COVID-19 en verlore skooltyd: Estelle Kruger se wenke aan ouers en onderwysers

  • 0

Foto van horlosie: Pixabay; foto van Estelle Kruger: verskaf

Die tweede semester is hier. COVID–19 en inperkingsmaatreëls het te veel onderrigtyd laat verlore gaan. Naomi Meyer het by ’n paar opvoedkundiges aangeklop en praktiese raad vir ouers gevra.

Hier onder reageer Estelle Kruger, Redakteur: Opvoedkunde van LitNet Akademies, op die vrae.

Die tweede semester van die jaar het pas afgeskop. Nou die dag hoor ons dat Angie Motshekga gepraat het van die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat reeds verlore is. Ons weet ons leef in ’n totaal ongelyke samelewing en akademiese opvoeding is een manier om ’n sukses van jou lewe te kan maak. Het jy enige voorstelle van wat gedoen kan word om kinders te help om verlore skooltyd in te haal? Wat kan ouers by die huis doen om hulle kinders te help – akademies?

........

Wat ek eerstens sou doen met my eie kinders as ons in dieselfde situasie sou beland, is om ’n gesinsindaba te hou oor die pandemie en te hoor hoe hulle daaroor voel, hoe hulle hul eie toekoms sien, en tot watter mate hulle bereid is om self iets hieraan te doen.

..........

Dankie Naomi, vir hierdie geleentheid. Ek dink dit is ’n uitstekende gedagte om al die betrokkenes hieroor aan die woord te stel.

Wat ek eerstens sou doen met my eie kinders as ons in dieselfde situasie sou beland, is om ’n gesinsindaba te hou oor die pandemie en te hoor hoe hulle daaroor voel, hoe hulle hul eie toekoms sien, en tot watter mate hulle bereid is om self iets hieraan te doen. Hierdie inligting kan anoniem met ander ouers op sosialemediaplatforms gedeel word. ’n Mens kan ouers en onderwysers self aan boord kry op sosiale media en hulle idees kry en bewus raak van maniere waarop vakinhoud aktief beleef kan word. Iemand wat baie navorsing gedoen het met digitale toepassings om mense se menings te kry, is Christa van Staden – lesers kan gerus op haar profiel gaan kyk om meer inligting hieroor te kry.

Dalk kan ’n mens ’n studiegroep van twee of drie leerders kry om (met maskers en spasies tussenin) saam te werk aan opdragte van onderwysers se kant af. Indien die leerders nie toegerus is met digitale toepassings nie, kan hulle dalk die opdragte by die skool gaan haal.

Baie leerders het toegang tot digitale toepassings en iemand kan ’n interessante program uitdink om hulle uit te daag. Hier wil ek graag verwys na die vernuwende werk met idees en inspirasie wat Jean Vermeulen doen by OnniesOnline. Verder kan ouers nuttige inligting verkry oor maniere om kinders se skermtyd te bestuur.

Dink jy daar is sekere gewoontes wat oor die afgelope paar maande gevorm is wat aangespreek moet word? Ek praat van meer tyd wat kinders op skerms spandeer het, of tye wat hulle doelloos in die strate rondgedwaal het, georganiseerde sport wat tot stilstand gekom het. Mens wil so graag die kinders veilig hou van die virus, maar ook is sport of buitemuurse aktiwiteite ’n manier om die kinders gefokus te hou, of hoe? Hoe gemaak, as ouers self hul hande vol het om hulle eie balle in die lug te hou?

Ek het in die twee heelbreingebaseerde projekte waaraan ek saam met Richard Stanley en hier in Smutsville by Sedgefield deelgeneem het, ’n tipe kenmekaarspeletjie met ’n bal gehad, en op dieselfde manier kan kinders vir mekaar probeer vasvra – gooi die bal na iemand met ’n vraag oor die vak en as hy/sy reg antwoord kan hy/sy weer vir iemand anders die bal gooi. So kan die onderwyser ook op ’n manier foutiewe antwoorde hanteer. Weer eens in klein en hanteerbare groepies. Op hierdie manier integreer jy vakinhoud, pret, fisieke aktiwiteit en samewerking. Natuurlik kan dit ook met ondere andere blokkiesraaisels en woordewar-raaisels gedoen word – lesers kan gerus gaan kyk na XWord om idees te kry van verskillende soorte raaisels. Ook ou vraestelle is wenners indien dit nie rigied gebruik word nie – alles aktiwiteite wat ek sou gebruik om hersiening te doen.

Verder kan onderwysers gehelp word om lateraal te dink en te soek vir ander maniere van inligting- (vakinhoud-) oordrag.[i] Laterale-denke-tegnieke behels die wegbeweeg van die normale logiese denkpatrone wat dikwels die skep van nuwe idees of begrippe verhinder. Die beweging word vermag deur van spesifieke tegnieke gebruik te maak wat daarop gemik is om 'n nuwe denkpatroon aan die gang te sit. 'n Mens kan byvoorbeeld 'n tegniek soos provokasie gebruik om 'n gedagte te skep wat die normale denkpatroon "uitdaag".

’n Goeie voorbeeld hiervan was ’n geskiedenisonderwyser wat ek gehad het wat waarskynlik gesien het ek raak in sy klas aan die slaap van verveling ... Op ’n dag het hy my buite toe geroep en gesê hy wil hê ek moet die volgende dag se inhoud aan my klasmaats vertel en ek moet spesifieke foute maak en die uitdaging vir hulle was om agter te kom watter foute ek gemaak het. In my eie navorsing het ek baie getuienis gevind wat dui daarop dat humor baie pret kan bring in ’n klas. En individuele deelname.

Idees om te ondersoek, is byvoorbeeld:

  • Skryf ’n kompetisie uit waaraan onderwysers kan deelneem om te bepaal watter onderrigprogramme die beste is. Laat leerders die beoordelaars wees.
  • Skryf ’n kompetisie uit waaraan leerders deelneem om hulle idees te kry. Laat onderwysers die beoordelaars wees.
  • Skep ’n inbelprogram waar ouers bemagtig kan word. Hoe om dit hanteer, is nie vir my op die oomblik duidelik nie – vra gerus vir Christa van Staden, Danie Kloppers of Donovan Lawrence as kundiges met die ontwerp van WhatsApp-programme en gesprekke met tieners om te help. My eie opleiding en ervaring as LifeLine-berader het hierdie idee in my wakker gemaak.

[i] https://af.wikipedia.org/wiki/Beweging_(laterale_denke)

Kan jy aan enigiets dink wat kinders in hierdie tyd beter kan voorberei op ’n toekoms wat heeltemal anders lyk as die verlede? Kom ons verbeel ons dis ’n ideale wêreld.

.......

Wat vir my uitstaan in onderrig – behalwe die vakinhoud – is kreatiwiteit, humor en pret.

.........

Hier dink ek aan wat ek in die voorligtingklas – deesdae die vak lewensoriëntering – sou doen met moontlike loopbane en hoe ek leerders nuuskierig sou maak oor wie hulle is, wat hulle vaardighede en aanlegte is, en wat hulle daarmee kan doen. Weer eens klein groepies. Ek dink spesifiek aan toepassings van Meervoudige intelligensie en verskillende leerstyle. Elke mens wil graag hoor dat hulle uniek is, met goeie eienskappe – dit kan hulle ook met loopbaankeuses help. Vir laasgenoemde kan onderwysers bekende professionele mense se profiele nagaan en dalk met Zoom kort video’s maak. Hier kan ek verwys na kosbare inligting wat die SBA oor die keuse van loopbane saamgestel het.

Wat vir my uitstaan in onderrig – behalwe die vakinhoud – is kreatiwiteit, humor en pret.

Lees ook:

COVID-19 en verlore skooltyd: Earl Basson se wenke aan ouers en onderwysers

COVID-19 en verlore skooltyd: Christa van Staden se wenke aan ouers en onderwysers

COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers

COVID-19 en verlore skooltyd: Michael le Cordeur se wenke aan ouers en onderwysers

COVID-19 en die onderwys

Die "goeie ou dae" in die onderwys was nie altyd so goed nie

LitNet Akademies Weerdink: Hoe onderwysers in die tyd van COVID-19 staande kan bly

Indeks: notas, toetse en vraestelle

IEB-Afrikaansvraestel, graad 10: hersiening van die tweede kwartaal se werk

LitNet-blokraai: Ruitersport

LitNet-blokraai: Perdestudie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top