’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum

  • 8

1. Inleiding

Internasionale onderwysassesserings het konsekwent die kwaliteit van Suid-Afrikaanse geletterdheid as beduidend laag gegradeer, soos gerapporteer in Trends in International Mathematics and Science Studies (TIMSS 2013; Le Cordeur en Tshuma 2017). Hierdie kommerwekkende situasie blyk ook uit die uitslae van PIRLS- (Progress in International Reading Literacy Study-) toetse wat in 2011 afgeneem is. Uitslae was ver benede die internasionale gemiddelde. Slegs 6% graad 4- en 4% graad 5-leerders in Suid-Afrika kon op ’n gevorderde vlak lees. Leerders het veral leesbegripitems wat hoё-orde-denke vereis, problematies ervaar (Howie, Van Staden, Tshele, Dowse en Zimmerman 2011:45).

Wanneer die diagnostiese verslag van die Minister van Basiese Onderwys oor die ANA (Annual National Assessments) bestudeer word, kan die volgende probleemgebiede by die totale leerderskorps geїdentifiseer word: beperkte begrip van gebeure in ’n storie; die onvermoё om ’n storie te ontleed en op te som asook om die les wat uit die storie voortspruit te identifiseer. Voorts verklaar die 2014-verslag dat leerders nie leidrade uit die teks kan gebruik om die betekenis van woorde af te lei of om leesstrategieё te gebruik om ’n teks op te som nie (DvBO 2014:58).

Sowel die TIMSS-verslag as die PIRLS-verslag noem verskillende oorsake vir die lae Suid-Afrikaanse geletterdheid. Die verslae toon aan dat ’n derde van graad 4- en 5-onderwysers minder as ses ure se indiensopleiding ontvang het wat leesonderrig betref. Die onlangse navorsing in Suid-Afrika van onder andere Pretorius en Klapwijk (2016), Basson en Le Cordeur (2017) en Le Cordeur (2015), het aangetoon dat die meeste onderwysers nie oor die nodige agtergrond van die aard van hierdie leesbegripstrategieë, die strategie-onderrig of die metodologie daarvan beskik om dit effektief te kan toepas nie.

’n Ontleding van die PIRLS-data toon dat faktore wat ’n negatiewe impak op die prestasie van Suid-Afrikaanse leerders het, gebrekkige vakkennis van onderwysers sowel as onvoldoende kommunikasie tussen onderwysers en leerders in die taal van onderrig en leer insluit (Basson en Le Cordeur 2017). Op hul beurt bevestig Pretorius en Klapwijk (2016:16) dat voorgraadse onderwysers in Suid-Afrika nie opleiding ontvang ten opsigte van die relevante leeskonsepte en metodologieё nie. Hulle beveel aan dat onderwysers bewus gemaak word en opgelei word rakende die eksplisiete onderrig van leesbegripstrategieё.

Dit is egter nie die enigste aspek waar die opleiding van onderwysers te kort skiet nie. Die onderrig van leerlinge in hul moedertaal word dikwels as vanselfsprekend aanvaar sonder dat die nodige opleiding verskaf word. Een aspek waar talle Afrikaansonderwysers tans kleitrap, veral diegene in die VOO-fase, is die wyse waarop assessering moet plaasvind, veral waar die kind se huistaal Kaapse Afrikaans is en hy of sy toenemend van Kaaps gebruik maak in hul alledaagse skryf.

Dit word wêreldwyd aanvaar dat moedertaalonderrig die beste resultate lewer. As dit waar is van Afrikaans, Engels, en ons inheemse tale, dan geld dieselfde argument ook vir Kaaps. Die beginsel dat onderrig in ’n kind se moedertaal vir minstens die eerste ses jaar van sy skoolloopbaan onontbeerlik is vir ’n kind se kognitiewe ontwikkeling, word wêreldwyd aanvaar. Leerders se voorafkennis is in hul taal opgesluit en moedertaalonderrig fasiliteer die verwerwing van kennis en begrip.

Leerders se kognitiewe, affektiewe, psigomotoriese en sosiale ontwikkeling geskied deur middel van hulle moedertaal. Hierdie ontwikkeling is van kardinale belang vir die leerder om suksesvol met die onderrigproses om te gaan (Cummins 2005; Heugh 2006). Betekenisvolle deelname aan die onderrigproses vereis dat die kurrikuluminhoud in die leerder se moedertaal oorgedra word. Daarby stel moedertaalonderrig leerders in staat om kennis te ontsluit, hul probleemoplossingvaardighede op te skerp, asook om hierdie kennis na die samelewing te transponeer (Webb 2006:39). Vandag is daar byna sewe miljoen Afrikaanse huistaalsprekers, van wie 3,4 miljoen mense Kaapse Afrikaans as moedertaal het. Kaaps is dus groter as vier van Suid-Afrika se amptelike tale – ’n moedertaal waarmee rekening gehou moet word.

Mehrotra (1998) stel dit as volg: “[If] the medium of instruction in school is a language that is not spoken at home the problems of learning in an environment characterized by poverty are compounded, and the chances of drop-out increase correspondingly.”

Die vraag is of Kaaps in die skoolkurrikulum verreken moet word in die skole waar die leerders hoofsaaklik Kaaps as huistaal het, en indien wel, hoe dit moet geskied.

2. Wat sê die beleid?

Die vraag is of die amptelike beleidsdokument – die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) – voorsiening maak vir die verrekening van Kaapse Afrikaans, en indien wel, in welke mate. Volgens die doelwitte van die KABV moet taal leerders:  

  • ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond, fisieke of intellektuele vermoë, toerus met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as waardige burgers
  • in staat stel om sensitief te wees vir kwessies wat diversiteit weerspieël, soos armoede, ongelykheid, ras, geslag, taal, ouderdom, gestremdhede,

Binne die konteks van die KABV is daar dus voldoende redes vir die gebruik van Kaaps in die skool. Taal is ’n instrument vir denke en kommunikasie en om kennis te verwerf. Volgens die beginsels van die KABV is taal ook ’n kulturele en estetiese middel sodat leerlinge in staat sal wees om daarmee uitdrukking te gee aan kulturele diversiteit, hulle identiteit en gevoelens en in interaksie te tree met ander (KABV 2012:8). Hierdie doelwitte is moontlik slegs as die leerder in sy huistaal (in hierdie geval Kaaps) kan leer.

3. Stigmatisering van Kaaps

Die verhouding tussen Kaapse Afrikaans en Standaardafrikaans is en was nog altyd problematies. Sedert die 1980’s is verskeie pogings aangewend om ander variëteite van Afrikaans te erken. Desondanks het standaardisering voortgegaan om die kreoolse aard van Afrikaans te ontken, terwyl die taal gesuiwer is van Khoi- en Maleisiese en slawe-invloede. Op grond van hierdie suiweringsproses is Standaardafrikaans gesien as “beskaafde” Afrikaans, teenoor ander variëteite (soos Kaaps) wat as “onbeskaafd” beskou is.

Alvorens mens dus oor Kaaps as skooltaal kan begin praat, moet daar eers ’n einde kom aan die stigmatisering van Kaaps. Hein Willemse (2016), Gerda Odendaal (2014), Frank Hendricks en Charlyn Dyers (2016) en Le Cordeur (2015) het al herhaaldelik gepleit dat die stigmatisering van Kaaps laat vaar moet word omdat dit die sprekers van die taal aanstoot gee. Voorts kan die media ’n groter bewusmakende rol speel in die stryd teen die stigmatisering en die stereotipering van Kaaps en sy sprekers. Die digter Peter Snyders verwys hierna deur selfspottend en satiries te dig oor die sprekers van dié taal se gebrek aan taaltrots en kulturele selfvertroue:

Of hoe? – Peter Snyders

dit issie mooi nie:
dit diegreid die coloured mense –
of hoe?
Wat traai djy
om ’n coloured culture te create?
of dink djy is snaaks
om soe te skryf
of hoe?
Traai om ôs lieweste op te lig;
ôs praat mossie soe nie …? of hoe?

          (Uit: Versagtende omstandighede, 1995)

4. Vervreemding

Alhoewel die sprekers van Kaaps meestal bruin is, praat nie alle bruin mense Kaaps nie, terwyl daar ook talle wit sprekers van Kaaps is. Daar is dus nie ’n oorsaaklike verhouding tussen velkleur en taal nie. Sprekers van Kaapse Moesliemafrikaans, wat reeds vroeg in die 19de eeu vorm gegee het aan hierdie variëteit van Afrikaans, het volgens Ernst Kotzé (2016) ’n aansienlike bydrae gelewer tot geskrewe Afrikaans. Tog is hierdie belangrike komponent reeds met die heel eerste standaardiseringspogings uitgesluit, wat op ’n miskenning van die bydrae van ’n beduidende groep Afrikaansgebruikers neerkom.

Hierdie miskenning het oorgespoel na die taal waarin ons met mekaar praat, want al is daar ’n verwantskap tussen bruin/swart en wit sprekers, het die wyse waarop Kaaps hanteer is, gelei tot ’n vervreemding wat die taal steeds kortwiek.

In een van sy heel vroegste gedigte verwoord SV Petersen die gevoel van bruin mense:

Weet dit                                                
vir my bly jy ’n vreemdeling, niks meer;                                                        
jou vader was ’n slaaf,     
en myne was ’n heer! 

         (Uit: Verwantskap, 1944)

Die standaardisering van Afrikaans het dus met sosiale ongeregtigheid gepaard gegaan waarvoor die taal ’n duur prys betaal het: die vervreemding van sy variëteitsprekers. Hierdie vervreemding is die duidelikste sigbaar in die skoolsituasie. In ’n vorige artikel (2015) noem ek dat dit juis oor die miskenning van hul taal is dat sommige studente by die universiteit hulle skaam vir hul taal.

5. Deel van die skoolkurrikulum 

Gelukkig is die wiel besig om te draai: Kaaps is toenemend sigbaar in die klaskamer, veral op die gebied van die letterkunde. Vandag word Kaaps via die gedigte van Marius Titus, Peter Snyders, Adam Small, en onlangs ook Patrick Petersen, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer reeds op skool bestudeer. Romans soos Diekie vannie Bo-Kaap deur Zulfa Otto-Sallies (wat afspeel in die Bo-Kaap en die leerder ’n kykie gee in die lewe van ’n Moesliem-gesin), die bekroonde boek van Bettina Wyngaard, Troos vir die gebrokenes (wat die leerder inlig oor die lewe van ’n arm bruin gesin in ’n bruin township op die platteland), Gerook deur die joernalis Eldridge Jason (’n verhaal oor die lewe van ’n bendelid) asook dramas van Adam Small (Krismis van Map Jacobs en Kanna hy kô hystoe) vorm deesdae deel van die letterkundekurrikulum op universiteite en in skole.     

Kaaps is dus deel van die skoolkurrikulum gemaak terwyl erkenning gegee is aan die ryke geskiedenis en erfenisse van ons land.

Op die gebied van taalleer kry Kaapse woorde vir die eerste keer wyer erkenning. So is daar in die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) ongeveer 80 Moesliem-woorde opgeneem. En ’n halfeeu nadat die eerste Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verskyn het, is dit die eerste keer dat so baie Kaapse variante in dié gesogte Afrikaanse woordeboek verskyn. Kaapse, maar ook Moesliem-woorde soos “kwaailappies”, “mang”, “berk”, “ghoema”, “papgeld”, “tamaaf” en “skanghagha”, wat al baie jare in die Kaapse bruin gemeenskap gebruik word, pryk vir die eerste keer in dié HAT (Le Cordeur 2015).

6. Herstandaardisering

’n Toekomstige herstandaardisering van Afrikaans is haas onvermydelik. Kenners soos Frank Hendricks (2016) en Gerda Odendaal (2014) stem saam dat die herstandaardisering van Afrikaans tot die bemagtiging van al sy sprekers sal lei. In die woorde van Adam Small:

Dit is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra ... ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe gee in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal ... (1963).

7. ’n Nuwe strategie

Daar is ’n goeie begin gemaak om Kaaps in die kurrikulum te verreken, veral op die gebied van die letterkunde. Hierdie proses moet voortgesit en uitgebrei word na taalleer. Om dit te vermag, benodig Afrikaans-onderrig op skool ’n meer inklusiewe benadering as wat tans die geval is. Die kernvraag is egter wat daardie benadering moet behels en hoe daar te werk gegaan moet word om Kaaps veral deel van die taalleerkomponent te maak. Aspekte waaroor besin moet word, sluit in:

i. Moet alle Kaapse woorde aanvaar word as korrek, en indien nie, watter strategie sal gevolg word om te besluit watter woorde word ingesluit en watter nie?

ii. Watter databasis van Kaapse woorde gaan gebruik word om te verseker dat ’n Kaapse woord deurgaans dieselfde gespel word? (As voorbeeld: In sommige kringe word “kwaai” geskryf, met twee a’s, maar in ander gebiede is dit “kwai”, met net een a.)

iii. Soos reeds genoem, is daar in die jongste AWS ongeveer 80 Moesliem-woorde opgeneem. Watter beginsel is gebruik om byvoorbeeld “tramakasie” bo die “soekran” (betekenis = dankie) te kies? Gaan albei aanvaarbaar wees? Daar is baie sulke voorbeelde.

iv. Gaan die toegewing slegs geld vir vraestelle waar die vrae afgesien van Standaardafrikaans ook in Kaaps gestel sal word? Sal leerlinge toegelaat word om in hul antwoordstelle ook Kaaps te gebruik?

v. Sal ’n nuwe of alternatiewe rubriek opgestel word vir die nasien van kreatiewe skryfwerk soos opstelle en letterkunde-langvrae wat ook voorsiening maak vir Kaaps?

vi. Gaan onderwysers eers opgelei moet word sodat almal dieselfde vertrekpunt het en dieselfde te werk gaan as dit by die nasien van antwoordstelle kom?

In die soeke na ’n strategie vir die insluiting of akkommodering van Kaaps is dit dalk raadsaam om vas te stel wat elders in soortgelyke gevalle gebeur.

8. Die Oos-Kaap

Die Oos-Kaapse Departement van Onderwys het leerlinge die geleentheid gebied om hul wiskundevraestelle eers in Xhosa te lees voordat hul die vraestel kon beantwoord. Die bedoeling was dat dit leerlinge sou help om die vrae beter te verstaan aangesien Engels nie hul eerste taal is nie. Onderhoude is gevoer met leerlinge van die Dinizulu Sekondêre Skool oor hoe hulle hierdie aanpassing ervaar het. Een student het gesê sy het besluit om te hou by Engels, waaraan sy gewoond was, omdat dit haar net sou verwar het. Nog ’n student het wel die vrae eers Xhosa gelees, maar genoem dat dit verwarrend was en te moeilik om te volg omdat die terminologie onbekend was, selfs al is dit deur n verduideliking gevolg. Dit het haar dus nie gehelp om die vrae beter te verstaan nie.

Nog ’n leerling het op Twitter geskryf hoe opgewonde hy was omdat dit na sy mening ’n stap is in die regte rigting was – weg van die koloniale taal Engels. Nog ’n leerling het op Twitter gekla dat sy haar hele junior skoolloopbaan in Xhosa gehad het, en toe sy hoërskool toe gaan en moes oorskakel na Engels, was sy geheel en al verlore. Sy moes wiskunde feitlik van voor af leer. Dit het haar ses maande geneem om die agterstand in te haal. Dink nou net watter agterstand sy sal moet inhaal as sy universiteit toe moet gaan, het sy op Twitter gesê.

9. Slotsom

Vir my is dit duidelik dat enige strategie wat Kaaps wil deel maak van die huidige kurrikulum, vyfvoudig sal wees:

i. Vir eers is dit gepas dat Kaaps in die letterkunde aan bod kom. Kaaps leen hom uitstekend tot die bestudering daarvan in die digkuns, dramas en die roman. Vanaf die kant van die onderwysdepartement moet dit vereis word dat minstens een roman of drama en minstens die helfte van die gedigte wat voorgeskryf word op skool, in Kaaps moet wees.

ii. Wat betref taalleer moet daar ter wille van eenvormigheid gehou word by daardie Kaapse woorde wat reeds opgeneem is die AWS terwyl daar ’n staande komitee bestaande uit kenners van Kaaps ten nouste met die Taalkommissie moet saamwerk om daardie lys voortdurend aan te vul soos wat die Kaapse leksikon ontwikkel en deur die Afrikaanse landskap versprei. Dit is nodig om te verseker dat almal een spelling sal toepas en dieselfde betekenis aan ’n woord sal toeken. Daar is egter heelwat Kaapse idiomatiese uitdrukkings (vergelyk Le Cordeur en Basson 2019) wat in die taalhandboek opgeneem kan word.

iii. Ten opsigte van kreatiewe skryfwerk moet onderwysers versoek word om leerlinge die geleentheid te bied om Kaaps op tipies kreatiewe wyse in te span soos wat Adam Small en Sulfa Otto-Sallies gedoen het. Hiervoor moet onderwysers opgelei word. Ook in hierdie geval moet gehou word by die woorde wat reeds in die AWS opgeneem is en hoe dit daar gespel word.

iv. Ten opsigte van mondelinge stelwerk moet ’n leerling die keuse hê om in die Afrikaanse variant waarin hy of sy gemaklik is, te praat, hetsy dit Kaaps of Standaardafrikaans is.

Die insluiting van Kaaps kan tot voordeel strek van Afrikaans: Nie net skep dit geleentheid om die verdeeldheid van die verlede te heel nie, dit sal ook bydra om die volle potensiaal van elke leerder te ontsluit soos deur die Grondwet van Suid-Afrika voorgeskryf.

Die skrywer is verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch.

Bibliografie

Anker, Johan. 2020. Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling. LitNet Akademies.

Basson, M en M le Cordeur. 2017. Professionele ontwikkeling vir Afrikaanse Huistaalonderwysers ter bevordering van leesbegrip van niemoedertaalsprekers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(4):1037–56.

—. 2018. Leesbegripprobleme van niemoedertaalsprekers in Afrikaanshuistaalklasse: moontlike oplossingstrategieë. LitNet Akademies, 15(3):1065–89.

Cummins, J. 2005. Affirming identity in multilingual classrooms. Educational Leadership. September, ble. 38–43.

DvBO (Departement van Basiese Onderwys). 2012. Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV): Afrikaans Huistaal Graad 10–12. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2014. Annual National Assessment of 2014: Diagnostic report – First Additional Language and Home Language. Pretoria: Staatsdrukker.

Hendricks, Frank. 2016. Die aard en konteks van Kaaps: ’n Hedendaagse, verledetydse en toekoms-perspektief. In Hendricks en Dyers, C (reds) 2016.

Hendricks, F en C Dyers (reds). 2016. Kaaps in Fokus. Stellenbosch: Sun Media.

Heugh, K. 2006. Die prisma vertroebel: Taalonderrigbeleid geïnterpreteer in terme van kurrikulumverandering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):63–76.

Howie, S, S van Staden, M Tshele, C Dowse en L Zimmerman. 2011. Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS): South African Children’s Reading Literacy Achievement summary report. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Kotzé, Ernst. 2016. Die historiese dinamika van Kaaps – toe en nou. In Hendricksen Dyers (reds) 2016.

Le Cordeur, MLA. 2015. Die kwessie van Kaaps: Afrikaansonderrig op skool benodig ’n meer inklusiewe benadering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55 (4):523–39.

—. 2020. Maak Kaaps deel van skole se leerplan. Netwerk24. 14 Augustus.

Le Cordeur, MLA en EA Basson. 2019. Kaapse Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings as hulpmiddel vir ʼn meer inklusiewe Afrikaans Huistaalklaskamer. Stilet, 30(2):169–87.

Le Cordeur, MLA en L Tshuma. 2017. Taal as ’n hulpbron in Intermediêre Fase in die Oos-Kaap: op soek na effektiewe Wiskunde-onderrig /Language as a resource in intermediate phase Mathematics instruction.. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Vol.57 (3).p.707 -723.

Mehrotra, S. 1998. Education for all: Policy Lessons From High-Achieving Countries. UNICEF Staff Working Papers. New York: Unicef.

Meyer, N en M le Cordeur. 2013. Michael le Cordeur gesels oor Kaaps. LitNet Akademies.

Mndende, Athenkosi. 2020. EC matriculants share their thoughts on the final mother tongue exam paper. Parent 24, ttps://www.news24.com/parent/learn/learning-difficulties/ec-matriculants-share-their-thoughts-exam.

Odendaal, Gerda. 2014. Moet Afrikaans geherstandaardiseer word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4).

Pretorius, EJ en NM Klapwijk. 2016. Reading comprehension in South African schools: Are teachers getting it and getting it right? Per Linguam, 32(1):1–20.

Small, Adam. 1963. Sê sjibbolet. Johannesburg: Afrikaanse Pers-boekhandel.

Trends in Mathematics and Science Studies (TIMSS). 2013. Assessment Frameworks. International Association for the Evaluation of Educational Achievement (IEA). TIMSS & PIRLS International Study Centre, Lynch School of Education, Boston College, Chestnut Hill, MA.

Webb, V. 2006. Perspektiewe op moedertaalonderrig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2):37–50.

Willemse, Hein. 2016. Die groot goed wat Adam Small ons gegee het. Die Burger, 27 Junie.

Lees ook:

Reaksie op Michael le Cordeur se mening oor Kaaps in die Afrikaans-kurrikulum

Sake voortspruitend: ’n Reaksie op Michael le Cordeur se hervormingstrategie vir die Afrikaans-skoolkurrikulum

Oor Kaaps en herstandaardisering: ’n mening

Lees ook op LitNet Akademies:

Vakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling

''Ons skryf soos ons praat'': Informalisering van geskrewe Afrikaans onder Afrikaanse tieners

Wij spreken zo niet onder ons - taalstandaardisasie en die konstruksie van identiteit

  • 8

Kommentaar

  • Miskien moet voor hierdie besluite geneem word eers vasgestel word hoeveel Afrikaanssprekendes in die SA en Namibië praat Kaaps en hoeveel wil dit as deel van die kurrikulum wil sien. Dit moet ‘n keuse bly en nie op Afrikaanssprekendes afgedwing word nie. Die groot Engelse komponent in Kaaps is dikwels hinderlik. Saam met Kaaps moet ander variteite soos Oranjerivier Afrikaans en die Afrikaans van Namakwaland wat baie beskrywend is, sonder om Engelse woorde te gebruik , ook in ag geneem word. Die negatiewe gevoel oor standaard-Afrikaans wat onder party akademici bestaan en die verwyte wat dikwels na wit Afrikaanssprekendes geslinger word, moet ook aan bande gelê word. Daar moet ook gewaak word om voorgeskrewe boeke voor te skryf net om ’n sekere politieke narratief te bevorder. As die voorgeskrewe werke van Engels Huistaal met die van Afrikaans Huistaal vergelyk word, staan die Engels ver uit bo die Afrikaans. Baie van die Afrikaanse tekste is nou al vir donkiejare op die lys en daar moet dalk vernuwend daaroor gedink word.

  • jonathan richard

    Op my beurt wil ek net se dat daar baie afri-kaapse woorde is wat al vir baie jare gepraat word! Daar moed net reg navorsing gedoen word!

  • Solank as wat die insluiting van Kaaps in die kurrikulum op suiwer taalkundige beginsels en as 'n vrye keuse plaasvind, kan geen fout daarmee gevind word nie.

    Onderwys in Suid-Afrika is egter onteenseglik na die radikaal-linkse kant van die politieke spektrum verideologiseer en mens kan daarop wed dat die vasberadenheid van SJW's om hul skandalige "gelykheid van uitkomstes"-doktrine in te smokkel, gou ook hier kop sal uitsteek.

    Die onderwys-pendulum het dus van die nasionaal ver-regse na die rewolusionêr ver-linkse uiterste geswaai waar vader Marx se Konflikteorie die botoon voer, sodat pleks daarvan dat taalinklusiwiteit partypolitiek uiteindelik uit die klaskamer sal verban, dit die konflik eerder sal laat opvlam. Fasten your seatbelts.

  • Johannes Dippenaar.

    Sarie, ek stem volmondig saam met u skrywe. Dit lyk ook vir my ons wil terug gaan na die verre verlede. Taal is uiters belangrik vir kommunikasie. Reg oor die wêreld het daar 'n soort "standaard"-taal in verskeie tale ontwikkel ten spyte van verskillende dialekte wat nog steeds voortbestaan. As elke variant van 'n taal nou in amptelike kommunikasie gebruik mag word, mis ons die doel van n taal naamlik om mekaar korrek te verstaan; dus kommunikasie. Ons is besig met die dood in die pot vir Afrikaans. Ons is al klaar onmagtig teenoor Engels.

  • margaret cordier

    Ek het net die bespreking vlugtig gelees, maar stem beslis saam dat moedertaalonderrig - ongeag watter dialek of taal gepraat word - 'n absolute móét is vir kinders se holisties ontwikkeling, vir volledige internalisering en begrip van o.a subjekte; onderwerpe van bespreking en beredenering daarvan vir die nodige uitkomste.

  • jonathan richard

    Wat sal dan die plan vorentoe wees vir die insluiting vir moedertaalonderrig, veral afri-kaaps? En is daar al onderhandelling en gesprekvoering?

  • Kaaps, as onderrigtaal sal natuurlik 'n lang paadjie loop. Vanselfsprekend sal dit geskryf moet word, en dit beteken dat dat daar spelreëls voor opgestel moet word. Verklarende en vertalende woordeboeke moet geskryf word en die struktuur daarvan, die grammatika moet beskryf word. Dit sal as vak aangebied moet word op skool en universiteit, want dis dan nie meer 'n streektaal of dialek van Afrikaans nie, maar 'n volwaardige taal.
    Om Kaapse woorde in die Afrikaanse woordelys en Spelreëls in te voeg, en ook in die Afrikaanse woordeboeke, sal nie deug nie. Dis nie Afrikaans nie, dis Kaaps, en hoort in 'n Kaapse woordeboek. Tramakasie en soekran is nie Afrikaans nie, en hoort nie in 'n Afrikaanse woordeboek nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top