Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat – ’n onderhoud met Elvis Saal

  • 0

.............

“Ek glo die beste manier om variëteite te bevorder en dialeksprekers eienaarskap van hul variëteite te laat neem, is dat ruimtes geskep (dalk eerder ‘opgeëis’) moet word waar hierdie variëteite gehoor en ‘vertoon’ kan word.”

.............

Naomi Meyer en Cliffordene Norton gesels met Elvis Saal oor sy skoleseminaar, “Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat”.

Elvis, jy het onlangs ’n artikel geskryf oor die verskillende dialekte van Afrikaans in die klaskamer. Hoeveel van hierdie dialekte van Afrikaans dink jy bestaan daar?

Gesprekke oor die variëteite van Afrikaans fokus primêr op die drie historiese variëteite, naamlik Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans. Hierdie drie geografiese dialekte is nie inherent homogeen nie, maar sluit subvariëteite in.

So byvoorbeeld sluit Oranjerivierafrikaans (deesdae na verwys as Gariepafrikaans) onder andere die subvariëteite Griekwa-Afrikaans, Richterveldse Afrikaans en Namakwalandse Afrikaans in. Dieselfde geld Kaapse Afrikaans met subvariëteite soos Kaapse Moesliemafrikaans, Swartlandse Afrikaans, Bolandse Afrikaans en Weskusafrikaans (om maar ’n paar te noem).   

Hierdie hoofstroom- geografiese variëteite het tot nou toe die gesprekke en indelings oor Afrikaanse dialekte gerig, maar onlangse dialekindelings suggereer dat daar dalk tot soveel as ses geografiese dialekbundels (elk met sy eie subvariëteite) geïdentifiseer kan word.

Frank Hendricks het byvoorbeeld voorgestel dat dialekte soos Vrystaatse Afrikaans, Karoo-Afrikaans en Oos-Kaapse Afrikaans as aparte geografiese dialekte verreken behoort te word. Gegee die verskillende indelingsmodelle bestaan daar dus verskillende menings oor die aantal hoofstroom- geografiese dialekte wat onderskei kan word.

Wat nodig is, is ’n omvattende dialektiese ondersoek om weer vas te stel of die dialekgrense wat ons tot nou toe aanvaar het, nog geldig is, asook die mate van oorvleueling tussen dialekte. Ek is veral geïnteresseerd in ondersoeke na die dialekgrense van Tienerafrikaans en in hoe ’n mate ons in verskillende dele van die land nog onderskeidendende kenmerke onder Afrikaanse tieners kan identifiseer.

Ek is van mening dat baie kenmerke wat vroeër tipies was van ’n bepaalde geografiese dialek, na ander dialekte kon migreer het en dat ons dialekgrense baie meer vloeibaar is as wat ons soms wil erken of aanvaar.

Wat is die geskikte ouderdom om leerders in Afrikaanse dialekte te onderrig?

Ek sou dink dat ’n dialektiese bewustheid reeds op ’n vroeë ouderdom gekweek moet word. Leerders kan alreeds in die intermediêre fase (hier vanaf graad 5) op ’n basiese, maar kreatiewe wyse bewus gemaak word van dialekte – veral hoe verskillend dialekte klink van die standaard. Leksikale variasie kan hier vir opwindende taalspeletjies sorg. Vanaf die senior fase (graad 8) en verder kan ’n meer gevorderde dialektiese blootstelling verwag word.

.............

“Die blootstelling van dialeksprekers aan die standaardtaalkode gaan na my mening gepaard met vele akademiese en sielkundige hindernisse wat die leerder moet oorkom om in die skoolopset te presteer.”

.............

Dialekte kan hier meer geleidelik aangewend word om as hulpbron te dien in die leerders se beheersing van die standaard. ’n Gevorderde dialekblootstelling sou kon insluit die identifisering van grammatiese variasie tussen dialekte en die standaard, maar ook die funksionele benutting van dialekte as talige opsies in geselekteerde skryftake. Die dialekblootstelling sien ek as ’n geleidelike proses wat al hoe meer gevorderd raak soos wat die leerder akademies vorder.

Huistaalonderrig is belangrik, hoor mens altyd. Die kinders wat kan leer in die taal waarin hulle by die huis praat, en met hulle vriende, sal waarskynlik beter vaar akademies. Wat dink jy van hierdie stelling?

Ek neem aan dat hier verwys word na die verband tussen akademiese prestasie en die gebruik van die leerder se dialek in die klaskamer. Is dit dan so dat as die leerder se dialek in die klaskamer gebruik word, dit ’n positiewe uitwerking kan hê op die akademiese prestasie van die leerder?

In diskoerse oor die gebruik van dialekte in die klaskamer is daar al voorgestel dat Kaaps byvoorbeeld as onderrigmedium ingespan moet word vir leerders wat met Kaaps grootgeword het. In die literatuur word daar ’n verband getref tussen akademiese prestasie en die leerder se variëteit: Hoe verder weg die leerder se variëteit van die standaard staan of daarvan verskil, hoe groter die kans dat dit ’n negatiewe invloed op akademiese prestasie kan hê.

Die skool kan ’n intimiderende omgewing wees vir ’n leerder wat ’n ander kode as die standaard besig: Die skool bevorder die standaardtaal en variëteitsprekers kan die skool as vervreemdend en vyandiggesind teenoor hul variëteit ervaar, en dit kan ’n negatiewe invloed op die identiteit, selfbeeld en motiveringsvlakke van die leerder hê.

Leerders wat byvoorbeeld Kaaps as huistaal praat en dan in die skool slegs met Standaardafrikaans gekonfronteer word (en boonop gedurig gekorrigeer word oor hul taalgebruik), kan die skoolopset as baie demoraliserend ervaar en selfs besluit om die skool te verlaat. (Dit sou interessant wees om te sien wat die statistiek sou wees vir dialeksprekende leerders en standaardtaalleerders wat die skool verlaat.) Die blootstelling van dialeksprekers aan die standaardtaalkode gaan na my mening gepaard met vele akademiese en sielkundige hindernisse wat die leerder moet oorkom om in die skoolopset te presteer.

Natuurlik is daar baie dialeksprekers wat (met baie opofferings) presteer in die skoolstelsel, maar daar is ook baie dialeksprekers wat onderpresteer en wat later maar tou opgooi en die skool verlaat. Dit word toenemend belangrik dat daar ernstig besin word oor hoe dialekte in die klaskamer verreken behoort te word – ’n gesprek wat hopelik nou nuwe momentum sal kry en praktiese uitkomste sal lewer.

Foto: Canva.com

Jou artikel wys uit wat ons reeds weet: Daar is ’n soort ongemak by verskillende sprekers van Afrikaans. En dit voel nogal gereeld (meestal) asof die sprekers van ander sogenaamde dialekte moet inval by die sprekers van, noem dit nou maar, Standaardafrikaans. Dit skep ’n soort hiërargie en aanpassing – altyd van een van die sprekersgroepe. Die Standaardsprekers, daarenteen, praat soos hulle praat. Het jy raad? Gedagtes, voorstelle? Hoe kan mens hierdie situasie aanspreek? In die skool, of klaskamer, of in sosiale omgang?

Die beste manier om variëteite te bevorder en dialeksprekers eienaarskap van hul variëteite te laat neem, is dat ruimtes geskep (dalk eerder “opgeëis”) moet word waar hierdie variëteite gehoor en “vertoon” kan word. Dit gaan vir my hier oor taalhoudings: die persepsie dat Standaardafrikaans noodwendig funksioneel beter is as die niestandaarddialekte van Afrikaans.

Een manier om hierdie persepsies teen te werk is om die dialekte op te dwing in nuwe, formele domeine sodat die funksioneelheid en woordkrag van hierdie dialekte duidelik sigbaar kan word vir sprekers in hierdie (formele) domeine.

Dialekte word te maklik afgemaak as slegs behorende tot die informele domein en dit word dan gesien as die reikwydte van dialekte. As dialekte gebruik word (onapologeties) in ruimtes wat vroeër slegs met die standaard geassosieer is, kan nuwe winste geskep word vir die dialekte.

Ek onthou toe ek op ’n stadium die gebruik van Kaaps in die poniekoerant Son ondersoek het, was dit die veranderende persepsies oor Kaaps wat my opgewonde gehad het: Lesers het byvoorbeeld die gebruik van Kaaps in Son gesien as ’n doeltreffende en kragtige manier om hulle met relevante, betekenisvolle en interaktiewe inligting te bedien.

Die onlangse benutting van Kaaps deur Jeremy Vearey tydens sy lewering van die jaarlikse NP Van Wyk Louw-gedenklesing dien vir my as ’n kragvertoon van die funksionele gebruik van Kaaps in ’n akademiese ruimte. Die gebruik van dialekte in institusionele ruimtes (soos die skool, die universiteit, die media, ens) gee aan dialekte groter legitimiteit en dra nie net by tot die positiewe inkleding en waardering van die dialekte nie maar gee ook aan die dialekte ’n nuwe inhoud en assosiasie.

Ons beleef nou ’n groter omarming van dialekte en dit word toenemend gebruik as uitdrukkingskode in die media, die letterkunde, die teaterbedryf, die musiekbedryf, die sakewêreld, ens. Dialekte begin stadigaan groter blootstelling en erkenning kry en hierdie spontane (her)waardering van dialekte is tekenend van ’n veranderende taallandskap wat groter legitimiteit aan die dialekte bied.

Die groter erkenning van dialekte sal natuurlik afhang van die mate waartoe dialeksprekers eienaarskap sal neem van hul dialekte en hul dialekte begin opeis as funksionele kodes en sodoende begin wegdoen met die selfstigmatisering van dialekte as ontoereikende en minderwaardige taalkodes.

Hoe kan onderwysers met geen kennis en agtergrond van die verskeie dialekte nie ’n benadering vind wat nie skade aan die identiteit van die spreker sal berokken nie?

Ek moet dit net eers duidelik stel dat ek nie ’n pleidooi in my meningstuk lewer vir die vervanging van Standaardafrikaans met dialekte (byvoorbeeld Kaaps) in die klaskamer nie. Dit gaan vir my oor die groter erkenning van die leerder se dialek in die klaskamer en hoe hierdie dialek onder meer as hulpbron ingespan kan word in die bemeestering van Standaardafrikaans.

Die taaluitkoms hier is dan leerders wat multidialekties sal wees en gepas kan navigeer tussen die dialek en die standaard. Die standaard sal nie as taalkode uit die klaskamer verdwyn nie, maar daar kan beslis meer gedoen word in die klaskamer om dialekte te erken en meer tot hul reg te laat kom. Die groot vraag is natuurlik hoe dit prakties in die klaskamer gedoen kan word.

Afbeelding: PharosAanlyn

Ek maak nie hier aanspraak dat ek die antwoorde het vir hierdie kurrikulumvernuwing wat behoort plaas te vind om dialekte te integreer in die klaskamer nie. Ek probeer hoogstens ’n perspektief inbring in die gesprek oor dialekte in die klaskamer. Dialekte in die klaskamer impliseer nie dat onderwysers nou kundiges moet wees van al die dialekte nie. ’n Basiese kennis van dialekte is egter noodsaaklik. Ons moet die leerders se kundigheid as dialeksprekers hier raaksien en hulle as ’n bron van kennis inspan om dialekte in die klaskamer te help ontsluit.

Eintlik is die taalklas ryk aan linguistiese diversiteit, en waar die onderwyser die kundige behoort te wees op die gebied van Standaardafrikaans, is die leerders kundiges uit eie reg wat hul dialekte betref. Watter taalskade sou dit nou berokken as die leerders self die kenmerke van hul dialek kan bespreek in die konteks van hoe dit verskil van of ooreenstem met die standaard wat hulle as addisionele kode behoort aan te leer? Maar die integrering van die dialekte moet nie beperk bly tot hulpmiddel om die standaard beter te beheers nie. Daar behoort ook genoegsame ruimtes geskep te word waar die leerder in sy/haar dialek uitdrukking kan gee aan wat bydraend is tot akademiese prestasie.

.............

“Gariep-Afrikaans het nooit dieselfde reikwydte as Kaaps bereik nie, maar daar is tog verblydende tekens dat Gariep-Afrikaans al hoe meer opgeëis word deur die sprekers daarvan.”

.............

Tans kry leerders blootstelling aan dialektiese variasie in literêre werke en dit bied alreeds ’n goeie platform om skryftake te bedink waar leerders hul dialekte kan aanwend as skryfkode (wat vir assessering tel). Sulke kreatiewe skryftake kan dan geëvalueer word kragtens die narratiewe tegnieke wat toegepas word eerder as ’n fokus op die “korrekte” taalgebruik. Daar is anekdotiese bewyse dat onderwysers alreeds sulke kreatiewe ruimtes skep in klaskamers wat leerders aanmoedig om hul dialek as uitdrukkingsvorm te gebruik. Ek het nou onlangs gehoor van onderwysers wat self by skryftake wat in die standaard geskryf moet word, sekere dialektiese variasie wat voorkom nie as verkeerd merk nie, maar as talige opsies begin aanvaar.

Ongelukkig weet ons nog te min van hoe onderwysers omgaan met dialektiese variasie in die klaskamer en dit sal van groot waarde wees as ons toegang kan kry tot hierdie dialekpraktyke in die klaskamer.

Die gesprek oor hoe dialekte in die kurrikulum ingeskryf kan word, is een wat nog in sy kinderskoene staan, maar wat ernstig gevoer sal moet word deur verskeie belanghebbendes (taalkundiges en opvoedkundiges) te betrek. Ek weet dat die Afrikaanse Taalraad so ’n platform geskep het en besig is om aan hierdie gesprek vorm en momentum te gee. Meer nog: Dit moet nie toegelaat word om net by praat bly nie, maar ons sal met prakties uitvoerbare voorstelle moet kom wat akademiese en opvoedkundige meriete het wat tot voordeel van die leerder in die Afrikaansklas sal wees.

In jou artikel identifiseer jy dialektiese opleiding as ’n manier om Standaardafrikaans in die klaskamer meer toeganklik te maak. Hoe sal dit geïmplementeer word? Moet hier opleiding tydens universiteitsopleiding geskied of later? En wat is die verwagtinge ten opsigte van die Afrikaanse onderwysers? Moet hulle kennis dra van Afrikaans in sy vele geografiese skakerings?

Die voorstel vir die dialektiese oriëntering van onderwysers word medebepaal deur die kurrikulumvernuwing wat in die Afrikaansklas beding kan word. Die gesprek oor die aanpassing en/of vernuwing van die kurrikulum in die taalklas sal natuurlik deur verskeie belanghebbendes gevoer moet word met as uitkoms ’n prakties uitvoerbare kurrikulum wat die nodige leiding en riglyne sal verskaf aan die Afrikaansonderwyser oor die gebruik van dialekte in die taalklaskamer.

Tans is die gesprekke oor die integrering van dialekte in die Afrikaansklas dalk nog te teoreties, maar dit moet as ’n belangrike eerste stap gesien word om te bepaal wat die fundamentele boublokke behoort te wees van só ’n dialeksensitiewe kurrikulum in die taalklas.

Die voorgestelde dialekoriëntering van onderwysers behoort die volgende in te sluit:

(i) Persepsies oor dialekte: Onderwysers behoort gesensiteer te word vir die verskeie persepsies wat daar oor Afrikaanse dialekte bestaan. ’n Opname oor dialekpersepsies onder sowel onderwysers as leerders kan hier nuttig te pas kom om die heersende persepsies te identifiseer. Indien ons weet wat die heersende dialekpersespies is, kan daar spesifieke onderrigstrategieë bedink word om dit aan te spreek. Dit is verder van belang dat persepsies oor dialekte op ’n sensitiewe wyse benader word. Die akademiese winste wat dialekte in die taalklas kan bied, vorm hier een van die kernargumente.

(ii) Die storie van Afrikaans vanaf 1590: Onderwysers behoort vertroud te wees met onlangse perspektiewe oor die Afrika-geskiedenis van Afrikaans. Die redelike verwagting sou wees dat onderwysers in staat moet kan wees om die dialekte in die klaskamer sinvol en gepas histories te kan kontekstualiseer en die leerder te begelei om sy/haar storie van Afrikaans te ontdek.

(iii) Die dialektiese variasie in Afrikaans: Onderwysers behoort vertroud te wees met die dialektiese variasie wat voorkom in Afrikaans. ’n Basiese kennis van die leksikale en grammatikale variasie wat in dialekte voorkom kan die onderrigpraktyke in die klaskamer verryk.

(iv) Riglyne vir die insluiting van dialektiese variasie in Standaardafrikaans: Onderwysers behoort van taalriglyne voorsien te word oor die hantering van dialektiese variasie in Standaardafrikaans. Dit kom daarop neer dat ’n handleiding opgestel behoort te word wat die dialektiese opsies verreken wat by die standaard ingesluit kan word. Daar is tans pogings aan die gang om leksikale items uit die dialekte op te teken wat as talige opsies aanvaar kan word by die kreatiewe skryftake in die matriekeindeksamen. Sodanige ontwikkelinge kan dalk groter momentum gee aan die herstandaardisering van Afrikaans.

(v) ’n Voorbeeld van ’n dialeksensitiewe kurrikulum: So ’n kurrikulum moet gevoed word deur goedbeplande lesvoorbeelde wat illustreer hoe dialekte in die klaskamer aangewend kan word asook die akademiese uitkomste wat daardeur bereik kan word.

Die voorgestelde dialekoriëntering van Afrikaansonderwysers kan via werkswinkels/opleidingsessies (soos die LOK-simposium) geskied, maar die langtermyndoelwit sou wees dat dit deel uitmaak van die kurrikulum van Afrikaansdepartemente (indien nie reeds geïntegreer nie) asook die didaktiek van Afrikaans by universiteite. Ek stel in die vooruitsig ’n pedagogies-gefundeerde dialekhandleiding wat riglyne bevat oor hoe om dialekte sinvol in die klaskamer aan te bied. So ’n dialekhandleiding vir die taalklaskamer kan as basis dien vir die dialekoriëntering van onderwysers, wat ’n noodsaaklike stap is vir ’n geslaagde integrering van dialekte in die klaskamer.

In jou artikel verwys jy na die insluiting van leksikale items uit Kaapse Vernakulêre Afrikaans in die AWS (2007; 2017). Kaaps word dikwels as ’n aanvaarbare “dialek/variëteit” vir “Standaardafrikaans” beskou. Hoe lank sal dit neem vir die ander variëteite om dieselfde respek en erkenning te ontvang? Hoe kan mens hierdie situasie aanspreek?

Kaaps het in vergelyking met Gariepafrikaans nog altyd ’n groter dialekvitaliteit geniet. Dit is al vanaf die 19de eeu as godsdienstaal en skryftaal aangewend en is natuurlik ook in die laaste helfte van die 20ste eeu as literêre kode gevestig. Vandag word Kaaps ook toenemend gebruik as mediataal, as advertensietaal, as kunstenaarstaal (om ’n paar te lys). So die ontwikkeling van Kaaps veral as ’n skryfkode in verskillende kontekste kom al ’n ver pad.

Gariep-Afrikaans het nooit dieselfde reikwydte as Kaaps bereik nie, maar daar is tog verblydende tekens dat Gariep-Afrikaans al hoe meer opgeëis word deur die sprekers daarvan. Ons sien deesdae Namakwalandse kunstenaars soos die rymkletser Vito wat die Namakwalandse Afrikaans (of Nam-Afrikaans soos hy dit noem) gebruik in sy musiek en daardeur groter blootstelling gee aan Namakwalandse Afrikaans en wys dat Namakwalandse Afrikaans (soos Kaaps) ook nuwe ruimtes kan verower.

Ek is oortuig dat die blootstelling en suksesse van Kaaps positief sal inspeel op Gariep-Afrikaans met die gevolg dat ons mettertyd al hoe meer gebruike van Gariep-Afrikaans sal sien wat vroeër ongekend was. Die groeiende bewuswording, blootstelling en erkenning van dialekte – wat ’n globale verskynsel is – maak my baie opgewonde oor die toekoms van Kaaps en Gariep-Afrikaans. Daar kan egter bewuste dialekprojekte geloods word om die reikwydte van veral Gariep-Afrikaans te uit te brei. So byvoorbeeld kan ons leer van Kaaps en begin om groter blootstelling te gee aan Gariep-Afrikaans op die plaaslike gemeenskapsradiostasie NFM asook die plaaslike koerante in Namakwaland.

Dis klein treetjies, maar betekenisvol om die funksionele gebruike van Gariep-Afrikaans te vertoon en sekere negatiewe persepsies teen te werk. Platforms soos LitNet bied verder die geleentheid om gesprekke oor Kaaps, Gariep-Afrikaans asook die ander dialekte in die openbare domein te hou. Die toekoms van ons dialekte is immers in ons hande en ons durf nie toelaat dat hierdie dialekprojek misluk nie.

Lees ook 

Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat

’n Verkenning van taalvariasie in die Afrikaanse poniekoerante Son en Sondag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top