met jou kind deur balspeletjies te speel (binne ’n veilige ruimte) of sommer net ’n ent te gaan stap. Kry die kind weg van die selfoon, skootrekenaar of televisie of die beperkte studieruimte in die huis en maak seker dat jou kind genoeg beweeg. Dit is egter nie altyd moontlik nie, weens die omstandighede waarin ’n kind hom of haar bevind. Stap saam na die spazawinkel of begin ’n projek deur byvoorbeeld groente voor of agter die huis te plant. Almal se sosio-ekonomiese omstandighede verskil en gevolglik moet daar binne die spesifieke raamwerk waarin die gesin hul bevind, gedink word. Maak leer deel van die daaglikse lewe – leer hoef nie noodwendig deur middel van ’n handboek of op ’n werksvel te geskied nie. Deel jou kennis met jou kinders binne die konteks van hulle verwysingsraamwerk en ouderdom.
- Ouers/voogde kan veral jonger kinders soveel as moontlik laat lees. Gebruik die tyd voor slapenstyd deur iets te lees. Laat jou kind ook toe om sy/haar verbeelding te gebruik deur self stories te vertel of te skryf. Maak van elke geleentheid gedurende die dag gebruik om iets te leer deur byvoorbeeld jou kind te vra om die resep vir jou voor te lees wanneer jy aandete voorberei of hul woordeskat uit te brei deur items in die huis te benoem. Alles hoef nie ingewikkeld te wees nie.
- Vir tieners is dit belangrik dat ouers hulle emosioneel ondersteun en ook vir hulle ’n mate van ’n roetine skep waarby hulle kan hou aangesien hulle moontlik hul skoolwerk kan afskeep weens die “vryheid” wat hulle tot hul beskikking het. Vra gereeld uit oor wat jou tiener tans leer. Indien daar ’n vraag is wat jy nie kan beantwoord nie, kontak die onderwyser. Kyk gereeld in sy/haar boeke wat by die skool in die klaskamer gedoen word. Alhoewel die meeste tieners nie hiervoor te vinde sal wees nie, is dit ’n manier waarop ouers of voogde kan verseker dat kinders wel leer wanneer hulle terug in die klaskamer is.
- Indien jy opmerk dat jou kind probleme ervaar met byvoorbeeld lees of skryf, kontak die skool en onderwyser. Dit is belangrik dat die onderwyser kennis dra van moontlike leeruitdagings sodat daaraan aandag geskenk kan word wanneer leerders wel in die klaskamer is.
- Om jou kind akademies te help is ’n holistiese proses. Doen dus wat jy kan binne die konteks waarin jy as ouer of voog jou bevind.
Dink jy daar is sekere gewoontes wat oor die afgelope paar maande gevorm is wat aangespreek moet word? Ek praat van meer tyd wat kinders op skerms spandeer het, of tye wat hulle doelloos in die strate rondgedwaal het, georganiseerde sport wat tot stilstand gekom het. Mens wil so graag die kinders veilig hou van die virus, maar ook is sport of buitemuurse aktiwiteite ’n manier om die kinders gefokus te hou, of hoe? Hoe gemaak, as ouers self hul hande vol het om hulle eie balle in die lug te hou?
Ja, daar het definitief ’n hele paar goeie maar ook slegte gewoontes uit hierdie pandemie gespruit. Reeds voor die pandemie het ouers of voogde gesukkel om hul kinders van die selfoon of die televisie weg te kry. Hierdie taak is nou selfs moeiliker. Fisieke oefening is baie belangrik vir alle kinders – insluitend tieners. Jonger kinders moet veral aangemoedig word om soveel as moontlik te beweeg en buite in die tuin te speel (indien moontlik). Ouers moet ook seker maak om kinders (graad 1 tot 3) hulle hand- en oogkoördinasie te laat oefen deur byvoorbeeld balspeletjies te speel. Tieners mis veral spansport en die kameraadskap wat daar tydens oefeninge en wedstryde gesmee is. In hierdie opsig kan die gesin dalk oor naweke saam speletjies speel.
Ongelukkig het talle skoliere en studente tydens die pandemie die skool verlaat of hul studies gestaak. Dit is kommerwekkend. Ouers, onderwysers, dosente en gemeenskappe sal ’n daadwerklike poging moet aanwend om daardie kinders en studente weer in die klaskamer of lesinglokaal terug te kry. Dit gaan weer eens ’n spanpoging verg.
........
Ek haal my hoed af vir elke ouer en voog wat voltyds werk, ’n huishouding bestuur en dan boonop deeltyds die rol van onderwyser moet vervul. Hierdie pandemie het die wêreld waarin ons geleef het, tot so ’n mate verander dat ons nie weer in die toekoms soos voorheen sal kan voortgaan nie.
........
Ek haal my hoed af vir elke ouer en voog wat voltyds werk, ’n huishouding bestuur en dan boonop deeltyds die rol van onderwyser moet vervul. Hierdie pandemie het die wêreld waarin ons geleef het, tot so ’n mate verander dat ons nie weer in die toekoms soos voorheen sal kan voortgaan nie. Dit is belangrik dat ouers en voogde ook met mekaar kommunikeer. Almal bevind hul immers in dieselfde bootjie. Maak seker jy het emosionele ondersteuning van vriende of familie. Deel julle kennis met mekaar. Indien een ouer byvoorbeeld algebra kan verduidelik, help mekaar se kinders. ’n Ander ouer of voog is dalk ’n boffin in tale. Spanwerk kan steeds tot ’n beperkte mate op ’n veilige manier geskied deur alle COVID-19-protokolle na te kom.
Op ’n meer positiewe noot het hierdie pandemie ons behoorlik in die spreekwoordelike diep kant ingegooi wat betref die Vierde Industriële Revolusie. Skole en universiteite is gedwing om met nuwe onderrigmetodes vorendag te kom en as dosent het ek self talle nuwe vaardighede aangeleer. Boonop moes ons meer kreatief en vernuwend te werk gaan om ons uit ons gemaksones te haal.
........
Skole en universiteite is gedwing om met nuwe onderrigmetodes vorendag te kom en as dosent het ek self talle nuwe vaardighede aangeleer. Boonop moes ons meer kreatief en vernuwend te werk gaan om ons uit ons gemaksones te haal.
.........
Kan jy aan enigiets dink wat kinders in hierdie tyd beter kan voorberei op ’n toekoms wat heeltemal anders lyk as die verlede? Kom ons verbeel ons dis ’n ideale wêreld.
Ek dink ons het reeds begin om die kinders en studente voor te berei op die postpandemie toekoms – die pandemie het ons gedwing om oornag daardie kopskuif te maak. Almal het binne die bestek van ’n kort tyd geleer om die hele onderrigproses te hersien. Ons is egter nog nie naastenby waar ons moet wees nie, maar vir ’n land soos Suid-Afrika, waar ons enorme sosio-ekonomiese ongelykhede het, vaar ons nie te sleg nie. Kinders en jongmense het tydens die pandemie geleer om vernuwend te wees. Hulle het talle uitdagings in die gesig gestaar wat hulle gedwing het om hul probleemoplossingsvaardighede te verbeter. Skole en tersiêre instellings gaan die nodige veranderinge implementeer om beter voorbereid te wees vir toekomstige uitdagings.
........
Ons moet kinders leer dat verandering oornag kan plaasvind en dat dit nie die einde van die wêreld is nie (hopelik nie!). Ons moet ons kinders leer om veranderinge en uitdagings as geleenthede te beskou om vernuwend en kreatief te dink en te handel.
........
Ons moet kinders leer dat verandering oornag kan plaasvind en dat dit nie die einde van die wêreld is nie (hopelik nie!). Ons moet ons kinders leer om veranderinge en uitdagings as geleenthede te beskou om vernuwend en kreatief te dink en te handel. In die epog van die Antroposeen betree ons immers ’n wispelturige toekoms met talle rampe en pandemies wat nog op die mensdom wag. Ons moet aanpas en voorbereid wees. Ons kan nie bekostig om weer onverhoeds betrap te word nie.
Lees ook:
COVID-19 en verlore skooltyd: Earl Basson se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Christa van Staden se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers
Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat – ’n onderhoud met Elvis Saal
Tuisonderwys is nie inperkingsonderrig nie: praktiese raad vir ouers
COVID-19 en verlore skooltyd: Estelle Kruger se wenke aan ouers en onderwysers
Kommentaar
Bravo, Dewald!
Duidelike, kreatiewe en praktiese raad.