
Foto van outydse skoolklok: Pixabay
Dowwe kolle
.........
Ons is almal deesdae begaan oor die gehalte van skoolonderrig in Suid-Afrika. As ek terugdink aan my 12 jaar op skool (1946–57) is daar egter heelwat dowwe kolle wat vir my uitstaan.
..........
Ons is almal deesdae begaan oor die gehalte van skoolonderrig in Suid-Afrika. As ek terugdink aan my 12 jaar op skool (1946–57) is daar egter heelwat dowwe kolle wat vir my uitstaan. My laaste jaar op laerskool, 1952, was ’n nagmerrie, met ’n ernstig versteurde onderwyser wat soms met die allerverskriklikste woede-uitbarstings in die klas ontplof het, glo die enigste aansoek wat daardie jaar by ons kleinerige skooltjie ingedien is. Na ek later verneem het, is hy uiteindelik in ’n gestig vir geestesgestremdes opgeneem. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Destyds was sub A en B, plus standerd 1 tot 6 (nou grade 1 tot 8) in die laerskool; die hoërskool het slegs vier standerds (7 tot 10) behels. Maar in 1952 (die jaar toe die hele land oor Jan van Riebeeck gegons het en toe ek en my standerd 5-klasmaats nooit geweet het watter nuwe storm daardie dag vir ons in die klas wag nie) word daar skielik besluit dat standerd 6 in die daaropvolgende jaar ook hoërskool toe moet skuif. Die plaaslike Afrikaanse hoërskool was allermins hierop voorbereid en 1953, ons standerd 6-jaar, was gekenmerk deur ’n geskarrel van planmakerye en improvisasies, selfs wat die inhoud van ons leerplan betref het.
Kortpad-eksamenafrigting
In daardie dae, in teenstelling met die huidige driejaar-eenheid graad 10 tot 12, het slegs die laaste twee skooljare ’n eenheid gevorm. Die matriekeindeksamen het die vakinhoude van standerds 9 en 10 gedek, en ons moes oor al daardie inhoud verslag kon doen. Dit het dus in 1956, toe ons standerd 9 bereik, ’n hersiene leerplan behels, met, onder andere, ’n nuwe benadering tot die geskiedenis. Niks vroeër as 1820 sou gedek word nie, en die laaste (en verpligte) onderwerp was die ekonomiese groei van Suid-Afrika tot ons destydse hede. Europese geskiedenis sou die vereniging van Duitsland en Italië in die 19de eeu beslaan en, in die 20ste eeu, die aanloop tot die Eerste en Tweede Wêreldoorlog.
Wéér is my Afrikaansmediumskool onverhoeds betrap – daar was geen geskikte handboek in Afrikaans beskikbaar wat al hierdie onderwerpe behoorlik dek nie. Ons onderwyser het (van welke bronne saamgeraap, het hy nie gesê nie) sy eie aantekeninge opgestel. Daar was natuurlik geen sprake van fotostatiese afdrukke maak nie; daardie tegnologie was nog onbekend. Die wasvel-afrolmasjien is gehou vir belangrike dinge soos kennisgewings oor ons jaarlikse kermis, of sangboekies vir ons interskoolsportbyeenkoms.
..........
Nee, geskiedenisklasse het bestaan uit die dag in en dag uit afskryf van aantekeninge wat die onderwyser vir ons mondelings gedikteer het, twee jaar lank. Tyd vir bespreking was daar nie – of miskien het hy dit onnodig geag.
...........
Nee, geskiedenisklasse het bestaan uit die dag in en dag uit afskryf van aantekeninge wat die onderwyser vir ons mondelings gedikteer het, twee jaar lank. Tyd vir bespreking was daar nie – of miskien het hy dit onnodig geag. Sy taak was, soos hy dit gesien het, om ons vir die matriekeindeksamen af te rig. Sinne en sinsnedes uit daardie aantekeninge bly my nog by: Oor die verloop van die Italiaanse vryheidstryd onder Garibaldi onthou ek nog: "Rossi word vermoor, en die Pous vlug na Gaeta." Hy het ons darem die regte spelling van "Gaeta" geleer, dink ek, maar ek half-onthou tog "Gaita". Maar of dit ’n plek, ’n klub, ’n maatskappy of ’n persoon was, het ek nooit geweet nie. Om te verduidelik wie Rossi was en wat die Pous met die hele saak te doen gehad het, het die onderwyser klaarblyklik as onnodige tydmors beskou: Sy taak was om ons vir die matriek-eksamen paraat te kry.
Eers jare daarna, toe ek en my gesin per trein in Italië op toer was, het ek agterkom Gaeta is ’n plek aan die Italiaanse kus, naby Napels. Rossi en die destydse pous se rolle in die vryheidstryd het ek sedertdien nog nie die moeite gedoen om vas te stel nie.
..........
Só is ons met die lepel gevoer en as goeie eksamenvoer voorberei, wat vir die skool ’n goeie slaagsyfer en vir die onderwyser die hoogste lof moes inpalm. Ons hét goed gevaar, maar het ons iets geléér?
............
Só is ons met die lepel gevoer en as goeie eksamenvoer voorberei, wat vir die skool ’n goeie slaagsyfer en vir die onderwyser die hoogste lof moes inpalm. Ons hét goed gevaar, maar het ons iets geléér?
ʼn Nóg korter pad: Korrupsie in die eksamen
Die lek van vraestelle is ook niks nuuts nie. In my matriekjaar (1957) was ons fisiologie- en gesondheidsleeronderwyser ook die onderhoof van die skool. Hy was dikwels nie in die klas nie – seker maar besig met bestuursake. Hier was daar darem ’n handboek, maar dit was eintlik maar ’n prulvak: die menslike skelet, bloedsomloop en spysverteringstelsel en ’n klomp gesondheisdsmaatreëls soos hoe ’n rioolstelsel moet lyk; niks oor die menslike voortplantingstelsel of enigiets wat ons jong gemoedere tot wellus kon verlei nie. Met Meneer meesal afwesig het ons onsself maar geleer uit die hardebandboek wat hy self geskryf het.
Net voor ons matriekeksamen daag hy wél in die klas op en dikteer vir ons ʼn "modelvraestel" wat ons met die hand moes afskryf.
Ek was maar effe lui, maar met ʼn goeie geheue. My voorbereiding vir die eksamen was om maar wéér die boek deur te lees, met die bedoeling om die aand voor die fisiologie-eksamen, die laaste vak wat ek moes skryf, ʼn bietjie aandag aan die "modelvraestel" te gee. Toe my ma egter voorstel ons gaan liewer daardie aand fliek, het ek dit aangegryp en gevolglik nooit na die "model" gekyk nie. Ek het met selfvertroue die volgende dag gaan skryf, met die "wete" dat my A-simbool reeds in my sak is.
In die eksamenlokaal kyk ek met gretige oë na die vraestel wat uitgedeel word. A! Nogal gaaf: "Teken ʼn deursnit van ʼn been, met byskrifte." Meneer het dié vraag voorspel, onthou ek. En hier’s nog een: "Skryf kort aantekeninge oor die volgende onderwerpe …" Meneer het mos gesê dis ʼn tipiese soort vraag, en as jy nie weet wat om te skryf nie, dan beantwoord jy so ʼn vraag. En so gaan dit voort, dwarsdeur die vraestel. Die half-onthoude "voorspellings" wat ek drie weke tevore neergepen het, kom nogal baie voor. Ek skryf lekker, gerus in my verwagting van ʼn A.
..........
As alles verby is, drom ons buite die lokaal saam. "Het jy gesien, die vraestel was woord-vir-woord soos die ‘model’ wat Meneer vir ons voorgesê het?" fluister almal vir mekaar, party geskok en verslae, ander jubelend.
............
As alles verby is, drom ons buite die lokaal saam. "Het jy gesien, die vraestel was woord-vir-woord soos die ‘model’ wat Meneer vir ons voorgesê het?" fluister almal vir mekaar, party geskok en verslae, ander jubelend.
Ek jaag ontsteld huis toe om die handgeskrewe "model" met die gedrukte vraestel te vergelyk. Sowaar woord vir woord dieselfde! Ek skeur die bladsy uit my aantekeningboek en bêre dit in ʼn boekrak. Ons almal handhaaf ʼn onbespreekte conspiracy of silence. Ons praat nie met mekaar daaroor nie; wonder net. Vandag, 63 jaar later, is ek steeds vies vir die man, maar wonder ook wat in sy armsalige gemoed aangegaan het om hom te dryf om so ʼn onsinnige vergryp te pleeg. Sulke mense beroof die leerlinge wat deur hul ouers aan hulle toevertrou word.
Natuurlik lek dit mettertyd uit, en ons hoor later die onderhoof se verweer was: "Dis blote toeval." In die dae van dikteer-en-afskryf is daar ook nie vaspenbare bewyse nie. Niemand by die Onderwysdepartement het ooit een van ons matrikulante genader vir ons getuienis nie. Maar toe die matriekuitslae in Januarie 1958 verskyn, is die gemiddelde fisiologie- en gesondheidsleerpunte van alle kandidate met 20% verminder, nie net by ons skool nie, maar vir die hele Kaapstad se skole. Ek kry toe ʼn C; ander wat normaalweg D’s of E’s behaal het, óók.
En die onderhoof? Hy bedank sonder meer en word as onderwyser by ʼn buurskool aangestel. Kort voor lank hoor ons hy’s ook onderhoof daar.
Korrupsie is nie ʼn nuwe ding in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nie. En minister Angie Motshekga tree baie strenger as haar destydse voorganger op.
Lees ook:
’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum
Die effek van COVID-19 op skole: ’n onderhoud met Liesel Ebersöhn
Tuisonderwys is nie inperkingsonderrig nie: praktiese raad vir ouers
Reguit met Robinson: ’n Zoom-onderhoud met Servaas van der Berg
Kommentaar
Dis inderdaad so. Alles in die "goeie ou dae" was nie perfek nie. Trouens, niks op enige stadium in enige land se geskiedenis was, of is perfek nie. Afrikaans was 'n jong taal (is basies steeds) en besig om in sy nuwe skoene in te groei. Die laat veertiger/vyftiger jare was ook 'n tyd toe 'n nuwe regering aan bewind gekom het en nuwe stelsels, sisteme en strukture ingestel om uiting te gee aan dit wat op daardie stadium as belangrik en nodig geag is.
Belangrik egter, is dat groot vordering op velerlei terreine in 'n kort tyd gemaak is en dat skole in die algemeen goed ontwikkel en bestuur is. Dit was 'n holistiese poging waaraan alle belanghebbendes meegewerk het. Daar's skouer aan die wiel gesit en ten spyte van foute en probleme was daar 'n wil om kinders die beste geleerdheid en geleenthede te gee. Gebreke in ag geneem is daar wel presteer. Mens kan maar net gaan kyk wie en wat ons land in die jare daarna opgelewer het. Die lys van sukses en prestasies is lank. Wie sal ooit die wêreld se eerste hartoorplanting vergeet asook ander prestasties wat daarop gevolg het.
Daar sal altyd oor leerplanne en vak-onderrig (inhoudsgewys) gekibbel word en persoonlik dink ek dat (in meeste gevalle) ver te kort geskiet is oor hoé en waaroor onderrig is - dis steeds die geval. Leerlinge moes basies leer om te memoriseer en is selde touwys gemaak hoe om vry en skeppend te dink, te redeneer en opinies te vorm. Jy kon selde verskil want die 'meneer' en 'juffrou' was altyd in alles reg. Dit het plaasgevind vanweë 'n sterk en dikwels oordrewe Calvinistiese onderbou en uitkyk op die lewe. En ja, ander probleme waarna die skrywer hierbo na verwys, het ook plaasgevind. Om egter as gevolg daarvan 'n paralel te probeer trek met dit wat vandag aan die orde van die dag is, is doodgewoon nie billik nie.
Daar sal opvoedkundiges met genoegsame ervaring wees (wat groot spore getrap het en in albei eras onderrig het) wat sinvol en met meer as genoegsame voorbeelde sal kan aantoon dat wat ons vandag beleef, baie groter tekortkominge het. Leerlinge wat nie behoorlik kan lees of skryf nie beland op Universiteit, standaarde daal om leerders te akkommodeer en slaagsyfers word gemanipuleer om "sukses" aan te dui. Die gevolg hiervan is dat lande oorsee wat voorheen baie van ons studente opgeslurp het, nie meer ons studente se kwalifikasies erken nie. Op 'n meer praktiese vlak weet almal dat dissipline en respek by die vensters uitgewaai het. Die regering se onbeholpenheid met leerplanne en om te bestuur is boonop daar vir almal om te sien. Om dit sagkens te stel; die prentjie lyk nie rooskleurig nie.
Gelukkig is dit nooit heeltemal te laat nie en ja, 'n nuwe regering en onderwysstelsel geskied nie oornag nie. Tog is daar min, indien enige, vordering gemaak in 25 jaar. Of die situasie gaan verbeter hang van baie dinge af. 'n Goeie begin is om nie alles te wil verpolitiseer nie. Stel die belange van ons instellings, leerkragte en leerders eerste, wis korrupsie uit en laat onderwyssake oor aan kundiges wat weet waaroor dit gaan. Dit is dus waar (min sal dit ontken) dat daar probleme was en foute in die "ou dae" gemaak is. Ek wil dit egter waag om te sê dat dit die uitsondering eerder as die reël was. Iets wat nie vandag die geval is nie.
Nee wat, my liewe byna-vangenoot! Ek stem nie saam dat alles nou "slegter" is nie. Ek wou juis diegene wat alles van die ou dae as "beter" tipeer, daarop attent maak dat daar in elke tydperk slegte onderwysers voorkom. Die drie onderwysers wat ek noem, het my en my klasmaats beroof. Daar was in beide skole ook wonderlike onderwysers wie se onderrig my lewe blywend ten goede beïnvloed het, en so is daar ook vandag soortgelyke juwele wat met 'n baie meer omvattende en, dink ek, moeiliker leerplan woeker, en dit is nie net by gewese "model C" skole nie. Groete en bly gesond! Jo-Marie
Die groot leemte in die uitkoms van die mededeling is dat die betrokke onderwyser skotvry daarvan afgekom het. Na my mening is die onsigbare hand agter vele van dié stories die Broederbond - wat volgens die heersende siening tog sooo onskuldig was en nooit sake bekook en sekeres voorgetrek en beskerm het nie. Ek het self so 'n storie wat egter gaan oor 'n onderwyser se verhouding met 'n minderjarige. Hy het ook skotvry daarvan afgekom.
Op formele skoolvlak het alles egter klopdisselboom gegaan en was daar geen sprake van korrupsie soos gemeld nie (1969-1973).
Oor die kwessie van krities dink en argumenteer sou ek net waarsku dat dit oordoen kan word, veral in die afwesigheid van 'n grondige kennis van 'n vak. Sonder die "feite" (wat al self dikwels subjektief is) is, skep die gewaande vryheid van denke 'n teelaarde vir dwaallere en soortgelyke stommeriteite. Soms moet die basies kennis eers geleer en gememoriseer word voor daar enige basis vir redenering kan wees.
Spyker so op die kop geslaan, dankie, Klakous! Snaaks genoeg, ek het nou die dag vir die eerste keer gedink aan wat jy noem as moontlike rede vir die kwytskelding van die man. Wat tog wél interessant is, is dat hy toe daarna nogal by 'n Engelse skool weer opgang begin maak het. Was seler maar net gelukkig!
Ek deel Klakous se siening dat denkvryhede oordoen kan word en het glad nie 'n model in gedagte waar 'feite' opgeoffer moet word bloot 'ter wille van,' soos dit die geval is in baie buitelandse skole nie. En bygesê, tot absurditeite lei en aan ons oorbekend is.
Met memoriseer word bedoel dat die klem (bloot as voorbeeld) dikwels op datums van historiese slagvelde geplaas is eerder as oor die inhoud van die gebeure self. Met selfstandige en kritiese denke word bedoel om leerders te stimuleer deur hulle meer die geleentheid tot deelname te gee. Die klem dus op gesprek, insig en menings. 'n Metodiek wat die leerder help om beter te onthou en te verstaan. Iets wat meerendeels in Engelse skole die geval was/is.
Voorbeeld: Die onderwyser kom in die klas en sê: "Kry jul aantekening boeke uit en skryf, 'it's raining outside." Die Afrikaanse kinders doen presies so. (Skryf dit toe aan disipline, opvoeding of wat ookal.) Die Engelssprekende kind staan op, kyk by die venster uit en sê: "It's not raining outside......"
Dit bloot ter opheldering en verduideliking met spesifieke verwysing na wat veral in vroeër jare die geval was.
Ek het ook nie 'n probleem met die onderrig van feite in 'n geskiedenisklas nie, trouens het juis dit, met uiteensitting van oorsake en gevolge, in jare van klasgee oor die Griekse en Romeinse geskiedenis aan eerstejaarstudente oorgedra. Wat ek daarteen gehad het, was dat my geskiedenisonderwyser op skool destyds vir ons "net genoeg" feite laat neerskryf het wat ons in 'n eksamenantwoord net so weer kon uitspoeg en daarmee punte sou behaal, sonder dat hy vir ons die "wie's", "waars" en "daaroms" van enigiets verskaf het. As ek dit vandag sou oorkom, sou ek wel dadelik vir die man gevra het: "Wie was Rossi?" en "Wat het hy in die Italiaanse verenigingstryd gedoen wat versoorsaak het dat iemand hom wou vermoor?" So ook sou ek uitvra oor die negentiende eeuse pous se dade en waarom hy moes vlug, en of Gaeta 'n instansie of 'n plek was, en indien dit 'n plek was, waar dit was. Maar, soos u sê, vrae vra is ook nie in daardie skool aangemoedig nie.
Aan die twee amper vangenote. Ek stem saam, die geskiedenis wat ons op skool geleer het was dikwels befoeterd met die onthou van feite en datums by wie die leerder dikwels met moeite die spreekwoordelike kloutjie by die oor kon bring. Ek het geskiedenis tot en met standard agt gedoen en kan vandag, 32 jaar later, skaars iets daarvan onthou, behalwe dat die geskiedenisonnie nogal sexy was en, o ja, iewers lui daar nou 'n vae klokkie oor Galileo. Die destydse regering het ook maar lekker vir ons gelieg, soos byvoorbeeld dat die afbeelding van Jan van Riebeeck wat op ons destydse note verskyn het toe glad nie hy was nie. Ander inligting is weer gruwelik weerhou: die pokke-epidemies was in detail beskryf wat natuurlik gelei het tot die amper totale uitwisting van die inheemse Khoisan, maar dat dit ’n besmetting was wat deur die kolonialiste ingevoer is, word oor geswyg, so ook die ontdekking van die Mapungubwe artefakte en die gevorderde nedersetting daar. Oor Afrika en sy volke was daar niks oor gesê nie, om nie te praat van die bruin mense in Suid-Afrika nie, want so moes die kind met ’n bruin of donker gelaat g’n gevoel van trotsheid beleef nie. Dit val my nou by, iewers op laerskool was daar wel ’n les oor slawerny aan die Kaap, maar ek het eers tot by ontsteltenis as volwassene geleer dat die onmenslike mishandeling op die mees brutale en gruwelikste maniere nooit in ’n geskiedenishandboek opgeteken is nie.
Dankie, Errol. Ja, dit was maar 'n verdraaide stukkie nonsens, die meeste van wat ons voorgehou is. Ons is ook, in verband met die Voortrekkers, vertel dat "vroue en kinders" van die Swart stamme na sekere laers gevlug het "vir beskerming". Veel later het ek begin raai dat iemand soos Hendrik (?) Potgieter nie so 'n gulhartige beskermheer was nie, maar moontlik 'n vorm van slawehandel bedryf het. Dis alles baie vaag, na byna dubbeld jou 32 jaar, maar ek glo nie ek het verkeerd geraai nie; bygesê, moontlik het ek die man se naam verkeerd onthou. Daarvoor vra ek by voorbaat om verskoning.
Groetnis!
JMC